weerlig en boerewors
Ou Grootmaat sê hy dink vandag aan die klere-aanpassery tussen die kinders. “Jy moet weet, ek was van die laastes van die dertien daar in die Kalahari en teen die tyd dat die goed by my uitkom, kon jy al deur hulle kyk.
Jy weet, ons het só swaar gekry; ek het my eerste onderbroek vir my matriekafskeid gekry! Maar daar was ook lekker dinge, soos die slagtery in die winter. Dan kom al die kinders ‘n slag huis toe en ons kuier ‘n hond uit ‘n bos.”
Hy vertel hulle was weer een jaar almal bymekaar en daar word vir die slagtery voorberei. In daardie jare was die beeste wild en hulle moes uitry veld toe waar hulle geskiet en die vleis sommer daar bewerk het. So ry hulle een môre uit veld toe met worsstoppers, meulens, kruie, derms, tafels, skottels en wat dies meer sy.
Hulle was gelukkig daardie dag en dryf die beeste teen ‘n lyndraad en skiet drie pragtige tollies. Die slagtery begin en die vrouens roer met die vleis. Gelukkig is hulle langs die lyndraad en die vroue hang sommer sulke stringe wors oor die draad om af te droog.
Toe kom daar ‘n onweer en ‘n donderweerblits slaan so ‘n tien myl van hulle af op die lyndraad en ál daardie wors was oombliklik gaar! Hulle sit toe vir veertien dae daar by daardie kamp voor hulle al daardie wors opgeëet het.
Hy sê tot vandag toe eet hy nie meer wors nie. Ek neem hom nie kwalik nie.