CM van den Heever
Waar Ruwe Rotse
Waar ruwe rotse teen die hemel klim,
waar morerooi se eerste traanglans glim,
waar aasvoëls hoog in sirkelbane sweef,
hul rou gekras in afgronde laat leef;
waar grou-wit kranse na die klowe val,
gekeep-hou tot spelonke bo ‘n dal;
waar oopgeskeurde klippekake wag
met draketande wat daar grynsend lag –
daar knal opeens geweerskoot bo die kruin
en eggo’s antwoord hard met skelbasuin.
Die dassies wip verskrik oor gladde krans,
patryse saai vlerktrillend uit hul skans.
Skuins glip ‘n voet en drillend val ‘n roer…
‘n skerp geskuur – ‘n pad wat afwaarts voer.
Twee hande gryp ‘n bos, die angs oorstelp,
benoud klink uit die diepte: “Here, help!”
Twee vader-oë kyk verward…sy seun,
die afgrond lag oor wilde skuurgedreun.
Die kruit en stof vlek oor die lug se blou,
die vader bly sy hand oor sy oë hou.
En dan gewaar hy in die skemering
sy kind, deur rotseskouers vasgedring.
‘n Riem rol na die seun daaronder neer,
“Bind vas, my kind…en Pa die sal probeer.”
Maar dis vergeefs…die kransedraak hou vas,
die riem bly stukkend breek, kry las op las.
En hulp snel by…die rotsetande gryns,
hier moet die mensverstand terug voor deins.
Dan klaag daar uit die diepte, sag en flou:
“Ek smeek dat Pa my skiet…en nou…”
‘n Roer die bewe in die growwe hand,
sag sif in skemerafgrond korrels sand.
Vas lê die kolf teen vaderskouer aan,
en langs die sneller glans ‘n afloop-traan.
“Vergeef my, God!”…’n skoot gedemp en dof…
en bo die bergegraf styg kruit en stof.
Nog skuur iets rog’lend in die diepte daar,
dis stil…die aasvoëls kras…’n vader staar.
Die konsertina in die nag
Die stroom se silwer stem die gaan verlore,
daar waar die spruit se donker waterspore
onder die sterrenag in vertes gly.
Nou leef geen plaasgeluid; net skaad’wees sprei
hul donker spokelywe langs die mure;
en groot gaan in die stilte al die ure
soos lewens in die duisternis verby.
Daar klaag eers sag, dan heimlik-mooi die hese
treurstemmetjie – verlangend soos ‘n wese
na dae lankal weg, lankal nie meer;
die tone klim en draal en val dan weer
en op hul leef herinnering en swewe na kinderjare,
na kinderjare, rykste van die lewe,
na dae lankal dood – lankal nie meer.
Nog ween die konsertinastem en bewe
die wysie, waarin verlange lewe
vol weemoed en herin’ringspyn.
Dit is weer stil! en in die stilte skryn
die groot verlange na die ewige sterre;
en luister! soos ‘n stemmetjie van verre
klaag die ou spruitjie in donker – en verdwyn
O koele water van die spruit
O koele water van die spruit,
waarin ek na my oë kyk,
waarin ek sien hoe swart na agter
die dieptes wyk
O koele water van die spruit,
ek hoor die wind sag in die riet
van weemoed fluister,
en ek luister
na die verdriet.
O koele water van die spruit,
ek luister na die teer geluid
van riete wat sag-buigend gaan . . .
en in die stille dieptes wyd,
kyk daar ‘n mens my peinsend aan
uit die ewigheid . . .
O koele water van die spruit . . .
Voëls in die skemering
Voëlgeklepper in die skemer
oor buigende riet,
en soos vlae wit sneeu
uit die ruimte, die hemel,
daal hul neer,
daal soos ‘n droom
En die nag doem aan oor die bulte,
verrysend uit rooi
van sterwend lig,
en die wind ween sag
in die riet,
ween sy slaperige lied
van die sterwende dag
en die nag.
En skemerig-wit
in die duister
sit die voëls soos bannelinge
eensaam
na die weegeroep
van die wind en luister
o verre wydtes
O verre wydtes van die groot-oop dag,
my siel vloei na die wasige vertes in
en voel dat in die sluimer-stilte wag
‘n vrede, heilig soos die oerbegin
van alle lewe, toe voorwêreldlike
‘n Gees oor afgrond van die tye heen
geswewe het nou onheugelik
sy weeklaag in verlate winde ween;
‘n Gees wat ons nog roep en in die see
met diepe brandersang ons hart laat skryn
en in die veraf-bloutes lewe, beê
van harte wat van alledaagsheid kwyn;
Wat ons nooit vind in taal van mens tot mens
en wat ons klooster in ons eenling-wil,
die lewe hier verheimlik in ‘n wens
en maak ons met ‘n vreemde heimwee stil.
Die bome dra die herfsdag soos ‘n krans
van lig, ek neig my hoof om diep te luister
na stemme eeue heen verlore, gans
vergaan, verward in hierdie aardse duister.
Maar sag en diep lê nou die wete in my
om dit wat lewe, is om een te wees
met wat nou onherroeplik verby
is as die oer-bestemming van die gees.
Die gevalle Zoeloe-Indoena
Jou lyf glim soos koper op die veld
en grassaad buig oor jou
hul moredou,
hier waar jy slaap
jou laaste slaap.
Jou spierwit pluime sidder nog
net of jy veg, maar langs jou lê ‘n bloedstroom
wat wegsink in die sand;
jou hand lê willoos-slap en asvaal
langs die vlymskerp assegaai.
Jou koning in Oemkoengoenhlowo
sal wag vir jou,
sy hand sal oor sy oë rus,
wat vérweg dwaal tot by die blou
waar jy gaan veg het.
Hy sal vir die gedreun van voete wag,
gekletter van die skild,
vir wit-omkwaste bene gedans
opruiend, kwaai en wild.
Die bulte sal jou roep
en eensaam sal ‘n Zoeloe-meid
saans by haar vuur gaan wag
stil-starend tot die nuwe dag.
Die son wat vuurmaak oor die bulte,
sal wagters wek,
hul lied sal klink die klowe deur,
die sagte more teen,
en almal sal weer lag en lewe,
al is jy heen.
As die Indoenas weer gaan veg,
die bulte lewe van jul wilde dans,
die skilde kletter en asgaaie blits
hoog in die son
dan slaap jy nog,
dan slaap jy diep,
jou vere wyd verstrooi deur son en reën,
jou lyf wat sag geglim het soos koper,
dan weg, en jy?
Die grassaad sal nog buig,
die beeste bulk, die lewe roep,
maar jy?
Hier waar jy was, sal skape wei.
Eenmaal
Ook eenmaal in die kringloop van die tye
sal hierdie aarbol uitgebrand en dood
in eindelose leegte hang en afstand-swye
sal nog sy uitgeworpenheid vergroot.
En al die mensgeslagte sal vergete
en weggebrand wees net soos gras;
Maar, God, die swaarste – hoe klein! – is tog die wete
dat ek ook deel van dié verwoesting was!
Die vertrekkende wildeganse
Tot aan die ruigte-gladde waterkant
verglans die son se skuinse middagvuur,
om trillend oor die watervlak
in hierdie teer vertwyfelingsuur
’n oogwenk nog te duur –
’n oogwenk tot ’n vlerkgeklapper ruis,
die water, ru verras, sy rimpels plooi,
en swart figure oor die wye spieël
onrustige skaduwees gooi.
Dan uit die donker vleie styg
met hees geskreeu die pikswart ry,
en oor die rustig-diepe kuile reis
die ganse met hul heimweeroep verby,
verby na verre lugte waar die vuur
van weggekwynde sonlig
’n oogwenk bang nog duur …
al kleiner word die swart gedaantes,
en verder sterf die heimweeroep
die verre kimme oor,
en langs die wye land die hemele in
raak stil die ry met hul geskreeu verloor.
Amandelboom, O Lentebruid
Amandelboom, O Lentebruid,
hoe spierwit bars die blomme uit,
die takke weeg nou, vlok op vlok
met haelwit sterre toekapok!
Nog al die ander bome wag
op stil invloeiing van die krag,
wat uit die grond se donker hart
beur na die takke, kaal en swart.
En in die dooi omgewing kleur
jy rein en wit, jou blommegeur
hang soet oor dor, vermufte bas,
uit tye toe daar winter was.
Jy is die eerste, in lentetyd,
wat wit uitstort jou vrugbaarheid,
en laaste van die bomesee
wat dan jou harde vruggie gee.
En tog bring jy die eerste teug
van diepste skoonheid van die jeug,
en spreek daar uit jou blommeprag
die heerlikheid van skeppingskrag!
Amandelboom, O Lewensbruid,
hoe heimlik bars die blomme uit,
die eerste milde skoonheidsbrood,
die lewenskrag uit winterdood!