Oorlidde Pa en die by
Annerdag kom ek by ‘n kêrel en ons het oralster oor gepraat, en later gaan dit oor rooibye. En hy sê vir my: “Man, ek sal nooit ‘n rooiby sien, of oor hom praat nie, of ek dink aan my oorlidde pa.
“Ek sal dié dag nóóit vergeet nie. “Ek het so snaaks gekry, lat ek nou nog nie kan help om te lag nie.
“Maar ek het geskrik ok. Dit kon “n lelike affêre afgegee het. Want dié oorle ou mens was vir ‘n rooiby banger as vir ‘n leeu of “n pofadder.” Ek vra: “Nou wat het gebeur?”
En hy vertel:
Man, ek moes dié dag windpomp werk. Want die twee ou dêm boutjies waarmee die pomp se boonste vurk aan die houtrot vaskom, het gebreek, en dan weet jy mos wat gebeur:
Die ysterrotte sak in die pype af tot die suiers onner in die silinder loop vasdruk en dan”s die spasie tussen die houtrot wat bo aan hulle vas is en die boonste vurk mos sommer so ‘n twee handbreedtes wyd. En om die hele spul rotte te lig tot die gate van die houtrot en die vurk ooreenstem, solat ‘n mens die nuwe boutjies daar kan deursteek, têre mos maar. Want jy’t net twee hanne, en die rotte is swaar. En ek dink, nee, nou moet oorlidde Pa kom help. Want hy’s ál lewende wese op die werfwat weet wat om te doen, en hóé dit gedoen moet word, en wat kan verstaan wat ek gedoen wil hê.
Wat toe gedoen moet word, is lat ek my ligte ketrolletjie aan die boonste raam van die pomp moet vaskry en dan die ysterrotte onner die onnerste vurk moet vang met die ketrol se haak. En wat oorlidde Pa moes doen, was om dan verder met die ketrol saam te werk, terwyl ek korrel of die gate pas. En ek stel die spulletjie op en ek haak die rotte solat oorlidde Pa net hoef te geklim het tot waar ek hom nodig gehad het.
Maar die oorlidde ou mens was teen dié tyd van sy lewe ook al bang vir ‘n hoogte. Hy kon nie meer ‘n hand spaar vir iets anners as hy aan ‘t klimme was nie. Met groot versigtigheid klim oorlidde Pa mankoliek-mankoliek tot hy die ketroltoue goed kan bykom.
En hy staan ok nog voetjie vir voetjie op die dwarsraam langs om die pomp se een poot – weg van die leer af solat hy sy staan veilig het met sy voorlyf tussen die pomp se kruisbanne deur. En ek klim tot op die boonste raam regoor die los vurk, net onner die pomp se platform. En ek sê oorle Pa kan maar doenig raak.
En die oorlidde ou mens lig die spul rotte met die ketrol saam. En ek spook om die eerste boutjie deur te kry. En ek kap sommer met die kraaibek op sy kop, om dit al slaanding is wat ek het. En so deur dié gespook gewaar ek ‘n rooiby daar om my. En ek staan doodstil en ek neem die wêreld om my in die pomp op. En daar sal ek toe die skelm rooiby-nessie onner aan die platform sien hang. Daar sit toe ook nog ‘n paar bye aan hom. Dis net die een verkenner daar om my wat aan ‘t moeilik raak was.
Oorlidde Pa sê: “Wat’s dit nou; kry jy nie die boutjie deur nie?” Maar ek kan die stomme ou mens nie sê wat die ellende is nie; ek is bang oorlidde Pa spring dalk die vier meter van waar hy staan, regaf vaste aarde toe. ‘
Ek se: “Laat sak eers lat ons ‘n slag kan rus.” En oorle Pa laat die rotte sak. “As ek die spul weer tot bo gelig het, moet jy gou maak, my ou bene wil nie meer hierie staan vat nie,” sê hy. Ek sê: “Oorlidde Pa, oorlidde Pa moet nou nie skrik en ‘n verkeerde ding doen nie.” En hy kyk met sy ou stram nek of hy nie ‘n ontydige dwarrel sien aankom nie. En ek sê vir oorlidde Pa: “Pa moenie spring nie; oorlidde Pa sal vir Pa doodval.” Oorlidde Pa sê: “Man, maar spring kan ek tog jare lank al nie meer nie; ek kan nog net val. Maar wát ís dit?”
Ek sê: “Oorlidde Pa, dis rooibye.” En oorlidde Pa verstyf daar innie pomp. Hy draai net sy oë. Later toe hy sy spraak trugkry, vra hy: “Wáár?” Ek sê: “Hier by my is een, en die anner klompie sit aan die nes onner tenie platform.” Oorle Pa sê: “My kind, beweë kan ik nie; ek sal doodstil bly staan. Loop haal ‘n stok met ‘n sak om, en gôi ‘n klomp perrefien op en kom brand die spul vuilgoed dood.” En ek is daar af en ek hol huis toe en ek kry die nodige daar op die werf bymekaar en ek storm die pomp en ek klim tot op my staanplek en ek steek die stuk sak brand. En ek sien dis nou my kans, want dit lyk of die bye algirs weer hulle sit gekry het. En ek stoot die vlam daar onner hulle in. En toe die vlam hulle vat, toe knetter dit eigelik soos hulle brand slaan.
En hulle val hier by my verby en onnertoe laans oorlidde Pa verby. En ek vrees nog oorlidde Pa val saam met hulle af. En toe daar niks meer aan die nes sit nie, gôi ek die stok met die stuk sak sommer diékant toe af. En toe sal ek maar eers sien wat daar by arme oorlidde Pa aan die gang is. Een dêm by was nie trug by die nes toe ek die spullietjie brandgesteek het nie. En hy is daar ál om oorlidde Pa aan die draai. En hy begin maal om oorlidde Pa se kop en bolyf, en hy soek sitplek waar hy kan steek. En die dierbare oorlidde ou mens is so versteen lat hy nie eers kan waai nie. Hy gee net so effe lyf vir die by.
Maar dit help als niks. Die rooiby loop sit tussen oorlidde Pa se blaaie en hy gaat daar aan ‘t steke – dwarsdeur die hemp. Sy agterent karring soos ‘n wurm s’n wat jy met ‘n kool brand. En oorlidde Pa krimp en hy hang vooroor deur die kruisbanne vannie pomp. En dit moet seker vir hom gesmaak het dis ‘n ewigheid wat darie kastyding aanhou. En ek sak af op my hurke daar op die raam waarop ek my staan gehad het en met dié wat ek afbuk om nog nader aan oorlidde Pa te kom, val my hoed af, waarmee ek gedog het ek die by sou kon slaan. En toe’s al wat oor is en wat lank genoeg is lat ek tot by die by kan bykom, die kraaibeksleutel. En ek kry dié daar van die een raamyster af innie hanne en ek hang weer vooroor sover ek kon. En oorlidde Pa lyk of hy deur die pomp se raamwerk beur. En die bye stéék. En ek meet hom met die kraaibek. Maar ek sien ek kort nog so ‘n paar vingerwydtes. En ek vervat so effe met my linkerhand teen die een kruisband af. En ek meet weer. En ek sien dis nou of nooit.
En ek haal van dóér in die kale lug vandaan uit en ek stryk die by. Maar ek vergeet skoon die arme oorlidde ou mens is anie annerkant vannie by. En ek slaat die by morsdood en vir arme oorlidde Pa lat sy knieë knak. Hy staan-hang toe vir ‘n lang ruk daar innie pomp se ysters doodstil voor daar ‘n roering in hom kom. Maar darie opkyk ná hy sy asem truggekry het, en toe die brand vannie steek so effe skiet gee, sal ek seker in my leefdag nie vergeet nie.
Dit lyk kompleet of hy in die pomp in op-soebat. “Is hy dood?” vra oorlidde Pa. Ek sê: ja, oorlidde Pa, hy”s dood.” Oorlidde Pa sê: “Jirder wat hy nie van my rug anie brand gesteek het nie, het jy vir die res van my lewe oorhoeks geslaan. Help my, lat ek hier afkom.” En daar moes ek vir oorlidde Pa behoorlik loop vat en hom tydsaam omsukkel tot by die pomp se leer en toe sportjie vir sportjie af tot op die grond. Toe ons op die vaste aarde staan, sê ek: “Ek is jammer, oorlidde Pa, maar ek moes die by doodkry.” En oorlidde Pa sê: “Solánk as ek leef, klim ek nie weer in ‘n windpomp nie. “En as daar weer ‘n ding moet doodkom, wil ek ágter die hou wees…’
Ek sê vir die kêrel: “Man, maar jou oorlede pa kon mos dood gewees het, en dit net deur die verdomde rooiby.” Hy sê: “Dis wat ek agterna ook vir oorlidde Pa gesê het: ”Oorlidde Pa is deur drie dode, want oorlidde Pa se hart kon loop staan het vannie by se steek, of oorlidde Pa kon Pa doodgeval het, of ek kon oorlidde Pa se laaste asem met die kraaibek uitgeslaan het.”