Jongste aktiwiteit:

Bessie: 5

Die man kyk na Bessie. Niemand sê iets nie, daar hang ’n doodse stilte in die kerk. “Goed, ek sien julle het mekaar al ontmoet!” hoor Bessie mevrou van Eyk se stem agter haar. Die maatskaplike werker kom die gebou binnegeloop. Nie die man of Bessie antwoord op mevrou Van Eyk se opmerking nie. “Wanneer julle gereed is, kan ons gesels? Ek gee julle nog ’n paar oomblikke. Ek wag buite by my motor.” sê mevrou van Eyk en loop weer by die deur uit. Die man kyk weer na Bessie en loop dan in stilte by die kerk uit agter mevrou van Eyk aan. Bessie bly alleen agter by die houtkis.
Bessie wonder hoe iemand lyk wat dood is. Sy wonder hoekom die man niks gesê het nie. Sy wonder waaroor mevrou Van Eyk met hulle wil praat. In die stilte van die kerkgebou raas al die vrae kliphard in Bessie se binnekant. Dan sien sy juffrou Malherbe by die deur inkom. “Jammer, Bessie. Ek het ’n dringende oproep gehad wat ek moes neem.” sê die juffrou en kom nader geloop. Sy kyk na die houtkis agter Bessie en dan in die rigting van die oop deur. “Is jy okay?” vra sy vir Bessie.
Bessie antwoord nie haar vraag nie. “Is dit my pa?” vra sy eerder. Juffrou Malherbe knik. “Ek dink so, ja, maar hoekom vra jy? Het julle dan nie nou gepraat nie? Ek het hom hier sien uitkom.” Bessie skud haar kop. “Nee. Hy het niks gesê nie, net daar by die kis gestaan Toe kom mevrou Van Eyk hier in en hy is saam met haar buitentoe.” sê Bessie. “Ek sien.” sê juffrou Malherbe. “Juffrou, hoe lyk iemand wat dood is?” vra Bessie en sy kan sien hoe die juffrou effens ongemaklik begin raak. “Sjoe, Bessie. Ek weet nie mooi hoe om dit te antwoord nie. Wil jy nie self kyk nie?” vra juffrou Malherbe en beduie na die houtkis toe.
Bessie beweeg stadig nader aan die kis. Dit is ’n wit kis met silver handvatsels. Juffrou Malherbe stap saam met Bessie en vat haar hand toe hulle teen die kis tot stilstand kom. Bessie kyk op na haar en die juffrou knik. Juffrou Malherbe maak ’n die kis se deksel versigtig oop. Bessie leuen vooroor en kyk binne-in. Daar lê haar ma. Sy lyk nie soos ’n dooie mens nie, dink Bessie. Dit lyk of sy eerder baie diep slaap. Bessie steek haar hand uit en streel oor haar ma se wang. Die vel is yskoud onder haar hand. Sy trek haar hand vinnig terug. “Wil jy nog ’n rukkie hier by haar wees?” vra juffrou Malherbe. Bessie skud haar kop. “Nee wat, juffrou. Ons kan maar gaan.” antwoord Bessie. Juffrou Malherbe maak die kis se deksel weer toe, vat Bessie se hand en stap saam met haar na die deur toe.
Toe hulle buite kom, sien Bessie hom dadelik raak waar hy by mevrou Van Eyk staan en gesels. Hy praat vinnig en beduie met sy hande. Hy lyk kwaad, sien Bessie. Mevrou van Eyk sien vir juffrou Malherbe en Bessie nader kom en probeer die man stilmaak, maar hy hou aan. “Ek kan nie verstaan hoekom ons dit nie net op die ou manier kan bly doen nie.” hoor Bessie hom sê toe hulle nader beweeg.
“Ek sal selfs meer geld stuur vir haar onderrig en onderhoud, maar ek wil haar nie by my hê nie.” Hy skrik toe hy hulle sien en bly stil. Die stilte is ongemaklik en Bessie besef sy was nie veronderstel om hierdie woorde te hoor nie. Dit raak nou ’n gewoonte om deel te wees van gesprekke wat nie vir haar ore bedoel is nie, dink sy. Dit is juffrou Malherbe wat eerste reageer. “Bessie, hier is die sleutel. Gaan wag solank in my motor.” sê sy en gee die sleutel vir Bessie. Bessie neem dit by haar, maar bly staan. Sy wil nie in die kar gaan wag nie. Sy wil ook nie hier wees by ’n pa wat haar nie wil hê nie. Die hardloop kriewel weer in haar bene. Sy draai om en begin hardloop. “Bessie! Waarheen gaan jy?” roep juffrou Malherbe agter haar aan, maar Bessie hoor nie. Sy hardloop weg van hulle af. Weg van mevrou Eyk, weg van die man wat nie haar pa wil wees nie, weg van die kerk af. Sy hardloop en hardloop tot haar asem op is en haar bene begin pyn en toe gaan sit sy op die sypaadjie. Sy trek haarself in ’n bondeltjie op, haar gesig teen haar knieë en haar arms oor haar kopgevou en toe begin sy huil. Sy voel die metaal van die sleutel in haar hand en huil nog harder. Sy het weggehardloop met juffrou Malherbe se sleutel.
Bessie weet nie vir hoe lank sy so op die sypaadjie gesit het nie. Die son hang al hoog in die blou lug toe ’n wit Volkswagen Jetta langs haar stilhou. Dis een van die nuwe modelle, merk Bessie op. Die bestuurderskant se venster draai af. Bessie skrik. Dis die blonde man met die bruin oë. Hy kyk na haar. ’n Deur gaan oop en aan die ander kant van die voertuig klim juffrou Malherbe by die passasierskant uit. Sy hardloop na Bessie toe. “Bessie! Liewe kind, jy kan ons nie so laat skrik nie!” sê sy hard. Sy trek Bessie aan die arms op en druk haar styf teen haar vas. “Die kind kort ’n pakslae, nie drukkies nie.” brom die man in die motor. “Paul!” roep juffrou Malherbe uit. “Dis nou genoeg. Al waaroor jy nog die heeltyd te kere gaan, is hoe graag jy eerder nié hier wil wees nie. Pleks dat jy jou bekommer oor die kind se veiligheid.”
Die man se oë is groot. Bessie skrik ook, sy het juffrou Malherbe nog nooit so kwaai gesien nie. “Nou toe, daar is die pad. Waarvoor wag jy?” sê juffrou Malherbe. Sy het vir Bessie laat gaan en staan nou met haar hande in haar sye. Dit lyk of sy enige oomblik gaan ontplof. “Moenie belaglik wees nie.” sê die man. “Kom ek vat julle ten minste net tot by jou motor. Julle kan tog nie die hele ent terug stap nie.” Juffrou vat Bessie se hand. “Ons sal regkom, dankie. Ek stap eerder Timbaktu toe en terug voor ek ooit weer saam met jou in een motor hoef te ry.” sê juffrou Malherbe en Bessie sien die man raak nou ook kwaad. “Asseblief, mevrou Malherbe. Ek gaan u nie smeek nie. Laat ek julle tot by die kerk vat. Die kind kan tog nie so vêr loop nie.” Juffrou Malherbe klap haar tong. “Die kind, jou kind, het ’n naam. En jy kan maar ry. Ek en Bessie sal regkom, dankie.” sê sy en trek Bessie aan die arm om haar te volg. Hulle stap verby die wit motor in die rigting van die kerk. Bessie hoor hoe die Jetta met skreeuende bande wegtrek. Sy kyk oor haar skouer en sien haar pa wegry.
Juffrou Malherbe gaan staan stil en los Bessie se hand. Sy is bloedrooi in haar gesig. “Ek is jammer, Bessie. Ek moes seker nie so hard met hom gepraat het nie. Ek weet nie wat my ingevaar het nie.” maak die juffrou verskoning.
“Dis okay, Juffrou.” sê Bessie. “Nee dit is nie okay nie, Bessie. Jy het nie nodig gehad dit ook nog te sien nie en nou het ek bonop die kans bederf dat julle behoorlik met mekaar kan kennis maak. Hy sal nou seker nie gou weer hier kom nie.”
Dit klink of juffrou Malherbe wil huil. En dan sien Bessie die trane, dit gly sommerso uit die juffrou se oë en stroom oor haar wange. Net so skielik as wat dit begin het, hou dit op. Juffrou Malherbe vee die trane vinnig af en haal diep asem. “Kom Bessie, laat ons by die huis kom. Ek moet terug wees by die skool voor twaalfuur vir ’n personeelvergadering.” sê juffrou Malherbe. “Ek is jammer, Juffrou.” sê Bessie en hou die sleutel wat sy nog heeltyd in haar hand gehad het uit na die juffrou toe. “Jy het niks om oor jammer te wees nie, my kind.” sê sy en neem die sleutel by Bessie en met ’n glimlag voeg sy by: “Maar aangesien jy een is wat hou van hardloop, waarsku my net volgende keer voor jy weer so ’n idee kry sodat ek my tekkies kan reghê. Hakskoene is nie juis gemaklike stapskoene nie.” Bessie kan nie help om te lag vir juffrou Malherbe se grappie nie en dan besef sy meteens; dit is die eerste keer in ’n lang tyd dat sy gelag het.
Hulle stap langs mekaar in die pad terug kerk toe na waar juffrou Malherbe se motor is. Juffrou Malherbe vertel vir Bessie waaroor die grootmense gepraat het terwyl sy weg was. Dit is mevrou Van Eyk se werk om toe te sien dat Bessie nou na haar ma se dood in ’n huis geplaas word waar sy die nodige sorg en ondderig kan kry. Mevrou Van Eyk het voorgestel dat Bessie by haar pa gaan bly, maar hy wil dit nie so hê nie. Bessie vra vir juffrou Malherbe hoekom sy dan nie eerder by hulle kan aanbly nie. Juffrou Malherbe verduidelik vir Bessie dat die Paul-man haar wettige voog is en hy moet die besluite neem. Hy wil nie hê dat Bessie verder by juffrou Malherbe en haar man woon nie. Hy het voorgestel dat Bessie in die skool se koshuis geplaas word. Hy sal vir die verblyf betaal. Hy sal ook die skoolfonds betaal en sorg dat Bessie sakgeld kry, solank sy net nie na hom toe kom nie.
“Waarheen gaan my pa nou, Juffrou?” vra Bessie toe hulle by die motor kom. “Ek weet nie, Bessie. Seker maar terug na waar hy vandaan kom.” antwoord juffrou Malherbe. Hy het seker ’n vrou en kinders, dink Bessie, ’n familie van sy eie. Dit is seker die rede hoekom hy nie wil hê Bessie moet by hom kom woon nie, daar is nie vir haar plek in sy wêreld nie. Hulle ry in stilte verder huis toe. Die gebeure van die oggend en al die goed wat juffrou Malherbe haar vertel het, maal deur Bessie se kop. Toe hulle voor juffrou Malherbe se huis stop, sê juffrou Malherbe: “Bessie, jy kan gerus die res van die dag by die huis bly. Ek moet ongelukkig terugkom by die kantoor. Vra vir Sylvie om vir jou iets te maak om te eet en sit vir jou die televisie aan. Ek sien jou later.” Bessie klim uit, groet vir juffrou Malherbe en stap na die voordeur toe.
Op die stoep gaan sy staan. Iets op die stoepswaai trek haar aandag. Daar sit ’n duif op die armleuning. Hy kyk stip na Bessie terwyl hy sy koppie skeef hou. Bessie wonder of dit dieselfde duif is wat teen die sitkamer venster vasgevlieg het. Toe sy die swaar houtdeur se knip draai, vlieg die duif weg. Bessie loop by die huis in en maak weer die deur agter haar toe. Iets ruik baie lekker.
Iemand is besig om kos te maak. Dit moet Sylvie wees, dink Bessie en kies koers in die kombuis se rigting. Sylvie staan agter die stoof en roer aan iets in ’n pot. “Ah, djy’s hier!” sê Sylvie toe sy vir Bessie sien. “Hoe het jy geweet ek kom?” vra Bessie. “Ek het dan vir djou gesê jy moet weer kom koeldrank drink.” antwoord Sylvie en glimlag sodat Bessie die fyn plooitjies om om haar oë kan sien. Sy het vandag ’n ligpers kopdoek aan.“Ek het nie kom koeldrank drink nie.” sê Bessie. “O, nou wat maak djy dan hier?” vra Sylvie en frons. “Juffrou Malherbe het gesê ek kan by die huis bly. Dit was vanoggend my ma se begrafnis.” antwoord Bessie. Die bruin vrou met pers kopdoek hou op met roer en laat val die lepel in die pot. “Wat praat djy mens?” fluister sy en kom na Bessie toe aangeloop met uitgestrekte arms. “Kom hier.” sê sy en gryp Bessie en druk haar teen haar vas. Bessie weet nie of sy haar moet terug druk nie. Sy het nie verwag dat Sylvie met haar moet simpatiseer nie. Dan stoot Sylvie haar weg en sê: “Kom sit, vandag gaan koeldrank nie help nie. Kom ek maak vir djou ’n koppie warme tee.” Sy draai om en sit die ketel aan.
“Was daar baie mense by die begrafnis?” vra Sylvie. Dit is ’n snaakse vraag, dink Bessie en antwoord; “Nee, net ek en juffrou Malherbe en die dominee en nog drie ander mense.” Sylvie rek haar oë groot. “Wow, dit is sad, maar toemaar moetie worry nie, solank die Jirre daar was, was die kerk vol.” sê sy dramaties. “Wie is die Here, Sylvie?” vra Bessie. Die bruin vrou gooi die kookwater heeltemal verby die kopie. “Wat bedoel djy wie’s die Jirre?” vra sy en staan en staar na Bessie met die ketel in haar hand. “Wie is dit?” vra Bessie weer, doodkalm. Sylvie sit die ketel neer en kom staan voor Bessie. “Djy het dan ’n Bybel. Lees djy dit nie?” vra sy en voor Bessie kan antwoord, voeg sy by: “Ek het dit op djou bedkassie gesien lê.” “Juffrou Malherbe het dit vir my gegee, maar ek lees nie rêrig daaruit nie.” antwoord Bessie. “Ek het haar gevra hoe ek die boek moet lees, toe sê sy ek moet by die begin begin. Ek het al die eerste blad gelees, maar ek dink nie ek verstaan rêgtig waaroor dit gaan nie.” sê Bessie en pers haar lippe teen mekaar.
Sylvie maak die tee klaar en sit ’n stomende warm koppie voor Bessie. “Die beste plek om te begin, is by die begin.” sê Sylvie en roer weer in die pot op die stoof. “Die Jirre, hy is die begin.” sê Sylvie. “Van wat?” vra Bessie. “Van alles. Van djou, van my en alles om ons. Hy het die aarde en alle mense en alle diere gemaak.” Bessie luister aandagtig. “Maar wag, djy het seker nog niks gehad om te eet vandag nie. Ek fix gou vir jou ’n toebroodjie, want hierdie storie kan nogal lank raak vir ’n nugter maag.” En toe maak Sylvie vir Bessie ’n kaas en tamatie broodjie en vertel haar meer oor die Bybel en die Here. Sy vertel vir Bessie hoe die aarde ontstaan het, van Adam en Eva wat uit die tuin van Eden gegooi is en Noag se ark. Sy hoor van Jesus se geboorte, sy grootwordjare, die kruisiging en die Hemel. Die belangrikste ding wat Sylvie haar vertel is dat daar ’n lewe na die dood is en dat dié wat in God glo en Hom aanbid, die ewige lewe sal kry. Bessie drink haar tee en luister na alles wat Sylvie haar vertel.Dit is die eerste keer dat Bessie van al dié dinge hoor en Sylvie vertel dit so goed, dat alles wat sy sê vir Bessie sin maak.
Later die middag, toe Sylvie al huis toe is en juffrou Malherbe by die houtdeur instap, sit Bessie op haar bed met die Bybel. Sy het al heelwat verder gevorder as net die eerste bladsy. Die dinge wat sy lees is nie meer so vreemd nie. Bessie hoor juffrou Malherbe by die voordeur inkom en maak die Bybel toe. Sy staan op en loop kombuis toe waar sy die juffrou kry, besig om haar handsak en aktetas op die kombuistafel te sit. “O, hallo.” groet juffrou Malherbe vir Bessie toe sy haar sien inkom. “Hallo Juffrou.” groet Bessie terug. “En hoe was die res van jou dag? Bessie vertel vir juffrou Malherbe hoe Sylvie met haar gesels het oor die Here, Jesus en die Bybel. Juffrou Malherbe glimlag breed. “Ai, die ou Sylvie. Sy praat soms hopeloos te veel, maar sy is ’n dierbare ou siel. Ek is bly jy kon bietjie by haar leer. Dit lyk of jy dit geniet het.” sê die juffrou en streel oor Bessie se hare. Bessie knik. “Ja, jissie Juffrou. Sylvie is baie slim en sy praat net so lekker met ’n mens, dat jy nie anders kan as om te luister nie.” sê Bessie. “Ek is bly jy hou van haar. Sylvie is al so deel van ons huishouding soos familie.” sê juffrou Malherbe.
Die woord ‘familie’ eggo in Bessie se ore. Sy dink weer aan die begrafnis, die blonde man met dieselfde bruin oë as sy en die skoolkoshuis. “Juffrou, moet ek regtig in die koshuis gaan bly?” vra sy vir juffrou Malherbe. Die juffrou sug, skink vir hulle elkeen ’n lang glas lemoensap en beduie vir Bessie om haar sitkamer toe te volg. In die sitkamer skop juffrou Malherbe haar skoene uit en gaan sit op ’n gemaklike stoel. Bessie gaan sit oorkant haar en wag vir die antwoord. “Bessie, ek wens ek kon vir jou die antwoord gee wat jy wil hoor.” sê juffrou Malherbe en Bessie weet sommer dadelik; die koshuisblyery is ’n uitgemaakte saak. “Wanneer moet ek gaan?” vra Bessie afgehaal. Juffrou Malherbe kry nie kans om haar vraag te beantwoord nie, want die telefoon lui en sy spring dadelik regop om dit te gaan antwoord. Bessie bly alleen sit met die vraag wat in die lug hang.
Na ’n rukkie kom juffrou Malherbe terug en neem weer haar plek op die gemakstoel in. “Ek dink ons het so pas ’n antwoord op jou laaste vraag gekry, Bessie.” sê sy en kyk na Bessie. “Dit was jou pa se sekretaresse wat nou gebel het. Sy sê jou pa het vanoggend die nodige betalings gedoen en jou plek in die koshuis is gereed.” Die juffrou se woorde val soos ’n swaar klip in Bessie se maag. “Beteken dit ek moet nou dadelik gaan?” vra Bessie en sy voel haar onderlip bewe. “Nee, jy hoef nie dadelik te gaan nie, Bessie. Soos ek verstaan, moet jy eers Sondagaand inteken by die koshuis. Ek sal net bel en seker maak by die koshuisvader.” Twee dae, dink Bessie. Sy moet oor twee dae koshuis toe gaan omdat haar eie pa nie wil hê sy moet by hom bly nie. Juffrou Malherbe sien die ongelukkigheid op Bessie se gesig. Sy staan op en gaan sit langs Bessie, plaas haar arm om Bessie se skouer en streel oor haar hare. “Ek is jammer , Bessie. Ek is so verskriklik jammer.”
Die aand maak Bessie nie ’n oog toe nie. Sy rol rond in haar bed tot haar lyf seer is. Sy sien glad nie uit om in die koshuis te bly nie. Juffrou Malherbe het die koshuisvader gebel en gereël dat hulle oor die naweek kan gaan kyk hoe Bessie se kamer lyk. Bessie weet nie veel van koshuise af nie, net dat sy haar kamer met iemand moet deel. Daarna sien sy nog minder uit.
Bessie sit die bedliggie aan en steek haar hand uit na die Bybel op die bedkassie. Sy maak dit oop en begin lees. Die lees maak haar vaak en sy raak later aan die slaap.




Ek is maar net 'n kaalvoetkind van Namakwaland, verslaaf aan die reuk van ink op papier en honger vir woorde wat siele versadig, of dit nou uit my pen kom of joune.

Maak 'n opvolg-bydrae

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed