Andries Bezuidenhout
Teleskoop buite Sutherland
Vreemd hoe die sterre prut vannag,
kaal deur die oog beskou, ’n donker brousel,
maar as jy hiér – op die Roggeveld se skurwe eskarp,
ver van fabriek en brandende stad –
in die duisternis roer met lens en silinder,
kan jy Sirius aanstip, daardie witwarm son,
selfs die mane geslingervel om Jupiter, die reus,
nóg wêrelde wat swerk in die wolk van Magellaan
en in elke ster wat uitbrand
ontkiem ontelbaar meer.
Ja, ’n sterrewag moet skerp kan kyk,
want alles bars in skille na buite,
vanaf ’n pit iewers, een of ander tyd,
lank voor die woord.
Eeue reeds, maar steeds te laat,
volg ons dié trajek met passer en teleskoop.
Ek swaai die buis te na aan die maan,
die sekel blits, my pupille ’n seeroos,
kramp toe, en kyk ek meteens na binne,
na ’n stomme heelal wat in my oogbal ontplof.
(21 Desember 2009)
NG Kerk, palisades
Aandwandeling in die buurt van my jeug –
groter witstinkhoute, kleiner huise,
perspektief se groeipyn in my ledemate.
Gaan langs die NG Kerkgebou staan,
nou agter staalheining gebarrikadeer.
As kind het my oë lyne ondersoek –
spitsige ruite, driehoekige sjablone
wat dak en plafon se nate napraat.
Iewers dominee Wannenburg se vae dreunsang
wyl my boude die banke intiem bestudeer.
Vanaand voer ek ’n ander gesprek –
ek staan buite, maar my ouer ore hoor hoe buikspreek
Frank Lloyd Wright iets van vorm wat funksie navolg,
merk hoe lig die dak op mure lê,
hoe toring tot klok boontoe beur.
Dat dié konstruksie my vanaand so bekoor.
Wie sou die planne opgetrek het? wonder ek later hardop.
My ma loop die koster raak, vra oor die argitek –
hy sal kyk, sê hy, daar’s ’n plaatjie teen die muur.
My ma sê die koster sê daar was verlede week nege begrafnisse,
die afgelope twee maande een troue
en hy kan nie onthou wanneer laas is ’n kind gedoop nie.
op die pad tussen ermelo en morgenzon
verlede oktober wou ek aan die slaap raak
op die pad tussen ermelo en morgenzon
maar die somer het begin en die stekelstamme
van verlede seisoen se mielies lê nog
vir kwaadgeld in die lande rond en krap
aan my oogvliese word wakker swaap
word wakker al maak die ritme van lande
deur jou vensterruit jou so vaak
ek wou verlede oktober op die pad tussen
ermelo en morgenzon aan die slaap raak
maar toe tref die een band ? slaggat
in die pad wat my nek agtertoe klap
en ewe skielik skyn die teer weer helder
in my oë al sluk ek nog aan ? gaap
ag tog here hou my oë oop
hou my tog wakker die radio is stukkend
die telefoondrade is stukkend
op die pad tussen ermelo en morgenzon
wou ek verlede oktober aan die slaap raak
maar ? flap vlieg toe uit die gras
en swenk weg net voor die kar dit tref
en ek dit vere en al finaal afmaak
draai die venster af skree vir die voëls
blaas die toeter die warm wind in
julle stommerike kyk waar julle vlieg
of moet ek galmende blikke aan die kar hang
vir julle en vir die slaap wat my wil vang?
ek wou aan die slaap raak verlede oktober
op die pad tussen ermelo en morgenzon
waar die pad nie meer oor die sandsteenbrug
ry nie waar die wilgers se nuwe blare
aan slap takke suid waai sodat dit lyk asof
die bome noord beur en bloekoms met ou blare
sommer maar net rondstaan soos in drome
en die wolke van onder af na bo ontplof
en oop breek bo die swart beeste en die wit
bosluisvoëls o hoekom maak die pad
tussen ermelo en morgenzon my so vaak?
op morgenzon aangekom
is daar toe ? prokureur ? makelaar ? ng kerk
? monument en ? kragstasie op die horison
ek ry toe maar verder na standerton
Swakopmund herbesoek, 2008
(in vier dele, met Apfelschnapps en Tafel Lager)
1
Op die kaai by die Mole
het Melanie mos jou hand geneem,
jou palm na bo gekeer en beweer
sy kan die toekoms sien.
Die klokkies aan haar romp het
geklingel toe sy met groot oë sê:
Jy gaan doodgaan.
Die woestyn was rooi teen die wolke
en die see grys onder die mis.
Enigiemand kon dit sien, die kleure
van die woestyn en die see. Of dalk
meng ek nou my kleure en my tye
en was die lug bloot newelloos en blou.
Nee, ek onthou dit nou. Die dag was wel
helder. Ons lag oor die profesie.
In daardie geval kan enigiemand mos
die toekoms sien. Die vraag is net:
Hoe ver?
2
Hoe dig lê die mis dan oor die horison?
Kan jy die punt van die jetty sien?
Almal van ons gaan mos maar ritmies dood.
Nou wonder ek of die ligtoring se straal
nog dieselfde radius en kadens het.
Die jetty se bene het seker meer jaarringe roes,
maar anders as bome beur yster se
jaarringe na binne. Wat dan van
’n mens? Dit was negentien jaar
gelede. Ek was toe negentien jaar oud.
Dalk is hierdie plek ’n spilpunt
waarom ek entropies draai.
3
Wis ek tóé dat die seesand
tussen die Mole en die jetty
so grof is? Was die bordjie tóé daar,
die een wat sê:
Jy mag nie swem nie
Jy mag nie visvang nie?
Dis die onbenullige bakens,
klanke, reuke, wat jou so seer
laat onthou. ’n Vrou stap met ’n jas
wat teen haar kuite klap.
My aandete is in ’n bottel en ’n sak.
Geparkeer langs die kaai verloor ek
my greep op die stuurwiel en nog wat.
Ek wil die venster oopdraai,
haar nader roep: Ken jy vir Melanie?
Maar wat sal dit help? Sy sal dink
ek is mal soos die meeue.
4
Jy, ja jý, hees voël! Sal ek jou
’n duik deur die water spaar?
Kom pik maar aan ’n stukkie brood.
Melanie, kon jy negentien jaar
gelede sien hoe ek hier
langs die see sou doodgaan?
Kon jy tóé al sien hoe ek
en die meeue op oorskiet sou aas?
Harp- en sitertone
in die dae toe dominees nog togas gedra het
toe ouderlinge en diakens elkeen met pens
en penis toegerus pikkewyne in hul banke was
toe ouetetannies se vingers in handskoene
tone in skoeisel onder hooftooisels geperspireer
en verweer het toe die banke se tande jou boude
tot op die been gebyt het het die kerkklok
drie keer elke sondag onbeskaamd gelui
het orrelpype en gorrelpype in disharmonie vibreer
was my jongste broer voor in die valse koor
toemaar
vir die here sing hy op die noot
sê ma
die here moet voorwaar almagtig wees
dink ek
en bekeer dan maar onmiddellik weer