Jongste aktiwiteit:

ALLETTA BOONZAAIER HOOFSTUK 1

Hier waar ek in my kantoor sit kan ek voel al die onderhoude voer die oggend om vir my n nuwe ontvangsdame/sekretaresse te kry het my uitgeput en moeg gemaak. Ek is al deur snaakse dames vanoggend maar kan nie werklik een kry wat in my smaak val of die vereiste kwalifikasies het nie.

Ek besluit om eers n breuk te vat en dan aan te gaan met my werk want ek glo ek is deur al die kandidate vanoggend. Vanmiddag moet ek saam met juffrou Boonzaaier, die baas se sekretaresse, wat hy vir my geleen het terwyl hy op verlof is deur die aansoeke gaan en besluit wie ons gaan aanstel.

My vorige sekretaresse het pad gevat nadat ek haar n slag uitgetrap het oor n gruwelike fout wat sy gemaak het wat ons in die in en uitvoer besigheid nie kan bekostig nie.

Ek staan op en gaan staan voor die venster om die uitsig te bewonder. Ons kantore is op die boonste verdieping van die ou Transnet hoofkantoor. Met die afskaling van Transnet so vyf jaar terug het van die kantoorruimte beskikbaar geraak en het ons hier op die boonste verdieping ingetrek omdat “Global Shipping” se ou kantoorruimte te klein geraak het.

Ek het sewe jaar terug by “Global Shipping” begin werk, nadat ek op 23 jarige ouderdom klaar gestudeer het, en het in hierdie jare redelike vordering in my loopbaan gemaak.

Dit is pragtige uitsig wat ek hier deur my kantoor venster op Port Elizabeth stasie, die Donkintoring en die hawe het.

Twee sleepbote is juis besig om n vragskip teen n kaai vas te stoot en ek verkyk my aan die toneel. Weerskante lê ook twee vragskepe vasgemeer en die hyskrane werk oortyd om die vragte houers af te laai. Op die horison sien ek nog twee vragskepe wat wag op toegang tot die hawe.

Teen my kantoormure hang twee groot geraamde fotos van twee van Safmarine se vragskepe wat ek nogal baie heilig op is. Daar hang ook n foto van n sleepboot wat besig is om n skip teen n kaai vas te stoot.

Die telefoon lui en toe ek antwoord is dit juffrou Boonzaaier: “Melt hier is nog n kandidaat vir die pos. Kan ek haar maar instuur, ek dring daarop aan dat jy met haar n onderhoud voer?”. waarop ek bevestigend antwoord want as juffrou Boonzaaier sê maak so, dan maak jy so, want naas die baas is haar woord wet hier.

Vir haar 48 jare is sy eintlik n mooi vrou en het n lyfie wat menige matriek dogter hulle naels sal laat kou van jaloesie. Daardie lyfie is ook genoeg om menige man gedagtes te laat kry en ekself het ek al gewens ek is so twintig jaar ouer. Sy sou dan beslis nie n oujongnooi gewees het nie, dit belowe ek julle.

Wat my altyd opval is haar pikswart hare wat altyd in n bolla agter haar kop vasgemaak is en ek het al baie gewonder hoe sy sal lyk met daardie hare los.

Altyd netjies geklee in n baadjiepak dwing haar hele persoonlikheid gesag af en waarom sy nooit getrou het nie weet nugter, seker maar n liefdesteleurstelling gehad in haar jong dae en toe gesweer het nooit weer nie.

Die deur gaan oop en juffrou Boonzaaier stap saam met die mooiste blondekop die kantoor binne.

Sjoe mense maar sy is mooi. Met daardie tuimelende blonde hare en fietse lyfie is sy genoeg om menige man se hartsnare te roer. In teenstelling met baie van die dames wat vanoggend al in hierdie kantoor was het sy duidelik voorbereid gekom en is sy ook in n netjiese baadjiepak geklee.

Ek staan op en stap om my lessenaar en stel juffrou Boonzaaier ons voor: “Melt dit is juffrou Cindy Cloete, en dit is Melt du Preez vir wie jy gaan werk as ons sou besluit om jou aan te stel”.

Ek het haar hand met n, “Aangename kennis”, en toe gebeur dinge. My bene word lam as ek in daardie groot blou oë kyk en ek hou haar hand hopeloos te lank vas voordat ek beduie hulle moet gaan sit. Met die vorige onderhoude het Juffrou Boonzaaier geloop maar met Cindy besluit sy om te bly en toe weet ek, hier kom n ding.

Juffrou Boonzaaier val ook dadelik weg: “Melt ek het klaar met juffrou Cloete gesels en na haar kwalifikasies gekyk. Daar in die koevert sal jy al haar dokumente kry as jy daarna wil kyk. Sy voldoen aan al die vereistes, is ongetroud en bly by haar ouers. Sy was in die in en uitvoer besigheid en het dus ondervinding ook. Ek sal graag wil dit jy haar aanstel want ek glo sy is die regte een vir die pos”.

Soos ek reeds gesê het, juffrou Boonzaaier se woord is wet en het ek nie eintlik n keuse nie maar wil darem weet waarom sy wil padgee van haar vorige werk af: “Juffrou Cloete waarom wil jy van werk verander”.

Dit is of daar trane in haar oë kom toe sy my antwoord: “Meneer ek het nie n keuse nie. My baas kon sy hande nie van my af hou nie en ek was moeg daarvoor”.

Ek kyk vinnig deur haar kwalifikasies en vir my is dit die beste van almal wat al vanoggend hier was se kwalifikasies.

Ek sit dit terug in die koevert en kyk vir juffrou Boonzaaier: “Reg juffrou Boonzaaier, jy kan maar die nodige aanstellings dokumente uitmaak dat ek dit kan onderteken. Wanneer kan juffrou Cloete begin”, en met die staan ek op, die onderhoud is, wat my betref, afgehandel.

Juffrou Boonzaaier en juffrou Cloete staan op en weer kry ek daardie lam gevoel toe Cindy haar hand uitsteek: “Dankie meneer. Ek sal Maandag oggend hier wees want ek het reeds klaar gemaak waar ek was. Meneer kan verseker wees ek sal net my beste gee”.

Met die verlaat hulle my kantoor en met die sakie afgehandel kan ek nou aangaan met my werk.

Ek is nog besig om n paar dokumente te onderteken toe juffrou Boonzaaier die deur oopstoot en Cindy se aanstellings dokumente voor my plaas om onderteken te word voor dit deurgaan personeel toe.

Ek onderteken die dokumente en gee dit terug vir haar.

Wat my besiel het om die vraag te vra toe sy omdraai en terug beweeg deur toe weet ek nie maar toe vra ek: “Juffrou Boonzaaier, mag ek vra hoekom is jy nooit getroud nie? Jy is n mooi vrou en ek kan nie glo dat mans nie in jou belang gestel het nie”.

Juffrou Boonzaaier steek vas en dan draai sy stadig om. Nou weet ek, sy gaan my teer en veer omdat ek my neus in haar privaat sake druk. Sy stap terug en kom sit in stil voor my lessenaar terwyl sy my indringend aankyk met daardie diep grys oë van haar.

Dit is of daar trane in haar oë kom en dan huiwer daar so n ligte glimlaggie om haar mondhoeke en toe verras sy my met n versoek: “Melt, dit is more Saterdag. Kom kuier vir my vir die dag en dan sal ek jou die hele storie vertel. Ek bly in Despatch en sal my adres vir jou sms. Sorg dat jy so tienuur daar is en as jy iets te drinke wil saambring is jy welkom. Daar is n braai roostertjie ook en kan ons n vleisie braai want ons gaan die hele dag kuier. Dalk kan jy my ook vertel waarom jy op dertig jarige ouderdom ook nog nie getroud is nie”

Terwyl ek wens die aarde sluk my in staan sy op en stap vinnig by my kantoor uit om my met n warboel gedagtes agter te laat.

Ek het eintlik ander planne vir die Saterdag gehad soos bietjie gaan golf speel of te gaan visvang maar in my gedagte kanselleer ek al daardie planne want ek is nou nuuskierig om uit te vind wat juffrou Boonzzaier se geheim is.

Vieruur besluit ek ek het nou genoeg gehad en dat ek gaan loop. Toe ek by juffrou Boonzaaier se lessenaar verby gaan groet ek haar en herinner sy my aan Saterdag se afspraak: “Sien jou dan more so tien uur se kant Melt”.

“Mooi aand vir jou jufrou Boonzaaier”, groet ek haar en stap parkeer garage toe om my Land-Rover te kry en te verkas huis toe waar ek in stilte my gedagtes in orde kan kry. Op pad huis toe koop ek n bottel 3 jaar KWV want ek het n idée ek gaan dit more nodig kry. Ek koop ook vir my Kentucky want ek is niks lus vir kosmaak vanaand nie, ek wil net rustig ontspan daar in my nessie.

Ek bly in n twee slaapkamer woonstel in Blue Water Bay, langs die Swartkops rivier. Die woonstelletjie het twee slaapkamers, kombuis, en n eet/sitkamer. Nie watwonders groot nie maar vir my heel gerieflik en lekker naby die strand.

By die huis gekom verober ek vinnig die Kentucky en gooi daarna vir my n stywe dop KWV in. Ek druk n laserskyf in die speler, klassieke musiek wat ek baie lief voor is en gaan sit in my Lazy boy om in n dinkskrum in te sak en alles van hierdie dag te probeer verwerk.

Vir n paar minute speel my lewe sover soos n rolprent voor my af.

Die enigste kind van Piet en Annetjie du Preez het ek in hierdie wêreld groot geword, skool gegaan en was ek universiteit toe, want my ouers, alhoewel ek streng groot gemaak is, het altyd gesorg dat ek niks te kort skiet nie.

My pa het onlangs afgetree na n jare lange loopbaan as treindrywer op Transnet en my ma was en is nog steeds huisvrou.

Hulle het n aftreehuisie op Ashton baai gekoop en sluit nou hulle ou dag rustig daar, my pa seker meer besig om vis te vang as iets anders. Dit is seker waar my liefde vir visvang vandaan kom en het ek en hy al menige ure saam langs die viswaters deurgebring

My ma aan die anderkant het my n liefde vir klassieke musiek aangeleer en was maar altyd daar, ook al die nagte wat my pa nagdiens op die treine gewerk het.

My gedagtes keer terug na juffrou Boonzaaier. Ek begin wonder waarom sy my uitgenooi het om more die dag saam met haar deur te bring. Sy is op kantoor so n geslote persoon en wat is dit wat haar laat besluit het om haar geheim met my te deel. Waar pas ek in hierdie prentjie in is n vraag wat in my kop maal.

Die volgende gedagte kom by my op. Waarom het sy my half gedwing om Cindy Cloete aan te stel, wil sy nou hier probeer Cupido speel?

Kom ons verstaan mekaar mooi. Ek is nie anti vrou nie en het in my studentedae van die pragtige goedjies op sleeptou gehad. Nadat ek begin werk het was daar ook so een of twee op sleeptou. Dit is net dat ek heel tevrede met my lewe is soos dit is en nie lus is om my lewenstyl te verander en my vryheid prys te gee nie. Ek is dus n selfgemaakte oujong kêrel en weet dat daar op kantoor n bakvissie of twee is wat lam bene kry oor my maar ek stel nie belang nie. Kantoor romanses is in elk geval net moeilikheid in hoofletters gespel.

Na nog so n dubbele KWV besluit ek om n fliek te kyk op TV wat my aandag bietjie besig hou maar toe die my ook begin verveel gaan stort ek en gaan klim in die bed nog steeds aan die wonder oor juffrou Boonzaaier se uitnodiging.

My selfoon het in die kamer gelê en het ek nie die boodskap gehoor deurkom nie en sien ek die sms van juffrou Boonzaaier af toe ek in die bed klim: “Lekker slaap Melt sien jou so tienuur se kant”.

Ek glimlag want nou is my nuuskierigheid eers geprikkel en vir n oomblik wonder ek of sy nie romantiese gedagtes het nie. Ouer vroue met jonger mans is nie meer vreemd nie en neem hulle gewoonlik in so n geval die leiding, maar wat is haar gedagte dan met Cindy.

Seker maar die twee dubbele KWV doppe wat my diep in droomland instuur en my heel romantiese drome laat droom en ek weier om daardie drome te deel. Al wat ek sal noem is dat n blondekoppie deel van daardie drome was en ons saam op die strand was.

Dalk besef my onderbewussyn dit is tyd dat ek my alleen bestaan vaarwel toeroep en vir my n vrou aanskaf.




Dit is vir my n passie om die ou spoorwegera op skrif te laat herleef en lewendig te hou want dit is n era wat verby is. Deur my spoorwegstories en verhale poog ek om hierdie era lewendig te hou. Ek skryf egter ook ander verhale en stories om aan die skrywersdrang in my uiting te gee

2 Kommentare

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed