Jongste aktiwiteit:

Augustus 2022 – My huis is my woning projek: Kommentaar & uitslae

Baie geluk aan hierdie 13 lede!

WENNERS
GEDIGTE
GOUD:
1 STE: NO 16 – Andries Fourie met Die lewe is ‘n aangaanding
2DE : NO 10 – Caren Kearley met Laaste vers
3DE : GEEN

SILWER:
1 STE: NO 30 – Elmarie Nienaber van Kampen met Verganklikheid
2 DE : NO 33 – Elizabeth Bezuidenhout met As die kerkklokke lui
3 DE : NO 25 – Loretta Szikra met Koue liefde
EERVOLLE VERMELDING :
NO 1, – Elize Kruger met Alle paaie lei huis toe
NO 18, – Elize Kruger met Duin-op
NO 26 – Loretta Szikra met Katjiepieringliefde

BRONS:
1STE: NO 19 – Hester Steenkamp met Wortels
2 DE : NO 22 – Elisma van Zyl met Hier is huis
3 DE : NO 24 – Koos Elsum met Leeg gebloei

MENINGS
1. NO 1 – Diana Coert met My huis is my woning
2. NO 3 – Marlene Erasmus met As jy kan droom
3. NO 2 – Ano met Huis, paleis, pandok, varkhok

RUBRIEKE
1. NO 1 – Driekie Grobler met Introspeksie
2. NO 2 – Marlene Erasmus met Waar is jou ware tuiste?
3. NO 3 – Ano met My siel my spituele woning

ARTIKELS
GEEN INSKRYWINGS

VERHALE
GEEN

KOMMENTAAR

Gedigte:
Brons:

19. wortels
Dit was vir my ‘n besonderse verrassing om hierdie kwaliteit in die brons klas raak te lees. Jou vers is sierlik ontwikkel met ‘n metriese ritme. Die standaard van jou gedig is prysenswaardig. Die eerlikheid daarin is treffend. Begeesterde werk. Welgedaan.

20. Pendelaarstuiskoms
Daar is ongelooflike potensiaal in hierdie vers. Ek dink tog dat die lang uitgebreide sinne afbreek maak, nie net aan die ritme nie, maar ook aan die oorkoepelende narratief. Jy kan defnitief ‘n baie sterker beeld skep deur funksioneel te sny aan die ekstra “vleis”. Indien jy leiding soek daarmee kontak my gerus via inkmoderator@gmail.com.

21. Fokus
Die gedig sou mooier (en minder kripties) lees indien jy van ‘n paar by- of lidwoorde gebruik gemaak het. In die huidige vorm is die vers ritme-anoreksies.

22. Hier is huis
Ek was effe verbaas hoe hierdie menslike, aards en eerlike vers my aan die hart geraak het. Daar is geen neologismes nie, geen akrobaties metaforiese kulkunsies nie…nét tere eerlikheid. Jou vers het my in sy deemoed beïndruk. Werklik ‘n mooi, mooi poging.

23. Sprokjé
Dit is in geheel ‘n keurige vers. Sekere woorde wat aangewend is ter versterking van die rympatroon laat my effe frons, en veral die gebruik van “linne”. Dit wil klink of iemand eerder daarop sal slaap as eet? Miskien was dit nié die beste keuse nie. Dankie vir jou deelname.

24. Leeg gebloei
Jou versugting hierin is die voorbehoud (of bekommernis) van vele. Jy het die probleem verpersonifiseer, wat dit vir my baie treffend maak. Die stem van die digter is so belangrik en ek is bly jy gebruik jou talent. Welgedaan.

28. Deurtrapte drumpel
Ek wonder of die vers nie meer impak sou hê as dit nie so omslagtig is nie. Ek weet dat jy as digter jou vers beplan en bepaal wat in en wat uit gelaat behoort te word sodat die idee wat jy wil deel duidelik is, maar soms is té veel inligting oorbodig. Ek verstaan die crux, maar ek kan dieselfde daaruit haal in ‘n meer kompakte weergawe. Indien jy leiding hierin wil hê kontak my via inkmodertor@gmail.com.

31. My huis, my musiek
Die vers is woordswaar. Ek verstaan die prutsery waarmee ‘n ouer sukkel as die kinderstemme eers stil geword het, maar jy kon ‘n sterker vers ontwikkel het deur aan die onnodige “vleis” te sny. Vir leiding, sou jy wou, kontak my via inkmoderator@gmail.com.

SILWER

1. Alle paaie lei huis toe
Dit is ‘n teer en eerlike vers met ‘n treffende rympatroon wat afwisselend klem lê op die mees besondere beelde. Jy het jouself werklik goed gekwyt van die taak met ‘n nadruklike interpretasie van die opdrag. Swierig.

2. Alfabethuis
Ek vind die vers effe vreemd en veral die sin “om in te ek”. Ek weet wat jy daarmee bedoel maar is dit die beste weergawe van wat jy wou sê? Ek bring nie die kloutjie mooi by die oor nie. Die gedig is ‘n huis en die gebed op die bed het betrekking op wat? Miskien kan jy met my gesels op inkmoderator@gmail.com.

3. Kom huis toe
Het jy weer jou vers gelees vóór jy dit geplaas het? Jy storm deur die gedagtes om by die slot te kom sodat jy amper ‘n spoedvraat word. Dis ‘n liefdesvers, ‘n verlange…waarom storm jy deur? Jy verloor die draad iewers en die leser kan en behoort dit nie namens jou op te tel nie. Praat asseblief met my op inkmoderator@gmail.com.

4. Die verlore seun
Het jy in die 2de sin eintlik “wonde” eerder as “woorde” bedoel?
Hoe klink dit:
“Ek gee vir jou ‘n potjie heuning
om jou wonde te salf…”
Want hoe en hoekom salf ons “woorde” tensy dit ‘n seëning is wat uitgespreek word? Die “mee” is ook oorbodig in daardie sin.
Die herhaling van “kom” is ook effe hinderlik. Die vers sluit mooi en die inhoud is in geheel keurig.

5. Die reëngodin
Die sinne wat lukraak met hoofletters begin hoort nie so nie. Hoofletters volg altyd ‘n vorm van punktuasie. Ek vind die sinne effe lank wat die ritme versteur. Jou vers het ongelooflike potensiaal maar jy sal moet redigeer.

6. Hemel soene
Ek vind die vers slordig omdat dit van een na die ander gedagtes spring sonder om ‘n behoorlike eenheid te vorm. Eers begin dit as ‘n ode aan die vrou (in die algemeen) en dan skielik betrek die skrywer sy/haar moeder. Vir my, as leser, is die grootste gedeelte van die vers oorbodig of verkeerdelik georden. Kontak my gerus op inkmoderator@gmail.com indien jy hierdeur wil werk.

12. omdraai
Ek verstaan nie die funksie van die aandagstrepe tussen die strofes nie. Mynsinsiens dien dit geen doel nie behalwe dat dit elke stansa soos ‘n individuele eenheid laat lyk. Die herhaling van “omdraai” is hinderlik. Die laaste 2 sinne in jou vers is vir my die beste deel van die hele vers.

13. dop, dopper dopste
Dit is ‘n anderse interpretasie van die opdrag wat oulik genoeg is. Ek verstaan egter nie die slot van jou vers nie. Keurige vers nietemin.

14. Tuis in my eie huis.
Jou vers is werklik omslagtig en swaar. As leser het jy my reeds in die 2de strofe verloor. Sommige van die gedagtes is oorbeskrywend en swaar gelaai en dit versteur nie net die ritme nie, die leser verloor ook die draad. Jy kan ‘n treffer hieruit haal maar die snoeiskêr moet nader getrek word.

18. Duin-óp
Die duinesand wat as metafoor gebruik word om na die daaglikse uitdagings te verwys, is skerpsinnig. Die stryd van die menslike toestand is ‘n kroniese een en die emmer vir emmer beeld omarm hierdie gedagte. Skerpsinnig en keurig.

25. Koue liefde
Ek staan altyd in verwondering as ‘n digter ‘n grootse lewensles is ‘n kort en kragtige vers verewig. Marcus Aurelius het in een van sy “meditations” gesê (in parafrase): “Stop, once and for all, these discussions of what a good man should be, and be one.” Jou vers sou hom trots gemaak het aangesien jy op jou eie ook ‘n toonaangewende lewensles verwoord het. Jou vers mag kort wees, maar die krag daarin strek myle. Welgedaan.

26. Katjiepieringliefde
Dit is ‘n minsame stemmingsvers wat mooi metaforiek gebruik. Aanvanklik het van die beelde vir my swaar oorbodig geklink, maar hoe meer ek die vers lees, hoe meer het elkeen in sy eie unieke plekkie geval. Ek wonder of jy nie dalk sonder die parentese kon klaar kom nie? Dit lees vir my effe lomp. Die vers is in geheel beeldmooi en genotlik.

27. Kom na my huis – my woning
Ek wil my verstout en aan die slot van jou vers krap. My voorstel soos volg: (laaste twee sinne)
“verklap ons woning, in sy stille woorde
vir jou die verhaal van ons lewenspad.”
Ek dink as jou vers sonder die ellips eindig sluit dit sterker. Ander funksionele punktuasie kan óók help om die vers meer dramaties te maak. Die inhoud is keurig maar dit vra vir meer drama en ‘n sterker slot.

29. huis met eenduisend kamers
Ek verstaan nie die “eenduisend kamers” metafoor nie, want in die vers praat jy verder van ‘n enkele muur en “saamsmelt”?
“My hart word ‘n enkel kamer…” sou vir my meer sin gemaak het. Miskien kan jy jou metodiek vir my verduidelik by inkmoderator@gmail.com.

30. Verganklikheid
Ek dink nie selfs jý het ‘n idee van hoe treffend hierdie gedig is nie. Die beeld van die karakter wat vanuit ‘n plek van koestering en veiligheid geneem is, as gevolg van verganklikheid, is geniaal en grotesk. Dit is so trefseker en sterk verwoord dat ek ontneem is van ‘n goeie attributiewe byvoeglike naamwoord om my indruk te beskryf. Hierdie vers is ‘n skat in die Afrikaanse poësie. Magties dis mooi!

32. Ware woning
Ek wil van jou vers hou maar die herhaling van: sproeireën, seën, huis, kleine kind, klein kinders is hinderlik.
Kom ons loer na ‘n paar sinonieme wat jou maklik sou kon help:
Sproeireën: hemelwater; stuwing; kiesa; storm
Seën: heilwens; votum; Gods guns; welvaart ens.
Huis: tuiste; woning; woonplek ens.
Kind: suigeling; peuter; jongeling ens.
Klein: nietig, gering, jonk ens.
Dit is diglui om nie jou woordeskat te verbreed nie.
Die vers in geheel is keurig maar my voorbehoud staan.

33. as die kerkklokke lui
Met die eerste oogopslag voel jou vers soos ‘n beeldoorlading waarin die leser gaan sukkel om die “aanval” op die sensoriese te verteer, maar, dan gebeur ‘n merkwaardige ding: die ritme val in plek en gaan die vers oop soos ‘n praalgraf en stukkie vir stukkie raak die leser betrokke in werklike beelde van prag. Jou vers is aanvanklik skrikwekkend maar dit ontkiem tot ‘n beeldryke ervaring. Baie mooi geskryf.

GOUD

7. Maak mý jou woning
Jou vers eindig baie mooi ten spyte daarvan dat dit afskop teen ‘n geykte pas met woorde en beelde soos: “hemelblomme en wolktrane”. Ek is 100% oortuig daarvan dat jy gesogde sinonieme hiervoor kon optower. Ek weet niks is nuut nie, maar ‘n deelnemer in die goue klas word swaarder gemeet as die wat nou eers begin dig.

8. Huis
Vir seker nie op goue standaard nie. Wat sou die vers beteken? Waarna verwys die lig wat in slegs een kamer sou moes hang?

9. Exodus van ‘n stadskind
Rinnewasie is ‘n pragtige sinoniem vir kentering en agteruitgang. Met die gebruik van “reveil” (wat ontwaking beteken) het ek voorbehoud. In al die Afrikaanse bronne kry ek nie ‘n aantekening daarvan nie. Ek vind Reveille wat “seremonie” beteken. Miskien kan jy my laat weet watter bron jy gebruik het. Die gebruik van “ligtekooi” is ook ‘n snaakse keuse. Aangaande die res van die gedig dink ek nie dit is die beste weergawe nie. Die styl met ‘n versameling van koeplette, tersette en kwatryne maak jou vers slordig.

10. Laaste vers
Oorweeg: “en my saam jou huis toe vat” as ‘n slot. Daardie sin (in sy huidige vorm) se ritme is anoreksies. Onthou huis toe is twee woorde.
Die res van jou vers is keurig en pikturaal.

11. Konfessie
Sommige lesers sal jou titel as anglisismies ervaar, maar ek tree graag in die bresse en verseker almal dat dit ‘n aanvaarbare Afrikaanse woord is wat in baie bronne aangeteken is. Omdat jou stansas só beeldryk is, dink ek tog die vers sal voordeel trek by goeie en funksionele punktuasie. Die enjambiese aanbieding forseer haas en dit ontneem die leser van beter ervaring. Sonder die deelteken is reën ‘n spelfout, en as ‘n goue lid is dit totaal onaanvaarbaar. Jou vers is pragtig en teer. Die reën hou jou egter van die podium af.

15. Die koue binne my
Die herhaling van “koue” is nie mooi nie. Ek verstaan nie waarom jy jou vers kwesbaar gelaat het deur met ‘n ellips te sluit nie? Ek dink nie dit is die beste weergawe van hierdie vers nie.

16. Die lewe is ‘n aangaanding
Dit is ‘n noemenswaardige vers hierdie. Jy het ‘n enjambiese vers aangebied wat mooi vloei en ritmies sorgdraend is. Elke woord het ‘n smetlose leefruimte en dit is duidelik dat jy elkeen daarvan met sorg oorweeg en gebruik het. Dit is ‘n voltreffer.
Baie geluk.

17. Die rooi stoep
Ek dink daar bestaan ‘n beter weergawe van hierdie vers iewers in die gange van jou talent. Dit het my effe teleurgestel en meer so omdat jy in die goue kategorie deelneem.

MENINGSTUK

1. My huis is my woning
‘n Eerlik aardse mening waarmee baie saam sal stem. Keurig.

2. Huis, paleis, pandok varkhok
Keurig en mooi.

3. As jy kan droom
Pragtig geskryf. Keurig verwoord. Dankie vir jou deelname.

RUBRIEKE

1. Introspeksie
Jy het keurig omgegaan met hierdie rubriek. Ek het lanklaas so ‘n welversorgde, woordkeurige rubriek op INK gelees. Die aanbieding is briljant versorg. Welgedaan.

2. Waar is jou ware tuiste?
Let op jou sinkonstruksie wat op sekere plekke ordeloos is. Die rubriek oor die algemeen is geskik en netjies.

3. My siel, my spirituele woning
Ek het aandagtig hieraan gelees. Die aanbieding is inngeheel keurig maar ek voel dat die werklike “oplossing” nie vir my ontsluit is nie. Ek weet wat jy as skrywer bedoel maar voel die slot is afgestomp.

ARTIKELS:
GEEN INSKRYWINGS

VERHALE:

1. Wat maak dit saak?
Die storie het ‘n interessante wending maar die ontwikkeling van die ontknoping hierin is té vinnig. Ek dink die storie kan mooi ontwikkel word. Dankie vir jou deelname.

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed