Adam Small
Kô, lat ons sing
Vrinne
lat ons die Bybel oepeslaan
en lat ons daaryt lies –
o Allahoegste Gies
lat hierie woorde na onse harte gaan! –
yt die twiere boek van Mosas
yt die Exoras
yt die viere hoefstuk die ee’ste en die twiere verse –
o God
maak vi’ ons lig moet hierie woorde soes moet kerse! –
toe antwoord Mosas en hy sê: ma’ wat
as hulle my nie glo, nie aan my woorde vat
as hulle sê die Here het nie ga-appear aan my?
ma’ die Here sê vi’ hom: djy sal djou mense lei
wat’s in djou hand?
en Mosas sê: ’n staf
nou vrinne
dit was al wat hy gahad het
hierie man van God
’n staf
’n dooie stok
en boenop het hy nog gahakkel ok
ma’ die Here het toe lank moet hom gapraat
oor hoe hy moet daai kierie doodgaslaat
het die Egiptanaar
en Mosas het sy groote kop lat hang
en toe
toe skielak was daai selfde kierie in sy hand ’n slang!
nou vrinne
die Here het gabring
aan my sy wonnerwerke oek so
hy het gevra wat’s in my hand
en vrinne
in my hand was my kitaar
kô, lat ons sing
Doemanie
’n Proefiet van Jesus djý?
’n proefiet?
djy moet djou palys-hys
djy moet djou aeroplane-motorkar
djy moet daai kamma sêd smile van djou
en djou tears
en djou woerawarra op die pulpit
moet djou skorrelsvol braai-atappels en -vleis?
djou hys ’n woestyn? nou sal mens djou verbeel!
en hoe lyk dit moet djou kale pote vi’ daai streamline ding
hoe lyk dit moet djou toega vi’ die vel van ’n kameel
hoe lyk dit moet daai skorrelsvol vi’ sprinkane en wille hiening?
Die Here het gaskommel
Lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
’n sigaretjie en ’n kannetjie Oem Tas
en dis allright pêllie dis allright
ons kannie worry nie
’n sigaretjie en ’n kannetjie Oem Tas
en ’n lekker meid en lekker anner dinge
oe!
lat die wêreld ma’ praat pêllie los en vas
wat daarvan
wat daarvan
wat maak dit saak
soes die Engelsman sê it cuts no ice
die Here het gaskommel
en die dice het verkeerd gaval vi’ ons
daai’s maar al
so lat hulle ma’ sê skollie pêllie
nevermind
daar’s mos kinners van Gam en daar’s kinners van Kain
so dis allright pêllie dis allright
ons moenie worry nie
OPPIE PARARA
Please mêrim
kamaan smile
kyk net
ons tentjies is vol happiness gapaail!
ag hoe lyk die mêrim dan so suur
foei foei
is die lewe dan asyn
en waar koep die mêrim dit
lyk’s nogal boenop duur
nai, mêrim
toe, toe smile
kyk daar
ons tentjies is vol happiness gapaail!
Die witvrou kannie lag
en sy beveel:
ek wil niks hê nie,
die koelie streng-formeel
Ma’ mêrim, pô-pô, pô-pô en banana
en juicy drywe yt die hartjie van die Kanaän
of hoe fancy die mêrim so ’n vy
kyk net hoe uitgaswel is hy
van bo tot onner ytgady
moenie blush nie mêrim
ons het die blaar daarby
of miskien
Ek wil niks hê nie hoor!
Ma’ mêrim
Ek wil niks hê nie hoor!
Ma’ mêrim
Jou, jou koelie
ek sal nóú die polisie!
Die vrugtevent se stem trek agterna
polisie, polisie?
ag nai mêrim, moet nou nie so spiteful wies nie
sê tog decently goodbye
raai
die kaalgat perskes blow nog vi’ mêrim
Die blanke vrou stáp
oor die parade
klipitie-klap klipitie-klap
Haai mêrim haai
sure mêrim wil nie try onse guavas
ons guarantee hulle mêrim
hulle’s baie goed vi’ die nerves!
GROOT KRISMISGABET
Here
nou weer lowe ons djou
djy wat gakom het vi’ die redding van die wêreld
djy wat gabore is soveel Krismisse galede
in die Betlehem
dja in die Betlehem Here
in die stal
by die donkie
by die koei
in die krip
op die grondvloer
op die sandvloer Here
in ’n plek wat gastink het
in ’n plek waar ’n men’s naar gaword het van die badompagheit
ons ken sulke plekke Here
dja ons ken hulle
on het duplicates van hulle allover
in die Windermere
in die Distrik Ses
in die Blouvlei hierso annerkant die Wynberg by die Ratreat
en daarom lowe ons djou oek hierie Krsmis Here
net djý
net djý wat die grootste experience van almal het
van hierie soorte plekke
net djý kan ons help
net djý kan vi’ ons
miskien nog hierie Krsmis Here
’n nuwe Mosas lat gabore word hier
’n nuwe Mosas
’n nuwe Mosas
o Here, óns Mosas –
ons sal hom wegstiek Here, ons het baie wegstiekplekke
van die daggers wat nie van hom hou nie –
om ons te lei, die hele klomp van ons
te lei tot vlak voor die wingerde van die Kanaän
van die Kanaän Here
Here, ons Kanaän
Love hy is mos blind
oraait young lovers, nevermind
Young lovers, nevermind
Love net young lovers
Moenie care nie,
Kos alles ko tog op ‘n end
Life?
‘Is ‘n sinkplaat ma, ‘it word yt gepluk
Easy.
Deurie bulldozers of assie wind ruk
Trap der bruin jeugd
As ‘n klein kind nog, wis ek
ek was Afrikaans in my hele wese,
of soos ons padlangs sê,
in murg en been.
Ek het reeds besef ek is
vir hierdie taal geleen
en sou myself beskikbaar maak.
Tóé al het ek besluit ek sou
die hoogste sport
in hierdie taal bereik, en nou,
in my ouderdom kan ek tevrede voel
versoen deur die gedagte:
ek het daardie belofte aan myself
gestand gedoen.
Ek was deurgaans bewus
dat alles gruwelik moeilik sou wees
om, as bruin,
op die kruin bo uit te kom.
Onthou Bertolt Brecht se moeder,
hoe hy sê sy’t hom voor sy geboorte
binne haar lyf in die stede van die
koue swartwoud rondgedra,
en dat daardie koue altyd in
sy beendere sou bly?
Onthou ook die gebéúr,
die brawe swoege-orent
van Franz Kafka se kewer?
So het mý moeder my
in ons Bolandse
dorpe in h aar lyf gedra, bruin,
en bruin gebaar,
en dié bruinheid sal altyd in my bly.
Ek het Apartheid gehaat
omdat dit my wou keer
om óp te klim, alles vir jou
met bose gemeenheid bemoeilik.
Daar was vir my tye
toe ek, deur bitterheid verswelg,
alles wou laat vaar.
Maar as telg van haar,
sy wat my gebaar het,
sou ek in bitterheid my lot
nie sommerso aanvaar.
Nou, ná jare en jare, veertig jaar,
eintlik ‘n halwe eeu, het ek
vir myself die Lig gevind, en daardie
klein bruin kind se Wil vervul:
hom ingebind in Afrikaans vir altyd.
Vermeer
’n Ander groot skilder wat my tot
bewoënheid dwing, is Jan Vermeer,
nie net vanweë sy towerwerk met lig nie,
maar, diepsinniger nog, sy greep
op die éénheid van menswees
en dingwees, soos in sy asembenemende
skildery van die boerin wat melk
uit ’n erdekan in ’n kommetjie skink,
waar sy staan by die growwebrood
vir die ete later. En die vrou se liggaam,
bors, arms, heupe, voorkop, alles, sélf
word growwebrood, terwyl die lig
sag inval deur die hortjiesvenster.
VRYHEID
Die see ruk teen die rotse by Houtbaai
ons loop en droom en alikruikels pluk
en nes ons harte om mekaar verruk
draai ook die meeue om ons koppe, alles draai
in een groot sonnige maling van
geluk?
ons glimlag, maar ek weet ons wonder, elk banger
as die ander oor die ongebore klein verlanger
na die vryheid, sy my vrou ses maande swanger
sy en ek ; ons druk mekaar se hande styf en glimlag wranger
ons weet
geluk behoort te wees bloot om die lewe
te lowe soos die oomblik dit weerspieël
in die flikkering van verhale op vis en krewe
op elke trots skuimdruppende klein kiel
van bootjies wat nou baai- en see-in wieg
twee duikertjies glip glad vry in die diepe blou
en hoog oor Chapmanspiek
wiek vry
‘n voëlpaar verby
hoog bo die bootjies wat hieronder wieg
maar hierdie skoonheid heel nie, maak net siek
en hierdie oomblik lieg !
*
die leuen kry gestalte
toe ons die bus na Wynberg haal terug
die middag by die 15de bushalte
ons klim die trap, die bus is agter vol
oorvol
agter waar ons die bruines sit, mág sit
kol-kol kom deur die ruite
die sonskyn oor die akkerbome buite-
deel van die droewe hel van hierdie rit
agt sitplekke is oop voor in die bus
vir blankes net
en ‘n swanger vrou moet staan, sy’s bruin, nie wit
en deur die ruite
kom die sonskyn oor die akkerbome buite-
deel van die droewe hel van hierdie rit
ek vra die kondukteur mag sy maar sit …
my God, mag sy maar sit
mag sy maar sit !
maar watter voorreg is dit tog is jy nie wit
om te mag sit
God ja
net dit
net dit
om te mag sit…
dit maal
maal
maal
mal in my kop
sodat ek siek en mislik voel en naar
ek kyk na haar, my vrou, ek kyk na haar
en God, daar in haar oë is weer die verhaal
waarvan die moontlikheid hier onverklaar
steeds bly :
dit pyn, sê sy, maar ons moet liefhê, ons hét lief, bedaar!
ek antwoord haar
ek antwoord met my oë : dit is waar
ek antwoord : ons moet liefhê, ons hét lief, maar dit is swaar…
ek vra die kondukteur mag sy maar sit
hy skud sy kop
en wys die vinger na die bord, die welbekende bord :
vir blankes net-
vir nie-blankes word vreugde opgeskort
steeds deur die bord-
en ‘n vrou ses maande swanger mag nie sit
en deur die ruite
kom die sonskyn oor die akkerbome buite-
deel van die droewe hel van hierdie rit
ons ry
duisel ek dan?
sien ek nou weer die vrye bloue ruim
sien ek nou weer die meeue hoe hulle vlieg
so dromend dralend
ruik ek die soutreuk van die wind
sien ek die visserbootjies kleurryk see-in wieg
hoor ek die see breek teen die rotse en bruis tot skuim
sien ek nou regtig weer die see, hoor ek die see
proe ek, ruik ek, voel ek nou regtig weer die see
die see?
nee!
nee!
ek sien
ek hoor
ek proe
ek ruik
ek voel-
en moet dit doen, doen as my hele doel-
my eie skreeu om vryheid!
vryheid!
vryheid!
dié van my vrou en ongebore kind
van álle vroue
álle kinders
álle mense wat nie wit is nie …
die bus ruk
en ‘n vrou ses maande swanger staan,
die hele lewe ruk-
is dit vir ons nie-blanke mense dan net waan
geluk?
die bus ruk
en ‘n vrou ses maande swanger staan
die hele lewe ruk en ons almal wat nie wit is nie ons staan
sy staan vir ses, vir sewe myl, sy staan
ons almal staan, staan meer as ses en meer as sewe myl,
staan vir ‘n hele lewe
en agt sitplekke oop, maar sy moet staan
o God, U hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering!
hoor ek die see sing, sing
hoor ek die meeue sing?
nee!
nee!
ek hoor die vryheid
ja die vryheid sing!
want ek sien weer in jou oë die verhaal
en ek soos jy verstaan mos hierdie taal :
dit pyn, sê jy, maar ons moet liefhê, ons hét lief
en dit behoort aan óns
aan óns
op elke rit soos dié
met elke ruk van bus of lewe
die geluk!
o God, U hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering!
hoor al ons mense hoor
en hoor jyself o hart
Gods hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering!
hoor alle vroue, alle kinders, hoor mý kind, hoor goed
hoor goed
Gods hoogste proef is nie die vuur maar die vernedering!
© Adam Small (Kitaar my Kruis)
Toe ek ‘n kind was
Al sou hierdie land myne wees
Maar die liefde ontbreek my
Dan is hierdie land myne met sy armoede
Al sou hierdie land myne wees in al sy godsdiens
Maar die liefde ondbreek my
Dan is hiedie land myne sonder God
Al sou ek hierdie land myne maak deur toegewydheid
Maar die liefde ontbreek my
Dan is hiedie land myne deur my tevergeefse dade
Liefde is nie haat nie en haat word nie deur woorde liefde nie
Want liefde bedek alles behalwe die liefde en die haat
Toe ek ‘n kind was het ek gehaat soos ‘n kind
Maar nou date k ‘n man is, het ek lief soos ‘n kind
As daar nou swart en bruin en wit bly
Dan is die grootste hiervan vir my, die liefde.