DJ Opperman
Vakansiebrief
Voor my in ‘n mispel kras
drie kraaie; my dae verdwyn
in stiltes soos kwartels in lang gras.
Vanoggend toe ek erdwurms soek,
raak ek oor ‘n fossiel verstrooid
soos oor ‘n bladsy uit ‘n muf dagboek.
‘n Ou meid lę langs haar skerm, die wange
weggesak, haar oë reën en sand
in holtes van ‘n maalklip opgevang.
Die berg se donker lies, vars spore
van die likkewaan en kuttels van ‘n bok
roer iets in my van lank tevore;
maar die tarentaal sit stom
op haar nes vol eiers – my hart broei
oor die stad: glas, sink, beton.
Gestorwene
Daeraad
Die bosveld lê in more sluimernis,
Nog voor die fynste teken voel die vroeë tarentaal
Die rooidag wat aan nader is.
Daar op die bergtop skiet ʼn straal
Sy lig en worstel teen die duisternis.
Die berge en die bome staan in fyn relief;
Die vleie en raveine snoes in swartfluweel
Wat soos die masker van ʼn dief
Die ware vorm van wese steel,
Maar op die bergtop lê die nag deurklief.
Ek wens toe op die krag om te aanvaar
Die aantog deur tradisie, bygeloof, verbloemenis,
My leiend tot die bergtop waar
Die vorm van alles duidelik is,
Omdat die Hoër Lig die nou verklaar.
Die Vallei
Die mis dwaal deur die holtes van die nag
Na duine waar die skugter aandblom geur
Om in verstrooiing heimelig te wag
Op maanlig wat die donker hangsel skeur.
In die vallei, groen maanlig in die nag,
Musiek van fantasie jy laat ons treur
Na daardie vlam van lig wat ver en sag,
Maar koud, deur die sterre-gaatjies na ons speur.
Die dal vol vonkelende morewyn
Laat ou verlangens van die nag verdwyn,
Die nugter oog se pligsbesef verkry…..
In wrede skoonheid, tot die verre blou,
In eeu-ou plooie, sien ek: Die Vallei
Van Duisend Heuwels vou en vou en vou.
Stadsaand
ʼn Sagte Skuifel oor die vloer,
ʼn Dowwe skynsel in die saal,
ʼn Klop op die tamboer
En rûe halfpad kaal…..
Droef waai die wind die misreën oor
Die rye dakke, skuins en blink,
Tot alles lig verloor
En in die nag wegsink.
Die klanke van die kerkklok kring
ʼn Somber tyding deur die nag
En stoot ʼn huiwering
Deur my, hier waar ek wag.
Vincent van Gogh
Jy het as ’n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot ’n vlam verwring.
Man met die flits
In die klein wit kol
van my wete stol
bruin en skerp ‘n klip
soos ‘n bok wat skrik,
staan, vinnig weghol
uit die klein wit kol.
Aan ‘n takkie hang
twee ogies wat bang
uit die klein wit skyn
van my flits verdwyn.
Oor waters wat glip
soek ek klip na klip
maar ‘n duister land
bedreig my alkant.
Dank
Ek bring aan jou die eerste vrugte van die land
met ingehoue vreugde en met dankbaarheid:
‘n mieliekop, lemoen of roos op skurwe hand
gedra as nuwe huldes van seisoen en tyd;
jaarliks die eerste piesangros uit die vallei
waar gramadoelas was, omdat ek nou nog voel
sonder jou liefde is die graaf te swaar vir my
en val die geil reëns van die berge sonder doel
Mount-aux-Sources
Ons eerste liefde was
‘n wit galop van hingste
kniediep deur die gras:
ontdekkings, avonture
in die grot te, ‘n geil slaap
in holtes langs rooi vure.
Nou starend van die koue krans
voed een bron ons vergesigte –
‘n hoër vreugde, dieper angs.
Sproeireën
My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand …. iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!
As ek ’n stukkie nartjieskil
tussen my vingers buig of knak,
breek uit die klein sproeireën
wat geurend om my hand uitsak,
die boorde weer van Swartfoloos
en met die nartjies om my heen
weet ek hoe dat ’n vrou kan troos.
My nooi is in ‘n nartjie,
my ouma in kaneel,
daar’s iemand …… iemand in anys,
daar’s ‘n vrou in elke geur!
Digter
Ek is gevang
en met die stryd
êrens in die ewigheid
op ‘n Ceylon verban
waar al my drange
na ‘n verlore vaderland
my dag na dag geëiland
hou met horisonne en verlange,
en in die geel gloed van die kers
snags deur die smal poort
van die wonder elke woord
laat skik tot klein stellasies vers
wat groei tot boeg en mas
en takelwerk – en die uiteindelike
reis met die klein skip
geslote agter glas.
uit: Joernaal van Jorik
TEEN MIDDERNAG TOE DIE MISHORING HEES
deur die reën en die wind begin mei sy klag
skrik Jorik wakker en lê en vrees
vir die skepe wat kom en gaan in die nag.
‘En wánneer en hoé kom hulle my haal
en neem na my eintlike vaderland?
Maar dit klink so alles na ‘n jeugverhaal:
mens vergeet in die kryg die doel en verband.
Uit ‘n lewe, ‘n eeu en ‘n tyd behou
‘n mens dan niks meer en niks minders
as ‘n enkele beeld van ‘n ou vrou,
‘n huis – losieshuis! ‘n vrou en kinders?’
Hy pluk die koord van sy kamer se klare
lig, wat melkig straal soos in ‘n kajuit,
en waan hom veilig teen die gevare
van lang wit druppels wat klits teen die ruit.
Uit die glaskruik skink hy brandewyn
en soek – ná die derde sopie – bedaard
na ‘n bondel papiere, knip die lyn
en rol hulle oop by ‘n ou geel kaart
om sy naam by die baie name te voeg.
En hy bêre dit só dat selfs ‘n kind
wat terloops teen die aand hom sou roep,
sy doel sal vergeet en die koffertjie vind…
Die dae brand rokerig, is ‘n klam
stomp met ‘n trae gesmeul en gesis
waaruit spits sonne partymaal losvlam
en ‘n rukkie daarna wegflikker in mis.
‘O sal hulle my tog eenmaal kom haal?
Kyk, die gekinkelde winde stroop
die takke van die akkerbome kaal
dat die bruin-geel blare holrug loop.
Moet ek in die kryg dié brokkige land,
sy stede, sy dissels en diere, neem
oor sy grense van judasklip en sand
deur diepseewaters, en soos ‘n museum
agter die stukke glas altyd bewaar:
die klompie Boesmans wat om vuurtjies sit,
die Reiger, die Goede Hoop wat ewig vaar,
die meeue en rysmiere in gelid;
maar dat alles soos in ‘n akwarium leef
waar engelvisse uit die reie vlug,
die hegsel aan die meerminbeursie kleef,
en die gidsie koers hou bo die haai se rug …
dit alles, soos ‘n mot in barnsteen,
besin binne die engtes van my lyf:
die land, die eeu en mense met my neem
deur diepseewaters vir ‘n ander kryg?
Was daar ‘n doel, ‘n vae doel en taak
dat ek ‘n ruk in hierdie land moes bly?
Ek het aan alles dan te vas geraak
om van sy malva en sy mens te skei.
Tog eensaam tussen die sterre en wiere
dwaal ek, en diep in my dubbele aard,
in paaie wat loop van die kiiere,
is ek van geboorte bestem tot verraad.
Woon ek op dié eiland êrens verstoot
met waters wat ewig om my mol en maal?
O God, hoe vrees ek die klein duikboot
wat more, vandag, my eendag kom haal.’
Ballade van die Grysland
De vroegere boere-paradijs
Is nou een molshoop, groot en grijs
Totius: Trekkersweë
I
Uit tonnels van die nag tuur
ek oor rook en mis as ysterspore
my in kringe van die stad instuur.
Teen dakke en skoorstene blink
Die son, soos in ‘n leeggeloopte dam
op bottelskerwe en geroeste sink.
Eers in slote langs die straat,
met blou koffiekan en pik
het ek verbygangers beny, gehaat.
Toe het ons tot ‘n staaldriehoek
die leë olievate opgestapel –
bye aan ‘n nat bruin heuningkoek.
En haar hande, soos oor ‘n klavier,
gryp en vou en gryp en vou
stukke sjokola in blinkpapier.
Draaisae gil en in my ore
klink die geklets van beitels,
die geneul van swart motore.
Uiteindelik valse syfers neergekrap,
kon ek uit vet van viskafees
na ‘n paradys ontsnap.
II
Na tuine van die nag, waar neonligte blom,
het ek met haar gevlug; maar by my was
die vrees – die rekenmeester kom.
Bo na sterre, soos die grootwiel,
van sterre na die aarde,
duisel elke vrou my siel.
Bioskoop en dans, draak en die fisant
dra ons op die mallemeul
nagliks na ‘n Feëland.
‘n Pennieslotmasjien se kake
spoeg ‘n kaartjie na my uit:
“Wees veral versigtig met geldsake.”
O die vrees! as die rekenmeester kom
hoe sal ek kan verantwoord
en verslag gee van sy eiendom?
Die dag breek grou: ‘op tafelblad’
links in my smalle kamer
‘staan leë bottels in hul nat’.
O week na week gebonde
‘n haas aan die ovale kring
en agter my ses honde.
III
Die hospitaal is wit- gevlak en koel
as die glaspypie water uit my tap…
tot ek die vrees weer voel.
Smiddags groei ‘n oog uit elke kwas
en in die nanag gryp ‘n vlermuis
my dae soos ‘n tros lukwarte vas.
‘n Knop het in my keel gekom
die oggend toe die peerboom
in die steenkoolerf wit blom
O as die rekenmeester kom!
wat sal ek van sy wêreld
nog kan wys aan hom?
Deur tralies wat die tuin omsluit
kyk ek en my verwarde broers
verlangend na die stad nog uit:
hoe deur die reën en laaste lig,
krukkig soos nat voëls
loop elke jas met sy gesig.
Blinkpapier, mallemeul en wiel,
’n laphaas en ses honde
óm en óm … die dun spil van die siel.
Kersliedjie
Drie outas het in die haai Karoo
die ster gesien en die engel geglo,
hul kieries en drie bondels gevat
en aangestryk met ‘n jakkalspad
al agter die ding wat skuiwend skyn
op ‘n plakkie, ‘n klip, ‘n syferfontein,
oor die sink en die sak van Distrik Ses
waar ‘n kersie brand in ‘n stukkende fles,
en daar tussen esels en makriel
die krip gesien en neergekniel.
Die skaapvet, eiers en biltong
nederig gelê voor God se klong
en die Here gedank in gesang en gebed
vir ‘n kindjie wat ook dié volk sou red …
Oor die hele affêre het uit ‘n hoek
‘n broeis bantam agterdogtig gekloek.
Negester en stedelig
Terwyl die Negesterre en die stedeligte witter
in die donker suidelike nagte óm ons skitter,
slaap jy nog weg in nag en swye
langs mos en varings van eertye:
’n see-anemoon waar geel spirale
lig deur water in jou van ’n Oerson daal,
daal in jou slaap; jy roer,
’n vis teen riet en maan se perlemoer;
jy sluimer in ’n tonnel van die kuil –
’n otter in nat holtes nog verskuil;
dan stort jy skielik uit as mens, besitter
van die Negester en stedelig se skitter.
Saans as die rye ligte langs die strate brand
sal jy met wye oë en met kleine hand
vir my bedui en stotterend sê
hoe groot houttolle kabels in diep slote lê;
partymaal sal jy by my tafel neul
om na die sirkus of die mallemeul
te gaan; en vaster om jou groei bioskope,
fabrieke, speurverhale en mynhope;
saans sal die stad se ligte witter
in jou donker siel bly skitter.
Watter kaart of watter ster sal ek jou wys
om veilig deur die grysland heen te reis?
Sal ek van ’n God praat wat verdoem,
van Christus, en die Tien Gebooie noem?
Voorlopig dan, maar onthou altyd
aan jou dade grens ’n ewigheid;
gee sin aan voorgeslagte deur die eeue heen,
besef jy is ’n vegter weer van die begin, alleen;
en mag die Suiderkruis en Negesterre witter
as die stedeligte in jou siel bly skitter.
Sprokie van die Spikkelkoei
Uit holtes van ‘n boom
het kuddes vee gekom,
toe kies my broer
die spikkelkoei vir hom.
Ek stoot hom oor ‘n krans,
toe val hy in ‘n mik,
toe het ‘n kraai
op die spikkelkoei gaan sit.
Smeer vet aan die klip,
korrel fyn, moenie kwes,
toe sak ‘n duisend vere
noord, suid, oos, wes –
sak ‘n duisend kraaie
oor die bloed, oor die klip . . .
O waar sal ek skuil
teen die stippels wat pik?
Te klip om te boom
Klip kan net klip,
sy teel is onderverdeel
tot stomme klippertjies
duinend rondmeel
Boom kan net boom
word langer en ook swanger
tot singende boompies
voël om die voorsanger
Maar voorwaar:
voor boom kan boom
moet klip eers klip,
en klip teel swaar
glo miljoene jaar.
En soos Sigeuner sê, so is dit met vriendskap ook!
Klara Majola
Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.
Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.
Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim,
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.
– D.J. Opperman