Alleen of eensaam?
(Woordtelling : 830)
Om alleen te wees beteken nie noodwendig om eensaamheid te ervaar nie. Om alleen te wees is om tyd in jou eie geselskap te geniet waarteenoor eensaamheid of isolasie ʼn emosionele skeiding van die mense rondom jou is, selfs al is jy in die geselskap van ander. Eensaamheid word dus nie veroorsaak deur om alleen te wees nie, maar om geïsoleerd van ander te voel. Dit het een van die grootste sosiale uitdagings van ons tyd geword.
ʼn Persoon wat eensaam voel, se siel treur met ʼn intense verlange na iets waarvoor hy dalk nie eens altyd ʼn naam het nie. Dalk is dit weens familie wat nooit kom kuier nie, ʼn verlore liefde of onvervulde drome. Waaruit hierdie verlange ookal sou spruit, die grootste oorsaak hiervan is baie dikwels omdat die mens kontak met sy binne-wêreld, of siel, verloor het, en dan die lewe as ʼn verlate plek ervaar. So ʼn persoon voel dikwels so desperaat dat hy homself nie uit daardie swart gat kan trek nie.
Die mens is ʼn sosiale wese wat veiligheid en troos in die verhoudings met ander ondervind. Bevredigende sosiale kontak is noodsaaklik vir geestelike-, emosionele- en fisiese gesondheid. Die koms van die internet en sosiale media het hierdie noue kontak met ander eintlik verbreek in plaas daarvan om verhoudings sterker te maak. Navorsing bewys dat eensaamheid veral oor die laaste twee dekades drasties toegeneem het.
Eensaamheid word onderverdeel in twee groepe, naamlik emosionele eensaamheid wat beteken daar is ʼn afwesigheid van hegte verhoudings in die persoon se lewe, en sosiale eensaamheid wat voorkom by persone wat nie ʼn sosiale netwerk het nie.
Dit kan ook tot vele gesondheidsprobleme lei. Psigiatriese versteurings soos depressie, alkohol misbruik, slaapprobleme, en Alzheimer’s, is dikwels die direkte gevolg van eensaamheid. Fisiese probleme soos diabetes, artritis, lupus, hartsiektes, hoë bloeddruk, vetsug, kanker, en algemene agteruitgang van gesondheid word ook meer dikwels by eensame mense gediagnoseer as by diegene wat ʼn gesonde sosiale lewe het.
ʼn Studie wat in 2006 op 2,800 vroue met borskanker gedoen is, het bewys dat diegene wat min ondersteuning van vriende en familie het, se kans om daaraan dood te gaan, vyf keer hoër is.
Dit is egter belangrik om klem te lê dat nie alle gesondheidsprobleme uit eensaamheid spruit nie. Selfs mense met ʼn goeie ondersteuningsnetwerk kan aan dieselfde siektes lei alhoewel die voorkoms daarvan minder is.
Vrouens het ʼn groter risiko om eensaamheid te ervaar, sowel as weduwees, om alleen te woon, bejaardes, finansiële druk en ʼn beperkte groep vriende of sosiale interaksie. In Engeland woon die helfte van mense bo 75 alleen en een uit elke tien ervaar intense eensaamheid.
Verrassend genoeg ervaar sowat 80% van kinders onder 18 eensaamheid in teenstelling met 40% van mense bo 65. Die rede hiervoor is dat volwassenes deur die jare beter vaardighede aangeleer het en dus hul eensaamheid beter hanteer. Kinders en jong volwassenes is steeds besig om hul plek in die lewe te vind en het ʼn baie groter behoefte aan aanvaarding en liefde, wat die vorming van hul identiteit beïnvloed. Bejaardes wat aan ernstige gesondheidsprobleme lei rapporteer egter ʼn hoër voorkoms van eensaamheid.
Drie tipes eensaamheid is geïdentifiseer naamlik, weens omstandighede, ontwikkelingseensaamheid en interne eensaamheid.
Wanneer ʼn persoon eensaamheid weens omstandighede ontwikkel, is dit gewoonlik a.g.v. slegte ervarings, mense wat wegtrek, sukkel om vriende te maak, die dood van ʼn familielid, ongelukke, of konflik. Daar is dikwels ʼn gaping tussen die persoon se behoeftes en die vlak waarop dit aangespreek word.
Ontwikkelingseensaamheid kom voor by diegene wat onbevoeg voel, tekorte in sy ontwikkeling ervaar, armoede, fisiese- en emosionele gestremdhede.
Interne eensaamheid kom voor by persone wat ʼn lae selfbeeld het, swak hanteringsmeganismes het, minder veerkragtig is, en geestelike nood ervaar.
Oor die algemeen is diegene dan ook dikwels depressief, hulpeloos, en is oor die algemeen minder gelukkig en ook meer negatief en pessimisties. Eensaamheid is ook ʼn risiko faktor vir alkohol misbruik. Mense wat rousmart ervaar, rapporteer ook ʼn groter insidensie van totale eensaamheid en het dan ook ʼn hoër risiko om depressie te ontwikkel. Kroniese stres word deur eensaamheid aangewakker, sowel as kroniese inflammasie en ʼn verswakking in die immuunstelsel. Korttermyn inflammasie is nodig wanneer ʼn snyplek gesond moet word, maar langtermyn inflammasie is die grootste bydraende faktor in hartsiektes en kanker.
Met ewig-stygende selfdood syfers, is daar dan ook ʼn bewys van die direkte verband tussen eensaamheid en die tonnelvisie wat na selfdood lei. ʼn Eensame persoon se slaappatroon word ook geaffekteer. ʼn Gebrek aan goeie slaap kan ook tot ander geestesongesteldhede lei, wat die persoon dan verder geïsoleerd laat voel.
Indien eensaamheid nie aangespreek word nie, kan dit ernstige geestelike- en fisiese gevolge vir die persoon, sowel as die breër gemeenskap, inhou. Dikwels is so ʼn persoon nie in staat om effektief uit te reik nie. Indien niemand egter bewus is van ʼn ander se emosionele nood nie, word so ʼn persoon nie sommer by sosiale geleenthede intrek nie. Dit is ʼn dilemma waarvan daar oënskynlik geen uitkoms is nie.
https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pmc/articles/PMC4225959/
https://www.bbc.com/news/health-21517864
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Maart 2023 OOP projek