Besoek aan ‘n anderste plek
Dit is soms goed om ʼn toeris in jou eie omgewing te wees, en so besoek ek en Hubby een dag die Nan Hua Tempel in Brondhorstspruit. Dit is ʼn ander tipe stilte wat ons hier omvou. Om die waarheid te sê, dit is eintlik ʼn heel ander tipe wêreld as dié waaraan ons Westerlinge gewoond is – ʼn skrale 70 km vanaf ons tuisdorp. Nie net is die Chinese boustyl met sy kleurvolle krulle en fieterjasies vreemd nie, maar die talle beelde wat die Boeddhistiese geloof uitbeeld is buitengewoon-anders maar nietemin interessant. Daar is hoendertjies met die bene en voete van ʼn leeu, apies met spiese, mannetjies wat op drake ry en klokkies op elke hoek van elke gebou wat klingel in die wind. Selfs die geboue se veelvlakkige dakke lyk soos drake!
Net so vreemd soos die beelde is, is die betekenis daarvan net so ingewikkeld. Niks is bekend of “normaal” nie en alles word in simboliek uitgebeeld. Die olifant waarop die Samantabhadra sit, simboliseer die spirituele praktyk deur krag, stamina en toewyding. Sy ses tande verteenwoordig die ses deugde van ʼn toegewyde Boeddhis, nl.: moraliteit, geduld, vrygewigheid, moeite, konsentrasie en wysheid. Die Bodhisattva hou ʼn papierrol in sy een hand terwyl die ander boontoe wys as ʼn teken van goedhartigheid. Sy regtervoet rus op ʼn blom wat deur die olifant se slurp vasgehou word. Tien goue lampe, vyf aan elke kant verteenwoordig die tien gebruike van die geloof.
Nan Hua beteken “Blom van die Suide”. Net soos wat ek sou verwag dat enige persoon my geloof en vorm van aanbidding moet respekteer toon ons dieselfde respek teenoor hulle want, hier is ons op hul gebied. Skoene word buite die deur uitgetrek en jy mag nie foto’s van die derduisende (maar pragtige) beeldhouwerk neem nie. Daar is nie stoele daarbinne nie, maar bankies waarop die mense kniel. Die aanbidder kniel kniel en staan 3x op en my kniee sou dit in der ewigheid nooit toegelaat het nie, daarom is ek maar te dankbaar dat ons nie aan sulke rituele deelneem nie.
Die eerste tempel of “shrine” word die Great Hero Hall genoem. Selfs die trappe wat na die voordeur lei het ʼn spirituele betekenis in die sin dat die mens meer sal verstaan soos jy hoër klim (enlightenment). In hierdie gebou is daar drie reusagtige beelde van Boeddhas, wat elkeen iets anders verteenwoordig soos ʼn lang lewe, lig op jou pad, onvoorwaardelike liefde, wysheid en gesondheid. Die mense wat hier kom aanbid bring offerande in die vorm van vrugte of blomme om die guns van hierdie gode te wen en sodoende goeie gesondheid te ontvang en ongeluk in jou lewe af te weer. (Hoe bly is ek dat ons gehalte van gesondheid en voorspoed nie verdien kan word deur die grootte van ons bydraes nie!)
Dienste word op Sondae aangebied en die publiek mag dit ook bywoon. Net soos in die Christelike geloof is boetedoening baie belangrik. Hier bely jy skuld vir alles wat jy verkeerd gedoen het, bewustelike of nie, en jy belowe ook om alle praktyke te stop wat pyn aan ʼn ander persoon sou veroorsaak. In beginsel is dit dus iets waarna al die gelowe streef, om jou naaste soos jouself lief te hê en goed te behandel.
Wat my veral opval, is die heerlike, absolute stilte en rustigheid. Niemand is gejaagd nie, niemand sing, praat of lag selfs hardop nie en al wat hoorbaar is, is die gekwetter van vele voëls. Dit is ʼn rustigheid wat nie in die stad aangetref word nie en die afwesigheid van verkeer en vliegtuie is opmerklik. Waarom is mense so bang vir stilte? Hoe meer die Westerling lawaai en die wind en klatergoud jaag, hoe minder tyd is daar vir introspeksie, iets wat egter broodnodig is vir ʼn gesonde gees, maar ten alle koste vermy word.
Buiten die drie tempels op die terrein, is daar ook ʼn gastehuis, restaurant en eetsaal (geen vleisgeregte nie), ʼn teekamer met eksotiese tee en koffie, ʼn skool, museum met baie interessante uitbeeldings van die Chinese geskiedenis, ʼn geskenkwinkel sowel as ʼn nedersetting wat uit 66 twee-slaapkamer huise bestaan. Die gebrek aan vleisgeregte en die vreemde disse laat my honger maag nog ‘n bietjie dieper intrek (en uithou). Immers is hoender ‘n tipe groente, dus hou Ano nie daarvan om van seewier en groen tee te leef nie.
Die besoek aan hierdie indrukwekkende oranje-en-rooi tempels met die oorvloed van beelde het nie my geloof verander nie, maar wel my wêreld en kennis van ʼn ander geloof verbreed. Miskien beskou ons Boeddhisme nie as die een wat sy volgelinge ʼn ewige lewe sal gee nie, maar wanneer ons verdraagsaam teenoor mekaar se verskille optree, is daar tog ʼn plekkie vir elke mens in die sonlig.
Dus, vir ‘n paar uur het ek saggies gedans asof niemand kyk nie, want niemand het gekyk en geoordeel omdat ek nie aan hul geloof deelneem nie. Hoe wens my hart nie dat ons meer male so teenoor mekaar kan optree nie.
1 Kommentaar
Maak 'n opvolg-bydrae
Jy moet aangemeld wees om 'n kommentaar te plaas.
Anze
Pragtig, baie dankie vir jou bydrae tot die Januarie 2020 projek