Jongste aktiwiteit:

Jan en die buiteband
vir

Jan en die buiteband

Soos ek al vantevore vertel het, my goeie vriend Jan is nie net ‘n sportgeesdriftige nie, maar ook ‘n groot bok vir sports. Ek sit en dink nou die dag aan die geleentheid to ons almal gaan kamp het daar doer in die bosveld, en die “four-by-four” ryery in die klowe. Ai die bosveld is mooi wêreld, maar ek mis ook die see, maar dis nou weer ‘n ander storie.

‘n Ander vriend van Jan, ‘n ou met die naam Daan, nooi ons almal om een langnaweek saam te gaan bosveld toe. Daar is ‘n plaas en ons gaan kamp en ons gaan ook sommer so bietjie “four-by-four” in die kloof. Ek en Jan pak, die dames pak, alles behalwe die kombuiswasbak is gepak, en ons toer bosveld toe. Hier slaan ons tente op, pak braaivleisvure en begin sommer dadelik die naweek se gekuier op ‘n hoë noot.

Die Saterdagoggend kondig Daan aan dat ons manne nou vandag viertrek avonture in die kloof gaan beleef. Die dames maak amok en uiteindelik is dit ‘n uittog van soorte, want almal wil saam. Die piekniek mandjies is vol, die koelbokse nog voller en almal is in ‘n baie luiddrugtige en gemoedvolle bui, so op ‘n streep, kloof toe. Ek en Jan en ‘n paar dames ry in Jan se bakkie, reg agter Daan, wat in so ‘n veldgogga met wye bene en uitpeuloë ry. Ons het hom sommer net daar Goggamonster gedoop. Hy het blykbaar die ding self gebou en wil nou kyk hoe dit in die kloof sal hanteer. Ons lewer nogal kommentaar oor die grootte van die agterwiele, want ons reken met sulke breë bande kan mens mos sommer, sonder probleme, bo-oor die hele berg klouter, maar ons hou ons kommentare in die bakkie, want wie weet wat als nog kan gebeur.

By die kloof pak ons uit, ons gesels viertrek, ons kuier en ons beplan, en toe begin ons met al die verrigtinge. Eers moet die manne teen ‘n geweldige steil helling hul voertuie laat uitklouter, en dan sommer weer afklouter. Ek het nogal hardop gewonder hoekom hulle nie net hier bly nie, want hulle is mos nou reed hier, maar Jan het my net laggend stil gemaak. Daarna moet hulle deur ‘n rivier, oor massiewe rotse, oor ‘n bruggie wat uit twee pale bestaan en dan deur ‘n donga wat lyk soos ‘n Mosambiekse slaggat. Almal is daar, almal gee raad en almal is betrokke, en dis nogal spannend en ook baie leersaam as mens luister na die ouens wat weet waarvan hulle praat.

Met groot geesdrif is Daan met Goggamonster deur die rivier, maar toe hy die rotse beklim toe gly die nat wiele en daar tref hy ‘n lae rots wat die band van die wielvelling afdruk, en daar sit die Gogga monster op die klip soos ‘n koggelmander, met ‘n pap wiel. Ons soek en krap en praat en beplan, maar soos die geluk, of dan die ongeluk dit wou hê, tussen almal en alles is daar nie een elektriese pompie nie, en arme ou Daan lyk of hy in trane gaan uitbars.

My goeie ou vriend Jan, het natuurlik ‘n Janplan en hy gesels daar met die manne. Dis nie lank nie of Goggamonster staan been-in-die-lug soos ‘n hond wat piepie, en Jan en die pap wiel is daar eenkant op ‘n plat plek aanmekaar. Almal is gesê om net bietjie weg te staan, want dit kan ontplof, sowel as sleg ruik, maar mense wil mos nie hoor nie.

Jan, ai die man is ‘n genie, sit daai wiel plat neer en plak homself op die band neer. Ek dog eers die man gaan nou ‘n drinkdingetjie vra, maar toe sien ek hoe hy bietjie begin “force” toepas, en toe hoor ek dit. So ‘n lae geroggel, ‘n ver weg eggo daar binne daai band, amper soos ‘n krokodil wat knor in ‘n konka. Skielik spring Jan op en gooi ‘n brandende vuurhoutjie net daar waar die band en die wiel bymekaarkom. Met ‘n sierlike blou vlam en ‘n groot “pop” geluid ontvlam daai gasse en blaas daai band sommer styf terug op die wiel vas, slaggereed vir gebruik. Ons was so styf ingedruk (amper soos die band) dat ons sommer begin hande klap het. Jan, nar wat hy is, neem ‘n buiging en lag tog te lekker, terwyl Daan breedste van almal glimlag.

Met die wiel terug op Goggamonster kon Daan die res van die toetse aflê en ook seker maak dat sy masjien opgewasse is teen die anslag van die bosveld dongas. By die kampterrein teruggekom het ons sommer lekker gebraai en weer die dag se gebeure herlewe en herkou. Jan en die buiteband was natuurlik die hoof onderwerp van die gesprekke en van die manne het teen laatnag gereken Jan moet daai goed bottel en onder die handelsnaam “Force-by-Force” verkoop. Jan was heel nederig oor sy mannedaad, maar ook verontwaardig oor die voorstel.

“Nee manne” sê hy in ‘n oomblik van stilte, “ Dis nie ‘n speelding nie, mens moet weet hoe om die ding te beheer, dis nie vir elke Jan Rap en sy maat nie”, en met dit skud hy soos hy vir homself lag en nog ‘n drinkdingetjie nader trek.

© Grootvissie

Augustus 2017




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed