DJ Opperman
Daeraad
Die bosveld lê in more sluimernis,
Nog voor die fynste teken voel die vroeë tarentaal
Die rooidag wat aan nader is.
Daar op die bergtop skiet ʼn straal
Sy lig en worstel teen die duisternis.
Die berge en die bome staan in fyn relief;
Die vleie en raveine snoes in swartfluweel
Wat soos die masker van ʼn dief
Die ware vorm van wese steel,
Maar op die bergtop lê die nag deurklief.
Ek wens toe op die krag om te aanvaar
Die aantog deur tradisie, bygeloof, verbloemenis,
My leiend tot die bergtop waar
Die vorm van alles duidelik is,
Omdat die Hoër Lig die nou verklaar.
Die Vallei
Die mis dwaal deur die holtes van die nag
Na duine waar die skugter aandblom geur
Om in verstrooiing heimelig te wag
Op maanlig wat die donker hangsel skeur.
In die vallei, groen maanlig in die nag,
Musiek van fantasie jy laat ons treur
Na daardie vlam van lig wat ver en sag,
Maar koud, deur die sterre-gaatjies na ons speur.
Die dal vol vonkelende morewyn
Laat ou verlangens van die nag verdwyn,
Die nugter oog se pligsbesef verkry…..
In wrede skoonheid, tot die verre blou,
In eeu-ou plooie, sien ek: Die Vallei
Van Duisend Heuwels vou en vou en vou.
Stadsaand
ʼn Sagte Skuifel oor die vloer,
ʼn Dowwe skynsel in die saal,
ʼn Klop op die tamboer
En rûe halfpad kaal…..
Droef waai die wind die misreën oor
Die rye dakke, skuins en blink,
Tot alles lig verloor
En in die nag wegsink.
Die klanke van die kerkklok kring
ʼn Somber tyding deur die nag
En stoot ʼn huiwering
Deur my, hier waar ek wag.