Jongste aktiwiteit:

Rooikappie in die stad
vir

Rooikappie in die stad

Rooikappie het by haar ma en pa in ‘n klein huisie in die stad gebly. Eendag sê haar ma vir haar sy moet haar fiets vat en ‘n mandjie eetgoed na haar ouma toe vat wat so ‘n endjie van hulle af bly en wat siek in die bed lê.

“Reg Ma,” sê Rooikappie.

“En Rooikappie.”

“Ja Ma”.

“Jy moet nou nie draaie ry nie. Ry reguit na jou ouma toe en kom dadelik terug. Pasop dat jy nie deur glasstukke ry en ‘n pap wiel kry nie.”

“Ja Ma. Totsiens Ma.”

“Totsiens kind.”

Rooikappie vat haar fiets en daar laat waai sy na haar ouma toe. Langs die pad ry sy verby ‘n winkel wat baie lekker lekkers verkoop. Dadelik stop sy by die winkel om vir haar lekkers te koop. Sy het heeltemal vergeet dat haaar ma gesê het dat sy reguit na haar ouma toe moet ry. Sy koop toe vir haar lekkers en daarna vat sy haar fiets en ry straat op, straat af, links en regs en gaan by die speelgoedwinkels in en kyk na al die mooi speelgoed. Nadat sy by al die speelgoedwinkels was, onthou sy om na haar ouma toe te gaan.

Dit is egter waar die probleem toe inkom. Nou weet sy nie hoe om te ry om by haar ouma uit te kom nie. Sy het verdwaal. Sy sien vir Wolf op die sypaadjie sit en bedel en sy besluit om vir hom te gaan vra hoe sy moet ry om by haar ouma uit te kom. Sy het ook vergeet dat haar ma vir haar gesê het dat sy nie met vreemdes moet praat nie. Sy ry na Wolf toe en groet beleefd.

“Môre oom Wolf”.

“Ja, môre,” groet hy kortaf.

“Ag oom Wolf, kan oom nie vir my sê hoe ek moet ry om by my ryk oumatjie uit te kom nie?” pleit Rooikappie.

“Ryk?” kom dit opgewonde van Wolf.

“Ja oom,” sê Rooikappie.

“Sy is so bietjie siek en nou wil ek die lekker eetgoed vir haar vat.”

“Eetgoed?”, vra Wolf.

“Ja, oom,” sê Rooikappie.

Dadelik het ou wolf ‘n slinkse plan om ouma se geld te vat en sommer ook die lekker eetgoed te kan kry. Hy beduie vir haar hoe sy moet ry, maar hy verduidelik aspris vir haar die lang pad. Toe Rooikappie weg ry, spring hy in sy rooi sportmotor, wat hy vir hom gekoop het met sy geld wat hy gebedel het en jaag soos ‘n regte padvark deur die verkeer na ouma se huis toe. Daar aangekom, is ouma nie by die huis nie. Sy het gaan inkopies doen. Sy was al die tyd nie so siek nie.

Ou wolf klim deur ‘n venster en sluit die agterdeur oop. Hy trek ouma se nagklere aan en sit haar kappie op sy kop. Hy klim in die bed en lê en wag vir Rooikappie. Na ‘n rukkie klop Rooikappie aan die deur.

“Kom maar in, Rooikappie!” fluister Wolf met ‘n heserige en effense sagte stem, wat klink soos iemand se stem nadat hy klaar rugby op televisie gekyk het. Rooikappie kom die kamer binne en gaan staan met die kosmandjie nog steeds in haar hande langs die bed.

“Dag, Ouma”.

“Dag, Rooikappie”.

“Hoe het Ouma geweet dat dit ek was wat geklop het?” vra Rooikappie.

“Ek het jou geruik, ag ek bedoel ek het geraai dat dit jy is.” sê Wolf vinnig toe hy besef dat hy amper sy mond verby gepraat het.

“Dit is gaaf dat jy vir my kom kuier het terwyl ek siek in my bed lê.”

“Dit is ‘n plesier, Ouma. My ma sê altyd, Rooikappie, as jy weet van iemand wat siek by die huis lê of wat siek in die hospitaal lê, is dit goeie maniere om dan vir hulle te gaan kuier om te gaan hoor hoe dit met hulle gaan en ook te hoor of daar nie dalk iets is waarmee jy hulle kan help nie. Dit is ook goed om so ‘n ietse lekkers of ‘n ou blommetjie te gee, dan voel die siek omie of tannie sommer beter as hulle weet daar is nog mense wat vir hulle omgee. Ek het vir Ouma ‘n mandjie vol lekker eetgoed gebring.”

“Haai dit is gaaf van jou, Rooikappie.” sê Wolf in sy soetse stem, terwyl hy hard moet sukkel om nie sy lippe af te lek en om die mandjie eetgoed by Rooikappie te gryp nie.

Rooikappie wou net die mandjie eetgoed vir Wolf gee, toe sy Wolf se oë sien. Net daar steek sy in haar spore vas.

“Ouma, hoekom is Ouma se oë so groot?” vra Rooikappie nuuskierig.

“Sodat ek beter televisie kan ky,” antwoord Wolf wat nou al kwaai ongeduldig begin raak.

“Ouma, Mamma sê van dat televisie in ons huise gekom het, praat mense minder met mekaar en daar word minder dinge gedoen. Dit is net heeldag voor die televisie sit en die sin wat die meeste gebruik word, is: “Stilte, ek kan nie hoor nie.” Sy sê ook vandat daar rekenaar- en televisiespeletjies is, weet ons as kinders ook nie meer hoe om speletjies soos wegkruipertjie, balskop en sulke ander speletjies te speel nie en kinders lees ook gans te min boeke.”

Terwyl Rooikappie so praat, het Wolf al kwater en kwater geword omrede hy nie meer kan wag om aan al die heerlike eetgoed te smul wat Rooikappie gebring het nie. Hy het toe uit die bed gespring en die mandjie eetgoed by Rooikappie gegryp. Rooikappie het toe gesien dat die Wolf is en sy het gegil en vinnig by die huis uitgehardloop. Sy het skoon van haar fiets vergeet. Sy hardloop die straat af. Toe sy verby die kafeetjie om die hoek hardloop sien sy haar ouma en hardloop na haar toe. Sy is egter te uitasem en te geskok om ‘n woord uit te kry. Sy gryp toe maar haar ouma se hand en beduie vir haar dat sy moet saam kom.

Toe hulle by Ouma se huis kom, hoor hulle ‘n geraas wat klink soos donderweer. Ouma kyk in die lug op.

“Snaaks, ek donderweer, maar ek sien geen wolke in die lug nie,” sê Ouma verbaas.

Net toe kry Rooikappie haar stem terug.

“Dit is nie die donderweer wat so klink nie. Dit is Wolf wat so lê en snork.”

Haastig vertel sy vir Ouma wat gebeur het. Ouma haal haar selfoon uit haar handsak en bel die polisie. Binne ‘n paar minute is die polisie daar en het hulle vir Wolf gevang.

Ouma het toe niks van die mandjie eetgoed gehad nie, want Wolf het dit opgeeët. Sy het wel vir Rooikappie na ‘n restaurant geneem en daar het hulle oor ‘n melkskommel en tee lekker gelag vir Wolf se gesig en reaksie toe die polisie hom gevang het. Daardie aand het Ouma en Rooikappie elk in hulle eie bed rustig geslaap met dié wete dat nog ‘n skelm agter tralies is.

(NOU JA TOE, DAAR HET JULLE DIT … !)




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed