Danie Marais
Barcelona – 2 en ’n ½ jaar later
Ons sit waarskynlik ’n laaste keer saam in ’n restaurant.
Die plek se naam is La Veronica –
die ene minimalistic chic in die gothic deel van Barcelons, nogal:
pragtige slaaie, ’n bottel rooi wyn en ’n bottel water voor ons,
’n huwelik agter ons
en jou bril is donker en jou top is oorlogrooi.
Die stoele en die tafels is wit oblivion wit.
My hemp is blou, raserige Hawaii-blou.
Party mure is rooi, jou oorlogrooi,
en ander mure is wit wit.
Uit frustrasie draai jy ’n suikersakkie nek om
sodat wit suiker stadig val
op die raving oranje tafeldoek,
terwyl jy begin huil agter jou donkerbril.
‘n Pass op ‘n pap hart
Twee Vrydae gelede toe
– vir die eerste keer in ‘n lang tyd –
maak ‘n meisie ‘n pass op my.
Veral na sy gehoor het
dat ek van ver gekom het vir ‘n ander vrou.
Sy sê dis wonderlik,
jy’t jou hart gevolg.
O, as iemand so iets vir haar sou doen …
Sy sê sy’s moeg om Sondae alleen wakker te word.
En ek sê maar ek’s dalk bietjie dronk,
maar dit werk nie so nie.
Die hart is ‘n erdwurm –
jy kan hom nie volg nie.
Jy sny net stukke wurm af,
aspris of per ongeluk,
en hulle sukkel-wriemel blind aan,
“weiter”
in die seesand van kleintyd
in ander tale
in Ouma se Bybel
in jou ma’le se bedkassie
in ou girlfriends se foto’s
in ou vriende se bier …
Ek sê snags as die huise asem-ophou luister,
hoe die maan ou geheime in kat-ore fluister,
weet jy die hart se brûe bly onverbrand,
selfs al woon jy ver
in ‘n ander land.
Wat dié klip weet
’n Gedig op ’n klip
is ’n lyk vol tatoeëer-ink.
Ek kan my kwalik ’n meer volmaakte
antivers as ’n klip voorstel;
geen beter sintese
tussen toevallige vorm en toevallige inhoud;
geen meer absolute
hoon vir die ydelheid van alles met asem nie.
Die klippe roep dit nog altyd uit:
“Watter deel van ‘nee’ verstaan jy nie, mens?”
En tog kan dié klip vers word,
maar dié vers nooit waarlik klip nie.
Ja, ’n vers kan selfs van klip
’n dooie mens maak,
dalk selfs ’n meer bruikbare, klipperiger klip
uit die swaksinnige engel van kuns en kultuur bliksem.
Maar ’n vers kan die mens nooit
waaragtig klip maak nie.
Die mens skree en versug sy vers,
sing en kry stuipe en huiwer dan, weifel altyd weer,
maar klip weet, kyk,
dié klip weet alles,
seker.
Monk leef
Na ’n dag van grys vergader
leun ek uit die raam en sien van bo
’n ou man met vyf Dalmatians
aan leirieme oor die lang sebraoorgang
na die pad aan die oorkant gaan
strepe en vlekke swartes en wittes
twee ritmes duiselend deurmekaar
in die teater onder my skedeldak
struikel iemand oor iets of iemand
vloek en trek in sy val ’n tou los
suisend daal ’n projeksieskerm
sneeuvlokke dwarrel
buite op die skoolterrein
is die straatligte al aan
in die bleek gesig van die horlosie
hik ’n streng wyser
op die swartbord skryf
die kryt wie tel daar
wat in hoe laat is dit
aarselende gelag
die onderwyser
draai na die klas
een dom hanswors is die vraag
die antwoord ’n witgesig-harlekyn
willie weet nie wortel die sproet
weet nie jannie en arend
en ek weet nie
aarselende
gelag wat groei
tot nuuskierige applous
toe van agter die gordyn
twee figure die kollig
binnetuimel
ken jy die een van
– nee ek ken hom nie
twee sandkorrels
loop saam
deur die woestyn
sê die een
pssst
aan die ander
versigtig
moenie omkyk nie
– hoekom nie
ek dink ons word agtervolg
uit die donker saal
stroom die applous soos ’n golf
oor die toneel
die applous is ’n groot skulp
die applous is opstekende wind
wie waai daar
roep die een
wie sneeu daar
roep die ander
soos ’n skoolkoor
uit één mond
antwoord die saal dit waai
die applous is ’n populierlaan
’n vrag klippies wat gestort word
die gedruis van ’n toringhoë uurglas
die reën wat trommel op die dak
die klop van die bloed in jou kop
die suising soggens vroeg
van die waterpype in ’n ou hotel
die gespikkelde geluid van die televisie
as jy snags op die bank wakkerskrik
is die wind wat woel in die boomtoppe
wat ruk aan die takke van die kastaiingbome
waartussen die man en sy honde verdwyn
* Geskryf deur K Michel; vertaal deur Danie Marais
Die Magere Brug-wonder
Die eerste twee bote het vinnig verbygevaar
maar die derde was ’n swaarbelaaide aak
wat so traag nadergekom het dat (geskenk – Karin,
pasta, room, boontjies, bel loodgieter)
Skielik doem die aak vlak voor ons op
en ek sien hy loop oor –
water wat in springerige golfies
uit die donker ruim oor die dek stroom
Bo die wagtende mense
het die tamheid van die werkdag gegroei
tot ’n byna sigbare tros teksballonne
Gewikkel in gedagtes en beslommernisse
sien ons nie hoe al die water van die Amstel
uit die aak opwel nie
Incognito dryf die oorsprong van die rivier verby
* Geskryf deur K Michel; vertaal deur Danie Marais
Dwars
Een nag sestien seisoene lang
hoor hy hom voortdurend
gehurk voor ’n voetpadwyser
aan die reling van ’n veerboot
op ’n kruispunt in die moltreingange
en altyd onder die sterre
met die kop in ’n kop
dink “waar is ek?”
’n Artisjok het ’n hart maar geen rigting nie
’n Helikopter het ’n bestemming maar geen lot nie
“Ek”, twee letters, een loot
van ’n groter wild vertakte woord
Daar waar skadu is, woeker
in klam bosse kilometer lange
swamdrade wat lukraak kop
uitsteek in die vorm van ’n paddastoel
Verbaas verdwaal,
opwaarts laat valde valskermspringers
Eens het Polinesiërs
om hul koers te bepaal in die Stille Oseaan
kaarte van dun stokkies gebruik –
dit het gelyk soos bamboeslatte
om rankboontjies mee op te lei
En Kanadese Indiane het kuskaarte uit hout gekerf
wat lyk soos Beierse kurktrekkers
Afhangende van die sleutel
kan kortom alles ’n kaart wees:
handpalms, oogirisse, geboortemerke
en die vertakkings in die plooie
van ’n oopgewoelde bed
Só bly as die slaper
eindelik wakker geskud is
ook lank na die ontwaking
“waar is jy?” die vraag
* Geskryf deur K Michel; vertaal deur Danie Marais
Boereraat
Is die woonhuis besmet, sê hulle
in die dorp van my grootouers
sluit dan ’n vark ’n nag lank op
die kwaad kruip in die dier
en die volgende oggend is alles skoon
In die bousel wat elke lewe is
breek daar ’n oomblik aan waar jy weet
goeie raad was duur, ’n lek
het die mure bedek met Rohrschach-figure
en dit ruik na iets wat lank gelede
tydens ’n ou speletjie verstop het
Kyk om die tafel rond en probeer
uitvind wie die kortste ent gaan trek
so lui ’n goue wenk vir poker-spelers
en as jy die slagoffer nie sien nie
is daar slegs een moontlikheid
Daarom sê ek op dié nuwe dag
aan die gesig in die skeerspieël
hou op grawe as jy klaar in die put sit
wees bereid om “eina” en “ja” te sê
kyk rond, deursoek alle kamers
en as jy die vark nie kry nie
is dit jy
* Geskryf deur K Michel; vertaal deur Danie Marais
Ongetiteld
Groot rivier! Draai om!
Stroom terug na die berge
Moenie die laagland, die stede vertrou nie
Hier regeer bose magte
Hier word elke boog reguit gesnoei
Die wind is oker en verstikkend
Die tarief oorheers alles
En die velde is groen van gif
Draai om! Neem my saam!
Ek speel trekklavier
Ek kan die kaart lees
Ons gaan tot bo die boomgrens
Ek bou ’n hut
Ons luister na die stilte
Ons prys die lug
En snags tel ons die satelliete
Geen tyd om te verloor nie
Viva! Voorwaarts kameraad!
Ons vergeet die vaandels
die groot woorde, die getrompetter
daar is geen gister meer nie
Ons dink nie aan wins of verlies nie
Die toekoms kom later
* Geskryf deur K Michel; vertaal deur Danie Marais
Mont du Toit Wynkwatryn: Danie Marais
Die laaste glas wyn in haar hand –
vyf skraal vingers uit ’n vreemde land –
was een donker rooi gedagte
in ’n wye blou en swart genagte.