Jongste aktiwiteit:

‘n Slagveld
vir

‘n Slagveld

Hiermee ‘n kostelike kommando-storie uit die Tweede Vryheidsoorlog van wyle oom Jan Steyn wat net na die Slag van Bakenlaagte in Transvaal saam met sy kommando’tjie aan die trek na Machadodorp was. Die wêreld was kaalgestroop en verniel en kos was skaars en dit was dae waarin hulle meesal niks te ete gehad het nie.

Op een besondere dag het hulle ver gery en heeltemal niks gehad om te eet nie. Kort-kort moes hulle van koers verander om uit die pad van sterk Kakiemagte te bly. Maar so teen twee-uur die middag was hulle redelik veilig en kon toe begin soek na iets om te eet.

Hulle was al so erg honger dat toe hulle Swartes se strooise gewaar sommer reguit soontoe ry.  Maar dit was dadelik duidelik dat dié spul hulle vyandig gesind is  en toe verklap die hoofman die rede met dié woorde: “Die Engelsman het gesê ons moenie die Boer kosgee nie.”

Maar oom Jan vertel, ná so bietjie veldsielkunde en veral nadat ‘n kêrel met die naam Jan Pieterse sy rondte onder hulle gedoen het, toe begin die onderhandelinge vlot. Kort voor lank toe het die kommando ‘n halwe streepsak rou grondbone.

Oom Jan sê hulle sou nog meer te ete gehad het maar net toe skree iemand: “Klim burgers, daar kom hulle!” Dit was nog ‘n patrollie Engelse aan die kom.

Die boere het nog nie behoorlik saal gekry nie toe slaan die stof tussen hulle soos die Engelse skiet. Maar die burgers jaag los onder die spulletjie uit en omdat die wêreld daarlangs baie glooiings het, kry hulle dit reg om agter ‘n bult in te kom en kort om te sit sodat hulle en die Engelse in teenoorgestelde rigtings jaag.

Eers na ‘n hele ruk kry die burgers weer ‘n klomp strooise en hulle tref een van die grootste gelukskote in dae want die Swartes het pas ‘n lekker vet vark geslag. Net daar verkwansel die manne toe alles wat hulle kon vir van dié vleis en hulle is daar weg met ‘n hele paar stukke varkvleis vasgemaak aan die saals.

Daarvandaan neem ‘n burger wat die omgewing goed ken, hulle na ‘n veilige laagte waar hulle vir die nag kamp opslaan onder ‘n klomp wilgerbome. En hulle breek in die omgewing hout en begin vuurmaak voordat hulle later die varkvleis op die kole sit.

Oom Jan sê later toe smaak dit dis ene fees want daardie hele leegte ruik die ene braaivleisreuk. En die manne sak toe op die vleis en saam daarmee eet hulle die klomp rou grondbone.

Toe dit donker word sit hulle vir die nag wagte uit en hulle blus die vure en elke kruip in sy kooigoedjies in. So hier en daar het nog ‘n paar so rukkie gesels, en toe raak dit stil.

Maar nie lank nie toe begin die laer van voor af lewe; die vet varkvleis en die rou grondbone sluit toe ‘n bondgenootskap.

Dan roer een ou hiér, staan op en loop die donkerte diékant toe in. En dan kom ‘n ander ou dáár orent en vroetel in die donkerte vir sy skoene en dan’s hy die nag suintoe in weg. En so raak die burgers die een na die ander wakker; dié wat nie van hul mae wakker word nie, skrik wakker van wat daar om hulle aan die gebeur is. En dis nie hóé lank nie, toe’s húlle ook aan die beurt.

En so, soos wat van die manne moet uit, so kom van die ander terug. En dié’s pas terug, dan moet hulle al weer hol.

En so is daardie laer later skoon ‘n miernes van ‘n deurmekaar ganery en kommery.

Oom Jan sê later toe weet jy nie meer waarlangs moet jy gaan en waarlangs moet jy kom nie. Hy sê maar toe dréún darie laagte met die een sarsie op die ander.

Hy sê toe werk dit op die stelsel dat as dit dreun, die manne opmerkings maak oor die grondbone en die vark, en dan lag hulle. En as hulle lag, laat dreun hulle. En as hulle laat dreun, dan lag hulle van voor af.

En só hou dié golwinge van dreun en lag daar aan. Maar diep in die nag in toe kon hulle begin sien wat daar aangaan want toe kom daar ‘n klein maantjie op.

Oom Jan sê toe het party van die ouens al hulle broeke uitgetrek en daar aan die wilgerbome opgehang of oor van die takke gegooi sodat hulle meer onbelemmerd kan kom en gaan.

Toe sê een ou oom: : “Kyk, ons het al baie Tommies gevang en kaal uitgetrek en net so gelos en hulle klere gevat, maar ek sou in my leefdag nie gedink het lat ‘n vark ‘n hele Boerekommando uit hulle klere sou kon ja nie.”

‘n Ander ou sê toe hierop: “Nee boeta, maar hier’t nog nie één gehensop nie. Hoor daar: hulle hou aan bittereinde toe.”

Oom Jan sê toe hy en ‘n vriend, oom Andries van Niekerk, toevallig weer ‘n slag daar saam in die voorste linie is, toe sê oom Andries: “Jan, weet jy, ons laat my vannag aan die Israeliete dink.”

Om Jan vra: “Hoe so Andries?”

Hy antwoord:  “Man, ons lees mos daar in Psalm 137 dat die ou Jode, toe hulle weggevoer is, daar by die riviere van Babel uit verdriet hulle harpe aan die wilgerbome opgehang het. En hier het ons nou vannag in hierdie leegte met ons ellende ons broeke aan die wilgerbome opgehang.”

En so op dié manier breek die dag later, en die kommando saal weer op, en hulle trek daar uit dié leegtetjie weg. En toe maak ‘n paar van hulle so ry-ry ‘n rympie oor die nag se doenigheid:

In hierdie leegte was ‘n Boerekamp e

n is daar nag-deur wreed geskiet;

oor die slagveld hang ‘n kruitdamp

vanmôre erger as liddiet.

*Jan Spies




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed