ONTPLOFFING IN DIE LONGDROP
Ek sit laat agtermiddag op die stoep – yskoue Castle in die hand, die mal rifrug van my jaag tarentale wat hoenderkos wil steel, vroulief is besig om ʼn rooibokboud (het heel toevallig voor die bakkie ingeloop; julle weet mos) in die oond te druk, toe ek amper die bottel insluk na ʼn moerske slag en gil van agter die waenhuis.
Die rifrug skrik homself in ʼn ander bloedgroep in, vroulief gee ʼn gil wat die dode kan wek, my trotse haan val hom des moers van sy stok en ek mors van die kosbare koudheid.
Kom my jongste knaap om die waenhuishoek gehol met ʼn stofstreep agter hom aan, spoegslierte om die mondhoeke, skreeuend van ver af: “Pa moet gou kom, hier het ʼn lelike ding gebeur!!”
Ek storm soos ʼn wafferse voorspeler die trappe af, slaat oor ons werfkat neer, spring op – so in die verbygaan skop ek die arme kat amper in ʼn gehoortoestelletjie in – en gryp my seun aan die skouers. Die hond raak verbouereerd, gryp my aan die broek. Vroulief, pan in die hand – minus die boud – storm my uit die pad, slaat die hond vir ʼn ses met die pan, gryp my seun by my en hyg:
“Is jy oraait? Het jy seergekry?”
“Nee, Ma!” met so ʼn vriesbrand stemmetjie, “Dis Jakobus, Ma, hy het die longdrop opgeblaas.”
Nou moet ek eers verduidelik: agter die waenhuis het ons ʼn longdrop gebou vir die werkers, vat te veel tyd as hulle eers kaias toe moet loop vir die dinge van die natuur; dinge kan partykeer jaerig raak so met die werk en eet saam. Veral vir Jakobus, my butler, soos ek hom noem.
“Is Jakobus oraait? Leef hy?” hyg skreeu vroulief met ʼn aamborstige Gunston-stem. Nie dat vroulief enigsins rook nie.
“Ja, Ma, hy’t ʼn vuurhoutjie in die skag afgegooi terwyl hy op die troon gesit het, Ma! Sy kroonjuwele en exhaust is geskroei, Ma!”
“Swerwer, gaan kyk of die man nie dood is nie,” word ek beveel.
Nou met vroulief praat jy nie teë nie, veral as haar stemmetjie so ʼn oktaaf styg.
So staat ek en kyk na Jakobus se agterent en juwele, hy gebukkend, toe Dominee skielik om die hoek kom. Was so beïndruk met die werkinge van metaangas dat ek nie die motor hoor stop het nie.
“En nou, broer?” wil Dominee met ʼn skok in sy stem weet.
Ek skrik my amper bo-op Jakob se rug en probeer terselfdertyd sy broek optrek. Hy brul en gil van die pyn en probeer uit die broek ontsnap.
“Nee, Dominee, man, gee bietjie hand, Jakob wil nie stilstaan nie,” hyg ek uitasem.
Dominee ruk hom om, marsjeer stywebeen en baaaaie vinnig terug na sy motor. Ek staan vasgevang tussen Jakobus se pyn en Dominee se gedagtes.
“Te dinges met jou, Dominee,” dink ek by myself en trek weer Jakobus se broek af. Met dié draai Dominee om en sy mond gaan oop om iets te sê, maar geen woord kom uit by die aanskoue van die af broek. Hy staat en gaap-gaap soos ʼn vis op droë grond voor hy homself in sy motor boender en met skreeuende bande wegtrek.
Intussen het Jakob homself uit sy broek bevry en daar gaat die man op loop reguit na sy kaia toe. Sy vrou het hom op ʼn afstand sien aankom, vasgesteek, en weer gekyk, ʼn smile op haar gesig gekry en begin om haar bloes los te knoop. (Ek het eers later by Jakob verneem hulle was teen daardie tyd al twee weke nie op “speaking terms” gewees nie.)
Toe Jakob die deur langs haar ingedraf kom, gee sy hom ʼn speelse klap op die boud, op die eina. Die man pak ʼn paar Dunlop-briekmerke teen die grond vas, swaai om en maak vir die sementdam.
In die hardloop besluit Boel, my rifrug, hierdie is ʼn lekker speletjie en hap speels aan Jakob se alie. Jakob trek sy twee boude inmekaar soos ʼn uitgedroogde lemoen en duik vir die dam, saligheid klaar op sy gesig, maar ongelukkig skuur sy twaksak teen die damwal. Borrels met onaardse geluide binne vasgevang bars bo die oppervlak uit.
Al wat Jakob uitkry met sy kop bo die water: “Jo-jo, nooit ek hy poep weer!!”
Kyk, die ding tussen my, Jakob en dominee het geloop pla. ʼn Anderse soort branderigheid hierbinne waar jy nie vatplek kan kry nie, toe gaat maak ek die saak met dominee reg. Hom mooi verduidelik van die omstandighede en gebeure.
Daarna was dominee saf, maar ook nie te saf nie, wou nooit weer alleen saam met my iewers heen ry nie, en by die kerkbasaar het hy mevrou Dominee altyd styf onder sy arm vasgeknyp as ek sou nader staan. Ek dink ook nie dit het gehelp toe ek na maande weer my gesig in die kerk wys, en my seun wat van Amerika besoek, sy oë op die Nagmaaltafel gerig, kliphard laat hoor het: “Jis, pa, ek hou van dié kerk, hulle het shooters!”