Bagasie kan vervang word!
Dis pure blatante verwaande breë-bors trots wat my dié ding laat doen. Sy was van die begin af, nog voor geboorte al, in yster gegiet. Dis soos die Here haar gemaak het. Geskep het. Volgens plan. Sy plan, en ek het daar niks mee te doen gehad nie. Genadiglik.
Haar geboortedatum moes ’n maand voor haar geboorte gewees het. ’n Dokter op ’n myndorp het my so lank laat loop en toe sy uiteindelik na ’n moeilike geboorte die lewe inkom, was dit met ’n strop om die nek. Die naelstring. Misvormde ou koppie van die suiging wat toegepas is. Vol merke en knoppe waar die instrumente haar beseer het. Daar het sy al haar eerste deursetting getoon. Sy wou lewe en sy het.
Op dertien maande kry sy kroep in oortreffende trap. Sy beland weer in dieselfde hospitaal, maar ’n suster beveel aan dat ons in Johannesburg moet uitkom. Hulle het nie die apparaat wat ons benodig nie. Hulle probeer binne-aars medikasie toedien, maar kan geen aar vind nie. Hand, arm en nek. Later ook aan die kop. Dis so pynlik dat daar na elke probeerslag ’n vuil doek is.
Tweeuur die volgende oggend klim ons in ’n ambulans. Ongelukkig is die suurstoftenk afwesig en die venster gebreek. Ek sien hoe haar oë omdop en haar asemhaling vlakker en vlakker word. My kind is besig om te sterf. Met loeiende sirene spoed ons die noodingang van Johannesburg Algemeen binne. Dis toe ek haar aan ’n jong pediater wat buite wag oorgee, dat ek ’n vrede ervaar. Die Here het gehoor.
Soms kan ek nie help om te wonder of haar siekte bedoel was om ’n les te wees nie. Sien, ek was al weer swanger en wou nie die nuwe baba hê nie. Ek kon om de dood nie sien hoe ek dit sal oorleef nie. So na aan mekaar. Hoe dit ook al sy, sy is na drie dae in intensief weer springlewendig. Deursetting.
Op sewentien maande is sy gespeen. Van doeke én bottel én fopspeen. Ek het dit forseer, want twee kinders op bottels en doeke sou ek nie kon hanteer nie. Sy vra nooit weer daarna nie, al slaap sy nog nie deur ’n nag nie. Dalk juis daarom. Deursetting.
Op twintig maande is boeta daar. Yslike 4,4 kg baba wat elke twee ure gevoed moet word. Sy moet groot wees, al is sy nog self maar net ’n baba. Al hoe ek haar deel kan maak van die doenighede, is om haar ook ’n mamma te maak. Sy voed haar poppie, terwyl ek vir boeta voed. So word sy my gelyke. Deursetting.
Later is dit dan ook nie vreemd dat sy haar boeta moeder nie. Hom help bad, afdroog, room insmeer, aantrek en harekam. Sy is haar jare vêr vooruit.
Haar skooljare glip verby soos ’n landskap uit ’n bewegende voertuig. Sy sien vir alles kans. Kry alles reg. Is gelukkig en tevrede in haar eie vel. Gelyk aan almal. Ryk en arm, swart en wit, slim en minder slim.
In haar woordeskat is ‘kan nie’ lankal dood en ‘nee’ is nie ’n opsie nie. Sal ek eendag in haar matriekjaar ooit vergeet? Dis mondeling en toespraak voorberei tyd. ‘Ma’ sê sy, ‘ek het ’n marmoset apie nodig vir die demonstrasie in my toespraak.’ Ek voel aan: ‘hier kom ’n ding!’ Ek vra: ‘en waar dink jy gaan jy so aap kry?’ ‘Nee,’ sê sy, ‘moenie ma daaroor bekommer nie, ek het klaar gereël. Ma moet hom net seblief gaan oplaai en skool toe bring.’ Ek sê mos, deursetting.
Dit het ma toe gedoen. Aap in ’n hok op die sitplek langs my, ry ek skool toe. Aap beloer my koes-koes deur die tralies. Hy lyk ’n bietjie benoud. Ek gesels met aap om hom(of haar) te probeer gerusstel. En hoe antwoord hy? Hy draai sy agterent en pie my nat. Verdomde aap.
Haar droom is om na matriek medies te gaan studeer. Ongelukkig kry sy nie keuring nie. Een van die kleurling meisies in haar klas word egter toegelaat, al is haar punte heelwat laer. ‘Dan probeer ek weer volgende jaar,’ is haar koelkop reaksie.
Intussen hoor sy van ’n geleentheid om vir ’n jaar lank in Rugby, Engeland, by ’n skool te gaan werk, doen aansoek en word aanvaar. Vroeg-vroeg in Januarie staan ons op die lughawe, waar sy twee knape van een van die grênd skole in Kaapstad, moet ontmoet. Hulle drie gaan saam Rugby toe.
Sy het haar sakke oor en oor geweeg en oor en oor gepak. Tot sy binne die toegelate gewig is. Hierdie manne, bedorwe brokkies as jy my vra, kom met waterpolo toerusting, gholfstokke, rugbytoks en krieket uitrustings, om nie te praat van hope ekstra klere nie.
Sal die een skatryk pa nie sowaar voorstel dat hulle drie hul bagasie gelyk laat weeg en dan deel ons die oorgewig koste nie? Gelukkig laat ek my nie deur geld intimideer nie en sit voet neer: ‘Nee meneer, jy maak ’n fout. My kind se bagasie is binne die toegelate gewig. Deel julle maar.’ Hulle rol oë dat mens net die witte sien, maar ek en ystervrou-kind staan vas. Die einste pa was een van die manne wat by die Fidentia bedrog betrokke was. Weer besef ek net, pond in die bank, maak niemand ’n ordentlike mens nie.
Toe die tyd aanbreek dat die kinders deur doeane moet gaan en ons hulle finaal moet groet, is dit snot en trane in oorvloed! Hierdie twee ses-voet-ses rugbyspeler seuns en hulle ma’s gryp mekaar vas en snik hartverskeurend. Ek en my kind beloer mekaar uit die hoek van die oog en ek fluister deur stywe lippe: ‘Kinta, is daar fout met ons? Hierdie is dan ’n opgewondenheid vir ons. Is jy ook lus om te huil?’ ‘Nee, ma ek kan nie wag om op daai vliegtuig te klim nie!’
Kort voor lank, werk sy bedags by die skool en saans by die ‘local poeb’ waar sy ‘bangers, mash and mushy peas’ bedien. Sy spaar kliphard om middel van die jaar op ’n toer te gaan. Sy onderneem ook busdiens wat haar soggens al vyfuur uit die kooi jaag, al kom sy eers twaalfuur saans by die huis. Sy weet wat sy wil hê, sy weet wat sy moet doen om dit te kry en doen dit. Doelgerig. Deursetting.
Die toer wat sy kon bekostig, neem haar deur negentien lande. ’n Hele belewenis!
Sy doen weer aansoek om keuring vir medies. Intussen het sy verneem die kleurling meisie wat voorheen gekeur was, het swanger geraak en net ses maande op universiteit uitgehou. Die leemte wat sy laat, sal nooit gevul word nie. Kinta kry egter weereens nie keuring nie en moet haar tweede keuse nastreef. ’n B.Cur graad in Verpleegkunde. ‘Ma, dan is dit die Here se plan.’
Op universiteit sit sy nooit op die kantlyn nie. Dis die een dans na die ander en die een dinee na die ander, maar ek het nie geld vir ’n nuwe rok vir elke geleentheid nie. Sy is vernuftig en maak uit twee roke uiteindelik agt uitrustings. Wat lank was, word korter gesny en volgende keer doen sy kralewerk daarop of ryg ’n stukkie kant bo of onderaan. ’n Rok word uiteindelik ’n romp en toppie. Wat wyd was word nouer gestik.
Ek voel skuldig en sê: ‘Kinta, jy weet mos as ek meer gehad het, het ek meer vir jou gegee, nè?’
‘Moekie, moet jy nie bekommer nie. Ek sal eendag weet hoe om goed met my geld te werk.’ En so was en is dit.
Sy voltooi die eerste graad. Bekom ’n verdere kwalifikasie in Neonatale sorg. Doen ook haar Meestersgraad. Intussen begin sy navorsing doen vir die Universiteit in Kaapstad. Sy lei ’n span wat Longfunksie toetse uitvoer deur middel van ’n Masjien wat nog nooit tevore in Afrika gebruik was nie. Sy leer om artikels vir mediese joernale te skryf en publiseer daarvan.
Behalwe werk, is sy ook getroud. Die dag wat skoonseun vir Bokka om haar hand vra, is pa se woorde: ‘Ou seun, sien jy kans vir hierdie wilde perd wat jy wil opsaal? Het jy dit in jou om haar te tem?’ Hy sien kans. Byna ses jaar later is daai perd nog nie eers naastenby getem nie, maar hy is gelukkig getroud.
Sy lei ’n gebalanseerde lewe. Sy werk hard en speel hard en oefen hard en is ’n uithaler en staatmaker vrou en vriendin. Met ’n hart van goud, help sy net waar sy kan. Pas vriendinne se kinders op om hulle die geleentheid te gee om romanties met hulle manne te verkeer, wanneer sy ’n dag vry het. Intussen raak sy fiks genoeg om die Argus drie of vier keer te ry. Tussendeur neem sy aan talle fietsrenne deel.
Op ’n dag besluit sy dis nou genoeg padfiets gery. Koop ’n bergfiets en is elke oggend teen skuins na vyf in die gimnasium. So ses weke gelede kry ek die nuus: ‘Ma ek het ’n voorstel gedoen vir ’n toespreek by ’n mediese kongres en hulle het my genooi om dit te gaan lewer.’
‘Dis wonderlik! Wanneer is dit?’ verneem ek.
‘Oor vier weke. In Nairobi.’
‘Jislaaik, dis nog meer wonderlik!’
‘Maar dis nie al nie.’
‘Wat nog?’ Met haar is ek enige iets te wagte.
‘Ek het besluit, aangesien dit so naby is, gaan ek sommer ook Kilimanjaro klim.’
Vir ’n wyle is my asem weggeslaan, voor ek antwoord: ‘Kinta jy hou my op my knieë, maar dis reg so. Hoekom sal jy dit nou oorslaan? Carpe diem! ’
Sommer dadelik dink ek aan Habakuk 3:19 en vra: ‘Here, gee my kind asseblief die voete van ’n ribbok om veilig te loop op hoë plekke.’
Die toespraak was ’n klinkende sukses. Die volgende oggend spring sy op ’n bus Tanzanië toe. Tussen talle Afrikane, met hulle loopneus kindertjies en hoenders en wat nog. Tien ure lank op die pad en sy die enigste wit spikkeltjie in daai bus.
Die aand voor die groot klim, praat ons nog een laaste keer. Ek bemoedig terwyl ek ’n duidelike trilling in haar stem hoor. Ek herinner haar aan haar Bewaker. Ons groet en weet vir ses dae sal ons nie kontak kan maak nie. Nou is dit net glo en vertrou. Ons kan darem op Facebook volg tot waar hulle elke aand gevorder het en sal slaap. Dis hoog en dis vêr. Vrek hoog en vrek vêr!
Op die sesde dag laat weet skoonseun dat sy die hoogste piek bereik het van die hoogste vrystaande berg in die wêreld! My hart pomp tjoklits en weer is ek op my knieë. Om dankie te sê!
Op dag sewe kry ek ’n boodskap: ‘Moekie, ek is op Oliver Tambo, maar Afrika het my bagasie ingesluk!’
In my diepste hart dink ek: ‘Bagasie kan vervang word, maar dankie tog my ystervrou-kind is ongeskonde en veilig!’
7 Kommentare
-
Viooltjie
Dis nou n meisiekind duisend. Jy kan voorwaar trots wees op haar, Kiekies. En jy vertel so lekker. Ek wil nie ophou lees nie ☺
-
Anze
Ek staan ook n saluut vir hierdie yster-meisiekind van jou! Heerlik gelees... en jy mag maar bars van trots hoor
-
Arnold
Julle as ouers kan baie trots op so 'n kind wees wat lyk na 'n ware kanniedood boom.
-
Ronel Janse van Vuuren
Lekker gelees. Cher sê mos as jy iets regtig wil hê sal jy uitwerk hoe om dit te kry :-)
-
Ano
Oe, dit was nou heerlik om jou dogter te ontmoet,al is dit op papier! Mag sy ongekende hoogtes bereik.
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
neels
soos altyd lekker gelees aan een van Lynette se stories