CJ Langenhoven
ONTEIENING
Dis die derde jaar van droogte en dis vaal in die Karoo;
Uit ‘n wolkelose hemel brand ‘n harde son van bo.
Ek sien blarelose stengels net soos vingers opgesteek
Van bossies stil en hygend wat om uitkoms staan sn smeek
Tot ‘n jammerlose hemel en ‘n son wat skroei van bo.
Is daar lewe in die dood dan – ek hoor stemme roep van vér?
Ja, dis stomme dierestemme: dit is skape wat so blêr –
Dit is ooie wat daar dorsly by ‘n opgedroogde dam,
Met elkeen ‘n leë uier vir ‘n waggelende lam –
Dit is diere maar dis moeders en die kinders wat daar blêr.
Ek sien ginds ‘n boere-huisie, ek hoor mense-stemme daar –
Hoor ‘n moedelose man sê aan sy vroutjie: ‘Ons is klaar.
Was daar hierdie maand maar reën kon ek tog my veetjies hou –
Kon ek nog my skulde skuiwe, kon my kindertjies en vrou
Op ons plasie nog bly woon het, Maar my vroutjie, ons is klaar.”
Ek sien witte wolke-banke oor die bloue berge staan,
Hoor die eerste sware druppels dowwe hamerhoue slaan.
Met ‘n heerlikheid verblindend breek die bliksems van omhoog
Oorverdowend dreun die donder deur die dolle hemelboog,
En dit dawer op die aarde soos die stortvloed vallend slaan.
Ek sien ‘n groene lowerland – is dit die vaal karoo,
Met blare blink van vettigheid en prag van blomme bo,
Met ooie elk hoogmoedig by ‘n huppelende lam,
Met kruisgras-ruigte in die veld en oorvloed in die dam?
Waar dooie kaal woestyne was is lewend-groen Karoo..
Ek sien stralende gesigte uit die boere-huisie kyk;
Ek hoor ‘n man vol owermoed sê:”Vroutjie, ons word ryk.”
Hoor kinders vrolik, lewe-vol, wat lag en sing en speel –
Voel trane oor my wange rol, my hart is my te veel:
Dis ander stemme wat ek hoor waar nou die weelde pryk
My Land
My land, my land
my land se voete brand
My land eens wild
Gemaal tussen roer en skild
My land getem
met swaard se lem
My land verkrag
siel gestroop met myn se skag
My land verdeel met byl se smart
Langs naat van wit en swart
My land tot snik versmoor
Onreg skree in slawe koor
My land het swaar gely
Deur gister se bandiet bevry
Hy word president van presidente
Lei ons land na swaaverdiende lente
My land staan op
Lig sy kop
Maar … , my land se voet haak vas
In sy aar dra hy sware las
My land baklei met virus
Wat sy mense uitdroog soos papyris
My land het nuwe stryd gevind
Vyand wat almal vir eens saam bind
Gesiglose soldate
Veg stryd in die strate
Halfhartige pogings laat nie vyand wyk
Moet ons nog verder wag en kyk?
Vat voor vat vas
Skud af hierdie las
Wat sy vra is nie veel
Al wat sy vra is doen jou deel.
My Kruis
Aan dié Psalmdigter op die ritme van my hart:
Donker is die strate
Grafstil my huis
Vensters dig toegetrek
Uitgeverf in swart
Volvloer met bloed bevlek
Speld-flits pynlik lig val teen my deur
Dan weer duister
Onrustigheid roer
Dorings pynlik laat meer lig deur
Ek spyker hom van binne toe
Gróter spykers buig myne om
Spies breek my deur
Tref my aan die binnekant waar ek die lig probeer keer
Laaste asem versmoor in pyn
Die bloed wat bloei is nie myne nie
Bevlek my huis bo elke koesyn
Traag neem donker die wyk
Dan vinniger wen die lig se ryk
My huis word glas
Die lig se kas
Buite het `n nuwe aarde gekom
Genade genesing staan blink in die blom
Vloei uit my huis ‘n helder aar
voed ‘n nuwe boom swaar in die blom
In oorvloed hang eden se vrugte daar
Ek kniel verwonderd en verstom
Dankie Heer – niks verder vra ek meer
Die mot en die kers
Die ander motte is dom en dwaas,
Maar ek sal vér van die kers af bly;
Hier vér uit die skemerte sal ek kyk,
Hier vér is dit veilig en kyk is vry.
Maar ek hoef nie van éénkant net te kyk –
Ek vlieg op dieselfde afstand om,
Dan weet ek van álkant af hoe hy lyk,
Om beter te sorg om nie nader te kom.
My sirkel was skeef en ingebuig,
Maar dáár ook nog, waar ek naaste was,
Het niks gebeur – ek maak verniet
My velling so groot en so vér van die as.
Die wieletjie draai ál vinniger om,
En die lig en die gloed word ál groter genot:
En die vellings word nouer ál rondom die as –
En die end van die wiel is die as van die mot.
DIE STEM VAN SUID-AFRIKA (1918)
Uit die blou van onse hemel, uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes waar die kranse antwoord gee,
Deur ons ver-verlate vlaktes met die kreun van ossewa –
Ruis die stem van ons geliefde, van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe – ons vir jou, Suid-Afrika.
In die merg van ons gebeente, in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede, in ons hoop op wat sal wees,
In ons wil en werk en wandel, van ons wieg tot aan ons graf –
Dee! geen ander land ons Iiefde, trek geen ander trou ons af.
Vaderland! ons sal die adel van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners – kinders van Suid-Afrika.
In die songloed van ons somer, in ons winternag se kou,
In die lente van ons liefde, in die Ianfer van ons rou,
By die klink van huw’liks-klokkies, by die kluitklap op die kis –
Streel jou stem ons nooit verniet nie, weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep se ons nooit nee nie, se ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe – ja, ons kom, Suid-Afrika.
Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou –
Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wereld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer –
Met ons land en met ons nasie sal dit wei wees, God regeer.
Die Stem (1957)
Uit die blou van onse hemel,
uit die diepte van ons see,
Oor ons ewige gebergtes
Waar die kranse antwoord gee.
Deur ons ver verlate vlaktes
Met die kreun van ossewa.
Ruis die stem van ons geliefde,
Van ons land Suid-Afrika.
Ons sal antwoord op jou roepstem,
Ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe
Ons vir jou, Suid-Afrika
In die murg van ons gebeente,
in ons hart en siel en gees,
In ons roem op ons verlede,
In ons hoop op wat sal wees.
In ons wil en werk en handel,
Van ons wieg tot aan ons graf.
Deel geen ander land ons liefde,
Trek geen ander trou ons af.
Vaderland, ons sal die adel,
Van jou naam met ere dra:
Waar en trou as Afrikaners,
Kinders van Suid-Afrika
In die songloed van ons somer,
In ons winternag se kou
in die lente van ons liefde,
in die lanfer van ons rou.
By die klink van huw’liksklokkies,
by die kluit-klap van die kis.
Streel jou stem ons nooit verniet nie,
weet jy waar jou kinders is.
Op jou roep se ons nooit nee nie,
se ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe –
Ja ons kom, Suid-Afrika
Op U Almag vas vertrouend het ons vadere gebou:
Skenk ook ons die krag, o Here! om te handhaaf en te hou —
Dat die erwe van ons vaad’re vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry.
Soos ons vadere vertrou het, leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie sal dit wel wees, God regeer.
MY ONHERROEPLIKE KINDERDAE.
Ek sou nie graag my lewensweg
’n Twede maal vervolg, want reg
Sou ek hom tog nie kry; en wat
Daar skoon en lief was op my pad
Kan die herhaling my laat mis.
Maar as ek iets terugwens is
Dit, dat ek by my ouderdom
My kinderhart weer mog bekom —
Met fleur van lus en geur van smaak,
En groot belang. in kleine saak,
En goue traan en gou weer af,
En grote vrees vir kleine straf,
Maar steeds herhaalde stoutigheid!
Og, had ek weer die sondigheid
Van sondaartjies, onskuldig rein:
Og, was ek weer as sondaar klein!
BESIT EN GEBRUIK.
Jou krag beteken niks: ’n perd het meer as jy,
Maar jy kan dit gebruik om hom te tem en ry.
En jou geduld is niks: ’n donkie ’t meer as jy,
Maar jy kan dit gebruik wanneer jy met hom ry,
Jou kennis is ook niks: ’n boek het meer as jy,
Maar jy kan dit gebruik om meer nog by te kry,
Ervaring dan? ’n Swerweling het daarvan meer as jy,
Maar jy kan dit gebruik om swerflingskap te my.
Bekwaamheid? Daar is mense meer bekwaam as jy,
Wat graag vir hul bekwaamheid ’n lewenstog sou kry.
Besit van gawe nie, maar die gebruik daarvan
Gee aanspraak op die naam van ’n begaafde man.
MY EIE-EK.
My vyand haat ek nie omdat
Dit hy is wat ek haat:
Ek haat, verafsku hom omdat
Dit ek is wat hom haat.
Ek het my vriend nie lief omdat
Dit hy is wat ek min:
Ek het hom lief ter wille van
Die grille van my sin.
Ek seën, vloek; ek dien, verdien,
Verderf, verdruk, verbly
My medereisigers hier op
Die paadjie langers my,
Waar elk van almal vir homself
Alleen geniet of ly:
Maar al die ander reis die pad,
Beskou ek, net vir my!
LASTER HULDIG, ROEM BESKULDIG.
Soek jy om roem te werf uit enk’le goeie dade?
Dan wys jyself die omvang van jou kwade:
Wie roem op enk’le druppels uit die see?
Maak jy ’n ophef van jou buurmans één mistrap?
Dan wys jy maar hoe reg hy anders stap:
Wie wys één gaatjie in ’n sif en spot daarmee?
AAN DIE RENEGAAT.
Jou volk nie goed genoeg nie? Maar die renegaat
Is altyd slegter tog as die wat hy verlaat!
Sal dan die beter volk ’n gulle welkoms gee
Aan d’ allerslegste uit die slegter? Wees tevree
Om in jou eie kring ’n hoër rang te haal —
Jy ’s laag genoeg vandag om nie nog af te daal!
En as jy bly en rys, dit sal jou éendag tref:
Daar ’s hoogheid, wat jou laagheid eers nie kon besef!
DIE OPENBARING VAN DIE WAARHEID.
Die hond wat by jou tafel staan
En smekend in jou oë kyk,
Die praat die waarheid met sy blik
Waardeur hy jou sy nood laat blyk.
Die voëltjies van hul kroos beroof
En skreeuend om hul nes met smart,
Die uiter waarheid hemelrein
Uit swaar beproefde ouerhart.
Die plantjie in jou vensterbank,
Wat jy versuim om te benat,
Praat waarheid met verwelkte blom,
Met druipende stengeltjie en blad.
Die bokkie wat geen kwaad vermoed
En water soek in skadu-kuil,
Raak dood deur swyend leuentaal
Van tier wat in die riete skuil.
Dis nie jou woord alleen wat lieg,
Of wat die waarheid kan verklaar:
Deur daad en skyn, deur swye selfs,
Word waar- of valsheid openbaar.
UIT “LIEFDE’S ONSIN”.
(’N Wiegeliedjie).
Lamtietie, diamtietie, doedoe my liefstetjie,
Moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie,
Heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
“Doedoedoe bladertjies,
Slapenstyd nadertjies;
Doedoedoe blommetjies,
Nag is aan ’t kommetjies” —
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.
Bo uit die boompie kom nog ’n gesangetjie,
Soet soos ’n soentjie op kindjie se wangetjie,
Soet soos die stem uit die snaar van vioëltjie
Sus daar ’n wieglied uit bekkie van voëltjie:
“Tietewiet, koeroeroet —
Pierewiet, toetoetoet!
Doedoe my kindertjies,
Wat sal dan hindertjies?” —
So noem die voëltjie haar kuikentjies kindertjies.
Onder die boom uit kom nog ’n gesangetjie,
Rein soos ’n traantjie oor kindjie se wangetjie;
Hoor dan die orreltjie onder die boompietjie,
Luister die wieglied van ruisende stroompietjie:
“Trippetrip, koeloeloem,
Oor die klip doemeloem!”
Stroompie die rus nimmer
Stroompie die sus immer,
Sus immer, suis immer, ruis immer, rus nimmer.
Bo in die bloue lug flikker die sterretjies —
Hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
Wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
Wakend oor mensies en diertjies en boompietjies:
“Wees maar gerustetjies,
Slaap maar met lustetjies!”
So sing die sterretjies —
stilletjies, verretjies:
Vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!
* * *
Onskuldig ogies en voetjies en handetjies!
Wie weet hoe ver moet my kleintie nog ganetjies,
Ver deur die wereld se kronkels en gangetjies.
Bly tog maar kleinties en bly dit maar langetjies;
Bly maar by moedertjie,
kindlief se hoedertjie —
Saap in haar arrempies,
Saggies en warmpies —
Doekies dan, doekies in moeder se arrempies!