Moeilike medisyne
Ek eet eendag by ’n oom en ’n tante en toe ons aan die tafel sit, toe sê die tante sy’s darem bly dis nie dié dag ’n jaar gelede nie. Ek vra: “Nou wat het dan tóé gebeur, Tante?” Sy sê: “Man, toe was dit mos op die dag af ook ‘n Sondag en ek het toe verjaar, dit wil nou sê, op die almanak gereken, môre ‘n jaar trug.” Ek sê: “Maar dis darem snaaks van ‘n oumens om graag vorentoe te verjaar.”
Sy sê: “Nee, nie as jy laasjaar se verjaarsdag beleef het nie.” Ek sê: “Nou wat het dan aangegaan, Tante?” Sy sê: “Man, die kinners het besluit hulle kom almal dié dag vir my verjaarsdag hiernatoe. En ons het toe sommer ’n gróót affêre daarvan gemaak.”
En toe vertel sy vir my die storie wat amper sonder einde was: Eers het ons almal saam die Sondagmôre kerk toe gegaan en toe’t die kinners hier kom eet by die huis. Maar soos die ongeluk dit wou hê, was dit ons nie beskore om die dag als ‘n gesin deur te bring nie. Orrelkosie het ook hier aangekom. Dis nou ‘n neef van my, wat hopelik vir jou onbekend en welbemind sal bly.
Hy’t die naam Orrelkosie in die familie gekry omlat – wanneer hy ’n ding vertel – hy héél voor begint en dan eers dóér annerkant die end van die storie ophou. En alliepad beduie hy tot innie haarfynste alles wat beduibaar is. En dié middag aan tafel het ek en die oom en die kroos sit en eet sonder om ’n woord te praat, want ons is te bang een sê dalk iets wat vir Orrelkosie op ’n gedagte bring.
En dis die fout wat ons gemaak het, want toe kry hy tyd om te dink. Maar ons eet dan nou maar en ons eet. En al swye Orrelkosie toe ook vir ’n ruk eners as ons, bly hy anners as wat ons is. Want nie een van ons of ons kinners eet hoenernek nie, en dis presies Orrelkosie se geliefkoosde ding aan ’n hoener. En ek het, drié hoeners geslag vir die dag.
En toe sê Orrelkosie onverwags: “Ai, dis darem lekkerjulle eet nie een graag nek nie. Kan ek maar al drie inskep?” En ek sê vir hom: “Skep in, Kosie, skep in.” En nou weet jy mos hoe ’n mens ’n hoenernek eet. Dis mos ’n tydsame storie. En toe ons al sit en wag om poeding in te skep, toe’s Kosie eers met die tweede nek besig.
En hy kyk so, en hy sê: “Gaan julle maar aan met die poeding, want ek het mos darem nou lekker kos hier voor my in die bord.” En toe ons amper klaar het met die poeding, toe sê Orrelkosie: “Ek sal nóóit hoenernek eet nie of ek dink daaraan hoe swaar dit is om vir ’n siek hoener ’n pil in te gee.” En ek dag: O wragtag, net hier is my verjaarsdagvreugde daarmee heen.
En Orrelkosie sit regoor my. En hy het die manier lat al is daar nou ’n dertig mense om hom, dan kyk hy vir net een en dan Vertel hy vir dié die hele storie. En daar val Orrelkosie vir mý vas. En Orrelkosie loop haal die ding ver. Eers is dit alle hoenersiektes en toe alle soorte hoeners en besonnere kwale en toe die medisynes Vir al die kwale en toe al die belangrikste pille.
Intussen kom hy toe darem by sy poeding ook aan. Maar my ou man en die kinners staan op, want dis ons gewoonte om ná ons geëet het, altyd ’n bietjie te loop lê. En toe hulle almal van die tafel af weg is, toe kom Orrelkosie eers daar aan waar ’n mens die siek hoener vang. En hy vertel dan nou hoe ’n mens ‘n siek hoener vang. Slag-slag is hy op uit die stoel en dan is die eetkamer ‘n denkbeeldige hoenerhok waarin die vangwerk gedoen word.
Intussen dek die bediende die tafel af. En later raak dit stil in die kombuis; toe het sy al alles gewas en afgedroog ook. En toe het Orrelkosie vir my net mooi klaar vertel dat ‘n mens te min hande het om ’n siek hoener mee vas te hou en ’n pil in te gee. Jy’t vier hande nodig; daarom moet jy altyd nog ’n mens by jou hê. Dié hou die vlerke en die pote vas. En dan moet jy die hoener, as jy regs is, met jou linkerhand aan sy bobek vat en met jou regterhand se ringvinger, ek sal nou maar sê die fielafooi-vinger, sy onnerbek afdruk. En as jy links is, dan moet jy anderster-om vat. Maar jy moenie die hoener stilmaak nie; jy moet lat hy skree, want dan kry jy sy bek die maklikste oop.
En as jy nou sy bek so oophou met jou ringvinger, en jy’t die pil tussen jou duim en die wysvinger, dan moet jy wag tot die hoener skree lat sy tong soos ’n els staan, en dan gooi jy die pil net bo-oor sy tongetjie tot binne-in sy keel. Tot hier kon Orrelkosie nog met die beduiery regkom, maar toe raak die storie te ingewikkeld. Hy sê: “Wag Niggie, lat ek nou eers mooi vir jou wys.” En hy vat sy servet en hy draai hom ’n tuit wat die skreeuende hoener se bek en keelgat moet voorstel.
Maar daar’t Orrelkosie toe nie ’n pil om in te gooi nie. En hy voel deur sy sakke en daar’t hy ook nie kleingeld nie: Hy sê: “Maar wag, dalk is van die anner nog wakker. Ek wil net loop hoor of een van hulle nie ‘n vyfsentstuk het nie.” En hy’s die huis daar in en ek hoor hy praat iewers uit die gang met een oor ’n vyfsentstuk. En later is almal wakker.
My een dogter kom ná ’n ruk in die eetkamer in, waar ek nou nog allie tyd sit en wag solat die storie ten minste my ou man en die kinners gespaar kon bly. Sy sê: “Nou vir wie wil oom Orrelkosie dan nou van die poskantoor af bel?” Ek sê: “Man, hy wil nie bel nie; hy wil vir my wys hoe gee mens ’n siek hoener ’n pil in.” Sy sê: “Met ’n vyfsentstuk?” Ek sê: “ja man, hy wil dié vyfsentstuk vir ’n pil gebruik om dit hier deur die servet te gooi. Dis die siek hoener se keel.”
Sy sê: “Nou maar hoekom vra hy dan nie ’n pil as hy wil wys hoe ’n mens ’n hoener ’n pil ingee nie?” Ek sê: “My jene, lat ek nie eerder dááraan gedink het nie; dan kon julle dalk ’n bietjie langer geslaap het.” Teen dié tyd soek almal vir ’n vyfsentstuk en die’s daar nie ’n enkele een in die huis nie. Want darie môre toe ons kerk toe was, is al dié soort kleingeld in die kerk ingegooi vir kollekte.
En later toe’s ons almal by die tafel trug soos toe ons die middag geëet het. En almal is jammer oor daar nie ’n vyfsentstuk is nie. Toe sê die dogter van my, wat al agter die storie gekom het, vir hom: “Oom Kosie, wag, hier het ek ‘n Aspro in my handsak.” Ek sê: “My kind, gee mý liewers die Aspro. Dié’t ek nou bitterlik nodig.”
Orrelkosie sê: “Nee, wag Niggie, lat ek eers darie pil in die hanne kry, want netnou het julle nie vir my nog een om mee te wys nie.” Toe vra een van die anner kinners: “Nou wat wil oom Kosie dan nou wys? Ons dog Oom wil iemand loop bel.” Hy sê: “Nee, ek wil niemand bel nie; ek wil vir julle ma wys hoe gee ‘n mens vir `n siek hoener ’n pil in.”
Een sê: “Maar het oom Kosie dan nóú nog nie klaar vertel nie?” Hy sê: “Nee, julle het so kort geslaap lat ek en julle ma toe maar ’n bietjie sit en gesels het.” En dit was toe ons al die tweede koppie namiddag-koffie drink, wat Orrelkosie vir die servet die pil ingee, en wat ek toe die pil daarna in die hande kry.