Jongste aktiwiteit:

Dis gebeurlik
vir

Dis gebeurlik

Iemand uit Odendaalsrus se wêreld vertel my van ’n mooi ding uit die jare her. Dit moes sowat ’n driekwart eeu gelede in die omgewing gebeur het en toe het dit die storie van die dag daarlaans geword. Die paaie was glo iets onhebbeliks gewees – vreeslik diep uitgespoel. En in die slote laans het die waens geloop. Jy kon feitlik nêrens uit ’n pad gekom het as jy eers eenmaal in hom was nie. Jy kon as ‘t ware nooit die spoor daar byster geraak het nie. Dis net by die gemaakte uitdraaiplekke waar jy uit die pad kon kom. Die gróót probleem was gevolglik om by mekaar verby te kom as daar iemand van voor af aankom en daar nie toevallig so ‘n uitdraaiplek was nie.

Maar so gebeure dit dan nou glo lat twee smouse kort na Nuwejaar van die teenoorgestelde rigtings af tegelyk aankom by die uitdraaipad na ’n ryk boer se plaas toe. En daar durf nie een van die twee kopgee nie. Want dit was dié boer se gewoonte om al sy benodighede vir die hele jaar by die smous te koop wat in die nuwe jaar die eerste by hom opdaag. En die twee smouse is later vuurwarm vir mekaar. Maar hulle het hulleself só skaakmat gesit in darie pad, lat nie een kon beweeg nie. “Kyk, hier’s nou net een plan,” sê die een later. “Ons moet uitspan en koffie maak en kyk of ons nie by ‘n vergelyk kan uitkom nie.”

En terwyl die ketel kook, toe vertel die een – sy naam was Kerbolsowitz – lat hy al vir dié oubaas vreeslike liegstories vertel het oor allerhande soorte goed. Maar die oom sê net altyd: “Dis gebeurlik; dit kan so wees.” En die ander een – dié se naam was Blumenow – sê maar dan het hy nou die oplossing. Hulle moet die waens net daar los en na die ou oom toe loop en by die huis met hom gaan gesels. En dan moet hulle elkeen vir hom ’n liegstorie vertel. En die een vir wie die oukêrel sê hy lieg, dié mag dan sy wa kom haal en met die oom gaan handel drywe.

En hulle kom daar by die huis aan en dadelik wil die ou oom weet waarom hulle altwee suintoe kom en dit nog sonder die waens en of nie net een van hulle kon gekom het nie. Maar hulle sê vir hom: “Nee, ons kan later besigheid gesels.” En vir ‘n rukkie praat hulle oralsteroor met hom. En toe val die eerste een, Kerbolsowitz, met sy storie weg. Hy sê: “Oom, ek het darem ’n gemors gehad nálat ek laas hier weg is.” Die ou sê: “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees.” Kerbolsowitz sê: “Oom, ek is hier uit die Vrystaat uit en ek is die Hoëveld in. En daar kom trek die weer oor my toe.” “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees. Die Hoëveld kry vreeslike buie,” sê die oom. Hy sê: “Oom, maar hy trek toe lat dit pik-nag word, heller oordag.” “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees.” Hy sê: “Oom, en ek kyk ‘n bult daar uit en bo-op die bult gaan hou ek stil en ek span die osse daar uit en ek slaan my tent op en ek dra kos van die wa aftot ek alles wat ek nodig het vir so ‘n lang reent in die tent het. “En gelukkig het ek ’n paar streepsakke vuurmaakhout, en dié het ek ook in die tent in.” Die oom sê: “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees lat “n man ver vooruit kan kyk.” Kerbolsowitz sê: “Oom, en daar sit ek in die tent, en darie weer trek daar los en hy reent. En hy reent en hy reent, en later weet ek nie meer of dit dag en of dit nag is nie, want ek het nie ‘n horlosie nie en die sal ook nie help nie, want ek het ok nie ‘n almanak gehad nie. Maar dit reent aanmekaar.” “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees. Dit kan in die Hoëveld tot twee weke aanmekaar reën.” “Ja Oom, maar later is my kos op. Ek het níks meer binne nie. En ek het daar uitgesukkel deur die reën en op die wa gesnuffel en al wat ek innie hande kan kry sonner lat my smousgoed nat word, is ’n kas rosyntjies. “En ek eet net rosyntjies, en my keel is later asynsuur.” “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees.” “Oom, maar later hoor ek goeters teen die tent fletter. En ek kyk daar uit, toe’s dit visse.” “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees. Ek het al gesien hoe fletter visse in die water op na hoër plekke toe. Jy het seker naby ‘n slootjie stilgehou.” “Ja Oom, maar dis toe duisende visse. Ek maak net binne vuur en ek hou my braaipan by die tent se deur uit en soos die visse daar spring en aangaan, het ek kort-kort een in die pan. En dan maak ek hom gaar.” “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees lat dié geluk ’n man tref as daar so baie vis is.” “Maar toe die reent ophou, Oom, toe lê die wa tot by sy relings in die modder weggesak.” “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees. jy’t natuurlik op ‘n kol kleigrond stilgehou.” Kerbolsowitz sê: “Maar Oom, gló Oom dit rêrig?” Die oom sê: “Ja, dis gebeurlik; dit kan so wees. Ek het ook al so in die reent beland.”

En die tweede een, Blumenow, val met sý storie weg. Hy sê: “Oom, ek het darem sélf ellende met die reën gehad ná ek laas hier van Oom af weg is. “Ek is hiervanaf op tot in die Wes-Transvaal en toe ek daar deur hom gaan op pad Kalhari toe, toe sak die weer daar op my toe. “En ek dink nou moet ek gou maak lat ek in die Kalhari kom; daar kan ‘n man darem nog beweeg en smous al reën dit ok. “En ek ry sommer ’n nagskof. En darie nag beland ek in ‘n moddergefoeter waar ek nie kon uit nie. Die annerdag-môre toe dit lig word, toe sien ek ek het met wa en al in ‘n pan vasgeval.” “Dis gebeurlik; dit kan so wees.” “En ek is daar uit na die naaste boer toe en daar leen ek sommer so in die reën ‘n span osse en trekgoed en ek sit dié voor aan my osse se trektou. Maar wat, met die vatslag breek die toue. “En ek las en die tou breek, en ek las en die tou breek, en ek las en die tou breek. “En toe’s ek weer in ’n anner koers in en ek loop leen nog ’n tou en nog osse. “En ek sit sommer ‘n paar toue laans mekaar aan. Maar wat, toe ek praat, breek die toue. Die osse het nog skaars krag gemaak.” “Dis gebeurlik; dit kan so wees.” “En ek las, en ek praat, en die toue breek. “En ek is daar uit in nog ‘n koers in en ek sê vir die ou kêrel by wie ek toe kom: ‘Oom, nou moet jy vir my help. jy moet vir my ‘n tou gee wat sterk genoeg is om darie wa uit te sleep. Ek het nou baie osse voor hom.” “Die ou sê vir my: ‘Jong, ‘n trektou wat só sterk is, het ek nie. Dié wat ek het, is maar pieperig. Maar ek het hier ‘n bonnel gemsbokriem gesien lê by ‘n ou murasie se ashoop hier diékant toe nalat ek die plaas gekoop het. En dié goed moet nou seker al tienjaar daar lê; hulle is so hard soos yster. Maar dalk kan jy jou daarmee behelp. Dis ‘n tamaai hoop rieme wat daar weggesmyt is.”’ “Dis gebeurlik; dit kan so wees. Die man het natuurlik dorp toe getrek en die klomp rieme weggegooi om hy hulle nie meer van nut gehad het nie.” En Blumenow vertel verder, hy sê: “Oom, en ek is na die murasie toe en ek loop haal darie bonnel riem. Hulle is toe darem al effe mak van die baie reën. En ek loop knoop een punt aan die disselboom en ek sit al darie jukke aan darie stukke riem wat ek aanmekaar las tot dóér. “En toe ek praat, vat die osse sommer behoorlik maar die riem breek nie; hy rek net.” “Dis gebeurlik; dit kan so wees. “n Nat riem kán vreeslik rek.” “En ek dink maar die rekkery sal netnou ophou. En ek praat en die riem rek, en ek praat en die riem rek, en ek praat en die riem rek.” Blumenow sê: “Oom, hulle rek darie riem lat daar ná al darie jare druppels bloed so groot as my duim se kop uit darie riem uitdrup en lat daar so ‘n rooi streep onner hom laans op die modder lê.” Die ou oom sê: “Blumenow, wragtag, nou sit en lieg jy hier vir my. “En ek koop ook nooit weer iets by jou nie om jy so lieg.”

Blumenow sê: “Nee Oom, maar ek het reeds my wa en goed aan Kerbolsowitz geverkoop.”

“Dis gebeurlik; dit kan so wees. ’n Leuenaar praat soms die waarheid,” sê die oom. En Kerbolsowitz en Blumenow loop daarvena. Blumenow sê vir Kerbolsowitz: “Nou vat jy my wa en jy gaan verkoop als wat die oukêrel wil hê. En as die prys nie na my smaak is nie, dan laai ek van jou wa af oor op my wa tot ek tevrede is.” “Dis gebeurlik,” sê Kerbolsowitz, “dat dit jou laaste besigheid met my en die oom is.”




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed