APRIL PROJEK: Kommentare en uitslae
INK APRIL PROJEK: KOMMENTAAR EN UITSLAE:
GEDIGTE:
GOUD:
Wenner: No. 9 (74%) – Carma Shaw met Vrydag
2de Plek: No. 12 (61%) – Carma Shaw met Oordenkingstyd
3de Plek: No. 1 (60%) – Anzè Bezuidenhout met Via Dolorosa van die Boabab
SILWER:
Wenner: No. 13 (60%) – Estelle Rubouw met Paasfees in Palistina
BRONS:
Wenner: No. 16 (76%) – Palet met Woorde van goedheid
Plek: No. 2 (61%) – Chantelle Holder met Goddelike liefde
3de Plek: No. 5 (60%) – Palet met Ewige lewe
VERHALE:
WENNERS: Geen
RUBRIEKE:
WENNERS: Geen
GEDIGTE:
Via Dolorosa van die Baobab (GOUD)[1]: Dit is ‘n vars benadering tot hierdie onderwerp. Ek het die gedig baie geniet want dit laat my dink en verf goeie verbeeldingsbeelde. Ek voel egter dat die weglating van sekere kritieke lidwoorde, die ritme erg versteur het. Ek gaan twee voorbeelde aanhaal:
“staan ‘n Baobab
as baken op [die] horison” en,
“dog nederig voor [die]
voete van ons Heer” verder,
Die grondslag van goeie digkuns is spelling, en vir my spesifiek is dit evangelie! “Majestieus” word soos die voorafgaande gespel. Die beeld van die Kremetart is vir my ‘n goeie een, wat nie nét die grootheid van die paasverhaal verbeeld nie, maar die ouderdom van die boom speel ook vir my ‘n belangrike rol in die crux van die vers. Dit dui op tydloosheid en die skoonheid in die eenvoud daarvan. Baie kritici sal nie noodwendig die pase met skoonheid en eenvoud vergelyk nie, maar vir my is dit juis wat die pase is ten spyte van die “groot prys” wat betaal is.
Goddelike liefde [2] : Die gedig is duidelik en vertel met oorgawe hoe jy die gebeurtenis beleef. Die kort sinne, wat so effe kripties lees, het my aanvanklik gepla, maar met herlees het ek ervaar hoe die bondigheid die verhaal in eenvoud vertel. Daar is plekke waar ek persoonlik die woordorde sou verander om die sluiting van sekere frases sagter te maak, soos bv.: “soda tons die ewige lewe//in oorvloed kan hê” Die koeplet aan die einde is vir my onnodig. Die gedig sluit sterker daarsonder. Dankie vir jou deelname.
Passie vir karate [3]: Ek wonder of jy dalk die opdrag verkeerd verstaan het en daarom op ‘n persoonlike ‘passie’ gefokus het. Die paasfees opdrag kom ongelukkig nie in jou vers voor nie. Ek is jammer as die opdrag dalk vir jou onduidelik was. Onthou om nie elke sin in jou verse met hoofletters te begin nie. Hoofletters behoort slegs voorafgaande leestekens te volg.
Vredesgroet [4]: Die titel kan gerus sonder die apostroof geskryf word. Kom ons neem jou eerste strofe en werk daarmee om die nodigheid en funksie van woordekonomie te bekyk:
“Loop ek verby die kruis
en sien hoe die Here daaraan hang
kyk hoe die son gloed
oor sy wonde en bloed”, sien jy hoe ek met ‘n eenvoudige oefening en verandering in die derde reël die ritme verbeter het deur van onnodige woorde ontslae te raak? Ek wil sien dat jy hierdie vers ontwikkel tot sy volle potensiaal. Kontak my gerus via persoonlike boodskap dan werk ons saam daaraan.
Ewige lewe [5]: Dit is belangrik om te onthou dat die dubbel ontkenning in Afrikaans ‘n spelreël is, en daarom sou die sin “hulle weet nie wat hulle doen…” met ‘n “nie” sluit. Die gebruik van hoofletters waar dit nie verwys na die Christus self nie, behoort altyd voorafgegaan te word met ‘n leesteken. Dit kan nie sommer lukraak gebruik word sonder rede nie. Die inhoud van jou vers is getrou aan die opdrag. Dankie vir jou deelname.
Die laatson se groet [6]: Ek wil so bietjie aan jou vers torring:
Die skemer steek pienk-rooi
arms oor die horison uit
knipoog sy laaste vaarwel
oor Jesus aan die kruis
verstote
alleen
Streel sag ‘n wind
oor sy bebloede wang
die stilte van die skemer
kom hurk langs hom:
“Waar is my God?”
vra Hy bang
‘n Mistigheid vou om Sy wimpers
en dan is dit stil,
tpe die nagstilte daal
het God Sy Seun kom haal
Met ‘n paar aanpassings en beter woordekonomie lyk en ontvou hierdie vers tot sy volle potensiaal. Dit is ‘n aardse, menslike gedig wat al die emosie van die gebeurtenis onder die loep neem. Kyk gerus na die voorstelle vir veranderings, en gesels per inboks. Pragtige bydrae. Dankie vir jou deelname.
Pase [7]: Die kommersialisering van godsdientige feesdae word sterk hierin aangespreek. Ek het egter baie moeilik hieraan gelees met die voortdurende enjambiese aanbieding. Ek dink die gedig sou sterker lees met die gebruik van leestekens. Daar is werklik onnodige herhaling van die woorde “hasie” en “hasies” wat nié funksioneel aangewend is nie. Ek sal voorstel dat jy hierdie vers redigeer en hom ontwikkel tot sy volle potensiaal.
HERE MAAK MY SAG [8]: Die titel behoort nie ten volle in hoofletters geskryf te word nie. Ek verstaan die inhoud van die vers, maar nie alleen is daar onnodige herhaling van sekere woorde nie, die inhoud stryk nie vir my met die tema nie.
Vrydag [9]: ‘n Kragtige en bondige vers. Wat ek egter ervaar het is dat die gebrek aan leestekens my leestempo gehaas het, en buiten vir die ruskans by die vraagteken, voel dit asof die vers my forseer om daardeur te jaag. Ná “’n doringkroon” kon jy maklik ‘n komma aangewend het en dan ook ná “donkerson”. Dit sou help dat die leser rus en inneem wat sopas gelees is. Miskien ervaar ‘n ander leser dit anders, maar ‘n rusperiode in daardie twee gevalle maak vir my sin. Dit neem egter niks wag van die pragtige vers wat jy met ons gedeel het nie. Ek hou van die beklemtoonde rym wat “God” met “gebod” het; sodra ek daar in die vers kom trek dit my sintuie terug om weer die begin van die vers te ervaar. Dit is werlik ‘n kragtige vers.
Plaaslike geluk [10]: Ek vind nie die opdrag tema hierin nie. Verder, hoofletters aan die begin van elke sin is nie gebuiklik nie, waar dit eintlik vsn ‘n leesteken voorafgegaan moes wees. Die kriptiese aanbieding lees moeilik en onritmies. Spelling is ook belangrik: “duisternes”; “illusieër”. Miskien sou die aanwending van leestekens hierdie vers sterker maak.
‘n Teken [11]: Die belangrikheid van leestekens is duidelik in jou vers. Kyk na jou eerste strofe:
“Aan ‘n kruis//koud en alleen//hang Jesus//die Beloofde een” – sonder ‘n komma ná Jesus lees die sin asof Jesus die een is wat iemand anders (die beloofde een) ophang. Met die gebruik van ‘n komma daar is dit duidelik dat Jesus en die beloofde een dieselfde persoon is. In die tweede strofe het jy “verslaan” gebruik nét om met traan te rym en daarom klink en is dit geforseerd. Die inhoud van die vers is getrou aan die opdrag tog laat hierdie klein tegniese dinge jou in die steek.
Oordenkingstyd [12]: Die antitese in die sin “vol ongeskrewe woorde” is vir my skerpsinnig en opvallend. En dan hou ek van hoe jy die gedagte soos boublokkies ontwikkel, en skielik, hoe teleurstellend eindig jy ‘n sterk strofe met ‘n spelfout. Die vers ontvou mooi, en die karakter wat smag om saam vervloë wonde, eindelik, woorde te bloei. Ek hou van die metafoor van ‘n leë boek want ten spyte van dié verhaal wat telke male reeds vertel en aangehoor is, sou dit tog aanmatigend wees om te beweer dat enige mens werklik kon verstaan waardeur die gekruisigde gegaan het. Ek weet nie of dit die idee was wat jy hier wou skep nie, tog sal ek wil glo dat my interprestasie nie té ver van die waarheid is nie. Onthou asseblief dat die ellips direk ná die woord volg sonder enige spasie […]. Dit is ‘n vars en interessante poging in hierdie tema genre.
Paasfees in Palistina [13]: Die gebiedstryd wat in die area van Israel woed, en hierin verbeeld word is vir my so ‘n sterk antitese met wat die ‘verlossingsdaad’ werklik vir die mensdom (geselekteerd natuurlik) beteken. Ek vind die vers egter ietwat omslagtig en wonder of ‘n sterker weergawe nie miskien ‘n meer kompakte een sou wees nie? Ek sou voorstel dat jy die vers redigeer en oorweeg om bietjie aan die gewig te knip. Dankie vir jou deelname.
Afrika kreet [14]: Ek vind dit baie moeilik om die tema hierin raak te lees. Ek gaan dus nie werklik hierop kommentaar lewer nie.
Verlossing [15]: Persoonlik dink ek hierdie vers sou baie meer treffend gewees het indien dit meer kompak aangebied was; minder is soms meer. Ek sal voorstel dat jy sterk terugsny hieraan sodat die belangrikheid van die ‘verlossingswerk’ nie verlore gaan in die ‘swaarheid’ van woordoorbodigheid nie.
Woorde van goedheid [16]: Ek hou van metafore wat hier ingespan word om die derde strofe se belangrikheid vooraf te gaan. Wit wat na skoonheid verwys; boom na lewe en die verandering van seisoen met sy koue maak voorbereiding vir ‘n nuwe ‘lewe’ wat anderkant die ‘dooie’ seisoen wag. Die klem val op die werklikheid van die pase in jou laaste strofe maar selfs meer op die hoop wat geskep word in die laaste sin. Dit is ‘n kompakte en aardse mooi vers.
RUBRIEKE:
Terrorisme [1]: Ek het werklik gesukkel om die tema opdrag hierin raak te lees.
Praat ons van Páásfees? [2]: In die moderne kultuur het die term “Opinionista” nou reeds ‘n gesonde grondslag gevind. Ek vind hierdie “rubriek” eerder in daardie kategorie en sien dit nie werklik as ‘n nagevorsde stuk inligitng niesien dit nie. Daarmee sê ek nie dit is verkeerd nie, maar vir die genre is dit nie van pas nie. Ek hou nie van die gebruik van ‘ok’ regdeur die stuk nie e nook kan ander Engelse gesegdes eerder met Afrikaanse alternatiewe vervang word. Ons het genoeg daarvan in ons ryk taal. Ek weet steeds nie of Paasfees volgens jou mening relevant is al dan nie.
VERHALE:
Via Dolorosa na liefde [1]: Dit is ‘n Bybelverhaal wat geparafraseer is. Is dit genoegsaam? Is dit vars en nuut? Ek dink tog jy het die ongekarteerde gevoelens van sommige van die karkaters wat wel in die Bybel se verhaal voorkom, mooi verwoord en behandel. Ek dink egter dat die verhaal té naby aan die oorspronklike is om jou werklik hiervoor te beloon.
Baie dankie aan elkeen wat hierdie maand deelgeneem het.
Julle maak my hart gelukkig in Afrikaans.
Skryfgroete
IM
4 Kommentare
-
Estelle
Baie dankie IM, ek stem heeltemaal saam met jou kommentaar. Hiermee dus 'n geredigeerde vorm van my vers - Paasfees in Palestina Dis Paasfees in Jerusalem… duiwe sing hul lentelied in palms en olyfbome langs die Via Dolorosa tot by die Kruis van Golgota, waar in die donker middernaguur pelgrims vry kan word met die aansteek van die Vuur In Palestina is dit lente waar papawers bloedrooi blom, waar die "ster van Bethlehem" Nazareners na die stal gelei. Tussen ruïnes by die Gazastrook waar lewerike broei weergalm helder hulle lied bo chaos en verdriet. Hoe lank nog sal in Bethlehem die Heilige Vuur se vlam nog skyn eer dit verswelg word deur die drif, die drang na mag en grondbesit?
-
Estelle
Baie dankie vir terugvoer, ek waardeer dit
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Viooltjie
Baie dankie vir die harde werk en die waardevolle terugver, Inkmoderator. Ek waardeer dit :-)