Carina Stander
NAMIB: TURKSVY
in bonkige ou Brandberg
waar geelmens eens deur sterre vlug,
leun ‘n wakende White Lady
teen ‘n donkergrys rots se rug
jare lank is hier niks meer
as die stil gebaar van haar heupe,
die blinde staar van haar borste,
haar buik ‘n songedroogde turksvy
geen foondraad deur die sterre
geen grothuis en geen boom;
net klipstapels wat hier en daar
skielik opduik uit die niet
soos die eggo van ‘n droom
of voetval, veraf gesprek
tussen vroeëre reisigers
skielik klink die skaterlag
van springbokkies
deur die graspolveld,
wippend oor ‘n klipperplaat
volg ‘n speelse kuttelspoor
by Kamanjab hou jy stil –
jou klere ruik na middagson
of varswater uit ‘n boorgat;
jy lag saam met die skudsade
van die kameeldoringboom
met wortels diep en swaar vervleg
in die onderwaterstroom
híér slaan ons die seiltent op
só wil ek jou inneem
met ‘n baard vol sonbesies
en geelvinke
wat om jou skouers
kwetter
terwyl jy die ryprooi turksvy
uit my mond uit eet
Sondoop
vir Lize – Nkoma, Malawi
jou hare en voete
was die kleur van naeltjies
in flou lig van die son
wat glip deur die kombuis
was moeders soos kalbasse
rond aan’t klots en klets
op gebreide boerbokvel
iemand het die werf
met ‘n stokbesem gevee
en die rietmat oopgerol
‘n ouvrou met blaartjies
in hoë wange gekerf
het grondbone vir ons gegee
en kookeiers vir die langpad
haar oogwitte ‘n dooiergeel
onthou jy die wagters het gevloek
toe jy die bok-ooi losknoop
sodat sy vry kon wei?
die mense het gesê
jy is die klip by die spruit
waar donkies drink
en roofvoëls bad;
bidsprinkaan tussen jou tone,
geitjies wat op jou voorarm paar
maar ons het weggehol
verby ses seuntjies in ‘n kring
wat ‘n groen papaja deel
en ‘n man met sweetblink slape
het derms oor ‘n vuur gebraai
my woorde was te jonk
vir die suigling wat rits
op sy ma se rug
– brommers tros om die oë –
en die twaalfjaarkind
met haar baba, Chinsinsi,
wie se skuins mond saggies skel
toe ons vra dat sy vertel
waarom die naam dan “my geheim” is
ons het handeviervoet
oor Nkhomaberg geklim
en afgekyk na mielielandjies
se verwaaide klossiesbaard
en swenkende paadjies
en na die wolke en die wind
Katri, is God in dié wolk?
het jy skielik gevra
toe dit lyk of iemand hemel toe is
die laaste oggend langs die meer
het ons gehoor in die ooste
is ‘n Man vermoor
en op die horison het die bloedspoor
verraai dat Hy eeue om die aarde loop
in die hoop dat die vissers van die skuite
of die visarende of skare
hulself soos jy
in die son sal doop
Verstrooitjie
daardie jaar het alles hier
soos papier verdof:
ouma het oornag verwelk
pa en ma moes koes
vir mis in die melk
met boetie wat suip soos ’n vis
terwyl sussie skop-skop
in die plaasdam
met oë wat omdop na die son
op die dorp is my maatjie
met die skaam ondermond
stadig gevreet
deur die hond van ’n buurseun
en my kunsjuffrou se vrugtehoed
het al meer na kompos geruik
as sy haar seerplek vir my wys
was my eie huil tjoepstil
asof iemand sjuut … gesê het
op twaalf had ek lief gehaat
soos ’n slaapwandelaar gesteier
geweier dat die dood my heel insluk
die Bybel op geel kaartjies geskryf
laat voortleef teen my amper-lyf
in my skoolrok se boonste sak
digby my hart
soos ’n pleister oor ’n pitsweer
daardie jaar het die Here my
so jammer gekry
dat Hy meneer Ströh gestuur het
en ek agter in die klas kon sit
by die venster vyeboom waaragtige droom
die keer toe hy langs my tafel hurk
en vra: “Verstrooitjie, waar’s jy vandag?”
wou ek huil en lag lag en huil
oor die laaste oorlewende op die planeet
by my die stukkende stukkind wou weet:
“Is daar dalk ’n versie wat in jou skuil?”
Kan keer
George Weideman, Namakwaland
vuur dwing die skilpad
om kop uit te steek
sê hy wat drink
uit die grond se hand
met rypheid van September
kom wysheid van ’n wond
as springbok deur pienk seë
van vygies by Goegap galop
van skilpadvleis eet
word mens gou ’n berg
terg hy wat vroeër of later sterf
ek stry: nog een net een keer
kan ons die kanker keer …?
by ’n vleespers struik
ruik ons die spoor
van ’n gitselmier
of doplose dier …
in die voortyd strek die dag
geelbeen oor die horison
die man se oë brand alom
die verbastering van blom
kom kyk roep hy kom kyk
hoe die hemel nader kom!
Vlam onder die water
25/12
sy onthou ‘n Asem oor haar wang
in die windstil namiddag
wanneer sy die Ritseling hoor
en voel hoe ‘n reuse-Waterlelie
diep in haar rypsagte buik ontluik
verstaan sy geen tyding of taal
slegs dat ‘n Blom van verwondering
bestuif is en dryf in ‘n verslete stal
dié nag skiet ‘n Saad uit haar hande
deur die heelal se helder spiraal
en êrens is ‘n kleurmal skare
al die engele en diere orals juigend
en die moedermaagd se krip
is meteens slykloos spieëlblink
sodat sy kan drink kan drink
uit die Vlam onder die water
wat haar stil na binne wink
Palm-pas
saans dra ek my man se glimlag
soos ‘n sekelmaan in my
die dag word ryp tot ‘n ingeslape groen katel
die inmekaarpas in die binneplaas
is ‘n skaamtelose psalm
die musiek loop uit
in kleur en klank:
hoe heimlik primitief
is ons hartklop
in die nanag
vanaand prewel ons
die drie honderd seëninge in ons slaap
en benoem mekaar langsamerhand:
jou lokke jou wimpers jou werwels
jou spiere vol afwagting en ingehoue spanning
jou oë wat met my tone speel oor my kuit my ken
ons besing mekaar vanuit verhemeltes
asof ons onder die sterre tuishoort
op die rand van die aarde
van vergetelheid tot stadig bloeiende tyd
en ook die Ewigheid
Amatola in die week van verkiesing
beeswagters loop op dwaalpaaie
klim oor die bogrondse boomwortels
van kalanders en assegaaie
asof oor houttrappe
elke tree ruik na warm kruid
op die bergrif van Geju
oranje klokkieblomme lawaai
en die wildedagga
waai skouerhoog
onder teen die voetheuwels
dut die ronde Xhosahutte
soos rooibruin sampioene
alles soos eeue tevore
maar vannag blaf die honde anders,
skares sing wasemwolk voor die mond:
dis Vryheidsdag dis Vryheidsdag
dis nou of later of nooit
nóg vis, nóg vlees
binne-in die bangbos
steek twyfel deur die vel
ek wonder of jy werklik is
kan jy die waterpad voorspel
glip jy met die tapir
deur ‘n skemer poel
sloes soos die otter
wriemel en wóél
‘n tamaai kapibara
onder koel waterslaai
swaai jy regtig aan die stingels
van my binnelyf
nóg vis nóg vlees
met bene en gewrigte
gesig en bloed en gees
jy antwoord nie klein kind
jy bot stil jy bot sag
niemand waag ‘n woord
as asem in ‘n asem lag
Uit: woud van nege en negentig vlerke wat Augustus vanjaar by Tafelberg verskyn.
Varsgeborene
jy kom op die dag
toe die heuningvoëls
om die donker botsels
van vuurpyle tros
die kleurmense van die Kaap
dra aronskelke
oor ‘n treinspoor
soos langsteelkerse in die nag
jy tree die vleipad na ons af
jou voete twee skutblare
jou bene stingelsag
ek herken jou van ver
roep vuurling vuurling
die lelies brand hul fakkels op jou koms
‘n hegrank klou en word gesnoei
kyk hoe die bloedblom vir jou bloei
jy kom in die koelheid van Augustus
in wolke stuifmeel in stormwind
selfs die ritsel van wimpers oor wange
profeteer ‘n magtige vlammereën
welbekende seun
‘n leeftyd lank groei jy voort
uit water en geseënde saad
maar hoe ek dié vroeglente
gaan verwoord
dit weet digter alleen
Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009
ons word vanmôre weer wakker
ons word vanmôre weer wakker
gesig teen gesig
gewrigte beskermend oor mekaar se naakte rûe –
jy is my verbond en my enigste gelofte
sonder jou sal ek gewoon in makheid verval
vanmôre word ons in ’n hemelbed wakker
deur die bamboesblinders kruip die dag
af met die trappe
die kombuis maak oop op ’n kuswoud
waar kleur in ruigtes sluimer
voëls drink buite die venster
en ons skink nog filterkoffie, my lief
want dis vandag reeds sewe jaar
vandat die troutafels in spirale gepak is
onder die maroelaboom in die Bosveld
was familie en vriende soos fakkels
en ’n stewige pot mieliepap
soetmielies aan’t sis
skaap en speenvark op die spit
en koeksisters, gemmerbier
landelike gelag
wie sou ooit dínk om dít te groet?
ons skrik vanmôre weer saam wakker
in ’n land krank van moordlustigheid
vlug uit oor die kreukelrots
grýp jou aan die arm:
onthou die winter toe ons kaal swem
onder ’n Kaapse waterval
en gifstowwe sif oor ’n landery
en ’n duisend swerms trek of vrek
onthou die oopbars van ons voordeur
mans wat huis-in beur
gate in jou kop, jou long
dat ek jou bloed drie maal moes mop
moet my aan dié onbeskawing nie oorlaat nie, my lief
ons wil wegsnoei maar ons rank
ons bloeisel oor heinings en hekke
bo-oor die blaffende bekke van ’n bloeddeurdrenkte land
op berge primitief soos geplooide olifant
salueer ons die sonwarm grond
groei vaster aan mekaar
ons rank
soms het ons niks meer om te gee nie
behalwe ’n voetspoor vlugtend oor die see
Lima
Peru
probeer om te vergeet
waarsku die stad om lig te loop
want ek wil die kind op die sypaadjie nie sien nie
gesig versluier agter vuillug garúa
probeer om te vergeet
die koue kind ruik Mercado del Indios
se alpakkatruie en musse van wol
laat die stad in vlamme opgaan
want ek wil haar nie so sien nie
die kind staan met hartseer speelballe
in ‘n stad van waansin
waar sy stiptelik om spitstyd
al op die stippellyn wawiel
die munte traanblink in haar hand
steeds is haar voete duiwe
duiwe al op die stippellyne
kwetterend bo-oor die praatsang van priesters
swiepend oor verlamde moeders wat llamalammers brei
singend teen niksseggende vaders met arendsneuse
en koppe van klei
en haar voete praat luider as die stemme van priesters
en haar voete vleg vinniger as die hande van moeders
en haar voete dink verder as die koppe van vaders
fladderend in wawiele
is haar voete tweelingduiwe in vlug
asof die shajshas se bokhoewe ratel
en iemand ‘n vyfsnaar-charango
tokkel teen haar vel
moet die geluid van remme nie onthou nie
en die kras gefluit van die wind deur die straat
probeer vergeet
probeer vergeet
dat Lima ‘n dogtertjie was
Uit: woud van nege en negentig vlerke deur Carina Stander (Tafelberg, 2009)
Watervolk
Nkulunkulu, Jou mooi aarde
is stilweg besig om te sterf.
Die gras gesels nie, die wild trek weg,
die slang vergeet sy vel in die gras.
Droogte haat kinders, hy eet hulle op;
die mans hou ons vroue met bok-oë dop
as ons boombas kook vir sop
of kalbasse dra wat sug vir biesmelk.
(Die kind wat nie hardop huil nie verwelk
in die bobbejaanpels op sy ma se rug.)
Bedags kom rooimier en saans muskiet.
Doer by die drinkgat langs fluitjiesriet
loer ‘n dorre stomp hoe ons nader loop –
sy neus het twee gate soos ‘n miershoop.
Nkulunkulu, kan Jy hoor hoe ons roep
met arms na Jou berg gestrek?
Verjaag vir sprinkaan, verwilder vlakvark
met spieshorings uit ons koringland weg.
Gryp vir weerlig aan sy gloeiblou stert,
swaai hom oor krans en barre weiveld.
Laat water spat en water stroom
oor die kop van die swarthaakboom.
Nou maak Nkulunkulu ‘n groot boog –
‘n reuse bont slang van vlakte tot berg
met kleure wat kaats oor vlerk en vin
tot binne-in die slykpadda-oog.
Slang seil oor kleeftoon van klein akkedis,
toe leeuwyf dit sien is sy diep ontstel.
Sy gryp haar welpie aan die nekvel,
sy vlug oor boom en riffelkrokodil.
Ons watervolk lag dat ons mae pyn,
ons kén mos die slang wat reëntyd verskyn.
Ons weet nou’s ons kans om vloere te smeer
met geurige mis en gladde varkvet.
Dis tyd dat die mispels dragtig raak
vir ons en die platpens likkewaan.
Die skilpad kook ons in sy pynappeldop,
roer die amasi en rook bossiegoed.
Ons vroue pak kos in mandjies van riet
vir die manne wat wildeperd skiet:
velle soos vlam sigsag swart en wit
oor die grasheuwels waar hulle jag.
Nkulunkulu, Jy woon kop in die blou,
Jou oë ‘n vry arend wat ons dophou.
Noudat die manne die kraaltjie verlaat
kan ons vroue ‘n slag weer buite bad.
Uit woud van nege en negentig vlerke deur Carina Stander. Tafelberg, 2009.
verwilder
ek weet nie meer wanneer
ek jou verwilder het nie
op ‘n dag het ek jou
(wat van kindsbeen met my was
soos murg of stem of skaduwee)
die berge in verjaag
dalk het ek my geskaam vir jou dierlikheid
jou primitiewe uitruik van mismerke en spore
hoe jy ander se wonde gedurig wou lek
te veel te geil te harig te oordadig uitbundig ná die reën
het jy skande en skade oor my gebring:
om jou ontwil is ek name genoem
uitgevloek as domnaïef of doof,
doodgewoon oorgesien by okkasies
hierom het ek my rug op jou gekeer
en gaan woon in ‘n geteerde straat;
ek het geleer om my woorde te tel
en nagwandelings te vrees
(buitendien wou ek tuis wees
wanneer die kinders wakker word)
dis aande soos vanaand
as die vleipaddas se kele saad in rietjies skud
dat ek vlietend na jou verlang;
by die agterhek los ek water
en die oorskietvleis van weekdiere
in die hoop dat jy een nanag sal terugkeer
uit ‘n ongekarteerde plek
‘n Kind het uit my uit gegaan
1.
jou brein op die sonarfoto:
‘n oopvlerkvlinder
in ‘n woud van water
2.
nuwejaarsdag op die plaas
toe ons vir jou oupa en ouma,
jou ooms tannies en niggies
in die middagrivier vertel
jy skopswem in ‘n skulp
onder die kamers van my hart
het ‘n blote woord vlees geword
en tussen ons kom woon
3.
dertien weke genaelstring
word my lyf oornag ‘n graf
ineengekrimp
soos ‘n spinnekop onder ‘n stewel
(jou pa op sy knieë bid lewe bid lig)
toe jy dae later kom
is ons vreemd-verbaas
oor hoe heel, hoe handgroot ‘n poppie
klein akkedissie, pensie na bo
met tien kleeftone en vingers
ribbes kaak volkome skulpie-oor
paddatjie in ‘n poel van bloed
4.
in die hospitaalbed langs die see
tussen drukmeter en drup
soek ‘n verpleegster na ‘n aar
soek ‘n vrou wat soos ek lyk na ‘n enkele traan
maar dis die bloedigste dag in die Baai –
daar is geen druppel vog in die lug
5.
skemer terug by die huis
in die hangmat op die stoep
vlieg ooglede oop en toe
geluidloos
die bloedvlerk van ‘n loerie
bo die leë waterbak
6.
vanaand teken jou boetie met blou kryte
in die bad waar jy vanmore was
wat is dit tog, wat kan dit wees?
nie die snelskrif van ‘n slang in ‘n stroompie nie
nog minder die hoofweë van slakke teen ‘n stam
dit is ‘n waterval
wat stol
7.
kind wat ek nooit sal ken nie
my eie my ek
hoe swaar is verlies?
die gewig van ‘n dogtertjie in die palm van my hand
8.
Asof jy hier is
vou ek jou toe in die bakhand van my bloederige gebede
en jy bestaan weer.
Soos rou.
9.
om in ‘n blinde spieël te bid –
die beeld van ‘n boom op ‘n windverwoeste meer
om God uit ‘n donker wond te aanbid –
sien nie voel nie hoor Hom nie
maar glo oor ek Hom weet
weet Hom soos ‘n son in die nag
‘n berg onder die voet wanneer dit mistig is
en ons jou in Maart tussen fynbos begrawe
asgrys soos ‘n saad
wanneer herfs kom met sy spinnedrade vol dou
mishorings oor die see en seevoëlskelette
kén ek die landskap van verskriklike liefhê
waar als ineens Één is: asem én bloed
ken Hom helderder as hemel
asof “glo” ‘n eenmaal aardse voorreg is
die liefdesverklaring van ‘n leeftyd
soos geboorte
soos komete
soos herinnering
glo totdat die laaste grond onder my voete uitloop
• Vers nr 8 by die lees van Barend J. Toerien se “‘n Wit berk het in die bos gestaan.”
• © Carina Stander. Mei 2010
KRUISBEEN KUIER
vir Anna-Carien
.
Kruisbeen kuier ons met kunsoorpakke en al
op die Art Deco bank van jou suburban huis.
Druifpers kussing agter die rug en ‘n droë rosé
in die glas, lag jy moesie bo die mond en vertel
dat jy laasnag weer jou rooikopreus verlei het.
“My ouma Antjie was ook ‘n ou flirt,” seg jy.
Ek onthou hoe jy as student jou potlode lek
om die kleur te versterk – jou tekeninge vry.
Op agtien ry ons giggelend oor Mosambiek se grens –
bra’s wapper bont bo die wiel. Sou ons meisielywe tóé kon dink
hoe flink ‘n man sy vuursap skink? Hoe ovaal die moederskootvrug?
Hoe trots ‘n trossie eie seuns? Vandag vonkel en verf ons voort
hier waar ons met skildergoed kuier onder jou druifprieel.
Breek die brood, drink die wyn. Sien kinders rinkel en rank en prut
in die middaggloed. My kunsvriendin, sal ons ooit kan skep
iets só vlees van ons vlees, bloed van ons bloed?
.
(Gedig geskryf in opdrag van Mont du Toit-wynkelder en DEKAT – 2009.)
nagswem
Malangane, Mosambiek
op een en twintig
wou ons nag lank swem
na die hemel daarbo
die aarde hieronder
en einders van die see
op ‘n mensvry strand
was ons meerminne
met wiere in slierthare
‘n skare planete
uit die niet gepluk
en min of meer
sewe seesterre
in die uitspansel
se regterhand
rangskik
saam het ons gesnorkel
oor kartel-alg en purperslak
steekmossel se vlerk
daar was kapers op die kus
en gerugte van roofvis
as ‘n skip ter haaie gaan
maar ons bloublasieharte
het nakend gebons
sluiervlies wat spelend plons
oor die maagdwit glimlag
van ‘n maan
Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009.
.
sondoop
Malawi
jou hare en voete
was die kleur van naeltjies
in die flou lig van die son
wat glip deur die kombuis
was moeders soos kalbasse
rond aan’t klots en klets
op gebreide boerbokvel
iemand het die werf
met ‘n stokbesem gevee
en die rietmat oopgerol
‘n ouvrou met blaartjies
in hoë wange gekerf
het grondbone vir ons gegee
en kookeiers vir die langpad
haar oogwitte ‘n dooiergeel
die mense het gesê
jy is die klip by die spruit
waar donkies drink en roofvoëls bad –
bidsprinkaan tussen jou tone
geitjies wat op jou voorarm paar
die wagters het gevloek
toe jy die bok-ooi losknoop
sodat sy vry kon wei
maar ons het weggehol
verby ses seuntjies in ‘n kring
wat ‘n groen papaja deel
en ‘n man met asvaal knieë
het derms oor ‘n vuur gebraai
my woorde was te jonk
vir die suigeling wat rits
op sy ma se rug
– brommers tros om die oë –
en die twaalfjaarkind
met haar baba Chinsinsi
wie se skuins mond saggies skel
toe ons vra dat sy vertel
waarom die naam dan Geheim is
ons het handeviervoet
oor Nkhomaberg geklim
en afgekyk na mielielande
se verwaaide klossiesbaard
en swenkende paaie
en na die wolke en die wind
Katri, is God in dié wolk?
het jy skielik gevra
toe dit lyk of iemand hemel toe is
die laaste oggend langs die meer
het ons gehoor in die ooste
is ‘n Man vermoor
en op die horison
het die bloedspoor verraai
dat Hy eeue om die aarde loop
in die hoop dat die vissers in die skuite
of die visarende of skare
hulself soos jy
in die son sal doop
.
Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009.
.
om op die rug van ‘n donkie in die see te swem
om op die rug van ‘n donkie in die see te swem
deur ‘n land bo die wolke
oor landskappe van droom
‘n pen soos ‘n staf in die hand
om bloots op ‘n esel oor ‘n golf te galop
warrel in die hare
Stormmeeu op die skouer
se vlerk gesprei teen die strale
om saam met ‘n hings deur seë te ry
voorkop rug voetbrug gesout
teen die brand van blindwit branders
om borsdiep in ‘n woord te toer
die walvis ‘n inkvlek op blou papier
wanneer die Windmaker se asem
die water stadig roer
om veerlig te dryf
verse te skryf
die son ‘n engelkop
vanaf ‘n eselrug aanskou
om die heelal en hemel só dop te hou:
laat my reise voortaan eenvoudig wees
© Carina Stander – Maart 2009
wildernis
Bergfontein, Limpopo 1968
op twee en dertig gee ma liefde
soos ‘n storieboek
vir pa
sy slaap onder skerpioene
en ander sterrespansels
een-een in die nag
bekruip luiperds
met kolle soos rose
op flanke rangskik
die kraal
kraak kalwerskedels
wat pa tweehonderd myl van hier
wei-wei te perd gaan haal het
na ‘n knal sterf die skor hoes
op die berg –
ma erf twee welpies
uit die pens van ‘n roofdier
die huis is onklaar
and any tree a lavatory
maar saans by kerslig
in ‘n sterretjieskombuis
merk sy opstelle
in Afrikaans en Duits –
broei verse soos kuikens
in gehekelde komberse
met haar skoolgeld messel hulle
leiklipvloer tot houtplafon
‘n haard
steeds wyk die makheid
onder die slingerfoon sis
‘n swart mamba op eiers:
voorlyf orent, bek gesper
die kop lank en plat
soos ‘n doodskis
ma skryf briewe vir haar ma:
welpies, geitjies en die akkedis
rus smiddae op die voorstoep
al digter teen haar voete
sy vermoed dat ook sy
‘n paringsmaat gevind het
agt jaar later word ‘n kind gebore
uit die woorde van ‘n ma
en die wildheid van ‘n pa
.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis
‘N GOËLLIED VIR BREYTEN
As die taal ‘n liggaam is
is jy die inkvlek op haar handpalm
vloeiend oor die vlegtende treinspoorgroewe van vel.
Die taal is die skelwit orgidee
wat jou met morbiede beloftes verlei
asof jy ‘n insek is.
As jy ‘n rietfluit is, is die taal die verderflike moeras
waaruit windklanke gekerf word.
As jy ‘n wolk is, is die taal die glas
wat jou watergeboorte en -sterfte weerkaats.
As jy ‘n muis is, is die taal die duisterswiepende uil.
As jy ‘n skokbeentjie is, is die taal die slaanstok
wat agter die deur skuil.
As jy ‘n rivier is, is die taal jou oewer, die grens wat jy oorstroom.
En as jy steeds ‘n rivier is, word die taal so waar die padda
wat manel dra en in jou woon.
As jy die grond is, sal die taal ‘n tuin wees.
En as die taal ‘n tuin is, is jy die klouterstruik,
die pampoenblom met geel vlerkslae
of hopelik die komposhoop.
Want as jy die komposhoop is – ‘n blareberg, erdwurmdeurwoel –
sal die taal sonder tyding ‘n boord kan word
swaardragtig aan bittersoet woorde.
As jy die vyeboom is,
is die taal die by wat jou bestuif
en as die taal die by is,
is jy die nektar.
Omdat jy die nektar is,
haal ons vandag met dié verdigsels
kaalhand heuning uit die taal
– dwase wat storm waar die duiselgrote engel huiwer –
ons vingers en voelers tintelend
van al wat swewend leef en kleef.
BOENDOE
(Bergfontein, 1968)
op dertig abba pa
sy stadsnooi
met die tik-tak-skoene
byekorfkop
en boeke
deur die soel rivier
van die nag
die waterlelies
die sirkel van die krokodil
deur die riete
verby die skril
naklank van die bokklok
visarend
fisant
af in die melkweg
bo-oor die njalaboom
waar handgroot blare wuif
dra hy haar soos ‘n rib uit eie lyf
tot in die boendoes
waar hy ‘n huis vir haar sou bou
met geloof op die tafel
hoop in die boord
liefde by die kraal
sodat sy tuis kon hoort
in die Bosveld
van vreemde verhale
en in die glimlag
van my pa
*Uit die bundel “woud van nege en negentig vlerke,” Tafelberg Uitgewers, 2009.