Jongste aktiwiteit:

Clinton V. du Plessis
vir

Clinton V. du Plessis

die taal
(vir ampie coetzee, na ingrid jonker se, die kind)

die taal is nog nie dood nie
die taal draai sy gekneusde gesig na sy moeder
afrikaans skreeu skreeu die kleur
vol van verwyt en verbittering
in die taalrepubliek van die gekoesterde tong

die taal draai sy gekneusde gesig na sy vader
dra die sonde van die geslagte
afrikaans skreeu skreeu die kleur
van ongeregtigheid en suiwer bloed
in die kerkhowe van die stommes sterf die klank

die taal is nog nie dood nie
nog by magersfontein nog by kammieskroon
nog by pella nog by kakamas
nog by die hospitaal of hof
waar hy lê met ’n strop aan die nek

die taal is die murg in die bene
maar die taal is ook tenger en weerloos
die taal is uitgesluit by al die vergaderings en wetgewings
swyg in raadsale en lesingslokale
die taal staan buite, kyk deur die tralies van die land in die oë
van die moeders
die taal wat net wou soepel lê in die mond van ’n mens is nêrens,
roggel, weifel, vergeefs …

die taal wat ’n boom kon word met baie wortels,
wat kon tak en blaar oor afrika
die taal wat ’n beitel kon word, kan nie meer reis nie
sterf, met sy meulsteen,
sonder ’n paspoort
sonder ’n land
sonder ‘n tong.

Verplaas – deur Clinton V du Plessis

Nie nóú nie Heer:
ek wil die winter nog een keer
voel kom,
wit teen die hange sien
plak soos plaak.

Dan ook weer die lente,
die veld
groen plate sien maak,
die nuwe lewe wat kol-kol beur
deur die noute van die skeur

weer die skaap sien lam…

ek wil na die windpomp se
ywerige knarskraak
luister,
die water voel
pomp
onder my hand,
ek wil ver in die veld
stap,
lui rustige treë gee,

weg van dak en deur
en raam en ruit,

die honde uitasem
langs my deur die gras
hoor
ritsel,
die skoenlappers geel en swart
sien
fladdervlerk,

hierdie grond word
’n heilige kerk
die evangelie kom van die uil
wat snags in die donker boom skuil

kom van die plaag en die pes, die roes en die rot
die oes wat aan die boom bly verrot.

Net nog één seisoen Heer
voordat ek hierdie alfabet van die grond af moet leer.

Die digter trek nie skares nie

”’Die gees van my land is ‘n voetbal”
(Lina Spies)

Die digter trek nie skares nie:
Opperman, Van Wyk Louw of Breytenbach,
die lostrio van die taal
vul nie aankomsale nie;
hulle trek nie ratse jong dye
uit eina-rompe nie.

Selfs met hul struktuur,
hul vorm,
die ritme van rymwoord,
of met die flink fop-aangee van betekenis,
of die agterlyn
van die sonnet
wat vaartbelyn
die naakte bluf van die kaal keiser, sonder skroom,
ontbloot,
kry hulle nog geen applous.

In die daaglikse kwatryn
van die voorstedelike bestaan
is almal banaal begaan
oor die gain en die pyn.

Selfs die babas in kappies,
met foppertjies
en koue kriewelhandjies
kweel en kwyl opgewonde in die kamera
oor die baie baard,
been en biceps,
die torso is die ode,
weet die bal van die metafisika?

Die digter sit op die reserwebank:
sonder bier in die hand,
sonder vlag op die bors,
hy besef, die massas het ‘n ander, dieper dors.

Hulle kyk liefs om die spieël,
vermy die raaisel.

© Clinton V. du Plessis, 2013

Wanneer ‘n kind sterf
(ter nagedagtenis aan Gerrith Gardner)
(18/07/2015)

Jy bottel ons ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout,
soek nuuskierig en weetgierig
na ou koerante en Huisgenote
om deur te blaai en te lees
jy gesels geesdriftig saam, met ieder en elk
met ‘n glimlag;
môre,
hoe gaan dit?
hoe was jou dag?

Jy onthou details uit flieks van Schuster,
tot in die fynste besonderhede
kan jy vertel van 1 000 Ways to Die,
dinge wat jy nog wil maak,
jou hande alewig besig, vroetelend,
jy bottel ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout.

Wanneer ‘n kind sterf
struikel die son,
hou die see haar asem in,
buig die bome se takke nader na die aarde
in die wind wat waai soos hy wil,
wanneer ‘n kind sterf
raak elke voël vir ‘n wyle stil,
word daar ‘n nuwe litteken uitgekerf
in die holtes van die hart,
hys ons verslae ons vrae soos vlae net halfstok,
wanneer ‘n kind sterf
kom stol woorde knop in die keel,
tas hande dom na antwoorde,
krimp geloof, ongemaklik.

Seun,
jy bottel vir jou ‘n verbeelde wêreld
van sand, seep en sout
en jou lewe flits weer,
soos ‘n fliek, net té vinnig,
voor ons oë verby.

Clinton V Du Plessis

Stort

Op die rommelhoop
soek ek na bruikbare stukkies materiaal,
weggooiwoorde om te herwin as gedigte,

onder die verbrande plastiek
lê die raam van ’n roespienk fiets
’n mamma-mamma-kyk-vir-my;

’n dooie hond ruik
eenkant onwelvoeglik
eens was hy
stertswaai-oulik en skootsit-klein;

die geraamte van ’n dubbelbedmatras
word metafoor vir liefde
wat nou alleen op ’n enkelbed kan pas;

die oorskot van te veel
wil hê, bourommel, Saterdag se gras,
die swembad se leë Blu52,
’n graaf sonder steel,
’n kruiwa sonder wiel,
’n halwe Bybel sonder ’n siel,

flenters mens krap in abattoirsakke
vind hoop in warm afgekeurde derm en lewer;
en omgee waai hier in die wind weg
soos gebruike plastiek-inkopiesakke,

die gewete/die gedig word ’n rommelhoop skroot.

Gewaarwordings

Voor die beeld op die skerm
was daar die woord
op die draadloos,

die luister ’n verbeelde skerpkyk,
die oor duifkopskeef aandagtig gedraai,
die werklikheid ’n krapperige kortgolfsein
wat jy met die instelknop probeer raakdraai,

’n masurka of polka,
Hendrik Susan van Blikkiesdorp Vastrap-faam,

die sport, ’n ring-side seat:
Jan Wilkens se rugbreker
Arnold Taylor, die bakker-bokser
plat, plat en weer op, weer op
uiteindelik… ’n flenter Romeo Anaya
uit, uit, uit,
kampioene leer om te wen deur te bloei,

Syd Nomis se “Siddie, Siddie, Siddie- drie”
ook met bebloede mond,
en Frik, die slot wat kon skop en drop
kampioene leer om te wen deur te bloei,

ja, so maak mens,
u eie keuse,
siembamba,
uit vergange se dae,
dit was die goeie nuus.

later het die beelde woordloos kom fluister
ons het verleer om te luister,
en in Kerkstraat het ’n motorbom
ons met skerwe ruit en stukkies bebloede mens verstom;
wat wen jy deur te bloei?

skielik het ek verlang
na elders met sy mooiweer en sy warm
of ’n losskakel wat, al was dit net vir ‘n wyle,
knap vir die kantlyn kon skop.

Uit die bundel, Rangeer

Interpretasie

And from the comfort of a dreamer’s bed
And the safety of my own head
I went on speaking of the future
While other people fought and bled.
– Jackson Browne, “For America”.

Tussen noodsaaklike kleinighede,
deel van die daaglikse ploeter:
melk, koerant en brood se koop
’n bus of taxi na werk
of skool

kom die klankgrepe kletterend
van ’n land wat brand
vonk die townships
stuur die ongeduldiges
rookseine die lug in:

Donker seine
uit motorbande
Goodyear, Firestone.

Seine van oorwinning
die strate behoort aan die werkloses.

Kyk, Meneer, die armes het die niks beërwe.
Waar is die Moses wat die bos sien brand?

Vuur suiwer, die vlam word ’n God, naby
jou, sigbaar, warm, brand alles skoon tot as,

Praat die taal van ’n petrolbom
verby versigtig gekose leë woorde wat soos
windpompe op droë waterare
in die rondte bly draai.

Soms kan jy met ’n vuurhoutjie
dramaties sê “fok!”
kan ’n rooksein ’n kru
middelvinger word,
kan jy die ongevoelige senuwee
raak boor,
vir ‘n wyle.

Collateral damage

Terwyl ek dit probeer onthou:

Ek dink nie dat ek ooit
vir land of vlag of enige ander
patriotiese redes soldaat wou wees,
geweer in die hand in ’n vreemde land.

Die ministers wat wou hê
ons moes offer wat hul vra
op hulle het ek my rug gedraai.

Maar ek het soms, nee,
ek het baie aan haar gedink
daar waar ek moes veg.

Sy met haar bene se beloftes,
subtiel, maar tog sigbaar
onder ’n katoenrokkie in die somer,
ons tussen pienk perskebloeisels in ’n boord,
jonk en naïef en verlief.

Miskien het ek vir haar gaan veg
om haar te beskerm, teen wat en wie?

Vir haar
en die kinders wat ons belowe het ons sou hê:
’n laaitie met krulhare, albasters en ’n moerse attitude,
of ’n dogtertjie met vlegsels, ’n fiets en ’n frons.

Nooit het ek geveg
vir vlaktes of gebergtes,
die enigste ons
was ek en sy
en die kinders wat ons belowe het ons sou hê.

Toe ontplof die bom een middag, iewers
in ’n vreemde land met min reën en baie sand,
ek, die tenk se brandende sitplek.

Later het ek vergeefs my bene probeer beweeg.

Gedink aan haar,
die kinders wat ons belowe het ons sou hê:
’n laaitie met krulhare, albasters en ’n moerse attitude,
of ’n dogtertjie met vlegsels, ’n fiets en ’n frons.

Lamentasie vir die ou protesdigter

En al sou jy weer briefbomme kon fabriseer
en verbode pamflette ondergronds uitgee,
en al sou jy weer onwettige byeenkomste kon reël
en die verdruktes met woorde kon mobiliseer
en al sou jy weer met gebalde vuis vurig opruiend
die bestel met gedigte kon ondermyn.

Weet dan net nou:
hiérdie bestel kan jy nie omverwerp nie;
die dood is ’n swaargewapende ewigdurende diktatuur
en jou versverset daarteen is van korte duur.

Harlekyn

In sy goue jare het die sirkus getoer
tot waar die treinspoor hom kon vervoer
Francesco het kleurryk en wysneus ontroer
die groot Nar van God
wat met ’n lag en ’n traan deur die oog van die naald kon loer

met skoolvriende het ek my vergaap aan dié lot
aan alles wat vreemd en amusant voorkom:
swart gespierde manne wat met oorpakke halflyf
afgerol, die tentpenne die aarde indryf,
drie-drie, swetend met doelgerigte ritmiese slae
kap…rus, kap…rus, kap…rus

om binne te kom het geld gekos
om arm te wees het jou buite gelos
aan ’n verleë ouer se hand
’n blitsblik deur die splete van die tent se kant
die diere en liggies en dwerge
die eksotiese vroulike Chinese akrobate,
tiers in hokke, snaaks hoe jy kleintyd gelate
moes aanvaar dat jy nie alles mag hê

veel later in my lewe
kon ek my na binne begewe
die paar rand hê om almal by die tentflap
in te laat stap
en binne te kon sit,
nie die rykmanvertoonsit
digby die arena
waar die olifante byna in jou gesig kom mis,
maar verder agtertoe, uit die kollig

van daar kon ek wegglip
uit daardie klemmende kleindorpse kluister
die orkes se musiek, die flinke handevat,
van die swewende akrobate,
hoog-hoog teen die dak
sonder veiligheidsnet,
die guitige baljaar van die narre,
die leeutemmer: alles ontsluit
’n wêreld só groot, só ruim, só magies

nog later het die diere minder geword
die vragmotors het begin loop tot waar treine nie meer kon kom,
meer getoor met slim beligting,
die eenmansorkes, swart narre,
tekens van die tye
om die boeke te laat klop

maar steeds, as die artieste die laaste rondte applous kom ontvang
begin jy opstaan, die stellasies afloop, uit by die gang
soms kyk jy terug, kan jy sien
hoe hulle begin afbreek en oppak,
om verder te reis
net sterre in ’n donker nag,
met Francesco, wat sonder ’n masker,
in die spieël van sy karavaan grynslag.

Klein momente

Skuins voor ses,
die son wat aalwynrooi
op die einder
die laaste grys wolke soos ’n duvet
tot onder sy neus optrek.

’n Paartjie stap,
flink met ’n Duitse herdershond,
die man met ’n trui om die heupe gebind
kantoorhemp en –broek

’n donker kat
versit roekeloos voet
oor die besige deurpad,
dobbel met die dood,

later,

nog ’n man wat alleen in swart
die straat invaar
om te draf teen die klont in die aar,
en die hart se ritme probeer bewaar,
hy versnel, sy asem swaar.

Ek sien hom, om
die draai verdwyn,
verby die plek met marmer
en inskripsies op die steen
en die dennebome,
en kruise met engele,
en vars rooi grond
en flenter blompotte.

Hy raak een met die skemer.

Eerste skooldag

Mag jy leer om:
te skryf
te teken,
te lees,
te speel
te lag en te huil.

Mag jy soms maar onbeholpe en skaam
oor jou eie voetjies se los veters struikel
en leer om weer op te staan.

Mag jy verwonderd wees
oor die sprokies wat die juffrou vertel,
oor feë en prinsesse, en kastele in woude,
oor druppels reën teen die klaskamervenster,
oor blomme wat bont kleure kry
soos die jaar verander.

Mag jy leer, miskien nie om almal
lief te hê
wat jou vlegsels trek nie,
maar mag jy leer om nooit te haat nie,
mag jy leer om om te gee
vir die seuntjie sonder brood
of die dogtertjie sonder sakdoek
wat sonder bril nie goed kan sien nie.

Mag jy nie die bagasie van jou ouers
in jou rugsakkie saam hoef te dra nie,
of hul halfgeleefde drome
uit hoef te leef nie;
mag die letsels van die land
nie aan jou vas kom sit nie,
mag jy net nog mense sien.

Mag jou hart so wyd en so oop bly
soos daardie haasbekkie,
jou gemoed so onbevange
soos net ’n kind s’n kan wees.

Uit die bundel, Aantekeninge teen die skemeruur

Interteks

Al meer het ek behoefte aan Bukowski.

Sy wars kyk na vrou, werk en wanhoop
die broei oor bottel met Beethoven,
kat in die agtergrond
die wonder waar die volgende maal
vandaan sal kom
in woonstel met vuil sokkies, kakkerlak
of tronksel vol losers
of hospitaal met bloeiende maagsweer
die twyfel en afsku in digters
en voorlesings en blootstelling.

Al meer het ek behoefte aan Bukowski.

Sy waagmoed om blindelings op woord
en perd te leer wed
terwyl poskantoor volhard
met rekening en aanmaning
of afwysende skrywes van uitgewers

tog, tussen alles deur,
deur die nag met radio of reën
bly hy om
aan te hou
woorde bou
verse se moere vas te draai
sin te (probeer) maak

ek wil, soos hy, leer om in supermarkrye
die sterwendes die dood in trollies
te sien stoot,
slentervoet en stadig,
na die betaalpunte

ek wil ook steeds die begeer parmantig sien tepel
teen ‘n knap bloes, of bot
binne guitige jeans

die beste bronteks vir skrywe
bly, die lewe.

Al meer het ek behoefte aan Bukowski,
sy beskouing.

Portret van die dogtertjie wat slaap*

Op sy skoot lê sy…
die hande klein bondels bolwerke,
vuiste wat sy slapend onder haar neus vrywe,
dan weer oopmaak
reik na die hawe van pa se hand,
dan daarin wegraak.

In die saal vol boeke en skilderye,
eeue se kennis,
sit ek,
luister ek,
op die klavier tokkel ‘n sangeres
note en liedere uit oor liefde, pyn, verlate mense.

Sy hand streel die fyn hare uit haar slapende oë,
byna heilig die manier waarop hy haar aanraak,
af en toe, as die gehoor applous gee,
skrik sy wakker, penorent, hare in die oë
staan met stofbruin gevlekte wit sokkies
op die tone,
klap uitbundig hande saam,
dan gaap sy,
maak sy weer haar oë toe,
krul op die bankie op,
lê met haar kop op sy skoot,
soek die anker van sy hand,
die vingers klein en kleutertaai,
weerloos,
porseleinfyn,
breekbaar,
slaap sy,
met ‘n mond wat nog nie woorde ken
soos afskeid, soos sterwe, nie…

*Soos waargeneem by ‘n Luna Paige-vertoning, boekefees op Richmond, 2013.

Semantiek
(One day I will find the right words, and they will be simple – Jack Kerouac)

Jy
begin alleen, eenvoudig
woordsuinig,
vingers in die mond
ma…ma…mamma…

Later,
raak die behoeftes
meer geartikuleerd,
honger, dors, hê.

Uiteindelik,
meer gekompliseerd:

met of sonder die aanwasbedeling?
sal hy iets vermoed?
onherstelbare verbrokkeling?
wat is redelike onderhoud vir twee tienerdogters?

Ons verhaal se taal
móét eenvoudig,
ongekompliseerd
bly lees, die oerteks:

ek het jou lief,
sal jy, asseblief,
so lank as moontlik
hiér by my bly,
my briewe herlees,
die boek vir my oopblaai,
my eerste woorde, soos kleuterverse, onthou
my hand vashou.

Deel met my, ‘n laaste avondmaal.

Olé

Dit is die nié
wat ons weerloos
maak, broos,
die
nié sien nié
nié praat nié
nié aanraak nié.

Die paartjies
op die hoeke
van die strate van
Buenos Aires
hulle vat en vervat

die Tango
dis
méér dan dans

dis praat
sonder
woorde

die stom
kloppende ritme van begeer
se ondergrondse donker kant

die vrye slaaf se
opwelling van passie

die swaai
inbuig van die waai

die lies
legendes van die lendes
totdat die twee liggame
teen- en inmekaar
vervleg, broos
en weerloos
word:

hulle flikker nie flou soos kerse nie
hulle brand , sáám, soos helder komete uit.

Kom dans met my, raak aan my,
hou die dood op ‘n afstand,
net vir ‘n wyle.

Janfiskaal

kóm ek wys jou hoe ’n gedig móét lyk,
sê hy
met die misplaaste selfversekerdheid van ’n voormalige opperhoof,
onseker van sy toekoms in ’n nuwe bedeling.

Ek het stapels en stapels boeke
om jou te wys hoe ’n gedig móét lyk,
vervolg hy,
terwyl hy angstig, byna bewend, blaai om my te wys
hoe ’n gedig móét lyk,
alles wat hy weet en waarin hy glo,
kan hy aan die hand van boeke staaf,
hy wat ander voëls se roep ritmies naboots,
ander mense se opvattings,
ander mense se brokkies lewe,
ander mense se evangelies
sit aan hom vas soos baie vuil vingers
se vat aan vensters.

Hy wil my wys
hoe jy die reëls móét bou
waar jy die sin mag afbreek
jy móét jou woorde versigtig tel
(kots, rots of trots)
anders beland jy in die spreekwoordelike hel,
vermaan hy.

Hy wat glo in min, wat ’n lewe sonder grense bepleit,
hy is die jaloerse God wat waak oor die volmaakte woord
in sy klein Eden, sy taal se klein-klein boekeboord
waar hy appeltjies met die tyd skil,
digters droog aan die dorings uithang
en aggressief sy stert van kant tot kant
op die paal bly swaai.

Lot

Drie wyse manne het gereis
met net ’n ster wat die pad aanwys,
’n knaap in ’n stal gevind
en Hom summier ’n kruis om die nek gebind.

God se waarheid

Mevrou weet, is maar hel vir my as ouma.

Dié enetjie is bietjie stadig,
vorder sleg op skool.
Seker oor dié se ma so baie gedrink
het met die swangerskap saam.
Hy was haar eerste,
hy het gekom toe sy net vyftien was,
nog kind, maar wys, soos haar ma.

Elke ene het ’n eie pa:
Die meisietjie, die jongste,
lyk soos die pa se mense.
Kyk haar mooi uit, mevrou,
daardie wipneusie
en die hare wat so al die kante toe staan,
uitgeknip die pa se mense.
Parmantig, al is sy so klein,
die Here weet.

Die middelseuntjie
is ek nie oor seker nie.
Sy sê dis die man wat draadgemaak het se ene
maar ek weet nie so mooi nie,
dink dis die man,
die drywer van die melktrok,
hy het haar altyd opgelaai
dorp toe, dorp toe
wanneer sy die toelae moes gaan haal
en toe is sy na die tyd weer in die ander tyd.

Ek het al gesê
sy moet haar laat toemaak,
maar sy sê sy is nog jonk.
Wat as sy nog ’n man kry
wat wil kindmaak?

Wat maak sy dan, Mevrou?

Ek meen die lewe is swaar,
miskien kry sy nog ’n man wat haar sal wil vat
so met al haar geite saam.

My verweer teen die woord

Ek ken nie vir Opperman nie
net sy verse en
ek weet van sy kwaal,
gelees daarvan,
my vriend, vertel hy hou nie van Opperman nie,
dié het hom eenkeer een uit tien vir ’n gedig gegee
my vriend is hewig verontwaardig
dít komende van ’n man, sê hy, wat eers koerant
moes lees
voordat hy ’n gedig kon skryf.

Hambidge is ok, sou jy haar eers leer ken,
reken hy,
maar vir daardie ander Hertzogpryswennende
digter het hy geen ooghare nie.

Krog ken ek weer van voordra
afgemete, effe besete,
deur die woord.

Breytenbach bly die tussen-in vryburger,
die outie, die soutie,
wat oor dooie honde se etterende karkasse
dig
en mense met voëlkoppe
verf.

fanie olivier
se beauty douglas
se last grave at dimbaza is
vergete, toegegroei onder die gras
van ’n nuwe bestel.

Die jonger digter reis in die buiteland
befonds deur stigtings, ensovoort.

Die res…
ek lees van hul nuwe bundels
en bekendstellings, kyk na hul
selfies
met kat, kind, lewensmaat.

Oor die Afrikaanse poësie
kan jy hoogstens, net, onaf gedigte skryf.

Annie Leibovitz

Die lens word surrogaatorgaan
groei tot ’n oog wat
penetreer,
binnedring.

Dié oomblik vasvang
met die druk van die sluiter
dit wat verborge was
óópmaak, ontbloot, vaslê
die lae soos lippe
van mekaar wegtrek,
ontplooi,
soos net ’n vrou kan.

Whoopi Goldberg:
swart geskaap,
wit gewas,
soos sneeu of wol,
die spatsels melk semenwit teen die dye
tog net geslagloos,
gesig, bene, arms.

Demi Moore:
die baarmoeder swaar.
volledig, twee handevol vrou,
geswolle met kind en melk,
sy behoort, ring aan die hand.

Dán, Susan Sontag:
die wrang glim- of grynslag,
regterhand in die hare
wat in kartels golf,
‘n gordyn weggetrek van die gesig.

Sonder grimering, jarige rolnektrui,
dáár op die grens,
in die grys tussengebied van menswees
gekiek, in swart en wit.

Jou kykers, waarin ek ’n teks probeer lees,
siekte as metafoor?

Incognito

Litteken
oor die neus
sy naam kan hy nie meer onthou
hy kan miskien ’n kind se pa wees
moontlik van Port Eizabeth, iewers ’n vrou?

’n Tatoeëermerk
op die linkerarm
van ’n hart,
op die regterarm
die oorblyfsels wat lyk soos
die gesig van ’n meisie uit sy verlede
iemand wat hom lank, lank gelede
geken het, nou is hy so nutteloos:
lost en (un)found,
’n vyfsentmuntstuk wat uit ’n hand gesmyt is.

Die kamera kyk:
sy gesig skermgroot
met die boggerol en die verwarde soek in sy oë
lê hy daar, bloot
niemand, sonder iemand,
soos skuim, op die rand uitgestoot,
oorskot,
uitgekots.

Na aanleiding van ’n insetsel op, When duty calls (02/09/2013)

Xmas just ain’t what it used to be

’n raasrooi driewiel,
battery-aangedrewe treintjie,
kompleet met spore,
’n holster vir die speelgoedrewolwer,

geknipte gekleurde papier gekonsertinavou teen die dak
ballonne en dosyne kerskaarte op ’n lyn gehang,

klein glasbottels koeldrank
bruisswart Coke,
guitige-oranje Fanta
of windgatgroen Cream Soda,
en skoene…’n luukse,
winkelnuut, blink gepoleer,
Vaseline-gladde elmboë en Pep Store-bont hemde.

Gewyde oomblikke met gesinne om ’n tafel
die stoele somber sonder die wat nie meer daar kan wees nie,

stil was die nag…

nou sit kinders afsydig met oorfone
borde nors op die skoot
en staar na die televisieskerm, The X-factor,

die shopping malls vra, wat is Xmas sonder Boney M?
daar is weggooihonde by die SPCA,
daar is American Swiss se liefde op krediet oor 2 of 24 maande,
daar is te veel dooie motoriste en passasiers,
en weer ’n sakdoek, soap on a rope en ’n paar wit sokkies.

Luidrugtig is die nag…

en, pasop, waarsku die koerante:

Kersvader is dalk net ’n pedofiel
met ’n koue, koue sneeubedekte siel.

Brosjure

Tussen die stadsaal en die replika
van St Martin-in-the-Fields op Trafalgar Square
loop die pad breed deur die dorp,
bly dit die hartklop
een van min, wat nie buite om die rand
van hierdie plattelandse probeerbestaan
herlei is nie.

Langs hierdie pad
met twee voetoorgange
en drie vierpuntstoppe
herlaai jy
koop groot lorries
pap en vleis
of pap en kitshoender
vul dieseltenks op.

Weerskante van die pad,
in die voue
van die nag,
waar die ligte
minder helder skyn,
daar wag die vroue
om op te klim
dorp uit te ry
en weer van Colesberg
terug te ry,
die ewige wipplankry,
van het, en nie het nie,
gee en neem
vraag en aanbod.

In geboue
wat uit ’n vorige eeu dateer
kan toeriste snuisterye
en kleinode van weleer
koop, goeie
outydse plaaskos nuttig
brood en botter, tuisgemaak

maar ook iewers hier
bid mans nou op Vrydae oor die etensuur

en Goodness van Zim
met sy pre-uhuru Peugeot, verkoop
wit, pienk, liggroen en
roesbruin eende geskep uit skroot.

Aan die einde van hierdie hernoemde straat
word die slaggate onhandig gelap
deur die nuutverkose verteenwoordigende raad.

Oral sit die walmreuk van verval
vas aan die randsteen
hier lig meer dan net die dier
onnadenkend sy been.

Berigte

Ons hou van die dood
verpak in klein beeld- en klankgrepe
vlugtig, sekondes, flitse:

die trein wat ontspoor in ’n dorpie in Peru
die Palestynse kind, vermoor,
die klein tenger lyk in die arms van sy vader,
wat God verwoed aanroep
en hardloop om die gebeente
voor sononder weg te bêre,

die motorbom die vloed die orkaan
die metaangasontploffing
die aardbewing,

die moody jong man met die hoody
en die outomatiese masjiengeweer
voor die aborsiekliniek
sy liggaam rooi gevlek op die teer,

die busongeluk
met die reddingswerkers teen
die berghang en die mense
wat verleer om wakker te word
toegegooi onder komberse
op draagbare.

Die dood bly deurlopend nuus,
asof dit uit die mode gaan
raak.

Fool’s paradise

Altyd die leier:
dié man met die gesig, gemaak vir plakkate
en kameralense,
die grynslag,
die oë wat nooit sinchroniseer met die glimlag nie,
afstandelik. Die rat
rats voor die kyker gedraai.

Altyd die leier:
opperleier,
opperhoof,
opperbevelvoerder,
opperfokweetwat,
wat gesofistikeerd weet
wáár die bomme moet val
wié die vyand is
dié leier vertel ons:
die vyand bloei nie soos ons nie
snik nie soos ons nie
lê nie snags bekommerd wakker nie
die vyand se kinders is soos stof
in die wind, niks, niemand
die vyand se vroue
is nie soos alle moeders, wat net wil hoed nie
hulle is anders as ons
hulle sterf sonder pyn
niks skeur hartverskeurend stukkend of los nie
die wonde kunsmatige blomme
hulle sit hulle nie teë teen die dood
se hak op die strot nie.

Altyd die leier:
met die hand op die hart en die land
se vlag se gat en die manne wat
bomme en koeëls en missiele en die waarheid vervaardig
se belange
wat hy,
altyd,
teen ‘n prys,
eerste stel.

Altyd die leier:
die beterweterige selfvoldane wetter.

1 van die 10 rykste persone in Afrika lees koerant

Vanoggend het hy die koerant
oopgeblaai,
gesien,
hy is steeds 1 van die 10 rykste persone
in Afrika, en gedink, ja, hy verdien
dié posisie.

Ja, hier in Afrika, met:
die horinggestroopte renosters,
die oop toilette,
die geskeurde bebloede
vagina van ‘n drie-jarige
in ’n plakkerskamp,
die sittende werkloses,
die bom in die supermark in Kenia
die dooie digter met sy dooie verse
tussen die kruideniersware,
die vlugtelinge wat deur drade
tussen lande klim,
of verdrink in bote wat sink
iewers tussen Afrika en ’n verbeelde beter, blink
lewe in Europa.

Afrika met sy:
voorgenome fracking
die ongoing fucking
looting, die uitgewerkte mynskagte,
net hoeveel persent wat onder USD1 per dag moet probeer lewe?

Hy het ’n paar posisies geval
vanjaar,
maar, ag wat,
die smerige politiek,
die inkompetente politici,
die onstabiliteit,
het die wisselkoers wipplank,
soos ’n maklike sekretaresse, laat ry,
die unies verkwansel die subskripsies
van die lede:
zip your lips, grom die leier.

Hulle het al
sy skaars skilderye,
sy eksklusiewe seiljagte,
sy gesogte sportmotors,
sy katalogus boheemse kuns,
sy (vrou) se handgemaakte juweliersware,
sy string eiendomme
in eksotiese bestemmings
in miljarde Amerikaanse dollars waardeer.

Kapitaal, kapitaal,
wins, wins,
meer en meer,
1 van 10.

Hy het sy rooibostee, sonder suiker,
uit die teepot met die lang-lang bloedlyn geskink,
toe tydsaam gedrink,
oor sy koerant geglimlag,
en gedink
hoe hy ál hierdie inligting
as hoogs vertroulik kon laat klassifiseer.

Oh, boy!

Kleinding, jy beur vorentoe,
tydsaam, geduldig,
jy haas jou langsaam,
dan…
pienkerig, nuuskierig,
kop eerste, soos dit hoort,
bars jy die onbekende ruimte binne,
vreemd is die lig en die geluide en die gesigte
en die hande wat jou wil vashou en kyk
of jy voltallig mens is:
skaamteloos kaalgat word jy bekyk,
dan skaal toe,
die maat van die slag van jou hart,
jou asemhaling,
het jy al jou tone en al jou vingers,
reageer jy op aanraking?

En die wagtende familie,
wat net gretig wil weet,
na wie trek jy?
fraai-klein is jy, vroetelend toe-oog
die hande gebal, gevuis, mond toe,
ma toe, moeder toe, hoeder toe.

Want kyk, ‘n kind is gebore.

Wel, welkom
in hierdie lewe, in hierdie wêreld
mag jy verwonderd bly
soos nou,
mag die onskuld en opwinding
van die eerste hoepel om die vaatjie
wees, vir jou ouers vreugde verskaf.

Op hierdie dag, van die laaste maand van die jaar,
op hierdie dag na die dag toe die ander ou grote hierdie land gegroet het,
kondig jy luidkeels jou aankoms aan.

Kleinding,
word ‘n ondeunde tjokker,
klou aan jou pa se broekspyp, skuil in sy skaduwee,
wees ‘n ratse rakker, ryk aan karakter,
bly gerus nagtelank hardkoppig wakker
maar bly teer, wees sensitief vir die seer
van hierdie lewe, struikel en waggel weer regop.

En sou jy wou skilder of klavier of kitaar
of net plein prakties wou timmerman of skrynwerk,
doen alles met oorgawe, met passie,
wees enig in jou soort, brand met vuurrooi vlam,
‘n pad vir jou oop.

Maar, bowenal, wortel diep, anker jou,
groei op elkeen, rank in almal in,
sodat jy eendag koelte mag maak,
vir vele.

Die man

Dit is die lang man, die lang man,
in die groen jersey
almal wou hê hy moes op die water loop…
maar hy het eerder met ou tannies,
boeretannies, met baie bagasie
en gemoedelike name soos Betsie
en ongemaklike vanne soos Verwoerd
tee gedrink,
hartlik geglimlag,
opreg, met sy oë,
met ’n hart vol onthou,
maar sonder haat.

Dit is die lang man, die lang man,
in die groen jersey
almal wou hê hy moes die brode vermeerder
maar hy het eerder
die letsels van die verlede
met sy twee hande toegemaak
die bokshandskoene weggepak
die gebalde vuis oopgemaak
’n rojale groet,
sonder verwyt.

Dit is die lang man, die lang man
in die groen jersey
almal wou hê hy moes uit die water wyn maak
maar hy het hierde land
soos ’n kind, op sy rug gedra, geabba,
die man wat ’n eiland was,
sonder gesig
met die splinters van Sharpeville,
die briefskerwe se sterwe van Ruth First
die bittere jarelange verlange
na kind, na vrou
weggesluit agter tralies
alles, iewers in sy gees vasgekerf,
weggepak.

Dit is die lang man, die lang man
in die groen jersey, nommer ses
wat nou die land, soos ’n rugbybal
vir ons elkeen wil aangee.

Die man, wat hier eens net ’n eiland was
het ’n rots, ’n universele baken, geword

Nkosi Sikelel’ iAfrika.

Gebed

Gee my weer ‘n kersfees
sonder ‘n kreunswaar kersboom
in die hoek van die voorkamer
sonder ‘n tafel met té veel.

Gee my weer ‘n kersfees
met nét genoeg, met byna té min,
gee my weer ‘n kersfees
met ‘n prediker op radio, ‘n oggendboodskap
gebring, tesame met kinders wat met oorgawe sing.

Gee my weer ‘n kersfees
ryk aan verbeelding
want hoe bedink jy ‘n takbok,
met slee en sneeu op ses of sewe
in hierdie dorre land, hiér in Afrika
met sy leeu en sy springbok
en die dood in die pot?

Gee my weer ‘n kersfees
met genoeg stilte en skemer
met weinig kletter en klater
en blink en skitter
gee my weer ‘n kersfees
met eenvoud in oorvloed
met die geliefde gestorwenes se skaduwees
wat woordeloos kom aansit,
die brood kom breek, ‘n maaltyd kom deel
die wyn kom skink, ‘n heildronk kom klink.

Gee my weer ‘n kersfees
op ‘n dorp op die platteland,
met slegs ‘n kers se lig
wat dapper teen die dood se donkerte
bly brand, en
nie al flouer sal flakker nie.

Uittog

“I am driving home for Christmas
driving home for Christmas
with a thousand memories.”

-Chris Rea, Driving home for Christmas.

Op die radio, Chris Rea met sy rasperstem
tydsaam gekweek, soos ’n volgroeide baard
in baie kroeë, met baie rook, oor baie jare,

busse, City to City, Road Link,
taxi en bakkie swaar gevul
met sleepwa se flap teen 45 grade oop
’n volle jaar se afsloof en ophoop,

almal reis:
met rolle ogiesdraad, yskas en bruin soetkys,
goedkoop verf
bedrukte hoenders in ’n hok vir die werf,
matrasse en leë sonneblomoliekanne
om water op die kop mee aan te dra
swaar leer die lewe jou dié delikate balanseer

’n windgat 4-trekgevaar
met Sprite karavaan en Venterwa
steek teen ’n blinde hoogte oor
die hunker na see laat hom geduld verloor

’n direkteur met gesin en privaatstraler
het 7 666 aandele teen R433,88 elk verhandel
om na die sneeubedekte Alpe te kan pendel
om te ski en te droom
van ’n White Christmas ver-ver weg van Afrika

’n K53-leerlingbestuurder kruie vasbeslote
in die besige baan
haar skouers gespanne gebuig oor die stuur
soos ’n proefleser kyk sy stip
na die teks van die teerpad
terwyl ek regs, rats soos ’n anglisisme, verbyglip

’n ligte motreëntjie oor die dorp
spoel die spore van mense skoon,
van almal wat vinnig hier verby was
en die duisend herinneringe
word ’n papwieldroom in ’n doodloopstraat,
doof saggies uit, raak verlore, in die rasperstem
van Chris Rea op die radio.

Klein (laaste) versoek

Kom maak weer ‘n keer vir my koffie
soos in ‘n winter, jare gelede,
laatmiddag, byna skemer.

Jy met die kuiltjies in die wange,
en die vuur in jou oë,
en die warm vlam in jou vingers.

Kom maak weer ‘n keer vir my koffie
hou weer vir my die beker vas
voordat ek soos ‘n blinde na jou aanwesigheid moet tas.

Kiekie

Arm onthou ek ons,
maar ryk van gees,
my verbeelding tot barstens toe vol,
aangevuur deur die keersy van te veel besit
die staning aan die spoor se verkeerde kant.

Ry in ’n gesinsmotor bly buite bereik,
’n verbeeldingsvlug, soos:
vakansie by die see, trapfiets,
rooi renmotor met afstandbeheer –
die grootoogbegeer van ’n kind
wat loer na ’n wêreld vol verleidelike hê
wat onaantasbaar ver
agter winkelvensters se dik glas bly lê.

Al wat help vir ontvlug
van die daaglikse geykte beloftes:
is beelde in boeke,
sprokies se goeie slotte,
die wonder van iets wat jy aan die groei kry,
rankbone om te oes,
’n sonneblom wat kopdraai na die lig.

Hoe eenvoudig was die lewe toe:
alles net swart of wit,
’n knippie twyfel
en twee hoogvol lepels hoop en bid.

Gesinskring

Pa ploeter met ses Shoprite-sakke
kort-asem bebliksemd die straat oor
sussie skarrel opgewonde voor
met die kersboom met Chinese plastiektakke,

boetie agter, sleepvoettraag met iets taai en koud
aan sy mond en vingers en hare,
mammie blaas met die waatlemoen
sy dra, ses maande se swangerswaar.

Charlton Alexander, ‘n laaste eerbetoon, in woorde

Die lewe is ‘n pad
vol slaggate en blinde kolle,
die lewe is ‘n rugbywedstryd
waarvan jy nie vooraf die uitslag kan voorspel
nie.

Up and under, forwards charge!
‘n losgemaal,
‘n gesoek na die bal,
vaste skrum,
jy die haker, voorryman,
geanker tussen die stutte,
in die spel wat jou leer om nie te klou aan besit,
maar wat jou leer om uit te gee,
die ander speler ook ‘n kans te gee.

Patat.

Jou kyk in die lens op menige foto:
inkennig, sonder ydel waan,
bykans teruggetrokke,
gesnor,
rugbyman met trui, t-shirt of kleurbaadjie en das.

Charlie.

Jy loop ‘n kronkelpad
vasberade teen steiltes op
en afgemete afdraandes af,
jy ken die twee kante van die munt,
wen en verloor,
maar,
ondanks, ten spyte van, ongeag die odds,
selfs, in beseringstyd,
kyk jy die lewe stil en vierkantig in die oë
styg jy bo jou omstandighede uit
en leer jy om steeds te gee.

Meneer.

Nou skrum jy tussen die sterre
meet en merk jy nuwe roetes in die melkweg,
nou trek jy die lorrie se handbriek op, skakel die enjin af,
nou kyk jy stil op ons neer
en wens jy ons het iéts uit jóú manier van omgee geleer.

in the house
met apologie: hein willemse: “die stormtroepe is in die strate”

die americans is in die strate
die digters is rasende rappers
die predikers is voortvlugtige pedofiele
die jong seuns dra oorbelle
die jong meisies dra swangerswaar aan die lewe

die hard livings is in die strate
die vroue stoot buite-egtelik vir dollars in seepunt & aan die waterfront
die ou vrouens byt hul naels & wag vir pensioene
die mans tou teen geslote hekke vir werk
die ou manne is vergete bagasie op stasies sonder spore

die clever kids regeer die strate
hulle bmw seuns Xstaties van rave na rave
die strate is leeg
die west coast boys regeer die strate

die skrywers is beroemd in die buiteland
die predikers word oordonder deur tupac shakur & puff daddy
die maagde dra mandrax in hulle lope

die hard livings is in die strate
die seuns dra caterpillars

die clever kids stamp & stoot nog clever kids die lewe in
die meisies dra designer jeans

die bendes is bevry
daar is geen kinders in die strate

Spoorloos

Al die bakens lê agter my
daar waar my pa en my ma eenmaal was
in ’n tyd toe alles bekend en seker was
en bestaan ’n leeftyd edel en eerlik sou bly,

neem my weg, neem my saam
laat my net vir ’n wyle weer teruggaan,

die naamborde by Reitz, Wepener en Kestell het skroot
geword, valuta vir brood of die genot van die skoot,
kleingeld vir die reis op die pil
wat nooit die hongerholte kan vul,

neem my weg, neem my saam
laat my net vir ’n wyle weer teruggaan,

nostalgie word net nog ’n ongemerkte graf, ek leer
die landskap nuut met ’n struikel-knooptong inkleur,
Modimolle, Mahikeng, Makhado,
hierdie taal en hierdie land kruip
soos ’n slang, uit sy ou, in sy nuwe, huid,

neem my weg, neem my saam
laat my net vir ’n wyle weer teruggaan,

ek is ’n dowe wheeltapper,
‘n hakkelende roepman,
’n bewerige shunter op ‘n stasie
waar ’n stoomtrein nooit weer verby sal blaas nie.

You can leave your hat on
(Joe Cocker)

Soms moet ’n gedig soos ’n Scope-meisie wees
jou met sterre in die oë tydsaam tussen die lyne laat lees,

ander weer, moet effe minder subtiel terg
maar jou tog nog steeds laat wonder, baar dit muis of berg?

Die kritici se gunsteling is die langbeenvers, die aitsa, sjoe
met die spleetsnit tot bo teen die dy, onthullend, tegelykertyd digtoe,

die huis van die poësie word bewoon deur vele vroue
die preutse wat rym, die wilde wat kabaret
die onvergeetlike gedig moker in die maag, ontbloot, ’n heilige slet.

Ken Saro-Wiwa
(10/10/1941-10/11/1995)

Bloed is (soms) dikker as water,
ru-olie dikker as bloed,
donker bloeivloei die rivier in vloed
die water taai
en dik
en swart,
dooie vis dryf
met oopgerekte oë, kyk
op na die
geel geel son
wat brand oor Ogoniland.

Met ‘n strop om sy nek
kan hy nie meer sy bek rek,
vertel en knip-oog die Generaal vir die Operasionele Hoof
die winste, die dividende wat vloei
ongestoord soos ru-olie, diep uit die onteerde aarde se lende bloei,
in die sakke van manne met ontwerperspakke
met dié $-prys per vat,
kyk die gewete, onbetrokke anderpad.

So hang hy,
met 8 ander,
9 van hulle,
op die 10de dag,
van die 11de maand,
hul voete in ru-olie
geweek, die oë groot,
soos dié van dooie visse,
hul skaduwees reuse ru-oliekolle teen die son
se geel geel geel doek.

Go well, Ken, Go well…

What’s on your mind?

Agter my
in die ry
wag daar nog ’n pos om op te kom
nog iets om aan die groot klok te hang
nog iemand om my spasie te vervang

daar is 1 000 000 000 of bietjie meer mense
op hierdie stukkie plastiekparadys
elkeen moet vir ’n wyle
by die krip op die knieg kom vreet

geborg deur ’n motormaatskappy
aanlynbeursverhandeling
met buitengewone winste op
olie, goud en silwer
Eden: virtuele donkerhoekies
met redding vir eensames
en Russiese vroue soekend na mans oor 50

Tussen bieg en lieg
skep en kruisig
die nuwe dissipels
meelopers
aanhangers
volatiele volgelinge
keuses, jou heiland leer ken

Die evangelie
Golgota of Gangnam style
die eenvoudige keuse:

“Hit if you like and share.”

Besit
(na D J Opperman se, Edms. Bpk.)

Myne:

tot dáár waar my oupa se pa
kon kleim afsteek
die rivier se vloei
kon stuit, kon opdam,
kon opgaar en aflei, vir eie gebruik,

die koedoe, die springbok, die eland
wat oor my heining vlug
is myne, geoormerk
vir my geweer se loop,

die ooie gespons
om meer lammers te gee
die slang moes padgee
uit die skeur,
die boom se wortel
het ek uitgekap vir die swembad
en die grasperk se sagte mat,
die wolf kruis ek met die hond,
bemark dié werpsel as my eksklusiewe stamboom
die dassie wat ewe op die klip kon sit
en nou ver van hier, langs
‘n teerpad, die son moet aanbid,

die depressie se bloedgeswete pond
is gepers in elke morg van hierdie grond,

my vrou,
my kinders, my geslag,
my werkers, sonder huurpag

Myne:

net die weer, dié kan ek nie beheer,
en die verrot wat skuil in die saad, dié kan ek nie keer.

Die teks: selfie van die ou skrywer
(by die lees van Helize van Vuuren se huldeblyk aan Hennie Aucamp)

Híérdie foto vra vir ‘n anderste kyk:

lees,
in plaas van kyk,
lees, stip,
versigtig, aandagtig, punteneurig,
lees, keurig,
tel die woorde,
wik en weeg by die strofes,
meet en pas.

Die papier verberg meestal,
net soos die poeierkwas
die vlek, die vrat, verbloem,
of die beste kant vóór wil hou,
só steek die woord die verval weg,
wys dit nie,
die hand se vingers wat dom verdwaal
om pen op papier te kry ,
die knieg wat nie
die gewig van die lyf kan dra,
tot dáár waar die bene eens flink
die berg uit kon klim,
die heup wat nou broos ingee,
die arm sukkel onseker met die muurbalmoker.

Die lyf gee stadig op,
op lewe.

Die vers,
egodokument,
die woord,
word die selfportret
wat bly grynslag,
byna burlesk.

Die man, heel, vóór die beroerte,
reis nou, sonder padkos of koffer,
sy handskrif ‘n rotstekening
wat langer as die gekrabbel op die kubermuur
sal duur.

Bly te kenne

Jy’t aanvaar dat ek
abnormaal serebraal
koud en klinies
brutaal en berekend
sou móés skryf
“jy’s immers ‘n man van syfers,”
het jy opgemerk

maar

nou woordvorm ek ook verse
wat warm wemel, vol kole onthou
vlamme gloei soms in my sinne
en my slotreëls, dié bloei
heel

menslik.

Slave to the rhythm
(Grace Jones)

In die fabriek se daaglikse swetende sweis
en sproei vanagter die masker met ’n verfgeweer
vervaardig ons ’n bestaan vir die aktetasmeneer
wat elke maand gulsig sy pond vleis kom eis.

In die benoude ruimte van die vensterlose kantoor
vreet die rekenaar stelselmatig die vonkel uit ons oë
sit ons met die troostelose skouers geboë
sing ons, nootvas, sonder verset, in hierdie slawekoor.

Ons is almal vroeg reeds geleer om te koop
met geld uit geprojekteerde en toekomstige verkoop
die taai seekatklou van plastiekgeld en krediet
het ons ingeperk in hierdie uitsiglose spergebied.

En oral is almal met ’n oorvloed aan skuld
goeie, gehoorsame burgers, loop hulle fyn op die lyn
protesteer nie, bedank nie, vat stil die pyn
sal hulle slaafs en gedwee die ketting aan die brein duld.

Die bank is lankal die nuwe kerk
die engel, het ’n kredietkaartvlerk
die munt, troef die kruis.

Minimalisme

Klein luukses:
om warm brood tydsaam te botter,
terloops, aan jou vingers te mag raak,
deur ’n venster,
met skrefies sonlig,
na die boom se bruiner wordende blaar te kan kyk,
na die twee opgeruimde mossies te kan luister
en soggens vir hulle krummels
kos te kan los
op die agterstoep.

Ek leer om die rug te keer,
om met die gestroopte ritme
van eenvoud,
asem te haal, om klein en kaal,
gebuig, met die oog teen die grond,
stip, na die spikkelgang,
van die mier
te kyk.

Ek probeer om die onnodige mis te kyk,
dit doelgerig te ontwyk.

Human trafficking

Uit Kenia kom sy:
God se rusplek, ook plek van Uhuru,
hy’t haar dáár in ‘n kroeg sien dans
ritmies, polsend soos net Afrikane kan dans
terstond ‘n loopbaan belowe:
model op loopplank,
miskien ‘n voorblad,
wie weet,
hy het haar later die aand besope ingelyf,
herdoop tot Linda,
om makliker op die Europese tong te val

goedgelowig het sy hom geglo,
die min wat sy het
gepak en getas, afskeid geneem
van haar godverlate bestaan in Afrika,
sy’t aan die familie gesweer om gereeld geld
vanuit te vreemde te stuur.

Saam met hom het sy vertrek
saam met hom het sy gereis
saam met hom het sy in die vreemde geslaap.

Die woonstel in Engeland
hou haar nou gevange,
dáár waar sy leer om met die
valuta van die lyf handel te dryf
sy vriende, kennisse
en ander aanhangsels
deel nou kortstondig haar bed,
die daaglikse dosis fok
om sy kostes te verhaal, gelyk te breek:
die vlugkaartjie,
die fix of twee per dag,
die woonstel se huur, die kruideniersware,
die onderklere, die skoene, die parfuum,
elke sent moet hy uit haar verhaal
iemand moet vir dié gelag
betaal.

Sonder paspoort kyk sy soms by die klein venster uit
wag vir ‘n fotograaf om eendag haar voorbladfoto te skiet
of ‘n verfynde flambojante ontwerper om haar vir die loopplank te klee
soms maak sy haar oë in die bed toe
herhaal woordeloos haar naam vir haarself:
Ayuba, Ayuba,
probeer onthou wie sy eens,
lank gelede, in Afrika, was.

Live to tell

Op agtien is jy onsterflik,
byna soos Bob Segar sing:
“I was lean and solid everywhere.”
Op agtien dink jy nie graag aan die dood nie.

Op agtien soek jy na jouself,
opgewonde oor tienermeisies
wat jou in sprokies laat glo,
jou tongknoopstotterrend
oor jou woorde laat struikel,
skoenlappers en reënboë laat sien;
op agtien dink jy nie graag aan die dood nie,
op agtien is jy onsterflik.

Op veertig moes sy nog dink aan kleinkinders,
moes sy hulle kon sien groei,
rank en verskiet,
op veertig moes sy dink aan oud word
met brei- of hekelwerk op haar skoot,
moes sy dink hoe sy op die stoep
in die geil genade van die winterson
met die radio aan sou sit,
haar grys hare in ’n stemmige bolla gebind,
al die leef wat sy nog kon leef,
die stories wat sy nog kon vertel,
die vrugte wat sy nog kon inlê,
die potplante wat sy nog kon groei,
die klein vreugdes van rusies met haar man
of die wars en dwars skoondogter.

Op agtien moes ek aan die dood dink.
Sy was net oor die veertig
toe sy sterf
op die stoep,
toe haar hart se kleppe ophou fladder,
toe die teekoppie flenters uit haar hand uit val.

Eers later, heelwat later, sou ek Stephen Dunn lees,
sy vers aan homself.

Sixty
noem hy dit,
en sou ek hoop om ook op sestig
’n vers te kon skryf;
my eie klein traktaat
oor hoe ek die familie
se swak en defekte harte
kon klop, kon troef.

Klein momente

Skuins voor ses,
die son wat aalwynrooi
op die einder
die laaste grys wolke soos ’n duvet
tot onder sy neus optrek.

’n Paartjie stap,
flink met ’n Duitse herdershond,
die man met ’n trui om die heupe gebind
kantoorhemp en –broek

’n donker kat
versit roekeloos voet
oor die besige deurpad,
dobbel met die dood,

later,

nog ’n man wat alleen in swart
die straat invaar
om te draf teen die klont in die aar,
en die hart se ritme probeer bewaar,
hy versnel, sy asem swaar.

Ek sien hom, om
die draai verdwyn,
verby die plek met marmer
en inskripsies op die steen
en die dennebome,
en kruise met engele,
en vars rooi grond
en flenter blompotte.

Hy raak een met die skemer.

Wrog

Híér
gaan die nietige mier
onder die water spoor die wier

die kamera van die oog
bly onverpoosd fokus, poog
vang die oopplof van die reënboog

die splits van die atoom
die kring binne die boom
die geheim van die chromosoom

lig snel teen 299 792 458 meter per sekonde
die waterval struikel oor die afgrond
die rivier sterf in die mond

die berg spu uit die vulkaan
die gety trek na die maan
die see laat die walvis op die strand dood begaan

die blaar verkleur
die sperm leer
leef, die nuwe plantjie beur

die by kry by die blom
nektar, heuning kom
voltooi die komplekse som

die vlieg, die kakkerlak
’n vinknes talm aan ’n tak
die mens wat tydelik op die aarde plak

die skilder se kwas wat talm op die doek
die komponis se oor wat die simfonie soek
en uiteindelik: die maaier wat op die skepping se kroon kom koek.

Johannes

Die doper,
die rocker,
die joernalis:
hoeveel maskers moes jy dra
om die ongemaklike vrae te vra?

Sterre brand uit…
tuimel brokkelrig aarde toe,

maar rockers gaan nie dood nie
bly ongereformeerd
hulle loop met head phones
verby kerk en orrel
verby die hiernamaals
verby die Sogenaamde Petrus
die ewige gig binne…

ons bly agter, word kantaantekeninge,
by die bladmusiek van bloot bestaan,
met kredietkaarte en oortrokke rekeninge
bly ons moeisaam oorleef,
maar eet tog nog, af en toe, kreef.

Gereserveer
(na Rosa Parks, tussen Cradock en Kookhuis, iewers in die 1970’s)

Ek was veertien
toe ek vir die eerste keer gehaat het,
hartstogtelik gehaat het
byna tot dit seermaak.

Op veertien was ek oud.
Die einde van die skooljaar:
gunstige rapport, goeie posisie in die klas,
opgewonde met bagasie
die huis was net ’n treinspoor ver,
vroeg die oggend op die stasie
die trein tóé nog stiptelik, roostervas,
kom net na nege
om ons weg te neem,
weg van skool en losieshuis,
losieshuis met te veel klewerige peanut butter
te gereeld op die bruinbrood,
en te min spasie vir studeer.

Die trein het ingeslang, die remme aangeslaan,
die kondukteur het grasieus afgeklim,
ek het die reiswa blindelings tegemoet gestorm,
die deur na binne oopgedwing,
die venster afgedruk,
my broer het die koffers aangegee,
die eenvoudige huis met die warmte
was net ’n treinspoor ver.

Hy was swart en groot
met uniform gesaggroen,
dienaar van die gereg
en eng onderdanig
‘Klim uit!” het hy in vlot Afrikaans beveel
hy die buikspreker,
hy die stem sonder stem.

Ek het doof geword, net bly staan
ek en my broer en ons bagasie,
maar hy het volhard,
“Klim uit, die wa is nie vir julle nie.”

Hy het ons verwyder,
arrogant afgehaal van die trein,
laat sit in ’n aanklagkantoor,
op veertien en twaalf
was ons ’n bedreiging vir die orde.

Ek het die trein sien wegry van die perron
sonder my broer of ek of ons bagasie.
Op veertien is verset te tenger en futiel
die huis was nou nie meer net ’n treinspoor ver.

Ons het bly sit tot seker ná vier die middag. Ek het my woorde getel,
toe het hulle ons laat gaan
die laggende manne in uniforms
wit en swart,
dienaars van die gereg,
manne met gesag,
bewakers van die bestel
wat met plastiekplakkers jou plek bepaal.*

Die goederetrein, met ’n beknopte donker rywa
het ons sonder haas tot by die huis gedra.
Dit was al lank na twaalf die nag
maar my pa het gelate op die stasie bly wag.

Ek kon nooit weer iemand, iets haat soos toe ek veertien was.

Dáárdie bagasie is net té swaar om ’n leeftyd saam te dra.

*Die aanwysings buite op treinwaens om aan te dui vir watter rasse dit
gereserveer was, was plastiekplakkers. In hierdie geval was die plakker aan
die kant van die perron waar ek opgeklim het, nie aangebring nie, maar
wel aan die ander kant van die wa wat nie vanaf die perron sigbaar was
nie.

CBD

Buisligte
in kantoorblokke brand
dwarsdeur die nag,
deur ruite sien ek stoele staan
leeg voor lessenaars,
sonder sitvlakke
of vingers wat gretig
tas na die toetse van ‘n rekenaar,
telefone stil,
netjies gerangskik, verbeel ek my:
dokumente met papierknippies,
helderkleurige notas met nommers
en boodskappe:
bel terug, die tjek sal voor die naweek kom,
die rekenaars by die bank is aflyn,
die kind is siek,
‘n tante dood.

Sekuriteitswagte staan,
flits in die hand,
hou wag,
infra-rooi tuur die kamera-oog in die nag
op ’n hoek, donkerige spleet,
’n meisie-vrou, wat aan spinnerakke niks probeer vashou.

Die bus,
vol slapende, uitgeputte mense
rem en stop,
rem en stop
die verkeersligte se kykers bloedbelope rooi.

Blokke en blokke
chroom en staal, blink motors,
apteke met die voorskrifmedisyne
vir hipertensie, borspyne,
cholesterol, angsaanvalle en impotensie.

Propagandaprofete basuin met neonligte
hul evangelie reklamerooi teen die hemelruim:

Koop en verkoop, bestaan is ’n winskoop,

Buy one, get one free!

Canes pugnaces

Met elke landskap vertel die littekens
die afskuwelike geskiedenis
van die menslike dier se weersin in sy ewebeeld wat net effe
anders lyk,
anders bid,
anders dink,
anders aangetrokke voel.

Die televisiekamera toon die seuntjie in Sirië,
naamloos, se blonde krulkop,
met nêrens heen om te vlug nie,
wees en weerloos, onskuldig,
soek hy verbluf na die oorblyfsels van sy familie
tussen die kraters en hope (eens) gewapende beton
van woonstel en winkelsentrum
nou tot bondels puin fyngemaal
deur grofgeskut, ongeleide missiel
blindelings afgevuur,
land lukraak, dood sekuur.

In die suide van Afrika toon
standbeeld en museum
’n sterwende skoolseun,
bebloed in skoolhemp, kortbroek en trui –
oral is tekens om te vertel,
om te onthou, ons verhaal van vergryp,
die einde van ’n bestel.

Die geskiedenis word herskrywe,
die horlosie teruggedraai,
die kalender skoongevee,
niemand mag onthou nie,
daar is geen wortels wat mag groei uit die verlede nie,
die Khmer Rouge roep die Jaar Nul uit:
die nuwe begin, die nuwe mens.

Ontmenslik in gaskamer, in martelkamp,
die baba gebore of ongebore, oues van dae
verkrag, verbrand, verkluim, opgekap, onthoof, versmoor:
die aarde oor die magswellus verbonde aan uitmoor:
Batak, Nanking, Odessa.

Aanskou die mens, hiér
is die skepping se ongenaakbare Opperdier.

Belydenis

Vir jou sal ek ophou glo
in die verwarrende warboel
kompleksiteite van bestaan,
die diepe verborgenhede van ontstaan,
hoe aardig pas ons
net waar,
in die swaelstertvoeg
van die heelal
inmekaar?

Ek wil net
weer verwonderd staan
oor hoe anders die mossies se tjilp-tjilp
dan juis vanoggend klink
as jy net met die dieper oor wil luister.

Hoe daar legstukke van verborge lewe
opgesluit lê in:

dooie bas,
brokkies klip:

tussen riet en vink
mag jy die sleutel tot die skepping vind.

Vir jou wil ek ophou twyfel
en onvoorwaardelik glo,
aan die stil,
gestroopte, verskeurde skoonheid
van verlang:

daardie gedempte,
ek wil, ek móét jou hê,
wat ongesê,
soos veraf einders,
tussen ons bly lê.

Heelal in my tuin

Daar is misterie in eenvoud
die tuinslang in my hand
die water wat egalig vloei
die gras wat halfhartig groei
en kolonies miertjies wat opskarrel
vlug na die ringmuur se veiligheid,

die tuinslak neem waar, sonder haas,

vroegskemer
die maan kaasgeel teen die hemel,
daar is misterie in eenvoud
dink ek terwyl ek daar staan
die leer om te laat staan
en te laat gaan:
kyk na die mier.

In die oggend kom twee mossies
goedgelowig
op die stoeplig
sit, kwetter-skater,
wagtend dat ek die krummels uitgooi

mier en mossie het die mistiek
van bestaan
gelate aanvaar, selfs gras verstaan
nou,die groot misterie van reën, uit ’n tuinslang.

Die tuinslak gaan, sonder verset, sy gang.

Closing time*

Die hotel se eetsaal, helder
ligte, goue kandelare
goeie wyn vir jare gekelder,
’n Joodse eienaar, tweede geslag,
die spook van Auschwitz senuagtig in sy are,

die hotel, langs die stasie
met die brug en die perron
met twee rooi geverfde emmers
wat hang aan ’n paal,
een gemerk water, die ander sand
vir as die brand
eendag na hierdie godverlate bestaan sou kom;

binne, die vroue met crimplene minirokkies
soos Trustbanktellers,
oordadige lipstiffie,
bykans almal dieselfde bee-hive haarstyl,
heuningsoetsappige beloftes in die swaai van die heup,
die mans het swart pakke gedra
gedas, sigaret of glas in die hand
daar was min wat hulle kon pla…
spierwit tafeldoeke,
swierige silwer eetgerei,
oordadige opskepbakke,
niemand wou gly of ry,

die band, ingevoer van ’n naburige dorp
kitaar, ’n houding, dromme
en helder geel sonneblomme
geverf op die Volkswagen kombi
’n klomp mechanics en
’n used car salesman op lead vocals,
brylcreem ramkatkuiwe,
ducktails, Omo-wit hempde
en Afrika-swart bow ties,

later, die ligte effe gedoof,
“Oh my darling/knock three times on the ceiling if you want me.”
net voor twaalf het Elvis
die pelvis van Memphis,
smeulend uit die skemerte van die verhoog gesmeek,
“Love me tender, love me sweet,”
op die stasie het ’n trein verbygesnel,
die Jood het die band se note afgetel,
en in die agtergrond het die Eagles profeties voorspel,
“This could be heaven, or this could be hell.”

*Die titel kom uit Leonard Cohen se gelyknamige liedjie. Die term “omo-wit” het ek by wyle Wessel Pretorius geleen.

(nie) almal wil ’n huisie by die see hê (nie)*

elkeen wil ’n pop idol wenner wees
& ’n make over kry
met ’n naelring,
’n bietjie meer boobs,
’n shaved vagina,
& ’n tight pair of low cut jeans
’n best selling cd &
interviews in huisgenoot
& ’n hele jaar se gigs by feeste
in vreemde plekke ver-ver weg
van boksburg of grabouw of hondepisbosfontein se sleg

elkeen wil op ’n reality show wees
wil ’n nuwe kombuis of badkamer of lyf hê
& verbaas oh my god in die lens se oog in sê

elkeen wil ’n pimp wees
’n rapper wees
’n hoer wees
wat met slinkse dy
& blatante boesem elke deur tot heel bo oop gevry kan kry

elkeen wil op oprah se kansel wees
blymoedig aan haar voete kniel en hoogs gevlei
gratis promo material van die sponsors kry

elkeen wil op dr. phil se show
die hart & die siel & die lende ontbloot sodat everybody kan know
net hoe die great american dream nou post-traumaties ontvou
elkeen wil as ’n ex-junkie
op jerry springer se gleuf
vertel van die seks & coke op 7 op 9 op 12 & ’n bestaan te vroeg-jonk deurgeleef
elke politician met te min geld vir te veel commitments
wil in die parlement kom
elke sielsieke wil die gesondes lei
& begeesterd op die groot hiernamaals voorberei
elke celebrity
het iewers ’n morsige video tape
met ewe morsige sex
& ander morsige habits
om te verkoop of te laat steel of te laat surface
op die web of die net
elke keer as sy/haar gewildheid taan
of ’n ander party in die verbrokkelde huwelik se kamerdeur kom staan

& elke serious digter wil tussen alles net nog ’n laaste stunning gedig skryf
wat sal bly voortbestaan lank na die onafwendbare aftakeling van hierdie lyf.

*met apologie aan koos kombuis

nuwe alfabet

a staan vir nog steeds vir afrikaner
maar wie is vinkel & wie is koljander?

b staan vir oorbodig bruin
want jy kry nie eens meer werk in die tuin,

c staan vir china
hulle maak ons bang oor die dalai & steel al die tuna,

d staan vir depressie
moontlik die onderste punt van ‘n resessie,

e staan vir eish, cosatu sê trevor raak wys,
f staan vir fokkol
nes freedom meen dit nou boggerol,

g staan vir geld
almal se vbs-spaargeld is oornag skoonveld,

h staan vir herstruktureer
en op 50 moet jy nuwe skills aanleer,

i staan vir it
en dit rym snaaks genoeg met shit,

j staan vir julius of joost
liewe hemel maar die media is boos,

k staan vir korrupsie
of ’n direkteur se biljoen dollar futures glipsie,

l staan vir laduma
wil jy staan of wil jy zuma,

m staan vir madiba, ja madiba, ag ja, madiba,

n staan vir niehaus
met die kamoeflage, die rage & die simpatie in luthuli house,

o staan vir ja, oprah of obama
ek wonder hoe lyk hillary sonder pajama,

p staan vir phosa
hy dig in afrikaans & is nie ’n xhosa,

q staan vir quo vadis
met townshipstrate vol riool & die reuk van pis,

r staan vir rugby
hel, hoe lekker kan ons tog daaroor stry,

s staan vir shabir shaik
ek dink daai lyk is ’n fake,

t staan vir tito
die eks-bankier met die groot ego,

u staan vir ubuntu
maar net waar skuil omkoentoe,

v staan vir vuvuzela
gaan jy maar bly of gaan jy kwela,

w staan vir mama winnie
en helen is nie meer die queenie,

x staan vir xenofobia
by teasers dans ’n meisie met die naam xenobia,

y staan vir yster
net 18 jaar & almal raak die spoor byster,

z staan steeds vir zoeloe of zimbabwe
& almal wil graag ’n plaas hê.

Haard

Eens het ons geaard
in huis met gordynkap van hout
waarop nederig uitgestal was:

‘n miniatuur Volkswagen Beetle,
‘n leë 150ml Coke-glasbottel,
‘n volstruis gemaak, met ‘n denne-akkerlyf
en roomysstokkies as been en nek stokstyf
‘n kompas, aardbol en skulp
waaruit die see kon ruis en gulp,

mure met kitsch geraamde portrette:
die Wederkoms op wolke,
‘n Herder, staf in die hand
met skaap en stralekranse son
of
die wye weg van die man met die vurk
en die vrees vir die verterende uur
van die vuur,

Wat is ‘n huis sonder ‘n moeder?

daar is soveel wat ons net moet hê

die huis het nou ‘n Fortuner
en nog ‘n motor met ‘n ster
voorop om deur te korrel,
jou oog nougeset op die breë weg se borrel
te hou, wat wag om te bars,

die sterwe in Sirië
die soel gebeentes van Soedan:
ons hou van alles, ook die dood,
en die nood,
plasma-skermgroot,

Huis word ‘n vierletterwoord
waarin ons nou worstel om te aard, te hoort.

Klaaglied van die kinders
(16/06/2015)

Ag kyk, ons is net klein en nietig,
daar is te veel van ons.
Julle vervaardig ons soos moere en boute,
kopuleer en produseer ons.

Op straathoeke draai julle vensters op
teen ons bestaan, sluit jul deure dig,
vergeet van ons agter julle berge verpligtinge,
heilige dagtake.
Ons lywe is oud en afgeleef.
Op tien het ons al meer
as julle generasie gesien.

Ons –gebruik en misbruik –
ons is die karakters in nuwe sprokies met snertstorielyne:
ons maagde se skoon fyn voue kan oues se siektes genees,
ons beendere is sterk medisyne, moetie om vas te klou aan mag.

Ag kyk, ons is net klein en nietig,
daar is te veel van ons.
Julle vervaardig ons soos moere en boute,
kopuleer en produseer ons,
brand ons uit soos onbruikbare afval,
ons die nuttelose skroot van die skoot.
Pomp ons vol droomdwelms
sodat ons nooit honger na brood of ’n pa kan vra.
Snags slaap ons wakker op straat,
in stegies onder karton,
in vullisblikke, langs straathonde.

Ons het nie vaders, moeders of hoeders nie,
ons is wees hoerkinders
van ou en nuwe bedelings
Ag kyk, ons is net klein en nietig,
daar is te veel van ons.
Julle vervaardig ons soos moere en boute,
kopuleer en produseer ons.

Sit ons dan nou uit soos troppe rondloperhonde,
soos plae rotte of kakkerlakke,
stapel ons jong lyke buite sigafstand
van die stad se helder neontekens.

Skeur die sluier, skryf koue kliniese verse oor ons,
sonder knus troetelwoorde.
Ons is niemand:
Ons is nie die kind van Ingrid,
nog minder ogilvie douglas,
nog minder Antjie se kleinkind in die droewe verre.

Ons is net die verbryseldes van Wilma se vers.
Roei ons uit, wis ons uit soos onkruid:
Ons weier om langer niemand se kinders te wees.

Reisjoernaal (Prins Albert, 11/2018)

Boeke en lees versit die tentpenne in die kop
maak die ankers los
laat jou toe om te dobber op die
ruwe see, onvas
die oortuigings/opvattings torring
soos dit hoort

‘n gastehuis met
baie boom en voëlkoorklank.

En rak op rak:
Graham Greene,
Philip Roth, ook Wilbur Smith,
John Grisham en T S Eliot,
Charles Dickens, Larsson,

Ellen Kuswayo, Call me woman.

Verhoog en saal
en stem en woord en sin
en soek
en verlore vriende vind
en vloek soos net Afrikaans kan vloek
en covers van Koos,
‘n praat- en straatdigter met die geheue
soos ‘n hardeskyf,
vertel Louise Wondel is dood,
en ons verlang na Lamine Konté se snare,

‘n dop op ‘n verloorspan
nuwe vriendskappe bevestig
in toustaanry vir eet en drink
en mediterranean lamb en olive oil en couscous
en kampies met moerse merino
en wye strate vol stilte.

‘n Kerkdiens, gesneuwelde helde en vaders en makkers.

Hoeveel myle lê daar tussen mens en medemens?
wonder ek en die gryse wyse grande dame van verset,
hoeveel klip kom kristal in hierdie land se hart?

‘n Sondagaand, die steiltes af,
die liggies, vuurvlieggies op die teer
wat die ongeluk en dood moet keer
terug na ‘n stasie,
waar ‘n bus sal aandoen,
stories oor spoke,
kinders se gebrek aan respek,
ons kyk en koes vir koedoe
praat oor spore
en hoendervleis kry, oor ‘n roepman
‘n stasie, ‘n trein se skree,
‘n brug.

Op die stoep skuil ons.

‘n Hotel met ‘n Visa-hanger aan die deur:
“closed.”

‘n kafee, onder konstruksie,
‘n skril wind,
trokke wat die nag in steundra
aan die vrag.

Die sinjaal is groen,
hierdie reis eindig nimmer.

Nabyskoot

Daar sit flenters vergeet
tussen sy vingers vas,
vaagweg tog nog bekend, taai
soos kleintyd se klewerige tameletjie,
flardes onthou het weggewaai
deur grensdrade
wat plek-plek voete gekry het.

Wat was haar naam nou weer?

Wat was die kleur van haar oë?

Hoe helder was haar lag?

Hy skuifel klein passies,
tussen stoel en stoep,
tussen bed en tafel,
probeer op sy boekrak
titels ontrafel
van stories, gedigte.

Soms, met sy skaduwee
vooroor gebuk by die leeslamp
sit hy en blaai en blaai,
tas vergeefs na woorde wat eens
vlugvoetig, sonder stotter
na hom kon kom

Wat was haar naam nou weer?

Wat was die kleur van haar oë?

Hoe klokhelder was haar lag?
Hoe het hy só verleer om te onthou?

“Met woorde soos met kerse”

Skemer

Met woorde soos met kerse, sug jy, Antjie,
en reeds lank voor jou pleit ook Adam
met woorde soes met kerse,
om lig te moet maak
in die donkertes van ons land,
hiér waar selfs kinders nou desperaat hand
aan eie, geknakte lewens slaan,
moeg raak vir dié leë bestaan
nog vóórdat hulle kon leef.

Waar pas hulle in?
Wat is nog die sin?

Ons is oud gelewe;
soek verslae antwoorde
in hierdie skeefgetrekte wêreld,
geskep óók juis deur óns,
hiér waar almal
mooi, slank en blakend
móét wees, in die groep móét pas
met skooltas en skooldas
móét presteer, harder móét leer,
die likes móét kry na die status updates.

Die kinders is oud soos ons,
met dade ruk hulle ons
woordloos tot stilstand,
blaas hulle die kerse uit.

Durban

Dis lekker by die C
roep die rooi reklame-raam
van die selfoonmaatskappy,
ek onthou:
by Magoo’s/Why not Bar,
lê die lang versetskaduwee van Robert Mcbride:

ons land is ’n bomgeskokte troepie
met post-traumatic stress disorder,

grys toeriste soek in helder Hawaiiese hemde
na die legstukke van ’n ou Transvaal, TJ, Ford Cortina,
verby, verby, verby, is die verlede…

op die see se branderasem, die reuk van rou riool,
op die stoepe van hotelle
met brandy and coke,
tussen covers van Neil Diamond en Elvis
soek ons in hierdie klewerige stad na vakansieherinneringe,
bakbrood en padkoskoffie
soet soos suikerriet,
verby, verby, verby is die verlede…

by die Killarney Hotel het Glynis en Stacey en
Amber eens gestrip
langs ’n bord met eier, steak and chips,

Afrika se diaspora hang flenters
uit die vensters
van die Lonsdale:
nat wasgoed word wapperende vlae,
tekens van nuwe tye;

Point Road
se dames laat die ligte nog rooi flikker
maar nou herdoop na Mahatma, lyflike verset,

ek, die toeris, met my kamera, kyk en wonder
hoe verset jy jou teen vergeet
hoe kom jy in opstand vir onthou?

skryf word die ongewapende weerstand
die woord, ’n onopsigtelike motorbom.

Truspieël

Die tyd het ons agtergelaat:

ons is geroeste posbusse
aan voorhekkies wat vergeefs wag
op helderkleurige koeverte
met seëls en sierlike
handgeskrewe adresse,

ons is die kole
in die stoof wat uitbrand sonder ‘n
konfoor om ons hitte op te vang

híér, in ons
in-en-uit-die-padbestaan
pas ons tog so onvanpas
nog bymekaar:

lampetbeker en –kom

ek en jy,

juk en skei.

Ons het oud geword:

wie sal nog vir ons ‘n voetpaadjie
skoon wil skoffel?

die mankolieke trapreling weer
staan kom maak?

ons trap dom, onbeholpe
af
teen hierdie
vervlakste
skuifelvoetskuinstes.

Ons is nou nietig:

voetnote in fynskrif,
slordige setfoute in die kabaretteks van die lewe.

Wroet

Vir jou kan ek nie ’n stunning of ’n silly love song komponeer nie

ek wil vir jou iets skryf wat meer aards is
wat kan groei,
die sirkels van seisoene kan omvat
rank kan vat,
koelte kan bied,
om lief te hê is harde werk, soos tuinmaak,
om dit sinvol te verwoord is twee-keer moeiliker

ek wil vir jou grond breek,
beddings uitlê,

ek wil vir jou keerwalle skoffel
sodat ons nie weg kan vloei,

ek wil vir jou met rotse en klip stoei
onkruid uitroei

die reuk van vars grond onder my naels
aan my knieë

ek wil verplant en oorplant, uitplant

bobbejaantou en katklouklimop oplei,

ek wil vase vol varings hang
’n tuin bont en besete beplant:
aandblomme,
hoogstamroos,
klipbelletjie en sneeuklokkie
met tamaryn, toorkruid en wynruit,

vir jou kan ek nie oor die liefde gedigte skrywe nie:
hoogstens oor verlies,
oor seisoene van snoei
en groei
en sterwe wat subtiel saadskiet in die bloei.

Behoorlik daartoe gelas

Hulle kom om te ontheilig:
dit was eens privaat en intiem was
kom krap hulle beterweterig
oop, trek die laaie snedig uit die vertoonkas

loer onder die geelhouttafel se blad
bespiegel oor die hout se bloedlyn en die grein
toets oorgewig die riempiestoele se lat
draai die fyn porselein
koppies en pierings onderstebo asof hulle kripties
by ’n hoender se agterent oploer
trek neus op, koer,
vee stof hooghartig af
met die gemanikuurde voorvinger
ontsyfer bysiende die handtekening
op die landskapskildery.

BKB hou veiling,
meubels, motor, losgoedere en woonplek
behoorlik daartoe gelas
deur die egpaar wat verhuis, eintlik trek
na die aftree-oord waar bittermin kan inpas

hulle pak uit en op
die woning het te ruim
geword, daar is te veel tuin,
te veel boorwater, te min stem

net twee kinders, verstrooi oor die aarde:
die trapfiets se vlegsels
praktiseer in Perth,
die klavier se vingers tas incognito
wildvreemde torso’s af in San Francisco

die mevrou met die man, met die Texashoed
die tjekboek en die paar duisend hektaar landgoed
tokkel op die klavier
sy moet dit summier
hê, vir wanneer die brugklub weer
by haar kom skinderstories en kaarte uitruil
sy ken net die lewe van hartens en skoppens,
die afslaer jaag geslepe die pryse op
laat jou later selfs onkant teen jouself bie

hulle dwaal verwese deur die huis, word ’n onwillige gids
terwyl ’n hele lewe in drie ure voor hulle verbyflits

die garage, ’n buikvol onbruik
die grassnyer, die leer, die boomskêr, ’n gekraakte kruik
’n stel Encyclopedia Britannica en ’n rak volgepak
Reader’s Digest boekies
Huisgenoot se resepte vir allerlei koekies
’n nuwe motorband
’n halwe emmer bousand

die werf loop leeg
hy verdwyn weer die huis in
kom uit met ’n klein bruin koffer
hou dit met bewende hande vas
maak my ’n offer
vra hy, onhoorbaar sag, en bied aan:
’n flits, kaartjieknipper, ’n fluitjie,
loper vir ’n kompartementdeur,
’n Zobo-sakhorlosie aan ’n goue ketting
iemand van ’n treinmuseum koop alles vir een honderd en vyftig rand

met net sy gestroopte siel loop hy daar uit
en wag in die skadu van die stoep vir God
om te kom met die laaste bod.

Spare parts

Die gedig is soms soos ’n ou skedonk
met aangebrande vonk-
proppe, ’n lastige olielek
op ’n plek,
iewers, wat jy nie mooi
kan plaas, nie raak kan kyk,
met bewerige skokbrekers
en verslete bande

die digter voel die kloppende ritme
en die simfoniese gladloop
van die volmaakte enjin
wat in sy oor hom bekoor
hy kan die timing hoor
dwaal en die hakkelende enjin
onder die vingerpunte voel stotter

met sy socket set verstel hy die
spasies tussen reëls
vervang verslete seëls
draai hy sinne in rym vas
moersleutel hy tot alles pas:

’n gedig moet goeie brieke hê
om windgat sy sê met ‘n spin en ‘n dice te kan sê

maar die digter bly die ewige appy
en die volmaakte vers bly luier onhoorbaar ver
bly buite bereik, soos die verruklike vy-ryp Miss November
teen die muur, op Pirelli-tyres se kaalbaskalender.

Slagplaas
(na Koos Prinsloo)

Die bloed
is oral rooi, ongeag.

In abattoirs die land oor
hang die diere koponderstebo
geslag
mans met slagmesse
krom en blink geslyp
soos erekte falusse
in oorpakke en wit stewels
sny die kele af
sonder gevoel
die dier skop en spartel
vark bees lam
net bloot werk
afgestomp die hand
afgestomp die menswees
bloed vloei in afvoerpype
die riviere in.

Die mens moor
om den brode
oor hierdie land se
ver verlate vervlakte
morge plaas spoel die orgie, word
die daad gepleeg
met mes en geweer
met hamer en bebloede sekel
word bewende bejaardes se lewe geoes
die kranse roggel.

Kom, laat ons slag!

In Helenvale, Katanga
tik die kind en bewe die grootouer
skryf die Kakmakers en Spotbouers
hul name teen die sypaadjies
steek kleim af, eien strate, skoolterreine
toe, die gesteelde vuurwapen
met afgeslypte reeksnommer
regeer.
Daagliks, daagliks, daagliks die oorvloed bloed
met name
vrou, kind, werker, werkgewer,
op voorblaaie of weggesteek op binneblaaie
(afhangende van die mark wat jy bedien)

ons raak gewoond aan brokkies geweld
tussenwerpsels op televisie, tussen advertensies
met gelukkige gesinne met motors en vrede geskep
in ateljees, tussen aandetes.

Buite,
oral die wonde, verval,
slagting op Kaapse verlore vlaktes
in Nyanga, ongeag:
koes vir dwaalkoeëls
kinders in stootwaentjies
kinders, kleuterskoolklein,
het verleer om te lag te huppel en te leef
koes vir dwaalkoeëls.

Hostelle huisves huurmoordenaars.

In ons moer, so in ons moer koor
ons
maar, het hierdie land net manne en seuns wat kan slag en uitmoor?

Kameraad, my kamermaat

Al sou jy elke sterwenswoord van die kaders
en struggle-ikone uit die hoof kon aanhaal,
maar jy het nie die nuwe revolusionêre ingesteldheid nie,
dan het jy holklinkende hamer of ’n stomp sekel geword.

En al sou jy die gawe van verset hê
en van al die geheime operasies weet
en al die ondergrondse kennis,
en al sou jy al die blinde geloof hê,
sodat jy strategiese teikens kon opblaas,
en jy het nie meer die omgee vir die armes nie,
dan sou jy niks wees nie.

En al sou jy al die ander rykes, se besittings,
behalwe jou eie, uitdeel,
en al sou jy jou kameraad se dooie liggaam oorgee om verbrand te word,
en jy besit niks,
het nie die materiële in walglike oorvloed nie,
dan sou dit jou niks baat nie

Die nuwe, ware revolusionêr is kortsugtig en stug;
is jaloers,
praat groot oor besitting en kennisse en konneksies,
is opgeblase,
handel selluler en
seksueel-onwelvoeglik,
soek slegs sy eie en sy uitgebreide familie se gatsak se belang,
word maklik verbitterd oor verlore tenders,
reken die kwaad toe
swyg oor die ongeregtigheid,
en jubel luid saam met die leuen.

En kyk:
kameraadskap
bedek alles,
glo alles,
hoop alles,
verdra alles.

Faksies vergaan nimmermeer; maar die beweging
die mag tot niet gaan; of fopnuus – dit sal aanhou;
of gladdebeklieg – dit sal duur tot in lengte van dae
die pastoor en die politikus sal wel
met die broek om die enkels uitgevang word
maar dan vroom vir Satan en White Monopoly Capital
vir sy katoolsheid blameer.

Want jy besit ten volle en ons protesteer tans nog ten dele.

Maar as die volmaakte revolusie gekom het,
dan sal wat ten volle is,
tot niet gaan.

Toe jy arm was kameraad
het jy gewietie soos ’n kameraad,
omgegee soos ‘n kameraad
geshare soos ‘n kameraad
gedink soos ’n kameraad
geredeneer soos ’n kameraad
(an injury to one used to be an injury to all)
maar nou dat jy ’n dissipel van Breitling en Bling en Benz is,
nou dat jy blesser extraodinaire is
het jy die goeie eienskappe van ’n kameraad afgelê.

Want nou sien jy deur ’n oorvol whiskeyglas
vanuit ’n koeëlvaste ampsmotor,
maar eendag van aangesig tot aangesig.
met die woedende massas met fokol.

Nou besit jy ten dele, maar eendag wil jy ten volle besit,
net soos jy ten volle gekaap sal wees.

En nou bly mag, die mite van kameraadskap en besit – hierdie drie;
maar die grootste hiervan, is die jagse gejaag na oorvloedige besit.

Maar kameraad, my dierbare, nooit volprese kamermaat,
die armes sluimer of slaap nie meer nie.

Die openbaring kom – die onsigbare hand sal skryf teen die muur

in rooi, soos bloed, my broer.

Tripping

As hy bewend die aar kan kry
kan hy reg om die wêreld ry,
soos ’n tuimelende komeet
mal deur die heelal spoed…vergeet

bars deur al die grense
weg van dié bestaan, van mense
pendel hy die donker gloed tegemoet,

tot hy weer met ’n teelepel in sy bewende hand
verward op die koue vloer beland,

en die hel van ’n gestroopte woonstel
somber van al sy retoerritte vertel,

die naald, die aar word ’n kompas vir die boot
wat in sirkels probeer reis, weg van die dood.

Vir Diana Ferrus (20/08/2019)

Vandag pos jy my boek aan my,
jou boek oor jou pa, maar miskien ook oor my pa,
(want, sien – vandag sou hy verjaar.)

Onthou jy:
Paternoster, swart Afrikaanse skrywers?
‘n gelaaide term in onstuimige tye.

Ek het tóé al geweet, jy het ‘n storie
om te vertel, nee, stories om neer te pen
want, jy het ‘n unieke komvandaan,
Mamela.

Ek het begin skrywe, ‘n verhaal vir Karring,
oor twee verlore mense
in ‘n bekende, maar tog ook onbekende land,
vreemdelinge wat saam binne die mure van ‘n hotelkamer beland.

Jy’t my iewers weer oor dáárdie kortverhaal gekomplimenteer.

Ons paaie het gekruis by plekke waar die woord gevier is,
die woord wat nimmer sterwe nie,
die woord wat vasgevang word in wetgewing,
die woord wat gebeentes buite
uitstalkaste van uitbuiting tot rus laat kom,
ons het by Don Mattera geleer:
“ Memory is the weapon.”

Daar is generasie wat nie die luukse van ‘n pa
in ‘n huis ken nie,
ek en jy weet van die spore wat hulle trap,
ons plant vir hulle akkers vol verse, ons snoei snags vir hulle bundels,
sodat ons mag onthou,
jou pa, word ‘n loot van elkeen se pa, almal se pa.

Jou woorde laat die afstande wat in hierdie land tussen ons lê, krimp, ons leer, mettertyd,
die hartklop van die slaaf en die meester
praat, uiteindelik, dieselfde taal.

Mamela.

Inname

Nêrens
sal die bakens meer duidelik getrek wees nie,
niks wat jy gedink het joune is,
sal werklik net meer aan jou behoort nie.

Die gewaande veilige spasies
tussen die mure van huis,
agter hek en slot
en alarm en waghond en elektriese heining,
alles
wat, heilig ommuurd, tot besit vir beperkte gebruik verklaar is,
alles
wat goedgelowig omvattend gedek is deur versekering
alles
sal onteer word.

Snags sal die sluiper, soos ‘n slaapwandelaar,
die grens oorsteek,
die terrein binnetree, penetreer,
die man met die wapen,
met mes, pistool of geweer
of enige skerp of swaar voorwerp waarop hy die hand kan lê,
jou binnekamer se intieme ruimte
sal hy syne maak
met kaal wilde hande en priemende bloedbelope oë,
soek en skeur en omkeer.

Kyk, dié dood het ‘n gesig,
‘n skor stem wat dwingend soek na kluis
en noot en selfoon en sleutels.

Binne die valse veiligheid van vier mure
word jou woning ‘n bloedige republiek,
‘n hinterland van haat,
‘n niemandsland met ‘n naakte pleitende vrou:
asseblief, asseblief, please, no.

Kyk, dié dood is meedoënloos,
hy oes waar hy nooit gesaai het nie,
hy sprinkaanstroop, hy muisknaag,
hy plaag.

Ons ruimtes krimp klein.

Saligspreking

God, hierdie dag is mooi vandag
en Leonard Cohen sing
soos net hy kan sing oor Suzanne:
“And Jesus was a sailor when he walked upon the water/
Forsaken, almost human, he sank beneath your wisdom like a stone.”

Hierdie is nie
nou die seisoen vir sak en as se droefkyk,
nie,
lente borrel haastig en veelkleurig
uit stam en loot:
intens is die pers,
bedeesd die pienk,
afgetrokke die wit,
roekeloos die rooi se mooi.

Tog, hoe onhandig vertoon ons by die aanhoor van
ontydige tydings van dood
hoe onvoldoende en leeg en lig is die woorde:
soos, jammer
en sterkte?

Dus, geseënd dan, is die sterwendes
wat met oop oë stadig deur die lewe reis.

Kaapstad

Die dood tik deesdae liggies, bewend, aan jou deur
nie hard of dwingend soos die
veiligheidspolisie van weleer,
(ek wonder hoe het Ashley Kriel se ma gebewe,
’n moeder voel angs mos op ’n ander manier,
’n krieweling, tot in die baar);

hierdie stad met sy berg,
wat poskaartberoemd die wêreld oor pryk
met sy eiland, 12 kilometer of so verder,
waar die melaatses, van Hemel en Aarde,
eenkant en apart moes probeer leef tot die dood,
en die land se prut-prut politieke op- en weerstand
onder die hak, tydelik, platgetrap is,

Mannenberg bloei soos ’n etterende oop wond
af van die radar van die glansbrosjures
van Pam Golding se wonings/paleise/mansions /
Clifton te koop vir euro’s, vir dollar$,

Kaapstad, die photo opportunity vir die nouveau riche ;
met viskwota, perlemoen, money laundering
en slawe van hard core capitalism,
(Adam, die dice word nou geskommel by Grand West Casino)

hierdie stad met sy berg,
word onherbergsaam,
in ’n woonstel in Mannenberg
buk ’n meisie tenger en klein
en raak soos ’n kreef gewoond aan die skerp pyn:

www.virtualtourist.com waarsku die loopse toeris:
“7. Don’t have sex with locals, regardless of their colour, gender or sexual persuasion. There’s no sugarcoating the fact that South Africa has the highest rate of HIV infection in the world, and this virus is not a souvenir that you want to take home with you. Even if you intend to use a condom, remember that your intended partner may not be equally enthusiastic at the prospect, and could cut up nasty if you try to insist. Which brings me to my next point: disappearing off to a secluded spot with a stranger also leaves you vulnerable to rape, theft and/or murder and is simply not a sensible thing to do.”

verder buite die stadsgrense
die kelders, die opstalle, die heildronke met kristalglase, die ou geld,
die klassieke musiek, die verbeelde Europa,
hemel op aarde,
dáár ken niemand, het niemand
al gehoor van Ashley Kriel:
hy’s uitgesny, die wilde loot; uit die wingerd,
maar hy skiet oral, fokken hardnekkig, saad

Kniebuig (vir Margot Luyt)
Clinton V. du Plessis

Jy’t my waggelende verse vlerke laat groei
my woorde oor verlies en die binnetoe se bloei
tydelik, verewig tot klankgrepe op potgooie,
saam met Daniel, digitaal laat
bewaar (hopelik) vir die dag
wanneer hierdie taal
en die poësie
bloot rariteit sal wees.
Kyk,
alreeds begin groei die vergeet op ons
soos roes op ʼn ongebruikte lister-enjin,
op ʼn plaas waar melk nie meer gekarring
en botter nie meer geklop word nie.
Daar kom kuier nou koppig
ʼn ongewenste, effense bewe in jou hande
maar, moet nie die sinne uit jou vingers laat val nie,
asseblief tog Margot, moet nie laat jou hart nou krimp nie
bly skyn en spieëlkaats Diederik en Sy se son
na ons, na mekaar.*
Met wie speel jy nou Scrabble?
Met wie kuier jy nou in die Tankwa?
ek bid dat jy tydig tyding van/oor die broer sal kry,
(jou eie teerseer gebed om die gebeente?)
mag daar kastele wees vir die prins, mag hy leer
om swaarde te bemeester om die drake van sy lyfie te weer,
en mag jou “God behoed”
vir Mari-Ella en Isabella ʼn sambreel se skuilte bied
teen die bitsige buie van hiér se bangbestaan,
mag hierdie lewe nooit snoeiskêr aan die wye koeltetakke
van jou omgee nie.
Laat daar vir jou lanings propvol pers wees
vir jou wat in die mooiste mooiste maand van kleur
die lewe ingebeur het.
Eens was daar net die woord, en toe kom jou stem by
en dit was goed en dit was volmaak.
Tussen Opperman, Wyk en Eybers
het jy my verse staanplek gegee.
“Terloops, het jy ‘n kaartjie vir ‘n Springsteen-konsert?”
wonder en hoop jy iewers in ʼn e-pos,
sal ons ooit iewers saam brood kan breek?
Margot, die lewe rangeer ons hardhandig rond,
laat ons verwese drentel op godverlate stasies,
sonder kaartjies,
sonder wagkamer,
soms, selfs, sonder spoor.
Maar deur alles,
bly jy bloot, selfs só gestroop,
steeds net uniek méns, mensch
snags stel ek die radio se knop in die donker,
en ek vind jou stem, en ek hoor jou weer lees:
uit Eybers en háár Maria,
Ai, Maria, dié vrou van soveel smarte.

*Enkele verwysings na D. J. Opperman se, Gebed om die Gebeente.

Update – Clinton V. du Plessis
Pa, tel asseblief op
ek wil ʼn laaste kollekteeroproep
maak,
jou laat weet:
ek’t aangekom op die goederetrein
so, skuins voor middernag
op ʼn swak beligte, godverlate
stasie, ek reis deesdae met minder bagasie,
aanvaar meer gelate, soos jy eens, wag
meer geredelik,
want, waarheen en waarom dié haas?
Tyd, het my drome gereduseeer tot:
sylyne sonder name
ruskamers sonder kool of stoof
blanko kaartjies sonder bestemming
die grafte groei geil herberg meer en meer reste van lewe
ek is minder bang vir die dood,
mits dit iewers, ver in die toekoms,
buite hoorafstand, luier.
Tel asseblief op, Pa
daar is tye wanneer ek so graag jou opinie sou wou vra
oor doodloopstrate en evangelies op plakkate.



Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed