Jongste aktiwiteit:

7 INK lede presteer en gedigte word uitgestal in die Groen gallery

Welkom by die Groen Galery

Digters van die Kaap tot Limpopo tot Hentiesbaai

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument is ‘n lewende instelling en
daarom trots om kreatiewe kragte met die onafhanklike joernaal LitNet
te snoer om minder bekende digters se werk in die Groen Galery uit te
stal. Die argitek van die monument, Jan van Wijk, het sterk gevoel oor
die natuur en daarom word hy vereer deur dié buitelug galery waar sy
as in ’n rots ingemessel is, knus omring deur olienhout en graniet.

Hierdie tydelike uitstalling plaas die kollig op 11 digters wie se werk in
2018 en 2019 op LitNet verskyn het.

LitNet is ’n wyd-gerekende, interaktiewe joernaal op die internet waar
skrywers hul verhale, gedagtes, rubrieke, artikels en opinies kan
publiseer. Dit behels ook die LitNet-node vir geakkrediteerde
akademiese skryfwerk in Afrikaans. LitNet se ouer materiaal is in twee
argiewe beskikbaar: 1 (1999-2006) en 2 (2006-2011).
www.litnet.co.za/category/nuwe-skryfwerk-new-writing/gedigte/

LitNet, since 1999, is an online journal for opinion, debates, new writing,
books, entertainment and culture. It has since grown to a multilingual
(Afrikaans, Dutch, Xhosa and English) sponsorship-driven virtual
community with approximately 141 489 unique monthly users,
downloading approximately 382 079 pages per month (March 2018
statistics), with new material added seven days per week on different
platforms. All contributions are archived, with the result that LitNet has
grown into a valuable archive for academic and cultural research, and is
frequently cited. The LitNet node LitNet Akademies acts as home for
accredited academic research in a variety of disciplines.

DIGTERS BETROKKE:

Alwyn Roux is ‘n lektor aan Unisa en het sy PhD voltooi oor landskap in die poësie
van Breyten Breytenbach en Lucebert. “Ek dig omdat ek daarvan hou om die regte
woord te soek wat ‘n gedig sal laat werk. Partykeer is ek gelukkig genoeg om ‘n
sekere gevoel vas te vang wat ander mense kan herken as waar, maar dis nie die
hoofsaak waarom ek dig nie. Ek dig omdat ek van die proses van gedigmaak hou.”
– erouxap@unisa.ac.za

Anzé Bezuidenhout woon op ’n plaas naby Modimolle in Limpopo. Sy bedryf
suksesvolle padstal, IetsiVanAls Curios & Biltong, en het ‘n webtuiste,
www.ink.org.za, waar mense hul liefde vir die taal uitleef in skeppende werke. “My
woorde is my asem; daarsonder sal my siel sterf. Afrikaans die wonderlikste
instrument om my gedagtes mee weer te gee.” – anzebez@gmail.com

Christo Meyer woon in Eersterivier, skryf gereeld kortverhale en sy debuut-
jeugroman, voorlopig getitel Puntemasjien, word vanjaar deur Naledi uitgewers
uitgegee. “Snaaks genoeg is die digkuns nie juis my sterkpunt nie, maar die
grootste rede hoekom ek dig is om goed wat in my kop broei op papier te
verewig.” – christo.christomeyer@gmail.com

Daniel Manchest is volbloed Kapenaar en woon in Muizenberg. “Ek skryf gedigte
as stokperdjie en ook as meganisme om verskillende emosies te verwerk. Om
alles te kroon, kan ek net in Afrikaans in prentjies praat.”
– manchestdaniel99@gmail.com

Elize Koch is afgetrede dosent in navorsingsielkunde van die UWK wat nou in
Port Elizabeth woon. Sy is tans besig met Honneursgraad in Afrikaanse
letterkunde. “Ek dig, want partykeer oorweldig die woorde my net. Ek beskou
myself egter nie as digter nie, eerder net as liefhebber van Afrikaans en boeke in
enige taal.” – elize.koch4@gmail.com

Estelle Rubow woon in Hentiesbaai, Namibië, waar sy en haar man, Mias van Zyl,
in 2017 gesamentlike digbundel, Opgeefsels, gepubliseer het. “Dit was nog maar
altyd my droom om eendag te skryf, hoewel ek nooit gedink het dit sal poësie
wees nie. Na my eerste man oorlede is en ek afgetree het, het dit sommer net
gebeur.” – estnic@iway.na

Franco Colin is ’n praktiserende psigiater in Pretoria. Hy het op skool gedigte
geskryf, maar ná ’n hibernasie van 36 jaar weer in 2014 sy hand aan ’n paar
gedigte gewaag. In 2016 voltooi hy sy meestersgraad in kreatiewe skryfkunde. “Die
essensie van skryf is tog om die werk gelees te kry. Ek het tans ‘n eerste
digbundel voorgelê aan Tafelberg Uitgewers…en ek hoop op die beste!”
– franco@drcolin.co.za

Gideon C du Toit woon op plaas buite Oudtshoorn en is vryskutskrywer, in
Afrikaans en Engels. “My fassinasie met digters soos Eugene Marais, Ingrid
Jonker en Toon van den Heever asook my liefde vir Afrikaans het my al as kind
aan die skryf gehad. My eerste gedig en kortverhaal was op 11-jarige ouderdom op
papier.” – gideoncdutoit@gmail.com

Margaret Cordier woon op ‘n plaas in die Waterberge in Limpopo, maar het op
Alexanderbaai in die Noord-Kaap grootgeword. “Dit is vir my ‘n vreugde, en soms
balsem, om my siel se diepste gewaarwordinge en belewenisse te deel met
lesers.” – margaretcordier@gmail.com

Marnus Kok is ‘n sportskrywer by Netwerk24 in Bloemfontein. “Ek wonder gedurig
oor menswees en wat dit behels. Ek probeer om in my skryfwerk uiting te gee aan
my gedagtes, denke en waarnemings van mense.” – marnus.kok@gmail.com

Shaun Warner is van Ottery op die Kaapse Vlakte. “Ek dig omdat daar ryk
geskiedenis van stories is oor my mense wat vertel móét word. Dit kan slegs
outentiek deur ‘Kaapie’ vertel word.” – shauncontractor@gmail.com

GEDIGTE WAT VERTOON WORD:

Knersvlakte A l w y n R o u x
na Edward Thomas

Ja. Ek onthou die Knersvlakte –
die naam – want een middag laat
het die motorkar daar opgepak,
buitengewoon. Dit was in Maart.

Die stoom fluit. Die kind sit keel op.
Niemand ry verby of kom daar aan
in dié barre streek. Wat ek aantref
was die Knersvlakte, soos die naam,

en brakbos en droë gras en sand
en stukke kwarts en vliete droog,
niks minder stil en eensaam afgeleë
as die wolke in die lug omhoog.

En vir die tyd soek valk sy prooi –
naby, en rondom hom, weerskante,
verder en verder, al die voëls
van Hardeveld en Kliprante.

A n z é B e z u i d e n h o u t
Meer as nét vlam
n Gedig na aanleiding van die onlangse Bettiesbrand

Overberg verstik swaar aan die reuk van rook en roet
waar die ligfakkel duisend sterre versper het
en n boosdoener skuldig sy hande (gemaak biddend) vou
dans vuurtonge onbeheers met grou vlerkslae
wyl ontembare oranje-goud
verstard swart littekens oor die vertes lek

skemer het ontydig in dié onheilsdag kom vou;
waar die warmwind se asem grimmig blaas
word die landskap n verskrikking
doodsheid woed
oor die onmag van mens en dier
terwyl die vlammesee verdelging saai

dom mensehande
het wreed verwoesting kom saai
en soos warm sneeuvlokkies
dribbel die as en roet van bo
onderwyl seevoëls swerm en draai
luid kwetter hul oor die onreg gedoen

waar die murasie van my huis (asof in versagting) gloei
lê die puinoorblyfsels van my huis in swart en bloei.

C h r i s t o M e y e r
sorry my broe

awê broe’tjie van my
djy kan mossie soe maakie
ô’s twie is dan supposed
om soes eie bloed te wies
hoe kan djy net wil loep
sonne’ lat ekke vi jou
one for the road koep
djy hettie ee’s vi’ oulaas
vi’ my koebaai gesê nie
net stil-stil die pad
van nooit-wee-t’rugkom gevat

djy hettie ee’s daai kwaai game
op Loftus saam my gewatch’ie
(of het jy van ‘n distance af?)
ek praat van daai game
wat die all blacks by luck gewennit

ek haat scary plekke
en daai wiet djy goed
soe ek is sorry my broe
don’t think i’m funny
but ek gaan rêrag’ie vi’ jou
innie begraafplaas ko’ visit’ie

D a n i e l M a n c h e s t
Blinde geloof

Ons was geleer van God en sy gebod.
Jou naaste sal jy lief het.
Die goewerment is altyd reg.
Politiek word nie genoem
Christene is tevrede.
Group Areas Act is reg.
Van wit beaches bly jy weg.
Hoekom?
Want dis reg.
Dit moet jy glo.

E l i z e K o c h
Fragmente oor die Hanekam

’n swael swenk en tuimel teen
die rooi aand agter die Hanekam se kuif

’n piet-my-vrou se roep vou die donker oor
die silwer spore van die kloof

my hart lê in die Hanekam se kom:
teen die golwende teerhout wat rooierig glim

en die melkhout, kershout en lepelhout wat staan
op die puntige sandsteenrotse waar die klipspringers se spore fyngetrap lê;

’n langstert suikervoël flap van speldekussing tot heuningbos
– pie-trie pie-trie –

en die noordewind kolk grimmig deur die klowe,
die wit-geel katstert dans, ’n rotsaalwyn blom

voor die rollende wolke aftuimel teen die hang;
’n donderstorm blits deur die mis.

dis die eensaamheid van die winterwind
wat in die klowe af om die fluitjiesriet huil

die somerson se hoë stil spel
waarteen die arend gly

stilte sak geleidelik om die vuur
die laaste stokke roer die pap en hurkend word die aand betrag

die voormoeders se spore
lê ingesluk deur grotte en ou stories se yl klanke

E s t e l l e R u b o w
Ons kombuistaal,Afrikaans

om die kospotte van ons moeders
in die smeltkroes aan die kaap
in gesellige kombuise
het ons ons taal leer praat

kaaskop en duusman,
maleier en khoi
het elkeen sy deel in die potjie gegooi
’n knippie van dit, ’n knypie van dat
met ’n skeutjie wyn so reg uit die vat,
van springbok en koedoe is biltong gemaak
bobotie met blatjang en borrie vir smaak
’n mengelmoes Hollands en Engels en Frans
word toe ’n aitsa gesels-Afrikaans!

F r a n c o C o l i n
Katolieke diskant

I. Priester

Sy pubertyd is aangehits met drang na dié jong Kind:
herder nou, aandag op die spiesgewonde Lam gerig
(pubis lokkend lendekleed gebind), word hy ritsig
om ’n nagmaal van ’n bloedjong koorknaap te vind.

II. Koorknaap

Hy sing ’n requiem vir Ma se Kind:
klankbaan vir die doodsteek
met ’n bloedspies wat hy vlak verby
die rouswart priesterkleed sal vind.

III. Aartsbiskop

Hy predik dat die Kind se bloed ieder van hoek tot kant
biegskoon kan was. Uit dank oorspoel ’n koorknaap-
diskant die katedraal: Vader met kontrapunt geloof,
dissonante gille van ’n offerlam gedoof.

G i d e o n  C  d u T o i t
Eenders

Vir my is elke mens besonder uniek,
soos elke ander mens daar buite.
Hul bly in eenderse huise met eenderse tuine
en eenderse gordyne in eenderse ruite.

Mense praat meestal eenderse praatjies
oor dieselfde eenderse twak.
Hulle maak almal eenderse grappies,
eenders flou en eenders kak.

Smôrens ry die eenderse mense
na hul eenderse hokkies by die werk.
Hulle vat tee en lunch op eenderse tye,
en drink almal hulle koffie eenders sterk.

Mense werk soos eenderse batterye,
en op vyf-en-sestig is almal eenders pap.
Hul word begrawe in eenderse houtbokse
wanneer hulle aan eenderse kwale omkap.

Dié dinge laat my somtyds wonder;
is mense eenders dom of net eenders blind?
Hoe stap almal ‘n eenderse vaal lewenspad
en eindig almal op met twee en ‘n halwe kind?

Moet tog nooit vir mense sê hulle is eenders nie
want dan word hulle almal eenders befok.
Vertel mense maar hulle is spesiaal en uniek
al moet jy dan ook nou eenders vir hulle jok.

M a r g a r e t C o r d i e r
My hart

Vanoggend was ek my oë,
met die water uit jou kom
loop nou langs riviere van jare se onthou.
Talm eers aan die oewers,
van jou mond se stom.

Jou woorde is verminkte voëls.
Flaminke soekend na die son.

Black Friday M a r n u s K o k
(met apologie aan Psalm 23)

’n Winkel is ’n magneet,
ek kom baie kort.
Hy laat my met ’n oop mond die specials begeer,
hy dompel my in skuld, sonder om my dors te les,
hy mislei my.

Hy lei my deur die winkel se gange
om special vir special op te raap.

Selfs al laai ek my trollie tot oorlopens toe vol,
sal ek nie genoeg kry nie,
want daar is nog een special
wat ek begeer.

Jy laat my skuld maak om hier te wees,
terwyl ek weerloos is.
Jy ontvang my met kamstige vriendelikheid.
My oortrokke bankrekening en skuldgevoel sal vir maande by my bly
en in jou hande sal ek klei bly
tot in lengte van dae.

S h a u n W a r n e r
met of sonder baar

terwyl
die storms
vannie Vlaktelewe
om haar woed
en haar voorkop brand
vannie son se gloed
diepe worry-lyne
in haar gesig geëts
simptome van
die Kaapse flets
haar psige weet
haar hart onthou
sy’t kind gebaar
sy’s steeds ’n vrou

die eelt op haar kleintoon
hand-me-down-skoene
’n mond reg vir skel
lankal nie meer vir soene
’n single ma
op welfêr-geld
’n victim van
gesinsgeweld
haar kinders eet
sy’s ’n ma getrou
al mock die lewe
is sy steeds ’n vrou
effens verlore
maar sy het nie verloor nie
die white picket fence
net nie vir haar beskore nie

sy doen haar duty
pligsgetrou
met of sonder baar
is sy
’n vrou




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed