Eitemal ( WJ duP Erlank)
DIE DONKIEWA
Verblindend-blak uit bloue sfeer
brand die son op asvaal velde neer,
en ver, waar hitte spieëlglans,
rys bome op in sidder-dans.
Al verder skuiwe boom en bult –
die donkies sleep met groot geduld
‘n stadig-oor-die-klippers-wa
so lui en langsaam agterna.
Versigtig, voet vir voetjie gaan
Die Vaalspan voort. Die stowwe slaan
van onder op en draal en draai,
te lui en loom om weg te waai.
Maar hulle stap met kop omlaag
en ore pap. Durf een vertraag,
dan doef die baas se gorssweep dof
op asvaal vel ‘n strpie stof.
Dan skrik die ore op. So styf
Span string en borsketting teen sy lyf,
dat hy swaar-wurgend asemhaal –
tot weer en kop en ore daal.
Kom rustyd na ‘n lang skof,
gaan rol hul steunend in die stof,
staan op en kla met groot gebaar
hul nood:”Dis swaar, ja, baie swaar.”
Die begrafnis
“Is iemand dood? En wie was sy?” –
’n Vreemd’ling vra en stap verby.
Die bure sug: “So ’n goeie vrou!
Haar skoonfamilie gaan ook rou.”
Die dokter frons: “Dit was nogal
’n Allermoeilikste geval.”
Die predikant, manel en das,
Gebaar: “Ja, alle vlees is gras.”
Twee kleintjies, met dik snye brood,
Roep: “Omie, onse ma is dood.”
’n Man staar eenkant op die grond
Met twee diep lyne om sy mond.
DIE BOOTJIE NA KAMMALAND
Hoe sag gly ons bootjie, en wieg heen en weer
op golfies wat dein oor die maanblanke meer!
Met kommer en sorge gelaat op die land,
wuif ons aan die vriende vaarwel met die hand.
Verbeelding is stuurman, hy sit aan die roer,
en wys ons die weg wat na Kammaland voer;
dis oos van die son en dis wes van die maan,
die land waar die jonkheid mos nimmer vergaan.
Die sterre staan hoog aan die hemel op wag,
en strooi oor die water hul tint’lende lag.
Die windjie is wakker, hy suis langs ons oor
en dans op die maanpad wat flikker hier voor.
En ruisend kom sit op die agterskip nou
die sluimer met albei sy vlerkies gevou.
En wiegende kom ons in Kammaland aan,
ver oos van die son en ver wes van die maan.
Drinklied
Nog ’n skuins grappie, kerels
Nog ’n glasie wyn
En die gore werklikhede
Sal in die mis verdwyn
Vonkelwyn en skater laggies
Sprinkel oor ons leed
Tot ons al die muf miserie
Om ons heen vergeet
Styf gearm huis toe slinger
Onder singlawaai.
Wyl die dronk ou wêreld om ons
Rondomtalie draai.
Die Wandellied.
As ek moeg word vir die lewe in die stad, lok my die wandelpad x 2
In die veld pluk ek ’n wandelstaf van die naaste doringboompie af
En sing my wandel-lied en sing my wandel-lied
Of ek luister na my eie voeteval, op pad oor berg en dal x 2
Dan’s ek weer die eensaam wandellaar na die lekker landstreek wie weet waar
’n swerwer lewenslank ’n swerwer lewenslank
En die blou plafon wat oor die velde strek, sal saans my sluimer dek x2
En die sterre heer sal kom en gaan, oor die maanverligte hemelbaan
En vriend’lik wink van vêr en vriend’lik wink van vêr
GOUD EN SILWER
Goud en silwer het ek lief, met hul kartelrandjies–
lank aan Pa my bedelbrief, kort bly die kontantjies.
Platsak sit ek tuis en kwyn–en ek sien van verre
net die maan se silwerskyn, goudlag van die sterre,
net die maan se silwerskyn, goudlag van die sterre.
Nog veel mooier lonk die goud in gevulde kanne;
wyn en lied is eeue oud, ewig jonk die manne.
Carpe diem: ons was trou aan dié goue wysheid–
en ons sal dit nog onthou in ons silwer grysheid,
en ons sal dit nog onthou in ons silwer grysheid.
Maar die skoonste goud van al: lokke van die nooi’ntjies,
soos ‘n goue waterval van die goue kroontjies!
Laat ons in dié heerlikheid net van soentjies lewe,
voor die silwer van die tyd om die hofies bewe,
voor die silwer van die tyd om die hofies bewe.
Wie net een ou nooi’ntjie soen, een en niemand meer nie,
teenoor ander skaamrig doen–hy het nooit studeer nie.
Al die oorryp soentjies hang daar soos goue are;
pluk hul voor die ryp hul vang in die silwerjare,
pluk hul voor die ryp hul vang in die silwerjare.
Liefste neem’t nie kwalik nie as ek jou gehoon het
deurdat daar nog twee of drie in my hart gewoon het.
Goue onselfsugtigheid–daar’s studente enig;
eendag, in die silwertyd, min ek jou allenig,
eendag, in die silwertyd, min ek jou allenig.
DIE LIED VAN JONG SUID-AFRIKA
En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
die lied van ‘n volk se ontwaking
wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die Noorde
rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika,
dit is die LIED van Jong Suid-Afrika.
Die klop van die Voortrekkerwawiel
het die eeue se rus verstoor;
die klank van die voorlaaierskote
het klowe en kranse gehoor.
Die diere het stil staan en luister,
die bome het bewend gefluister:
Dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika,
dit is die KOMS van Jong Suid-Afrika.
Waar songloed in glorie die berge
oor hul fronsende voorhoof streel,
waar ruisende wind oor die vlaktes
met grassaad kerjakker en speel,
die land wat ons vaders gekoop het,
met bloed tot ons eie gedoop het:
Dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika,
dit is die LAND van Jong Suid-Afrika.
Die golwende veld is ons woning
en ons dak is die hemelblou;
die Vryheid alleen is ons koning,
sy wagwoord is: “Handhaaf en bou”.
Die stryd wat ons vaders begin het
sal woed tot ons sterf of oorwin het.
Dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika,
dit is die EED van Jong Suid-Afrika