AG Visser
AMAKEIA
In die skadu van die berge,
bos-beskut aan alle kant,
staan alleen die hartbeeshuisie
op die grens van Kafferland.
Saggies neurie Amakeia
op die wal van Kei-rivier,
tot hy slaap, die tere wiggie
van die blanke pionier:
“Stil maar, stil maar, stil Babani;
kyk hoe blink die awendster.
Niemand sal vir kindjie slaan nie –
stil maar, al is Mammie ver.”
Amakeia had belowe
toe haar nonna sterwend was,
om die hulpelose kindjie
tot hy groot was, op te pas.
Liefd’ryk sorg sy vir die wit kind,
tot vir hom die lewenslig
straal uit aia Amakeia’s
vrind’lik-troue swart gesig.
Onheilspellend sien sy tekens,
oorlog kom daar in die land:
Snel die inval, huis en hawe
uitgemoor en afgebrand.
Selfvergetend, doodveragtend,
met die wit kind op haar rug,
na die Amatola-berge
het sy ylings heen gevlug.
“Stil maar, stil maar, pikanienie;
oor die bergtop rys die maan.
Niemand sal vir ons hier sien nie;
môre sal ons huis toe gaan.”
Ag, dat oë van verspieders
ook haar skuilplaas moes ontdek!
“Spaar hom, hy’s so klein nog,” smeek sy
met die hande uitgestrek.
Woedend tier die wilde bende:
“Sterf of gee die wit kind hier!”
“Oor my lewelose liggaam …”
antwoord Amakeia fier.
“My belofte aan my nonna –
beste wat daar ooit nog was –
waar hy gaan, moet Amakeia
saamgaan om hom op te pas.”
“Is jul lewend nie te skei nie,
bly dan in die dood vereen –
kort proses met haar, Maxosas,
laat die blink asgaaie reën!”
*
In die Amatola-klowe
sing nog net die winterwind
deur die riete in die maanskyn:
“Tula – Tula – stil, my kind!”
Die roos
Te kort jou skoonheidsduur,
Roos van my hof;
Vir jou volmaakte uur
Die gewer lof!
Te kort ons liefdestyd:
Te lank die rou.
Tog – tot in Ewigheid
Goddank vir jou!
Die swart osse
Die jare kom die bulte oor
Soos sware, swarte osse;
Dwarsoor my hart lê hul spoor –
Die vaalstreep deur die bosse
Die jare kom, die jare gaan,
Al dieper sny die groewe;
Gebroke is ek en gedaan
Deur hulle sware hoewe
Van rose en liefde
Toewyding
‘n Harp het gehang
Voor die deur ongeag,
Die wind het gespeel
Deur die snare by nag.
Die wind deur die snare
Sing sag menig’ lied:
Die hulde wat huiw’rig
Die Sanger U bied!
Word klankloos die lied
Van geluk of van smart,
Die beeld van U skoonheid
Leef voort in sy hart.
Rosa Rosarum
Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag;
Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.
Drome en liefde die lang somerdag.
Kom in die soel someraande en luister
– Wanneer die nagwind hul drome verklaar –
Na die veelvuldige blommegefluister,
Bloesem en bloeisel en blad altegaar!
Kom waar die lelie – die blanke, die reine –
Skugter haar bloesem ontbloot aan die maan,
Blou miosotis – die slanke, die kleine –
Met haar vergeet-my-nie-ogies betraan.
Kom as die maanblom – wit sy en satyne –
As ‘n vorstinne verskyn in haar prag
Onder die wierook van roos en jasmyne –
Skoonste juweel op die bors van die nag!
Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,
Open die lotus haar heilige kelk,
Dan eers bereik sy die hoogste – Nirvana –
As sy in glorie van songloed verwelk.
Bok-bokmakieries sing bly twee-gesange
Wanneer die oggend ontwaak in my tuin;
Saans koer die tortel sy lied van verlange
Bo-uit die troost’lose treurwilg se kruin.
Kom in die aand en geniet van haar geure:
Foelie, jasmyn, angelier, minjonet;
Kom in die môre en kies van haar kleure:
Rooi, wit en goud, groen en blou, violet!
Kom as dit skitter van dou-diamante,
Rosa Rosarum, in my Paradys,
Dat ek my blomme, my bome, my plante,
Roos van my hart, hulle weerga kan wys!
Sachsen-gruss Villanélle
Die rose pryk in sonneskyn
En wag, my lief, om jou te groet:
Sing sag, my hart, ‘n soet refrein.
Die trotse, rooi as karmosyn,
Die spreek van liefdevuur en -gloed
Al prykend in die sonneskyn.
Die witte, beeld van liefde rein,
Werp skaam hul skoonheid jou te voet:
Sing sag, my hart, ‘n soet refrein.
In wit albaster met robyn
Verrys jou beelt’nis, vroom en vroed:
Al prykend in die sonneskyn.
Ek bied aan skoonheid soewerein
‘n Ligrooi roos, ‘n Saksegroet:
Sing sag, my hart, ‘n soet refrein.
Verlange woon in harte rein,
Madonna blank met rosegloed!
Die rose pryk in sonneskyn:
Sing sag, my hart, ‘n soet refrein.
Princesse Lointaine Prinses van Verre
Was jy ‘n rosebloesem
En ek die roos se geur,
Hoe heerlik deur die lewe
Steeds rondom jou te swewe,
Beswymend aan jou boesem,
Betower deur jou kleur.
Was jy ‘n rosebloesem
En ek die roos se geur.
Was jy ‘n lied se woorde
En ek die melodie,
Hoe sou die dag verheerlik
Jou skoonheid so begeerlik;
Die nag tril van akkoorde
En soetste harmonie.
Was jy ‘n lied se woorde,
En ek die melodie.
Was jy die hoogste kranse
En ek die sonnegloed,
Jou wange sou dan verwe
En op jou lippe sterwe
My eerste môreglanse
En laaste awendgroet;
Was jy die hoogste kranse,
En ek die sonnegloed.
Maar jy’s Prinses van Verre
En ek … ‘n troebadoer;
Al gloei ook my gesange
Van liefde en verlange
– Die vuurvlieg vir die sterre –
Wat my ten hemel voer;
Jy bly Prinses van Verre
En ek … ‘n troebadoer.
Ballade van die Roos
‘n Ou Spaanse gesegde noem die volgende drie stadia in die lewe van
‘n roos:
In die môre: rosa pallida.
In die middag: rosa perfecta.
In die aand: rosa incarnada.
Waarheen ook my oë mag staar
En waar ook my voete mag gaan,
Geduriglik droom ek van haar;
Haar beeltenis lief lag my aan,
Ek sien – as die sterrelig taan –
‘n Roosknop wat stadig ontvou: –
– My noointjie van ver-hier-vandaan –
O ‘Pallida Rosa’, vir jou!
Die middagson helder en klaar
Sien neer van sy blou hemelbaan;
Die roos sal haar hart openbaar
Aan wie haar geheime verstaan.
O blomkelk, met skoonheid belaan,
Ek smag op die middaguur lou
– My noointjie van ver-hier-vandaan –
O ‘Rosa Perfecta’, na jou!
Ek ken jou nog nie – dit is waar –
Maar êrens moet jy tog bestaan;
Die aandson gloei rooi op die blaar
En’k voel jy’s g’n ydele waan,
Want rooi sprei die liefde haar vaan!
En donker die oë getrou
– My noointjie van ver-hier-vandaan –
O Roos ‘Incarnada’ – van jou!
l’Envoi
Ek sweer by die lig van die maan,
Prinses, al my liefde en trou,
– My noointjie van ver-hier-vandaan –
‘Incognita Rosa’ – aan jou!
Was ek ‘n sanger
Was ek ‘n sanger
Sou ek besing
Die lag en lewe
Wat lente bring;
Die rosewolke
In bloue lug;
Die goue wonder
As skadu’s vlug;
Die môreglorie
Op druppels dou:
Jou glimlag, liefste,
En oë blou!
Was ek ‘n sanger
Sou klink my lied,
Vorstinne Somer,
Oor u gebied!
‘n Lied van weelde,
‘n Son-sieraad,
Van velde en tuine
In bruidsgewaad:
Jou rose wange
O liefste myn,
Jou sagte lippe
Inkarnadyn!
Was ek ‘n sanger,
Oor berg en dal
Sing’k najaarsrykdom
Eer blare val;
As al die bome
Vol vrugte hang,
Die boord weergalm
Van voëlsang –
Namiddag-vreugde,
Vry – onbeklem:
Jou rype skoonheid
Jou soete stem!
Was ek ‘n sanger,
As winter kom
Sou’k sing van rose
In volle blom!
Dis nie net lente
Wat skoonheid bring:
Die aandblom soet is
Herinnering!
Die vuur van binne
– Word buite ook koud –
Gloei dan eers helder:
Jou hart van goud!
Geboorte van die Lente – Aan E.S.
Gelukkig en bly was die dag
Toe die Reent met die Sonskyn gaan trou het;
Veelverwig die boog wat die Lug
Vir ‘n troupresent kunstig gebou het.
Getwis het hul eens op ‘n dag
Met ‘n storm verwytende woorde;
Die Sonskyn verdwyn en die Reent
Word ‘n haelbui koud uit die noorde.
Versoen raak hul weer en betaal
Agterstallige Liefde – met rente! –
En Sonskyn en Reent juig tesaam
Oor ‘n liewe klein dogtertjie: Lente!
Visioen
Decies repetita placebit.
Liewe Lettie, as jy speel
Rys voor my ‘n droomkasteel
Waar jy troon as Koningin
– Diva van die toon-altaar –
En jy wenk die Bedelaar
Aan die poort jou woning in.
Klanke soet verruk sy sinne;
In vervoering tree hy binne
In jou wonderskoon paleis,
Salwend vir die siele suis daar,
Rein as eng’lestemme ruis daar
Tone uit die Paradys.
Aan die Poort-van-duisend-smarte
Staan daar duisend droewe harte:
Stadig gaan die deure oop.
Al wie intree ken geen smart meer,
Al die droefheid al die hartseer
Word weer vreugde, word weer hoop.
Op die groene Saal’ge Velde
Sing die Skone, juig die Helde
In hul frisse sterke jeug.
Gode-ambrosyne groei daar,
Nektar, vreugdewyne vloei daar,
Blydskap bruis in elke teug.
In die Vryheid knel geen boeie;
Aan die Ware, Skone, Goeie
Is die lewe toegewy!
Elkeen weet daar by ervaring
Van die raaisel die verklaring:
Lewe is enkel harmony.
Langs die somersee se boorde
Wieg op smeltende akkoorde
Oor die blou sy bootjie sag;
In ‘n goue reën dalend,
Deur die Hemelpoorte stralend,
In die weste sterf die dag.
Alles kry ‘n nuwe waarde,
En hy is nie meer op aarde;
In ‘n blou etêries’ lig
Opwaarts styg hy na die sterre,
Tot hy, huiw’rend en van verre,
Skou die Algoedheids aangesig!
Stil die klanke – weg die luister –
Oor die landskap daal die duister;
Ewig in sy hart bewaar
Weerklank van die harmonieë,
Nagalm van die melodieë
Aan die poort die Bedelaar.
Moederliefde
Ave! Mater dolorosa.
Salve, mater renidosa.
Langs die blou pad van die stilte,
In ‘n wydgewiekte vlug,
Met die eeue op haar vlerke
Klief ‘n Engelin die lug;
Oor saffiere-hooggebergtes
Deur d’ onmetelike ruim,
Tot die witte wolkkolomme
Wegdein tot klein vlokkies skuim;
Aldeur stygend tot sy aanland
Voor ‘n poort van ametis,
Waar daar ruis ‘n duister-skone
Himne van geheimenis,
In die Skemerland van Sluimer
Waar die kleine sieltjies wag
Op die stonde van ontwaking,
Op die eerste lewensdag.
Oor die bronaar van die lewe
Dreun ‘n rune van alruin
Van verborge wordingswonder
Tussen suile van arduin.
Luidloos weef die skikgodinne
Onherroeplik elke draad
Van oorerwing en omgewing
Voorbestemming, goed en kwaad.
Met ‘n teerheid onuitspreeklik
Met ‘n soete siddering
Spreek sy: ‘Ek heet Moederliefde,
Welkom kleine vreemdeling!
In paleise, in hoë halle,
Wat met prag en sieraad pryk,
In die vrede van die hutjie
– Maak ek almal ewe ryk!
Kom met my, ek voer jou veilig
Deur die grenselose ruim
Tot die marmer-wolkestapels
Opdoem soos wit vlokke skuim.
Swewend oor die persblou berge,
Oor die groenblou oseaan,
Na ‘n vrindelike huisie
Waar ‘n wiegie ledig staan;
En ‘n moedertjie, vergetend
Al haar pyn en al haar smart
– Dure moeder-offerande –
Jou sal vasklem aan haar hart;
Waghou oor jou eerste skrede,
Jou sal troetel op haar skoot
En oor jou geluk besorg wees
In die ure van haar dood!
Al haar hoop en al haar liefde,
Al haar warmste hartebloed
Is jou erfdeel vir die lewe,
Gaan dit kwalik, gaan dit goed.
Slegs haar eindelose erbarming
Is genoeg, in vreugde en smart,
Vir die eindelose weedom
Van die arme mensehart.’
Priesteresse sy – vestale –
Wat die heilige vuur bewaar
Van wat waar en skoon en goed is
Op die haard en huisaltaar.
Blye sonskyn op die velde –
Sonskyn in twee harte bly –
Want ‘n kindjie is gebore
En ‘n huis gebenedy!
Bede
En ik zag eenen nieuwen hemel en eene nieuwe aarde. Openbaring van Johannes
Hoe sal verduur die bron van lig
‘n Arme kind van duister stof,
Waar Vorste van die hemelhof
Staan met bedekte aangesig?
Gee aan Profeet en Martelaar
Die duur verdiende oorwinnaarskroon
Waar Serafs skitter, Magte troon –
Te midde van U Engelskaar –
Maar my – vergun U goede Gees
– Ek smeek U dit, ek durf nie meer –
‘n Plekkie op die aarde weer,
U nuwe aarde wat sal wees.
‘n Heiligdom van boom en blom
Waartussen voëltjies bly gesels,
Klein armpies my nog eens omhels,
Klein voetjies my weer teëkom.
Laat sag daar ‘n Verskyning ruis
Wat grasie, vreugde en skoonheid is
En liefdes soet geheimenis
Bekoring bring aan hof en huis;
‘n Bergtop in die vrye lug
Met groue newels aan sy voet,
Pers wolke wat die aandson groet;
Wit swane op ‘n verre vlug.
Laat Nag daar weer die Dag vervang
En rus die werk van hand en gees
En laat daar ook nog Winter wees
Dat ons na Somer kan verlang.
Die daag’raad oor die Oostertrans
In newelsluier opwaarts gaan –
‘n Bruid met goue skoentjies aan
Wat juigend op die berge dans;
Wat blydskap wek langs heel haar pad
Tot sy die Weste vuurrooi verf;
En toon ons, as haar luister sterf,
Die lampe van U wonderstad.
Al kan ons nimmer opwaarts vaar
Op vleuels van ekstase hoog
En nimmer met verklaarde oog
U oer-geheimenis ontwaar: –
Die wanklank in die harmonie –
Waarom die skoonste blom verwelk –
Die droesem in die lewenskelk –
U skeppings somb’re trenodie;
Al kan g’n klanke tot ons dring
Nooit op die aarde nog gehoor
En nooit vertolk deur mense-oor:
G’n hooglied wat U sfere sing;
Laat lag en lied soas weleer
‘n Hemelhuis vir Liefde maak
– Dit het ek reeds op aard’ gesmaak –
Skenk ons die liewe Aarde weer!
Laetitia – ‘n Lied van my beminde
‘n Lied van frisse maagdeskoon,
Blou oë waarin die hemel woon,
Van lokke wat met songoud gloei,
Van wange waarop rose bloei;
‘n Mond waar soentjies lonk en lag.
Op lippe roos en warm en sag,
Van hande vlug en wit en fyn,
Bekoorlikheid in elke lyn;
Van skelme kykies op en neer
‘n Glimlag van ons liewe Heer!
Lieftalligheid van Godsgena,
Laetitia Dulcissima!
‘n Blye lied van blyste dag,
Die son breek deur die wolke-rag;
Die orrel speel ‘n jubeltoon;
Daar kom ‘n koningin te skoon:
My bruid, my skat, in wit gewaad!
‘n Sluier oor haar lief gelaat.
Ons kniel tesaam voor Gods altaar
En liefde en trou sweer ons mekaar;
Dan blomgestrooi, musiekgeluid!
Was ooit so ‘n dag, was ooit so ‘n bruid?
‘k Staar in verbeelding haar nog na
Laetitia Bellissima!
Van kleine Moedertjie ‘n lied!
Die grote wonder was geskied;
Met oë stralend van geluk,
Haar eerst’ling aan haar hart gedruk.
So teer as Onse Liewe Vrou
Die Heiland spraakloos het aanskou,
Kon sy net kyk – niks anders doen
As telkens die klein handjies soen.
‘Is jy ook bly?’ vra sy bewoë,
Misterie, wonder in haar oë.
‘My hart kan sy geluk nie dra;
Laetitia Carissima!’
‘n Lied van marmer-wit gesig,
Van dierb’re oë sonder lig;
Die liewe lippe bleek en kil;
Die warme hart vir ewig stil;
Die hande op haar bors gekruis,
Vir lange rus in laaste huis;
Madonna-lelies op haar skoot,
O, kalme Skoonheid van die dood!
Die Heer het menig’ ligpaleis
En daarheen sal haar siele rys
En daarheen volg my liefde haar na;
Laetitia Beatifica!
Die donkerstroom
To sleep – to sleep – perchance to dream!
Shakespeare
Ek wonder steeds of ons eendag,
Daar anderkant die donkerstroom,
Of ons sal weet en voel en lag
En in die lange slaap nog droom.
As ek kon droom en fantaseer
In skaduryk hierna, dan sou –
Dan sou ek geen geluk begeer
As, Liefste, net te droom van jou!
Stella Aeterna
Hoe dikwels het ek nie gestaar
In sterrenag na gindse kus;
Die groot heelal gesmeek: O waar
Is nou haar plaas van heilige rus?
Kyk sy van verre hemelstraat
Verlangend na die aarde t’rug?
Lees sy die smart op my gelaat?
Verneem sy soms ‘n diepe sug?
Onthou sy nog haar man, haar huis,
Ons kindertjies so klein en teer?
Of kom sy snags met sag geruis
En al die liefde van weleer?
Die kleintjies slaap – die Engele wag –
Sag gaan die borsies op en neer,
Want Moedertjie kom elke nag
En nou is daar één Engel meer.
Wel weet ek – waar sy ook mag wees –
Op sterrebaan, in lig-paleis,
Daar kom ‘n blydskap oor die gees,
‘n Lig as van die Paradys.
Want skoonheid is daar wat verruk,
Wat uitblink as die daeraad;
En sterre strooi van rein geluk
‘n Silwerreën oor haar gewaad.
Sy was die vrede vir my gemoed,
Sy kon die teerste snaar laat tril;
Met liefdevuur en minnegloed
Begeerte wek, verlange stil.
O kom tot my in drome weer
Oor wydtes van onmeetlikheid;
‘n Straal van lig en hoop send neer
Uit verre grens van Ruimte en Tyd!
Humoresk (Heine-sk)
Nox serena sideribus in lustris.
Langsaam daal die skemerduister,
Uit die weste wyk die luister
Wyl die aandwind streel en fluister:
‘Moeë aardryk, rus!’
Onder my die barre rots,
Rondom dowwe golfgeklots,
Waar die branding breek en bots
Teen die suiderkus.
‘k Hoor die naam van my beminde
In die suise van die winde
– Die gewiekte, die geswinde –
Landwaarts oor die meer;
In die oseaangesang,
Ewig, eind’loos aan die gang,
Met ‘n onweerstaanb’re drang
Wiegend’ heen en weer.
In my hart ontbrand verlange,
Want haar beeld uit die vergange
– Deur geen ander ooit vervange –
Lag my liefd’rik aan.
Luidloos is die nag gekom
Met haar sterremantel om,
– Donker kleed met lig geblom –
Op haar bors die maan.
Kon ek maar, uit die parterre
Van die hemelruimtes verre,
Sou ek met die skoonste sterre
– Skynend’ skitterskrif –
Uitfestoen haar naam omhoog
Glansend aan die hemelboog
Name voor my geestesoog
Op my hart gegrif! –
Aan die trans vlam na sononder
Saans die ligtelaaie wonder
Weergespieël in waters onder
Klaar en kristallyn.
Heel die skepping sal aanskou
Hulde aan skoonheid, liefde en trou.
Aan die adel van ‘n vrou
Tot geen ster meer skyn!
Die liefde van die see
Droomverlore op die strand
Lê ‘n knapie in die sand
– Die wit sand van die see;
Al nader kom die vloed so sag,
Die branders pronk met seeskuimprag,
Die goue sonlig glim en lag,
Die bloue lug lag mee.
‘n Windjie kom van oor die baai,
‘n Windjie wat al singend waai
En soos ‘n moeder sus.
Tot by die slaper styg die vloedjies,
En spoel al om sy blote voetjies,
En fluister in sy oor so soetjies:
‘Lief knapie, slaap gerus.’
‘Lief Landkind, jy hoort aan die see –
Ek het jou lief, ek sal jou gee
Al wat jou hart verlang!
Ek sal jou al my skatte wys:
My wonderskoon kristal-paleis.’
Soos golwe-deining daal en rys
Die soet meermin-gesang.
‘Daar op die bodem van die see
Daar staan die burg ANEMONE
In groen-blou maneskyn;
Van diamante is die vloer,
Die dak van reinste perlemoer,
Die mure met smarag gesnoer,
Die deure van robyn.
Omring van al haar prag en praal
Op ‘n verhoog van wit koraal
Troon daar die koningin’ –
Die knapie hoor ‘n dof gesuis;
Dit groei asof die stormwind ruis,
Dit is die oseaan wat bruis –
Die golwe sleep hom in!
‘n Moeder dwaal al langs die strand,
‘O wrede wind, O valse sand,
O trouelose meer!’
So kerm en klaag sy nag en noen;
En hy? Sou hom die meermin soen
In seepaleis met skulp-festoen?
Wie weet? Hy kom nooit weer!
Geheimnisvolle oseaan,
Wat meen jou ewig kom-en-gaan?
Jou rustelose gees?
Ek vrees jou weergalose krag,
Jou wee-geklaag by sterrenag,
Die bloue wonder van jou lag,
Jou liefde … allermees.
Die Tuinman
Spit, o Tuinman, spit diep, tot die aardlippe klou,
Drenk die vetste van aarde met lawendste dou
En dan wag. In die nag bring Hy blomkelkies broos,
Want Hy ken die geheim van die vorm van die roos.
Snoei, o Tuinman, snoei flink – hou die knoppe gerig
Na die son, want die roos is ‘n kind van die lig:
Laat ‘n sonstraal hul wek met ‘n kus uit die Oos –
Hy ken ook die geheim van die kleur van die roos.
Spoel, o Tuinman, spoel goed – hou die vyande weg,
Rein van bloesem en blad kom die roos tot sy reg.
Slaap dan sag, want Hy kom voor die môre nog bloos
En Hy ken die geheim van die geur van die roos.
Vang, o Tuinman, die attar wat drup in die nag
En geniet van jou kleur-karnaval elke dag;
En as winter dan kom en jou tuin alles derf,
Dink: Hy ken die geheim van die skoonheid wat sterf.
Bid, o Tuinman, bid steeds, dat jou gaarde nie kwyn,
Dat haar heerlikheid nie van die aarde verdwyn,
Voor Hy eendag ook jou – en dit sy jou tot troos –
O so saggies sal weghark tesaam met die roos.
Eheu fugaces …
Si jeunesse savait.
Si vitesse avait.
Onthou jy nog, Anita lief,
Die aand daar by die strand,
My hart vir jou ‘n ope brief,
Jou handjie in my hand?
Die maanlig het die see gesoen,
Die see … die strand, nog heet –
En ons … wat kon ons anders doen?
Kan ons dit ooit vergeet?
Cherie Yvonne, het jy vergeet
Die les in Afrikaans?
Die beste taal het ons geweet,
Die tyd in ou la France.
En aan my hemel onbewolk
Was jy die goue son;
‘Toujours l’Amour’ was onse tolk;
Onthou jy nog, Yvonne?
Mooi Gretchen, kan jy nog onthou
Ons tyd van soete min?
Die Neckar met sy waters blou,
Jou ogies blou daarin?
Die donkergroene dennewoud
Was liefdes-heiligdom –
Alt Heidelberg, die jeug van goud,
En jy – sal nooit weer kom!
En, bonnie Jean, onthou jy nog
Die eiland van die Swaan?
Ben Lomond en die donker loch
By heldere somermaan?
Aan rosebanke trek ons twee
(Was dit ‘n droom – wie weet?)
Wit swane oor die lewensee –
Kan ek dit ooit vergeet?
Maar eenmaal in die lewe kom
Die liefde weergaloos;
En eenmaal in die gaarde blom
Volmaak ‘n wonderroos.
Verwelk, helaas, my tuin se prag –
Weg met die donker stroom –
Die wind deurwaai my hof by nag
En vind my met my droom.
O lippe wat nog lag en lonk!
O harte wat nog klop!
Steeds doem gestaltes ewig-jonk
Uit die verlede op.
‘Eheu fugaces anni …’ sing
Gedagtes wat nou skroei;
Op velde van herinnering
Pers amarante bloei!
Verplante blommetjies
1 Swaansang
And the wild swan’s death hymn took the soul of that waste place with Joy hidden in Sorrow. Tennyson
Weerspieël in die stille stroom,
Sag vlietend na die see,
Die beeld van Werklikheid en Droom,
Dryf swaan en skaduwee.
Al singend wou hy sonwaarts styg
Vér deur die bloue swerk;
Al swygend het sy hoof geneig,
Want kragt’loos hang sy vlerk.
Maar plots’ling, met ‘n wonderkrag
Ontvlam ‘n wilde gloed;
Daar, met ‘n magt’ge vleuelslag,
Styg hy vanuit die vloed.
‘n God’lik skone lied weerklink –
‘n Lied van liefdesmart.
O saal’ge dood, hy val, hy sink,
Gebroke was sy hart!
2 Vraag en antwoord
Die goue son het ek gevra:
Weet jy wat liefde is?
Sy antwoord was … ‘n stroom van lig
Deur diepe duisternis.
Die rooie roos het ek gevra:
Is liefde skoonheids kind?
Haar antwoord was … ‘n soete geur
Op wieke van die wind.
Die blye stroom het ek gevra:
Is liefde wel of wee?
Sy antwoord was … ‘n melodie
Sag singend van die see.
Die nagwind het ek eens gevra:
Is liefde vreugde of smart?
Toe suis daar sag ‘n sug van pyn
Stil knaend aan die hart.
Die Goedheid self het ek gevra
Wat of die liefde sy:
Of heil’ge erns òf louter skerts?
Toe gee Hy jou aan my.
En nou ek in jou hart mog lees
Jou soet geheimenis,
Nou weet my hart – nou vra ek nie …
Nie meer wat liefde is!
3 Duisend-en-een
Die Nag het duisend oë:
Net één die Dag.
Tog wyk dié uit die hoë,
Volg ‘n wêreldnag.
Die Gees ken duisend sterre:
Net één die Hart.
Tog lonk dié nie van verre,
Volg ‘n lewensmart.
4 Sy
‘n Tuin gelyk
In lentebloei
Het sy gegroei
So roseryk;
Met goud gekroon,
‘n Sonnelus,
So onbewus
Van al haar skoon.
Haar frisse jeug
So lenig slank,
So lelieblank,
Was louter vreug.
‘n Lelie fyn
En sorge-vry
Het sy gebly
Madonna-rein.
Verheugenis
En raserny
Veroorsaak sy,
So sonder lis,
Vir jou en my.
Vertwyf’ling hou
Die lelie-roos
Vir my en jou,
Toe al en nou,
En eindeloos.
Tot waar ons weer die sterre sien
U wat die Groot Heelal gebied,
Onpeilbaar Wese en Verstand,
U hou Orion in U hand
En hang die Aarde aan ‘n Niet.
Ek lees U skrif op elke rots,
Ek hoor U stem in die orkaan,
Ek sien U oog in son en maan,
U hartklop in die golfgeklots.
U skoonheid straal uit elke roos,
U blydskap klink in kinderlag,
U reinheid daal in sneeuvlok sag,
Uit elke wolk U traan van troos.
U voete gaan langs elke weg,
U perke is oneindigheid;
Ons kan geen grens van ruimte of tyd
U teenwoordigheid ontseg.
Dit tog, dit is ons hoogste roem:
U beelt’nis blyk in ieder mens;
Dies leef in hom ‘n sug – ‘n wens
En iets wat U wil ‘Vader’ noem;
Die hoop dat in verderflikheid
Iets woon wat altyd sal bestaan,
Wat met die liggaam nie vergaan,
‘n Kiem van U onsterflikheid.
‘n Sprankie van U lig miskien
Wat deur die donker doodsvallei
Die noue weg langs ons sal lei
Tot waar ons weer die sterre sien!
2 Van volk en vaderland
Vry! (Sonnet)
Op swarte agtergrond van al wat ons moet ly
Blink as ‘n ster in duist’re nag die een woord: VRY!
U het, O Heer, ons volk met eie hand
Gelei, opdat hul rein U woord bewaar,
Van Noord tot Suid langs weë wonderbaar
En onder vreemde sterre hier geplant.
‘Om vryheidswil, verlaat die Suiderstrand,
Trek Noord en deins terug vir geen gevaar!’
‘t Was U bevel. Van Kaap tot Ewenaar
Lê nog ons bloedspoor deur die donker land!
Om weer – die vadererf verwoes, verbrand –
Na naamloos’ leed die onderspit te delf
In ongelyke stryd teen dwinglandy!
Ai, my! Ons ken geen ander vaderland.
Die drang na vryheid kom tog van U self;
Maak, Heer, ons volk, U Benjamin, weer vry!
Ruiters van die nag
Op die berge troon die Vryheid
Met haar reine sneeuseintuur,
Met haar diadeem van blyheid
En haar mantel van asuur.
Voorspoed, vrede bring sy alle,
Vreugde aan elke kreatuur;
Heldemoed woon in haar halle,
In haar hart die heil’ge vuur.
Kuns en kennis, lig en lewe
Bloei en blink waar haar banier
Wuif en wapper, swaai en swewe,
Bande-brekend seëvier!
Nie alleen op berge troon sy;
Op die onafsienb’re veld,
Vlaktes van die Vrystaat, woon sy;
En die boerseun word ‘n held.
Word ‘n held van Godsgenade,
Met ‘n wêreldroem en faam –
Onvergetelik sy dade
En onsterfelik sy naam!
En hy leer aan Groot-Brittanje,
Wat, in dae van weleer,
Die grandees en dons van Spanje
Tagtig jare lank moes leer: –
Dat die stryd nooit is verlore,
Want die vryheidsideaal
Word steeds uit haar as herbore,
Tot sy glansryk segepraal.
Op ons vlaktes, op ons velde,
Leef ons grote Generaal,
Sweef beskermend met sy helde
Tussen Grootrivier en Vaal!
Nimmer gaan ons nasie onder
As ons in gedagt’nis hou
Al die adel al die wonder
Van sy mannemoed en trou.
Nagt’liks hef sy wagkommande,
Rondom die oranjevaan
Met die mousers in die hande,
Die aloude krygslied aan: –
Vegters vir vryheid, dis opsaal en ry!
Mouser’s die boerraad teen dwingelandy;
Ryperd en ruiter in duister gedrang,
Saalkraak en staalklank van stiebeuel en stang!
Reg vir ons eie land!
Veg vir ons vrye land;
Wie kan ons stormende eskadrons keer?
Bom nog kartetse,
Kom by De Wet se
Donder van hoefslag en blits van geweer.
Tien maal tienduisend ruk op teen De Wet,
Boerridder, held, sonder blaam sonder smet,
Vas is hy weer vir die soveelste maal,
Vas in ‘n dreigende ringmuur van staal,
Longtom en lugballon –
Pompom en snelkanon –
Helios sein: ‘Elke weg is versper;
Meld aan Brittanje,
Held van Oranje
Christiaan de Wet het geval soos ‘n ster.’
Middernag klink die kommando: Saal op!
Stadig – nou vinnig – dan wilde galop,
Net soos die miswolk verdwyn voor die son
Wyk voor De Wet die vyand’lik’ kordon.
Voornag nog ingesluit,
Voordag ‘n trein gebuit,
Hoor dis die Boer se pompom wat daar skreeu;
Veg – nie meer vlug nou,
Reg in sy rug nou
Storm die verwonde en woedende Leeu.
Swart is ons land deur nog swarter verraad;
Ligtelaai styg met ons smart ook ons haat,
Maar by ons brandende huise se gloed
Staal word ons arm en onwrikbaar ons moed.
Eng’land se wandaders,
Dwing’land se skanddaders,
Mag uit die hel, wat van ‘Witdoeke’ wemel,
Moederverraaiers,
Broedertwissaaiers,
Skou uit hul rampspoed die Helde se hemel.
Hoog met ons vaandel, die moed hoog gehou!
Eenmaal word Vrystaat sy naam weer getrou.
Altaar van Vryheid, ons offer ons goed –
Al wat ons liefhet, ons kosbaarste bloed!
Wapper Oranjevaan
Dapper teen stormwind aan:
Bloedbevlek, stukgeskeur, waai oor ons vry!
Merk, Heer, ons lyde,
Sterk weer ten stryde.
Vegters vir vryheid – dis opsaal en ry!
Die jongste burger
Sed miles,
sed pro patria.
1 Die kamp
In die kamp van die vroue heers stilte en donker,
Die ellende genadig bedek deur die nag.
Hier en daar in ‘n tent nog ‘n flou liggeflonker,
Waar die Engel van Meely – die Doodsengel – wag.
In die plaas van verdriet en van loodsware harte
Lê ‘n knapie te snik in ‘n troost’loos geween.
O wie tel al die trane, wie meet al die smarte
Van ‘n weeskind verlate, op die wêreld alleen!
Want sy vader was vroeg in die stryd al gesneuwel.
Na die kamp toe moes moeder toe die huis was verbrand.
Sy en Sussie lê daar aan die voet van die heuwel;
‘Wees getrou,’ het sy sterwend gesê, ‘aan jou land!’
Maar meteens word hy stil, hou sy asem en luister:
Uit die verte verneem hy ‘n dowwe gedruis,
‘Dit is waens en perde wat trek in die duister,
Soos die Boerekommando die aand by die huis.’
En ‘n vurig’ verlange laat ril al sy lede
By die denkbeeld: daar trek van ons mense verby,
En hy kruip by die skildwag verby – net ‘n skrede –
Deur die doringdraadheining … Goddank hy is vry.
Nie die grynsende nag, nog die skoot van die skildwag,
Nie die snerpende kou laat hom huiwer … hy’s weg …
Half verkluim, by De Wet bring hom een van die brandwag:
‘Generaal, hier’s ‘n burger wat ook kom help veg!’
2 Die laer
Bleek word die held van ‘n honderd gevegte;
Duister die anders so heldere oog.
‘Moet ook ons kinders nog sterf vir ons regte?
Vaderlandsliefde, u eise is hoog!
Vryheid verg hier vanuit onse geleed’re
Manne van moed wat gevare uittart.
Maar in die kamp ook die moeder, die teed’re,
En die onskuldige kind aan haar hart.
Wie by ons aansluit het net een verwagting:
Daagliks die dood in die oë te kyk.
Honger en dors te verduur met veragting;
Nimmer die eindpaal of doel te bereik.
Berg oor waar nooit nog ‘n hoefslag-gedonder,
Stroom deur waar woes rol die bruisende vliet,
Krans af waar swart gaap die afgrond daar onder;
Blokhuis en haakdraad ‘n pad deur te skiet.
Vlug as die springbok die vyand ontwykend,
Blitssnel hom later te spring in die sy;
Nou soos die aad’laar sy planne afkykend,
Dan soos die leeu van hom buit weer te kry.
En die beloning? … Miskien op die velde
Eensaam ‘n rusplaas, benat deur geen traan.
Eenmaal, wie weet? eer die nakroos ons helde …
Seun, sien jy kans?’ ‘Generaal, ek sluit aan!’
3 Die slag
Soos sprinkaneswerms kom vanuit alle oorde
Die vyand, toe die oggend die laer bestraal –
Van Môre en Awend, van Suide en Noorde!
By De Wet net ‘n handvol, maar manne van staal.
Verniet al hul voetvolk en ruiters en bomme!
Niks baat ook die drie maal verdubbeld’ kordon;
Hy breek soos ‘n warrelwind deur die kolomme
Met agthonderd burgers en Danie Theron.
Die stofdamp verdwyn en die krygsrumoer swyg weer,
En sag daal die nag oor die bloedige veld,
Waar buld’rende moordtuig en mouser nie dreig meer –
Sieltogend lê menige strydros en held.
Tesaam vriend en vyand. Die Rooikruis kry later
‘n Arme klein seun met ‘n koeël deur die bors:
‘Ag, Omie, bring gou tog vir my bietjie water;
Die pyn kan ek uithou, maar o, nie die dors!’
Gelaaf word sy lippe, verbind al sy wonde,
Maar ru was die storm en die stingel gekraak.
Diensvaardige Meelyde daar aan sy sponde
Kon sien elke uur, hoe die Skadu genaak.
In brandende koors yl hy: ‘Daar kom van verre
‘n Grote kommando … hul roep my op my naam.
Kyk, al die wit perde … daar naby die sterre …
O daar is my vader … ‘k gaan saam, ek gaan saam!’
Die oë word flouer en slapper die hande;
‘n Glimlag verstyf op die koue gesig –
So sag as die aandson daar ver op die rande
Nog rus, met ‘n soengroet van liefde en lig!
As hy kom …
As die oproep weerklink: Na die strydperk van eer
Want die vaderland is in gevaar,
Saal die burger sy perd op en gryp sy geweer,
En die ure van afskeid is daar.
Waar ek gaan, gaan jou beelt’nis, my Liefste, alom:
Maar my hart laat ek ewiglik hier.
As ek kom, as ek kom, as ek eendag weer kom,
Word ons bruilof, my Liefste, gevier.
Ag die stryd was so lang en die dae so bang
En nog banger elk’ slaaplose nag,
Tot die glans uit haar oog wyk, die blos van haar wang,
Het sy dae en jare gewag,
Steeds gewag en verwelk soos ‘n kwynende blom
Wat die tuin van haar hart nie meer sier; –
As hy kom, as hy kom, as hy eendag weer kom,
Dan sal liefde en trou seëvier.
Al die burgers kom tuis en sy soek langs die ry
Vir ‘n lang, lang verwagte gesig,
Hulle kom, hulle gaan, nou is almal verby …
Uit haar wese verdwyn al die lig;
En die lied, soveel male herhaal al, verstom …
Hy lê ver op die slagveld van eer …
As hy kom, as hy kom … hy sal nimmer weer kom,
Net verlange en hartseer kom weer.
Die ou Voortrekker
Ende hij stierf oudt ende der dagen zat. Bybel
My kinders om my bed geskaar
Ek voel die lange tog is klaar,
Die laaste uitspan daar –
Dank Heer, dat U aan gindse kus
Die moeë trekker gun sy rus,
Na opdraans lank en swaar.
Die ou familiebybel daar
Moet julle meer as goud bewaar;
Hy was deur al die swaar
My raad en troos in tyd van nood,
Nou in die ure van die dood
My vaste steunpilaar.
Daar aan die muur hang my geweer,
Bewaar hom goed. Hoe menig’ keer
By dreigende gevaar
Was net sy snelle, wisse lood
Ons een’ge redding van die dood
Deur roofdier of barbaar!
Majoebaberg die ken sy knal;
Die grootwild het voor hom geval,
En leeus die stof gebyt!
Mag daar nooit iemand met my van,
Wat nie kan skiet – geen weerbaar’ man –
Die lewe hulploos slyt.
Besonders wil ek julle vra:
Hou vir gedagt’nis my ou wa –
Wat het hy nie deurstaan?
Hy was ons huis as onweer dreig,
Ons vesting sterk in felle kryg
Met Silkats en Dingaan!
Hy kan getuig van moedermin:
Die Lewe het in hom begin;
Die kille Dood ken hy.
Wat ‘n verhaal kon hy ontvou
Van mannemoed en vrouetrou
En eerste liefde bly!
Gee aan ou Poon, my laaste perd,
Genadebrood. Hy is dit werd.
Vir hom is daar geen geld!
Hoe dikwels het ons twee gedeel
My laaste bietjie mieliemeel
Daar buite op die veld!
My kinders, bly die grond behou;
Onthou julle afkoms; wees getrou!
Laat vreemde sedes staan!
Al bars die swaarste onweerswolk
Oor ons, tog bly ons nog ‘n volk
En sal ons voortbestaan.
Daar’s nog ‘n ou Transvaalse vlag –
Bewaar … wie weet … miskien … eendag –
Ek sal daar nie meer wees –
Maar mag ons eie vlag weer waai,
Vat my geweer en skiet en laai –
En … Heer, ontvang my gees!
Voor in die wapad brand ‘n lig
Vryheid, woord van alle woorde
Wat die mensehart beroer,
Op jou wekroep na die Noorde
Trek die stoere, kleine Boer.
In die leerskool van gevare –
Wilde diere en barbare –
Word gebrei sy kinderjare.
Onder swaarkry nooit beskrywe
Groei ‘n man op, langs die pad,
Wat die eie span kan drywe
En die voortou veilig vat:
Vir g’n drif of duister swig …
Voor in die wapad brand ‘n lig.
Kom die jonkman uit die Noorde
Wyl die awendskadu’s val;
Skuimend lek die stroom sy boorde:
Vaalrivier lê kant en wal.
In die waters van die Vaal
Waar die donker draaikolk maal,
Helder skitter daar ‘n straal!
Oë mistig van verlange,
Weerskyn van ‘n skone droom:
Sagte arms, rooie wange …
En hy werp hom in die stroom!
Liefde hou sy blik gerig …
Oorkant die water brand ‘n lig!
Heldemoed en doodsveragting,
Makapan, spel jou spelonk
Op die dag van wrede slagting
Van jou stryders bloedlus-dronk.
Reg voor die spelonk se mond
Val die voorman swaar gewond,
Drenkend met sy bloed die grond.
Met die uitroep: ‘Help! O Here’,
Onweerstaanbaar soos die wind,
Uit die mond van die gewere
Red hy sy gewonde vrind!
Broederliefde en burgerplig –
Diep in sy boesem gloei die lig.
Ná die veldtog, rus en vrede –
Vrede in die Vaderland;
Nader bring hom elke skrede
Na die huisie teen die rant
Met die troue eggenoot’
En die kleintjies om haar skoot,
Dierbaar almal, klein en groot,
En hy neurie: ‘Dank U, Vader,’
– Wyl sy hart al sneller klop –
‘Dat die uur van weersien nader!’
Trek sy perd weer op galop;
Vreug verklaar sy aangesig:
Voor in die wapad brand ‘n lig!
Sware, swarte onweerswolke
Trek saam oor die jonge staat,
Benjamin van al die volke,
Prooi van hebsug, nyd en haat.
‘Hier,’ spreek hy, ‘g’n dwinglandy,
Hier g’n vreemde heerskappy,
Weet die wêreld: Ons is vry!
Bewe vir g’n krysgbasuine,
G’n geweldenaar se wrok;
Nooit lê hy ons land in puine
Voor ons heel die mensdom skok!
Val vry, felle bliksemskig:
Bo-op Majoeba brand ‘n lig!’
In die land van sneeu en koue
Peins oorstelp die gryse held,
Enkel met sy Godsvertroue
En verlange na sy veld!
Hoor hom smeek: ‘Heer, dis genoeg;
Roep die landman van die ploeg:
Hy’s gedaan, Heer, hy is moeg!
U, die Kenner van die harte,
Weet wat elke hart kan dra.
Lenig, Man van Smart, die smarte
Van verwond’ Suid-Afrika.’
Sterwend’ straal sy aangesig:
‘Voor in die wapad brand ‘n lig!’
‘Die wapad is my woning’
Wo wird einst des Wandermüden Letzte Ruhestatte sein? Unter Palmen in dem Süden, Unter Linden an dem Rhein? Heine
Ag, had ek ‘n eie ou huisie,
Al was dit armoedig en klein –
‘n Voorhuisie met ‘n kombuisie,
‘n Slaapplekkie warm en rein.
En in die kombuisie ‘n essie,
Waarop ek my ete kan kook –
‘n Ketel, komfoor en ‘n tessie,
‘n Skoorsteen wat voordag al rook.
‘n Tafel en daarop my boekie,
En Bybel – my man se geskenk;
Ek sit van die pad, in ‘n hoekie,
Die lief en die leed te herdenk.
‘n Venster met twee malvaplantjies –
Hoe mooi is die rooi en die groen!
Waar ek smiddags sit hekel my kantjies
En al my ou werkies kan doen.
‘n Muurkassie met ‘n paar goedjies,
En langsaan ‘n klok teen die muur;
Ek sing wyl ek afstof, so soetjies,
En blink hou ek alles geskuur!
‘n Stoepie waar’k saans, vry van sôre,
Kan kyk hoe die skadu’s verleng;
Goddank hulle wys na die môre,
Wat weersien in blydskap sal breng.
‘n Tuintjie met groente en kruie,
Het lewenslank ek al begeer;
Wie kan tog aan andere beduie
Wat ‘n mens op die wapad ontbeer?
En kom eens die Dood in genade,
Die storm van die lewe gesus,
Hoe graag sou ek dan in jou skade,
O liewe maroelaboom, rus!
Want dit is die end van die strewe,
Van al wat ‘n moeder moes ly:
Te lank het ek nou al gelewe,
Geen ruimte is daar meer vir my.
Ek is moeg, O so moeg al van swerwe;
Rus smeek ek vir liggaam en gees.
Sou daar nie vir my eer ek sterwe,
Ook êrens ‘n staanplekkie wees?
Maar voor oor die wapad staan immer,
Bekroon deur ‘n lonkende ster,
Die hoë blou berge van Nimmer
Wat die weg na Geluksland versper!
Die verlate poel
Mij hebt gij van kinderen beroofd. Genesis
Die nagwind roer die doringboom
En wek uit salig-soete droom
Van tye lank gelede
Die eensaam stille waterkolk
Waarin die hemel onbewolk
Sy beeld sien ver benede.
Met duisend sterre straal die lug,
Vanuit die water styg ‘n sug
Van smartelik’ verlange:
Waar is my kinders wat hul dors
Gelaaf het aan my milde bors
In dae van vergange?
Voor nog die mens, met woest’ geweld,
Die blye wydgestrekte veld
Met dieretal ontelbaar,
Ontwy het met moorddadig’ lood,
Versprei het wisse, wrede dood,
Verwoesting onherstelbaar.
Hier waar nou net die nagvoël steun,
Hoe vrolik het dit nie gedreun
Van wilde dieretroppe –
Met oë mild en houding fier,
So skoon gekleur so sterk gespier
Met swaargehoornde koppe?
Hier het hul almal in ‘n kring
Hul dors geles en weggespring
Met klett’rend’ hoefgeklater;
Die vlakte stuur hul klein en groot
Uit ruime wonderryke skoot
Om lewegewend’ water.
Hier nagt’liks het om roof gebrul
En met ontsag sy ryk vervul
Die Veld- en Vlaktekoning.
Sag sluip die Bergvors sterk dog fyn,
Die dood op voete van satyn,
Die rotskasteel sy woning.
‘Hy vat wat kan – hy hou wat het;
Bestaan is stryd’ – dit was die wet –
‘Met vreugde van gevaar by,
Aan Sterk en Snel gelyke kans,
Dat altyd suiwer die balans
In ewewig bewaar bly.’
My heug nog elke skone oog,
Versierde koppe trots omhoog,
Die nette ledemate!
Nog droom ek – in die maneskyn –
Van heerlikheid, helaas! verdwyn –
So eensaam, so verlate.
Verdwyn … in die vergetelheid –
Die mens in sy vermetelheid,
In naam van sy beskawing,
Het al wat vry was uitgeroei;
Dis slawediere wat hier loei,
En tot my kom om lawing.
Die berge van die Boland – Sonnet
O berge van die Boland, wees gegroet!
Die swerweling aanskou u skoonheid weer,
Die voer hom t’rug na dae van weleer
En wek herinneringe wondersoet.
Hoe vul sy hart met weemoed en met vreug
By aanblik van u kalme majesteit!
Want agter u pers-bloue dynsigheid
Lê al die skoonste jare van sy jeug;
Toe met veerkragt’ge voet en held’re oog
Die knaap, sig lawend aan die bergstroom klaar,
Geklim het tot die kale kruin omhoog;
‘n Koning was hy toe, ag wis hy ‘t maar!
U roep – hy strek die hande uit – hy kom;
Die jare wyk – hy is ‘n knaap weerom!
O Berge, duisend jaar in u bestaan
Is minder as by hom een vlugt’ge uur,
Sy lente was, helaas, so kort van duur –
Wat het hy met die gulde tyd gedaan?
O Berge, hy was af in die vallei
In Poel van wankelmoedigheid en vrees –
Op Tabors van verheerliking was hy gewees
En Maras bitter, Elims soet ken hy!
Want hy ook moes sig in die strydperk waag;
Hy het gesmaak van liefdesaligheid,
Van wel en wee – sukses en nederlaag;
En diepe letsels dra hy van die stryd.
Van alles uit die lewe span die kroon
Die eie dak waaronder liefde woon!
Die Bouheer van die berge het oor u
Die rooiwyn van Sy vreugde uitgedruk,
En nog weergalm die lag van Sy geluk
In donderklank oor u gevaartes ru!
En blydskap skink Hy ons uit die bokaal
Van sy troonhemel oor u, blou en rein,
Uit duisendvoud’ge lewe groot en klein
En uit Sy sterreheer se prag en praal!
O Berge, ons vertoef hier net een dag;
U staan so onverganklik vas en pal
En roep: ‘U dag is kort, O leef en lag;
Vervul u rol, totdat die voorhang val;
Dans voort tot die musiek verstom oplaas;
En speel totdat die fluit die aftog blaas!’
Voorslag
Quadrupedante putrem sonitu quatit
ungula campum. Vergilius
Appelblou skimmel met spierwitte maanhaar –
Dit is die ryperd, die baasperd van my;
Maanhaar en stert soos ‘n sybok gekartel –
Waar sal ek, Voorslag, jou weerga weer kry?
Onder sy hoewe gestaag dreun die donder,
Ratsheid en spoed tril in senu en spier,
Weerligstraal blits uit twee vurige oë,
Trotsheid en moed uit sy neusgate fier.
Vinnig en fyn is hy, rats soos ‘n reebok,
Vas op sy pote langs bergpad en krans;
Draf kan hy snel oor die veld soos ‘n duiker,
Trippel kan hy soos ‘n pronkbok wat dans.
Vroeg, as die son nog net loer oor die rande,
Droomgesus rus nog die slapende stad,
Wek ons die weerklank wat woon in die klowe,
Skaduwees lank wat nog slaap oor die pad.
Saam met die môrewind vlieg oor die vlakte
Ons twee met Sterloop, my troue ou roer –
Ryperd en ruiter en roer is ‘n drieling,
Tuis al van ouds in die land van die Boer.
Ek was ‘n penkop en hy was ‘n jong perd,
Met De la Rey het ons storm geja;
Onder ‘n bui van kartetse het Voorslag
My en my maat van die slagveld gedra.
Groot die gevaar en daar veraf die redding,
‘Voorslag, dit moet! Môre voordag weer hier –
Dwarsdeur die nag sonder afsaal of omkyk,’
Redding was daar toe die rooidag lumier.
Sterk die verlange en ver woon die noointjie,
‘Voorslag! sal ons twee vanaand dit nog haal?
Voorslag! die kleinnooi die kyk of ons aankom.’
– Sononder was ons by haar afgesaal.
Gee my ‘n ryperd, ‘n roer en ‘n wildsbok,
En ek beny nie die rykste sy geld;
Vryer en blyer as Vors op die troon is
Voorslag en ek op die eind’lose veld.
Aangeland in die Hiernamaalse Velde,
Sou’k van die Aarde net een ding begeer:
Gee my die beste, die trouste van Vrinde,
Voorslag, my ryperd, gee hom vir my weer.
Hoop
En nou bly daar Geloof, Hoop en Liefde – die drie; maar die middel een
is Hoop!
Op die vleuels van die daeraad,
In goudborduurde wolk-gewaad,
Met blye groet en gulle lag,
Kom Hoop gevloë uit die nag;
Bekoorlik in haar frisse jeug,
Versprei sy lig en soete vreug,
Haar aanblik straal van lewensmoed,
Van alles waar en skoon en goed,
Met goue hare en bloue oë,
Verskyn sy skitt’rend uit die hoë.
Sy fluister sag in ieders oor:
‘’n Nuwe uitsig blink daar voor
Waar groue newels van die nag
Wyk vir die wonder van die dag.
Die skepping juig, natuur ontwaak,
Begin met kloeke moed die taak;
Die gulde lewensboek bevat
Vir elke dag ‘n nuwe blad;
Want elke dag is maar die lewe:
Sukses beloon slegs moedig strewe!
Getors maar weer die sware las,
Die skouer aan die wiel gepas,
Die krag wat spier en senu sterk,
Die “ope sesame” is: werk,
Die mag wat wondere verrig,
Die dryfveer van die wil is: plig.
In vreugde en smart die hoogste goed:
Blymoedig hart en goeie moed,
Al was jy gister moedverlore,
Jou siel word elke dag herbore!’
Deur droewe misdamp van die druk
Sien Hoop ‘n eiland van geluk;
Deur winters somb’re spinnerag
Weer bloesempronk en blareprag;
Uit donk’re holtes van die nag
Verneem sy blye kinderlag;
En bokant swarte wolkgordyn
Sien sy die sterre ewig skyn.
O Hoop, geseënde in u gaarde
Bloei elke skone blom op aarde!
Hoop ploeg die boer se laaste voor;
Hoop voer sy wa die Dorsland oor;
Besiel die burger as hy veg
Vir vaderland en goeie reg.
Hoop is ons laaste, beste vrind.
Die grysaard leef weer in sy kind;
Waar ook sy wrakke wa bly staan,
Hoop wys hom die geweste aan
Waar dierb’re oë liefd’rik neersien
In lank-verbeide Land van Weersien.
3 Erns in luim
Waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand
Daar is net een Kaapstad so pragtig gelee,
Daar waar Tafelberg staan met een voet in die see;
Waar skepe soos seevoëls krioel oor die baai
En die seebries so fris uit die noordweste waai!
Maar as ou Van Donk teen die berghange rook
En die ou ‘Kaapse dokter’ op Duiwelskop spook,
Dan sê ek: Kollega, ‘k gaan weer na my land,
Waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand.
Die noointjies lyk liefies in Adderleystraat,
En jy sien hul daar drentel van vroeg af tot laat;
Hul’s vrind’lik ‘n vreemdeling hier by die see
So ‘n insae in die verborg’ne te gee!
Ek wonder my steeds wat ons Doom’nee sou sê,
As die meisies by ons so min klere moes hê!
Gelukkig het hul nog ‘n bietjie verstand
Waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand.
Die Boland is lieflik, die Boland is mooi,
En die beste van al is die Bolandse nooi!
Die aankom, die inkom, die wegstap van haar
Is ‘n middel teen seer oë, seker en waar!
As hulle net goed in die Hoëveld aard,
(Vir goud, donderweer en geelperskes vermaard)
Graag sou ek ‘n Bolandse noointjie verplant
Waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand.
Ek’t Saterdag op die Parade gestaan
En die bont mensemassa daar gadegeslaan:
Van melk tot swart koffie was daar elke kleur,
En van knoffel tot suurkool was daar elke geur!
Ek wonder terwyl ek die spul so bekyk,
Hoe dit hier met Aprilmaand se Nagmaal moet lyk!
Ag nee wat, ek gaan weer terug na my land
Waar ou Heidelberg hang aan die Suikerbosrand.
Lotos-land
Onhistories
Opgedra met erkentlikheid aan Perceval Gibbon
Let us swear an oath and keep it with an equal mind
In the hollow Lotus Land to live and lie reclined. Tennyson
1 Exodus
Die osse stap aan deur die stowwe:
– Nie die osse van Jan F. Celliers,
Maar rooi Afrikaners en Mowwe
Van die voorste voortrekker, Naudé.
Die waens van Celliers was dit ook nie,
Want oom Neelsie se wa bly weer staan;
Praat nooit van die sukkel en spook nie,
En daar voor kom die Kaffers al aan.
Had Moses dit swaar met Gods ou Volk,
O laat staan nie vir Pieter Naudé;
Mismoedige Neelsies en Rouvolk
Het vir hom ook grys hare gegee.
Maar wanneer wis Pieter nie raad nie?
En vir watter gevaar sou hy stuit?
Hy word nie vervaard, ook nie kwaad nie!
Maar al bars dit hy beur tog bo-uit!
So trek hul al verder en verder
En gesels as die kampvure brand;
Piet luister en skrik – want O Herder!
Almal droom van ‘n Luilekkerland!
2 Kanaän, o Kanaän!
En werklik na vele gevare
Land hul aan in ‘n skone vallei;
Geen roofdiere daar of barbare:
‘Span maar uit, want die trek is verby!’
Ja, hier is die Land der Belofte
En die spruitjie is hulle Jordaan;
Elkeen sweer ‘n dure gelofte,
Nooit weer t’rug na Egipte te gaan.
Die bergstrome glinster en klater
En kom skuimend berg af na die grond,
Wat vrugte is, groei langs die water,
Ryp en soet dat dit smelt in die mond.
Die koedoes kom skuur teen die waens,
Die swartwitpens drink melk uit ‘n bak,
Die blouwildebeeste kom saens
Na die laer op hul dooie gemak.
Die bruinvolk rook deur ‘n bank dagga
In ‘n salige niksdoen en droom;
Oom Bart se Klein Bart ry ‘n kwagga
Sommer bloots sonder halter of toom.
Die rooibokke wei by die tente,
Net so mak soos die bok van ‘n wa:
‘n Landstreek van Leipoldtse lente
Waar geen lewenslas hinder of pla.
Die grond hoef hulle net maar te kielie
Vir Malherbe se lande vol graan;
Of Jona se eersteprys-mielie
Trou bewaak deur ‘n mak bobbejaan.
3 Adipositas praecox
Die trekkers word dikker en vetter
In die Luilekkerland in die kloof,
Tot skraal Piet Verster word gesetter –
‘n Profeet van die lekker geloof!
Geen naat wat nog hou aan ‘n baadjie,
Verantwoordelikste knope spring af,
Ou maer Jan de Jaer kry ‘n vaatjie;
Tot die hond is te lui om te blaf.
Die rietskraalste nooi word al plomper
En die vrouens versit meer geen tree,
Beweging word gaandeweg lomper;
‘Wat te erg is, ‘s te erg,’ sê Naudé.
4 Naudé loquitur
‘’n Vyand bedreig ons, O Broeders,
En ‘n vyand op wie ons moet let;
Te glad sit jul tawwerts, O Moeders,
Trekkerswee is per slot trekkersvet!
Veel beter om eind’loos te swerwe,
Teen gevare ons man weer te staan,
As hier in gemak te verderwe
En in smorende vet te vergaan!
Veel voorspoed word later ‘n ketting,
En ‘n dwing’land die luie gemak;
Te gronde gaan ons deur vervetting;
Môre trek ons van hier sak en pak!’
5 Vox populi
‘Die voorstel,’ sê Koos van der Merwe,
Sal ek graag sekondeer, Kommandant!’ –
‘As julle twee lus het vir swerwe,
Goed, – maar ons bly in Luilekkerland.’
‘Hoor! Hoor!’ roep nou al die ou rondes,
‘Wie’t dan sinnigheid nou weer te trek?
Solank as die vet maar gesond is.’
En so bly hulle sit op die plek.
Die aand nog het Koos van der Merwe
En Naudé die ou vet-span verlaat;
Hul bene na swoege en swerwe
Is al weer van normale formaat.
Maar hoe dit met die ander gesteld is
Dit weet Nugter. ‘n Rondloper-Ier
Beweer dat hul almal gesmelt is
En derhalwe die naam Vet-rivier!
6 Haec fabella docet:
Kyk, kinders, en nou kom die kwessie,
Wat ‘n mens uit die storie moet leer:
Vergeet, nommer een, nooit die les nie,
Vet of maer, om jul ouers te eer!
Of mense al gekskeer of hoe maak,
Praat die waarheid rondborstig pront-uit;
Onthou dat jul deure moet toemaak
En vergeet nie jul neuse te snuit!
Is dit dan reg?
(Rondeau)
Is dit dan reg – dat sonder haar vir my
G’n blydskap op die wye wêreld bly?
Verniet dat lente, kleine Towerfee,
Die veld met nuwe heerlikheid beklee,
En liefde orals wek gesang en ry!
Is dit dan reg?
Die reënboog het g’n kleureprag vir my,
En skoonheid het die skoonste jaargety
Slegs wanneer sy bekoring daaraan gee;
Is dit dan reg?
Hoe salig soet, o kon ek dink dat sy
‘n Hoekie in haar hart hou toegewy,
‘n Heiligdom aan liefde en my. O wee!
Want Eggo antwoord wreed: ‘Ek vrees van nee’
En somer sal maar barre winter bly!
Is dit dan reg?
Man en vrou
(Rondel)
Tweeling is de mensch geboren. Ten Kate
Die vrou is vir die man gemaak,
Die man weer vir die vrou:
Soos die braaiboud vir die haak,
Soos die stewel vir die kraak,
Die apie vir die mou,
Die stertveer vir die pou –
Die vrou is vir die man gemaak,
Die man weer vir die vrou!
Nes die soetkoek vir die smaak,
Nes die praatjies vir die vaak,
Die kake vir die kou,
Die trekos vir die tou –
Die vrou is vir die man gemaak,
Die man weer vir die vrou!
Is haar ogies groen of grou,
Soetskeel, bruin of baftablou,
Tog is sy die nooi vir jou!
Die vrou is vir die man gemaak,
Die man weer vir die vrou!
Misère
(Triolet)
The light that lies In women’s eyes Just … lies and lies!
In die eerste instansie,
wie sou nou kon dink,
Dat die liefde iets is
so beroerd ongestadig?
Dat die hand wat uit gulde
bokale laat drink,
In die eerste instansie,
wie sou nou kon dink
Dat dit eendag nog edik
en gal weer sal skink,
Ongevoelig meedoënloos,
wreed, ongenadig?
In die eerste instansie,
wie sou nou kon dink
Dat die liefde iets is
so beroerd ongestadig?
Divan
Oos is Oos en Wes is Wes,
Één ding weet ek: Tuis is …
ook maar baie dingetjies.
Deur die poort van Miramaar
Trek ‘n Oosters bonte skaar
Met kamele swaar belaai,
Ruiters voor met swier en swaai.
Oor die lange karavaan
Waai die Ster en Halwemaan;
Dis die sultan Mirza Khan
Op sy reis na Ispahan.
Jaarliks trek ‘n pelgrimskaar
Deur die poort van Miramaar.
Skaars is hulle om die draai
Waar die dadelpalme waai,
Of daar doem ‘n ruiter op
Op ‘n wilde jaaggalop,
Hoofman van die Badewyn,
Emir van die sandwoestyn,
Vlokke skuim die bors versier
Van sy skimmel arabier.
Hy ook maak ‘n pelgrimsreis…
Na die sultan se paleis.
Favorita Fatima,
Dogter van ‘n Padisha,
Lieflingsvrou van Mirza Khan
(Tans op weg na Ispahan),
Wag … in haar vergulde saal,
Wag … maar nie vir haar gemaal!
Loer van agter sygordyn
Na die kant van die woestyn,
Na ‘n ruiter flink en fier
Op ‘n skimmel arabier!
Later, as die ligte brand,
Klap sy twee maal op haar hand,
En haar slawe, swart en stom,
Tooi die saal met elke blom.
Geurig ruik die spesery,
Keurig lyk die lekkerny.
In bokale kristallyn
Glinster Cipriaanse wyn –
Wyn wat soos haar oë straal –
Yallah! nie vir haar gemaal.
Net ‘n blik, en daar verskyn,
Net ‘n knik, en weer verdwyn,
Op die dulsiemer se klank,
Danseresse, jeugdig slank,
Met Kaukasies’ wilde gloed
Bruisend in hul jonge bloed.
Langs haar sit die ruiter fier
Van die skimmel arabier!
Onderwyl trek Mirza Khan
Perdgerus na Ispahan.
Kom ‘n motor aangevaar,
As my buurman oor die straat
Uitbly tot wie weet hoe laat
(Hy’s ‘n trou vrymesselaar),
Gee ‘n onderdrukte fluit –
Ry dan met die dame uit.
‘k Mag niks sê, maar dink tog dit:
‘Buurman, jy moet waak en bid,
Want die Sultan Mirza Khan
Reis nog steeds na Ispahan!’
Sannie
Daar was in my oë geen jonkman so flink,
So gaaf en so prettig as Jannie.
‘Vir hom sal ek wag,’ het ek heimlik gedink,
‘al kry ek ook anders geen man nie!’
Maar hy had net oë vir Sannie du Toit
(En wie het ‘n glimlag soos sy het?).
‘n Skatjie was sy, so lieftallig, so mooi,
Moenie vra of ek Sannie beny het!
Vergeet sal ek nooit … nie die dag of die jaar
Toe Jannie gaan trou het met Sannie,
My liewe, maar dit was ‘n prag van ‘n paar,
‘n Beeld van ‘n bruidegom – Jannie!
Die dominee self kon dit byna nie hou,
Ek dink: ‘Sê nou maar dit was sy nie,
Maar liewer ek self wat met Jannie gaan trou.’
O, het ek haar toe nie beny nie?!
Twee jaar was verby, en mooi Sannie nie meer,
Arme Jannie so droef en allenig.
Die ou liefde roes nie, dis my beurt dié keer.
Nou is ons in die huwelik verenig!
Ek dink aan haar rustige graf in die kloof …
Geen oorlas van kind of van man nie …
Die rankrosies rondom die steen aan haar hoof –
Nou beny ek eers regtig vir Sannie!!
As die blare verkleur
In die najaar verkleur die blare as hulle bedink hoe groen hulle was in die
voorjaar. Natuurstudie
Eerste bedryf: In die haak
O, dit was in die tyd toe die blare verkleur,
En die aandwind was swaar met die najaar se geur.
In ‘n outydse tuin, met ‘n brug oor ‘n stroom,
Teen die stam aangeleun van ‘n eeu-oue boom,
Heel die wêreld vergeet, sit daar twee hand in hand,
Die verliefste, gelukkigste paar in die land!
Iets romanties, natuurlik, sal altyd gebeur
In die tyd – skone tyd! – as die blare verkleur.
Tussenspel: Tussen hakies
O my beminde, dis die dag
Waarna die jare het gesmag;
Die stippie in Infiniteit
Verordineer in d’ Ewigheid,
Die sielsmoment, ekstase soet,
Waar parallelle lyne ontmoet!
Voortaan vereen om nooit te skei,
Want ek min jou, en jy min my.
O maanligaand, o sterrenag,
Waarop die jare het gewag,
Vertraag jul gang en laat die uur
Van ons geluk vir altyd duur!
Tweede bedryf: Uit die haak
Ag, die tyd vlieg so snel, en verby is ‘n jaar.
Op die brug in die tuin staan liefkosend ‘n paar;
En, ja wel! dit is sy – Juliet van weleer;
Maar, o wee! dis nie hy – dis nie Romeo meer.
‘Weet jy wat?’ suis die wind. ‘Nie so ver hiervandaan
Is dit net wat hy doen, vra gerus aan die maan!’
‘Kan dit wees?’ ruis die boom. ‘Kan daar so iets gebeur?
Dis ook dit wat my blare aljare verkleur!’
Die sware tye
Das ist die schwere Zeit der Not.
Das ist die Not der schwere Zeit.
Das ist die schwere Not der Zeit.
Das ist die Zeit der schwere Not.
‘Maar, neef Gert, jy verdien ‘n paar pond in die maand,
En jou kinders moet eet van dit lig word tot aand.
Kyk, hoe kry jy dit reg hul te voed en te klee
Met ‘n inkoms so klein, man, waar doen jy dit mee?
Daar is Piet, Jan en Koot, daar is Danie en Frik
En klein Fransman, en al ses gesond, vet en dik!’
‘Ag, ou broer,’ sê Gert, ‘dit maak nie die oorleg,
Sonder dié was bepaald ons posisie maar sleg.
En nou nie dat ek wens om te pronk en te praal,
Maar ek is ‘n bekwaam tesourier-generaal:
Gee ‘n kind op sy tyd net sy kos en sy slae,
Dit het ek ondervind, en jy my al die plae.
Baie eet is maar kinders se kwaal, lyk dit my –
En dit sê nie, hul kon aan iets ergers nog ly.
Ek koop aldag vir almal en sonder krediet
Al die nodige voedsel … en klere vir Piet!
Net so gou as die klere vir Piet begin span,
Word dit kleiner gemaak vir my tweede seun, Jan.
Word ons Jan na ‘n tyd vir sy klere te groot,
Dan is hulle meteens nommer pas vir klein Koot;
En klein Koot het dit nog nie ‘n halfjaar gedra nie,
Dan’s hy klaar met die pak, en dit gaan weer na Danie,
Lyk ook hy na ‘n tyd vir die pak bietjie dik,
Net ‘n kleine verandering, dan pas dit vir Frik.
En sien Frik na ‘n wyl vir die pak nie meer kans nie,
Dan’s sy erfgenaam onse ou kleinstetjie, Fransie.
En as Fransie se pak begin halfslyt te raak,
Word dit lappe om Piet se broek dikker te maak.
Want dié vent is op skool, en die meester is kwaai,
En die skoolbanke hard en die kweperlat taai!
Ek sê soms: “Jy’s te straf met die klerekoop, vrou!”
“Ag loop slaap, by sy lees moet die skoenmaker hou.
En wat jy, my ou man, nie van lap en stop weet,
Ag dit het ek al jare vergeet.
Laat gerus maar die klere en kos aan jou vrou
En daar buite kan jy, soos jy lus, bak en brou.”
Piet groei op; en as hy eers my klere kan dra,
Ag, vir goed is ons dan van die koop’ry ontsla:
Ek gee myne vir hom, hy weer syne vir Jan.
Jan weer syne vir Koot, en so voorts die heel’ span.
Ons is almal gekleed – en wat meer wil jy hê?
Sien, ou neef, mens moet weet om ‘n ding te oorlê.’
Die ewige misloper
‘n Mens dink dikwels die hele wêreld is onderstebo, en dan is dit maar
net sy lewer. Langenhoven
1 Sonskyn en reën
Met sonskyn is die Goeie steeds
Te mildelik bedeel;
Want meestal dra die Bose reeds
Sy enigste sambreel!
Dat op Regvaardig meeste reën,
Dit spreek wel as ‘n boek;
Want Onreg stap kurkdroog daarheen
As Reg sy reënjas soek!
2 Ons weg deur die lewe
Sagmoedig is die erfgenaam
Van al die aardryk rond.
Parmantig erwe goud en faam:
Sagmoedig … ses voet grond!
En Eerlik duur die langste. Ja!
Dit mag ‘n mens wel sê,
Daar dit sy hele lewe vra
Voor Eerlik veel sal hê.
Die beste wat die lewe skenk –
Die Skoonheid – sal vergaan.
‘n Swakke troos is dit te denk
Die Lelikheid bly staan!
Tel al jou seëninge op.
Elkeen betaal jy duur;
Want met jou eerste suikerprop
Had jy jou eerste suur!
Want of jy slaaf is, of jy vry
Of groterig of kleinig,
Jy sal ‘n weinig bitter kry,
Of anders … bitter weinig!
3 Menschlich alzu menschlich!
‘’n Mens die bly tog maar ‘n mens,’
Sê Reitz, en wil betreur:
‘Net soos hy kry al wat hy wens …’
Asof dit ooit gebeur!
Te dwaal is menslik. Ja, dit eis
Geen verdere beskeid.
Nou het tog almal die bewys
Van hulle menslikheid!
En meer as een betekenis
Het ‘gif’ sowel as ‘lewe’.
Dis daarom dat dit moontlik is
Jou vyand te ‘vergewe’!
4 Versigtigheid is die moeder van die wysheid
Betaal jou skulde aan die Bank,
Betaal maar iedereen.
Krediet is kort – die lewe lank,
Dalk sal jy weer moet leen!
Laat die ou Duiwel doodstil staan,
Kort is die lewe vaak.
Wie d’ onbekende in moet gaan,
Die moet geen vyand maak!
5 Home sweet home
Eentonig is die vrou haar taak,
‘n Seën dus – beslis –
As kinders hul verskyning maak,
Dat dié tien-tonig is.
Gedenk aan Lot se arme vrou:
‘n Soutpilaar, ‘n spot;
Maar wil ook in gedagt’nis hou
Die arme vrou se lot!
6 Adam en Eva
‘n Diepe slaap – die Vrou was daar;
Die slang – die velkombers.
Hy’t groot geskrik. Nou vra hy haar
Eers om ‘n opsitkers!
Net soos ‘n vlinder op die wind,
So lustig sweef sy daar;
En dwaas is dit, my goeie vrind,
Gewig te heg aan haar.
‘n Feit is dit en ewig waar:
Die man en vrou word één.
En daarom voel hul by elkaar
Soms eensaam en alleen.
‘n Hawe in die storm is sy,
Die vrou, Gods beste gawe!
Pas op! As sy begin te stry,
Dan storm dit in die hawe!
Getroue liefde is die eis
Van beide man en vrou.
En tog, hoe menig’ troubewys
Is geen bewys van trou?
7 Populêre opvatting van
1 Die Predikant
Uitruster is die predikant:
Hy slaap en droom met lus.
Die lede is die ledekant
Waarop hy heerlik rus!
2 Die Regsgeleerde
Die Regter weet soveel van Wet:
Weet sake te besleg.
Dis goed en wel, had hy maar net
‘n Flou besef van Reg!
3 Die Dokter
Die koster en die arts ontmoet
Toevallig by die deur.
Die koster, met ‘n lag en groet,
Sê: ‘Aprez vous, Monsieur!’
4 Die Skoolmeester
En, meester, teken bietjie aan:
(Jy kan dit lig vergeet)
‘Die meester wat die meeste slaan
Is dié wat minste weet!’
5 Die Politikus
Hier soek na harmonie, musiek,
Nie net die musikant.
Net andersom die politiek:
Dié soek … die rusie-kant!
8 Rykdom
Die rykaard moet sy geld laat staan:
Die aardryk hou sy geld.
Maar goed ook. As dit mee kon gaan,
Sou dit miskien tog smelt!
Die ryke dog hy kon bepaald
Sy toegangskaart betaal;
Maar Petrus sê: ‘Hou vas die naald:
‘k Gaan eers die kemel haal!’
9 Armoede
Dit is nie swaar om swaar te werk,
Geen skande arm te wees;
Want arbeid maak die arme sterk.
Die swaarste is: Arm van gees!
Ja, arbeid adel. Wie verklaar
Dié bitt’re ironie?
Ons almal spartel hot en haar –
Net adel arbeid nie.
10 Ouderdom
Met ouderdom, sou ‘n mens verwag,
Sou wys- met grysheid kom.
Die grysheid bly nooit uit, maar ag!
Dit spel ook oud-en-dom!
Gebreke bring die ouderdom.
Wees bly – wat hy ook mis –
Dat een gebrek waarmee hy kom,
Gebrek aan asem is!
Hekelpuntjies
Hy: ‘Waarmee is jy besig?’
Sy: ‘Met puntjies hekel. – En jy?’
Hy: ‘Met hekelpuntjies.’
1 Drank
1 Die Witperd
Pure water – die visse bewys dit – maak stom.
Sterke dranke – die mensdom bewys dit – maak dom.
Harde arbeid – die dom mens bewys dit – maak krom.
Lê veel op jou rug en voorkom so die kromheid,
Drink jou drankie met water en vermom so die domheid
Van kromhout se sop met die water se stomheid.
2 Die Vaalperd
Sit hom in spiritus – as jy een wat doodlê,
Lewenslank suiwer en goed wil bewaar.
Wil jy ‘n lewende baie gou doodhê,
Sit dit in hom – en hy’s een, twee, drie klaar!
2 Wein, Weib und … Kopfschmerzen
Bedwelmd werk die susterpaar:
Die vrou, die eed’le wyn.
Die wyn word soeter elke jaar,
Die vrou, helaas … asyn!
Die huwelik volg op die liefde se spore,
In rosegeur volg sy haar na.
Wie dink by die wyn-skink die aand vantevore
Aan die hoofpyn die oggend daarna?
3 Die vrou
Die vrou is die sout van die aarde,
Die suurdeeg, beskou op die keper:
Al hoër steeds rys sy in waarde:
Sy’s beide die sout en … die peper!
Wie ter wêreld verstaan ooit die vrou,
En wie sal haar geheimenis weet?
Haar verjaarsdae moet jy onthou,
Maar haar ouderdom moet jy vergeet!
4 Orakel
Hoe kan die vrou ‘n naam verwerf,
Onsterflikheid behaal en roem?
‘Haar naam verloor – en as sy sterf,
Een nalaat wat haar “Moeder” noem!’
5 Oud en jonk
Oud vergeet reeds wat hy moes geweet het:
Jonk die weet steeds wat hy moet vergeet.
Oud, die Vrek, kwel oor wat hy geëet het:
Jonk, die Vraat, lol oor wat hy sal eet!
6 Die liewe jeug
Is die draadlose telegrafis
Nog ‘n nuweling hier in ons land,
Voetjie-voetjie inteendeel is
Al so oud as die Suikerbosrand!
Al is ‘n jongeling nog so edel,
Met goed en eer bedeel,
Tog sal hy om ‘n handjie bedel,
‘n Soentjie sal hy steel!
7 Ondervinding
Ondervinding is die meester
Wat die hoogste laat behaal,
Maar sy leergeld is die duurste
Wat ‘n leerling ooit betaal!
Is geld die wortel van die kwaad
Wat oral wortel skiet,
Sy diepste wortel inderdaad –
Penwortel – is … krediet!
Op elke boot is een kaptein.
Hy voer bevel alleen –
Selfs op die huweliksbootjie klein …
Die vraag is: Watter een?
8 Lewe
Wat mense laat staan of probeer
En wat ook hul doelwit en strewe –
Aleer hul nie lewe om te leer,
Sal hulle nooit leer om te lewe!
Die goeie sterf jonk. Is die rede miskien
Om te lewe ontbreek hul die moed?
Dis beter op aarde – dit moet hulle sien –
Veel beter: goed dood as doodgoed!
Aan die Aardbol: 1 Jan. 1926
Vele zijn de wederwaardigheden des menschenlevens, en altijd is zijn
weg niet met rozen bezaaid. Oom Willem Bezuidenhout
Hul sê jy is ‘n losse bol
Wat ewig deur die ruimte rol
En rondomtalie soos ‘n tol
– ‘n Mens word sommer bang.
Hoe anders in vergange jare
Toe jy nog vas was op pilare?
Maar destyds was ons nog barbare.
Ek weet nie hoe’t jy losgeraak nie,
In elk geval, dit maak g’n saak nie,
Ou Aarde, gaan jou gang.
En tog wil ek jou laat verstaan,
As dit nog langer so moet gaan,
Dan is ons almal na die maan:
Die kwaaiding sal ons vang.
Die land oorstroom van Poolse Jode.
Bankrotskap, brande word die mode.
Die arme boer sterf duisend dode.
Aan wat gebeur of nie gebeur nie,
Hoef jy altans jou nie te steur nie,
Ou Aarde, gaan jou gang!
Of als verspoel, of als verdroog,
Een sak te laag, een vlieg te hoog.
Daar’s al ‘n doring in die oog,
Die groen gras berg ‘n slang.
Van Nuwejaar tot Januarie
Is elke sprinkaan op safari,
Vaarwel aan die ou Kalahari!
Hul laat die boer nie eers sy vel nie.
Jy moet jou egter nie ontstel nie,
Ou Aarde, gaan jou gang!
My seuns die laat hul hare groei,
My dogters hou dit kort geskroei,
My vrou rook sigarets – ag foei,
Maar wat nou aangevang?
My skulde kan ek nie betaal nie,
Ek weet nie waar die geld te haal nie:
Ek het geen goudmyn in Transvaal nie.
My uitgaaf’s meer, my inkoms minder,
Maar nogtans, laat dit jou nie hinder,
Ou Aarde, gaan jou gang.
Daar’s wolhaarruspers in my werk,
Daar’s wolhaarsektes in die kerk.
Gesond’ verstand is nie te merk nie.
Landsliefde’s eie belang.
Ek drink die bitter medisyne,
Maar my ou rug bly vol van pyne
– Die dokters met hul tierlantyne! –
Waaragtig, so kan dit nie bly nie,
Tog, kwel jou nou maar nie oor my nie,
Ou Aarde, gaan jou gang.
Ek wonder of jy self wel voel
Hoe die ou mensdom op jou woel
En moeg word vir die hele boel.
Die grappie duur te lang.
Miskien het jy ook maar jou nukke,
En gaan dit ook met stote en rukke.
Wel – eendag loop jy tog op krukke.
Wie al of nie die moord gaan steek nie,
Daaroor moet jy jou hoof nie breek nie,
Ou Aarde, gaan jou gang.
4 Die kleinspan
Makoemazaan
– die waterman –
Onder in die koele stroom,
By die groene wilkerboom
Langs die waterbaan,
Waar die wilkers staan en droom,
Op die middag lou en loom
Woon Makoemazaan.
Groener as die groenste gras
Aan die stille waterplas;
Groener as die graan
Met sy kleine water-ogies
Deur die fyne wilker-bogies,
Loer Makoemazaan.
Net die kinders onder tien
Kan die waterman ooit sien,
– Skelm Makoemazaan! –
Met sy pak van groen ferweel,
Met sy onderbaadjie geel,
Met sy pouveer aan.
En hy lyk tog so beminlik,
En hy kyk tog o so vrind’lik.
Voordat hulle weet,
Gaan hul met hom na sy huis,
Het hul al die boeties tuis,
Moeder selfs vergeet.
Omgekeer die wêreld onder –
Alles lyk daar mooier, ronder.
Hy self word ‘n slang,
Word Namlaambo geel en groen;
As hy kinders streel en soen
Word hulle nie eers bang.
In sy onderaards’ paleis,
Kan hy die geheime wys
Van elk’ dier en plant,
Waar die waterhondjies bly,
Waar die wortels grondjies kry
In die rotsig’ rand.
Moeder huil: ‘Ag vlindertjies,
Waar is tog my kindertjies;
Is hul dalk verdrink?’
… Vlinders vlieg tot waar die water
Oor die ronde klippies klater,
Blank en blou en blink.
Kermend loop sy op en neer:
‘Nooit sien ek my kinders weer.’
En daar val ‘n traan,
Val ‘n moedertraan na onder,
Breek die towerkrag, o wonder,
Van Makoemazaan!
En hul loop met moeder saam,
Almiskie ‘n bietjie skaam,
Weer na huis te gaan.
Hoor hul iemand saggies roep …
In die maanlig op die stoel …
Dis Makoemazaan!
Grondmannetjie
My skaduwee
Grondmannetjie, ek sal jou kry!
Jy koggel en jy terg vir my.
Jy is my tot ‘n las.
Al klop ek jou met die karwats,
Al spring ek weg, jy’s veels te rats,
Jy klou my voete vas.
Jy dink jy’s snaaks, jy speel die gek,
Jy’s net verspot om so te rek
Al oggende en saans.
Ek rol op jou die swaarste kluit,
Dit help my niks, jy glip tog uit,
Al was dit ook ‘n krans.
Grondmannetjie, wie is jy dan?
Het jy ‘n naam, voer jy ‘n van?
Ek weet: jou naam is Bang!
Jy’s dapper in die sonneskyn
Maar donkeraand het jy verdwyn –
Jy laat jou nooit nie vang.
Grondmannetjie, my oupa sê:
Jy wil hom in die aarde hê,
Jy trek hom nou al krom;
Hy het die lewe deur geswoeg,
Nou wil hy rus, nou word hy moeg,
Netnou kry jy vir hom.
Maar ons twee wil nog lekker speel,
Nog bome klim (en vrugte steel!),
Nog rol en spring en lag!
Net een ding moet jy goed verstaan:
Dink jy ek sal na jou toe gaan –
Dan sal jy lank moet wag!
Die mensvreter
Outa Klaas sit so graag in die aand by die vuur
Konsuis
Om hy in die kombuis
Vir die nonna die potte en panne moet skuur,
Maar ek weet dit is net om die pruimpie te kry
Wat ek vra by die oubaas vir Outa as hy
Vir ons kleintjies van mensvreters stories vertel.
Ja wel,
Outa Klaas laat jou vel
Pure hoendervleis word as hy daarvan vertel.
Hoe die mensvreter lyk? Vergeleke by hom,
O maggies,
My ou Kleinbasie, wraggies,
Is die swart Tokkelôsie so mooi as ‘n blom;
In sy kop het hy net ‘n afgryslike bek,
Wat so wyd as die seekoei se kake kan rek,
Want al kou hy ‘n kind, dan’s daar plek vir nog twintig,
Allemintig,
Glo, my Kleinbasie, wrintig,
Met ‘n kind in sy kies is daar plek vir nog twintig!
Die ou mensvreter word net so groot as ‘n reus,
En haai!
Hy’t ‘n moesie tamaai
Soos ‘n skurwe pampoen op die punt van sy neus.
Hy’t ‘n bult soos ‘n nege-oog agter sy oor,
Albei voete staan omgekeer agterstevoor,
En die berge gee antwoord as hy maar net hoes.
O, koes!
As hy nies, gaan dit woes,
Maar dit gaan of die wêreld vergaan as hy hoes!
En die lang naels krul aan sy voet en sy hand.
Pas op!
Hy kan klou, hy kan skop,
En, daar voor, uit sy mond steek ‘n skerpe, krom tand,
En die droë bloed klewe nog vas aan sy baard –
Aan sy klapperhaarbaard, wat hy meet by die jaart.
En geen wonder, want hy het mos mensvleis geproe,
Ag, soe!
Maar dit smaak daarnatoe!
Sê die mensvreter as hy die ribbetjies proe!
Dis ‘n vreeslik’ gesnork as die mensvreter slaap,
Ja-nee,
Dis ‘n sirkus of twee,
Want hy bulk soos ‘n bees en blêr soos ‘n skaap,
Of hy huil soos ‘n kindjie; en dan kan jy weet
Gisteraand het hy weer ‘n vet seuntjie geëet!
O, dit gaan of hy knaend met die nagmerrie stoei,
Ag foei,
Hoor hy loei soos ‘n koei,
Dis die beesvleis wat so met die nagmerrie stoei,
In ‘n donker spelonk teen die Bosberg se hang,
Ja, juis,
Is die mensvreter tuis.
Vet en maer bring hy daar elke ding wat hy vang,
En daar voer hy die kinders met heuning en pap.
Elke nag kom hy voel as hul moeg is en slap,
Of die vet al die maeres se ribbetjies dek.
Voertsek!
En hoe dikker die spek!
Al hoe meer hy van lus dan sy lippe aflek.
Op sy voet het die mensvreter weerskant ‘n oog,
O, gits!
Dit is oë wat blits!
As hy iewers wil kyk, staan hy voete omhoog.
Jaag die mensvreter jou, loop dan al in die sand,
Want die stof laat sy oë so water en brand
Dat hy glad nie kan sien, nie meer weet waarnatoe.
Allehoe!
Kyk jou oë gaan toe.
Wil my Kleinbaas loop slaap? Dan’s dit ook daarnatoe.
Klein boetie
Waar kom ons nuwe klein boetie vandaan?
Oos van die son en ver wes van die maan
Woon op die berge ‘n klein bobbejaan,
Kees se seun Joggem.
Abba moes Ma hom aljimmer, maar saans
Penorent, sit hy daar bo op die krans.
Kyk hoe die jong bobbejane daar dans;
Soms skree hy: Boggem!
Mammie het lankal vir ‘Suster’ gesê
Dat ons graag weer ‘n boetie wil hê;
Toe het sy saam met die dokter oorlê
Joggem te vang;
Voor hy kon ‘ê’ sê, was hy in die hande;
Voor hy kon byt, trek die dokter sy tande.
Soe, maar hy skree dat dit dreun oor die rande!
Glo hy was bang!
Een, twee, drie word toe sy stert afgekap,
Gou in die seeppot sy haar afgekrap.
‘Hou op met kielie of ‘k huil my nog slap!’
Skree die kabouter.
Daarna word hy toe in watte gepak,
Saamgeneem in ‘n tamaaie groot sak;
Raai en toe word die klein bergenaar mak –
Stil die klein stouter.
Nou lê hy lekker in moeder se armpies,
Wit soos ‘n lammetjie, saggies en warmpies,
Veilig teen donker en dag se alarmpies,
So suikersoet.
Handjies en voetjies so sag as ferweel.
Dat hy ‘n aap was, kan’k skaars my verbeel,
Ek was ook een en dit kan dus min skeel –
Hy is my boet!
Met ‘n mandjie rose
Liefste Tannie, ons bring rosies,
Rosies blink met môredou,
Mooie kleurtjies, soete geurtjies,
En dis alles net vir jou!
Rosies fluister: ‘Liefde, soentjies’ –
In verbloemde blommetaal;
Rosies wat ons uit ons tuintjie,
Liefde uit ons hartjies haal.
Maar die soentjies … in geen mandjie,
Nêrens in wil dit geluk –
Liefste Tannie, ons is raad-op –
Soentjies moet jy self maar pluk!
Geen rosie sonder dorinkie!
Vir Annatjie
Gister in die môrestond
Loop ek in die blomtuin rond
En met môredou gedoop,
Gaan die rosies stadig oop.
Goeiemôre! Al my liefies,
Al my rose-hartediefies,
Kyk die son het opgestaan,
Nou’s dit tyd om oop te gaan.
Nou’s dit nie meer tyd vir slaap nie,
Nie manierlik nog te gaap nie!
Nou’s dit tyd vir pronk en pryk
Roseplig om mooi te lyk!
Wys jul prag van mooie kleure,
Sprei jul vrag van soete geure;
Skoonheid wat ek sal onthou
In die winterryp en -kou.
Net een rosie kyk nie vrolik!
Klein Ophelia lyk so olik;
Hou haar koppie weggedraai,
Bewerig die lippies fraai.
Traantjies glinster in haar oë,
Traantjies wat sy nie kan droë;
Nou en dan gee sy ‘n snik –
Droef en duister is haar blik!
‘Rosie, nee dit sal nie gaan nie!
Dit kan ek ook nie verstaan nie!
Waarom in die môre sommer
So vol droefheid en vol kommer?’
En die rosie antwoord saggies,
Al met traantjies onder laggies:
‘Ek het … al my leed is dit …
Op my dorinkie gaan sit!’
Die tweeling
Vir Andries
‘n Tweeling wat my tog so lekker laat lag
Is swart Daantjie Donker en blink Dawie Dag!
As Daantjie vir Dawie gewaar, moet hy hol,
Al is hy ook anders so blind as ‘n mol.
Ou Daantjie is deftig en donker van vel,
Swart hardebolkeil, swart sambreel en manel;
Maar merk hy dat blink Dawie kom om die draai,
Dan sien ‘n mens net sy manelpunte waai!
Brand binne die lig, dan laat vat hy na buite,
Kruip onder die tafel of loer deur die ruite.
Vir almal wat moeg is bring Donker Daan rus,
Vir kinders en blomme ‘n goeienagkus.
As Donker Daan saans uit die diep klowe kom,
Sluit soet kind sy oë, sy kelkie die blom.
Slegs dan sal hy klaag dat ou Daantjie te lank is,
As Moeder moet waak by haar kindjie wat krank is.
Sy tweelingbroer Dawie is ‘n vrolike kêrel,
Hy laat elke doudruppel blink soos ‘n pêrel;
Hy skyn op die water, hy loer oor die rande,
Met skitt’rende klere uit Oosterse lande.
Hy is baie nuuskierig en kyk oral in:
‘Dis opstaantyd, netnou moet skool weer begin;
Word wakker,’ roep hy, ‘kyk daar trek my ou broer!’
En een, twee, drie het hy die spul aan die roer.
Die tweeling groei aan en neem af soos die maan,
Want somers is blink Dawie langer as Daan;
Maar winters – ek weet self nie wat daaraan skort –
Rek Daantjie so lank en krimp Dawie so kort.
Boet Dawie die hou van ravot en rinkink;
Hy laat vir Klaas Vaak smôrens sterk koffie drink.
Broer Daantjie die laat ‘n mens vroeg-vroeg al gaap;
As perdjie eers kopspeel dan’s sy ruiter Jan Slaap.
Wil iemand nog weet hoe ou Donker Daan lyk,
Druk albei die oë styf toe en kyk;
En as jy tot môre om sewe-uur wag,
Maak oop dan jou oë – en daar’s Dawie Dag.1.
- Die naam ‘Old Daddy Darkness’ is reeds vroeër gebruik deur Ferguson, en ‘Davie Daylight’
deur Tenant.
Kokkewiet
(Bedoel word ‘n waterinsek en nie die voël wat dieselfde naam het nie.)
O ek hou van die swaeltjies … Daar bo in die lug
Slaan hul bollemakiesie so rats en so vlug;
Hulle duik vir die blitsstraal en speel met die wolke,
En hul bou ‘n mooi huisie met klei uit die kolke;
Hulle vlieg oor die see en hul ry op die winde,
O want Swaeltjie en Sonstraal en Somer is vrinde.
In die voorjaar sit hul by die dam op ‘n ry
O so bly, want hul kry daar die klei om te brei.
En ook nie op ‘n tak
Maar wel onder ons dak
Bou hul kunstig die nes.
Hulle skrik nooit vir ons,
Net vir goeters wat gons.
Hul word bang as ‘n ding
Uit die water uitspring;
Vir ‘n ding wat so koerrr
Soos ‘n grote woer-woerrr:
Vir die ou Kokkewiet,
Vir die grou Kokkewiet,
Vir die blou Kokkewiet
Met sy mes!
Ek is lief vir die dam waar die diertjies op wemel,
En ek kyk o so graag in die spieël van die hemel
Na die wolke daar onderstebo, waar die lug
In die blou waterkoelte lê en droom op sy rug.
Ons ou voorbok, Kapater, is vies vir die water
Met sy stewels wat kraak en sy klokkies wat klater.
O dis heerlik die water se handjies te voel
Soos dit spoel, O so koel in die sloot of die poel.
O, maar kyk ek is bang
Vir die groen waterslang
Wat daar onderin woon.
‘k Wou in diep water loop,
Had my voet reeds gedoop,
Toe ek skrik dat ek hik.
Wie’t my nou weer verklik?
Hoor daar roep een: ‘Pas op!
Ja jong, jy raak gefop,
Want die ou Kokkewiet,
O die grou Kokkewiet,
Ja, die blou Kokkewiet
Sny jou toon!’
En daar klink oor die dam op die stil middagstond
‘n Afgryslike yslike klank in die rond,
‘n Geluid asof twee dosyn motbye dreun
Met ‘n nadraai so tussen ‘n kreun en ‘n steun.
En my hare die rys en my tande die klap
En my oë rek oop en my knieë word slap
Want ‘n liederlik-lelike wolhaar-insek
Kom direk na my toe met sy bek oopgerek.
Ag my bene was lam
Maar ek sny van die dam
En ek woerts op die es
In my ma se kombuis,
Ja maar toe maak ek vuis
En ek sê: Wie’s dan bang
Vir ‘n groen waterslang,
Wie sal skrik – tog nie ek
Vir ‘n wolhaar-insek?
Vir ‘n ou Kokkewiet,
Vir ‘n blou Kokkewiet,
Vir ‘n grou Kokkewiet
Met ‘n mes?
Oom Lokomotief en tant Treinie
1 Huis toe
Word jy moeg van die see en die sand,
En verlang jy daar nie meer te bly nie,
Kom dan terug na ou Suikerbosrand
Met oom Lokomotief en tant Treinie.
Ou oom Lokomotief is ‘n man
Wat maar altyd moet trap in sy spoor:
Want tant Treinie kom knaend agteran
En sy loer wat hy aanrig daar voor!
Die oom Lo en sy Trein is ‘n wa
Van die egte ou voortrekker-soort,
Want die las van die land moet sy dra
En hy trek altyd voor – altyd voort!
Ou tant Treinie sy gaan altyd mee,
En wat het sy nie als in haar skoot?
Heen en weer van die land na die see
Dra sy kindertjies en hulle brood.
2 Die rit deur die Natal
Dag, ou Durban! Hoera! Kyk ons ry
(Want oom Lo staan en fluit ongeduldig)
Deur die Duisende-heuwels-vallei
En die Zoeloe-geslag menigvuldig.
Dit is swaar vir oom Lokomotief
Om van Pietermaritzburg te gaan:
(Dis die land duur gekoop deur Retief
Met sy goed en sy bloed van Dingaan!)
En hy stamp en hy stoot en hy steun;
En hy trek dat sy keelgorrel fluit;
En hy krul en hy kronkel en kreun
Maar hy bring ou tant Treinie bo-uit!
En daar blink die Toegelarivier.
Dis die plek waar die Rooivers se Bul
In die draad vasgeloop het. Ja, hier
Het oom Louis vir Buller gekul!
En daar links lê die slapende Draak –
So van ver af lyk hy soos ‘n berg –
Hy is woedend wanneer hy ontwaak,
So pas op! om vir hom nie te terg!
Amajoeba! Oom Lokomotief
Loop ‘n paar male hier heen en weer
En hy fluit: ‘Op! Saluut asseblief
Aan die dapper geslag van weleer.’
3 Die hoëveld
Lekker los loop oom Lokomotief
Waar die rooi Afrikaneros wei
En tant Treinie die sing: ‘Ag hoe lief
Lyk ‘n mielieland nou weer vir my.’
Ons is uit op die Hoëveld nou
En ons vlieg oor die dak van Transvaal
En die lug is so helder, so blou –
Net nog Greylingstad, Balfour en Kraal –
4 Tuis
En dan Heidelberg – Suikerbosrand –
Mooiste dorpie ten noord van die Vaal!
Daar’s die stasie – die Kloof – liewe land!
En ek weet sommer wie my kom haal!
Biesie, Biesie, Bame
Nodig: ‘n Teddiebeer, Golliewok, Graaff-Reinetse pop en ‘n kjoepie
Skoon is nou weer elke poppie
Van die voetjies tot die koppie!
Sedig sit hul, maar ek vrees
Almal is nie soet gewees;
Want die stoute Teddiebeer
(Slaan hom)
Het sy bakkies swart gesmeer;
En die wilde Golliewok
(Dreig met die voorvinger)
Het vandag weer so gejok!
Riena kom van Graaff-Reinet;
(Omhels haar)
Ons twee het tog soveel pret.
Kjoepie is my liefste kind,
(Soen haar)
Met haar laggie en haar lint.
Toe maar, nou is almal soet,
Moedertjie is ook weer goed.
Knietjies krom en hande netjies:
Bid nou julle aandgebedjies: –
Biesie, biesie, bame
Hou die handjies same,
Ena, dena, dana, doe
Maak nou julle ogies toe.
Mena, mina, mana, moeg
Tot dit lig word môre vroeg. Amen!
Adorasie
O Kerstnacht, schooner dan de dagen! Vondel
Silwer-witte wondernag
Maneglans en sterreprag
Benedy alom die trans
Met ‘n heilige stralekrans.
Op sy bedjie wit en rein
Sluimer soet ‘n knapie klein,
Is daar iemand op die stoep
Wat hom telkens saggies roep?
‘Liewe Jesus! Is dit Jy?
Kom hier op die bed by my –
‘k Sal Jou ‘n geheim vertel,
Dalkies raai Jy dit nog wel: –
Om Jy môre vroeg verjaar
Is ons Kersmisboom al klaar,
Is Jy altyd ook so bly
As Jy mooi presentjies kry?
Maar geen antwoord, geen geluid,
Slegs die maan skyn deur die ruit;
Blootsvoets loop hy deur die gang
By die deur uit – niks nie bang –
Langs die paadjie deur die tuin
– Silwer elke boom se kruin –
En – ‘n sonderling’ gesig –
Helder is die stal verlig!
Wat tog sal hy daar aanskou?
Daar sit Onse Liewe Vrou
Met die Heiland op haar skoot,
Soen Sy kleine voetjies bloot.
Om haar hoof ‘n sterrekrans
Ligter as die verre trans;
Rondom lê ‘n koei en skaap
Al herkouend in hul slaap.
Voor haar kniel drie manne grys,
Kniel drie konings oud en wys
Met geskenke in hul hand
Uit die verre Môreland.
Sag en soet klink in sy oor
Die verhewe Eng’le-koor;
‘Vrede op aarde’ soet en sag –
‘Kersnag – skoner as die dag!’
Vrind’lik wenk Maria hom:
‘Wil jy nie ook nader kom?
Kom en groet die Heil’ge Kind –
Alle kindertjies se vrind.’
Op sy toontjies staan hy daar
Skaam’rig staam’lend vra hy haar:
‘Mag ek maar Sy handjies soen?’
Ag … toe wyk die visioen.
Op sy bed lê hy nog steeds,
Helder ligdag is dit reeds,
Moeder wek hom met ‘n kus:
‘Het my liefling goed gerus?
Hy het sekerlik gedroom
Van ‘n mooie Kersmisboom
Want hy’t in sy slaap gelag,
In die blye Kersmisnag.’
Lank gelede in Nasaret
Christ our Lord had the heart of a boy. Katherine Tynan
Lank gelede in Nasaret,
Vol van kindervreugde en pret,
In die noue straatjies
Het daar eens ‘n Knaap gespeel
En die lief en leed gedeel
Van Sy kleine maatjies.
Sorgsaam word die taaie klei
Uit die smid se dam gebrei
In die skurwe handjies.
Noags Ark word daar gespeel:
Dié een maak ‘n krom kameel.
Daardie … olifantjies.
Maar die Knaap met lig gelaat,
Wyl Sy maters lag en praat,
Maak ‘n tortelduifie;
Maak ‘n mooie koppiekrou –
Borsie rooi en vlerkies blou –
Geel en groen die kuifie.
En Hy gooi hul in die lug;
Dáár trek hul in snelle vlug
Ver weg op die windjies!
Groot was die verwondering –
Was dit ook nie sonderling? –
Van Sy kleine vrindjies.
Spraakloos van bewondering
Luister almal in ‘n kring,
Ope mond en ore,
Hoe Sy Vader alles klaar
Eens geskep het, wonderbaar,
Eeue vantevore.
In Sy liefde sonder grens
Was Hy jammer vir die mens
Ver van Hom verstote;
En Hy leer hul om te lag,
Tooi die veld met kleureprag,
Blomme kleine en grote.
Toe dink Hy ‘n veertjie uit,
En ‘n keeltjie wat kan fluit,
En twee skerpe oë.
Kunstig vorm hy toe ‘n vlerk
Om te swewe deur die swerk
Tot die wolkeboë.
En daar word ‘n wonderding:
Blommetjies wat vlieg en sing,
Elk sy eie wysie:
Swaeltjie, wat die somer bring,
Rooibek – winter-liefeling,
Soetste sanger, sysie.
Vinkies rooi en vinkies geel,
Goud, skarlaken en fluweel.
Hangend aan die bome
Nessies, kunstig deurgeweef,
Op die luggies om te sweef
Oor die waterstrome.
Glimlag moes die Maker nou
Vir die pronksug van die pou
En die langstert-vinkie;
Vir die grootkeel-pelikaan,
Vir die uil en swart koraan
En verspot tinktinkie!
Hy maak die kanarie geel
Met ‘n orrel in sy keel.
Leer self skone akkoorde
Aan Sy sanger nagtegaal.
Tot die voëltjies altemaal
Spreek Hy hierdie woorde: –
‘Jubel as die dag begin,
Lei met sang die somer in.
Speel met wolke, winde;
Telkens as die lied weerklink,
Sal Ek aan die mens gedink,
Voëltjies – My beminde!
Smôrens as daar word gehoor
Boskoraal en vlaktekoor –
Voëltjies bly gewemel –
Sal die Engeltjies kom loer
Deur die tralies perlemoer
Van die hoë hemel.’
5 Om te sing
Kalwerliefde
Wysie: I come from Alabama. Amerikaans
Daar oorkant in Transvalia,1.
Daar woon ‘n liefste kind,
Sy is die appel van my oog
En ek haar beste vrind!
O my Diena!
Hoe is jy tog so fraai?
Ek voel my reeds in Kanaän,
As ons twee tiekiedraai.
Jy woon daar halfpad na die lug
So onbereikbaar ver;
Die liggie in jou venster is
My aand- en môrester!
O my Liena
Jy’s as ‘n ster so skoon –
Net jammer dat jy in die lug,
En ek op aarde woon.
En weet jy wat Concordia
Wil sê in Afrikaans?
Twee hartjies wat net eners klop
Van smôrens vroeg tot saans!
O my Miena
Hoe is jy tog so lief?
Jy’t lankal reeds my hart gesteel,
Jou soetste hartedief.
- Transvalia en Concordia is koshuise vir dogters en seuns op Heidelberg, Transvaal.
Elk’ aand voor ek aan slaap kan raak
Dink ek nog eens aan jou;
Aan goue lokkies ongebind
En aan twee ogies blou!
O my Niena
Hoe is jy tog so mooi?
Is daar ‘n lelie wit soos jy,
‘n Roos as jy so rooi?
Daar buite op die voetbalveld
Speel ek my pers en blou;
En in die skool leer ek my grys –
En alles net vir jou!
O my Siena
Hoe lyk jy so piekfyn?
Wat is die wêreld sonder jou?
Soos sonder goud ‘n myn!
En word ek eendag president
Van heel Suid-Afrika,
Dan gaan ons na die hoofstad toe,
Ons tweetjies op ‘n wa!
O my Tiena
Jy span tog maar die kroon;
Hier is my hart so teer en trou
Vir jou om in te woon!
Die penkop
Deense melodie
Die oorlog dreig al weer,
So klink die droewe maar;
Daar word gekommandeer,
Want die land is in gevaar.
Persoon, perd, saal en toom,
Provisie vir ‘n week.
Die mouser blink, patrone in
Die bandelier gesteek.
As al die and’re gaan.
Sal ek by die huis nie bly.
Die noointjies van die Vrystaat
Verlaat hul net op my;
En daarom gaan ek veg
Vir Vryheid en vir Reg
– Vir vry Suid-Afrika.
My moeder het probeer
Met trane my te keer.
Dit help nie om te huil,
Moeder maak my hart net seer.
Wat help dit dat ek ploeg,
Wat baat dit dat ek saai,
As Kakie netnou kom
En help vir ons die koring maai.
Nee, elke boereseun
Moet nou veg dat dit so dreun.
Die dogter en die vrou
Kan die plaas in orde hou.
Wie man is, moet gaan veg
Vir Vryheid en vir Reg,
Vir vry Suid-Afrika.
Die stryd is lank verby;
Ek is nie meer ‘n seun.
Maar somtyds in die aand
Hoor ek perdehoewe dreun
En klanke droef en bly
Oor vlaktes toe nog vry,
En op die nagwind hoor ek weer
Die ou kommando ry:
Vooraan ou Generaal,
Vrystaats’ ongekroonde Vors.
En al die ou gevoelens
Herleef weer in my bors.
Ek voel ek kan weer veg
Vir Vryheid en vir Reg,
Vir vry Suid-Afrika!
Vanmelewe
Wysie: Rückblick (Duits)
O vanmelewe! kosb’re tyd
Van liefde, lus en lewe,
Verby is al jou heerlikheid –
Wat het jou dan verdrewe?
Vergeefs soek ek jou nog eens weer;
Ek vind ja selfs jou spoor nie meer.
Wat het jou dan verdrewe,
O tyd van lus en lewe?
Alleen, maar die opregte hart
Kan nimmermeer verkoel nie –
Sal hy die vreugde of die smart
Van vrindehart nie voel nie?
Al word die wêreld droef en koud,
Die ware vrindskap word nooit oud.
O laat sy altyd bloeie,
Haar bande hegter groeie.
Hier lê ek, beste vrind, my hand
Vertroulik nou in joue.
Ons sluit opnuut die heil’ge band
van liefde en vertroue.
Laat helder nou die stemme klink:
Ons wil die goeie tyd herdink
En hegter weer opboue
Die liefde en vertroue.
Die swaeltjies van Hermanus
Melodie: ‘Ma Normandie’ (Frans)
Die swaeltjie wat trek:
Wanneer die Lente met sy weelde
Van blareplag en bloesemgeur
Die heerlik deur die son gestreelde
Ou Boland sier met vorm en kleur;
As Voorjaar kom en nuwe lewe
Met towerstaf wek oor die land,
Van heimwee word ek dan gedrewe
Na sonnig’ Afrika se suiderstrand!
Die swaeltjie wat bly:
Ek hoor van Switserland en Spanje
Van al die skoon wat jy aanskou,
Die groen olyf die geel oranje
Italiës helder hemel blou –
Ek hoor van nagtegaal-gesange,
Waar donker woude antwoord gee –
Hermanus hou my hart gevange,
Sy berg en dal, sy blomme en bloue see!
Die moeder by Irene
Poolse melodie
(In die somer is die kinderkerkhof by Irene ‘n see van kosmos.)
Daar waar die graffies lê in die rytjies
Daar is begrawe my aards’ geluk:
Twee kleine bleke kindergesiggies } Bis.
Wreed van hul moedershart geruk. } Bis.
Wanneer die lente kom oor die aarde,
Blomme verspreidend, selfs ook hier,
Sien ek hul weer – gepluk uit my gaarde. } Bis.
Waarom so vroeg, O Howenier? } Bis.
Saans as die sterre, lonkend van verre,
Harte verhef na hoëre sfeer –
Lag hul my toe – my tedere kleine. } Bis.
Blommetjies in die tuin van die Heer! } Bis.
Die diepste smart
Poolse melodie
Die diepste smart het sy geduldig
Gedra die eed’le Boerevrou,
Deur al haar leed so menigvuldig
Het sy haar hoof steeds hoog gehou.
Selfs toe haar huis die vlam ten prooi word,
Verlore al haar aards’ besit,
Spreek sy: Vir jou gee ek gewillig,
O land, my land! nog meer as dit!
En toe haar seun, haar al op aarde,
‘n Vroeë graf vind op die veld,
Roep sy met trots: ‘k Bedwing my trane,
Ek was die moeder van ‘n held!
Hy rus in vaderlandse aarde,
Trou waak die sterre oor sy graf
En vir ons Vryheid – O, vrywillig –
Lê ek my lewe ook nog af.
Toe van haar volk hul taal en sede
En ideale laf laat vaar,
Ontrou word aan hul groot verlede,
Die slaaf van die veroweraar,
Toe vloei haar lang-bedwonge trane,
Toe wyk haar moed, toe breek haar hart
En troost’loos staar sy in die toekoms –
Dit was die allerfelste smart!
10 Oktober
Melodie: ‘De Vlaamsche Leeuw’ (Vlaams)
Hul kon jou tog nie tem nie –
Ou Afrikaanse leeu,
Al sterf jy ook ‘n balling!
Na onreg van ‘n eeu!
Al moes jou gryse hare
Met smart ten grave daal,
Jou gees die leef nog hede,
Jou stof rus in Transvaal!
Die vryheidsgees sterf nimmer
In die Afrikaner-ras –
Hy rys weer soos die feniks
Verheerlik uit sy as!
Die grootste ryk verbrokkel,
Geen troon bly altyd staan –
Die sterkste leërs snewe;
Ons volk sal nie vergaan,
Solank hy vasberade
Eendragtig en getrou,
Soos sy grote Voorman
Sy eie siel behou –
‘Bewaar,’ roep hy, ‘u sede,
U Godsdiens en u taal,
En skep uit u verlede
U toekoms-ideaal.’
Land, Volk en Taal
Melodie: ‘Finlands Wald’ (Fins)
Land van die eike met heldergroen lower,
Ruisende graanveld en pêr’lende wyn,
Waar elke môre met sonnegoud tower,
Skitt’rend die Suiderkruis nagt’liks verskyn.
O heerlik sonnig’ land,
Aan u gasvrye strand
Bring ons die hulde van hart en verstand.
Volk uit die lende van helde gesprote,
Duldend geen dwing’land, gehard in gevaar,
Waardig die vaad’re, die Geuse en Hugenote,
Wie kan u dade van durf ewenaar?
O stoere voorgeslag,
U mannemoed en krag
Word hier ons dankbare hulde gebrag.
Taal van my moeder, haar liefde en gebede
Staam’lend gelispel as kind aan haar knie,
Wat ek geloof het, gelief en gelede
Ruis in u klanke as ‘n soet melodie.
O dierb’re Moedertaal,
As eens my dag ook daal
Hoor ek u nog vir die laas liewe maal!
Lied van die Volkskool
(Heidelberg)
Skoolleuse: V.V.V. (Vir Volk en Vaderland).
Skoolkleure: Goud, wit, groen.
Daar’s ‘n skool met ideale
En gebore uit die nag,
Uit die nag van stryd en lyde
Voor die opgaan van die dag.
Dis die Volkskool hoogverhewe,
Van ons hoop die onderpand,
Dat daar wag ‘n toekoms heerlik
Vir ons Volk en Vaderland!
Deur die lengte en die breedte
Van ons land word hy genoem
Die ou Volkskool wat ons liefhet,
Alma Mater wat ons roem.
Groot ons doel en hoog ons strewe,
Aan ons land en volk getrou,
Frisse sterkgespierde ‘Volkies’,
Ons sal handhaaf, ons sal hou!
Oor ons waai ons eie driekleur:
Goud die son wat ons bestraal,
Wit die sneeu op ons gebergtes,
Groen die vlaktes van Transvaal.
Goud die teken van ons rykdom,
Wit ons ongeskonde eer,
Groen die hoop op eie toekoms
En die welvaart van weleer.
Koor
Wapper, vaandel van die Volkskool,
Aan jou wy ons hart en hand –
Al ons kragte al ons liefde –
Vir ons Volk en Vaderland!
Die Pêrel se klokkies
Melodie: ‘Die Würzburger Glöckli’ (Oostenryks)
Die Pêrel se klokkies
Het ‘n mooie geluid,
En die Bolandse noointjies
Sien liefies daaruit.
La la la …
Die Bergrivier vloei daar
So helder as glas.
En ek kan nie ontken nie,
Hoe lief jul my was.
La la la …
‘n Klein bietjie liefde
En ‘n klein bietjie trou;
En ‘n klein bietjie valsheid
En daar het jy ‘n vrou!
La la la …
Maar die Onderveld roep my,
Dis nou oulaas se sien;
Ek sal treur van verlange
Na julle … miskien!
La la la …
Studentelied
Melodie: ‘Weber’s Letzte Gedanke’ (Duits)
Daar’s geen plek op aarde
Soos die wydvermaarde
Stad van wyle Simon van der Stel;
Sulke eikebome
Sulke waterstrome
Vind jy die op aarde elders wel?
Word jy staatsminister
Of Scholae Magister
Of ‘n teoloog met swart manel,
Ieder-osofie
En elke -ologie
Studeer ons in die stad van Van der Stel.
Ook van liefde omgewe
Is studentelewe;
Ons en Bloemhof leef in harmonie –
Waar rooi rosies groei
En blanke lelies bloei
En ag, ook menig’ kruidjie-roer-my-nie.
Waarvoor is daar rose,
As vir kusse, kose?
Die wat nie wil, ag, dis huig’lary,
Want opreg en eerlik
Is hul ook maar deerlik
Die eed’le diens van Amor toegewy!
Maar die grote strewe
Van ons jonge lewe
‘s Uit te munt in kaats- en voetbalspel;
Was die grote Japie
Ook nie eens ‘n knapie,
In die stad van Vader Van der Stel?
Maar die professore
En eksaminatore
Stel ‘n egte sportman so teleur;
As mens kan ‘n ‘traai’ maak
Moet hul geen lawaai maak,
Al kom hy nooit een eksamen deur.
Vader skryf: ‘Die tennis
Bring bedroef min kennis
En die voetbal help per slot geen duit.’
Hy moet nie vergeet nie,
Dat hy bloedmin weet nie
En die wêreld gaan gestaag vooruit.
‘Weg met die eksamen!’
Daarop sê ek: ‘Amen!’
Steun net op natuurlike talent,
‘k Wil geen vreug verkort nie
En niks anders word nie
As ‘n troue Stellenbosch-student.
Rose van herinnering en ander gedigte
Deel 1
Die rose van herinnering
Wees jy, my lied,
Vir my ‘n goue kelk
Waarin met bloesems onverwelk
Die donkerrooie roos van my verdriet
Nog een te kort, te skone uur
Van smartelik’ geluk
– Die tyd ontruk –
Sal duur.
Wees jy ‘n kostelike vaas waarin
Nog liefd’rik word bewaar
Elk arm’ verwelkte blaar
Deur my weleer geliefkoos en bemin;
Dat wie ook al hierna verby mag gaan,
Beswymend sal ontwaar
Die soete allegaar
En weet: Hier – eenmaal – het ‘n roos gestaan.
Wees jy, my lied, die urn van edelsteen
Waarin die kosb’re as,
Wat eenmaal skoonheid was,
Deur my nog steeds bewaak word en beween
Totdat die bittersoet geheuenis
Van diepe liefde en leed
Vergaan is en vergeet,
En wie die roos bemin het … nie meer is.
Wees jy, my lied, ‘n snaar so fyn,
Van louter goud, klinkklaar en rein,
Waarop my dank
Vir elke wonderdag
Van lewe, liefde en lag –
Die sending en die seëning:
Die rose van herinnering –
Sal tril en sterwe met jou laaste klank!
Die Roos
Te kort jou skoonheids duur,
Roos van my hof;
Vir jou volmaakte uur
Die Gewer lof!
Te kort ons liefdestyd:
Te lank die rou.
Tog – tot in Ewigheid
Goddank vir jou!
Omdat die Dood …
Omdat die Dood so vroeg vir jou
Geskeur het van my sy,
Sal jy jou skoonheid steeds behou
En ewig jeugdig bly.
Maar ek sal oud word, stram en grys
En koud van liewerlee –
Die skatting wat die lewe eis,
Betaal aan leed en wee.
Wat klaag ek oor verlore jeug?
Wat is daar te behou?
Begrawe is tog begeerte en vreug
Al lank gelee … met jou!
Die swarte osse
Die jare kom die bulte oor
Soos sware, swarte osse;
Dwarsoor my hart lê hulle spoor –
Die vaalstreep deur die bosse.
Die jare kom, die jare gaan,
Al dieper sny die groewe;
Gebroke is ek en gedaan
Deur hulle sware hoewe.
Terug na die Karoo
Ik ben van den buiten
Ik ben van den boer!
René de Clerq
Daar moet nog êrens mense wees
– Ver in die vaal Karoo –
Wat sawens nog die Bybel lees
En aan Sy boodskap glo;
En huise waar nog vrind’likheid
Die koue dag verwarm;
Waar egte Boerherbergsaamheid
Nog wag vir ryk en arm;
Waar smôrens nog weerklink ‘n lied
Op stil-gewyde toon
En waar die Heer Sy seën gebied
Omdat daar liefde woon;
Waar daar nog deur die lewe vleg
‘n Silwerblanke koord;
Die man eenvoudig en opreg
En slaaf net van sy woord;
Die vrou nog trou aan haar gemaal,
Gelukkig met haar kroos;
Waar nog die seun sy perd opsaal,
Die dogter nog kan bloos.
Daar moet nog lug, nog ruimte wees,
Nog minder swaar die las;
Daar sou ‘n kranke mens genees
As daar geneeskans was.
Dan, wat, in Godsnaam, maak ék hier
Waar alles anders is?
‘n Heilloos hunker na plesier,
Net skyn, net dun vernis?
‘k Sal opstaan en ‘k sal daarheen gaan
Waar aldeur vrede woon –
Vervreemd, verwese en gedaan,
‘n Arm Verlore Soon –
En sê: Vér het jou kind geswerf,
Die halwe wêreld om;
Maar, ou Karoo, nou voor hy sterf,
Nou het hy weer gekom.
‘n Wrakke, vroegvermoeide mens,
Gebroke en verwond,
Kom hierheen met sy laaste wens
En vra ‘n stukkie grond.
Hier iewers op die vrye veld,
Met geur van awendblom,
Sononder op die wye veld –
Laat hier … die Donker kom!
Van tempel en hooglied
1
In Sion sal in heerlikheid,
So spreek die grote Koning,
Verrys ‘n tempel Godgewyd,
‘n Weerskyn van Sy majesteit
En Sy Sjeginas woning.
Jou seders lewer Libanon,
Jou dennehout en gofer;
Blink in die strale van die son
Sal skitter teen die horison
Die fynste goud van Ofir.
Fier staan, Moria, op jou rots,
Geen toeval onderhewig,
Die hoog-gevierde tempel Gods,
‘n Wêreldwonder, Judas trots,
En hy sal staan vir ewig!
Die pelgrim met sy karavaan,
Gerigsnoer deur die sterre,
Skou, o Jerusalem, jou aan,
Val in vervoering, spraak-ontdaan,
Aanbiddend neer van verre.
2
Bly vloei die rotsontspronge stroom
Deur speseryeklowe,
Met blombelaaide struik en boom,
Verwesenliking van ‘n droom,
Fonteine en wonderhowe.
Stort al jou geure uit, my Hof,
Deurwaai haar, Sagte Winde;
Besing, my Harp, haar skoonheidslof;
Strooi, Blomme, al jul goue stof
Waar wandel my beminde.
Tot by die aanbreek van die dag,
O Lelie onder Doorne,
Sal ek, o Roos van Saron, wag
Waar op die Mirreberg vernag
‘n Konings-uitverkoorne.
Soos wierookwasem dring die lied
In brandende gesange,
Vol gloed en Oosters’ koloriet
Van Salomo en Sulamiet,
Sy liefde en verlange.
3
Waar is, wat is, Jerusalem? –
Haar heerlikheid verdwene –
Die pelgrim voel sy hart beklem,
Verskeur sy kleed, verhef sy stem
Oor haar ontwyde stene.
‘n Puinhoop is haar glorie nou
En nameloos haar smarte;
Wat is al mense-ramp en -rou,
Jerusalem – my Land! by jou,
Stad van gebroke harte?
4
Solank ‘n jonglingshart nog gloei
Met vuur vir sy beminde;
Solank ‘n maag in skoonheid groei,
Sal, waar nog jeug in vreugde bloei,
Die lied ‘n weerklank vinde.
Die minnesang op perkament,
Deur mot en roes verderflik,
Oorleef die hegste fondament,
Weerklink tot aan die aardryksend,
Want liefde is onsterflik!
Die beste
Der Mensch hat hier dritthalb Minuten: eine zu lächeln, eine zu seufzen,
und eine halbe zu lieben; denn mitten in dieser Minute stirbt er. Jean Paul
Richter
Oneindig is die wonder
– Oneindig klein en groot –
Omhoog, omlaag en onder
In Moederaarde-skoot.
Verganklik is, o Lewe,
Jou rag so fyn gewewe,
Maar nooit sal ons begewe
Die vrede van die Dood.
Gekroon bly die bekoring
Van liefde en van rus:
Die soeklig op die toring,
Die see wat saggies sus;
Want altyd – eerste en leste –
Van al is Liefde beste
En Slaap wat uit die weste
Vermoeide oë kus.
Wat ook die Dag se pligte,
Welk’ sorge in verskiet,
Send ons ‘n Nag van ligte
En nagtegalelied,
Geen las te swaar te dra nie –
Die wil om nie te kla nie –
Die moed om niks te vra nie:
Die Hoogste Wil geskied.
Bereik die stroom die duine,
Van moed en spoed ontdaan,
Weerkaats hy meer geen tuine
En vang versanding aan
Met dorheid sonder bloesem,
Neem dan, met slyk en droesem,
Jou kind weer aan jou boesem,
O Moederoseaan!
Wie weet welk’ sterre flonker,
Welk’ skepe steek van wal
Waar, in fluwele donker,
Die laaste awend val –
En, los van lus tot lewe,
Van hoop en vrees onthewe,
Van onrus en van strewe –
Ons wegsink in die AL?
Il ponte de’ sospiri
I stood in Venice on the Bridge of Sighs
A palace and a prison on each hand. Byron
Daar tussen kerker en paleis
Soos in ‘n droom staan hy,
En adem weer die reine lug,
Maar toef tog op die Trane-brug,
Slaak telkemaal ‘n diepe sug:
Na soveel jare … vry!
Heil! Welkom! wenk uit die paleis.
Wat wag, wat aarsel hy?
Voer hy ‘n bange sielestryd?
Het hy aan swaar en bitterheid
Sy hart gewen, en met die tyd
Sy boeie liefgekry?
Sal my die Dood – die brug wat lei
Van Tyd tot Ewigheid –
Die stonde van verblyding wees,
Die einde van al’ lyding wees,
Die ure van bevryding wees
Van stof en sterflikheid?
Sal, in dié uur, my hart verstaan:
Eers moet die awend val,
Voor groots en heerlik sal verskyn
Die vesting van die Groot Waardyn,
Waar luister-ligte lonk en skyn,
Ontelbaar in getal?
Nemesis
Deposuit potentes de sede et exaltavit humiles. Magnificat (Luk. 1:52)
Onuitspreeklik sug die Skepping
Wyl die onkruid welig tier;
Onverklaarbaar toef die Regter
Wyl nog onreg hoogty vier;
Swaar geteister wag die mensdom
Op die magwoord: ‘NET TOT HIER!’
Reg maar altyd aan die Kruishout;
Onreg altyd op die troon;
Maar die kruis beheers die toekoms,
Want in diepe skadu woon
Ongesien die Onregwreker –
En regverdig is Sy loon.
Hoog die seder, diep sy wortels,
Wyd sy takke, groot sy eer.
Niks gedoog hy in sy skadu,
Selfs die grasspriet groei nie meer;
Maar die byl is aan die wortel
Reeds gelê. Daar stort hy neer!
Albeheersend, onverwinlik
Ry die Armada van die ree,
Meesteresse van die golwe,
Kom ‘n storm van liewerlee.
Waar is al die reusgevaartes?
Vra die bodem van die see!
‘Leef in Ewigheid, o Koning,
U gesag sal altyd duur.’
Bowe almal hoog verhewe
Voel hy ‘n Godheid in die uur.
Grootheidswaansin: MENE TEKEL
Skryf die hand reeds teen die muur.
Magbewus woed die geweldenaar,
Rig te gronde stad en land;
Sluit die deure van genade,
Laat ‘n spoor van bloed en brand,
Onbewus nog van die kanker
In sy eie ingewand.
Woekerwins begeer die Geldsug
– Nooit versadig, nooit tevree –
Ondanks ondergang van volke,
Menseleed en wêreldwee.
Dwaasheid: Wrang is al sy vrugte,
Bodemloos die Dode See.
Vry die Mens – tog steeds in boeie,
Steeds die Denker in die ban;
Op sy via dolorosa
Lê die spoor van die tiran;
Maar – regverdig rig die Regter
Wat die laaste vierskaar span.
Alle onreg eis vergelding
Deur die mens se hand gepleeg,
Alle trotsheid word verneder,
Alle trane afgeveeg
In die saal waar menseharte
Teen ‘n veertjie word geweeg!
Arachne en haar drie boodskappe
Araignée du matin: chagrin
Araignée du midi: souci
Araignée du soir: espoir1
(Franse spreekwoord)
Spinnekop, daar in die hoek,
Wat kom jy so vroeg hier soek?
Onheil spel jy voor die deur,
En jou boodskap stel teleur.
Waarom een maal nie probeer
Om iets goeds te profeteer?
Oorgenoeg die dag se kwaad:
Vreugde is korter as jou draad.
Van die Wurm wat knaag by dag:
Wanhoop – skrikbeeld uit die nag.
(1 môrespin: teleurstelling
middagspin: sorg
aandspin: hoop)
Wat kom op die held’re noen,
Spinnekop, jy nou hier doen?
En – betrag jou môrevangs:
Sorg en kommer – vrees en angs!
‘k Wonder of jy self wel weet
Jy’s ‘n ongeluksprofeet?
Jy verswaar die las van smart
Op die arme mensehart.
Vang en hou die Papie Sorg
Wat ons in sy weefsel worg.
Driemaal welkom, awendspin.
Hoop en moed bring jy weer in,
Goue strale van die dag
Glinster in jou fyne rag
Met die Vlinder van Geluk,
Awendbeeld van môredruk.
Soet na lyding – stille rus;
Na verwyd’ring – welkomskus;
Soet na twyfel – hoop en moed.
Spin jou draad: Eind’ goed, al goed!
Judas
Die prys vir ontrou was betaal:
Die dertig silwerlinge.
Daar roep ‘n stem: Wat het bepaal
Die bloedprys, die geringe?
Dis steeds jouself wat jy verniel
Deur troubreuk op die aarde.
Nie Christus, maar jou eie siel
Die had so weinig waarde!
Waarom, kerm hy, moes ek begaan
Die sonde nooit vergewe?
Ag, Meester, sal U hart verstaan
Ek boet ook met my lewe?
Ek was ook nodig vir U plan.
My skande en my skade
Die mensheidsredding. Is daar dan
Vir my ook geen genade?
Hoe kon ek, arme boeteling,
Die noodlot my beskore
Vermy – en haar besoldiging –
Verordineer tevore?
Hoe jaag my pols, hoe hyg my bors,
Wee my! – Waarheen my wende?
Vervloekte geld! Ag, welk ‘n dors –
Welk’ wroeging, wat ellende!
O God! verlam die wrede hand;
O, hoor die harde slae!
My sal tot aan die verste strand
Die milde oë knae.
Onskuldig bloed het ek verraai,
Niks kan my skuld bedelwe,
Hoe woed die vlamme ligtelaai …!
En hy verworg sigselwe.
Die donkie
Het veulen eener ezelin. Matth. 21:5
Ruig van haar en lank van ore,
Skor van stem en sonder sier,
Misontvange, wangebore,
Spotprent van ‘n eed’ler dier,
Sware laste, harde slae,
Droë brokke vir my brood –
So slyt ek my lewensdae
Tot my onbetreurde dood.
Trots verbrys’ling menigvuldig,
Met my stoere kromme wil
Stadig stap ek en geduldig,
Swoeg ek, swerf ek, swyg ek stil.
En my naam, die spotbenaming
Van elk’ domme kreatuur.
Tog – die trotse tot beskaming –
Eenmaal had ek ook my uur.
Toe hosannas bly geklink het
Triomfant’lik aan ‘n Vors,
En ‘n pronktuig skoon geblink het
Op my rykversierde bors.
Ek … tot eed’ler diens verkore
Dan die edelste mag vra:
Want my was die eer beskore
Om die Hoogste Las te dra!
Die offerande van Isak
Sonnette-reeks
1 Die land Moria
Uiteind’lik deurgeworstel was die nag
Maar bloedsweet het dit Abraham gekos,
Steeds was sy hart by Mamres-Eikebos
En by die vrome tent waar Sara wag
En angstig reeds die trage stonde tel
Totdat haar Isak – sielsbeminde seun –
Sy hoof vertroulik teen haar bors sou leun,
Haar enigste van God op Wiens bevel
Hul als verlaat het – maagskap, volk en land,
Geliefde Paddan Aram, nou so ver
En huis en haard, verbroke elke band,
Met Sy belofte as hul een’ge ster.
‘God eis,’ – spreek hy, ‘Sy onderpand, my telg.
‘k Eerbiedig die bevel wat my verdelg!’
2 Op een van die berge
‘My vader, waar is dan die offerdier?
Van stene stewig vas staan die altaar,
Die brandhout al gerangskik, alles klaar.’
‘Dis Gods bevel en wil, my kind, kom hier.’
‘Gaan Vader nou my hande same bind?
Is ek die offer? Soen my op my wang
En, Vader, hou my vas, ek voel so bang.’
‘Maak toe jou oë, Izkele my kind.’
Hoe jaag die hart wat vaderhand moet tref?
‘U, Die my hart en al sy smarte sien,
U smeek ek met die mes omhoog gehef.
Skenk krag en lig, Verbondsgod Die ek dien.’
‘Doen aan jou kind geen kwaad,’ roep daar ‘n Stem:
‘Gehoorsaamheid is offerand’ by Hem.’
3 Die Here sal voorsien
Die Here het voorsien. Nou huis toe weer.
Bly huppel Isak aldeur en gesels;
Word telkemaal deur Abraham omhels
Met ongekende teerheid keer op keer;
En Isak juig: ‘O, ek is tog so bly
Dat daar ‘n ram verward was in die struik
Wat Vader vir die offer kon gebruik
En op die altaar lê in plaas van my.’
Toe eers beswyk die man in Abraham;
Toe wel die moeder op in ieder oog;
‘In plaas van jou, my dierbaarste, my lam?’
Snik hy en wend betraan die blik omhoog,
‘U roep ek tot getuie of ek nie
My kind geoffer het, EL SCHADDAI!’
4 Ecce homo!
Daar voor sy oog verskyn in vér gesig
‘n Heuweltop waarop ‘n kruishout staan
Met wat ‘n mensgestalte was daaraan
Gemartel. In die groue môrelig
Sien hy die doodsweet-druppels stadig val,
Verwese die gelaat deur elke kind
Op aard geken, bemin – die Kindervrind,
Die Liefde in ‘n liefdeloos heelal;
Die bleke hande en voete wreed deurboor,
Om die bebloede slape ‘n doringkroon,
En Abraham buig in die stof en hoor:
‘Aanskou die Mens – My Eengebore Soon!’
‘U weg is onnaspeurlik, groot U naam,’
Bid hy en omheen bid die velde saam!
5 Soos ‘n lig wat skyn in die duisternis
O man van Haran, met U karavaan,
U pelgrimstaf, U oog gestaag gerig
Op die belofte Gods – hoe trek die lig
Van U geloof ons, Trekkerskinders, aan!
Hoe wys die soeklig oor die eeue nog
(Wat in ‘n strale-stroom oor die woestyn
Van Vrees en Twyfelsug bestendig skyn)
In vér verskiet die eindpaal van die tog!
U leid-ster in die vreemde was Geloof,
Met Hoop en Moed U tot ‘n stok en staf,
U veil’ge brug oor elke donker kloof
Geloof wat triomfeer oor Dood en Graf,
Wat uitblink soos die rooidag teen die nag
Voortgaande en ligtend’ tot die volle dag!
Salut d’amour
Ek ry in die veld in die môre,
Ek drink uit die kelk van die nag
‘n Heildronk geskep deur Aurore
Uit die bruisende bron van die dag.
Hoe glinster dit al in die ronde
Met per’lende trane van dou …
Gedroom het, in nagt’like stonde,
Die blomme, my Liefste, van jou!
Hoe fluister dit al deur die blare
So bly op die heldere noen …
Die wind het gespeel met jou hare,
Jou lippe, my Liefste, gesoen!
Keer weer, o bevoorregte winde,
En bring, as die weste verkleur,
‘n Groet van die veld my beminde –
My boodskap met blomme se geur.
La belle dame sans merci
Die golwing van die lig wat daal
Op goue koringare,
Is glansloos by die gloed wat straal,
Madonna, van jou hare.
Die diepe see het ek aanskou,
Met wonder opgetoë,
Maar nog geheimnisvoller blou,
Madonna, in jou oë.
Ek het die roos met vuur sien gloei
In tuine van verlange,
Maar teerder blos het ek sien bloei,
Madonna, op jou wange.
Koud is die Winterberg se top,
Met nooit ‘n lentebloesem,
Maar kouer nog die hart wat klop,
Madonna, in jou boesem!
Diamanda
Du hast Diamanten und Perlen. Heine
Jy het diamante wat skitter,
Jy’t al wat ‘n mens kan begeer;
Want jy het die skattigste ogies –
Klein liefling, wat wil jy nog meer?
Ek delf in my brein – ag! – wanhopig
Vir woorde so gloeiend, so teer
Soos daardie betowerende ogies –
Klein liefling, wat wil jy nog meer?
En met die verleidelike ogies
Wat my soos twee vlamme verteer,
Rig jy nog die delwer te gronde –
Klein liefling, wat wil jy nog meer?
Klein ongeduld
Ag, Mammie sal nooit raai nie,
Maar ek is tog so bly:
Dis iets wat ek gesien het
Daar onder in die vlei:
‘n Voël met witte vlerke
Vlak by die waterkant,
Die Ooievaar – so heet hy –
Hy kom van Anderland.
Dis hy wat my gebring het
Hoog oor die berg se top,
Want toe ek hom gevra het,
Toe knik hy met sy kop.
En toe ek vra of daar nog
Vir my ‘n boetie is –
‘n Boetie of ‘n sussie –
Toe knik hy: Ja, gewis!
Ek is tog so allenig,
Het ek gesê vir hom,
En hy moet darem eendag
Na ons huis ook weer kom.
Want Mammie werk al maande;
Die mandjie staan al klaar –
Hoekom bly hy so lank weg?
Die stoute ooievaar!
In die klooster
Suster Infelice voor die Madonnabeeld
Maria hooggebenedy,
Vorstinne van die Eng’le-rei,
By U, Geheimnisvolle Roos,
Klaag ek my leed, soek ek om troos;
‘n Swaard het deur U siel gegaan
O Moeder-maag, U sal verstaan.
U was ook maagdelik en rein
Maar U had tog ‘n Kindjie klein
Om steeds te troetel aan U hart –
U eie vir U pyn en smart;
Om die geringste leed gesmaak –
Sy klein verdriet – weer goed te maak;
U eie wiggie teer en klein
Om lief te hê totdat dit pyn;
Om met U trane te oordek
En met U glimlag weer te wek –
Maar al die rykdom van my hart
Versmoor hier agter somber swart,
Die moedermooglikheid in my
Is aan die Hemel toegewy;
Tog sien ek dikwels, dag en nag,
Gesiggies wat my teë-lag,
Gestaltes, skimme wat verskyn
Met wonder-oë en verdwyn –
En hoor ek stemme uit die blou
Wat fluister: Ons behoort aan jou.
Waartoe, o diep geheimenis
Die drang wat aldeur doelloos is?
As ek in skamel hutjie sien
Waar Armoed woon, waar Liefde dien,
‘n Moeder met haar kleine kroos –
Haar sorg, haar kommer en haar troos –
O Moeder hooggebenedy,
Hoe sondig moet ek haar beny;
Regina Virginum, erbarm:
Sy is so ryk en ek so arm!
Klein sonneskyn
There is no flock however watched and tended But one dead lamb is there. Longfellow
Net soos ‘n lammetjie so lief,
So dartel en so bly,
Het hy aldag om my gespeel
Gedurig aan my sy.
Net soos ‘n lammetjie verkluim
In bitt’re winternag,
So kil, so koud was hy oplaas,
So stil sy blye lag.
Hulle sê hy sal gelukkig wees:
Waar hy is, is geen smart;
Maar wie sal nou Klein Sonneskyn
Sag troetel aan haar hart?
Ek weet net – deur die lange nag,
Totdat die lig weer kom –
Ek weet hoe my arms pyn
Met ledigheid van hom.
Hoed ook my lam, O Lam van God,
O Kindervriend en Hoeder.
Wie kan hom in die Groot Heelal
So liefhê soos sy moeder?
Die sterwende Romein tot sy siel
Vry na die Latyn: Adriani morientis ad animam suam.1
My liewe, vriendelike sieltjie kleen,
Sal ons twee maats nie meer tesame lewe?
Ek sien alreeds jou vlerkies angstig bewe
Of jy wil vlieg … jy weet ook nie waarheen.
En sal jou grappies langs die slingerpad,
Met al die op- en afdraans van die lewe,
Jou bleke, koue naaktheid nou begewe?
Jy hoop en vrees … jy weet ook self nie wat!
1 Animula, vagula, blandula
Hospes comesque corporis
Quae nunc abibis in loca,
Pallidula, frigida, nudula,
Nec ut soles dabis jocos?
Oorkruis
Die arme moeder in die huis
Die bid: Heer, gee my krag na kruis.
Haar man die laai ‘n sware vrag
En sug: Heer, gee my kruis na krag.
Ongelyk?
Die Vader in die Hemelryk
Verdeel sy gawes ongelyk.
So lyk dit, vrind, en tog jy dwaal.
Ons weet so min, ons oordeel gou.
Die stem gee Hy die nagtegaal,
Die vere aan die skorre pou!
Tyd
‘Zoo wij zeer sterk zijn tachtig jaren.’
Die ganse uitgestrektheid van die Tyd
Is nog geen duimbreed van die Ewigheid;
Tog vind die Mens, wat kwalik tagtig word,
Nog tyd vir Tydverdryf en Tydverkort!
Lied van die wonderboom
Wat hieronder volg, is ‘n vrye vertaling van ‘n ou Egiptiese gedig omtrent
3000 voor Christus geskryf, en aan die vergetelheid ontruk deur moderne
Egiptoloë. Die Sukomor-boom (Grieks sykon: ‘n vyg en moron: ‘n moerbei omdat
die vrugte soos vye lyk, die blare soos moerbeiblare) is bekend van
Noord-Afrika tot by Pretoria en word gewaardeer vir sy welkom skaduwee.
Die wonderboom is ‘n voorbeeld van die boomsoort.
In die gedig sing die boom vir die dame aan wie die tuin behoort waarin
hy staan, as volg:
Kom na my skaduwee, edele vrou,
Rooi saffier gloei my vrugte vir jou,
Groen soos papirus my blare altemaal,
Dof glim my stam met die kleur van opaal.
Send dan aan hom wat jou hart reeds bemin
Heimlik ‘n brief met die boodskap daarin:
‘Koel is die skaduwee, sag vloei die stroom,
Soeter die werklikheid hier as die droom.
Brood om te breek, goue wyn om te skink …
Liefde uit die kelk van my boesem te drink.
Kom, my beminde, want liefde alleen
Kan aan die oomblikke duurte verleen!’
Edele vrou, net my blare hier fluister;
Niemand wat liefde beloer of beluister.
Hier is jy veilig beskerm deur my loof,
Blind is ek – siende! – en horende … doof!
By die monument
(Heidelberg, Tvl.)
Rus in vrede, tere bloeisels,
– Offers van die storm –
Want uit weke moedertrane
Is die steen gevorm.
Blomme van ‘n later lente
Laat die boodskap weet:
Sê in liefde aan ons dode
Ons het nie vergeet.
Kleine Afrikanerstemme
– In ons eie taal –
Bring hier toegewyde hulde
Aan ‘n ideaal.
Kleine Afrikanerharte
Voel hier sterk en groot;
Want besieling vloei uit lyde,
Lewe uit die dood.
Kleine Afrikanerhande
Sal die fakkels dra
– Wat aan julle vroeg ontval is –
Vir Suid-Afrika.
Swaar – hoe swaar ook al – die smarte,
Duur – hoe duur – die prys,
Nooit vergeefs die offerande
Wat die vryheid eis:
Skyn die nag so lank, so donker,
Skyn die dag so ver,
Rus in vrede: In die ooste
Blink die môrester!
As Kersfees kom
Ballade
As Kersfees kom – geseënde tyd –
Dan word ‘n droewe wêreld bly,
Gaan harte oop, staan deure wyd
Al waar die milde invloed sprei
Van vrede, vrindskap, goeie wil,
Wat meng in soete harmony –
Die boodskap laat ons harte tril …
Maar môre gaan ons weer baklei!
As Kersfees kom en vrind’likheid
In goeie Sinter-Klaas-livrei,
Heers wyd en syd beminlikheid
In kerke en stande streng geskei.
Dan, blykbaar, is daar geen verskil,
Die Vredevors al toegewy:
Warm word ‘n wêreld doods en kil …
Maar môre gaan ons weer baklei!
As Kersfees kom, wyk kleinigheid;
Vergeet een ieder sy party;
Wyk wanguns en venynigheid
Wat broeders van malkander skei.
Dan swyg die dwarstrek-geeste stil
Voor vrede-engelesang en -rei –
Dié kom so graag as ons net wil …
Maar môre gaan ons weer baklei!
l’Envoi
Die Kersfeesgees, die goeie wil,
Die spreek tot U, die spreek tot my:
Sy boodskap laat ons harte tril …
Maar môre? – Gaan ons weer baklei?
Welkom tuis
Saam met die erkenning van ons onafhanklike status, in verband waarmee
sy naam sal lewe in die geskiedrolle van Suid-Afrika, bring genl. Hertzog
ook die ou staatswa van die gewese Suid-Afrikaanse Republiek terug
van Londen, waarheen dit vervoer is as oorlogsbuit ná ons Tweede
Vryheidsoorlog. Die teruggawe van hierdie historiese gedenkstuk op
hierdie tydstip deur die Burgemeester van Londen, is ‘n daad van
edelmoedigheid wat onwillekeurig ons erkentlikheid en tewens ook ons
bewondering afdwing.
Ou Staatswa, nou kom jy weer t’rug
Van verre Teems se boorde,
En ons begroet jou met ‘n sug:
Ons welkom vind geen woorde.
Veel water is weg al met die Vaal
Vandat hulle jou in seëpraal
Gevoer het na die noorde.
Hier staan in brons die President,
En rondom met die roere,
Op brandwag om sy monument,
Sit soos van ouds die Boere.
Al wie hier kom, kan loop en lees:
Dit was die voorgeslag gewees,
Die vastrap-staatmaak-stoere.
Die huis met leeue voor die deur
Staan nog daar soos tevore.
Soms skyn dit hulle lê en treur
Oor vryheid lank verlore.
Geen praal maar het die fondament,
Net soos die gryse President;
Hier sien ons nog sy spore.
Die eew’ge heuwels om die stad,
Die sierlike geboue –
Dis of mekaar se hande vat,
Die nuwe en die oue.
Hoe statig rys teen Meintjeskop
Die steensimbool van Unie op
In wedersyds’ vertroue.
Kom t’rug, Oom Paul! Joubert, keer weer,
Groot geeste van verlede!
Kom ons weer eensgesindheid leer,
Verdraagsaamheid en vrede.
Ons voed die onderling’ verskil,
Ons beste kragte word verspil
In heilloos’ broedervete.
Verdeel en heers, te alle tyd,
Was listigheid se leuse.
Vereen en lei, met wys beleid,
Bly nog die staatsmanskeuse.
Verdeeldheid breek ons swakke krag,
Maar Eendrag maak die sterke mag
Wat werk verrig van reuse!
Dan welkom weer hier in die land
Van goue sonnestrale,
En heil aan U, ons volksgesant,
Tolk van ons ideale!
Hier is ons hart en hier ons hand:
Die hulde van die vaderland
Vir vredeseëprale!
Die ontwaking
Daar is ‘n tyd om hout te hak,
Daar is ‘n tyd vir water-dra;
‘n Tyd vir mooie broodjies bak,
‘n Tyd om asseblief te vra.
Daar is ‘n tyd vir pleit en paai,
Daar is ‘n tyd om toe te gee;
‘n Tyd om doekies om te draai
Ter wille slegs van rus en vree.
Daar is ‘n tyd om maar te ploeg,
Daar is ‘n tyd om maar te saai
Al is ‘n mens ook baie moeg,
Al sal ‘n ander dit ook maai.
Daar is ‘n tyd om maar te buk,
Om maar te dra en te verdra
Die sware, ongelyke juk,
Om stil te swyg en nie te kla.
Maar eendag kom daar tog die tyd
Die dissel met die hand te vat:
‘Hier eindig die lamlendigheid,
Want ek is der verachting zat!
Ek het ‘n arm, ek het ‘n vuis:
‘k Wil pal staan vir my goeie reg
En baas wees in my eie huis –
Daar lê die baadjie van die Kneg!
Die tyd vir soebat is verby,
En mooi-praat is nie meer die plan:
‘n Plekkie in die son vir my –
Die regte van ‘n vrye man!’
Bloedrivier
Drie sonnette
1 Nag
Klein handjievol wat hierdie grote land
Gered het vir die verre nageslag,
Ek sien die laer verlore in die nag
Waar almal waak, die wapen in die hand,
Maar hoorbaar stilte heers, geen wagvuur brand,
Asof èn kind èn redelose dier
Besef die lotbestemde plaas is hier
En uit die uurglas loop die laaste sand.
Al nader, onheilspellend, keer op keer
Dring dowwe klanke dreigend uit die nag.
Die dreuning ken die Boer: die donderweer
Van Amazoeloes saamvergaarde mag
In duisende wat op die skildvel slaan:
Die nooit-verwonne impi’s van Dingaan!
2 Dagbreek
Groot moet die hart wees wat hier pal kan staan,
O onverskrokke manne van die daad,
Nou teen die laer die hel word losgelaat,
Dood en verderf tot hoor en sien vergaan;
Die afgryslikheid van Bloukrans voor die oog:
Die wawiel nog gevlek met mensebloed.
Die stormloop feller, altyd meer verwoed,
Gevaar rondom en vér die hemel hoog.
O broederbende, onwrikbaar as ‘n rots
Kalm in die stormbewoë oseaan
Waarteen die swarte branders brekend bots
En skuimend elke pluim te pletter slaan,
Swart was die nag en rooi die daglumier
Voor die opgaan van die son van Bloedrivier!
3 Dag
O heldeskaar wat in julle sieleangs
Julle hoë sieleadel het behou,
Aan eer en vryheid tot die dood getrou,
Vermoeid, verwond, die harde trekpad langs,
Hoe kan ons julle dank of eer betoon,
Aan julle nagedagtenis vergoed
Volharding weergaloos en stoere moed –
Ons wat op julle bloedspoor vreedsaam woon?
Geen marmersuil maak julle roem bekend,
Maar elke boerehuis wat veilig staan
En elke ploegvoor, elke land vol graan
En elke pad is julle monument!
Vryheid het jul gedrywe, ‘n blanke wig
In donker Afrika – en daar was lig.
Die Marseillaise
Het Hannibal met sy trawante,
Soldate, slawe en olifante
Die Alpe oorgetrek,
Weer word verskrik die adelare
Deur krygsrumoer van leërskare
Wat klank en weerklank wek.
Op sneeuveld en op hoë kranse
Val op die driekleur van die Franse
Die late middagson
Swaar swoeg ‘n grofgeskutbemanning,
Maar trots die grootste kragsinspanning
Bly roerloos die kanon.
Daar kom die veldheer Bonaparte,
En moed herleef in alle harte
Met ‘Vive Napoleon!’
‘My kinders,’ vra hy, ‘weet jul dan nie
Daar is nie so ‘n woord as “kan-nie”
In Jeug se leksikon?
My kinders, algar, jonge en gryse,
Hef aan met my die Marseillaise.
Dit moet, dit sal geluk!’
‘Allons, enfants de la patrie …’
Klink dit op hande, voete, knieë …
Daar rol die sware stuk!
Ou snorrebaarde en kadette
Vergeet hul moegheid, wuif die pette,
Juig tot die trane val.
Die man, die lied – is dit geen wonder?
Dit ruis hier bo, dit dreun daar onder:
‘C’est le petit Caporal!’
O, vir ‘n lied wat vleuels dra,
‘n Lied vir jong Suid-Afrika!
‘n Wonderlied van vuur en gloed
Wat, wie dit hoor, laat sê: Ek moet!
‘n Lied wat albesielend tril,
Wat, wie dit sing, laat voel: Ek wil!
Die matte vrou, die moeë man
Weer moed laat skep en dink: Ek kan!
En of ek staan dan of ek val …
Ek moet – ek wil – ek KAN – ek SAL!
Die lokstem van die Bosveld
Aan my vriend Pierneef
Langer kan ek hier nie rus –
Rus of duurte kry nie:
Nag, wat alles wieg en sus,
Sus nie meer vir my nie.
Drome wenk my in die nag,
Stemme fluister deur die dag:
‘Hier is nie te bly nie.’
Na die Bosveld lok my droom –
Droombeeld nooit verlore
Waar Magalakween nog stroom –
Stroom soos vantevore.
‘k Hoor die môrewind se lied
En die rietbok in die riet
Aldeur in my ore:
Daar’s ‘n wêreld wyd en vry
Anderkant Tatsjanie,
Waar die grootwildtroppe wei
Tussen die mopanie;
Waar die groen maroelas staan;
Waar oor gramadoelas gaan
Geen gemaakte baan nie.
‘k Sien die berge dynsig blou –
Blou-pers rotsewande;
‘k Sien die kremetartboom hou –
Hou nog steeds die hande
Seën-uitsprekend oor die woud
As die dag in louter goud
Breek oor bosse en rande.
‘k Groet u glorie, Grote Son –
Songoud uit u woning –
Ligtelaaie lewensbron –
Bron en glans-bekroning –
Heil u strale mild en bly!
Vlaktekinders wild en vry
Ken geen ander koning.
By die kampvuur met my roer,
Roerloos deur die duister,
Sien ek wilde oë loer –
Loer met wilde luister;
Maar ek staar die sterre aan
Tot ek die geheim verstaan
Wat die nagwind fluister.
Na die Bosveld moet ek weer –
Weer my siel tot lawing;
Want ek walg en wil nie meer –
Meer genotverslawing.
Weg voor! Hier begin die tog,
Weg van blinkerige bog …
Noem dit dan … beskawing!
‘n Vrye volk
Danklied
(Melodie: Kent Gij Dat Volk)
1
Heldhaftig het ons Voorgeslag
Getrek, gely, geveg –
Vertrouend op die Heer se mag
En op hul goeie reg;
Die Stryd volstaan met leeueharte,
Met mannemoed en eer,
Gesmaak die bitterste van smarte:
‘n Vrye volk nie meer!
‘n Vrye volk,
‘n Vrye volk,
‘n Vrye, vrye volk … nie meer!
2
Maar Hy Die in Sy sterke hand
Die wêreldryke dra
Bestem die lot ook van ons land,
Beskerm Suid-Afrika.
Uit kwaad is tog weer goed gebore,
Uit ons vernedering … Eer;
En wat die oorlog het verlore
Bring ons die vrede weer:
‘n Vrye volk,
‘n Vrye volk,
‘n Vrye volk dank U, o Heer!
Gaudeamus igitur
Die wynstok groei waar vreugde woon
In songeseënde lande;
Puur purper sprei sy prag ten toon
Teen songesoende rande;
Rein hartverblyding is die loon
Van songebruinde hande.
Die landmans vrome vlyt vergoed
Die wynstok met sy hartebloed.
O wonder van die sonneskyn
En helder-groene blare:
Wat hier die druiwe inkarnadyn,
Verguld daar koringare,
Verander water weer in wyn
– O Moeder, wonderbare –
Wyn wat die mensehart verheug
En werk herskep in lewensvreug.
Die goue wyn van Moeris kon
Taméras adelare
Voer langs die ligpad van die son.
Nog wink ons oor die jare
Falernus, Kupros, as die bron
Van hoog-besielde snare:
Die skoonheid van Oud-Hellas roem,
Die grootheid wat ons Rome noem!
Soet is die lied wat hier weerklink
Van Guido, Cavalcanti,
Lacryma Christi soet te drink,
Gevierde land van Dante!
In Oud-Toskane word geskink
Nog steeds die rooi Chianti –
Bied my ‘n glas Constantia
In landstaal van Suid-Afrika.
Weldadig is die geur en krag
Van bruisende Bourgogne:
Verruklik is in kleureprag
Die oewers van Dordogne;
Bly klink die groet en gul die lag
In wynland van Gasgogne –
Geen skoner oord, geen beter wyn
As ou Franschhoek en Drakenstein.
‘n Forse bergknaap is die Ryn,
‘n Woudnimf die Moselle –
‘Kom aan my hart, O liefste myn,
So skoon as u forelle.’
By Koblenz in die sonneskyn
Vloei saam die blye welle.
Tog groei daar aan die vorstestroom
Geen druif soos aan Hawékwas soom.
In swart sombrero op die prado
Of onder groen kastanje
Drink don en donna Amontillado
En roem die wyn van Spanje.
Elk noem sy eie Eldorado:
Oport’, Tokai, Champagne.
Vir my – siel van die muskadel
Wat om die Pêrel gloei en swel.
Daar het die vrome Hugenoot
Uit sy verlore gaarde
Geplant ‘n vaderlandse loot
In Afrikaanse aarde.
Al rus hy lankal in haar skoot,
Nog hou die werk sy waarde:
Die eed’le wyn! Wie drink daarvan,
Die bly, voorwaar, ‘n edelman!
Lag tot die vreugdetrane rol,
Skep blydskap uit die lewe,
Verban onedel alkohol
Uit Afrikaanse drewe
En skink die feesbokale vol
Met wyn deur HOM gegewe,
Deur HOM bestendig, WAT nooit dwaal
By huweliksfees en Awendmaal!
Verduideliking (Nodig en Onnodig)
Moeris (Méér-is): Kunsmeer in Oud-Egipte – beroemd vir sy wyn. Kleopatra het
wyn van Moeris aan Antonius gegee by die historiese maaltyd.
Tamera (Ta-mér-a): Egipte (Letterlik: Land wat ek liefhet!)
Adelare: Die gestorwe Farao gaan volgens hulle tradisie met die twee
wisselende skuite van die Son (Atet en Matet – Voormiddag en Namiddag)
onder toejuiging van die matrose van Ra, die Songod.
Falernus Aggei: Beroemde Romeinse wynplaas (vide Horatius).
Kupros: Ciprus van die Bybel beroemd vir sy wyn (Ana Kreon).
Hellas: Griekeland.
Cavalcanti: Vrind van Dante en digter. (Dit het Dante nie verhinder om
Cavalcanti sr. in die hel te sit nie (Divina Commedia), omdat hy ‘n politieke
teenstander was!)
Lacryma Christi (La-Krie-ma Kristi): Trane van Christus. Soetwyn wat op die
helling van Vesuvius gemaak word.
Chianti (Ki-anti): Suur wyn van Toskane.
Bourgogne ens: Spreek uit Boergonje, Dordonje, Gaskonje.
Koblenz: Latyn confluens = saamvloei.
Hawékwas: Berge naby Wellington.
Sombrero: Spaans vir hoed.
Prado: Spaans vir plein.
Oporto: Die Alto-Douro-distrik is vir Portugal wat die Haute Lorraine vir Frankryk
is (die Champagne).
Tokai: Duurste Hongaarse wyn.
Forelle: Trout-fish.
Die Ryn kom van die Alpe;
Die Mosel of Moselle uit die bosagtige Vogese.
Deel 2
Toe die wêreld nog jonk was
‘In dié dae was die reuse op die aarde …
die manne van naam.’ Gen. 6:4
Kort anderkant Jerusalem
Daar het gewoon Metusalem,
Die man wat hul – dit sal jy sien
Vermenigvuldig het by tien!
Hy was g’n vier jaar in die land
Toe kry hy al sy eerste tand;
By tien jaar kruip hy oral rond,
‘n Flinke knapie en gesond:
Toe rol hy al, en val en woel
En staan hy op teen elke stoel.
Nog skaars was hy ‘n jaar of elf
Toe stap klein Lemmie al vanself.
So groei hy op tot sestig jaar:
Die eerste wisseltand was daar;
En volgens landswet ry ‘oom Kool’
Op ou Behémot na die skool.
Sy vaders trots, sy moeders vreugd’,
Met Step by Step en Trap der Jeugd
In Hoog-Galdeeus en Aramees,
Want almal moes tweetalig wees.
‘t Was goed en wel, maar alte vaak
Het dié twee ‘opgemix’ geraak.
Hy leer; en voor hy honderd was,
Staan hy al eerste in sy klas!
Op honderd-sestig moes meneer
Sy melkbaard al begin te skeer;
Tien jaar daarna al katkiseer
En Hellembroek – die dubb’le – leer;
Nog tien jaar toe begin hy al
‘n Mooi, klein noointjie lastig val.
Verniet dat Vader loop en brom:
‘Kniehalter-span sal ek vir hom!
‘n Bog van honderd-tagtig jaar
Praat al van trou – so wrintie waar.
Maar styf sal hy sy rieme loop –
Hy dink glo trou is kémel koop!’
‘Kind,’ sê sy ma, ‘daar’s baie tyd –
Waarvoor die grote haastigheid?’
Maar wat, die snuiter was getroud
Skaars honderd-ses-en-tagtig oud.
En soos dit in die huwelik gaan,
Sy huisgesin groei stadigaan:
So elke dertig-veertig jaar
Is weer ‘n nuwe outjie daar.
So word, met dat die eeue rol,
Ook mettertyd sy koker vol –
‘n Pure man Metusalem,
Die Raadslid vir Jerusalem!
Hy tem die woeste Dinosour
En skiet die wolhaar-Brontosour;
En van sy vel maak hy ‘n jassie
Vir klein Mahérskalálgasbassie.
Maar klein Kedorlaomertjie
En lief Kirjatjaromertjie,
Die tweelingboetie en sy sussie,
Kry elk ‘n hippopotamussie.
Tiglatpileser, die parmant,
Wil niks hê as ‘n olifant;
Maar Hammoerabie huil en sê
Hy wil ‘n wit harnoster hê.
En klein Metusalem verlang
Pa moet vir hom ‘n walvis vang.
‘Habbakukkiena, bly tog stil!’
‘Ag, Ma, hul vat my krokodil!’
Maar Gog-Magog met breë bors
Eet soet sy leviatanwors.
Ja, glimlag moes die moeder wel
By dié verteed’rend’ kinderspel:
Hoedat – dis om jou hart te steel –
Die kleinspan met hul diertjies speel!
So leef hy voort en doen sy plig
Tot sewehonderd-sewentig.
Toe sê hy: ‘Kinders, nou gaan ek
My aan die boerdery onttrek.
Voor nog ‘n honderd jaar verloop,
Sal ek vir my ‘n bril moet koop.
Die paar ou eeutjies wat ek nog
Hier op die aarde lewe mog,
Wil ek gaan rus van al my werk.
My dorpshuis staan vlak by die kerk;
Die dokter en die predikant
Is albei sommer byderhand.
Hou, as ek weg van julle woon,
My kinders, julle paadjies skoon:
Pas op vir borgstaan en krediet
Vir Israel- en Ismaeliet.
Behou die grond, kaart en transport;
Betaal kontant: die lewe is kort,
‘n Droom – en voor ‘n mens gewaar,
Dan is die ouderdom reeds daar.
My lewe is – so skyn dit my –
Soos ‘n gedagte snel verby!
My dogters, luister tog vir Pa:
Volg nie die nuwe modes na:
‘t Word alles korter – liewe land! –
Die rok, die hare en verstand.
Dit dans, dit rook – dis om te ween.
In hemelsnaam! Waar moet dit heen?
Ligsinnigheid wat my verstom –
Vanslewe was dit andersom.’
En so verslyt Metusalem
Sy oudag op Jerusalem,
En drink en rook op sy gemak
Sy koffie en sy pyp tabak.
So sit en peins hy menigmaal:
‘Die duisendtal sal ek nooit haal.
Ek het ook soveel knoue weg
In wilde-mens- en diergeveg,
En sware koue in die nat
Vierhonderd jaar gelee gevat.
‘k Onthou nog goed die groot kapok –
Die sneeu tot aan die huis se nok.’
Op nege-sewentig-min-een,
Sy tydjie om, was hy daarheen;
En niemand wis of dag daaraan
‘n Wêreldrekord was geslaan.
Die feit is daar: Van toe tot nou
Het hy die langste aangehou!
In den beginne
(Indiese legende)
‘Alzoo sprak de Heilige: Ik heb de
wateren Nara genoemd en omdat zij mijn
Ayana (verblijfplaats) waren, daarom ben ik Narayana,
de Schepper aller dingen.’ Vedas
Aarde, son en maan en sterre,
Heel die Skepping was volbrag,
En die son sink stadig weswaarts
Op die laaste skeppingsdag.
Twee-twee loop die diere almal –
Net die Man wag vir sy maat;
Maar Narjana had net stukkies
Hiervan, daarvan oorgelaat.
In gedagte diep versonke
Peinsend sit die Skepper nou.
Met ‘n glimlag om Sy lippe
Vorm hy toe die eerste Vrou.
In haar lede werk hy kunstig
Van die rondheid van die maan
En die ewig-skone glimlag
Van die moeder-oseaan;
Droewigheid van reënwolke,
Blyheid van die sonneglans;
En die wellus van die buiging
Van die bloue golwedans;
Sagtheid van die tortelduifie,
Felle wreedheid van die tier;
Ydel pronksug van die pouvoël,
Arbeidsliefde van die mier;
Vrees en bewing van die hasie,
Krag en oormoed van die leeu;
Gloed en hitte van die vuurvlam,
Kou van maagdelike sneeu;
Milde oë van die wildsbok,
Fierheid van die eed’le ros;
Doodsgetrouheid van die waghond,
Valsheid van die sluwe vos;
Sterkte, swakheid, soetheid, suurheid –
Alles voeg hy bymekaar.
‘Dis die pronkstuk van my skepping.
Neem haar en wees goed vir haar.’
Net ‘n maand – daar staan die Man weer
En salaam met diepe buig:
‘Neem nie kwalik, o Narjana,
Maar ek is bewus oortuig
Met die Vrou kom ek nooit reg nie:
Sy’s ‘n wilde kolokwint,
Sy’s nuuskierig, praatsiek, ledig,
Wispelturig soos die wind.’
‘Laat haar hier en gaan jou gang maar.
Maak net soos jou hart verlang.
Tyd sal leer hoe lank alvorens
Die allenigheid jou vang.’
Net ‘n week … daar staan die Man weer:
‘’k Smeek, o Skepper, om pardon.
Groot was my vergissing dat ek
Sonder haar weer lewe kon.
Vir die oog was sy begeerte,
Vir die hand bekoring sag.
Harmonie was haar beweging,
Rein musiek was in haar lag.
Geurig was sy soos die lente,
Vol van minnelied en lus:
Lotus-blomme, wonder-rose –
Wat ontluik in ied’re kus!
Ek onthou haar skelme kykies
Uit die hoekie van haar oog …’
‘Oorgenoeg – dis jou vergewe.
Neem haar en waardeer haar hoog.’
Net drie dae was verlope,
En daar staan die Man al weer:
‘Nou bring sy my tot vertwyfeling …
Wat staan my te doen, o Heer?
Vol van erns vermaan Narjana:
Ek het haar vir jou gemaak.
Sy’s jou weerhelf! Wees verstandig:
Maak die beste van die saak.’
‘Het ek nie probeer al twee maal?
Met die Vrou kom ek nooit klaar!’
Driftig antwoord toe Narjana:
‘En nog minder sonder haar!’
Vrind’lik spreek hy toe die Vrou aan:
‘Wat is, in die saak, jou wens?’
‘Laat die Man aan my, o Skepper,
En ek maak van hom … ‘n Mens!’
Nat en Sap
Toe Noag strand teen Ararat,
Die Ark begin in puin raak,
Toe sê hy: ‘Aarde, maar dis nat!
Nou kan ‘n mens weer tuin maak!
Het ek nie met die Ark geswoeg,
Was ons ook in die pekel.
Aan water het ek nou genoeg …
‘n Lewenslange hekel.
Kom, Sem en Gammie, maak nou gou
Vir Pa mooi reguit slootjies;
En Jaaf, my kind, kom plant jy nou
Vir Pa die wingerdlootjies.’
Die kromhout groei, en Noag skink
Sy sap ‘n bietjie later:
Daarin is sedert meer verdrink
As in die Vloed se water!
Profeteer of profiteer?
(Die walvis en die walvisser)
Oi, oi, wat ‘n biesnis!
Die walvis swem digby die wal;
Die visserskuit laat iemand val;
Die walvis sluk hom in;
Maar weldra skreeu hy in sy nood:
‘Dit is ‘n afgedankste Jood!
Wat moet ek nou begin?’
Die walvis stort ‘n lewertraan,
Die walvis kerm: ‘Wat vang ek aan?
Ek voel so miserabel –
Dit smaak vir my hy’s baie bang;
En wat ‘n bang mens aan kan vang,
Daartoe is hy kapabel.
As ek nie gou-gou seesiek word,
Dan is my tydjie baie kort –
Dit moet nou na ‘n kant toe!’
Die walvis spuit ‘n waterboog,
Sy passasier fluit: Hoog, omhoog!
Daar trek hy na die land toe!
‘Ek het kon raai ‘n stokou haai
Is taamlik tameletjietaai,
Maar nooit het ek geweet nie
‘n Walvis kon hom so misgis:
‘k Het nooit kon dink sy moses is
‘n Ninevees profeet nie!
Vaarwel! Hebreër, Griek, Romein,
Vaarwel! Kartager en Algryn,
Egipte- (en ander!) nare.
Nou suidwaarts weer na Walvisbaai,1
Vanaand maak ek ‘n Kaapse draai
By Herklaas se Pilare!2
Profeet, ek het my les geleer;
‘k Sal stellig daarby profiteer –
Shalom Aleichem,3 Jona!
Te midde van die Poolse ys
Gaan eet ek Poolse koue vleis,
Maar Poolse Jood … Aikona!4
Op die koop toe
1 Dat ons hier met ‘n Suid-Afrikaanse walvis te doen het, lei ek af van die feit dat die Jood hom
uitoorlê het!
2 Ingang tot die Middellandse See.
3 Hebreeus vir: Goeiendag. (Spreek uit: Sjaloùm Al-lai-gem.)
4 Nee, dankie.
Maar die profeet van Ninevé
Was van geaardheid ontevree.
Ná hy ‘n ruk gelê het,
Was sy erkentlikheid nie groot.
‘Dis van die walvis in die sloot,’
Is al wat hy gesê het.
‘Oi, oi!’ – en daarmee was hy vort,
Maar lees die nuwe uithangbord
Op Ninevé se strate:
Die Walviskompanjie bied aan
‘n Aandeel in hul Lewertraan-
Ontginningsindikate.
Voorts doen hul sake in balein,
In talmudsakke5 groot en klein;
Leen geld uit op verbande,
En teen ‘n ongehoorde prys
‘n Kleine voorraad ambergrys6
Het hulle nou voorhande!
Slot
Vergaar die shekels7 – dis die saak.
Hoe sal ‘n arme mens tog maak
As dit nou maar sy lot is?
In alles lê vir hom gewin:
Op land, in water – ja, tot in
Die galblaas van ‘n potvis!
5 Joodse oorkondes.
6 Die welriekende, eenmaal onbetaalbaar dure ambergrys is ‘n stof wat ontstaan deur galsteenen
galblaasontsteking by die groot vleisetende ‘sparmaceti’-walvis, bekend as die Pot-vis.
7 Sikkel: Joodse geld.
Want profeteer, sê hy tereg,
Betaal teenswoordig baie sleg:
Daar’s geen profyt in drome;
Maar Aandeelmark en Parlement
En Pers floreer deur sent-per-sent8
Of kwyn … soos Wonderbome.
Orpheus en Eurudike
(Net vir Mans en Musikante)
‘Dis weer ‘n splinternuwe ding…’
Roep Pluto bitsig uit.
‘’n Ongestorwe sterweling
Kom speel hier op sy luit!
Vermetele! Wat skort aan jou?
Trotseer jy my gesag?’
‘Ek eis Eurudike, my vrou!’
Toe dreun dit soos hul lag.
‘Gedug, o dom-astrante vent,
Moet wees die straf vir jou:
Ja, dawer op jou fondament –
Neem wat jy eis … jou vrou!’
Weer skater almal van die lag,
Satanies vol van hoon:
‘Hy’t nie so gou sy wens verwag –
Dis sy verdiende loon!’
Daar klim die twee so nou verwant
Die steile paadjie uit,
Maar, soe! toe speel die musikant
So roerend op sy luit,
8 100% – woekerwins, ‘high finance’.
Dat Pluto self ontroerd bly staan,
Want sy gemoed skiet vol,
En dan en wan ‘n ystertraan
Oor neus en wang laat rol.
‘Herroep die vonnis: dis te swaar.
‘k Besef in elk geval
Die kêrel is ‘n kunstenaar –
En dié is altyd mal.
Sy speel het my so aangedaan!
Bring weer die vroumens t’rug,
En laat hom ongehinderd gaan
Tot in die vrye lug!’
Sancta simplicitas moderna
Die duiwel kry dit ook maar swaar,
En weinig rus het hy.
‘Daar’s Onskuld. Ha! Nou gaan ek haar
Eers in versoeking lei.’
Maar ag! Sy gort was gou-gou gaar,
Verbluf, verdwaas was hy;
Want Onskuld wou – so wrintie waar! –
Die duiwel-self verlei.
Vet
(‘n Swaar voorwerp as ligte onderwerp)
Vet smet. Cats
As ou tant Siena straat op loop
Om antipon of spek te koop,
Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!
En sit hul sware stampers neer.
Verlede Sondag in die kerk
Merk ek nog weer die wonderwerk,
Die eienaardigste geval:
Sy wou gaan sit, toe sit sy al!
Kom stipte meester Van der Dool
‘n Paar minute laat op skool,
Dan sê die kinders: Weet jy wat?
Tant Sien was seker in sy pad!
‘n Wewenaar wou met haar trou;
Die landdros sê: Nee, bog met jou!
Dink jy miskien dis hier Turky?
Ons wet verbied veelwywery!
Wil jy as Volksraadslid gaan staan,
Roep haar byeen en spreek haar aan –
Maar jy alleen met haar gaan trou …!
Jy laat my lag – wat pla vir jou?
Een Psalm van Dawid maak haar boos:
Dit stempel ‘vet’ as ‘goddeloos’:
‘Indien men op hun voorspoed let,
Hun oogen puilen uit van vet!’
Suid-Afrika! So moes Van Wouw,
Presies soos sy, jou beeltnis hou:
Swaar die Verlede agter, hoor,
Maar groter nog die Toekoms voor!
Haar einde was besonder sag,
Al was dit ook ‘n sware slag.
Haar val was sonder blaam of smet.
Die oorsaak van die dood: Net Vet!
Die kunstenaar
‘Frans Hals – Begraven op Kosten van de Parochie.’
(Opskrif op ‘n grafsteen in die Grote Kerk, Haarlem, Holland.)
Dis in die harde klip gebeitel:
– Mens twyfel: staan dit daar of nie? –
Hier lê die kunstenaar begrawe
‘Op kosten van de parochie!’
So kry die trots van stad en nasie
– Kan mens jou oë glo of nie? –
‘n Laaste dosis Haarlemensis
‘Op kosten van de parochie!’
So gee aan Hals, die roem van Haarlem,
– Moet mens hier lag of moet jy ween? –
Wat op sy oudag brood moet bedel
Die dankb’re vaderland … ‘n steen!
Maar nou – nou word hy opgehemel
– Mens moet net tot jy dood is, wag! –
Bedwing, Frans Hals, in gindse wêreld
Net soos jou kavalier … jou lag!
Blou Maandag
Verse vir die plafon van jou slaapkamer
By ons gebeur daar elke dag
Drie dinge: môre, noen, en nag;
En – slaap jy laat of roer jy vroeg;
En – doen jy niks of moet jy swoeg,
Vanaand moet jy weer bed toe gaan:
‘n Mens is mal om op te staan!
Die wêreld is so ingerig:
Te arbeid skyn nie meer as plig,
Vas staan die reël wat nimmer faal:
Wie hardste werk, word minst’ betaal.
Op dié punt voel ek baie sterk:
Dis grote gekheid om te werk.
Twee mense trou en lewe saam:
Een huis, een hart, een sin, een naam.
Maar skielik word die liefde dof,
En dan verklaar hul voor die hof:
‘n Oorlas was die man of vrou:
Dis niks as dwaasheid om te trou!
Die rykste man, die grootste vors
Kry ook maar honger, word ook dors,
Kan ook maar (moet dit nie vergeet!)
Op een bed slaap, net drie maal eet;
Word ook maar siek, ‘geef ook die gees’:
Dis stommiteit om iets te wees!
‘n Mens kom die ou wêreld in,
Self onbewus van jou begin;
Jy groei en netnou is jy groot;
Jy kwyn en netnou is jy dood.
Die speletjie – wat gee dit tog?
Gebore word is pure bog!
Roos en Appelkoos
Vlak by ‘n blomgetooide roos
Staan swaar belaai ‘n appelkoos.
‘Ek sou my skaam – van jaar tot jaar
Net blaar en blom, net blom en blaar’ –
Aldus die Appelkoos.
‘Te dol
Gaan dit met jou: twéé mandjies vol!’ –
Aldus die Roos.
‘Ag nee, dit is te gek!
En elke jaar – wel – liewers jy as ek!’
Oorsaak en gevolg
Post hoc ergo propter hoc.
‘Nou gaan daar seker iemand dood:
Die hond doen niks as huil,
En op die huis se vors sit steun
Hoe-hóé, hoe-hóé ‘n uil.’
Tant Elsie skrik en wonder wat
Daar in die donker skuil.
Tant Elsie laat ‘die boeke’ haal
– Wat is ‘n sterweling? -,
En met ‘n krakie in haar stem
Begin sy hardop sing.
Die ander dag was Fido dood –
Die uil ook – arme ding!
Canto Lamentoso in Ab
Uit my Pelgrimsjare
‘k Verdien ‘n martelaar se kroon
Na al my folteringe:
Die dametjie wat bo my woon
– Miskien ook my verdiende loon –
Leer net Musiek en Singe.
Vertwyfeld sug ek menigmaal:
‘Erbarm U,’ – maar in vano –
‘Ag, handel sag met die pedaal;
Speel die vermaledyde skaal
Eén liewe maal piano.’
Die sleutel van die tempeldeur
Het sy nie – cruda sorte.
Al is die toonsoort ook majeur,
Haar soort van toon bly steeds mineur –
Nee, sing is nie haar forte.
‘k Verduur die liewe, lange dag
Mozart, Beethoven, Handel;
Etudes, morceaux tot in die nag;
Maar’k sal – één fuga weer van Bach –
My bed opneem en wandel!
Nooit rus die Russe -ski en -of;
Al het sy min besef-ski
– Wat nou? -, sy speel Rachmáninof,
Tsjaikowski, Rimski-Korsakof …
O skim van Paderewski!
Ek het die virtuoos verwens.
Met watte in my ore:
‘Geen musikaal-begaafde mens’
– ‘k Erken die onbeskaafde wens –
‘Worde weer op aard’ gebore!’
Nou stilte na die storm. So rus
Dan eind’lik, ruwe Nore:
Grieg, Palmgren en Sibelius.
Slaap kom my moeë oë kus …
Da Capo … weer van vore!
Kon ek net vir ‘n week of twee
Klavier speel soos Busoni,
Sforzando sempre speel – ja-néé,
‘k Sou my gevoelens uiting gee
Con gran espressione!
Ek dink al in solfeggio,
In frase en nuance;
Ek droom al in arpeggio,
Die note dans prestissimo
Macabre dodedanse.
Kon dit wel erger? ‘k Vrees dit kon.
Sy kon my skoon verdwaas het:
Sy kon die grote bombardon,
Sy kon die mond-melodion,
Die doedelsak geblaas het!
En dan is daar ‘n ander ding,
Dink ek by my alleentjies:
Kon sy soos ‘n kanarie sing,
Had tien teen één die stomme (?) ding
Ook nog kanariebeentjies.
‘k Verneem … nog net drie maande meer,
Dan doen sy haar eksamen;
Dan gaan sy arme kleingoed leer –
En dié sal haar weer tormenteer …
Lof, Halleluja, Amen!
Om die Waarheid te sê:
1 Getuigskrif
H.d.L.
Wat sal ek sê van ou neef Sors?
Dit is ten minste waar van hom:
Hy het gedrink teen elke dors –
Nou en na dese – wat kan kom!
2 Anamnesis1
Kyk, Dokter, bietjie na my keel –
Kan jy daar niks bespeur?
Jy kan jou seker nie verbeel
Drie plase is daardeur!
3 Tweërlei beweegrede
Tant Hannie snik: sy vrees die dood,
Want sy voel glad nie wel;
En vóór haar bed sit sug oom Koot:
Hy vrees … sy mag herstel!
4 Aan die veilige kant
Bernardus huil en steun en sug
Oor sy oorlede Leen:
‘My trane bring haar nooit weer t’rug …’
Dis veilig om te ween!
5 Ongeskik vir uitvoer
Dat jy ‘n wêreldreis gaan doen –
Daaraan getroos ek my miskien;
Maar dat die wêreld jou moet sien –
Daarmee kan ek my nie versoen!
6 Ja-nee!
‘Die man,’ sê sy, ‘wat my wil hê,
Moet ‘ja’ en ‘nee’ beslis kan sê,
Of ek wil hom nie hê nie.’
1 Wat die pasiënt aan die dokter vertel aangaande sy verlede.
Maar toe sy in die huw’lik tree
Met één wat altyd sê: ‘Ja-nee’,
Sê sy: ‘Ag wat, dit sê nie!’
7 Genees
Hy was één klaaglied en één kwaal;
Van kindsbeen was hy moeg gewees.
Nou is hy tog van asemhaal
En al die res vir goed genees!
8 Tyd is geld?
Die mens wat dink geld het veel waarde,
Bly tog ‘n tydverkwister
Al koop die skatte van die aarde
Nie één minuut van gister.
9 Il duce1
Ek droom ek sien ‘n groot begrafnis
Met swarte pluime en roufloers uitgerus,
Ek droom ek hoor die mense sê dit is
Die lykstoet van die groot politikus.
(O Dood, – io triumphe! – hoe het jy
Eensklaps die gladde tong, die skrander hoof,
Die sterke wil doodstil – morsdood – gekry
En al die gloed en ywer uitgedoof?)
1 Die Leier – titel van Mussolini, die diktator van Italië, verpersoonliking van die ‘superman’ en
weldadige (?) gewelddadigheid.
Verbyster moes ek in my droom bespeur
Dat mense ginnegaap en grappies maak
Asof hul nie besef wat daar gebeur;
Asof die ganse treurspel hul nie raak.
Maar ek ontwaak met trane op my wang:
‘k Het tog gehoop hy word nog opgehang!
10 Verse en verse
‘Oom Jan, ek het ‘n vers gemaak –
Vir my is dit geen sware taak.’
Piet skrywe – dit nou maar sub rosa –
In elk geval berymde prosa.
Oom Jan se bril gaan stadig op,
Bedenklik skud oom Jan se kop:
‘Jou aandag moet jy maar bestee
Aan dié wat later melk sal gee!’
11 Kismet1
Jy wil – maar jy kan nie;
Jy kan – maar jy moenie;
Die Lot speel die troefkaart –
Maak nie saak wat jy doen nie!
12 Cupido
Niet steeds is de liefde bestendig van duur. Tollens
‘n Koele bos
In lentedos,
Al op ‘n liewe lentedag,
En daar omhoog,
Met pyl en boog,
Sing Cupido met al sy mag.
1 Kismet = Noodlot (anglice ‘Fate’).
‘n Jonge paar
Sit daar en staar
Die opperste klein skelmpie aan.
‘Ek wonder tog
Hoe lank hy nog
Sal bly, en of hy weer sal gaan.’
‘Ag nee, my lief,
Moet asseblief
Aan liefde nie wil perke set.’
‘Ek wil nie, skat,
Maar merk tog dat
Die klein karnallie vlerke het!’
13 Oorhoeks
Teen iemand vas loop skeeloog-Jan,
Maar wil dit nie laat blyk nie:
‘Jy kyk nie waar jy loop nie, man!’
‘Jy loop nie waar jy kyk nie!’
14 In die katkisasieklas
‘Ja, veertig dae agtereen
En veertig nagte lank gereën –
Dis ‘n rekord tot op hede.’
‘Meneer, mag ek Meneer iets vra?’
‘Maar alte seker, Japie. Ja?’
‘Was die boere toe tevrede?’
15 In die sinagoge
Die Jode-kerk sit volgeprop
Van mans met swarte keiltjies op.
Die Ramshoring blaas – die Kantor sing
En elkeen dink sy eie ding.
Daar skielik word Max Goudvis naar
En almal werskaf hot en haar.
‘Oi, oi! Oi, oi!’ – ‘Waar is die pyn?’
‘Oi, oi!’ ‘Toe drink ‘n bietjie wyn.’
‘Jy wil nie na die hospitaal?’
‘Ook nie vir jou die dokter haal?’
‘Wat skeel jou dan? Ons moet tog weet.’
‘Jou sleutels by die huis vergeet?!
Jou kas vol geld? Wel – wat daarvan?
‘Schlemihl! Hier sit ons almal dan!’
16 ‘N landskap in olieverf
‘k Neem aan dat jy die landskap verf
Presies soos jy dit sien
Maar wat die hele saak bederf
Besef jy nie miskien:
Dit is, dat ek jou landskap sien
Presies soos jy dit verf!
17 ‘N portret in olieverf
Vergeefs moet ek daar op die doek
My vrind se wese en trekke soek.
‘n Skelm – lyk dit – betrap, gevang
En – seer tereg ook! – opgehang.
Kon ek maar net dieselfde doen
Sou ek my met geen mens versoen.
Om met my vyand af te reken
Sou’k sy portret presies so teken:
‘k Bederf sy naam en reputasie
Deur doek- en verfkwas-defamasie!
18 Goeie raad
Ag, moenie
Dit doen nie,
As jy nie
Weet hoe nie!
19 Swaansang
(Vry na Coleridge)
‘Net voor hy sterwe sing die Swaan.’
‘n Beter plan,
My liewe man,
Is: Sterwe eers en hef dan aan!
20 Die kuns
Julle vind die lied nie mooi nie, vrinde.
Julle staan oor my bewond’ring stom.
Julle vra: Waar is die lied te vinde?
Kyk, dis juis waar die kuns in kom.
Borsbeeldjies
1 Teoloog (17e eeu)
Hy is nie net gereformeer,
Maar – nota bene – streng!
Van al die Engele op die leer
Sien hy maar net die ‘eng’!
2 ‘N predikant (18e eeu)
Kom sê my die beduidenis
– Ek moet my so verwonder -:
Langdradig op die preekstoel is
So kort van draad daaronder.
3 ‘N geneeskundige (19e eeu)
Hy ken die mens van A tot Z;
Noukeurig het hy als ontleed;
So haarfyn op die lyk gelet
Dat hy die mens se siel vergeet.
4 ‘N volksleier (enige eeu)
Sy volk sal hom vereer, vertrou,
Die toekoms in sy hande laat.
Vir hom sal hulle glo al sou …
Al sou hy ook die waarheid praat!
5 ‘N strydbare man (onbekende nasionaliteit)
Die harde stryd het hy vermy,
Sy burgerpligte nie wou doen.
Nou op sy oudag lewe hy
Van sy ‘Oudstryders’-pensioen!
6 ‘N pedagoog (begin 20e eeu)
Hy het so in een groef geraak
Tot hy daaraan gewen is.
Die enige spys wat hom nog smaak,
Is sware knoedels kennis!
7 Boer en Brit (groep 19e eeu)
Net soos die vlieë is die Boer:
Vroeg in die bed, vroeg aan die roer.
Net soos die vlooie
Is die ou Rooie:
Dis laat voor hy tot stilstand kom,
En vroeg soek jy verniet na hom.
8 ‘N jonge dame (westelike provinsie ná 1803)
Natuurlik is sy fyn beskaaf,
Natuurlik is sy baie gaaf.
Die yarns wat ons ge-spun het!
‘Onlangs het ons ‘n play ge-stage,’
Vertel sy. ‘Dit was so die rage
Dat dit three nights ge-run het!’
9 S.O.E. (groep met ‘n vlag)
Hul lyk vir jou afgryslik kwaai,
Hul maak ‘n yslik groot lawaai.
Maar leer tog nou die les:
Staan op jou punte, staan jou man,
Loop altyd tromp-op, vriend, en dan
Sein hul gou S.O.S.!
10 Die sagte antwoord (groep modern)
(‘n Briesende Fries ontmoet ‘n vriesende bries.)
‘Nou, ga je naar den duivel dan! …’
Het hy hom toegesnou.
‘Dit is onnodig, liewe man:
Ek staan dan vlak voor jou!’
11 ‘N klein misverstand
(Nederlands-Afrikaansche groep)
‘Wat is één zoentjie wonderzoet!’
Het hy verlief aan haar gesê.
Haar wange word so rooi as bloed
Terwyl sy bloos: ‘Dit wil ek hê!’
‘Wil je ‘n zoentjie?’ vra hy bly;
Toe antwoord sy: ‘Ek gee nie om nie!’
‘Zij geeft er niet voor om,’ dink hy
En van die soen het niks gekom nie.
12 ‘N bekende gesig
Die Medisyne is my Vrou,
Die Kuns is my Vriendin.
Deur eerste word ek druk gehou,
Die tweede sien ek min.
En dit is goed vir u,
En goed is dit vir my:
Als ik het kwade wil,
Ligt ‘t goede mij nabij!
Die purper iris
en ander nagelate gedigte
Die purper iris
Aan Marie
Lente, lente currite noctis equi.
‘n Prins was ek in Oosterland,
Waar hooggemaste skepe gaan
Van son-vergulde somerstrand,
Oor witgepluimde waterbaan,
Na wonderlande oor die see
Met weelde van die Paradys;
En seewaarts met die seewind mee
Het my verlange steeds gereis
Te soek gelyk ‘n Heil’ge Graal
‘n Droombeeld skoon – my ideaal.
Wat is ‘n koninkryk, ‘n troon
Van edelstene en ivoor?
‘n Septer en ‘n goue kroon
En hartsverlange gaan te loor.
Vaarwel, die koorsige plesier,
Die holle harte van ‘n hof:
Welkom, my pelgrimstaf, my lier!
My siel besit veel ryker stof:
My lied sal klink van land tot land –
Van Balsora na Samarkand!
Ver het die swerwer rondgedwaal
Tot herders aan Orontes vloed
Sy sange vuriger herhaal,
Betower deur hul vreemde gloed;
Tot maagde aan die Sjalimaar
En trekkers met die karavaan,
Tot elke Oosterse basaar
Die pelgrim ken, sy lied verstaan –
Sy lied wat nuut die inhoud dra,
Oud soos die weg na Jakatra!
‘Slegs een maal elke duisend jaar
Bloei purper in die lotuskelk
Van heilige Manassowaar –
‘n Iris wat nooit weer verwelk.
Al wie haar duister-skoon aanskou,
Ontluikend in Arjanas straal,
Dié sal volmaak geluk behou,
Nibbanam vir die siel behaal.’
So het die Brahmin self verklaar –
En vóór my blink Manassowaar.
Die meer weerspieël die groene woud,
‘n Wuiwend’ watervisioen;
Die hemel straal met louter goud:
Dis liefdes hoë, goue noen.
Wit voëls vorm ‘n priesterry,
‘n Skugter wildsbok kom en drink,
En aan die owersy staan Sy,
As in gedagte diep versink,
Waar lotusblomme dryf en droom,
Najade van die watersoom.
‘t Was of ‘k met vleuels opwaarts vaar,
Verhewe bowe aardse stof,
En aldeur in haar oë staar
Tot binne liefdes binnehof.
Nòg tyd nòg plaas het meer bestaan –
Deurlugtige bestemmingsdag;
In goue glorie rys die maan –
Maan van geluk so lank verwag,
En purper bloei daar op die meer
Ná duisend jaar die Iris weer!
Loop stadig, perde van die nag;
Vertraag, o ure, julle gang;
Staan, sterre, staan in erewag;
‘n Ewigheid is nie te lang
– ‘Tot dag breek en die skadu’s vlug’ –
As hoë liefde hoogty vier.
Laag hang die rooi maan in die lug,
En ek ontwaak en vind jou hier
En skou weer in die oë trou
Van my aanbidding … toe en nou!
Van Verlore-vlei
Aan Marie
Jy is die leeurik,
Ek is die vlei;
Hoog in die bloute
Vlug jy vir my.
Wagtende,
Smagtende,
Staar ek tot jy
Ver uit die bloue lug,
Her uit die koue lug
T’rugkeer tot my.
Jy is die leeurik,
Ek is die vlei.
Son-goud en ster-stof,
Glans van die maan,
Vuurlig en vér-lig
Dié trek jou aan,
Dugtende,
Vlugtende,
Steeds onvoldaan.
Dié verontrus jou weer,
Ek alleen sus jou weer,
Alles is waan:
Son-goud en ster-stof,
Glans van die maan.
Kom, my beminde,
Vreugd’ onbeperk,
Hygende boesem,
Neigende vlerk,
Hygende,
Neigende,
Hoog uit die swerk,
Immer weer wiegende,
Nimmermeer vliegende,
Liefde te sterk –
Kom, my beminde,
Vreugd’ onbeperk.
Dapper en ek
Dapper, my ryperd, jy weet ek word oud –
Dertig jaar oud al en nog nie getroud –
Nog nie getroud nie – en dit is ‘n fout.
Wil maar nie kan nie,
Dis nie die plan nie,
Nie vir ‘n man nie,
Een met ‘n ryperd,
Een met ‘n vryperd,
Dapper, soos my perd!
Mens kan te lank wag, so lyk dit vir my.
Sal ons so ‘n plan maak, of sal ons maar bly?
Dapper, jy’s reg: ons moet opsaal en ry!
Ons het gery tot by Karnemelksvlei –
Karnemelksvlei, waar die ryk nooientjie bly.
Ringe, diamante – dit alles het sy.
Alles voorspoedig,
Geld owervloedig,
Maar te hoogmoedig.
Sy mag wel gaaf wees,
Sy mag wel braaf wees:
Ek wil geen slaaf wees!
Sien jy, ‘n skone klein waspop is sy?
Wat is die plan, ou maat? Sal ons hier bly?
Reg al weer, Dapper: dis opsaal en ry!
Dwarsoor die berge by Hamerkopkrans
Het ek met Dapper die werf ingedans.
Mooi was sy, enigste kind van oom Frans;
Maar ‘n parmantjie,
Regte astrantjie,
O liewe landjie!
Sy mag wel fraai wees,
Nie te versmaai wees,
Sy sal te kwaai wees!
Dapper, hoe lyk dit hier? Sal ons die paal,
Soos op die resiesbaan, dié slag ook haal?
Reg geraai, Dapper, ek bring al die saal!
Weg van oom Frans af na Heuningneskloof –
Naam van die plaas het iets soets ons beloof:
Ons wou die bynes sy heuning ontroof!
‘k Weet nie juis wat nie,
Dit nie of dat nie,
‘k Hou van haar … glad nie!
Stof in die hoeke,
Neus in die boeke,
Moeder is ‘Moe-ke’!
Sy sal te slim wees om ete te kook;
Daarvan sal Saaiplaas se skoorsteen nie rook.
Kies jy die wapad, ou Dapper? Ek ook!
Dapper, hoe lyk dit jou moed word al klein?
Donker kom eers as die sonlig verdwyn.
Daar staan die blom van Mooimeisiesfontein!
Alles so sind’lik,
Sy so beminlik,
Vrolik en vrind’lik.
Klein bietjie mallig,
Maar so lieftallig,
Vroulik aanvallig.
Dapper, ou twyfelaar, kry jy weer hoop?
Iemand het hierdie plaas suiwer gedoop.
Verder hoef jy nie vanaand meer te loop!
Snel spoed die jare in ylende vlug:
Twee boeties speel op ou Dapper se rug –
Goedig verdra met ‘n stertwaai en sug.
Lekker kerjakker,
Elke klein rakker,
(Dapper’s al makker!)
Krulkopkabouter,
Opperste stouter,
Opklim en klouter;
Dapper is speelmaat, en ryding, en trein –
Kastig gaan kuier by oupa Kirstein;
Oupa wat woon … op Mooimeisiesfontein!
Umzinyati.1
(Spreek die u in Zoeloe-woorde uit soos die oo in Engels
do of doom, die ch soos Afrikaans tsj, en die hl soos die
schl in Duits Schloss.)
1
In die Grootplek sit die Koning,
Tel sy beeste een vir een
Soos hul aangestap kom kraal toe –
Alles rustig om hom heen.
Maar dit lewe op die heuwels –
Heuwels groen van Zulu-land,
Want die grootwoord gaan die land deur,
En die oproepvure brand.
1 Buffelsrivier, nou Bloedrivier.
In gelid marsjeer die impi’s,
Vorm die oskop-halwemaan,
Soos van ouds die Ama-Chaka
Om die grootstad van Dingaan:
Witte, swarte, rooie skilde,
Elke regiment apart;
Regs, die garde van die Koning,
Leeuvelskild en leeuehart;
Links, die jonger veerbosdraers;
Ligvoets loop hul en geswind
Dat die sakabula-vere2
Heen en weer swaai in die wind.
Soos die donder op die berge
Trommel assegaai op skild,
Klink Bayete!3 uit tienduisend
Mannestemme sterk en wild.
Veldheer groot Dabulamanzi,4
Dapperste in heel die land,
Buig eerbiedig voor die Koning:
‘Heil U, Grote Olifant!
Berg van Sterkte! Leeu van Fierheid!
Tier wat doodspring in die nag!
Van die berge tot die seevlak
Onbetwis strek jou gesag!
Van die Swarte Umfolozi
Tot waar Umzimkulu vloei,
Het jou impi’s al die nasies,
Elke vyand uitgeroei.
2 Die sakabula is ‘n voël waarvan die vere vir
hoofversiersel gebruik word.
3 Bayete! is die koninklike saluut.
4 Hy wat die water skeur. (Zoeloe-kinders word gewoonlik
genoem na een of ander omstandigheid wat in betrekking staan
met hulle geboorte.)
Ons asgaaie roes van stil-lê,
Vra ‘n vete om te wreek.
Ongeduldig wag jou kinders –
Wat is jou bevele? Spreek!’
‘Ginder aan die Umzinyati
– So word my getrou berig –
Staan die Amabula-laer
Teen die Grootplek self gerig.
Delg hul uit soos wilde honde;
Maak die aasvoëls vet en dik;
Laat die swarte rawe feesvier:
Gee hul oë om uit te pik.
Dingiswayo! Dinizulu!
Laat geen enk’le lewendig;
Dink aan Hloma Amabutu
En Retief se sewentig!’
Met voldoening hoor die Koning
Sy getroue salueer,
Trots aanskou hy die ontplooiing
Van sy onverwinb’re leër.
Later as die sterre fonkel,
Sluip hul snel oor berg en dal –
Wisse Dood wat nagt’lik opruk,
‘Luidloos soos die blaar wat val.
2
In die Grootplek sit die Koning,
Wag vir tyding van die slag.
Oor die heuwels kom ‘n bode
Aangeloop met al sy mag.
Kragt’loos sink hy op sy knieë,
Vrees en angs op sy gelaat;
Hygend na sy asem vra hy
Amanzi! – water – voor hy praat:
‘Kap die voete af, my Koning,
Wat so vinnig hierheen loop
Met die boodskap: Om die laer
Lê ons dooies opgehoop.
Hulle breek van op ‘n afstand
Ons gevreesde halwemaan;
Trots die moed selfs van vertwyfeling
Is ons aanval afgeslaan.’
Voor die eerste nog kan eindig,
Kom ‘n tweede aangesnel:
‘Sny die tong uit wat van onheil
Onherstelbaar moet vertel:
Dis geen slag nie, maar ‘n slagting –
Ydel is ons hoogste moed:
Op die water dryf die skilde –
Op die water rooi van bloed!’
‘Vlug, o Koning,’ roep die derde:
Daar’s geen ander uitweg meer,
Want die keur van al jou impi’s –
Al jou kinders keer nooit weer.
Vlug, Dingaan! Unkulunkulu5
Straf die Ama-Chaka-stam.
Môre staan Unkungunhlovu6
Ook in ligtelaaie vlam!’
5 Die Groot-Groot, die Opperwese.
6 Die kraal om die Groot Olifant.
3
Ginder aan die Umzinyati
Styg – waar dankb’re trane val –
‘PRYS DEN HEER MET BLIJDE GALMEN’
Uit die laer op die wal!
Amakeia
(‘n Voorval uit die Sesde Kafferoorlog)
In die skadu van die berge,
Bos-beskut aan alle kant,
Staan alleen die hartbeeshuisie
Op die grens van Kafferland.
Saggies neurie Amakeia
Op die wal van Kei-rivier,
Tot hy slaap, die tere wiggie
Van die blanke pionier:
‘Stil maar, stil maar, stil, Babani,
Kyk hoe blink die awendster.
Niemand sal vir kindjie slaan nie –
Stil maar, al is Mammie ver.’
Amakeia had belowe
Toe haar nonna sterwend was,
Om die hulpelose kindjie
Tot hy groot was, op te pas.
Liefd’ryk sorg sy vir die wit kind,
Tot vir hom die lewenslig
Straal uit aia Amakeia’s
Vrind’lik-troue swart gesig.
Onheilspellend sien sy tekens,
Oorlog kom daar in die land:
Snel die inval, huis en hawe
Uitgemoor en afgebrand.
Selfvergetend, doodveragtend,
Met die wit kind op haar rug,
Na die Amatola-berge
Het sy ylings heen gevlug.
‘Stil maar, stil maar, pikanienie,
Oor die bergtop rys die maan.
Niemand sal vir ons hier sien nie;
Môre sal ons huis toe gaan.’
Ag, dat oë van verspieders
Ook haar skuilplaas moes ontdek!
‘Spaar hom, hy’s so klein nog,’ smeek sy
Met die hande uitgestrek.
Woedend tier die wilde bende:
‘Sterf of gee die wit kind hier!’
‘Oor my lewelose liggaam…’
Antwoord Amakeia fier.
‘My belofte aan my nonna –
Beste wat daar ooit nog was –
Waar hy gaan, moet Amakeia
Saamgaan om hom op te pas.’
‘Is jul lewend nie te skei nie,
Bly dan in die dood vereen –
Kort proses met haar, ‘Maxhosas,
Laat die blink asgaaie reën!’
*
In die Amatola-klowe
Sing nog net die winterwind
Deur die riete in die maanskyn:
‘Tula – Tula – stil, my kind!’
Tula, Babani
(Xhosa-slaapliedjie)
Tula, Babani = Stil maar, Baba.
Masi hambe = Ons moet loop.
Ulilela ntoni = Waarom huil jy?
Ubetwe ubani = Wie’t jou geslaan?
Umama akako = Jou mammie is ver.
U moet soos oo in Engels uitgespreek word.
Impundulu1
Somers as die weerligstrale
Kettings tower telkemale
Oor die hoogland van Transvaal,
Kruip die kleingoed stil soos muise
In die hoeke van die struise,
Bang vir hardop asemhaal.
Tussen sware donderbuie
Kook Inyanga2 wonderkruie
Wat hy aan die deurpos smeer –
Kruie uit die donker klowe
Wat in donker bygelowe
Middels is teen sware weer.
Want daar bokant hoog – pezulu3 –
Woon die blitsvoël – Impundulu –
In ‘n groot tambotieboom,
Met sy takke in die wolke,
Met sy wortels in die kolke
Waar die boonste waters stroom.
Vlamme vuur straal uit sy oë
As hy neerblits uit die hoë
Op die aarde ver benee;
Dreigend dring sy stem na onder
In die dreuning van die donder –
Weerloos sidder mens en vee.
1 Die blitsvoël.
2 Die dokter, die medisyneman.
3 Daar bo.
Skerper as die skerpste sabel
Is die krompunt van sy snawel;
Bloedrooi vere dek sy bors;
En sy slag laat alles bewe –
Bloedloos koud en sonder lewe
Lê die offers van sy dors.
Oorverdowend die gesketter
Waar hy alles slaan te pletter,
Hardste ysterklip vergruis;
Aia bid: ‘Unkulunkulu!4
Weer die wrede Impundulu
Van ons kraal en van ons huis!’
L’Idéal
1 Anno 1688
Sy landgoed lê aan die Loire –
Maar vryheidsliefde was die drang
Wat hom gevoer het oor die bare
Na verre Pêrelberg se hang.
Gewyde grond, met hete trane
Het jou die Hugenoot gedoop;
Al woed om jou die oseane,
Jy word sy Land van Goeie Hoop.
Hy roem die landskap, berg en dal,
En noem sy aanleg l’Idéal!
Gelei langs wonderlike weë,
Gered as brandhout uit die brand,
Oor storm-gesweepte suiderseë,
Te vind ‘n nuwe vaderland.
Helaas vir Frankryk, waar in grotte,
4 Die Groot-Groot, die Here.
Spelonke en drassige moeras
Haar kinders sterf of op skavotte,
Asof hul nie haar beste was;
Vervolg benoorde Maas en Waal,
Maar volgend steeds die ideaal!
2 Anno 1915
Die grysaard wandel in sy boorde
Terwyl die somerawend daal.
Daar klink ‘n noodkreet uit die noorde
Van stamgenote aan die Vaal:
‘Die vryheidsdag – die langverwagte –
Was maar ‘n valse daeraad …’
En in sy siel rys die gedagte
Wat uitloop op die reddingsdaad:
Die bloedgeld moet ons help betaal …
Vir vryheid … vir ‘n ideaal!
Vlieg, witte duif, met wye vlerke,
Vlieg oor die uitgestrekte land:
‘Verander woorde in dade, werke,
Sterk broederhart deur broederhand.
Hulpvaardigheid maak niemand armer:
Oneindig ryker in gevoel;
Barmhartig maak sigself ook warmer;
Sien nie die uitslag, maar die doel.’
Deur Kaapland, Vrystaat en Transvaal
Word Helpmekaar die ideaal!
Sy eew’ge rus, die langbeloofde,
Sal Hy wat Liefde is, jou skenk;
Jou volk sal met ontblote hoofde
Die adel van jou siel herdenk.
Jou gees leef, tot in verre dae
‘n Spoorslag vir die nageslag:
Saam dra die lot se hardste slae.
Rus aan jou siel. Jou slaap sy sag
hier regoor Drakenstein en Dal,
Ou edelman van l’Idéal!
In die Voortrekkerkerkie, Pietermaritzburg
Voortrekkerstad – al is dit net in naam,
Jy was dit eenmaal tog in werklikheid -,
Wat jy bewaar uit gindse heldetyd,
Maak my vir ons geslag wanhopig skaam.
Was groot die eerbied vir die Bybelboek,
Sterk was die hand ook wat die swaar geweer
So raak met doodsveragting kon hanteer;
En hoog die hart wat vryheid hier wou soek.
Was jy, o trekkerswa, van brose hout,
Die man wat jou gedryf het, was van staal.
Vandag plesier-belus, op jag na goud,
Is broos die mens – die voertuig is metaal!
Oor skromelik’ gebrek – erbarm U, Heer! –
Aan mannedurf en ruggraat van weleer.
Geboorteland, Natalia so skoon,
Die noodlot wil dat nêrens soas hier
So karig reg ervaar die stoere pionier;
Dat hier die gees-wat-steeds-misken moet woon,
En tog – hier dool die skim van Gert Maritz,
Van Piet Retief, van dapper Dirkie Uys.
Dis hier waar Bloedrivier se waters ruis,
Majoeba bulder en Spioenkop blits!
Sou ek hier swyg waar selfs die stene spreek
Van dade op die wêreld nooit oortref?
Geskiedenis, wat alle onreg wreek,
Sal hul gedagtenis ten hemel hef,
In goud op die gedenkrol elke naam:
Regmatige trots is wat hier betaam.
Die najaarsgras het nou ‘n rosse gloed;
Rooi staan die kafferbome in die bloei;
‘n Rooi skyn het die water wat hier vloei;
Deurweek is al die lydensweg met bloed,
En ‘Weenen’ is die weerklank van die krans.
Ai my! Hoe voel ek met my volk verwond
Waar alles om my roep: Dis heilig’ grond,
Vir altyd onvervreembaar Afrikaans!
O Volk van Smarte, aan verdriet gewend,
Gods vrye wind waai uit die donker wolk:
Jou naamloos’ lye is by Hom bekend:
Die barensweë van ‘n nuwe volk.
Span in die wa: die uitspanplek lê ver –
Maar oor die berge lonk die Vryheidster!
Na die stryd
Hulle kom van die land waar die adelaar vlieg
In die skaduwee van die Himalajas;
Van die oer-oue Hind1, van die mensdom se wieg,
Van Mahatmas2 en bruin Maharajas3.
Ver, die blou vlakte oor, is die burger gevoer,
Deur die noodlot gered en gevange;
Uit sy ballingskap eindelik keer weer die Boer
Na die land van sy liefde en verlange.
Die klein dorpie in Transvaal is in rep en in roer
By die angstig verwagte ontmoeting;
Dis ‘n vrou en haar man, dis ‘n suster en broer –
Vol van vreugde en verdriet die begroeting.
Ook tant Alie staan daar vir haar Bennie en wag.
Hy was al wat die oorlog gespaar het;
Net ‘n lokkige knaap met ‘n vrolike lag –
Dis die beeld wat haar hart steeds bewaar het.
1 Indië.
2 Heilige Hindoe.
3 Regeerder; vors.
O die wederontmoeting – hoe snel klop haar hart!
Dank die Here! Sy het nog ‘n Bennie.
So verwese van hartseer, van swaarkry en smart
Sal hy wellig sy moeder nie ken nie.
Maar, helaas, sy verneem tot haar oormaat van ramp
Daar’s geen weersien vir haar, geen verblyding:
‘Hy het twee jaar gelede ontvlug uit die kamp,
En van toe af geen taal meer of tyding!’
Vir ‘n oomblik was alles pikswart voor haar oog,
En sy hoor niks, al was sy nie doof nie.
En sy sak inmekaar met haar hande omhoog:
‘Ag, ek weet nie wat skeel aan my hoof nie!’
Slegs ‘n strooi se gewig breek uiteind’lik die rug
Van die arme beswykende kémel;
Skier verstandeloos het sy weer huis toe gevlug –
Weggevlug van gewoel en gewemel.
Maar die volgende dag was sy weer by die spoor;
Elkeen vra sy: ‘Sien jy nie vir hom nie?’
‘Hou maar goeie moed: eendag sal ons van hom hoor –
Maar vandag het hy nog nie gekom nie.’
So vir maande daarna het sy altyd gegaan –
Ook geen dag dat sy nie staan en wag nie;
En die spoorwegbeamptes, met meely begaan,
Sê maar troostend: ‘Nee, nog nie vandag nie.’
Op ‘n dag, onverwags, het die tyding gekom
Dat hy veilig in Kaapstad geland het.
As matroos was hy twee maal die wêreld al om
In ‘n seilskip wat later gestrand het.
Met die nuus kom die leraar die huis ingesnel,
En hy dink: ‘Sal die Heer nie miskien nie
Haar verstand’lik’ vermoë volkome herstel
As sy Bennie, haar liefling, weer sien nie?’
Uit die trein stap ‘n forse, gespierde jongmens,
Bruin gebrand en gehard in die lewe.
‘Kyk, ou moeder, hier het jy nou eind’lik jou wens …’
Maar haar lippe beginne te bewe:
‘Met die wildvreemde jonkman, wat het ek te doen?’
‘Ag, ou moedertjie, kyk, ek is Bennie!
Ek het baie verlang – kry ek nie eens ‘n soen?’
Maar sy kon hom volstrek nie herken nie.
‘O, hoe bitter, o Here, hoe swaar is my lot!
Het ek liewer my nie so verbly nie.
Dit is wreed, o, te wreed met my leed so te spot!
Ag, het niemand dan jammer vir my nie?
Nog nie sewentien jaar, maar tog wou hy gaan veg.
Hy was sommer ‘n kind nog, klein Bennie,
En sy laaste woord was: Dis vir Vryheid en Reg!
Sal sy moeder hom dan nie meer ken nie?’
Na die stasie maar altyd in hitte en kou,
Weer en wind, wat dit haar ook gekos het.
Was dit tyd vir die trein, dan kon niks haar weerhou –
Tot die Dood haar genadig verlos het.
Arme moeder, die seun wat jou drumpel verlaat –
Hy die kind van jou trane en gebede,
Die onskuldige knaap met sy ope gelaat,
Kom hy ooit weer – in oorlog of vrede?
Nimmer of nou
Wank’lende skepies op went’lende bare,
Maar ‘n standvastige hand aan die roer –
So het die Almag deur duisend gevare
Voortyds ons voorsate hierheen gevoer.
Kennelik sien ons Sy hand deur die jare
Nog in die wiss’lende lot van die Boer:
Wag’lend sy wa in ‘n see van barbare,
Vas sy vertroue op God en sy roer.
Sal ons die Voortrekker-stempel bestendig –
Heer van sy hoewe en baas van sy plaas –
Of deur verslapping ontaard en lamlendig
Op ons geboortegrond kneg word en Klaas?
Had ons die Eendrag – die Mag – van ons leuse;
Had ons die Wil om te handhaaf, te hou …
Hier lê die kruispad, en kort is die keuse,
Maklik die dwaalweg, maar … lank die berou!
Vrye wind, vryheidswind, wind van die velde,
Velde gedrenk met ons edelste bloed,
Dreun met die drang, met die durf van ons helde,
Wek in die slapendes ywer en gloed.
Rig weer die duistere blik na die sterre;
Bring ons die magwoord, die wagwoord getrou;
Fluister dit, bulder dit heinde en verre;
Spreek met ‘n donderstem: Nimmer of nou!
Nimmer of nou! – tot die burger wat twyfel
Wat is sy dure, sy heilige plig;
Nimmer of nou! – tot die stryder wat weifel
Met die oorwinning reeds byna in sig;
Jubel en juig met al luider beklemming:
‘Volg die Oranje, die Blanje, die Blou!
Nou is die dag, nou die uur van bestemming.
Werda? Suid-Afrika: Nimmer of nou!’
Sneeuwitjie1
1 Eugène Marais vertel in sy Sketse uit die Lewe van Mens en Dier die geval van byna
voorbeeldelose selfopoffering van ‘n klein Boeredogtertjie, Rachie de Beer, wat haar broertjie
se lewe gered het deur hom in ‘n miershoopoond met al haar kleertjies toe te maak toe hulle
in ‘n sneeustorm verdwaal het. Sy self het van koue omgekom.
Niemand heeft meer liefde dan deze. Joh. 15:13
‘Kom ons twee gaan die kalfie soek,
Ons tweetjies, ek en jy,
Die beeste het daar in die hoek
Die hele dag gewei.
Die weer word dik, die windjie sny,
En ons moet niks versuim,
Want as die kalfie buite bly,
Sal hy vannag verkluim.’
Sy was ‘n kind geen twaalf jaar oud,
Pas sewe jaar was hy;
Maar albei reeds teen warm en koud
Deur armoed al gebrei.
So loop die twee die bultjie oor
En op al langs die vlei.
Dán sien hulle iets wat roer daar voor,
Dán iewers weer opsy.
Die wind gaan lê, en saggies daal
Sneeuvlokkies wit en rein.
Al verder steeds het hul gedwaal
Weg van die huisie klein.
Maar toe die sneeu so vinnig val,
Begin klein broertjie huil;
Toe het hul teen die sloot se wal
‘n Tyd lank eers moet skuil.
En later, toe die bui bedaar,
Was alles wit rondom.
‘Waar is die huis nou, sussie, waar?
Hoe sal ons daar weer kom?’
Met moeë voetjies loop hul snel
Al met die slootjie langs,
Met ogies waarin trane wel,
En hartjies vol van angs.
‘Ag, Here, wys ons waar’s die huis,’
Het Racheltjie gebid;
Maar bo was net die wind wat suis,
En onder alles wit.
Al in die rondte ‘t hul geloop,
Al minder word die krag,
Twee kleintjies sonder gids of hoop
Verlore in die nag!
*
Koud kom die man tuis uit die veld.
‘Waar is die kinders, vrou?’
‘Genade, man,’ roep sy ontsteld,
‘Is hulle nie by jou?’
‘Was hulle dan nie by die kraal?’
Vra hy van skrik oorstelp.
‘Dan is hul in die veld verdwaal –
Ag, liewe Here, help!’
Vergeefs gesoek die ganse nag
En vure aangesteek.
Hul moes maar handewringend wag
Totdat die rooidag breek.
En toe van nuuts af aan weer soek.
Ou Jonas sny die spoor
Al langs die vlei tot in die hoek,
Daarna die bultjies oor.
‘Hoekom is hier een spoor nou net?’
‘Hoe kan die baas so vra?
My arme nonnatjie … sy het
Die kleinbaas hier moet dra.
Sy loop al in die rondte om
Net soos die skaap wat maal.
Die witmens … hy is baie dom …
Die witmens … hy verdwaal!’
Nou het ou Jonas iets gewaar;
Hy luister en hy loer:
‘Die uitgeholde miershoop daar –
Wat is dit wat daar roer?
Hy lewe nog, klein Hendrikkie,
Hy’s binnekant nog warm …
INKOSI2 het die nonnatjie
Gebêre in Sy arm.
Hy het haar met Sy kleed bedek …
Sy voel nie meer die kou.
Sy’t al haar kleertjies uitgetrek
Die Kleinbaas te behou!’
*
O wonder dat ‘n hart so warm
Nie al die sneeu kon smelt –
‘n Hart wat sig so kon erbarm
Alleen daar op die veld!
Wanneer jy, Afrikanerkind,
So heerlik voor die vuur
Sit luister na die winterwind
Daar buite, koud en guur;
Wanneer jy van die dade leer
Van menig dapp’re held,
Vergeet nie Racheltjie de Beer –
Sneeuwitjie van die Veld!
Die vlag op Mont-aux-Sources
Opgedra aan die klompie kranige Natalse Afrikaners uit
bewondering vir hulle kordaatstuk.
Jong Suid-Afrika het met die vlag in die hand
Mont-aux-Sources top bestyg, sy banier daar geplant.
Dit is veerkrag gespierd, dit is harte getrou,
O Banier van ons Hoop wat op wag staan om jou!
2 Die Here.
Laat dan donkere wolke die bergkruin omhul,
Laat dan donder en stortreën die lugruimte vul,
Want al dawer die berge, al loei die orkaan,
Ná die storm en sy woede sal die vaandel nog staan!
Dan, omhoog met ons vlag! Tot die bergtop gehys!1
Laat die opgaande son hom begroet as hy rys,
Al sy kleure vertoon en daar glansryk op skyn
Tot die blank en oranje uit die blou lug verdwyn!
Geluk!
Aan A.J.L. (Baanbreker – bouer – dienaar)
Drie maal gelukkig is die man
Wat eind’lik stilhou met sy span
Die opdraand uit, die punt bereik,
Waar vóór hom – effe en gelyk –
Tot aan die verre horisont
Wyd strek die Hoëveld se grond;
Wat met verligting ‘Dankie’ sê,
Gedagtig aan wat agter lê:
Aan steiltes, skuinstes – wal en drif
Op hand en hoof en hart gegrif;
Aan dae en nagte, kommervol
Swaar struikelblokke weggerol.
Gelukkig dat hy weet en voel:
‘Bereik is tog ‘n eind, ‘n doel;
Wie ná my kom, kan regdeur gaan:
Die pad is oop, die weg gebaan!’
1 Op Uniedag 1928 is die Nasionale Vlag van die Unie deur die here H.J. Dreyer, A.D. Raats
en J. Hugo bo op Mont-aux-Sources, die hoogste punt in ons land, gehys.
Gelukkig is die man wat bou,
Gestaag een grootse plan getrou,
Van hegte, vaste fondament
Tot kleinste nis en ornament;
Van vloer tot dakspits in die haak,
Loodreg en waterpas gemaak
Met niks onedel, niks gemeen,
Geen kromme hout, geen slegte steen;
Noukeurig elke onderdeel
Verenig tot een groot geheel –
‘n Sieraad wat die Bouheer toon;
‘t Was om die werk, nie om die loon.
Sy brose hande mag vergaan:
Sy handewerk sal voortbestaan
Teen wind en reën; rotsvas en sterk
Sal leef die werker in sy werk.
Driewerf gelukkig is die kneg
Wat diep die akker ploeg en eg,
Getrou verrig die dag se taak
En naarstig oor die kudde waak,
Al gaande en al wenend saai,
Maar in die oestyd gerwe laai,
En ondanks t’rugslag en verdriet
Tog sien sy werk was nie verniet.
Gelukkig as hy moet bely:
‘Hier was die taak te swaar vir my,
Daar het ek kosb’re krag verspil,
Verkeerd my oordeel, swak my wil.’
Driewerf gelukkig as sy oor
Die woorde van die Meester hoor –
Sy Heer en Meester, wat verstaan:
‘Getroue dienskneg, welgedaan!’
Die ruiter van Skimmelperdpan
Op die pad wat verdwyn in die Skimmelperdpan,
By ‘n draai in die mond van die kloof,
Het ‘n bom in die oorlog ‘n vlugtende man
Op ‘n perd soos ‘n swaardslag onthoof.
Aan die saalboom krampagtig die hande verstyf,
Met ‘n laaste stuiptrekkende krag,
En die bene geklem soos ‘n skroef om sy lyf,
Op die perd sit die grusame vrag.
Met sy neusgate wyd en die ore op sy nek,
Soos die wind yl verbysterd die dier,
Met die skuim in wit vlokke wat waai uit sy bek,
En gespan soos ‘n draad elke spier;
By die huisie verby waar ‘n vrou staan en kyk …
In die afkop-ding ken sy haar man …
Met ‘n onaardse gil val sy bleek soos ‘n lyk …
Perd en ruiter verdwyn in die Pan!
Wee die reisiger wat daar onwetend kom skuil
Waar bouvallig die huisie nog staan,
En vreesagtig by wyle ‘n nagdiertjie huil
By die newelige lig van die maan!
Want by middernag waai daar ‘n wind deur die kloof,
Waai en huil soos ‘n kindjie wat kerm,
En dan jaag daar ‘n perd met ‘n man sonder hoof …
Wie dit sien, roep verskrik: ‘Heer, ontferm!’
Want die vuurvonke spat waar die hoefslae dreun,
En dit vlam uit sy neus en sy oog;
Styf en stram sit die ruiter na vore geleun,
En die bloed uit sy nek spuit ‘n boog;
En dan eensklaps vanuit die vervalle gebou
Kom ‘n vreeslike skrikbeeld gevaar,
Al die hare orent – ‘n waansinnige vrou
Met ‘n hande-verwringend gebaar:
‘Waarom rus jy nie, rus jy nie, Jan van der Meer?
Waarom jaag jy my elke nag op?
Sal daar nimmer ‘n einde kom … altyd maar weer
Die galop … die galop … die galop?!’
Die afgryslike klank – nòg gehuil nòg gelag –
En die perd met die romp van ‘n man …!
Dis geen plek vir ‘n Christenmens daar in die nag
Langs die pad na die Skimmelperdpan!
Van ‘n grootmoeder
Gelyk ‘n sagte bleke lig
In stille heiligdom –
So vreedsaam rus op haar gesig
Die gryse ouderdom.
Al wie die wonderwerk aanskou,
Onwillekeurig vra:
‘Hoe kan ‘n Moeder en ‘n Vrou
Geen spoor of teken dra
Van al die storme oor haar heen?
Geen letsel of geen merk
Van bange nagte deurgeween
En dae deurgewerk?’
Verlaat het nooit één dag haar voet
Die noue weg van Plig,
Haar stok en staf Geduld en Moed
Deur Liefde vóórgelig.
Die hoë adel van die Vrou –
Die huis se Koningin –
Haar hele wese wys dit nou,
Want sy het veel bemin.
In awendglans en awendvree
Beëindig sy die reis;
Al langer word die skaduwee
Wat na die Môre wys!
In manus tuas, Domine
(Elegie)
Klein Gielie is nie meer nie, en die wêreld
is ‘n liewe glimlaggie armer.
Die môre van sy lewe
Het heerlik skoon beloof;
Die Here het gegewe:
Sy naam die sy geloof.
Verydel … hoop en drome;
Verklink, helaas, die lied …
Die Here het genome:
Sy heil’ge wil geskied.
‘Waartoe die lewenswonder,
As in U hoë raad
Sy son weer moes ten onder
Nog met die daeraad?’
Deur trane van verlange
Daal sag ‘n fluist’ring neer:
‘UIT Vaderhand ontvange:
IN Vaderarme weer.’
Suster Sonneskyn
‘If the Doctors had more Christianity and the
Christian Scientists more Science, it wouldn’t
matter very much which of them you called in,
provided you had a good nurse!’ Mr. Dooley
Ek dink aan haar as Suster Sonneskyn,
Want waar sy in ‘n siekekamer kom,
Verander in iets skoons selfs smart en pyn
Gelyk ‘n bleke blom.
Sy het geen antwoord as die mense vra
Wat ons hiernamaals eendag sal verrig:
Sy weet slegs hier’s ‘n taak haar opgedra –
Dié is haar eerste plig.
Die lewe – nie die dood – siedaar haar taak
(En lewe op sy beste is kort van duur);
Derhalwe moet sy heerlik nuttig maak
Elk afgewoë uur.
Één vraag sal altyd op ‘n antwoord wag:
‘Wat is dan jou geloofsbelydenis?’
Sy is te besig met die kosb’re dag,
Vol vreugde en droefenis.
Sy moet geloof hê – ja, in owervloed –
Al loop sy nooit – nee nooit – daarmee te koop;
Want moedig is sy, altyd blygemoed.
Sy’s self ‘n stukkie hoop.
Haar hande staan vir niks verkeerd; haar hart
Lojaal en trou aan vriendskap, werk en eer.
O, Suster van die Wêreld en sy smart,
Wat kan ‘n sterfling meer?
Ek hoor reeds die Engel met sy stem so sterk
Luid roep, die dag as alle Skyn verdwyn:
‘Staan t’rug daar, here Prinse van die Kerk,
Vir Suster Sonneskyn!’
Bioskoop1
Behind the veil – behind the veil. Tennyson
Langs alle strate, alle weë
Gaan mense heen, keer mense weer,
Loop mense saam, kom mense teë –
‘n Stroom wat beide gaan en keer;
En daarom lê daar oral spore
Op elke pad, oor elke brug;
Een helfte daarvan gaan na vore,
Een helfte daarvan gaan weer terug;
En orals kruis daar kronkelpaaie;
Die een loop links, die een loop regs;
Maar ondanks ompad, ondanks draaie,
Uiteind’lik is daar één pad slegs;
Het net één rigting al die spore,
Gaan almal oor één noue brug,
Wys almal – groot en klein – na vore –
Want langs dié weg kom niemand t’rug!
*
Waar, wat is hul bestemmingsoorde?
Wat is hier waarheid? Wat is skyn?
Die slot van alle orakelwoorde?
Vraagteken op die valgordyn!
1 Grieks: Bios = lewe; skopeo = ek sien.
Kleure-klank
Et ego Johannes vidi sanctam civitatem Jerusalem
novam descendentem de caelo a Deo, paratam,
sicut sponsam ornatam viro suo. Apocalypsis XXI: II.
Op Patmos-eiland in ‘n visioen,
Robyn en skemerglinst’rende Opaal,
Het eens d’ Apostelsiener neer sien daal
‘n Kleurespel van Hemelsperlemoen:
Jerusalem, gelyk ‘n bruid versier
Met Jaspis, Jasint, Beril, Krisopraas,
Sardoniks, Sardis, Krisoliet, Topaas,
Kalsédoon, Ametis, Smarag, Saffier!
Toe hy die name op sy lippe neem,
Was dié vir hom ook ‘n juwelelied?
Kleursimfonie, harmonies’ diadeem,
Weerskynend’ weerklank, klinkend’ koloriet?
Die mens het al sy wonder, sy geluk
In skoonheid, kleure in klanke, uitgedruk!
Pelgrimsleuse
(Vry na ‘I shall not pass this way again.’ – Anon.)
Kan ek my vriend ‘n diens bewys
Laat niks my daarvan keer nie:
Ek doen die korte lewensreis
Net één maal en nie weer nie!
Geen weldaad wat die hart verruim –
Laat ek hier ongedaan nie:
Ek sal – wat ek nou mag versuim –
Langs dié weg nie weer gaan nie.
Aanhouer wen!
(Vry na ‘Never Mind’ van Ella Wheeler Wilcox.)
Wat jou werk ook mag wees, wat sy waarde,
Wat jy hier op die aarde probeer,
Al vind jy verering, al wen jy waardering,
Een of ander sal jou verkleineer.
In die kuns is die kol van die teken
Ook nie altyd so sigbaar gemaak
Dat jaloersheid of lis nie kan skree: Dit is mis!
Selfs al skiet jy die mikpunt ook raak.
Dra die mense jou al op die hande,
Moet jou egter geen oomblik verbeel
Dat nie één uit die skaar wyd sal gaap en verklaar:
Hoor, die stuk het my dood’lik verveel;
Want die toring van kuns het veel trappe
Langs sy duiselig-hoë spiraal,
En bedrieglike skyn laat die kunstenaar klein
Soms vertoon van die vloer van die saal.
Dit is ‘Aanhouer Wen!’ in die kuns ook:
Slegs volharding het kans vir die beker.
Nie almal sal roem nie, nie almal verdoem nie –
Maar ‘n bietjie van albei is seker.
Daarom, hoog sy jou doelwit en strewe
Met geen wens vir ‘n gawe of guns;
Mag jy dan vóór jy sterwe, ‘n hoekie verwerwe
In die heerlike Tempel van Kuns!
Kinderkrans
Laat staan die kindertjies en verhinder hulle nie
om na my te kom nie; want van die sodanige is
die Koninkryk van die Hemele. Matt. 19:14
Die Heiland was so moeg al –
Sy liggaam en Sy gees –
Die dag was so vermoeiend
So kommervol gewees:
Melaatse, kreup’le, blinde –
Die ganse wêreldsmart:
Ellende van die liggaam
En weedom van die hart.
Al seënend was Sy hande
Die dag lank uitgebrei:
Genesing, troos, erbarming
Vir ieder mens wat ly.
Besorg sien die dissipels
Sy matte oë aan:
‘Die Meester kan nie meer nie;
Die skare moet nou gaan.
Die Meester moet nou rus kry,
Ten einde is Sy krag.
Die skare keer nou huiswaarts
En kom ‘n ander dag.’
Maar Jesus spreek: ‘Die kinders
Kan Ek nie so laat gaan.
Bring hier tot My die kleingoed
En laat hul om My staan.’
Hy streel die kleine hofies;
Die ogies bruin en blou:
‘Uit julle word uiteind’lik
My Koninkryk gebou!’
Die son werp uit die weste
Sy laaste goue glans
Op Jesus en die kleintjies:
Die eerste Kinderkrans!
Die liewe onskuld
Zalig, o zalig, een kind nog te zijn.
Nog dink ek aan die dae –
Die dae van ons jeug,
Van bly en blanke onskuld,
Van argelose vreug.
‘k Onthou die ou apteker,
So bietjie krom en skeel;
Hy kon ons gif gegee het
As ons toktokkie speel!
Hoe rein was toe ons hartjies,
Hoe suiwer ons gemoed!
Ek sien ons in die kerk sit
So sedig, vroom en vroed.
Ek sien nog die ou koster
So bitsig as ‘n draak:
Ons het net aan die markklok
Sy hondjie vasgemaak!
Dié dae had ons, kinders,
Nog vrese en ontsag
Vir ouers en vir meester –
‘t Was anders as vandag.
Was meester nie onthuts nie
En stuurs ‘n hele week –
En dit oor één ou speldjie
Wat in sy kussing steek!
Dié dae het ons, kinders,
Aan moedersknie geleer:
Eenvoudig of armoedig,
‘n Ou mens moet jy eer.
Maar het ons nie gelag nie
Toe ou tant Siena Smook
Haar byna doodgeskrik het
Vir ons pampoenskilspook!
Ons was nog onbedorwe,
Nog eerlik en opreg,
So gaaf in doen en late,
So skoon ons lewensweg.
Hoe lekker was die vrugte
– Ek kan daar nog van droom –
Veral dié wat gebuit was
Van Dominee se boom!
Hoe vrolik was ons lewe,
Hoe prettig ons plesier;
Hoe vry van alle wreedheid
Teenoor èn mens èn dier.
Maar was dit nie ‘n grap nie
Toe ons die Jood se perd
Die voorstraat op gejaag het
Met klappers aan sy stert!
Nooit sien ons weer dié dae
Van onskuld en geluk
Voordat die lewenslaste
Swaar op ons skouers druk.
Vergeet is lank die trane,
Die droefheid van die jeug –
Maar nooit die kwajongstreke …
O liewe, liewe deug!
Dolce far niente
Die dagdroom
In die land van Weet-nie-waar,
Land van soet verlange,
Is die koekies altyd gaar,
Staan die ryperd altyd klaar,
Kouend aan sy stange.
Waarheid is daar elke droom,
Gulde al die kanse,
Goue visse in elke stroom,
Rype vrugte aan elke boom,
Bruin gebraai die ganse.
Op die hoogte van Wel-eer,
Trots en hoog verhewe,
Staan die burgslot Waar-nou-weer
Langs die Niemendalse Meer
Stil en sonder lewe.
Niemand kan die poort genaak,
Niemand dring daarbinne:
Honderd oë het die Draak
Wat vir Hartewens bewaak,
Slapende vorstinne.
Altyd slapend, nag en noen –
Deur ‘n toweresse –
Tot ‘n ridder flink en koen
Drie maal op die mond haar soen,
Spreek: ‘Ontwaak, Prinsesse!’
In haar wange styg die gloed
As sy die oorwinnaar
Met ‘n vreugdekreet begroet,
Noem haar Ridder Vol-van-Moed,
Haar getroue minnaar.
Vurig kom ek aangesnel
Op my Rossinante,
Steek die Draak deur been en vel
Met my heupswaard Durandel,
Blink met diamante.
Drie maal soen ek die Prinses:
‘Skoonste aller vroue …’
‘Jan,’ roep Meester, ‘leer jou les!
Doen jy voortaan nie jou bes,
Kry jy harde houe!’
Waarom moet ‘n mens tog leer?
Waarvoor is daar lesse?
Weg is trotse Waar-nou-weer
Langs die Niemendalse Meer
Met my skoon Prinsesse!
Klein woelwater
Betrag, sê tant Hettie, so ‘n kleine spektakel!
Dat hy nog nie dood is, is ‘n reine mirakel.
Verwoesting is hy vir sy skoene en klere:
Hy klim en hy klouter – hy gaan so te kere.
Ek kan nie meer praat nie, en ‘k wil nie meer slaan nie;
Ek weet nie waar kom so ‘n stout kind vandaan nie.
‘n Woelwater – daar is geen huis mee te hou nie;
Geen man weet die kommer en sorg van ‘n vrou nie.
‘n Halfuur gelede nog netjies en skoon
Gewas en gestryk van sy kop tot sy toon,
Nou skaam ek my dood as ‘n vyand of vrind
Sou vra: Is die swarte Masbieker jou kind?
En ander week gaan ons na tante De Vries.
Haar buurmense noem haar tant Hannie Presies.
By haar sien jy nimmer ‘n stoffie of rafel,
‘n Krummeltjie onder, ‘n vlek op die tafel.
Ag, Jannie, onthou tog vóór Mammie vergeet,
By haar moet jy nooit probeer beetslaai te eet.
Daar’s alles net só, en jy mag aan niks roer.
Jy kan jou gewoonweg sit spieël in haar vloer.
‘n Ding op sy plek, elke mens op sy pos,
En klokslag vir alles, vir werk en vir kos.
Wie daar nie behoorlik kan pas op sy tyd,
Is geelrys en poeding en soetkoekies kwyt!
Van toegee en oorsien’s by Tante geen sweem –
‘k Wil sien wie haar huis ooit op horings sal neem!
Sy’t lankal haar enigste kindjie verloor;
‘n Man het sy wel, maar hy trap in sy spoor.
Sy’t alles so netjies, so blink en sekuur;
‘n Morsvarkie sal sy geen oomblik verduur.
Ag, Mammie, sê Jannie met ogies betraan,
Vir wat moet ons na die kwaai tante toe gaan?
Ag, Moetsie, ons bly tog maar liewers hier tuis;
Vir wat moet ons kuier by ‘n vreemde ou huis?
As Mams nie kan wag nie tot Jannie eers groot is
Dan wag ons maar net totdat Tannie eers dood is.
Die Duisendpoot
Similia similibus curantur.
Pas op, pas op vir die Duisendpoot:
As hy jou byt, lag jy jou dood.
*
Hy byt klein Jantjie op ‘n dag;
Daar kry die kind die Lekkerlag:
Dit kielie hier, dit kielie daar,
Dit kielie oral aanmekaar,
Sy voetsool, neus, sy hart se sak,
Dit kielie in sy kieliebak.
Sy mond rek wyd, sy tande wys;
Hy kry inwendig hoendervleis.
Hy rol, hy krul, hy hou sy maag.
Ha-ha! Daar skeur sy hemp se kraag;
Ho-ho! Daar klap sy boonste knoop;
Hie-hie! Daar vlieg sy baadjie oop.
Sy are swel, sy kleur word blou;
Die lagbui word ‘n wolkbreuk nou.
Sy vader skrik: My liewe tyd –
Vanwaar nou dié lagsinnigheid?
Sy moeder kerm: Ag, wat is dit?
Nog nooit had hy die Ritteltit.
Die buurvrou loer en sê: Ek wed
Lagstuipe – dit is wat hy het.
Die buurman luister op sy stoep
En gaan die naaste dokter roep.
Die dokter bring lanset en spuit
Eers in sy arm, toe in sy kuit.
Toe lag hy eens so erg: Dis mis –
Dis glad nie waar my lagspier is!
Toe mompel dokter Oudedoos:
Ek vrees die saak is hopeloos.
Toe kom ou juffrou Net Natuur
En sê: Probeer my waterkuur.
Maar wat … hy’t al die put se water
In ‘n ommesientjie uitgeskater.
Toe kom die homeopátie-man –
Geen siekte of hy weet daarvan.
Hy’t simpatie, hy weet ‘n plan:
Similia similibus …
Mevrou, sê hy, stel u gerus.
Ek het al mense in die wandel
Met ekstrak van verstand behandel.
‘k Moet hom ‘n grap of twee vertel,
Dan mag hy van die Lag herstel,
En spoedig ook: hy’s baie moeg –
Te meer daar hy tot berstens loeg.
Ek ken tog nog ‘n grap of wat;
Oud zijn zij en der dagen zat.
(Vol twyfel antwoord Ma: O, so?
Maar moedig sê Pa: Wil jy glo!)
Wel, so gesê en so gedaan.
Die eerste grap tas hom al aan;
Die tweede laat hom effens gril;
By drie raak hy betreklik stil;
By vier begin hy geeu en gaap;
By vyf was hy al aan die slaap.
Bleek, uitgeput daar op die bed –
Maar almal juig: Hy is gered!
‘n Stok-ou grap’s ‘n goeie ding
Teen Duisendpootvergiftiging.
Pa sien die grap nie heeltemaal,
Want hy moes die gelag betaal.
*
Pas op, pas op vir die Duisendpoot;
As hy jou byt, lag jy jou dood!
Toe en nou
1828
Betrag die deftigheid en grasie –
Ná ‘n twee-uur-lange predikasie –
Van die twee ouderwetse nooitjies:
Die honderd valletjies en plooitjies.
‘t Was alles langer daardie dae:
Die moue, ensovoorts en krae;
Ook trek dit destyds nie die aandag
Dat Sondag langer was as Maandag!
1928
Hoe heelmal anders is dit hede:
Dit krimp van bo, dit wyk benede;
En, vry soos fladderende vlinders,
So dartel-dans vandag se kinders.
Kort is die moutjies, kort die rokkies,
Die hare kort, en kort die sokkies.
Hoe korter, sê hul, hoe gesonder …
Hoe leef die dokters nog? Ek wonder!
Wit en swart
Die Teufel auf der Himmels Wiese. Rudolph Baumbach
Die kleine kinder-engeltjies
Moet almal skool toe gaan,
Elk met ‘n goue ligkrans om
En witte vlerkies aan.
Hul skryf met goue griffeltjies
En op ‘n silwerlei;
Die fraaiste sprokies hoor hul daar
En sing ‘n lied daarby.
G’n ABC of Twee-maal-een
Hoef hulle ooit te leer;
G’n jaartal en g’n syfertjies
Maak hulle hofies seer.
Namiddag Woens- en Saterdag
Word hulle toegelaat
Te wandel met die Melkweg op,
Die mooiste hemelstraat.
Maar Sondagagtermiddag is
Die heerlikste van al;
Dan speel hul voor die Hemelpoort
Totdat die awend val.
Puur goud- en silwerblommetjies
Groei op ‘n blou terrein,
En mense noem hul ‘Sterretjies’
Wat in die donker skyn.
Sint Petrus sit daar by die poort
En laat hul in en uit.
‘Kom t’rug,’ beteken dit as hy
Sy goue Sleutel fluit.
Want nie te ver en nie te lank
Laat hy hul uit sy oog.
‘Speel ‘wegkruip’ met die wolkies, maar
Hou jul vlerkies droog.’
Een warme dag het hy gedut –
Dit het hul gou gemerk;
En toe – presies soos kinders doen –
Ken hul g’n paal of perk.
Tot daar waar ver is, vlieg hul rond,
Selfs waar Verbode staan;
Plat op hul magies lê hul daar
En skou die afgrond aan,
Waar kleine kinderduiweltjies
Speel in ‘n swarte klomp,
Met horinkies en spitspuntstert
(Net één se stert was stomp).
‘Ag, Engeltjies, kan ons nie net
‘n Bietjie bo kom speel?
Hoe netjies ons ons kan gedra,
Kan niemand hom verbeel.’
Kajuitraad word daar toe gehou,
Eenparig was die gees:
‘Met kleine duiweltjies te speel
Sou nie onaardig wees.’
En Jakobs-ladder word gehaal,
Nie sonder sweet en swoeg,
En in die diepte neergelaat –
Gelukkig lank genoeg.
En een, twee, drie van onder af
Die leer op klouter daar,
Elk met sy stertjie in sy hand,
‘n Swart kabouterskaar.
Vereers het alles goed gegaan:
Hul speel so soet as stroop;
Maar skielik was die duiwel los,
En alles raak oorhoop.
Een trek die mooiste veertjies uit
‘n Engeltjie se vlerk,
Die ander rol ‘n ligkrans rond,
Doen enig duiwelswerk.
Die blomme van die hemelsveld
Die trek hul roek’loos uit
Metdat Sint Petrus wakker skrik
En op sy Sleutel fluit.
Maar toe hy al die onraad merk,
So woedend kwaad was hy
Dat, as hy nie onsterflik was,
Hy kon beroerte kry.
Wat hom die bloedigste vererg,
Was nie die groot lawaai,
Maar dat hul skewe bekkies trek
En hard soos hane kraai!
Die engeltjies was bleek van skrik,
Sint Petrus rooi van toorn.
‘Mars daad’lik in!’ beveel hy streng
En blaas die alarmhoorn.
Die swart kabouters laat hy vang
En vat hul aan die nek
En laat hul soos klein katjies val
T’rug in die Ander Plek.
Berou het elke engeltjie
Die dag, en al sy werk:
Drie weke moes hul – vir hul straf –
Loop sonder krans of vlerk.
Drie weke nooit die poort uitgaan,
Pal in die hemel bly!
Gelukkig – alles het ‘n end –
Ook straftyd gaan verby.
Gelukkig ook – die blommetjies
Het op die aard’ geval:
‘n Madeliefie en Sonneblom,
Die sterre van die dal.
Dié kan ‘n diep geheim vertel
(Sê net mooi: ‘Asseblief’):
‘Hy’t nie – hy het, hy’t nie, hy het –
Hy’t nie – hy het my lief.’
Adam of Die Paradys Herwonne
‘n Apokriewe Skeppingsverhaal uit die land van Adam Kok
‘n Kok was Adam. Dit besef
Al wie die kwessie goed oordink,
Want was hy nie sy eie ‘Chef’,
Wie kon vir hom kom bak en skink?
Hy moes dus maar – maak wat hy wil –
Pawpaws bewerk en piesangs skil.
Die hele wêreld was sy plaas
So ver die sirkel rondom strek.
Van alles om hom was hy baas –
Daar was geen baken, draad of hek.
Die groen geboomte was sy huis;
En waar hy kom, daar was hy tuis.
Gewoon het hy op Port Sint Johns –
In ons taal: Paradysfontein.
Hy had geen plaag, geen las soos ons
Van motor, telefoon of trein.
Geen hof, geen bank was in die land.
Geen wetsagent, geen predikant.
Hy wis ook niks van so ‘n ding
As eksteroog of skeer-ellend’;
‘n Kleremakersrekening
Was hom van toeka onbekend:
Die eerste, beste boom bevat
Vir elke dag ‘n nuwe blad!
Volmaak geluk – so dink ‘n mens:
Hy’t alles wat sy hart verlang.
Tog brand in hom soos vuur ‘n wens:
– Die allenigheid het hom gevang –
‘O, Skepper,’ smeek hy vroeg en laat,
‘Één skeppie nog: gee my ‘n maat!’
‘Dit is nie goed nie dat die mens
So eensaam en alleen moet wees;
En, tot vervulling van jou wens
Om wederhelf en goeie gees,
Neem Ek uit jou ‘n kotelet:
‘n Ribbebeen met vleis en vet.
Gaan in die Umzimvubu was
En lê jou op die seesand neer
En vier-en-twintig ure vas
Alvorens Ek kan opereer:
‘n Rib-reseksie – sonder smart –
Die vyfde, links, na aan jou hart.’
Wel, so gesê en so gedaan.
Toe Adam daar weer wakker skrik,
Sien hy vir Eva vóór hom staan
Met skugter, neergeslae blik.
O wanhoop van die kunstenaar
Wat niks verberg, niks openbaar!
O heerlik’ land, o heilryk’ lot,
Van ewig-koele lenteweer
En groene tempels van genot,
Van berg en bos, rivier en meer,
Van silwer strand en bloue see …
Tog werd hy later ontevree.
Die trekgees het hom baasgeraak,
Al pleit ook Eva sag en soet
(Soos elke vrou vandag sou maak):
‘Hier is ons huis, hier gaan dit goed …
Gelukkig hier ons klein gesin –
Waarom die onbekende in?’
Altrekkersvader, eerste Boer!
So het sy eiesinnigheid
Tot omstreeks Kokstad hul gevoer.
Te laat kom toe berou en spyt.
Helaas! … Die paradys verloor …
En Ongeluk-se-Nek1 lê voor.
1 Ongeluksnek, waar die Griekwas oor die berg gekom het.
‘Onthou jy nog die eerste dag
Daar onder in die paradys?
Hoe jy geskrik het vir die Nag
Totdat ek jou die sterre wys?
Die hemel,’ sug hy, ‘was om ons –
Om jou en my – op Port Sint Johns!’
‘Kom rus,’ sê Eva ná die reis;
‘Daarna kan ons oor alles praat.
Ek het ons heerlik’ paradys
Met leë hande nie verlaat,
Maar iets van alles saamgebring:
My stem: Hoor jy die voëltjies sing?
Bloei op my wange nie die roos?
Is nie my oë hemelblou?
My glimlag en my traan van troos
Nie sonneskyn en môredou?
Kan ek nie, kom dan wee of wel,
Die paradys vir jou herstel?’
‘Die groot heelal en ek daarby,
Met niks vir boumateriaal –
Dit wou gedaan wees,’ antwoord hy.
‘Maar jy … my rib? Dis kolossaal!
Dit is vir my eers wonderlik,
Jy staan alleen … uitsonderlik!’
(Die uitleg
Die vrou se skepping uit ‘n ribbeen
Is skynbaar moeilik te verklaar,
Tog lewer gryse skrifgeleerdes1
Juis hieroor wyse kommentaar:
1 In die Talmoed word ‘n hele reeks redes gegee waarom juis nie ‘n ander deel van Adam
gebruik is nie.
Was Eva deel van Adams skedel,
Sy tweede hoofstuk so te sê,
Sou vrouens soms die mans kapittel
En hulle eie sin wil hê.
Was sy geskape uit sy oë,
Begeerlik vol van yd’le waan,
Sou sy dan ure voor haar spieëlkas
Of voor die winkelvensters staan.
Na baie staaltjies sou sy luister,
Was sy geskape uit sy oor:
Wat dié een sê; wat daardie fluister;
En het jy dit of dat gehoor?
Was sy geskape uit sy lippe,
‘n Praatgraag was dan wel die vrou,
Versot op tee- en koffiekletse
En allerlei buurpraatjies hou.
Was sy geskape uit sy hande
En lief vir opskik en gemak,
Te handig had sy dan haar vingers
Gedurig in haar man se sak.
Gestel sy was deel van sy voete,
Dan sou sy rondloop vroeg en laat,
Uithuisig wees en lief vir drentel,
Vir op-en-neer-loop langs die straat.
Was sy geskape uit sy skadu,
Sou vrouens mans wil kopieer,
Wil deelneem aan publieke sake,
Wil rook en drink en wat dies meer.
Derhalwe neem die wyse Skepper
‘n Ribbebeen, verborge – klein –
Dat sy moet skaam wees en beskeie,
Inhuisig-stil en vroulik-fyn!
P.S.
Ek lees die versies vir my gade –
‘n Dame wat haar nooit misgis.
Sy meen die skrywer was ‘n monnik,
‘n Kluisenaar of optimis!)
Dum spero spiro
Die oujongnooi oorleef haar suster
Met huw’likseën en liefdeswasem;
Haar lewe is nie juis geruster –
Maar waar nog hoop is, is nog asem!
‘n Jobstrooster
‘Hy moet glo dink ek is ‘n swaap.
Verbeel jou: ons stam van die Ape!’
‘Die Mens, sê Nietzsche, is meer Aap
As enig Simiaan geskape!’
Nuda veritas
Die spreuk: Die klere maak die man
Mag waar wees van die here.
‘n Dame het ‘n ander plan
Met meer of minder klere:
Die naakte waarheid van die saak is
Haar kleed moet wys hoe sy gemaak is!
Lauriger Horatius
‘Horatius Flaccus VIII V.K.’
Geruime tyd, dus, dat jy dood is;
Tog wil jou leser dikwels vra
Of jy nie maar sy tydgenoot is.
Natuurlik, ons is ver vooruit
Met jazz – per draadloos! – in ons villas;
Ons vliegtuie snork, ons treine fluit;
Ons glo ons grootjies was gorillas!
Die mens bly blykbaar waar hy was,
Al maak die wetenskap progresse:
Nie minder swaar die lewenslas,
Nie makliker die lewenslesse.
Ons ook ken nog vir Lydia
En Sybaris vlak op haar hiele.
Die skinderbek Canidia
Ry nog maar almal in die lewe.
Die suikerbekkie Lalage –
Wie het haar nie al self gesoen nie?
Dis snaaks, ná ‘n duisend jaar of twee
Kan ons dit nog niks beter doen nie!
Mooi Pyrrha laat haar ook nog sien,
Die blanke skoonheid, slank en statig,
Al is die hare kort, miskien
Die kleur en golwing ook … kunsmatig!
Maecenas en Terentia
Kom nog ou vriende ‘n besoek bring;
Sy fiemies kan Digentia
Nog altyd lelik in die hoek bring.
Weet ons nie hoe Gargilius
Ná ‘n Bosveld-skiettog sit en wind maak?
Crispinus laat geen mens met rus –
Die baasverveler kan geen vrind maak.
Horatius, geen dag is daar
Dat ons jou tipes nie begroet nie –
Net jy bly ongeëwenaar:
Vir jou het ons nog nie ontmoet nie!
In die dieretuin, Pretoria
O wad some power the giftie gie us To see ourselves as others see us. Robert Burns
Die sjimpansee in ysterkou
Sit sy beskouers te beskou,
En weerloos hoor die Hoër Aap
Die Laer Mensdom ginnegaap;
Verneem, terwyl sy oë vlam:
‘Die Mense en die Ape stam
Van een oervader en oermoeder.’
‘Ben ik,’ skrik hy, ‘mijns hoeders broeder?
Ek is gewoond aan plaag en terg,
Maar wat te erg is, is te erg;
Was ek in staat my te verdedig,
So grof sou niemand my beledig!’
As die Suidoos waai
1 Die geheim
Hoe jou gesondheid te behou?
Piet meen dat hy dit weet,
Hy het my die geheim vertrou:
Aldag twee uie eet.
Nou moet hy my nog net verklaar
Hoedat hy die geheim bewaar!
2 Circulus vitiosus
Die mens sal sig verrinneweer,
Sy lewe om geld ontwil verkort
En later duisende spandeer
Om net maar weer gesond te word.
*
Dit is ‘n dwase sirkelloop,
Wat jy verkwis het, duur te koop!
3 Die skool van die lewe
Piet dag daar was twee kante aan elke saak
En wis ook van geen beter-weter.
Intussentyd het Piet getroud geraak –
En nou weet hy wat Piet is … beter.
*
‘Die standpunt,’ sê hy, ‘van gesond verstand is:
Die man is reg wat aan die vrou se kant is!’
4 Baas of Klaas?
Hoe heerlik is ‘n groot besit!
Geen mens betwyfel dit nie.
Op een voorwaarde slegs dat dit
Nie straks die baas besit nie.
*
Die vrek het lewenslank die las
Sy geld vir ander op te pas.
5 Leuningstoelkritiek
Pas op, as hy sy ore spits,
O wêreld, vol van sondighede,
Dan het hy ‘n Gedankenblitz;
Dan skryf hy puur spitsvondighede.
*
Die fynste stof kan hy bespeur
Behalwe … voor sy eie deur!
6 Facilis descensus
Hy leen vereers tweehonderd pond –
Tweeduisend word die rente -,
Verloor sy eie stukkie grond –
Sem woon in Jafets tente;
‘n Vrye burger van die land,
Kneg op sy vaders-erwe,
Of in die maalstroom van die Rand
Geslinger ten verderwe.
7 Buite hoop
Ek sou dit liewers nie probeer nie;
Die feit bly dood’lik en voldonge:
Jy sal ou Ja-maar nie bekeer nie
Al het jy ook nog honderd tonge,
‘n Koperkeel en diamante-longe.
*
Teen dwaasheid – laat jou die gedagte troos –
Is selfs die Hoër Magte magteloos!
Waardig en astrant
Draf, Keffertjie, draf –
Draf maar brutaal en ruik!
Blaf, Keffertjie, blaf –
Blaf maar, dis jou gebruik –
Blaf, Keffertjie, blaf!
Raas, Keffertjie, raas –
Raas, maak ‘n groot lawaai!
Dwaas, Keffertjie, dwaas –
Dwaas, maar dit klink tog kwaai.
Raas, Keffertjie, raas!
Tjank, Keffertjie, tjank –
Tjank, jy’t daarom gevra!
Lank, Keffertjie, lank –
Lank het ek jou verdra –
Tjank, Keffertjie, tjank!
Sout en soet
Stort ek per ongeluk die sout,
Dan kan my liefste soms so koud,
So ongenaakbaar word;
Maar glimlag sy, dan weet ek weer
Dis suiker wat ons Liewen-Heer
Na my kant toe laat stort!
Vlagliedjie
Nie altyd kry ‘n mens sy sin nie –
Dit is die lewenswet.
As jy nie het wat jy bemin nie,
Bemin dan wat jy het!
Spinasie vir koerasie
‘Wat dink jy, dokter, gee spinasie
‘n Man wat bang is, meer koerasie?’ –
‘Heel moontlik, want spinasie eet
Eis self koerasie, soos jy weet!’
Landbou
(Net vir Mans)
Wat traak dit my met Annekie?
Dis nie ‘n handvol nie, dus ‘n landvol;
Dis nie geplant nie, dis gesaai.
Jochem van Bruggen
‘Dit is nie handvol nie, maar landvol
Gesaai en nie geplant.’
Al skryf jy ook ‘n halwe krantvol
Al in dieselfde trant,
Al strooi jy arg’loos jou verstandvol
Van sulke reënboogsand,
Jou eie vrou bly ‘n dubbel-handvol
En stewig ingeplant.
Visvangs
(Nie vir Vrouens nie)
Wat! treur jy oor ‘n meisie?
My kragtie, kêrel, skaam jou;
Jy is mos al ‘n man,
En die see is vol van visse –
Ek dag jy wis daarvan.
A.D. Keet
Moet tog nie glo dat Keet nie wis nie:
Daar’s niks so glibberig as ‘n vis nie.
*
Niks lyk so seker, niks gewisser
As: Visse-kennis het ‘n visser.
Tog, weet hy na sy eerste dwaling
Of hy ‘n aal het of ‘n paling?
*
Was van jaarvroeg af tot op hede
‘n Visser met één vis tevrede?
*
Die liewe goud- en silwervisse
Gee duisend-één ontsteltenisse.
Goudvissers vind gou wat die fout is:
Dat goudvis self so lief vir goud is!
*
Die visser vlei hom hy stel wette
En word gevang in eie nette.
Die visse maak hul nie beangs nie –
Bewerk hul dan nie self die vangs nie?
*
Die ingevoerde is gevaarlik:
Dié soort beantwoord hier beswaarlik
(Dit leer ten minste die ervaring)
Veral oorsése rooie haring.
*
Daar’s visser Salomo se trosie:
‘Net d’ eerste honderd is … die Josie.’
Is jy dan nog nie spesialis nie,
Bemoei jou verder nie met vis nie!
*
Die saak bly vol van hindernisse,
Al is die see ook vol van visse.
*
P.S.
Ek staan oor Salomo verwonderd –
Ek self besit ‘n huisvrou honderd!
Pamperlang
(Met ‘n diepe buiging voor C.L.L.)
Do right and fear no man;
Don’t write and fear no woman.
Ek sê dit met keurige blomme,
Met rose wat geure versprei,
Met sagte en gloeiende kleure;
Fluwele, satyne en sy;
Parfume en kost’like reukwerk
Wat d’ Ooste welriekendste skink;
Met lekkers, bonbons, sjokolade –
Maar nooit nie, nee nooit nie, met ink!
*
Ek sê dit met oë wat aldeur
Van stille bewondering spreek;
Met lippe wat smag na ‘n soentjie,
‘n Hand wat ‘n handdrukkie smeek;
Met pêrels, kristalglas wat skitter,
Met goud en juwele wat blink,
Met al wat my hand of my hart vind –
Maar nooit nie, nee nooit nie, met ink.
Onmoontlike tweelinge
Die moderne kunslied
Julle staan oor my ekstase stom;
Julle vra: Waar is die lied te vinde?
Kyk, dis juis waar die kuns in kom!
Julle vind die lied nie mooi nie, vrinde.
Die moderne kunskleed
Ag, moeder Eva, hoe kon jy
(Al was die appel sag)
Jou arme nageslag,
Die vrou veral, so swaar laat kry?
Gaaf sou dit wees hier in die son
In ‘moeder Evas drag’;
Maar nou moet mens versmag
Benede ‘n hele jaart chiffon!
Landskap in olieverf
‘k Neem aan dat hy die landskap verf
Presies soos hy dit sien;
Maar wat die hele saak bederf,
Besef hy nie miskien.
Dit is dat mens sy landskap sien
Presies soos hy dit verf!
Portret in olieverf
Vergeefs moet ek daar op die doek
My vriend se wese en trekke soek:
‘n Skelm lyk hy, betrap, gevang
En – seer tereg ook! – opgehang.
Kon ek maar net dieselfde doen,
Sou ek my met geen mens versoen.
Om met my vyand af te reken
Sou’ k sy portret presies so teken:
‘k Bederf sy naam en reputasie
Deur doek- en verfkwas-defamasie!
In die sondagskool
‘Ja, veertig dae agtereen
En veertig nagte lank gereën!
Dis ‘n rekord tot op hede.’
‘Meneer, mag ek Meneer iets vra?’
‘Maar alte seker, Japie, Ja?’
‘Was die boere toe tevrede?’
In die sinagoge
Die sinagoge is volgeprop;
Die horing blaas, die kantor sing,
En elkeen dink sy eie ding.
Daar skielik word Max Goldberg naar,
En almal werskaf hot en haar.
‘Oi, oi! Oi, oi!’ ‘Waar is die pyn?’
‘Oi, oi!’ ‘Toe drink ‘n bietjie wyn.’
‘Oi, oi!’ ‘Sal ons die dokter haal?
Of wil jy na die hospitaal?
Wat is verkeerd? Ons moet tog weet!
Jou sleutels by die huis vergeet?
Jou kas vol geld? Wel, wat daarvan?
Schlemihl! Hier sit ons almal dan!’
As ek …
As ek so wys as Nestor was,
Kon spot soos Aristophanes,
‘n Wysgeer soos Pythagoras,
‘n Filosoof soos Sokrates,
Geleerd soos Thales van Milétus,
of Pittakos van Mytiléne,
So spreukeryk soos Epiktétus,
So diep soos Bias van Priëne,
‘n Digter soos Homeros was,
Kon dink soos Aristoteles,
‘n Kunstenaar soos Phidias,
Geneesheer soos Hippokrates,
Of Mezofante, pront in tale …
Sou ‘k nou nie in ‘n woordeboek
So dik en lywig as Van Dale
Die ouderwetse name soek!
As ek nie …
As ‘k nie van loue Westerstrande
Maar uit die goue Ooste was,
Dan had ek nou ook goud in hande
In plaas van bloue-duite-las.
Dan sou ek my nie so laat pier nie
Deur Oosterlinge, allemintig!
Dan wis ek twee en twee’s nie vier nie,
Maar alte seker twee-en-twintig!
Tweelinge: moontlik en onmoontlik
Geen verbod meer
Jy kan met haar oor ‘alles’ praat:
Sy sien in niks meer kwaad nie.
Dis daarom dat sy nie kan laat
Oor ‘alles’ self te praat nie!
Geen gebod meer
Dag Moses eens die Tien Gebode
Vir Israel hoog nodig,
Tans skyn vir Gojim en vir Jode
Wel nege uit tien … oorbodig!
Die ou predikant tot die jonge
U sê daar bid tot vyftig wel –
Word egter nie bedroë:
Wat baat dit ons om hier te tel?
Hiernamaals word gewoë!
Die jong predikant tot die oue
Weet U hoe lank U dienste duur?
U preek soms vir ‘n ronde uur.
U kon – was U net eerder klaar –
U keel en U gemeente … spaar!
Snippie en die dominee
‘As die huwelik werklik heilig is’
(Dis Snippie wat so praat),
‘Waarom word daar dan in die hemel
Geen huwelik toegelaat?’
Die predikant spreek heus bedagsaam
En met gefronste brou:
‘Die antwoord skyn nogal bedenklik:
Miskien is daar geen vrou!’
Vóór jy kon mes sê, had weer Snippie
Haar sêgoed byderhand:
‘Die hele vraagstuk word my duidelik:
Hul soek ‘n predikant!’
O, so?
Die vlieg in die aptekersalf,
Die demper op die lewe
Wat sorg verdubbel, vreug verhalf,
Beperker van ons strewe –
Dit was, dit is, dit bly altyd
Die onomstotelike feit!
Dit is die doodshoof in die kas
Wat vreugde jonk laat sterwe
En soos ‘n ongenooide gas
Die lewensfees bederwe:
Geen knaender wederwaardigheid –
En niks so pynlik – as ‘n feit.
Gee’k my verbeelding vrye teuels
En sweef ek deur die lug
Op wydgestrekte arendsvleuels,
Dan moet ek cito t’rug
En staan ek in die werklikheid
Voor een of ander blinde feit.
As ek my lekker bly wil praat
Oor toekoms of verlede,
Kom juis die denkbeeld wat ek haat,
En … weg is al my vrede:
Hier moet die ingeboekte slaaf
Sy doen en laat met feite staaf!
Maar eendag, anderkant die Maan
Ver op die ster Canopus
Waar feite nie soos koeie staan,
Skryf ek my magnum opus
Van ongekende heerlikheid:
‘n Wêreld met geen enk’le feit!
Uit ons prille jeug
As dit fluit-fluit gaan
(Met die kwalik-verheelde trots van iemand
wat van sy kordaatstuk vertel)
Dit was ‘n bitter dag vir my
Die Sondag in die kerk;
Waar ons sit, in die middelry,
Word alles opgemerk.
Die dominee hou skielik op;
Die ouderlings kyk om;
Rooi-skaam laat sak my ma haar kop,
Want almal lyk verstom.
Wel, tuis het ek ‘n pak gekry
En huil my byna hees.
Maar dit was darem, glo vir my,
‘n Lekker fluit gewees!
Die bestelling
(Manhaftig in eweredigheid met die besit van drie sjielings – wat nie gaatjies het nie – in die spaarbank.)
Ná nog ‘n maand en nog ‘n week
sal Sussie weer verjaar.
Nou wil ek graag ‘n ring bestel –
‘n Goue ring vir haar.
Ek het drie pennies elke maand
‘n Jaar lank al gespaar.
Die ring moet wees van pure goud
Met ‘n ronde diamant
Wat soos ‘n druppel dou moet blink,
En langs die waterkant
– As dit nie baie moeite is –
‘n Appelboom geplant.
Die water moet so helder lyk –
En elke maal as sy verjaar,
‘n Ronde rooiwang-appeltjie …
Moet ‘ploemps’ ‘n appel val –
‘n Ronde rooiwang-appeltjie …
Ek dink dit is nou al.
Ekskuus? Ja, dit is al – vereers;
Maar later – dis my hoop –
Word nog drie pennies uitgekeer
Om klontjies mee te koop.
Maar ringe is glo ook so duur,
Ek weet – daar lê die knoop.
Raaisel
(Raai-raai is ‘n ou speletjie
vir die jongste mensies.)
Dis nie sus nie,
Dis nie so nie,
Dis nie onder,
Dis nie bo nie,
Dis nie slinks nie,
Dis nie slegs nie,
Dis nie links nie,
Dis nie regs nie,
Dis nie eintlik êrens nie,
Darem ook nie nêrens nie,
Raai nou bietjie: Waar is dit?
In die middel – daar is dit!
(‘k Weet, sê Dieksie van oom Piet;
Kakie het my daar geskiet!)
Middagslapie
(Na ‘n Duitse model)
(Salig-dromerig, om te pas by die trotse moedertjie van ‘n poppie met ogies wat toegaan as sy neergelê word.)
Aan die lyn oor die groene gras
Hang al haar kleertjies skoon gewas;
Sewe stuks hang hulle daar op ‘n ry;
Wyd ope ogies loer nog vir my.
Wil my klein skapie
Dan nog nie slaap nie?
In die sand maak die hen haar bed;
In die hoek span die spin haar net;
Vlindertjie daal op die blomkelk neer,
Wikkel sy vlerkies heen en weer.
Wil my klein skapie
Dan nog nie slaap nie?
Dóédoedoe, dóédoedoe, suis die wind;
Flou lyk die kykertjies van my kind,
Moeg, alte moeg om hul oop te hou;
Slaap werp sy sluier oor albei nou.
Net nog ‘n gapie …
Sag slaap my skapie.
Biesie-biesie-bame
(As Mammie haar voorskoot aanhet
en haar moue opgerol het,
dan beteken dit:
bad –
bid –
bed!)
Skoon is nou weer elke poppie
Van die voetjies tot die koppie.
Sedig sit hul, maar ek vrees
Almal is nie soet gewees;
Want die stoute Teddiebeer
Het sy bakkies swart gesmeer,
En die wilde Golliewok
Het vandag weer so gejok.
Riena kom van Graaff-Reinet;
Ons twee het tog soveel pret;
Kjoepie is my liefste kind,
Met haar laggie en haar lint.
Toe maar, nou is almal soet;
Moedertjie is ook weer goed.
Knietjies krom en hande netjies,
Bid nou julle aandgebedjies,
Biesie-biesie-bame
Vou die handjies same;
Ena, dena, dana, doe,
Maak nou julle ogies toe;
Mena, mina, mana, moeg,
Tot dit lig word môre vroeg.
Amen
‘n Dosyn waarhede
(Vir Ouma moet dit maar ‘n bietjie hartlik wees.)
Oog
is waar die lig in kom,
Oor
is waar die by in brom,
Neus
is waar verkoue raak,
Mond
is waar iets lekker smaak,
Hand
is waar ‘n mens dit voel,
Voet
is waar die water spoel,
Knie
is waar ‘n mens op bid,
Hurk
is waar ‘n mens op sit,
Tong
is waar ‘n mens mee lees,
Hoof
is waar die brein moet wees,
Wang
is waar die laggies troon,
Hart
is waar die liefde woon.
Moeder en kind
(‘n Koeël onder die water deur skiet ook partymaal raak.)
Hy
Hemel, gee ‘n lange lyn
Aan ‘n kindjie teer en klein
Wat vir hom ‘n vlieër maak
Om te lugskip oor die Braak;
Wat verniet ‘n lyntjie vra
Vir sy mammie en sy pa;
Wat vergeefs ‘n
tiekie soek
Vir die Koelie om
die hoek.
Sy
Hemel, stuur tog noordewind
Vir ‘n rustelose kind,
Want sy vlieër is nou klaar;
Maar nou is die wind nie daar.
Dan sal hy tog ophou pla
En so baie vrae vra;
Dan sal hy na buite gaan,
Want sy moeder raak gedaan.
Dit
Heerlik waai die noordewind,
Bly is moeder, bly haar kind:
Alles gaan weer voor-de-wind,
Albei is weer eensgesind!
Op die vingers ken
(As ‘n man al vier jaar oud is, moet hy iets kan opsê as Oupa kom kuier.)
Daar is Duim en Duim se Maat
(Klein Potlekker!) en Lange Raat,
Lange Raat en Filafooi
(Vir die trouring van my nooi),
Kleinste voëltjie is Tinktinkie,
Kleinste vingertjie is Pinkie.
Hoeveel is dit? Laat my sien …
Vyf en nog vyf … dit maak –
123456789 – Tien!
Duimeling het ‘n os gekog,
Vingerling het ‘m tuis gebrog,
Langeling het ‘m afgeslag,
(Wie kom eet by ons vandag?)
Ringeling het wors gemaak,
Tingerling eet dat dit kraak!
Die strandlopertjie
(Aan die strand kom die angsvalligheid van die moeder en die ongeërgdheid van die onbedorwe brokkie albei tot hul reg.)
Driesie van die binneland
Kom in Maartmaand na die strand –
O die koele heerlikheid,
O die koninklike tyd!
Hy was daar geen week gewees nie
Of hy had geen watervrees nie.
Denkend aan sy water-reg,
Raak hy soos ‘n groot speld weg.
Mammie wis nie beter as
Dat hy in die huis nog was;
‘Maar die stilte is nooit pluis nie:
Dries is nooit meer by die huis nie.’
Hier gesoek en daar gesoek,
Elke draai en elke hoek –
Van die soek kom niks tereg:
Dries was sommer baie weg!
Skrik sy haar nie byna grys nie?
Wat maak angs ‘n mens nie wys nie!
Byna buite haar verstand
Snel sy na die waterkant –
‘Klaar verdrink en koud soos ys,’
Maak die duiwel haar al wys;
Onderwyl speel hy met sandjies –
Witte seesand in sy handjies.
‘Dries, jou liefste kleine bees,
Waar was jy so lank gewees?’
Vra sy met ontroerde stem.
‘Mammie, ek het gou gaan swem.’
‘Tog nie met jou broek en baadjie?
Tog nie met geen enk’le draadjie?
Jy alleen? In vredesnaam!’
‘Nee, met ander kinders saam.’
‘Watter ander kinders, Dries?
Was dit seuns of meisietjies?’
‘Mammie, ek weet self nie wat nie:
Hul’t nie kleertjies aangehad nie!’
Die stout beentjies
(Na ‘n Duitse model)
(In hierdie besondere geval kan dit maar manlike beentjies ook wees.)
Goeiemôre, klein beentjies,
Hoe heet julle dan?
Elke ding moet ‘n naam hê –
‘n Naam en ‘n van.
My naam is Dapper,
My naam is Stapper;
Hierdie voet is Klein Parmant,
Daardie voet is Stom-Astrant.
Klein Parmant en Stom-Astrant –
Baie eienaardig.
Slenterstap en lanterfant,
Deurentyd reisvaardig,
Deur die modder, in die as,
Vinnig deur die waterplas,
Dat dit om die ore spat,
Kleertjies vuil en skoentjies nat –
Wat sal Mammie sê vandaag?
Dis ‘h hinderlike vraag.
Loer klein Latjie om die hoek,
Woerts! is albei weer op soek!
Kierang speel
(Met ingehoue trane, wetende dat kierang sal braai)
‘Waarom speel jul twee nie soet nie?
Dwarstrek is wat jul nie moet nie.’
‘Ek wil graag, maar Boetie wil nie.
Hy’s nie twee minute stil nie.
Mammie kan jou nooit verbeel nie
Hoe selfsugtig hy kan speel nie.
Staan hy daar nog so bedees,
Ek moet altyd minste wees.
Speel ons motorongeluk,
Dan ry hy die kar aan stuk;
Maar hy’s darem póéliesman,
Vra ons nommer, naam en van.
Dan kom hy die mense haal,
Neem hul na die hospitaal.
Ek mag nie eens dokter wees
Om die wonde te genees.
Sterf een, dan’s hy predikant,
En dan praat hy land en sand.
Nou wil hy nog koster wees
Om die doodslys af te lees.
Ek moet stil sit en tevree,
Diepbedroefde, swaarbeproefde
Arme motor-weduwee.
‘k Weet dis lelik om te klik,
Maar ek is al moeg gesnik.’
‘Nou ja, boetie Slim-en-Sterk,
Soos jy speel, moet jy ook werk:
Mammie hoef nie eens te vra nie
Wie vir haar sal water dra nie;
Wie vir haar die stoep sal vee nie;
Wie die hoenders kos sal gee nie.
Sustertjie, sit jy nou daar
Met jou handjies oormekaar;
Kyk hoe boetie Fluks-en-Sterk,
Hoe hy vorder met sy werk!’
Predikasie
(Ernstig soos dit ‘n man betaam wat al sy eerste kruisbande aanhet)
Geliefde Gemeente, hier staan ek nou
Om weer my Sondagpreek te hou;
En, kan ek nie meer verder gaan,
Begin ek weer van voor af aan:
Farao verdruk die nasie –
Hier begin die predikasie.
Israel aanbid die kalf –
Hier’s die predikasie half.
Deur die Dorsland veertig jaar –
Predikasie amper klaar.
Ramshoring en trompetgeskal –
Jerigo se mure val.
Israel ‘n vrye nasie –
Einde van die predikasie.
Josua blaas op sy fluit –
Kollekteer … die diens is uit.
*
Die liefdesgawe ingesamel
Lyk my besonder skraps en skamel,
En in vervolg mag net dié sing
Wat Sondag hul kollekte bring.
Ek hoop dit is nou goed verstaan.
Koster, hef die slotsang aan!
Amen
Mê!
(‘n Moflammetjie met ‘n Afrikanerstertjie)
Mê, Lammetjie, mê!
Lammetjie wei by die dammetjie;
Daar stamp hy teen ‘n steentjie
En breek sy linkerbeentjie;
Toe skree die lammetjie: Mê!
Mê, Lammetjie, mê!
Lammetjie wei by die dammetjie;
Toe spring hy oor ‘n slootjie
En breek sy agterpootjie;
Toe skree die lammetjie: Mê!
Mê, Lammetjie, mê!
Lammetjie wei by die dammetjie;
Toe kruip hy deur ‘n poortjie
En skraap sy regteroortjie;
Toe skree die lammetjie: Mê!
Mê, Lammetjie, mê!
Lammetjie wei by die dammetjie;
Toe spring hy oor ‘n hekkie
En breek sy dunne nekkie;
Toe skree die lammetjie: Mê!
Mê, Lammetjie, mê!
Lammetjie lê op die pannetjie;
Die vuurtjie het mooi doodgeraak,
En toe die kok die oond oopmaak,
Toe skree die lammetjie: Mê!
Heldelied
(Dit moet lekker wees om soos Dawid te voel toe hy gesing het: ‘Moab is my waspot, op Edom werp ek my skoen.’ – Voel so!)
Ma het vir my ‘n windbuks gekoop;
Die besem is my ryperd;
Bokspring kan hy, soos die wind kan hy loop.
Wys my ‘n perd soos my perd.
Maar’k is ook generaal –
Of is dit korporaal?
Ek weet dis iets met aal –
O ja, dis iets met aal – hoera!
Al met my roer in my regterhand
Jaag ek nou dat die stof so staan;
Reguit pyl ek na die vyand se land.
Boeties, nou sal dit grof gaan;
Want ek is generaal –
Of selfs ook korporaal?
Ek weet dis iets met aal –
O ja, dis iets met aal – hoera!
Kom weer die dag dat ek huis toe kan gaan,
Ná ‘n skitt’rende parade,
Sien ek ons buurvrou se Grietatjie staan
Met lekker sjokolade
Net vir die generaal –
Ja wel en spé-si-aal
Net vir die generaal –
O ja, net spe-siaal – hoera!
Lied van die ysterperd
(Nie buitensporig nie – ‘n trein moet altyd in sy spoor trap – net soos ‘n getroude man.)
1 So is ongemaklik
Bring die kole, stook die ketels,
Sing die vuurwa om die draai.
Vul die vuurherd, voed die vlamme,
Want die opdraand hier is kwaai;
Stook-stook, stook-stook hyg my asem,
Swaar het hulle my gelaai;
Goed-hou, moed-hou tot die hoogte,
Helder sal die vonke waai;
So-so, so-so, dit word afdraand:
Netnou moet hul rem aandraai.
2 So is gemaklik
Laat los my voet: my voet sit vas;
Ek snel met spoed, ek voel geen las;
Ligvoets loop ek, lossies-lossies;
Kyk hoe vinnig gly die bossies
Deur die tonnels, oor die strome;
Kyk hoe vinnig vlieg die bome,
Sneller, sneller deur die dale;
Kyk hoe vinnig vlieg die pale –
Waarvoor vlug hul agteruit?
Vir my vonke en my fluit.
Trippe, trappe, trone in die droogte
(Tweejarige kindertjies in die Karoo skrik hulle soms boeglam as daar op ‘n dag water uit die lug val – maar moedertjies sing oral van groen grassies en waterplassies.)
Trippe, trappe, trone,
Varkies … maar geen bone,
Perdjies … maar geen hawer,
Koeitjies … maar geen klawer,
Gansies … maar geen groene gras,
Eendjies … maar geen waterplas;
Net my kind is gaaf en goed,
Net my kind is welgevoed,
Net my kind is vet en rond,
Met twee kuiltjies naas sy mond.
Kom tog, kom tog, witte wolkies,
Vul die damme, vul die kolkies;
Bring vir ons die liewe reën,
Bring vir ons die hemelseën;
Laat die waterlopies ruis,
Laat dit lewe om die huis.
Laat dit lewe om die huis.
Blêr van lammertjies en bokkies,
Bulk van kalfies in die hokkies,
Goetertjies wat speel en spring,
Dan kan moedertjie weer sing:
‘Trippe, trappe, trone,
Varkies in die bone,
Perdjies in die hawer,
Koeitjies in die klawer,
Gansies op die groene gras,
Eendjies op die waterplas,
‘k Wens dat kindjie groter was
Om die diertjies op te pas,
Om die lammertjies te hoed,
Om die hoendertjies te voed!’
Om baie vinnig te lees
(Moenie moed opgee nie – ‘n perd struikel dan met vier bene en al.)
Lang Jan Louw met sy blou pak klere
Dra drie donker pronkpouvere;
Saai die slaaisaad in die saadslaai-akker;
Breek die vloerbrood van die bleke bakker;
Laat sy broer se boermeel by die meule maal;
Gaan die groenvoer van die graanvloer haal;
Gee drie gerwe gras en groen gars aan Beaufleur,
Roelf le Roux se ou blou ryperd voor die deur.
Weg is die wapad
(Regtig waar en sonder speletjies!)
As ek in ‘n motor ry,
en die bossies vlieg verby,
Vinnig na die agterkant,
Lyk die pad ‘n breë band,
Wat die motor soos ‘n tol
Myl vir myl na binne rol;
En ek wonder hoe dit lyk
As ‘n mens nou t’rug sou kyk.
Ek voel seker en gewis
Dat daar glad geen pad meer is;
Dat die bossies en die gras
Groei waar netnou wapad was.
Want die motor, soos ‘n tol,
Het die wapad opgerol!
Hoe sal ons die koers nou kry
As ons weer wil huis toe ry?
Van die os op die esel
(Onthou dis ‘n Malmesburyse graanboer, wat nie verniet brakwater drink nie, wat die rieme het.)
Ek is baas van Middelpos
En ry my gerwe aan.
Die Pêrel roem sy druiwetros,
Maar Koeberg het sy graan.
Die branders spoel aan Bloubergstrand
So groenrigblou en koud;
Maar as die wind waai oor my land,
Dan golf dit pure goud.
Transvaal en Vrystaat prys die os,
Wat stap vir stappie gaan;
Maar trek ek met my esels los,
Kan jy net stof sien staan.
Vat, Reebok, Rietbok, Rooibok, vat!
Kom, Steenbok, Springbok, kom!
Toe, Gemsbok, Duikerbok, gee pad –
Die dag is netnou om.
Ho Donkerbok! Wat is dit nou?
Kyk hoe die esel sweet.
Die man wat julle leisels hou,
Moet van sy wêreld weet.
Op Rosebank hoor ‘n mens maar net:
‘Kyk water vir Middelpos!
Sy miedens hoog, sy esels vet
Voorsien die Kaap van kos!’
Sê-nou
(Soos ‘n man met ‘n ou maat en ‘n nuwe idee)
Sê-nou is ‘n lekker sê:
Alles wat ‘n mens wil hê,
Alles wat jou hart begeer,
Kry jy daarmee en nog meer.
Nooit kan jou die tyd verveel
As jy altyd sê-nou speel.
Sê nou, sê ek aan my maat
Toe ons saam loop langs die straat,
Sê, byvoorbeeld elke iets
Van ‘n motor tot ‘n fiets,
Perdekar of ossewa,
Ryperd wat sy ruiter dra –
Alles waarop mense ry,
Kom onsigbaar hier verby,
Net die mense – wat ‘n klug! –
Trek dan sit-sit deur die lug,
Ooms te perd met lange baard
Wip-wip luglangs doodbedaard;
Snaaks sou wees die tremwa daar
Twee verdiepings op mekaar;
Maar die baie-sukkel trap
Lyk my nog die grootste grap
As jy net die fietser sien
Maar geen spoor van sy masjien!
Sê nou, antwoord toe my maat,
Jy hou op met onsin praat;
Jy moet na die dokter gaan
Met jou kop: daar skeel iets aan:
Sulke mal gedagtes kry
Kom van mallemole ry!
Noag se Ark
(Met die welsprekendheid van iemand wat ‘n sweep in sy hand het en ‘n pluiskeil so effens skuins agteroor gestoot)
Al die grootwild uit die ark
Staan al twee-twee op die mark.
1 Die olifant
Hierdie gomlastiekkalant
Met ‘n stert aan elke kant,
Met sy turfvel kaal en skurf,
Met sy langslang van ‘n slurf,
Is die
Olieroliepoliekatjiepoetjieolifant.
2 Die renoster
Die droster met sy vaal karos,
Daar by die wag-‘n-bietjie-bos,
Met die dik opnaaisels in sy huid,
Met ‘n tandestoker op sy snuit –
Dit is mos
die Agterossambokrenosteros.
3 Die dromedaris
Die harige ou harlekyn,
Die Fordkar van die sandwoestyn,
Met ‘n rolvat water in sy inventaris,
Wat nog altyd silwerskoon en klaar is,
Is die
Kalaharie-
Sarieharieblikkanariedromedaris.
4 Die seekoei
Die ou vetsak wat daar woedend brul,
Is die bitsige ou seekoeibul.
Wat sê u, hooggeleerde Dominee?
Is dit ‘n contradictio in terminee?
O nee, ek weet hy is gedoop aldus:
Die
Hiep-hiep-hiep
hoerêpopotamus.
5 Die kameelperd
Die ou langenekker op-en-af,
Met sy alkant-selfkant-draf,
Met sy klein verdwaalde koppie
In die hoogste boom se toppie,
Is ou
Veertienvoetvanseerkeelashykeelseerkrygiraf.
6 Ensovoorts
Daar’s nog goed met wreder name:
Kwaggas uit die Kraggakame,
Piering-pinang-rottang-blatjang-oerangoetangs,
Middellandse-see-se-ruben-simeon-leviatangs.
Kom jul môre oor ‘n week weer, dan miskien
Sal al die arkebroeders jul vir hul en hul vir julle sien.
Goue bruilof
(Iets edelaardigs al te fijn kan immers niets dan vrouwelik zijn. – Die versie is vir Oupa en Ouma se kleindogtertjie.)
Toe Oupa by die kerkdeur kom,
Toe was hy mooi die bruidegom;
En aan sy arm kom Ouma uit
En raai, toe was sy mooi die bruid.
En al die baie mense daar
Wens hul geluk – die jonge paar.
‘’n Liewe bruid, ‘n mooie paar,’
Sê al die baie mense daar.
Dit was al vyftig jaar gelee,
En nog moet sy ‘n traan afvee;
Nog kom ‘n blos oor haar gelaat
As Ouma van haar troudag praat;
En Oupa self se lippe bewe,
Al was dit toe nog vanmelewe.
Maar Mammie sê: Van jonk tot oud
Bind hul tesaam ‘n band van goud.
Dit het gehou deur smal en breed,
Deur vyftig jaar se lief en leed,
Deur dik en dun van toe tot nou –
Die goue band van liefde en trou.
Daarom kyk Oupa haar nog aan
Asof sy voor die preekstoel staan;
Daarom lê sy haar hand op hom
Soos op die jonge bruidegom;
Daarom kan hulle nou weer hier
Op hulle oudag bruilof vier:
Van binne warm, van buite koud;
Van buite silwer, binne … goud!
Algemene kennis
(Vir ‘n seun wat lekker hard met sy duim en middelvinger kan klop)
Wie van julle kan my sê?
Daar’s ‘n dier wat eiers lê,
Maar sy vel word weer bewerk
Vir dameskoentjies net en sterk.
Ek wed, sê Andries Esterhuys,
Dit is ‘n mannetjievolstruis.
Ja, dit is amper reg gesê,
Maar hoeveel eiers sal hy lê?
Watter dier is dit, Alsander?
Ek dink ‘n bloukopkoggelmander.
Dit is naby, maar tog mis.
Meneer, ek raai ‘n akkedis.
Meneer, ek wil ‘n hasie sê –
Die soort wat Paasfeeseiers lê!
Wat kan jy met ‘n haasvel doen?
Dis voering vir ‘n hand se skoen!
Fransie, hoe sit jy so stil?
Meneer, ek dink ‘n krokodil!
Heeltemal reg. Nou nog een, Daan.
Meneer, ek raai ‘n pikkewaan.
Ekskuus? Wat sê jy, Teunsie Steyn?
Meneer, hy meen ‘n likkewyn!
Jakkals, Wolf en die laatslaper
(‘n Skaapverskeurende jakkalsstorie met ‘n slaapsteurende wolf-uiteinde)
Pleks dat ou Ras
Sy skaap oppas,
Begin hy baie vroeg al gaap,
Want lui was hy en lief vir slaap.
Hy kyk nie om
Of Jakkals kom;
Hy dink, as Vuilbaard aan die blaf gaan:
‘Ag, waar wat is, moet ook wat afgaan!’
Hul raak verskeur
Vlak voor sy deur.
Dit het hom egter nie ontstel nie –
Hy het hul byna nooit getel nie.
Toe hy weer sien,
Was daar maar tien.
Niks het sy goeie slaap gehinder,
Al word sy klompie vinnig minder.
Toe hy nog meen
Daar was nog een,
Toe was sy skapies almal dood –
Te laat, te laat! Toe skrik hy groot.
Toe ruik hy lont,
Toe spring hy bont,
Toe wonder hy: Hoe’t dit gebeur?
Toe staan die Wolf al voor die deur!…
Hy het geen bed: hy’s beddeloos;
Niks kan hom red: hy’s reddeloos;
Hy het geen draad: hy’s dradeloos;
Hy weet geen raad: hy’s radeloos;
Sy hoed is weg: hy’s hoedeloos;
Sy moed is weg: hy’s moedeloos;
Hy het geen skaap: hy skapeloos;
Maar ergste nog: hy’s slapeloos!
Rymritjie
(Die oudste ryperd op die wêreld is Pa se knie – maar ‘n mak perd gooi ‘n mens soms ook af.)
Knietjie ry, sing vir my
Hoe die here, groot menere,
Hoe die dames, skones, skames,
Hoe die boere met die roere,
Hoe die klonkies op die donkies –
Hoe die mense almal ry.
Hoe ry die here,
Die grote menere?
Op edele rosse,
Op skimmels en vosse –
So ry die here,
Die grote menere.
Hoe ry die dames,
Die skones, die skames?
So saggies en soetjies,
So voetjie vir voetjies –
So ry die dames,
Die skones en skames.
Hoe ry die boere
Al met hulle roere?
Trippeldraf, op en af,
Jaaggalop, af en op –
So ry die boere
Al met hulle roere.
Hoe ry die klonkies
Op kalwers en donkies?
Al agterstevoor:
Een hand hou die oor,
Een hand hou die stert –
So ry hul te perd!
Die wortel van die kwaad
(Samespraak tussen Moeder, Dokter en Derdemannetjie. Die arme derdemannetjie moet gedurende die hele bedryf swyg soos hy nog nooit tevore geswyg het nie.)
MOEDER
Dokter, weet jy dan geen raad
Vir ‘n kind wat baie praat?
(Dokter skud sy kop.)
Is daar niks in jou apteek?
Kan jy nie die kwaal bespreek?
DOKTER
Wel, Mevrou moet nie vergeet
Ek moet eers die oorsaak weet.
So ‘n kwaal mag erflik wees,
Uiters moeilik te genees.
Soos die boom is, is die twyg!
Is dit egter aangeleer,
Wil ek tog die kuur probeer.
Lig my eers ‘n bietjie in:
Hoe het dit presies begin?
MOEDER
Dokter weet die Goewerment
Laat mos al die kinders ent.
DOKTER
Ja, Mevrou, dit weet ek wel.
Seer tereg ook, maar … vertel!
MOEDER
Ja, toe was die instrument
Van die dokter juis opsent.
Dit was buite op die plaas –
Daarom neem hy inderhaas
Naalde van die grammofoon,
Maak dié eers sorgvuldig skoon;
Maak daarmee ‘n paar ou krappies
Op die arm en – sonder grappies –
Al metdat die ente groei,
Het die praatlus uitgebroei!
DOKTER
Wel, Mevrou, ek meen bepaald
Dis die grammofoon se naald.
Spytig is dit van die kind.
Maar, Mevrou, u sal tog vind
Dit het ook sy goeie kant.
Wellig word hy predikant
Of miskien nog advokaat.
Dié verdien hul brood met praat.
Of ook Lid van Parlement.
Dis die praathuis-sonder-énd!
MOEDER
Veel gepraat en min gesê!
Dit is nie wat ek wil hê.
Dis die toekoms. Gee my gou
Goeie raad vir hier-die-nou.
DOKTER
Nou ja, seker en gewis,
Beste raad van al tog is:
Stuur hom waar net meisies bly,
Daar sal hy sy moses kry!
Net ‘n week, dan’s hy geneig
Om te luister en te swyg.
Daar sal hy – ‘k staan goed daarvoor –
Meer gesien word as gehoor!
Liefde met gevoel
(Vir ‘n outjie wat met die tong stoot)
Waarom huil klein Sussie so?
Netnou het sy niks makeer nie.
Dis weer Boetie, kan jy glo –
Maak hy haar nie altyd seer nie?
Waarlik, hy het haar gebyt:
Kyk daar sit die merk, my lammie –
‘n Splinternuwe stoutigheid …
‘Dis maar net van liefde, Mammie!’
Liefde? Dis ‘n mooie grap!
Wat moet Mammie met jou doen
As jy so jou sussie hap?
‘Slaan my, Mammie, maar eers soen!’
‘Maar eers soen!’ – Ek bid jou aan!
Sê my nou: Wie kan dan slaan?
Die wilde ruiter
(Hy sou natuurlik nie Pa se kind wees as hy nie van kleins af lief is vir perdry nie.)
My ryperd is die stokkie,
Die lat is my karwats;
My perd is naam is Bokkie,
Karwats se naam is Rats.
Ek kom net van my skaap af,
My beeste op die plaas;
Gistraand nog van die Kaap af,
Vanaand na Oemkomaas.
Ek jaag verby ‘n jokkie,
Ek wen die westewind.
My perd se naam is Bokkie,
En myne … Pa se Kind!
Is dit dan reg?
(‘n Klein mannetjie het somtyds ‘n groot grief.)
Ek het twee voete,
Ek het twee hande;
Ek het tien vingers
En twintig tande;
Duisend sproetjies op my vel,
Hare meer as ek kan tel –
Nou beweer ou dokter Bendiks
Ek besit net een appendiks!
Vroeë gedigte
‘’n Saak het twe kante’
of
samespraak tussen Jan Angeneem en Klaas Afgese,
o’er Sarie Takhaar
Jan. –
Myn nooi is Sarie Takhaar,
Sy is so ‘n mooie mens,
Klaas. –
Dat wi haar ooit gesiin het
Fir di eer nooit weer wens.
Jan. –
Sy het twe liwe ogiis,
So fraai en liiflik dat
Klaas. –
‘n Mens dit wel kan ansiin
Fir kykers van ‘n kat.
Jan. –
Haar wenkbroue is pragtig,
Soos halfmaantjiis so rond.
Klaas. –
Dis jammer daar’s gen hare
Wat sit bôkant haar mond!!
Jan. –
Sy het ‘n fraaie neusi,
So fraai as mar kan kom.
Klaas. –
Ek moet jul sê dis daarom
‘n Bitjie baing krom.
Jan. –
Sy het ‘n liff klyn mondji,
Daar wed ek alles voor.
Klaas. –
Dit spyt my net van één ding,
Hy rek van oor tot oor.
Jan. –
Sy het ‘n mooi ry tande,
Nog witter as ivoor.
Klaas. –
Dis jammer sy ‘t di meeste
Al lank al reeds verloor.
Jan. –
Haar oortjiis staan soos skulpiis
Wat op di sé-strand pryk.
Klaas. –
Dis jammer dat hul effe
Na ‘n wa syn wile lyk.
Jan. –
En dan twe mooier voetjiis
Het nimand ooit gesiin.
Klaas. –
Di lengte is in duime
Ni minder as veertiin.
Jan. –
En dan sy ‘t mooie handjiis,
Ja wonder skoon en fraai.
Klaas. –
Dis jammer dat hul skurf is,
Soos pote van ‘n kraai.
Jan. –
Haar lokkiis is so fraai as
‘n Mens gesiin het ooit.
Klaas. –
Net één ding is seer spytig,
Sy kam hul byna nooit.
Jan. –
O Sarie! Jy is liiflik;
Jy het myn hart gesteel!
Klaas. –
Sy sal dit ni an my doen,
Ek denk van my te veel!
Jan. –
O Sarie, Tortelduifi!
Jou liifde trek my aan.
Klaas. –
Net soos ‘n droge uintji
‘n Honger bobbejaan!!
Jan. –
O Sarie! Hoe ‘k jou liif het
Kan woorde ni fertel -!
Klaas. –
Ek wil dit liffs ni hoor ni.
Dus – Sarie, faar jy wel!
Oom Fanie Brink, die wewenaar
Dit is ‘n Sondagmôre vroeg,
Die dag vir rus van werk en swoeg,
En na gewoonte is oom Faan
Eerbiedig na die Kerk gegaan,
Om aan te hoor en op te merk;
Want daardeur word sy hart versterk.
Daar lees die Leraar weer die mooie,
Maar minbetragte Tien Gebooie.
‘Hum!’ dink oom Faan, ‘Meneer, ek vrees
Jy sal weer eendag elf moet lees.’
Oom Fanie was ‘n wewenaar
Van ietwat oor die veertig jaar.
Hy was nie lank nog sonder vrou nie,
Maar langer kon hy dit nie hou nie.
En dus, sy vaste plan was nou
Om weer ‘n mondjie-vol te trou.
‘Jou ouers moet jy altyd eer,’ –
Klink deur die Kerk! ‘Dis reg, Meneer,’
So dink oom Faan, ‘maar Skoonouers? Nee!
Want dan het ek die wet oortree.’
(Hy dink toe aan tant Snippie Louw,
Die ma van sy oorlede vrou.)
‘Jy moet nie steel nie,’ – sê Meneer;
Daar kyk oom Faan vir Annie Smeer,
En trek sy oog so effe skeel
Asof te sê: ‘Jy het gesteel;
Tog is jou sonde nie so swart nie,
Dit is niks meer nie as my hart nie!’
‘Begeer ook nooit jou naastens vrou.’ –
‘Faan, dié gebod sal jy wel hou,’ –
So dink oom Faan, – ‘Solank as jy
Maar net die vrou haar dogter kry.’
Toe spreek die Leraar oor die kwaad
Wat deur gebruik van drank ontstaat …
Oom Faan kyk nou weer effe skeel,
En voel so stadig aan sy keel,
En glimlag met sy linkeroog,
En dink: ‘Maar ai! my keel is droog,’
En voor sy geestesoog verskyn
Sy klein halfaampie brandewyn.
Daar hoor hy nog: ‘Wees nugter, waak!’ …
Maar toe word hy tog alte vaak.
Hy het skaars tien maal nog gegaap,
Of weg was hy – vas aan die slaap.
En wonderlik te sê, maar oom
Begin so uit die staanspoor droom,
Hoedat hy wel as bruidegom
Daar voor die preekstoel weer moes kom.
Natuurlik was die bruid dié keer
Die liewe mooie Annie Smeer!
Met diepe eerbied hoor hy aan
Wat in Pesalm (hoeveel?) daar staan:
Van kinders groot as olifante –
(Ek meen natuurlik olyfplante;
En fout te maak is mos verskoonlik,
So sê die mense tog gewoonlik.)
‘En ag, hoe wonderbaar! dat sy
By ‘n wynstok word gelyk,’ dink hy.
Toe gaan hul na die konsistorie,
Maar soe! toe was hy in sy glorie!
Sy teken en hy maak ‘n kruis
En toe gaan hulle na die huis.
Kyk daar was ‘puddings’ en pastei,
En elke soort van lekkerny;
Daar was dan ook die beste wyn,
En nog meer-beterste Sampyn.
Die ‘wyters’ moet net altyd skink,
En jy hoor niks as glase klink.
‘Drink, Kêrels, drink! En wens my nog
Goeie Reis! Dit is my laaste tog!
Die laaste maal wat jul oom Faan
Die huw’liksbootjie sien ingaan;
Toe, Kêrels! die gesondheid weer
Van my klein vroutjie Annie Smeer!’
Dit sê hy net so hard hy kan;
Die hele kerk die dreun daarvan;
Die mense sit daar glad verstom.
‘Moet ‘n ou man so gedra vir hom?’
Die Predikant was glad versla’,
En kyk gou in die kerkboek na,
Omtrent ‘sensuur’ en selfs ‘demissie’.
Oom Faan as ek my nie vergis nie
Was nugter wakker nou al weer,
En wonder waarom Annie Smeer
So vreeslik bloos? Waarom dit lyk
Of almal net vir hom sit kyk;
Hy was tog aan geen kwaad nie skuldig,
En word toe net al ongeduldig.
Oom Fanie, Fanie! Arme Man!
Die ergste wis hy nog nie van.
En Annie Smeer – o ewig spyt!
Die is hy nou vir altyd kwyt.
Di Eerste Fersoek
Fan Japi an syn frou
Kom hiir, myn stilbeminde!
Kom sit hiir op myn kni;
Ek wil fer jou iits frage,
Mar né sê moet jy ni.
Jy weet ek min jou hartlik,
En ek weet jy’t my liif,
Dus, doen fer my ‘n iitsi,
Ek fra dit assebliif.
Daar laat sig niks bedenke
Wat ‘k ni fer jou sal doen,
Jy weet dit mos, ou hartji,
Kom gé my eers ‘n soen;
En leg jou sagte handji
In myne hiir. En dan –
Gaan haal ‘n naald en gare
En werk myn broeksknoop an.
Di Cigarette
As pyprook duisende ferslaat?
Wat doet onyndig feul meer kwaad?
En is di straatlooper syn maat?
Di Cigarette.
Wat is di oorsaak fan di tering?
Ontneem an menigeen syn nering?
En is tog waarlik net ontbering?
Di Cigarette.
Wat put ‘n mens syn gees glad uit?
En breng tot foordeel ni ‘n duit?
Mar haal geld uit jou beursi uit?
Di Cigarette.
Wat tog feroorsaak baing sonde?
En breng an ouders hartewonde?
Laat gaan jou eergefoel te gronde?
Di Cigarette.
Waarop word kinders so fersot?
Nes op di drank di Hottentot?
En wat ferswaar di meesters lot?
Di Cigarette.
Wat het feroorsaak al di dood?
Fan kinders en fan mense groot?
Wat toch doet steeds ‘n werk so snood?
Di Cigarette.
Wat ge ‘n mens ‘n slegte smaak?
En maak jou sleg en laf en faak?
Wat is ‘t wat ouers ferdritig maak?
Di Cigarette.
Wat maak ‘n jong mens siik en sleg?
En neem ook al jou groeikrag weg?
Wat doet so kwaad? Wie kan my seg?
Di Cigarette.
Wat maak ‘n mens se kleur so geel?
En maak dat jy ook spuw so feel?
En hoes en brandmaak in jou keel?
Di Cigarette.
Wat doet net kwaad en glad gen goed?
Mismaak jou en ferswak jou bloed?
En breng jou na di graf met spoed?
Di Cigarette.
Latere ongebundelde gedigte
Piet Slemiel
(Die grondidee ontleen aan die novelle van Adalbert von Chamisso Herr Peter Schlemihl)
Neef Pieter Slemiel was eenvoudig, maar eersaam,
Sy lewensgeskiedenis tragies, maar leersaam.
Ordentlik, maar brandarm, en maer as ‘n kraai,
Ook rank van vleis, lelik van aansien, maar raai
As Piet penorent in die sonlig gaan staan,
Of selfs op die vlakte by heldere maan,
Dan werp hy ‘n skadu so dik en so vet –
‘n Prag van ‘n skadu; my vriende, ek wed
‘n Mens sal moet ver in die wêreld rondry
‘n Skadu veel netter of vetter te kry!
Eendag staan hy so op sy eentjie en kyk.
‘Betrag daardie skouspel,’ sê Piet, ‘so lyk ryk.’
Want net kom oom Hans du Plessie daar verby
– En Lazarus se vrind was nie ryker as hy –
So styf agteroor in sy blink landoulet
Met oë wat uitpeul van voorspoed en vet.
En spogrig was hy; by ‘n dorp of ‘n plaas,
Dan stoot hy sy drywer aan: ‘Pieterse, blaas!’
So oordeelsdagagtig as Gabriël se hoorn
Sal klink op die einddag van vrese en toorn,
Laat blaas hy en maak of die rykdom nie tel,
Terwyl tog van hoogmoed sy nekhare swel!
‘Hoe goed,’ sê Slemiel, ‘vir jou liggaam en gees
Net een dag so ryk as oom Hansie te wees!’
Die woord was nie koud nie toe voor hom kom staan
‘n Vreemde met vaal jas en bokbaardjie aan.
Met hoflike buiging begin hy: ‘Meneer!
Pardon dat ek self my moet introduseer.
Ek heet Van der Vaaljas; ek kom ver vandaan;
Toevallig sien ek u allenig hier staan.
‘k Moet eerlik erken, en dit sonder vlei,
Geen mens het ‘n skaduwee mooier as jy.
Hy lyk tog so net en so vet en so rond,
Die fees vir die oë laat water jou mond,
‘n Blinde kan sien hy is fris en gesond,
‘n Kunswerk, niks minder, lê daar op die grond!’
Piet erg hom nou bloedig en sê ewe koel:
‘Was jy nie ‘n vreemde, ‘k sou sê: “Hou jou smoel!”
Daar’s baie meer woorde wat ook rym op rond,
Maar nou bly jy stil en dit sieto (terstond!).
Al lyk ek eenvoudig, armoedig en naar,
Meer rede vir jou my jou spot te bespaar.’
Maar Vaaljas kyk hom met ‘n glimlaggie aan:
‘Ou vrind, jy het dié slag die bal misgeslaan.
Ek wil maar ‘n handelsbetrekking aanknoop.
Noem my net jou prys: ‘k wil jou skaduwee koop.
Vir my’s dit nou eenmaal ‘n liefhebbery,
‘n Stokperd, ‘n hobbie of wat dies meer sy.’
Metdat hy dit sê, haal hy iets uit sy sak.
‘Nee dankie,’ sê Piet, ‘ek gebruik geen tabak!’
‘Ou vrind, dit is spotkoop: jou swart skaduwee!’
‘Nou top,’ sê Slemiel. ‘Goed, en wat sal jy drink?
Die sak moet vir oulaas die piekfynste skink.
Gesondheid en prosit, die saak is beklink.’
Te voorskyn haal Vaaljas ‘n skêrtjie wat blink.
‘’n Oomblikkie, Piet, bietjie weg van die klip,
Terwyl ek jou skaduwee netjies uitknip.’
Hy rol hom sorgvuldig op: ‘Pieter, adieu!
Verwag my vandag oor ‘n jaar weer, Mesjeu;
Wie geld het, het alles: vroueliefde en wyn –
Leef lekker!’ en Vaaljas was skoonveld verdwyn.
Piet loop nou ‘n trippel, en trippel ‘n dansie
So bly as die skooljeug die dag van vakansie.
Vergeet glad hy kan uit die toorsakkie haal
‘n Ryperd kompleet met sy toom en sy saal.
Hy juig: ‘O, nou gaan ek tog bad in sjampanje,
Want nou’s ek so ryk as die Prins van Kokanje!
Moet ek by geleentheid ‘n skaduwee hê,
Dan vra ek vir Pierneef, hy sal wel oorlê
‘n Skadu te skilder so mooi as op aarde,
En hy word dan eenslag betaal na sy waarde!
Ek word nou meteens ook ‘n man van gewig,
En gaan na die Volksraad, nie meer as my plig,
Ek leef, van my rente, ek hoef nie te werk,
En netnou is ek ‘n pilaar van die Kerk,
Die landdros, die leraar, kom speel met my skaak –
Die onderskeid wat tog die geelvinkies maak!
Die dames die kry my nou skielik ook lief,
En waar word my drome van Annie Retief.’
Piet loop nog so lekker, daar hoor hy ‘n gil.
‘n Ou vrou val vlak by hom neer dat sy dril.
Sy skree en sy skop en sy gaan so te keer.
‘Wat is dit, ou tannie, wie’t jou molesteer?’
‘Wyk, Satan,’ skree sy, ‘onnatuurlike man:
Is jy nie der Duiwel, waar’s jou skaduwee dan?’
En dit was nog maar die begin van sy smart.
Die skooljeug het hom agtervolg en getart.
Hy was ook by elke verskyning op straat
Die spot van Jan Salie, Jan Rap en sy maat.
‘Die beste sal nou wees: ek bly daar maar uit,
Al lewe ek ook soos ‘n uil op ‘n kluit.
Wie geld het, het vrinde, dit spreek as ‘n boek,
En buite hoef ek my plesier nie te soek!’
Maar tuis sien sy vrinde verwonderd hom aan:
Waar kom al die rykdom so skielik vandaan?
En wat het hy dan met sy skadu gedaan?
‘Ag, mense, dis maklik genoeg te verstaan:
Ek was vanmelewe nog heeltemal jonk,
Toe kry ek rooihond, kort daarna ook rooivonk,
Die siekte was kwaai kan ek julle vertel.
‘k Verloor toe my hare, my naels en my vel.
My skaduwee, ook, het maar altyd gekwyn
Tot onlangs, en toe is hy spoorloos verdwyn.’
Vir een sê hy kortaf: ‘Ag loop na Jan Dorie.’
Vir ander prakseer hy ‘n roerende storie:
‘Ek was, arme wees, ‘n twaalfjarige knaap,
As wagter een bittere nag by die skaap,
Verkluim tot die murg en my skadu verys
(So waar as ek leef, ‘k kan die plek nog gaan wys!):
Toe’k weer my kom kry, daar alleen op die veld,
Was hoog al die son, en my skadu gesmelt!
Maar waarom my vrinde my nie wil gelowe,
Dit gaan my verstand en my denkkrag te bowe.
Maar so stel ons vrinde en vrindskap teleur,’
Sug Piet, droef te moede, ‘as iets nie gebeur,
En gou ook dan gaan ek my doodkis bestel,
Want sonder ‘n skadu is die lewe ‘n … fout,’
(Dit rym nie, my vrinde, maar wil julle hê
Dat ek vir ‘n dame iets leliks moet sê?)
‘n Dame. A, nou word dit interessanter,
Die storie pikanter, die oë briljanter,
Die skuimwyn frappanter! Die here galanter,
Die hele verhaal van Slemiel amusanter.
Dis menslik, dis wenslik, my vrinde, en waarom
Sou Piet nie bewandel die Via Rosarum?
Want waar is die mens of die dier of die ding
Wat nooit in sy lewe ‘n Hooglied wou sing?
Dit spreek as vanself, dus, dat Piet moet verlief raak
En proe hoe ‘n soentjie van Annie Retief smaak.
O Liefde! O Toornaar! ‘n Koning was Piet,
En sy: Roos van Saron, Prinses, Sulamiet!
O Oosterse glorie, o vuurkoloriet!
O, wie so gelukkig as Annie en Piet?
Hul sit op ‘n tuinbank, sy arm as haar leuning,
Die tweetjies – en vry daar soos lopende heuning!
Nie lank nie of Piet het vir Annie gevra
Om al hulle skapies in een klomp te ja.
Die jawoord – hoe kon sy dit weier aan Piet,
So ryk, so galant, so verlief, so ‘just it’?
Hul stap soos verliefdes maak, staan-en-loop aan;
Van agter die bome verskyn juis die maan.
Hy sien daar die twee loop so arm in arm,
Die liefde so vurig, die harte so warm.
‘Die ou storie,’ dink hy, ‘die pleister trek skerp.
Hoekom sou die kêrel geen skaduwee werp?
Die voorval lyk my nogal bietjie uitsonderlik,
Gewoon seker nie, maar wel wesentlik wonderlik!’
Die noodlot erken nòg die mens nòg sy werk,
Beskik dit dat Annie juis toe ook moes merk
Dat êrens ‘n skroef los, dat alles nie pluis was,
en Pieter se skadu wel seker nie tuis was.
Sy skrik dat haar grondveste dawer en bewe.
‘Wat skort dan,’ vra Pieter, ‘my liefste, my lewe?’
En sprakeloos wys sy met oë betraan
Na één skaduwee in die lig van die maan!
‘Ag, Annie, presies op die dertiende dag,
Die dertiende maand, in ‘n stikdonker nag
Is ek met die helm en die rondas gebore,
So iemand se skadu gaan maklik verlore!’
Maar Annie was troost’loos en snik van verdriet.
Hy pleit soos ‘n ou advokaat – maar verniet.
‘Hoe lief ek jou had, dit is alles nou klaar,
Vaarwel! Jy en ek sien nie weer vir mekaar!’
Piet, sluk maar gerus daardie bittere beker
Van gal en edik, want één ding is seker:
Daar’s byna geen man nie of hy kry ‘n vrou.
As hulle die gier kry, dan sal hulle trou,
Al het ook die man net een oog of een oor,
Al is hy verskimmel, vermuf of half goor,
Al het hy geen hare, al het hy geen tand,
Geen eer of karakter, geen kriesel verstand
(Wat maak so ‘n bietjie dommer of slimmer?),
Maar trou met ‘n man sonder skaduwee? NIMMER!
Piet sug en hy steun en hy sê: ‘Goue fluit!
Dis duidelik, dis amen, my kerk is hier uit;
Ellendige Vaaljas, kry’k eendag vir hom,
Dan draai ek sy nek soos ‘n klein voëltjie om!’
Tot oormaat van ramp vind hy by die huis
Sy diensbodes almal gedros, man en muis.
Dit spyt hulle seer, so verklaar die mandoor,
Maar almal is bang want die baas is getoor!
Met moeite beweeg hy ou Kekkelbek Kaatjie
En Klaas Tarentaal, die ou skeelooghalfnaatjie,
Om tog maar in vadersnaam langer te bly
En volop tabak en sterkwater te kry!
Piet sit so sy haglike lot te betreur,
Daar hoor hy ‘n harde geklop aan sy deur.
‘Kom binne!’
‘Onthou u vir Vaaljas, Meneer?
Ons afspraak: Vandag oor ‘n jaar kom ek weer.
Hóé gaan dit?’
‘Jy durf dit nog vra? Dit gaan vrot!
Ek voel so mis’rabel, verknoei en verspot.
Die ruil was ‘n misoes, totaal, en ek skat
Jy kan maar jou toorsakkie (daar is hy!) vat.
Gee my weer my skadu: die ding het meer waarde –
Wie sou dit kon dink? – as die goud van die aarde.’
‘Ag nee – het jy werklik dit so swak gevind?
Dit spyt my nou rêrig, my goeie ou vrind,
En daarom, en louter vir jou satisfaksie,
Vernietig ons daadlik die hele transaksie.
Die toorsakkie bly jy vir altyd behou,
Jou skaduwee ook sonder krakie of vou,
En daarvoor, die sak en die skaduwee, reken,
Moet jy, dit is al, die bewyse hier teken:
Ek ondergetekende, Pieter Slemiel,
Bemaak hiermee plegtig my onsterflike siel
Aan Joos van der Vaaljas vir waarde geniet!’
‘Geniet! O, ek bid jou, jou veinsaard!’ brul Piet,
‘Ons handel het my al so bitter berou –
Dus maak dat jy wegkom, en voertsek met jou!
Jou duiwel, ek voel my tot doodslag kapawel.’
En woedend bevlieg Piet … ‘n ruikie van swawel,
Want Vaaljas, gedwarsboom, bedroë en vies,
Moes veiligheidshalwe die hasepad kies!
Die lewe is kort, en die storie word lank.
Daar lê nog ‘n grote som geld in die bank,
‘n Erfnis vir enig barmhartige siel
Met deernis bewoë oor Pieter Slemiel
Wat eniger mate ten minste besef het
Hoe groot of die ramp was wat Pieter getref het,
En sonder die hulp van verkoue of uie
In bysyn van een of meer troue getuie
Klaarblyklik bewys die verlies van ‘n Traan
Of Trane van weemoed en meely spontaan!
En Piet? Sonder skadu, by donkere maan
Is hy na die Ryk van die Skadu’s gegaan!
Maar Vaaljas loop nog met twee skaduwees rond:
Die een in sy sak en die een op die grond!
Vertrouw op den Heer
(Te sing op die musiek van ‘O Rest in die Lord’, Mendelssohn.)
Vertrouw op den Heer, geduldig en tevree,
En Hij zal geven wat gij verlangt;
Vertrouw op den Heer, geduldig en tevree,
En Hij sal geven wat gij verlangt;
En Hij sal geven wat gij verlangt.
Verlaat op Hem uw wegen, vertrouw op Hem;
Verlaat op Hem uw wegen, vertrouw op Hem;
Bekommer u niet en vrees geen kwade dagen;
Vertrouw op den Heer, geduldig en tevree,
Geduldig en tevree;
Vertrouw op den Heer, geduldig en tevree,
En Hij zal geven wat gij verlangt. (Drie maal.)
Vertrouw op den Heer; (Twee maal.)
Verlaat uw weg op Hem. ((Twee maal.)
Die Huisgenoot, 8 Februarie 1929
Nasareth
(Op die musiek van ‘Nazareth’, deur Charles Gounod.)
Hoe need’rig de woning,
Val hier aanbiddend neer,
Want des Hemels Koning
Geeft aan stervelingen
‘t Eeuwig leven weer. (Drie maal.)
Herders, verlaat uw nacht’like stede,
Zingt weer het lied, het heerlik Eng’lenlied:
‘Aan God de eer, Hij zendt den Prins van Vrede
Die ‘t aardrijk weer Gods welbehagen biedt!’
Hoe need’rig de woning (enz.)
Ver uit het Oosten, geleid door de sterre,
Brengen de Wijzen hulde aan hun Heer,
Het edelst goud en specerijen van verre:
De Prins des Vredes daalt van den hemel neer.
Hoe need’rig de woning (enz.)
Draag het, gij winden, naar afgelegen landen;
Golven der zee, verkondigt heinde en ver
Die blijde maar’ tot aan de verste stranden:
Uit duist’re nacht straal weer de held’re morgenster.
Hoe need’rig de woning (enz.)
Die Huisgenoot, 8 Februarie 1929
Vaarwelgroete
(Te sing op die melodie van ‘Salaam’, deur Agnes Mary Lang.)
Ek bid die bee van die Oosterling:
Algenadige Allah u vrede bring.
Waar u ook vertoef, waarheen u ook gaan,
Mag daar palme geseën deur Allah staan.
Deur die dag van swoeë en nag van rus
Mag Allah in liefde seën en sus.
Met my hand op my hart soos die Oosterling
Wil ek bid dat Allah Sy vree u bring.
Die Huisgenoot, 8 Februarie 1929
Huwelikslied
(Te sing op die melodie van ‘All joy be thine’, deur Wilfred Sanderson.)
Mag altyd rose van geluk u wag,
Langs heel die lewensweg u teëlag;
Mag goue sonskyn in u harte troon,
Met liefde u banier, u lewenskroon;
Mag Hoop u metgesel wees op die reis
En Moed vir alles wat die lewe eis;
Mag Vreug weergalm vanuit u karavaan:
‘n Lied vir elke mylpaal van die baan.
Mag Liefde altyd bly die sterke band
Wat hart aan hart verbind en hand aan hand –
Die leid-ster wat u voer oor berg en dal,
Die Hawe van u Hoop as die awend val!
Die Huisgenoot, 8 Februarie 1929
Heimwee
(Te sing op die melodie van ‘Aberfoyle’, deur Albert W. Ketélby.)
O, hoe swaar was dit vir my vaarwel te sê
Aan die Boland met sy berge dynsig-blou;
Aan die strome klaar en rein
In die goue sonneskyn
Wat my bind aan die verlede en aan jou!
Liewe Boland, wanneer sien ek jou nou weer?
Weer die duine opwit teen die hemelblou?
Maar al duur dit kort of lank,
Eenmaal kom die dag, Goddank,
Dat ek weer my huis se berge sal aanskou!
Koor:
Want die Boland is my huis;
Nêrens voel die hart so tuis;
Altyd hoor ek jou musiek,
O wind, wat in die denne ruis,
En die boodskap wat jy bring } twee maal
As jy deur die blare sing, } twee maal
Is die groete van die Boland: } twee maal
Welkom aan die swerweling! } twee maal
In die vreemde het die lewe my gevoer
Ver van al wat my aan die verlede bind,
Maar nog altyd skyn die lig,
Altyd kom die droomgesig
Van die Boland en ‘n sorgelose kind;
En dan pluk ek wilde blomme in die vlei,
Of ek lag weer met die branders aan die strand
En ek voel, waar ek mag woon,
Sy ook alles om my skoon,
Altyd sterker word die onverbreekb’re band.
Koor:
Want die Boland is my huis; ens.
‘Die boodskap van ‘n kerkklok’
Spesiaal daarom gevra, het wyle dr. A.G. Visser die volgende versies gestuur om van uit te soek om op die nuwe kerkklok van Steynsrust te laat giet. Die klok is pas hier aangekom, maar lui nog nie, en reeds rus die digter in sy graf. Die eerste vier reëls staan gegiet op die klok.
1
Na korte Dag –
Die lange Nag.
Na weinig Tyd –
Die Ewigheid.
Vas staan en sterk
Gods Heiligdom:
Waak, bid en werk
Totdat Hy kom.
(Wysie: Westminster Chimes)
2
Verganklik gras
Is al wat was.
Verderfenis –
In al wat is.
En sterflik vlees
Al wat sal wees.
Al sal vergaan
Selfs Ruimte en Tyd.
In Ewigheid.
3
Klink klokkeklank,
Klink Môredank.
Dreun kragtig sterk,
Dreun middagwerk.
Galm sag tevree,
Galm Awendwee.
Tril blygemoed
Tril: God is goed!
Deur die drif – met die ossewa
(Met selfvertroue, soos ‘n mens van die ruggraat van die land verwag)
Kiewiet Tarentaal, maak gou –
Bring die osse, vat die tou.
Jukke, stroppe – alles reg
Dit word laat en ons moet weg.
Kyk tog, hoe my bontspan stap
As ek met my langsweep klap
Trek! my osse, beur my span
Swartland, Band-om, Jentelman!
Skepsels, so ‘n sand is kwaai
En die wa is swaar gelaai.
Komaan! Vriesland, Holland, Seeland,
Vasval! Witzenberg en Eland –
Noustrop trek – hier gaan dit smoor –
Hot-op-ses en Haar-naas-voor.
Kwaaiman, Rooiberg – buk en beur
So-nou! Ons is amper deur
Hotom Kiewiet – deur die sand –
Ho-Kai! Ons is anderkant.
(Manuskrip in NALN-versameling; ongepubliseer.)