Jan en die bakkievlieg
Nou die annerdag ry ek saam met Jan in sy bakkie. Julle sien, Jan ry ‘n bakkie, want Jan pas nie maklik in normale karretjies nie, en die goetertjies se vere hou nie lank onder Jan nie. Kom ons sê maar net Jan dra ‘n gróót broek, en hy dra hom vol.
Ons ry toe na ‘n eetplekkie, want dit was ‘n laat-ontbyt afspraak, maar saam met Jan is enige rit altyd oppad na ‘n eetplekkie van soorte. Ewenwel, soos ons ry gesels ons nou oor die rugby en oor die weer en al die dinge. Ons kyk die mense en die karre, maar die windjie is koel en die vensters is toe. Hoe dit werk weet niemand nie, maar eweskielik daag daar n vlieg op, sommerso uit die niet, asof die onding nounet hier tussen ons gevorm is. Amper soos die groot kaploffing waaraan party glo, twee stukke snot wat inmekaar indonner en “poefadoef” daar’s lewe…netso arriveer die vlieg hier in die bakkie tussen ons.
Maar dis een moerse vlieg, kyk die ou zooooooom nie, hy zoemzoemzoem hy’s te swaar vir ‘n “twostroke”, meer soos ‘n Harleyduiwelsin. Maar hy’s n ratse donner, en dan ook nog ‘n pynlike pes. As hy nie hier in my gesig karring nie dan is dit in Jan se nek. Nou klap ek en ek wapper en begin soos ‘n besete windpomp tekere gaan, en Jan klap ook, maar hy moet nog bestuur ook, so dit gaan holderstebolder. Ons moer en vloek en lag, maar die blerrie vlieg bly ons teister, soos daai klein hakbytertjies wat net kêfkêf en skyt, maar nooi eintlik iets uitrig nie.
In elke geval daag ons toe heelhuids by die winkelsentrum op en Jan reken hy het ‘n plan met die vlieg. Ek begin dadelik belangstel, want Jan het altyd ‘n plan, partymaal heel goed, maar partymaal ook heel uit die buitenste wentelbaan van Mars.
“Nou wat is die plan?” vra ek, “ Gaan ons die deure oopmaak dat die bliksem kan uit, of wat?”
“Nee Tjomma” sê Jan, met daardie bekende glinstering in sy oë, en net daar weet ek, Jan het ‘n plan, ‘n interessante plan. Tipies Jan het die plan ook ‘n oorsprong, want Jan is mos ‘n oorspronklike mens.
“Janee meneer” sê Jan met oorgawe, “ Vandag gaan ek Kattibal se plan uitvoer!” kondig hy laggend aan.
“Kattibal, wie de moer of wat de donner is Kattibal?” vra ek.
“Kattibal, my goeie vriend, is ‘n ou wat ek daar op die Weskus annerkant Dwarskersbos ontmoet het” sê Jan. “…en mens, Kattibal was ‘n GROOT ou” verduidelik hy grootoog. “Kattibal het my soos ‘n frikkin fêrie laat lyk, kyk was rond, rond soos ‘n ui, baie flippin rond, kort soos hy wyd was en wyd soos hy kort was” vertel Jan, en beduie om sy wydgepreide pens. Ek wonder of daar nog iemand soos Jan in die heelal kan wees, maar ek bly stil want ek is mal oor my vriend Jan, hy is so enig in sy soort.
“Ja” sê Jan, “Ons het op die strand gaan ry daar noord van Dwarskersbos. Ou Kattibal het so ‘n Jeepding gehad, moewiese ding met sulke wye tyres, geen lisensie, net virri strand en skiboot-sleep. Die ou klim agter die stuur in, dan moet hy sy pens so opvou en indruk agter die stuur. Ek kan op my rug lê op die sitplek, maar Kattibal wil weet hoekom die sitplek nou weer so na aan die stuur is” verduidelik Jan en lag dat die trane spat.
“Kattibal?” sê-vra ek, “Dis ‘n bynaam, wat’s sy regte naam?”
“Nee man, ek ken hom net as Kattibal, party mense noem hom sommer Meneer Kattibal” verduidelik Jan terwyl hy die bakkie uiteindelik in ‘n parkeerspasie indruk.
“Toe uit is jy, vinnig, dat ek Kattibal se plan kan loslaat op die vlieg” beduie Jan en begin sommer dadelik so ‘n veraf kyk in sy oë en ‘n rooierige skynsel in sy nek kry soos hy begin “force” toepas. Ek weet natuurlik wat gaan volg en vlieg soos ‘n warmgemaakde bliksemstraal daar uit. Oomblikke later dreun dit en die bakkie skud soos ‘n nat hond en Jan is uit en sluit en met ‘n grynslag en ‘n baie onbeskofde handgebaar. “Kry vir jou!” sê hy en ons daar weg om te gaan eet.
Omtent ‘n uur later keer ons na die bakkie terug, sluit oop en staan weg sodat die vars bries eers die kajuit kan uitstof. Toe als bedaar en die area word veilig verklaar klim ons in en siedaar, op die “dash” lê meneer die vlieg, pootjies inni lug.
“Hetjou, jou bliksem” lag Jan. “Dit werk elke keer!” sê Jan en trek selfvoldaan weg oppad terug huistoe.
© Grootvissie
Julie 2017