Anna se dolosse
Anna se dolosse
Brons
Anna sit op een van die dolosse en tuur oor die see. Dit is besig om hooggety te word. Sy merk hoe die branders teen die dolosse klots, maar laasgenoemde staan sterk, staan stewig en trotseer die krag van die weerstand. Sy weet nie wanneer en deur wie hierdie dolosse daar geplaas is nie, maar dit was een grootse kunswerk, almal anders geplaas, ooglopend deurmekaar en selfs bo-oor mekaar, maar tog so dat die water nie kan deurdring nie. Klein weerlose strandlopertjies stap onbesorg aan die ander kant, strandkant, van die dolosse oor die sand en klippe, sommige waag dit selfs tot bo-op die dolosse. Een dolos sou nie die ding kon doen nie, ook nie twee of drie nie, maar die hele massa van hulle, amper ontelbaar, vorm saam ‘n gedugte teenstander vir die bulderende seemonster.
Anna dink aan haar eie lewe, hoe sy ook, net soos die strandlopertjies, eens op ‘n tyd onbesorgd, kommervry op die strand van die lewe geloop het. God se dolosse was haar beskerming en die wrede seemonster kon haar nie bykom nie. Maar dit was lank gelede. Die landmonster hef intussen haar lewe verwoes. En die monster het toegelaat dat haar kind sterf, dat haar man haar vir ‘n ander verlaat en dat sy, as werklose vrou, buite die beskerming van haar dolosse moes gaan verken.
Nou sit sy hier, en sien hoe die water teen die dolosse breek. As sy maar net aan die anderkant kan kom, die finale tree kan gee, die wrede seemonster in die oë kan kyk. Dan gee sy haar laaste tree, oor die deurmekaar dolosse, die see in. Sy laat toe dat die seemonster haar teen die dolosse, die baken van beskerming, verpletter.
En net die strandlopertjies sien hoe die liggaam van ‘n eensaam vrou, agter die beskerming van die dolosse in die see verdwyn.
©️HENN
2 Kommentare
-
Fanus Strydom
Diep!! Welgedaan.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, dankie vir jou bydrae vir Februarie 2024 - Dolos projek