Jongste aktiwiteit:

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van RiccoRicco is nou vriende

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Ricco het n geregistreerde lid geword

  • Amanda het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Colin het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Jessica Venter het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van CHRISTELLECHRISTELLE is nou vriende

  • Anze het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

AD Keet
vir

AD Keet

Muskiete jag

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net ‘n bloedkol bly
Hier teen my kamermure.
Deur jou vervloekte gonsery,
Deur jou gebyt en plagery
Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry  –
My naam is van der Merwe.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie.
Jy moet tog ééndag sterwe.

Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria –
Nog een minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nòg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang,
Nooit sien jy weer jou nasie…

Hoe sedig sit hy, o die kreng!
Sy kinders kan maar kranse breng,
Nòu gaan die vabond sterwe…..
Pardoef!  Dis mis! daar gaan hy weer!
Maar dóód sal hy, sowaar ek sweer  –
My naam is van der Merwe.

 

MAAR EEN SUID-AFRIKA

Gee my ‘n roer in my regterhand,
Gee my ‘n bok wat vlug oor ‘n rand –
En ‘n flukse perd om hom weg te dra:

Gee my Suid-Afrika.

Gee my ‘n kamp waar bossies groei,
Gee my ‘n fraai volstruis wat broei –
En ‘n Boerseun wat baie wa:

Gee my Suid-Afrika.

Gee my ‘n koppie om op te staan,
Gee my die Swartland met al sy graan –
En nooit of te nimmer hoor jy my kla:

Gee my Suid-Afrika.

Gee my ‘n vlakte ruim en wyd,
Gee my die veld se oneindigheid –
En die lekker geur wat die lug daar dra:
Gee my Suid-Afrika.

Van die natuur

Kinderlied

Kom, kom kindertjies
Buite vlieg die vlindertjies –
Hier, daar, oweral.
Al die kleine stakkertjies
Soek hul bonte makkertjies:
Kijk, kijk, ag, hoe mal!

In die kleine kommetjies
Van die bloedrooi blommetjies
Duik, duik, duik hul in.
Reguit naar die suikertjies
Vlieg die bonte duikertjies:
Suig, suig, suig daarin.

Kom, kom kindertjies
Speel soals die vlindertjies –
Hup, hup, spring en val!
Blossies op jul wangetjies,
Sing hier soete sangetjies
Op die vlakte, oweral.

Sneeuw

Sneeuw, sneeuw, lieflike sneeuw
Daal op die aarde neer;
Dit val en dit swewe,
Dit sterf en dit lewe –
O kijk tog, hoe kòm dit al weer!

Sneeuw, sneeuw, heerlike sneeuw, –
Moeder, kom kijk tog hoe fraai!
Miljoene klein vlokkies
In stukkies en brokkies
Word wijd oor die wêreld gesaai!

Lieflik en rein en wit is die sneeuw,
Moeder, dit val en dit sweef
In brokkies en stukkies
Met stote en rukkies –
Presies of die hele lug leef!

Als ‘s aands

Als ‘s aands die son stilswijgend sterf
Daar oor die wester-rand,
Dan straal hij wondertekens uit
Aan elke wolk en land.

Als ‘s aands die skemersluier sak
In stille segetog,
Dan veg die dag sijn doodstrijd vóór
Sijn laaste ademtog.

Als ‘s aands die donker duister daal –
Die doodskleed van die dag –
Dan hou die kinders van die son
Hul ligtend sterrewag.

Winter

Sonnetjie skijn!
Sonnetjie skijn!
O, skijn bij mij venster in.
Koud is die wind, wat daar buite waai;
Donker die wolk, wat daar bowe draai;
Sonnetjie, kom tog in.

Sonnetjie klein!
Sonnetjie rein!
Steek tog jouw koppie uit;
Jaag tog die wolke daar bo uitéén;
Soen tog mij oë, wat ween en ween,
Reg deur mij venster-ruit.

Sonnetjie fijn!
Sonnetjie mijn!
Kom tog, ik soebat jou.
Weg met die wind, wat daar buite waai;
Weg met die wolk, wat daar bowe swaai;
Sonnetjie, kom tog gouw.

‘n Lied van die see

Die branders breek, die branders breek,
In die dag,
In die aand
Elke week, elke maand:
Breek, branders, breek!

Die golwe dreun, die golwe dreun
Hulle kreun,
Hulle steun
Op die ou, ou deun:
Dreun, golwe, dreun!

Die aarde blij maar stil en swijg
In die dag,
In die aand
Elke nag, elke maand:
Swijg, aarde, swijg!

Amsterdam
Aan mijn vriend Eduard Karsen

Ou Amsterdam is tog so mooi
Met al sijn liggies uitgetooi
In donker, donker nagte.
Dis liggies hier en liggies daar
In lange rije aanmekaar,
Wat flikker in die gragte.

En honderd duisend ogies loer
Op spieëlgladde watervloer
Daar bowe uit die hemel.
Dis liggies hier en liggies daar
En bootjies, wat so saggies vaar,
Dat ligte golfies wemel.

Die liggies soek mekaar weer op
In water, wat teen walle klop
Op stormagtig’ nagte.
So toweragtig, lief en skoon
Is liggies, wat op walle woon
En flonker in die gragte

Awendmijmering
(Op die stoep van ‘n boereplaas)

Dis stil….
Geen blaartjie roer,
En die hele werf
Rus sag in die skoot van diepe vergetelheid.
Die dag is dood
En lê begrawe –
Stil.

Soals op Sabbat môrens ‘n tortelduif
Die stilte in die lug nog stiller maak,
Deur af en toe te koer en dan te swijg –
So kan jij hoor
Daar onder bij die voor,
Waar nou net modder van vroeëre strome vertel,
Hoe die paddetjies die ontsaglike stilte verstoor.
Hulle kwik en kwek en kwaak,
Dat dit kraak!
Om dan weer almaal op te hou –
Ineens!
Maar nie vir lang nie;
Ontevrede bid
En soebat hul vir reën –
Hulle ween
En gaan dan slaap, vermoeid en uitgeput.

Ver
In die veld
Gaan ‘n skreeuwende kiewiet te keer.
Hij vlieg op en neer,
Heen en weer,
Verskrik
Deur ‘n jakhals wat tjank in sij buurt….
Dis roerloos stil.

En die sterre,
O God, die sterre!
Hoe mooi
Is die firmament versier
En uitgetooi,
Alsof daar altijd feeste word gevier
Daar bo in die hemel,
Ver –
Ver van hier!

Die lied van die koringboer
Aan mij Moeder

‘O sing mij die lied, sing mij die lied,
Die lied wat mij hart so raak,
Van die Onderveld-boer en sij koringmiet
En die donder, wat dreun en kraak.’

‘Vammelewe het daar ‘n boer gewoon,
Daar vér in die Onderveld.
Sij lande het altijd sij werk beloon
Met gerwe haas ongeteld.

Toe kom daar ‘n grote droogte aan
En sij vee vrek hot en haar.
Die maande kom, en die maande gaan,
Maar die reën blij ver van daar.

Dog skielik kom, op ‘n somerdag,
‘n Grote wolke-skaar.
Hulle lijk soos ‘n seilende skepe-mag,
Wat reg op die aarde vaar.

Dit duur ook nie lang of die aarde word bang
Vir die wolke, wat toef op hul weg.
Want dis man aan man, en rang op rang,
Wat klaar staan vir die geveg.
Daar flikker op eens ‘n bliksem-streep,
Hij slaan soos ‘n sweep se slag;
En hij snij uit die grond ‘n grote reep –
Die eerste skot van die dag.

En toe begin die rammel-remoer,
Kanonne die gaan te keer,
Dit dreun en rol op die wolke-vloer,
Dit bulder al meer en meer.
Dit kletter en gons soos die haelkorrels spat,
Teen die klippe klap hulle fijn.
Die stofwolke rijs uit die dorre pad
En die bliksem-strepe skijn.

En hot en haar slaan die weerlig neer –
Dit skeur en dit kraak en dit raas.
En kort op mekaar, verskeie keer,
In die enigste miet van die plaas….

Toe hardloop die boer bij die voordeur uit;
Met sij voorlaaier in sij hand
Vervloek hij die bliksem, tartend en luid,
Om sij koring wat staan in brand.

En roekeloos rig hij sij kleine roer
Naar die sware donderweer.
Dog die bliksem trèf die arme boer
En morsdood val hij neer….
Die hael die gons; en die water giet
Op die smeulende vuur van die koringmiet…

En dit is die lied van die koringboer
Wat die hele jaar se gesaaie –
Sij brokkie brood, en sij vee se voer,
Sien vergaan ‘t in ligte laaie.’

Die arme digter

O gee hom ‘n mooi begrafnis,
Die arme digter is dood.
Hij ‘t dwarsdeur sij hele lewe
Geveg vir sij brokkie brood.

O neem van die fraaiste eike,
Die fraaiste eike se hout,
En spijker hom toe in ‘n doodkis
Met spijkers van silwer en goud.

Waardering was nie sij deel nie,
Sij laste was swaar als lood –
O gee hom ‘n mooi begrafnis,
En laat hom met rus… hij is dood.

‘n Sanger
‘All poets are dead’

‘n Sanger is hier opgestaan,
Opgestaan,
En weggegaan.

Hij was ‘n sanger sonder faam,
Maar nou het hij ‘n grote naam.
Dis snaaks dat sangers dood moet gaan –
Dood moet gaan,
Om op te staan.

Digter is hij

Digter is hij, wat digters taal
Diep uit die grond van sijn hart kan haal
En hij voel in sijn hart ‘n heerlike drang
Om ‘n vlugtige stemming in woorde te vang.
Digter is hij, wat verse maak –
Verse wat duisende harte kan raak.
Maar hij weet nie waar hij die mag van haal,
Dis ‘n gawe, wat bo uit die hemel daal.

Digter is hij, wat oog en oor
Tref met ‘n pragtige woordekoor.
En hij hef sijn stem op ‘n lieflike maat
Van die môre vroeg tot die awend laat.

Digter is hij, wat deur en deur
Voel wat rondom en in hom gebeur:
Wat sijn siel se gevoelens uit kan giet
In ‘n lewende, sprekende, roerende lied.

Kontras
Kersmis 1914

Wit is die wêreld,
Wit van die sneeu;
Bokant die water
Sweef daar ‘n meeu,
Blou is die hemel,
Nergens ‘n wolk;
Oral is vrede
Rondom die kolk.

Spierwitte wêreld,
Diep in jouw siel
Sug jy en smag jy
Om te verniel;
Skyn is jou vrede,
Donker jouw hart:
Jy is maar bly oor
Ander se smart!

Aan ‘n fatalis

Jij twijfel, sê jij, of die mens
Kan doen of laat, soals hij wens.
En vrije wil is alles skijn –
‘n Hersenskim van onse brein.

Ou maat, misskien is jij nog reg,
Maar dan is jij ‘n slaaf, ‘n kneg
Wat blind en doof is daarenbo –
En dit kan ik van jou nie glo.

Rook
Vir Frans Karel te Water Naudé.

‘Waar rook is, moet daar vuur wees.’
Rook! Wàt is rook? Is dit die beeld
Van iedere verwagting, en van hoop
Wat heel die mensdom stééds met moed vervul?
Of is dit maar die spook, die vlugtige siel
Van een of ander ding, wat puur verniet,
Probeer om aan die aarde vas te klem? ….
Kijk, ik blaas ‘n ronde ring wat rol
En pragtig krul reg deur mij kamer heen;
Jij sê dit is so mooi – ou maat, dan het
Jij seker nooit bespeur hoe wonderskoon
Die bloedrooi vuur van ieder sigaret
Kan skitter in die skemerlig. Kijk hier ….
Het rook nou nie ‘n skoner metgesel
Wat oorsaak is van al sij skoonheid nie?
Kom, steek maar nog een aan, misskien het jij
Ook nog ‘n hart waarin die vuur van hoop
Jouw siel verlig sodra die skemer daal.

Liefde

Mirakelkrag, wat mense samesnoer
Met kettings sterker dan die sterkste staal,
Hoe swak en hulp’loos laat jij mij nou voel!
Swak als ‘n man wat op sij sterfbed lê,
En weet dat hij hom daarin moet berus –
Hulp’loos als ‘n pasgebore kind….
O, ik voèl dit nou, die lewe is
‘n Stroom waarop die mens al-eeuwig drijf
En wilskrag is maar ingebeelde skijn.
Hoe kragtig het ik mij nie steeds gewaan,
Gin ding of ik kon mij daarteen verset
Met vaste wil en regopstaande hoof.
Maar noù is ik geboei, en of ik wil
Of nie, ik gaan mij liefde tegemoet
So seker als oor so veel jaar mij dood!

Mij liefste

Ik wag al op mij liefste
Maar al wat kom is sij.
Of is dit dat mij liefste
Nog altijd wag op mij?

Ik weet nie of mij liefste
Dit weet hoe ik haar min.
Sij het al lang gelede
Mij hele hart gewin.

Ik wonder of mij liefste
So af en toe nie snik,
Als sij vir mij sit wag en
Al wat kom is ik.

Probleem

‘n Mot vlieg vol van lewensblijheid
Vas teen ‘n soeklig-toring aan,
So spog’rig, alsof Lot nog Vrijheid
Vir hom bestaan, –
En hij vergaan!

Die soeklig gooi sij glinster-strale
Wijd oor ‘n see van woestenij –
Verkondig skippers telkenmale:
Blij vèr van mij,
Blij vèr van mij!

Geliefde! So ‘t jouw oog-geflonker
Mij vaak al voor die vraag laat staan,
Of ik moet uitblij in die donker,
Of nader gaan, –
Jij trek mij aan!

Bekoorlik kind

Bekoorlik kind! ik weet nie wat dit is
Of hoe dit kom nie; ‘k weet alléén maar dit:
Dat ik nog altijd deur jouw beeld aanbid
En steeds die tintel van jouw oge mis.
Is dit die glans, waarvan ik nimmer wis
Dat dit ‘n man so aangrijp, altemit?
Of is dit net bekoring? Nee, daar sit
Oneindig veel meer agter dan jij gis.

Dit is die krag, wat digters stil laat staan
Voor al wat lief en skoon is op dees’ aard;
Dit is die Siel, wat so sij wege baan
Van hart tot hart, tot twee aanéén-gepaard
Hul hele lewe sáme verder gaan…..
Lief kind, o maak mij lewe lewenswaard!

Net maar gesien

Net maar gesien het ik vir haar –
Geen enkel woord gepraat;
Ons loop so vlak verbij mekaar
Een middag laat, op straat.

Net maar gesien èèn enkel blik –
Net maar gehoor mij hart;
O God, hoe onuitsprekelik
Is tere, diepe smart.

Net maar gesien, al sò veel maal –
Net maar gevoel hoe mooi
En rein sij is, mij ideaal,
Mij wonderskone nooi.

Troos

‘Wat! Treur jij oor ‘n meisie?
Ou maat, jij laat mij lag!
En sinds wanneer het die noointjie
Oor jou dan sò ‘n mag?

Mij kragtie, kêrel, skaam jou,
Jij is mos al ‘n man.
En die see is vol van visse –
Ik dag jij wis daarvan!’

Besluit

Kóm, ik gaan weer sterk wees,
En jong en vrolik ook.
Aanbidding gaan mij werk wees,
En verder, gaan ik spook!

Ik gaan geen enkel grief hê,
Ik gaan geen smarte vrees.
Wat skoon is gaan ik lief hê,
En heerlik sal dit wees!

Nou dat mij weemoed weg is
Gaan ik die wêreld in.
Of ik verkeerd of reg is,
Dit traak mij waarlik min!

En als mij wêreld klein is,
Vergeef mij als ik jou
Wat lief en skoon en rein is,
Te veel aanbid, o Vrouw!

Stille skepper

Stille skepper van mij verse,
Jij, wat bij mij blij,
Als die lampe en die kerse
Nie meer lig versprei.

Jij wat wandel aan mij sijde
Als die skemer daal,
Als ik eensaam deur die wijde,
Wijde wêreld dwaal….

Bron van vele jonge drome,
Denk jij ooit aan mij?
Als ik jubel langs die strome,
Liefste, luister jij?

Stille skepper, gee mij vrede,
Gee jou dienaar werk.
Gaan met mij, O, neem mij mede,
Maak jouw maaksel sterk.

Waarom juis ik, o Heer?

Waarom word ik, O Heer,
Deur hom juis uitverkore?
O God, mij hart is seer –
Waarom juis ik, O Heer?

Waarom juis ik, o Heer?
Ik voel mij so verlore.
Gee hom sij liefde weer –
Waarom juis ik, o Heer?

Sonnedaal

Die purper van purpere lugte,
Die lila van sonnedaal –
Die sterwende dag se sugte,
Hul laat mij gedagte dwaal.

Ik denk aan ‘n blonde meisie,
Ik denk aan ‘n kleurige brief,
En ik hoor in mij siel net èèn wijsie:
Ik het haar, O, so lief!

Adoratio

Ik sien jouw beeld in elke blom,
En die sonlig vleg sij reënboog-ringe,
Glorie-kringe,
Aanbiddend om jou om.

Ik hoor jouw stem bij iedere see
Wat ‘s awends laat, bij sterrehemel,
Van branders wemel,
En kniel dan neer, tevree….

Wijding

Welsalig, die, deur Roeping uitverkore,
Aan roeping paar sij liefde vir ‘n vrouw –
Eén grote wijding is mij lewe nou.
Ik adem met ‘n doel, ik is herbore,

Geen enkel dag, geen uur gaan meer verlore.
Geliefde, dit kom ik jou toevertrouw,
En stil-eerbiedig kniel ik neer voor jou,
Mij dageraad, mij jubelende môre!

O, vol is nou mij lewe, vol van kleure,
Eén symfonie van suiwer hartetaal,
Nou roeping, als ‘n wolk van wierook-geure
Met liefdevolle wijding nederdaal.

Wijd-ope staan mij hart, mij siel se deure,
O wil mij tempel met jouw lig bestraal!

In die stilte van mij kamer

In die stilte van mij kamer
Het ik één aand stil gesit,
En, toe het ik jouw klein beeldjie
Ure lang aanbid.

Ure lang het ik gemijmer
Oor ons liefde, oor ons leed;
Oor die grenslose mysterie
Waar ons niks van weet.

Wat is liefde, wat die lewe,
Wat is vreugde, wat is smart?
Kind, ik blij die antwoord skuldig,
Maar ik volg mij hart!

Verlange

Mijn lief is ver, oneindig ver,
Onreikbaar als die kleinste ster,
Wat skitter op dees’ stonde,
Maar o, dis tog so wonderbaar,
Al is ons nou nie bijmekaar,
Ons harte is saam verbonde!

Mijn lief is thuis en ik sit hier,
Waar lente-môre trouwdag vier
So vrolik en so blijde,
Maar o, dit is so wonderbaar,
Al is ik somtijds sonder haar,
Is sij tog aan mij sijde!

Mijn lief is mooi – besonder mooi,
Ik noem haar selfs mijn wonder-nooi
In al mijn soetste sange.
En o, dit is so sonderbaar,
Sij weet, dat haar bewonderaar
Hier sug van diep verlange!

Gistraand

Hoe triestig die wêreld vanaand
Gistraand
Was dit helemaal anders –
Toe was ik nog bij die branders.
Die mense was vrolik,
Die golwe was blij,
Huppelend, skuimend,
Rij aan rij!
En mij liefste, mij liefste,
Sij was bij mij!

O was dit maar weer gistraand!
Vanaand
Is ik stil en verlate –
Weemoedig loop ik deur die strate.
Die mense is vrolik,
Die mense is blij,
Laggend en skertsend
Gaan hul verbij.
Maar mij liefste, mij liefste,
Is nie bij mij!

Ik haat die felle daglig
Ik haat die felle daglig,
Verag die grote son –
Ik sou hul albei martel
En ophang, als ik kon!

Gist’rawend in die maanskijn
Het ik mij nooi gesoen –
Vandag toe ik haar aankijk,
Wou sij dit nie weer doen!

Ik min die sagte streling,
Die streling van die maan –
Die daglig breng verveling,
En maak mij nooi net skaam

Allerliefste

O sê mij nooit, mij allerliefste,
Dat jij ‘n ander meer bemin;
Als dit so is, mij allerliefste,
Wil ik jouw liefde nogmaals win.

Want sonder jou kàn ik nie leef nie,
Om jou draai heel mij wêreld rond;
En wie sal nie sij lewe geef nie
Vir haar in wie hij liefde vond?

Toe antwoord sij: ‘Mij teerbeminde,
Ik het maar net met jou gespeel –
Jij weet tog goed, mij teerbeminde,
Dat ik jouw lief en leed wil deel!’

Ek hou van blou

O vra my nie my liefde,
Ek het dit weggegee
Aan ‘n kleine koringblommetjie
En aan die grote see.

Ek hou van bloue blomme,
‘k Aanbid die hemelblou,
En jou oë vermy dit kòn ek nie –
Ek min hul meer dan jou!

Uit pure pret

Onder die groene druiwe-prieel,
Onder ‘n rijpe tros,
Wou ons graag sien wie langer was,
Ruk ons twee korrels los.

Eers was dit jij, wat ‘n korrel krij,
Springend tot bij die tros.
Jij halfskaam, noem toe mij naam,
Gee hom aan mij met ‘n blos.

Ek, vir die gek, kon mij glad nie rek
Bo tot die druiwe tros.
Jij halfkwaad, gee mij die raad,
Nooit te wees soos ‘n vos….

Toe was dit jij, wat mij regter sij
Kielie uit pure pret.
Ik halftraag, bang om te waag,
Moes op ‘n kansie let….

‘Ope jouw mond, so mooi en rond,
Net om ‘n korrel te krij!’
Heel jouw gesig het toe opgelig –
Ik was langer dan jij!

Was ‘n jonge digter

Was ‘n jonge digter
Uit Suid-Afrika,
Wou gin noointjie hê nie –
Ra-ra, ra-ra, ra!

Kwam ‘n Hollandse noointjie –
Maar ik weet nie bra
Of ik dit mag sê nie,
Taraboemdira!

AS SAANS.

As saans die son stilswygend sterf
Daar oor die wester-rand,
Dan straal hy wondertekens uit
Aan elke wolk en land.

As saans die skemersluier sak
In stille segetog,
Dan veg die dag sy doodstryd vóór
Sy laaste ademtog.

As saans die donker duister daal —
Die doodskleed van die dag —
Dan hou die kinders van die son
Hul ligtend sterrewag.

BEKOORLIK KIND.

Bekoorlik kind! ek weet nie wat dit is
Of hoe dit kom nie; ’k weet alléén maar dit:
Dat ek nog altyd deur jou beeld aanbid
En steeds die tintel van jou oge mis.

Is dit die glans, waarvan ek nimmer wis
Dat dit ’n man so aangryp, altemit?
Of is dit net bekoring? Nee, daar sit
Oneindig veel meer agter dan jy gis.

Dit is die krag, wat digters stil laat staan
Voor al wat lief en skoon is op dees’ aard;
Dit is die Siel, wat so sy wege baan
Van hart tot hart, tot twee aanéén-gepaard
Hul hele lewe sáme verder gaan…..
Lief kind, o maak my lewe lewenswaard!

PROBLEEM.

’n Mot vlieg vol van lewensblyheid
Vas teen ’n soeklig-toring aan,
So spog’rig, asof Lot nog Vryheid
Vir hom bestaan —
En hy vergaan!

Die soeklig gooi sy glinster-strale
Wyd oor ’n see van woesteny —
Verkondig skippers telkenmale:
Bly vèr van my,
Bly vèr van my!

Geliefde! So ’t jou oog-geflonker
My vaak al voor die vraag laat staan,
Of ek moet uitbly in die donker,
Of nader gaan—
Jy trek my aan!

SNEEU.

Sneeu, sneeu, lieflike sneeu
Daal op die aarde neer;
Dit val en dit swewe,
Dit sterf en dit lewe —
O kyk tog, hoe kòm dit al weer!

Sneeu, sneeu, heerlike sneeu, —
Moeder, kom kyk tog hoe fraai!
Miljoene klein vlokkies
In stukkies en brokkies
Word wyd oor die wêreld gesaai!

Lieflik en rein en wit is die sneeu,
Moeder, dit val en dit sweef
In brokkies en stukkies
Met stote en rukkies —
Presies of die hele lug leef!

SLAGVAARDIG.

Jy moet nie bang wees vir die bliksem,
jy moet nie bibber as dit reën;
Moet ook nie skrik nie vir ’n bom nie,
Al was hy ook vir jou gemeen.

Wees dapper as wat swak is wankel,
Wees manlik as jou kinders huil;
En toon die wêreld, Afrikaander,
Wat daar vir skoons in Kaapland skuil.

O volk van my, daar is nog arbeid,
Daar is nog roem, daar wag nog stryd;
Jy moet nie bang wees vir wat kom nie —
Wees slagvaardig, wees bereid!

DINGAANSDAG (1914).

Soas ’n drenkeling, bedreig deur Dood,
Spartel en spat en sy ganse mag verset
Teen woedende waters; en dan ternouernood
Deur magtige hande uit groot gevaar word gered —
So worstel ons Verlede rond vandag
Voor my verstand se oog. Ons hef hom bo
Die See van Lang-Vergeet-Al met die krag,
Wat ons Geheue noem. . . . . En ons sit so
En peins oor wat gely is in die hoop,
Dat volle vryheid nog ons lot sal wees.
Maar ag, ons land het ons met bloed gekoop —
Op menig grafsteen kan ’n mens dit lees —
En tog moet ons, die brekers van die baan,
Die Pioniers, ons pad nog oral slaan!

DIE TWEE BOODSKAPPERS

Aan Dr. W. J. Leyds.

(“Ik wil U nog vertellen, dat in mijn verzameling een foto
voorkomt, waarop onze vierkleur een groote en tevens eigen-
aardige rol speelt, die altijd gedachten bij mij opwekt. Het stelt
voor een groep jonge meisjes (waaronder Generaal DE LA REY’s
dochter), die, allen gehuld in een vierkleur, een dans uitvoeren
op het veld. Het pathetische van het geval bestaat daarin, dat
de foto genomen is na het tractaat van Vereeniging, toen de
boodschapper van Generaal DE LA REY het bericht van het
sluiten van den vrede aan zijn commando had overgebracht,
doch verkeerd, zoodat het commando in het denkbeeld werd
gebracht, dat vrede was gesloten met behoud der onafhankelijk-
heid. Bij mij wekt deze foto niet droefheid alleen: ook hoop.”)

Uit ’n brief van Dr. W. J. LEYDS.

EERSTE BOODSKAPPER.

Ek kom om julle die nuus te bring:
Mense juig, wees bly en sing!
Transvaal het nie verniet gely —
Transvaal is vry!
Transvaal is vry!

Hoera vir die Vrystaat, hoera vir Transvaal!
Hoera vir ons groot Kommandant-Generaal!
Hoera vir ou Kaapland, hoera vir Natal!
Hoera vir die burgers van oweral!

’N VERKENNER.

Wat is dit hier, wat is dit hier,
Word hier ’n bruilofsfees gevier?

MEISIES.

Nee, ons het net die nuus gehoor:
Transvaal het sy vryheid nie verloor!

* * *

En die noointjies dans, dat die stof so staan,
Met die vierkleurvlag om hul lyf geslaan.
Dis polka-swaai
En Kaapse-draai;
Dis siembamba
En siembamba —
Uit blydskap vir
Suid-Afrika!

Die noointjies dans,
En die seuns en mans
Die lag en skerts en gaan te keer,
En sing dan weer:

“De Wet was hier, De Wet was daar,
De Wet was vasgekeer;
Maar dit was glad nie, glad nie waar —
Hy flous hul telkens weer!

De Wet was hier, De Wet was daar,
De Wet was oweral;
Ou French, wat hom ’n strik wou span,
Het self daarin geval!

En De la Rey het opgetree
Daar bo in die Transvaal;
Methuen het hy ’n pak gegee —
En so sy roem behaal!”

* * *

Toe die boodskapper oor die rand verdwyn,
Toe hoor hy nog steeds die bekende refrein:
“Hoera vir die Vrystaat, hoera vir Transvaal!
Hoera vir ons groot Kommandant-Generaal!
Hoera vir ou Kaapland, hoera vir Natal!
Hoera vir die burgers van oweral.”

TWEEDE BOODSKAPPER.

Wat is dit hier, wat is dit hier ?
Skaam julle, om nou fees te vier!
Skaam julle, as ons vryheids-vaan
Diep in ’n doodkis word toegeslaan;
Dáár in die dorp Vereniging
Word nie gedans nie, word nie gesing,
Dáár is net weemoed, dáár is net rou,
Dáár is geen hoop nie vir my en jou.

* * *

En elke oog skiet vol met trane,
Elke keel die slik.
Herdenkend al die deurgestane,
Het meer dan een gesnik. . . .

Maar op ’n tentwa, luid en klaar,
Bid toe die leier van die laer:
“O Gy, wat oor ons lot regeer,
Maak ons weer ééndag vry, o Heer!”

En die noointjies dink by die awendskyn:
Ons hoop is nie weg nie, — sal nooit verdwyn;
En een die sê,
Terwyl hul lê
En staar na die Suiderkruis:

“Vryheid! Vryheid! dierbaar ding,
Waar elke mens na smag,
Van jou sal ek gedurig sing —
jy is ’n volk se krag!”




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Anze en Profiel foto van RiccoRicco is nou vriende

  • Ricco het ‘n nuwe publikasie gemaak