Die kwaai Antie en die bul
Buurman, jy reken jou skoonma is ‘n moeilike vrou. Jy moet dat ek jou vertel van ‘n moeilike vrou, dan sal jy reken daardie skoonma van jou is ‘n ou lammetjie.
Kyk, die ant Betta Petoors was vir jou ‘n moeilike mens. Sy was nie kwaai nie, maar sommer skoon befoeterd en boonop so sterk soos ‘n os. Sy was ‘n weduwee en het op my oupa se buurplaas, Bliksemshoogte geboer. Blykbaar kon die donderweer nogal erg slaan daar op haar plaas, maar dis beslis nie al rede waarom die plek se naam Bliksemshoogte was nie.
Hoewel ant Betta ‘n weduwee was, het geen wewenaar dit op haar grond gewaag nie. Selfs die duiwel was te bang om haar te versoek. Die mense sê haar man is dood aan sy hart uit pure vrees vir haar. Eendag het ‘n oningeligte smous daar by haar opgedaag en nog voordat hy kon klaar praat, het sy hom aan sy kraag en sy broek se naat gegryp en hom so teruggedra tot by sy kar. Sy was glo so sterk dat sy sommer self die ploeg getrek het.
My oupa was nou nie ‘n bang man nie, maar hy het uit goeie buurmanskap dit nooit te na aan die grensdraad tussen hulle plase gewaag nie. Maar so het Oupa ‘n vreeslike beneukte bul, ou Simson, gehad. As Simson se hormone pla, het geen kraalmuur of heining hom gekeer nie. Ongelukkig het ou Simson eendag ant Betta se koei aan die anderkant van die grensdraad gewaar en besluit dis sulke tyd. Ou Simson het net gedink dis hemel op aarde toe bars die hel los. Ant Betta het gesien wat aangaan, en op die wittebroodspaar afgestorm. Sy het ou Simson aan sy horings beetgekry en net daar sy nek vir hom gebreek.
Reken Buurman, toe tel sy nog daardie bul op en gooi hom terug oor die draad. Ek sê jou, dis nou wat ‘n mens noem ‘n befoeterde vrou.