Daniël Hugo
Vonkpos
vir Marlene
’n vlinder klap sy vlerke in ons tuin:
’n tifoon tref Japan
ons hond vang ’n bal:
die aarde hou dadelik op met tol
ek steek my pyp op:
die Amasone bars uit in vlamme
jy stuur vir my ’n eenwoord-e-pos:
ek hoor musiek van die sfere
Daniel Hugo
Lied vir haar uitvaart
as kind het ek net een
keer my ma hoor sing:
die bootjie na kammaland
dit was die soetste ding
wat ek ooit sou ervaar
heen en weer het sy gewieg:
hoe sag gly ons bootjie
op golfies wat dein
in die skyn van die maan
nou moet ek, wat nooit
die noot kon hou, haar
begelei op hierdie vaart
wat na kammaland voer
die land waar jonkheid
mos nimmer vergaan
ek staan aan die roer
verbeel my ek’s stuurman
in ’n bootjie van papier
Daniel Hugo
Die huis luister
my kamers is hol soos ‘n binne-oor
ek hoor hoe die bewoners roesemoes
liefde maak, verwyt, mekaar vertroos, skoor
soek met die goor hede, nooit tevrede
aanhou kibbel oor kon en sou en moes
luister, ek bewaar julle verlede
my fondamente kraak onder die las
my plafonne raak voos van die eggo’s
te veel vloeke laat my pleisterwerk bars
jare se trane laat my rame roes
so word ons saam verweer deur dit wat was
my dakplate en julle gebede
fluister en knal al hoe harder om hulp
ongehoord in elke nag se oorskulp
Oujongnooi
(vir ‘n wyse maagd)
bedtyd versluier sy haar in kant
en trek die ring van haar regterhand
(die bedlamp laat sy heelnag brand)
na ‘n hoofstuk uit Hooglied of Openbaring
drink sy die Pil soos ‘n gebed om verlossing
net vir geval die langverwagte Bruidegom
diep in die nag op sy spierwit perd gaan kom
Taalles
ek was pas met die skool versoen
toe die word padblokkade
dwars in ’n gesprek opdoem
en my klein paradys uiteenruk
dit het gerym met “doringdrade”
en mamma se “Vader van genade!”
toe hulle sien ek lyk verskrik
bly die grootmense skuldig stil
vandag weet ek daar is gepraat
oor die slagting van Sharpeville
sederdien is my woordarsenaal
aangevul deur oorlog en onlus
die plofgranate van ons taal
word gepluk van die boom van kennis
Ontvlugting
ek stap graag – dronk van osoon –
tot by Drieankerbaai
die strandjie is steeds besaai
met uitkotsels van die see:
rioolneste lê hier
mosselskulpe, robwerwels, wier
’n gestolde stink inkvis
en van tyd tot tyd – doodnugter –
die lyk van ’n digter
Lewe die leser!
I kleurpolitiek
vanselfsprekend was groen altyd ’n kleur
en ’n bladwyser van chlorofil
deesdae is dit politiek en meer:
sonder die papiergeknetter van loof
word die aarde ontstemmend gou gedoof
skrywe dus om bloem- en leserswil
teen die bleeksug wat lewendes verweer:
van vooraf moet ons die groenboek vul
of ons gaan letterlik stik in die stof
as hy toeklap, die bekrapte bundel
II seisoenlektuur
soos ’n boek kraak die lente
oop, begin te blom;
somer ritsel van bye
wat welsprekend brom
die suidoos blaai die dae
al haastig om
sodat ons by die laaste
hoofstuk – herfs – kan kom
dan sal ons in ’n bladstil
tuin en sagte son
lank kan lees, mymerend oor
die goeie slotsom
net ’n enkele bladsy wit
word vir winter uitgesit
Ontnugterde digter
(vir DJO)
dit het hy geglo op vyf-en-twintig:
jy moet al die oseane bevaar
as jy gesout en wêreldwys wil dig
met ’n bottel het hy die boot beman
en ’n dekade lank hom dol gedra
toe tussen dek en kaai oorboord gegaan
op vyf-en-dertig – na baie skande –
weet hy jy kan die ryme ook takel
teen die kimme van jou kamerwande
hy wens hy kon die reis van voor begin
dan sou hy beslis uit die pekel bly
deur ’n skip in die bottel te versin
Hand sonder hawe
hy beskou sy hande: vrybuiters die twee
wat kontinente van die lyf verken
en die lokkende gehyg van vreemde seë
die regter moet die rukkende reorpen
hou en die verpligte privaatjoernaal
die linker is ’n gesoute kameraad
’n stommerik beperk tot vingertaal
wat saamdros as hul die skip in die steek laat
wanneer hul dan noodgedwonge terugkeer
(kort voor lank sal die twee weer van wal steek)
is die ruwe regter aanvanklik styf
gaan dit swaar om die vaardigheid aan te leer:
hy kan eers oor eie huis en haard skryf
as hy lank in skottelgoedwater week
Die besoeker
I
diep in die Vrystaat praat ons erotiek
die is donker, daarom simpatiek
die beroemde skrywer vertel ons hoe
hy tuis die geil jongetjie oorkant afloer
die klein blondekuif – dan wys hy meteen
presies hoedat hy sy pen in sy hand neem:
“kyk, so raak ek dan al my saad kwyt”
in ’n uiterste gebaar van eensaamheid
II
ons sit in die skrywer se rondawel
oor die literatuur en redekawel
die gasvrou bars onaangekondig in
sê: ons bring skade oor die huishouding
(sy is gewoond aan die attensies van mans
maar hierdie besoeker versteur die balans)
ek gaan na my kamer afgejak en kwaad
– het ek hom hoor sê “lieverd”, terwyl ons praat?
III
ek neem hom na die vliegveld – voor ons tot siens
sê, gesels hy oor geloof en godsdiens
deur die groot glasvensters kan ons diep inkyk
in die vlakte se dubbelsinnigheid
“bepoefen jy die heerenliefde,” vra hy
’n oomblik ontwyk die bedoeling my
dan begryp ek – as ongelowige gee
ek my ganser antwoord: “van harte nee”
Dialoog
“lig en donker staan opposisie”
en wat dan van ddie luim en erns, li gen swaar?
“dieselfde geld steeds vir son en skau”
ook son en maan is teengesteld ’n paar
suiwer binêre dink die digter nooit nie
hy floreer tog op polivalensie
wat tot die onsekere terrein behoort
van die swygende, derde gespreksgenoot
Berig aan Opperman
graag wil ek jou op die literêre hoogte bring
waar jy met Totius in englekore sing
sedert jou vertrek dra digteresse mos die broek
en net Cloete wat skrillerig kraai bo hulle gekloek
ek sal maar uitgesproke wees en name noem
(jy is vry om dieselfde by kollegas daar Bo te doen –
jy en Louw is waarskynlik weer goed opstryk
maar ek vermoed dat jy die jonger Boet liefs ontwyk):
Sheila voel diep veronreg en sê onbeskaam
die kritici misken haar mistiese Membraan
as Antjie Somers maak Krog die kinders bang
al verlang sy onvermom dat jy haar pamperlang
Wilma Stockenström word met harp en luit geprys
– myns insiens maak hulle ’n Monster van ’n muis
en jou vriendin, die oujongnooi, sit haar steeds en verknies
oor die ontglippende belofte van ’n naam soos Spies
pas het met ’n bundeltjie Hollywood-kitsch
gedebuteer jou eks-assistent, Lonestar Hambidge
maar nou die hartseerste nuus: die gekneusde Annesu
jou troetelkind, gee vroegvrot aan voorspellings toe
en as dit klink na die praatjies van ’n gefnuikte man
weet dan: al die genoemdes maak my lendene lam
(daarom het ek taktvol niks gerep van Jeanetta
met die hoepelbeen, van Rika, Rosa, etcetera)
versteek maar die notisies tussen jou bladmusiek
anders gaan Poortman Petrus voortaan my pos verbied
volgende keer skryf ek oor manne en hul grense
oor moffies se vrees vir pense . . . my beste wense
Die hart op die fees
Uit die gevormde literatuur
is nooit weer poësie te maak nie,
uit die ongevormde wel (NP van Wyk Louw)
hierdie heuningkoek, Wyk, het jy sleg verbrou
’n nuwe seshoek-sel presenter ek jou:
onder jul laster en gelag tas
ek na gedagtes was soos vis
ontwykend en tog blinkend was
ek het gereis langs geel en stil
riviere, deur vreemde Kongo’s
en oerwoude wat giftig tril
baie skofte lê tussen my
en julle, jagvure en volke
wat my van vroeër dinge skei
die glas glim rooi en word se sin
mik soos ’n duif wat, opgeskrik
die brons-wit skemeraand moet in
Bladspieël
in die vebygaan sien ek soms
by die kafeetafel ’n eensame man
wat skryf – dan verbeel ek my
hy skryf oor sy weerkaatste self
die tafel en die verbyganger
wat hom verbeel: daar sit ’n man
wat oor sy eensaamheid skryf
Kafeedigter
vir André Letoit
I
die uitmuntendeste van jou dae
sit jy in die Grapevine – hoor half
hoe die huisvroue skinder en kla
maar luister tussendeur die Muse af
II
wat is die prys van ’n pyngedig
gemosrs oor die vuil kafeeservet?
al die nikkel wat jy by jou het
plus ’n skrikkeljaar in die gestig
Digterstuin: Die digter se tuin
in die tuin van die digter
skyn die son soos ’n leeslamp
en blaai die wind deur die blare
die miere skryf lopende skrif
en die kritiese kwêvoëls kom
vang die hinderlike goggas
saam met al die erdwurms wroet
die digter in malse grond om
humus van emosies te maak
op Sondae swerm daar kenners
deur die tuin – hulle bloemlees
die blomme tot rare rangskikkings
as die dood sy rondte doen
en hom kry by die komposhoop
sal die digter bly staan
en vergeet van Isfahan
want die dood sal hom inhaal
selfs al probeer hy klippetieklop
op Pegasos weggalop
Slotsom
dronkverdriet is al
wat my nog gelukkig maak –
dis tranedal dié
Drinklied
al weer ’n dag van geweldig eet en drink –
sonder ’n enkele verhewe gedagte
sou mens dink, maar dit is blote skyn:
die bakker, die slagter, die kelner, die kok
skep ’n hemel met hulle aardse ambagte
dit is op hulle wat ons skink en klink
want hierdie goeie wyn verdien ’n refrein –
net die preutse puriteine lyk geskok
Stamvader
ek omhels die skurwe eik
met sy pels van digte mos
drie honderd seisoene saai
hy sy akkers in die bos
onverdiend ervaar ek hier
die vriendskap van ’n kolos
soos die tortel in sy kruin
wortel ek op Stellenbosch
Haikoe-oomblikke
padda
padda
poel
hi, cool!
*
padda
padda
pad
platannaplat
*
padda
padda
padda
al weer op pad?
*
yadda
yadda
yadda
antwoord padda
Omar die tentmaker
Ontwaak! Die oggend het in die kom van die nag
die blink klip geslinger wat die sterre laat vlug.
En kyk, die ruiter uit die ooste het
die sultanstoring gevang met ’n lasso lig.
Daardie paleis met torings wat die hemel soek
waar sultans daagliks gebid het en soms moes vloek –
ek het ’n lagduifie daar sien sit
en “koeroek, koeroek”, roep sy, “koeroek, koeroek”.
Ag my lief, kon ek en jy met die lot saamsweer
om die krom bestel van sake te korrigeer,
hoe sou ons dit nie aan skerwe slaan
en dan boetseer – nader aan wat die hart begeer.
Kortstondig trek ons deur hierdie dor woestyn,
kortstondig drink ons by die oase wyn.
Skink gou! Die karavaan gaan met dagbreek
verder en die môrester het alreeds verskyn.
Die Dood sal hom uiteindelik op elkeen wreek –
óók op die sjah wat hom in ’n paleis versteek.
Een nag word hy met ’n rykversierde dolk deur
die altydteenwoordige Kamerling gesteek.
Hulle sê die leeu, akkedis en das
hou die hof waar vroeër Jamsjied gebras
het. En Bahram, die groot jagter… die sebra
stamp en stamp bo sy kop, maar hy slaap vas.
*
In die tent van Omar Khayyam
het ek soet wyn gedrink en saam
gesing – maar as die Dood die toue sny
waar gaan ons dan die tent opslaan?
Stellenbosch, 1976
Digters
die soetsappiges laat
graag hul gevoelens blyk:
die woorde versuiker
terwyl jy daarna kyk
die betraandes weer skryf
of hulle gerook is:
die woorde vloei ineen
en als is uit fokus
ander is verbitter
of onuitstaanbaar suur:
die gal wat hulle braak
brand dwarsdeur die papier
die suiniges word deur
te veel woorde gekwel:
hul laat die reëls presies
ses lettergrepe tel
digters is die edel-
smede van elke taal –
onsin: hulle is slinks
selfsugtig en brutaal
Sinne en sin
die gedagte-inhoud van gedigte
is dikwels maar dun
wanneer jy dit baie goed tref, maak dit
wonderbaarlik sin
die beste gedigte blink uit in klank
en ritme en beeld
hul prikkel die oog en die oor, maar laat
die verstand verveeld
die meeste lesers soek wysheid elders
en is min gepla
– solank die ryme bekoorlik klingel –
oor die logika
die lui maar slinkse digters weet dit goed:
suiwer poësie
– sê hulle vroom – het niks te doen met Hegel,
Kant of Nietzsche nie
vir Marlene van Niekerk raak dit te veel:
agge nee basta!
poësie is filosofie – die res
is kamma-kasta
Kant het hoeka al kritiek gehad op
die blote vernuf,
Nietzsche was digter en Hegel se sin-
tese bly gedurf
tot sover Marlene van Niekerk – sy klink
bietjie prekerig
maar die waarheid neem baie vorme aan
as jy denkend dig
Japanese skryfskool
vergete vywer
’n padda spring van die wal
geluid van water
(Basho, 1644–1694)
leerder:
daar is ’n padda
wat die heelnag kik en hik
soos ’n kraan wat drup
leermeester:
in egte haikoes
spring die padda in ’n poel
en verdwyn vir goed
in egte haikoes
vermy die digter verge-
lykings soos die pes
in egte haikoes
verwag ’n mens bloukraanvoëls
in plaas van krane
leerder:
daar was ’n padda
in hierdie haikoe, maar hy’t
vir die kraan geskrik
padda:
die haikoedigter
tel heelnag lettergrepe –
padda langs ’n poel
Vir Hennie Aucamp
Ons skalkse oom Lourens, die Grote
ken die nut van ’n anekdote.
Hy sê: die gul plesier
van hierdie volksvertier
gee die blote storie sy klote.
Komposisie
Vir die Du Plessis’s
Phil, jou naamgenoot het lank terug gesê:
die liefde neem ’n duisend vorme aan.
En wat ons oë vandag gade-slaan
wys hy het geweet waar die waarheid lê —
beter as sielkundiges en artse
wat hul werk as ’n wetenskap beskou
en vergeet: eenling is die mens gebore
immer op soek na ’n maat, na ’n vrou.
Phil, Katrien, jul is vir mekaar beskore
soos wat ’n strykstok hunker na ’n snaar.
Dus sê ons, julle vriende, van harte:
bly altyd so harmonieus ’n paar.
(Naspel)
Vir ’n sonate is dié stuk te kort;
sopas het dit wel ’n sonnet geword.
27 Augustus 1999
Sonnet
Vir Gerrit Komrij & Charles Hofman
Die tuin van G & C het veel te bied:
druif, olyf en ’n vywer in die son
— niks laat dink aan Holland van waar hul kom —
en groen berge wat teen die blou verskiet.
Die huis van G & C het veel te bied:
in die kelder wyn van eie oorsprong
en boontoe boeke tot aan die plafon.
Wie hom hier verveel — godweet — leef verniet.
Gerrit & Charles het mekáár veel te bied:
as hulle nie tot skryf of skilder kom,
sing hulle smartlik saam ’n lewenslied.
Ons het die kuier, G & C, geniet —
selfs al was daar meer mis en reën as son.
Vriendskap is veel; ’n luukse die verdriet.
Vila Pouca da Beira, Portugal
November 1998
Stormnag
die nukkerige wind ruk
aan my dun sambreel — ek skrik
wanneer dit omstulp
tot ’n swart groteske tulp
laf laat ek los want dit smag
na die swart turf van die grag
waar dit ’n swaan word dié keer:
kil sif die reën op my neer
Leiden
Credo
ongelowiges — soos ek — koester
gewyd die sprankel van ’n oester:
bang vir die smaaklose donker
en die gô van die Groot Verwoester
Vloekskoot
so wil ek sterf: skielik
sonder om iets te voel
waar ek by my lessenaar
sit en ’n gedig bedink
oor die genadige dood
sêmaar deur ’n dwaalkoeël
wat onge-fokken-hoord
die ribbes binnedring
soos tussen die sillabes deur
’n vloek gloeiwarm glip
Telkom en kliënt
meneer, voel u deur die hier
en nou
van ons oproep-sel
geknou?
kyk, grens en afstand word so
gekul:
kies die kode met
’n nul
en hoor hoe zoem die elek-
trodes
futuristiese
odes
loof die heer Alexander
G Bell!
ruimte sal u nooit
weer knel
tog, my getelde tyd gaan
uitloop
op daai dubbelnul:
die dood
Afrorisme
in Afrika is ek pal buite-weste
— lawwe woordspel is een van my liefdes, ja —
en tog hier voel ek bewus op my beste
— veral in die buurt van blonde Carina
Mont du Toit Wynkwatryn: Daniel Hugo
Laatherfs
terwyl die akkerblare koper kwyn
word die geparste korrels langsaam wyn:
voor kaggels drink ons die beleë vog
en proe opnuut die eik wat amber skyn
Droogte
onder die doringbos lê die slank
geraamte van ‘n koedoekoei
kewers karwei die ligte stank
en gras begin deur die ribbes groei
in haar smal bekken vasgepers
brokkel die beentjies van ‘n vers
Stadsreiniging, Gent
deurnag rumoer die dronk studente:
vatbier wat so skerpsinnig skuim
in dawerende argumente
hulle kots op straat, buite weste
meeue sal dit more opruim
al daardie ondeurdagte reste
Daniel Hugo
Kosmologos
die kosmos leef – dit ontplof
tol, pulseer, doof uit, begin
dan weer met ‘n knal – maar
wanneer ek jou misverstaan
kom die heelal tot stilstand
is daar eensklaps stilte
daal die duisternis, word
die swaartekrag uitgewis
heers die kilte totdat
lig opdoem uit die niet:
die nova-woord liefde
Daniel Hugo
Digteby
sy noukeurige navigasiesom
stuur buurman Barry se by
pylreguit na ons aalwynblom
hy vlieg dan terug met ’n geheim
wat onontsyferbaar bly:
die heuning se soet raaiselrym
Daniel Hugo
Herfs, Prins Albert
‘n Sondagmiddag sit ons in die son
op die lang stoep met Piet se riet-
plafon wat strek tot in die niet:
die dag is sonder end of horison
Daniel Hugo
woorde kan soos kleingeld in ‘n broeksak
klingel totdat ‘n vuis hul vasvat:
die vers wat soos ‘n beursie toeklik
Daniel Hugo
Stadskraai
vanaf sy hoë lamppaal
bekyk dié kadawerkenner my
heeltemal niks sal hom ooit kan walg
laat blyk daardie skalpel se gekras
dis eeue laas dat hy kon smul
aan swaaiende galge-aas
waarom hou hy my kil in die oog?
ek het ‘n vae, stinkende benul
Gent, November 2018
Daniel Hugo
Amsterdam
ek vergaap my aan weerkaatsings
van sloep en swaan op water,
die weerklank van trem en meeu
tussen gewels, die kariljon
van trapfiets en toringklok,
en nootvas die raaf se skreeu
ek bly luister en staar:
elke boogbrug ’n strottehoof
waardeur gutturale bote vaar
en staan verstom, my keelgat
soos ’n grag gedemp – welluidend
om my stroom die stad
5 Desember 2018
Daniel Hugo
Amsterdam (2)
elke brug ‘n steengewelf
gevestig op die water
daaronder ‘n duiker wat
geluidloos sink soos ‘n klip
dan weer bo kom dobber
ek sien myself weerkaats
en duisel van die swaartekrag:
veerlig my drywende gewig
Daniel Hugo
Musiekboot, Amsterdam
denkend aan die dyke en sluise
wat barbaarse waters buite hou
kan hy dit op die gragte waag
in sy piepklein Notendop –
die stad sy ouditorium
vir draai-orrel en trompet
wat komponiste kabbelend
laat opklink uit klassieke kanale
van weerstand, orde en welvaart
Daniel Hugo
Versoek
sonder jou is ek ‘n boek
wat stof vergaar op ‘n rak
een wat ‘n leser soek
die lewe sal my verpulp
sonder jou priemende blik
jou indringende geduld
en as ek onleesbaar raak
wag voor jy my toeklap:
die end sal alles goed maak
Daniel Hugo
Gammams
Vir Ma Marieta
tussen jou rietbegroeide oewers
het ons in kano’s geroei, vier broers
songeblaker, geborge, ongebodder
oor die beroerders van daardie land
ná vyftig jaar verlang ek, skoon van koers
na jou lou en moederlike modder
jou suiwer, nugter sand – Gammams,
rivier met toegeboude oewers
Windhoek, April 2019
Daniel Hugo
Stellenbergse eik
om te verhoed dat jy armswaaiend
omval, om jou lewe te red
en dalk ons s’n ook (die werfmense
wat so graag in jou skadu kuier)
is twee gespierde takke afgesny –
jy wat soveel storms kon trotseer
en skuiling bied aan die vo”elbevolking
ek salueer jou, geamputeerde veteraan
Daniel Hugo
Smeulvers
’n dag as huldeblyk aan Prometheus
wat flikkerend my nog lank sal bybly:
’n braaivleisvuur, ’n kers, ’n kaggelvuur
en, liefling – onblusbaar knetterend – jy
Daniel Hugo
Anekdote
“Kyk net hoe vet is julle, die uitgewers
en hoe maer ons klomp, die skrywers.”
sê Sening-Jan Rabie vir Koos Human
– sy dapper uitgewer deur dik en dun.
Leroux grinnik agter sy donkerbril
vir sy vurige en taktlose vriend.
Hy mompel stilweg in sy baard:
“Skrywers koester maar almal ’n boekpens.”
Onrusrivier, 1985
Daniel Hugo