Elizabeth Eybers
Maria
‘n Engel het dit self gebring
Die vreugde-boodskap – en jy het
‘n lofsang tot Gods eer gesing,
Maria, nooi uit Nasaret!
Maar toe Josef van jou wou skei
En bure-agterdog jou pla,
Het jy kon dink, eenmaal sou hy
Die hele wêreldskande dra?
Toe jy soms met ‘n glimlag langs
Jou liggaaam stryk . . .die stilte instaar . . .
Wis jy met hoeveel liefde en angs
Sou hy sy hellevaart aanvaar?
Die nag daar in die stal – geen een
Om in jou nood by jou te staan
Het jy geweet dat hy alléên
Getsemane sou binnegaan?
Toe vorste uit die Ooste kom
Om nederig hulde te betoon,
Wis jy hoe die soldate hom
As koning van die volk sou kroon?
En toe hy in jou arms lê,
Sy mondjie teen jou volle bors,
Het jy geweet dat hy sou sê,
Toe dit te laat was: Ek het dors!
Toe dit verby was, en jy met
Sy vriend Johannes huis toe gaan –
Maria, vrou van smarte het
Jy toé die boodskap goed verstaan?
Die Persketak
Die spiere kan nog beur as die hart bot
geword het en die lippe stram en droog:
vanmiddag het ek opgeklouter tot
verby die laaste wit gebou, waar hoog
teen klip en krans verwronge bome buk,
en daar het plotsling teen die sagte blou
’n wilde perskeboom sy helder mik
van ligte en vlamrooi bloeisels oopgevou!
Klein toorts wat waghou bo die eensaam kloof,
jou vreugde striem my oë met die steek
van sout dat jy in duisend vonke breek
– Hoe kan die hart dan sy verdriet uitdoof
as hy, sat en weersinnig, nog die seer
moet dra van jou wat helder is en teer?
WES-TRANSVAAL
‘n Skurwe huisie uit ysterklip gekerf;
‘n slap draadheining; op die stoep lê rond
‘n vark, vier hoenders en ‘n kafferhond;
‘n stowwerige kind kruip oor die werf.
Die baas leun lust’loos teen die skewe hek,
sy kin gestut op hande ru soos grond,
sy oë glansloos, stroef sy mond.
Hy sug om dan met dieper asemtrek
weer oor die naakte vlaktes heen te skou…
Hoe staar hy so geduldiglik? Hoe het
die hemel hier ‘n stiller, wyer blou?
God het geen berge of bosse oorgehad
toe Hy dié land moes maak, en kon toe net
die vrede van voleindiging hier laat.
EK MOES DEUR BAIE PYN…
Ek moes deur baie pyn om mens te word,
om in myself die wyer Self te herken;
my dure nardussalf was uitgestort
eer ek die ryker erfenis kon wen
waarna die eenling-siel wanhopig stry
of wat hy trots versmaai: eers toe my gees
net daar was om my liggaamspyn te ly
het ek geleer om mens, om vrou te wees,
een uit die effe menigte… Blydskap,
so sterk en rustig soos ‘n groot stil man,
het oor die drumpel van my hart gestap
en daar geen hoë waan of bitter wens
gevind. –Ek het my opeens ontdek: voortaan
nie meer, goddank! half-god, half-gek, maar mens!
WAT IS DIE WONDER…
Wat is die wonder tussen jou en my
wat ons gevoer het uit ‘n wank’le hede
na hierdie tydloosheid van silwere vrede
wat soos koel watersirkels wyer sprei?
O laat ons dit nie liefde noem, want dit
wat mense liefde noem, is siek verlange,
en hoop, en liggaamshartstog, en die bange
versekering van kortstondige besit.
Laat ons geen hoë woorde spreek, en juig,
en in ons menslikheid vermetel-bly,
die trotse stilte met ons stemme tart;
Maar laat ons stil-eerbiedig samebuig
om dankbaar die versoening te bely
van àl ons ou verbittering en smart.
OPSOMMING
Tot dusver kom dit eenvoudig hierop neer:
jy het verduur wat jy geprogrammeer
was om vanaf die aanvang te deurstaan
en benader nou die einde van jou baan.
‘n Skroothoop nietighede skep ballas,
daarmee sou jy ‘n hele koffer vol
kon stop om sonder omkyk te verkas,
met rym – indien moontlik – steeds in ‘n verfraaiende rol.
PYN
Pyn met grimasse, met dierlike klanke,
kan sterker dan wat ook jou wese versteur
en tog is jou egtheid juis daaraan te danke
en word pyn byna nooit uitermate betreur.
VERSINSELS
Versinsels is eerstens ‘n soort van bedryf
om dinge wat onderling klop op te skryf,
die gees te verhef bo die lydsame lyf:
versinsels wil graag hul uiterste doen
om liggaam en siel met mekaar te versoen,
nie soseer om die werklikheid te onthul
as om sy tekortkoming aan te vul.
Wat van voortgesette versinsels nou?
Hoe lank kan jy hulle nog blindelings vertrou
om jou dag na dag op die been te hou?
LAASTE POGING TOT LOGIKA
Leemte – as mens jou dáármee moet versadig –
neem ruimskoots toe, word gaandeweg oordadig.
Wat alte gou aanvaar word as verwonding
is meestal maar bombarie van afronding
gepaard met peuterige ongerief:
nie werklik geldig as gegronde grief.
Vroeër was jy verdiep in dag-na-dag,
nou blyk daar selde iets om te betrag –
selfs vir die slot volkome ongeskik
ontwyk jy steeds die dwang van voet-by-stuk.
VIR BERT
Noudat jy swyg is daar niks meer
vir my om ooit nog te begeer
buiten die tydstip waarop ek
dieselfde stilte mag betrek.
WAARNEMING
“Dit is my seun” het ek verwaand verklaar
soos een wat sorgeloos ‘n feit aanvaar,
dog plots staan daar slegs één gegewe vas:
dat is wreedaardig snel verword tot was.
TWEETALIG
Om verskoning te vra dat ek soms irriteer:
met Engelse rympies grootgemaak,
probeer ek al hoe langer ek leef al hoe meer
om ‘n vroeëre klankspel op te vang
wat die stem van my moeder weer laat ontwaak,
want sy was die een wat voorgelees
of voorgesing het: al na gelang
in die regte toonhoogte om vrolik te wees.
Aangaande die taal van haar voorkeur: ek was
eers te jonk, nou te oud om iets te betreur
en geneig om alles maar goed te keur
voortgespruit uit ‘n vrugbare skuldlas.
BEWUSSYNSTROOM
Met verloop van tyd gaan alles verby
wat verdrietig maak en tewens ook bly
is daar dan in godsnaam niks wat bly
tensy jy dit op papier kan kry
wat selde luk dus raai ek jou aan
laat die fatale tyd maar begaan
tot jy eendag – al is dit ondenkbaar nou –
alles laat vaar en die res behou.
ONDERWEG
Ongeordende wanopvattings
onoplosbare misverstande
onverbiddelike basisbegrippe
– so ‘n monsteragtige groep
ondinge, reptielegebroed
alkante onkeerbaar voorhande,
‘n smetstof wat vryelik versprei.
Maar laas het ek iemand ontmoet
met ‘n lag soos ‘n slaginstrument
en ineens daarvan opgeleef:
die onteiende hart wat nog streef
na sekerheid onder die son
vereenselwigheid homself al meer
met elke afwysing van on-
AANPASSING
Dat iemand wat vroeër bereikbaar was
geen tyd meer het vir jou
is ‘n feit wat heel begryplik pas
by hoe die soort sake ontvou:
ingeval ek jy was, sou ek besef
dis dom om iets wat ‘n ander verkies
ineens tot ‘n skouspel te verhef
van tragiese verlies.
PROGNOSE
Jou moeisaam gemaskerde grief
dui aan jy het eensydig lief,
gawe vir onverskilligheid
gedurig onder middelmaat,
tog: wanneer naaste, laaste kwaad
jou toegesê word, kernbereid,
te oud vir ophef of lawaai…
Daar bly niks oor as hou jou taai.
OORWEGING
Wat slegs as moontlikheid bestaan
hou veilig en versekerd aan
wyl wat as feit beboekstaaf staan
reeds besig is om te vergaan.
VERBRUIKERSVERSE
Dit wat ek self as verbruiker nodig het
en ook aan elke toevallige luisteraar bied
is alledaags, direk en onverlet:
‘n gedurig voorhande synde soort van lied.
OPMERKING
Hoekom gaan jy so vroeg na bed –
om tog iets uit die nag te red?
Nouliks op roering voorberei,
sonder vermoede selfs, durf jy
jou lyf te waag aan een en ander
vóór alles bliksemsnel verander.
‘n Paar uur slaap, dan in ‘n wink
klaar wakker wees vir daardie dink
wat niks verhelder: strengelwoud
van vrugtelose oponthou…
Teen dagbreek, onverwags, ontbied
‘n nuwe droom jou. Uit die niet
daarna, met aardse goed omgewe,
staan jy nog vreemder in die lewe.
GEMYMER RONDOM VRIENDSKAP
Mens kies nie jou vriende vanweë hulle deugde, hoewel
‘n welwillende aard altyd help. Dis ook aan te bevele
dat julle mekaar slegs oorwoë die waarheid vertel.
jy hoef nie jou vriend haarfyn te weerkaats: twee
gehele
steek af bymekaar. Elk word deur die ander aanvaar
as ‘n aparte wese, met minder gevaar
van vroeë vervreemding. Jy’s koppig en bowenal
wil jy liefs nie by voorbaat gebrandmerk word as ‘n geval
wat bygekalfater moet word om te leer konformeer
volgens plaaslike norme. Oorhaastig en dwaas emigreer
maak nie boete doen minder oorbodig of iets meer
aanloklik.
Maar vriendskap wat onwillekeurig op gang kom verras
en wek iets opwindends. Ten slotte blyk alles betreklik,
nou weet jy dat dit die beseëlende heelmiddel was.
MEREL
‘n Genadelose verhaal
afgepas in hemelse taal:
‘n merel borduur die dag
met liertjies en sterretjies van sang.
Hy sing sonder selfbeklag,
vertel nie hoe erg hy verlang,
verdryf net met soete venyn
inbreukmakers op sy terrein.
Plus-minus 4 v.m.
in die klokhuis van April:
die wagtende nag, ritselstil,
verfyn die ontvonkbare stem
wat dwarsdeur weer en wind
siklies en lewenslank
uitwissing trotseer tot die punt
van vlymdun, ylhoofdige klank.
NOOD
“Ek het jou nodig en jy is nie daar…”
Getsémané se troostelose verwyt,
hoe onverdiend, klink steeds onloënbaar.
Swyg nietemin en raak mekaar nie kwyt.
VERKLARING
(aan ‘n besorgde kritikus)
Ek rym
om een en ander aanmekaar te lym
vóór die hele pakkaas in wanorde verstik
en wyl ek oor geen hulpmiddel beskik
om sake, aan my sintuie toevertrou,
by- en daarnaas ook uitmekaar te hou,
vir elke rolvervulling ongeskik
behalwe die beproefde patologie
van poësie.
As ek ooit iemand uitdaag of ontroer
word geen verskoning aangevoer.
So nie, ook nie.
NEWEWERKING
Toe maar, dit was jou kinderlike plig
om my op één punt in te lig:
dat ‘k nie kan hoop om ongehaat
te bly tot ek die lewe laat.
‘n Vreemdeling sou dit ook kon doen,
maar minder doelbewus en sonder
dat ek my daarby moet verwonder
oor hoe die onpaar, liefde en haat,
deur streng verwantskap word versoen.
BESPIEëLING
Elke vagevuur, vir één gereserveer,
hys ‘n uithangbord om ander af te weer.
tog vreemd dat ons verplig word om mekaar
juis dáár tromp-op van digby aan te staar.
DOWEMANSDEUR
Voor dowemansdeur het ek aangeland
op my eentjie, en wat moet ek doen –
asof in die ban van ‘n groot misverstand
met jou agteloosheid my versoen?
Liefde gaan met bepaalde gevoelens gepaard
én met handelinge wat daarby hoort:
wanneer dade opeens tot ‘n nulpunt bedaar
duur gevoelens nog vorstelik voort.
Om voor dowemansdeur iets ondoofbaars te red
luister, ook namens jou, luister ek net.
KENNIS
Jy ken God kragtens jou onwetendheid,
Hy dank sy almag aan jou onvermoë,
jy leer, geleidelik opgelug, dat Hy
nie iets of iemand is om aan te glo
maar te ervaar: uiteindelik mededoë
met deelgenote in sy werklikheid,
die Kans wat ons dwarsdeur die doolhof lei
en later elkeen om die beurt bevry.
PARESE
Asimmetrie, wat ek hartstogtelik haat,
skilder sy uithangbord op my gelaat.
Goed, dink ek dan as ek die spieëlskrif lees,
sonder die gangbare reëlmatigheid
so broodnodig vir welgevalligheid
mag ek voortaan hopelik ‘n grapjas wees.
Die oninnemende, bisarre taak,
gedwonge afsweer van konformiteit,
beloof behalwe ontsteltenis ook vermaak
en kykers tot toegeeflikheid bereid.
PALIMPSES
Jare van liefhê kom nou goed van pas,
gemeenskap bloei in ongebonde staat,
omdat jy jou herinner hoe dit was
is dit vir die verlede nooit te laat.
Geluk bly altyd binne handbereik,
word nie verwilder deur moedwil van tyd
of skade van verdoeselde verraad.
As dit te voorskyn borrel, dien die res,
die vroeëre, alleen tot palimpses.
STATUS
Enigeen ywerig genoeg en net nie te dom om professor te word
kan allerlei stellings verkondig
wat ronduit teen suiwer bevinding van sintuie sondig
en daarnáás haar of hom op aanvaarde klaarblyklikheid stort
gewigtig genoeg om as kenner erken te word. Verder onmondig.
Maar jý vir die wis en die onwis huiwerig omgord:
sonder status lyk alles wat maak dat jy is wat jy is minder
grondig
eerder toevallig, kortstondig,
onomwonde maar nietemin bondig
en buite gesagsgebied van die Sinode van Dordt.
SNAGS
Ja, hier is ek nog en miskien hoef ek nooit weg te gaan
dink jy dan wanneer jy wakker skrik diep in die nag.
Wat jy agter moes laat word nie wasig omdat jy dit nie meer bewaak,
jy bewaar wat jy kan en die res voer ‘n eie bestaan,
soms binne bereik, deur verwording onaangeraak,
ingekapsel in amber, immuun tot die jongste dag:
jy werp ‘n verwonderde blik deur die tralies van tyd
waar al die verdwene wat nie wil verdwyn op jou wag
en word nog betrokkener by die oneindigheid
keer op keer wanneer jy wakker skrik diep in die nag.
LIEWE LESER:
Ja, ek weet hoe ek-sentries vertoon
my tuisgemaakte heelal,
die wêreldjie wat ek bewoon,
my drang om dit steeds uit te stal
op so ‘n eenpersoonskaal – maar miskien
kan jy iets van jouself daarin sien?
AFSKEID
Die ronde vuurkleurige son
vergryp hom nog tussen al die beton
aan ‘n laaste wanhopige raam
wat hartstogtelik soebat om saam te gaan:
hy talm ‘n oomblik om hom te bedink
en laat haar dan in die kanaal maar verdrink.
GANG VAN SAKE
Kort en bondig van stuk
vademloos van vernuf
straal hy inhaligheid
het hy haar nooit gehaat
maar as haremhoofvrou geëer
terwyl hy konstateer –
hoe onvolwaardig diensbaar
aan sy oogmerke sy ontaard –
sy met haar blesbokbene
met haar geleerde familie
haar drang om te formuleer
sinsnedes te maneuvreer
ten einde, eindeloos verneder,
op die been te bly tot sy bely
nou kan ek nie meer
AANTEKENING
Insake P. en E.
afdeling soort soek soort:
hul dag is goed bestee
wanneer dit die ja-knik gee
vir één onvervangbare woord
presies op die plek waar dit hoort.
UITSIG OP DIE KADE
Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel.
Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei.
Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei.
DINK JY SOMS
Dink jy soms aan die Bybelse mot en roes
-indringers wat woekersugtigheid verwoes –
en aan dit wat daarteen gevrywaar bly,
vra nie waar en hoe? En aan listige roet
wat eindeloos neersif tot alles vergly
in ‘n chaotiese grou moeras,
aan die onstelpbare strome bloed
waarvan buurmense naarstig mekaar ontlas
terwyl griewe gevoed word en niemand versoen,
aan hoe jý moet gedy en daarnaas nog boet
deur straks aan ontbinding mee te doen?
O, argloos verseil in die dwase stoet
dwaal die dwaser liefde wat alles vergoed…
OM GELUK TE ERVAAR
Om geluk te ervaar word ‘n onvoorspelbare taak,
noodsaakliker juis wanneer geensins ‘n aldagse saak,
vermoedelik iets om in ootmoed oor na te dink
behalwe dat nadink selde bevordelik blyk
vir ‘n toestand wat spelenderwys op geluk probeer lyk.
Aanvaar dat daar êrens iets soos geluk moet bestaan,
dat dit buite geskrewe wette beweeg langs ‘n baan
(byvoorbeeld een wat ‘n mens met sy doelwit verbind
of twee mense, blindelings één, in mekaar laat versink)
waarop geen sterfling onskendbare aanspraak kan maak
maar wat af en toe tog nog jou eie dobbergang raak.
Teëspraak
Mens dig noodgedwongener oor ondraaglike dinge
of dinge wat eintlik geen reg het om te bestaan,
gebeure wat eerder ontken moet word of genegeer –
maklik gesê en nie minder maklik gedaan
tensy jy hul tog in die oog kyk, betas en takseer
en met steeds ondernemender woordegegogel besweer.
Ondraaglikheid, onbestaanbaarheid tel dan nie meer
behalwe as prikkel om teëspraak aan te gaan.
Die pad
Die pad kronkel fouteloos verder, alles moet lei
tot ontmaskering van ‘n ontsaglike misverstand…
Verdink nie die wandelaar van nodelose sloerdery want
die laaste ontluisterende skuifelgang hoort ook daarby.
Die geïmproviseerde slotnommer word samegeflans
uit raapsels herinnering, klankflarde, ‘n kruppel kadans,
maar die uitkoms is suiwer, vroeër of later beland
iedereen in die vereffening, eendag ook jý.
Al weet jou meedobberende kop beswaarlik nog wat
sy knik wil bevestig, jou voete betwis nie die pad.
Uit: Omgang
I
Ek sou veeleer met rus wil gelaat word,
die voorskrifte listig ontwyk
wat uit duisend geluidsbuise stort
solank dié wat ek liefhet vermoed
dat ek tog nog kan luister en kyk,
my binneste sintuie voed
met koesterende eggo’s gesyg
uit wat húlle sê of verswyg.
Ek ken die nag
Ek ken die nag se binnekant,
met oë gesper, met hand en tand
het ek sy omtrekke betas,
sy ryk van hoek tot kant gemeet.
Geen uithoekie waat ek nie was,
die soet wegsink het my versaak,
elke sekondevolle uur
het my ronddolery aangevuur,
my meer gewys as wat ek wou weet.
Sy gramadoelas afgepas
het ek die nag omstandig meegemaak
ken ek sy binnekant.
Requiem *
Ontkom aan ‘n omswagtelde verlede
het ek ‘n kwarteeu lank sy slaap gedeel,
verkennende en vindigryke jare…
Die nag was ons domein maar op die duur
kon dit die skade van die dag nie heel
met soveel ure ruig van moontlikhede
om elkeen in ‘n eie koers te stuur.
Sinds ek verneem dat sy titaanse ywer
deur woekerende selle word bedreig
luister ek snags weer na sy asemhaling
en gun hom daardie ongedeelde slaap
van een wat elke sege waar wou maak
deur menslike oorwegings te ontstyg
in die vervulling van sy dure taak:
mega-insameling vóór asemfaling.
Dit is nie alles nie. Hy was ook sag
en vriendelik en kon vroeër aansteeklik lag.
Roem
Opwaarts gesleur uit anonimiteit
waar ‘k tot my laaste asemtrek wou skuil,
eenselwigheid vir ruimtevrees verruil,
steunpunte onbereikbaar yl verspreid…
Eerlose voorjaarmerels, fluit, ek sal
ons afspraak nakom ondanks die geskal:
roem – aangepaste onberispelikheid –
raak ek uit louter agteloosheid weer kwyt.
* Eybers se voormalige eggenoot, Albert Wessels, is in Julie 1991 oorlede
SONNEBLOM
Van aangesig tot aangesig
kan hy die son aangaap, gedoog.
Onkreukbaar in sy vlammekrans
straal hy ‘n trillende balans:
astrant en ronduit nederig
van eenvoud, sy omskanste oog
-met meeldraadwimpers drie rye dig-
vol ruitjies soos dié van ‘n vlieg
maar sonder lis.
Das Ding an sich
en weergaloos. Geen ander geel
is so deurdrenk, essensieel.
MISKIEN
Die saaiste deugde wat jy kan bedink
-uithouvermoë, selfontsegging – blyk
ten slotte dwingend, kan nie meer ontwyk
word wanneer elke tinteling versink.
Onwrikbare voortbeskikking kom straks uit,
die allesweters wis tóg, sal jy sien
sodra jou sin en sintuie faal. Miskien
is dit God self waarop jy eindelik stuit:
die hiëroglief vir alles wat begrip
en definisie uittart en ontglip.
Maar wat vir jóú aan hierdie denkbeeld raak
het iets met liefde en met musiek te maak.
AMBISIE
Sy voel haar vlerke oopvou, kom op dreef
en duisel van voldongenheid. Dan herleef
haar meisiesdroom: ‘n man om te beskou
as ‘n rede om tot die slotsnik vol te hou.
ABUIS
Die man uit wie se hand ek al die pyn
moes aanneem wat in my vermoë is,
ofskoon feitlik vergeet, kan in ‘n droom
soveel verlange,soveel soet gemis
opwek dat ek verbysterd wakker word:
hoogs ongepas en buite alle verband.
Iewers is daar miskien ‘n misverstand.
VIR THÉRÈSE
Vriendskap word uit vervreemding soms gebore…
By ons eerste ontmoeting onverwags gewend
aan ‘n uitwyktaal: vanaf dié dag in Groet
verskyn jy soos ‘n kripto-immigrant
in ‘n kontrei van skelle en verhewe
krete wat klots teen my ontstelde ore.
Jou suidelike en luierige aksent
bring steeds weer sussend iets aan my verstand:
mens kan subtiel en onomkoopbaar lewe
in hierdie mini-linialeland.
HERINNERING
Besef dat jy niks kosbaarder kan wens
dan daardie oomblikke wat nie sal sterf
solank jy leef, hulle glip snel oor die grens
van werklikheid vóór jy hulle kan bederf
deur blindelings en behoeftig aan te dring
dat hulle meer as net hulleself moet bring.
MEMORABILIA
Hiermee sê ek aan die poësie vaarwel.
Elkeen in staat om twee by twee te tel
en pyn aan poësie te meet merk wel
hoe oorsprong opbrengs in die skadu stel._
Ek waarsku elke komitee
wat my oor iets wil nader: nee
moenie op my reken nie, aanvaar
ek sit van dryfsand aanmekaar._
Na alles wat ek vroeër moes verbeur
voel ‘k my soms ondanks oorvloed ondervoed,
my aangrypendste mymery konsentreer
op springbokbiltong of soetsuurdeegbrood._
Iemand van wie jy reddeloos baie hou
vóór vasgestel is dat hy dit verdien
sê skielik iets verskriklik redelik, sien
nie eens hoe jy ineenkrimp van die knou._
‘n Mens het albei nodig ongeag wat die mense sê,
een om mee te lewe en een om lief te hê._
Op spysvertering en hartklop toegespits
sal min diepsinnigs jou te binne flits.
Deur duisend kiertjies kruip die koue wasem
jou arbeid raak onklaar, daarna jou asem._
My kop klop my wakker, weer
so ‘n goiingsak oggend wanneer
my lewer wat lewenskuns leer
my toefluister dit hoef nie meer._
Hoe angsbevange en mistroostig weef
die mens ‘n visioen van uitgelese
onsterflikheid, bizarste hipotese
wat eeue van besinning kon oorleef.
DEESDAE
Die muse skyn my deesdae te vermy.
Niks aan te doen. Geduldig verder gaan.
My kleinseun – vyf-en-‘n-half – en ek verstaan
mekaar. Laat maar, want jij bent oud sê hy
wanneer ek blyk van onbehendigheid
by die saamstel van ‘n speelgoedhyskraan gee.
Hy wil gaan fiets. Dit reent. Je hoeft niet mee,
dan word je haar zo nat. Dis geen verwyt.
Die dae wedywer om hom te laat gedy,
elke kontoer word liefderik afgerond,
gepoets, albasterglimmend en gesond.
Die dae het iets anders voor met my.
Wat ben je stil vandaag. Geboë oor
sy lego eis hy meer geselligheid.
Ek sing ‘n liedjie uit my kindertyd.
Ben jij vra hy beleef ook lid van het koor?
Hy sê opeens het duurt nog héél héél lang
voor jij doodgaat – nog meer dan honderd dagen.
Gulheid oorskry sy rekenkunde, skraag en
vertroos ons, maak ons bly en amper bang.
ONTHEEMDE
Hier, in die vreemde, en sonder ‘n masker aan…
Die mense is hier nie minsamer as daar, gewis
nie toleranter. Wat of wie
hou jou hier vas? Dáár was die lewe beter
en niks belet jou om weer terug te gaan.
Jy antwoord selfbewus:
argwaan en haat is te verdra
tussen gelykgeregtigdes wat nie
verordenend mekaar verneder,
menswees met rubbertjap betwis.
Hoekom huiwer ek om te vra:
my broer, my natuurgenoot,
word ons kinders terreurloos groot?
-En die onbetaalde gelag van die verlede?
GELUK
Jare gelede dit maak nie saak wanneer
by my eerste ontmoeting dit maak nie saak met wie
het ons mekaar op ‘n tydstip los van tyd
stip aangekyk, gekyk.
Soms flits dit weer in my bewussyn terug
verblindend skerp, ‘n pyl van louter lig,
bewys en waarborg van ek weet nie wat.
KOMMUNIE
Die tafel word afgedek,
dan volg nog ‘n ritueel:
hulle gaan na ‘n ander vertrek
om mekaar met mekaar te deel.
JALOESIE
Tumor wat teer op liefde, galgroen smet
wat alles om jou heen soos met ‘n kwas
beswadder: by jóngwees het dit gepas.
Nou flonker sintels van onsekerheid
weer geel en sisserig deur die wakker nag,
‘n onaanvaarbare helder film herhaal
die afskuwekkende verlede tyd.
Jy knyp jou oë toe maar kan nie keer
dat hy en sy nou sus dan so poseer.
Ja, om die beurt word die gelag betaal.
Iets het jy minstens afgeleer: verwyt
wat iemand anders drome wil belet
en vrywaring van eie droom verwag.
Staan op dat jy die magtelose grimas
met yskoue water van jou bakkies was,
doen wat jou hand vind, oefen om te sê:
wees soos jy is, nie soos ek jou wil hê.
LECTORI SALUTEM
Van my geboorte af kleef die swawelsmaak
van erfskuld op my tong. Dis ongesond.
Sodra mens met die digkuns kennis maak
speel jy met vuur of ruik aandagtig lont.
Voelspriete van my verse klad die grens
wat goed en kwaad onhaperbaar moet skei.
Hier het jy hulle, met die helder wens
dat jy teen elke blaam gevrywaar bly.
DIGTERES AS HUISVROU
Altyd ‘n besem iewers teen ‘n muur,
maaltye nooit op die gepaste uur.
Agendalose dae waardeur sy leeg,
hardnekkig en skaars doelbewus beweeg.
Strykgoed wat moedeloos oor ‘n stoelrug hang,
gebare sonder afloop en aanvang.
Ou briewe onbeantwoord, deurmekaar,
papiere en pille in één laai opgegaar.
Dankbaar om haar in jou groot hart te strek
en tog verknog aan haar klein skulpomtrek.
O ordenende teëvoeter, wees
gewaarsku, stuur haar liewer na haar lees.
UIT: GESPREK
II
Soms gee ek die verkeerde antwoorde
of skenk meer aandag aan die donker klank
as aan die suiwer sin van wat jy sê.
Jou drang na helderheid vertroebel my
en tik my terug na my skaduterrein.
Ek smeek jou, luister dan nie na my lippe nie
maar na die waarder weerwoord van my hart.
HERSTEL
As jy nie daar is, dryf ek deur die dag
dun en deursigtig soos ‘n skaduwee
verwar met ander skaduwees, en wag
dat jy my aanraak, omtreklyne gee.
Plots medepligtig knal die voordeur oop,
jy ink die tonnelmonding van die gang,
Dag roep jy, al wat yl is neem die loop
en ek word in jou swaartekrag gevang.
KANS
Die lot spin wasig op sy rand
denkbeeldig boos of goedgesind
totdat hy wankel na dié kant
verkore deur die spelershad
wat haarfyn mik op kruis of munt.
VOETJIE VIR VOETJIE
Voetjie vir voetjie word mens immigrant…
Toevallig uit, toevallig tuis, gestrand
op hierdie teennatuurlike terras
sonder om ooit onloënbaar aan te land.
NAJAAR
Die dae verdonker, verkort.
Ek bly jonk en word reddeloos oud,
my hele verlede lê vóór my
vol helder, onskendbare stellings
wat my reëlreg sou lei na geluk
(jy kan dink wat het dáárvan geword).
Verlies beloof meer dan behoud,
verwagting van warmte, teerheid
trotseer hierdie jaareinde. Êrens,
êrens is iets wat sal bly
al is dit omdat dit nooit was:
iets droombaar, ondenkbaar, wat jy
nie kan aanwys of sorgsaam ingaar…
En mettertyd weet ek weer
hoe soms ‘n smeulende seer
nie etter uitsweet maar attár.
EEN AAND
Die dag toe my onhandigheid
sy verste grens te buite gaan
het weggeslof en my laat staan
te midde van my moedeloosheid
HIËRARGIE
Waarom moet sy die werklikheid nou weer
met opgeefsels soos liefde en dies meer
benewel as dit nikkelhelder is
vir hóm wat alles taks in terme van
profyt en praktiese beduidenis?
Die afloop is voorspelbaar as ‘n droom
hom blindelings vasloop teen die aksioom:
om Mammon te verheerlik leef die man,
die vrou is daar om hóm te dien en eer.
PAARRYM
Ek het die kans gekry om weer te let
op een wat my groot leed berokken het
en daaruit het ek één gevolg getrek:
hy is ondanks dié pyn nie slegter as ek.
Hy doen meer kwaad as ek: hy is aktief.
Hy doen meer goed as ek: hy is nie passief.
Deur al sy baie dade, goed en kwaad,
het ek hom liefgehad en selfs gehaat.
Een ding wat ek, as ek kon doen, sou doen,
is: haat met liefde en kwaad met goed versoen.
Ek weet nie hoe dit moet maar ek vermoed
dat daar dan niks oorbly as liefde en goed
-uit praktiese oorwegings inderdaad
ontydig, in prinsipe nooit te laat.
SNAGS…
Snags as ek, wawyd aan die slaap, wegglip
uit hierdie leë huis om rond te staar
deur al die jare tot ek jou gewaar
dan wag jy nog en nader ons mekaar
met woordelose vergiffenis en begrip…
AFSTAND
Under the hollow roof
The strangers’ voices come –
The night is dark, and I
Am far away from home.
Walter de la Mare
Van tyd tot tyd nog steeds die vreemde vraag:
jy – meestal u – het langsaamaan wel tuis
geraak in hiedie land?
Ek neurie nie die nag
is donker ek is ver van huis
maar knik welmenend vaag
en vals. Ek wortel elders, hoe sou ek my hier
kan tuis maak. dinge en ek gaan aan mekaar verby
sonder herkenning. Daarom laat hulle my
met rus, versin geen hinderlaag, lê nooit beslag
en daarom kan ek hulle goed verduur.
ONTHEEMDE
Haar man het haar nie sonder rede ontslaan,
haar vader het gewag en later doodgegaan,
haar kinders volg elkeen sy eie baan,
daar is geen tuiste om na terug te gaan.
‘Vermoedelik vatbaar vir bereddering’
Gediplomeerde indelers noteer
‘die nuweling spartel nog’ – en gaan probeer.
Maar sy’t haar eie baaierd saamgebring.
VERS VIR DIE AFWESIGE
Vroue en ander verminktes kry jou lief.
Ek neem jou aan, ek neem jou halfheid aan
wat uit hernieude heelwording bestaan.
My onomlynder halfheid het jou lief.
Geslinger tussen inkeer en aandrang
leer ek van liewerlee dat liefde nie
‘n rondedans word sonder terugdeins nie.
Jou dryfkrag wat my boei maak my ook bang.
Getyekoors, dwarskoersig en benard,
kruin op, val skuimend vooroor en bedaar.
Die bloed wat in die lendene vergaar
keer rustig en gesuiwer na die hart –
en jy, heelhuids gestrand, verlos van lus,
kan skaars ‘n halfuur impulsloos bly lê
voor jy jou ledemate opnuut aansê,
tot steiler onderneming uitgerus.
Die saad wat, nagelate, in my wroet
as jy lankal doel-treffend verder gaan
vind niks wat regstreeks wekbaar is en baan
‘n pad na die neurone deur die bloed
vir ‘n vertraagde opstanding. My huis
verduister die getuienis oordag
van alles wat na ‘n gestalte smag
en sluit agter jou weggaan soos ‘n vuis.
EN DAARNA
Die sleutel sug. Nou smeul die appel weer
tussen die windwit blare waar hy hoort,
die slang is stil, die engel voor die poort
staan, swaard in hand, sy rug na ons gekeer.
Vreemd dat die lang dekades inderdaad
na baie kronkeling terugbuig, die woestyn
klein en intiem word soos die eerste tuin,
adembenemender hoewel ‘te laat’.
Voortplanting is die rigsnoer… Ja, maar jy’t
jou stamboom afgerond en my ontmoet
aan die end van my formele vrugbaarheid
en weer moet ons beweeg en nederig streel,
met diep verwondering mekaar begroet
en ken in die verwekkingsritueel.
DIE HOOF SPREEK
Die hart, onklaar en koppig, bly ‘n kind
wat al die eensgevondene wil hervind.
Gaan maar, gaan maar, gebied ek hom, en keer
gelouter tuis sodra jy wysheid leer.
Later, as hy ontredderd voor my staan
ná leegtes van woestyn en oseaan
en ek dan uitvors: bring jy nog iets terug
behalwe ‘n handvol woorde en ‘n sug,
kan hy my vierkant in die oë kyk
en smalend elke kruisverhoor ontwyk.
Ek word al meer geslepe. As hy weer
kom groet, souffleer ek vriendelik: hierdie keer
voel jy wel sat van sorge en verlies
en wil ‘n burgerlike loopbaan kies?
Het ek konsent of seën gevra? tart hy –
Tot siens, ons sal mekaar weer nodig kry.
TAALLES
Die eerste rededele wat mens leer
vóór drie jaar oud is lewenslank genoeg
om die akuutste nood te formuleer
soos: ek het honger… hou van jou… is moeg.
Plots uit die soet ontmoeting weggeruk
het hulle ‘n nuwe saamkomplek ontdek
om oor en oor, onnosel van geluk,
toereikend te verduidelik: jy en ek…
‘n Maand daarna – want tyd bring raad – hanteer
hul moeiteloos die diggeweefde sin,
die voegwoorde van kunstige verweer
soos: daarenteen… ondanks… desnietemin…
SLOT
Hy kon alleen maar doen,
sy grypsug met geen sagte woord versoen.
Sy kon alleen maar sê,
haar saamstem deur geen helder handeling staaf.
En so volg woord op daad en daad op woord,
hul fladder en marsjeer noodlottig voort:
meedoënloos marsjeer die ruwe daad
die sagte woord krys soos ‘n honger raaf.
Nou het hy eindelik wat hy wou hê:
sy dade buk onder hul donker buit,
haar woorde sirkel weg in eensaamheid.
NAVRAE
Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.
Verdriet, volgens ‘n ou ballade, duur
twaalf maande en ‘n dag, tot op die uur.
Die ritueel van rou is vasgestel.
Vreemd, van berou word nie so veel vertel.
Waar vind mens ‘n betroubare gedig
om jou oor die vervaldag in te lig
van daardie individueler hel.
VERWYT
Woorde wil ál wat uit die duister wel
in hul spitsvondige patroon saamknel.
Die flikkering van aksiomas dring
soos angs-oë deur die nag wat ons omring.
Woorde wil die verborgenheid laat swig
voor hul misleidende moerasgaslig:
Hier is die Wondermiddel wat nooit faal!
Hier is die Waarheid, binne perk en paal!
Kwaksalwerkrete en kermismusiek
laat jou terugkrimp, eensaam en twyfelsiek.
Maar ná ‘n week in die woestyn – wat bly
nog oor van jou onkreukbaarheid as jy
dit opgesom en vereenvoudig het
tot ‘n klein, selfgenoegsame sonnet!
ERFSTUK
Die stinkhoutkas het gister ingetrek.
Sy grimmige voogdyskap het getroon
oor al my kinderjare: nou moet ek
ylhoofdig van herinnering, by hom woon.
Van diè vermaledyde ambag moeg
maar nog vol sarrende halstarrigheid
wou ek verlede nag ‘n vers uitswoeg
van woorde flitsend uit my vroegste tyd:
klanke wat glad of kantig op die tong
getintel het, waarvan die smaak vergaan –
lampolie, klepel, kraffie, lampetkom,
serfyn, aluinsteen, lanfer, lewertraan…
Die kronkels van my oorkanaal was vol
sagtartende sillabes wat kon toor
dat dertig jaar smelt tot ‘n kaiingkol;
maar koekmakranka, wilde-als, konfoor,
kateder, doopvont, vysel en vergiet,
kwepersambal en karbolineum
bly onversoend en eensaam – dis verniet
dat ek hul ryg tot rym en ordening,
dat ek hul sif en skuif met oë wat skroei
van soek na ‘n besweringsformulier
want hulle het plots geflikker en vervloei
tot mene, mene, tekel teen die muur.
PIETÀ
By die beeld van Michelangelo
in die Sint-Petruskerk, Rome
Hy is weer waar hy hoort, haar eerste seun:
die spanninglose liggaam weeg nog warm,
die vreemd-volwasse hoof hang oor haar arm,
sy beur haar regterknie om hom te steun.
Nou kan sy hom sorvuldiger beskou…
die fyn ovaal van haar gelaat word weer
jonk en verwonderd soos die eerste keer:
so sal sy hom ‘n leeftyd lank behou.
En weer gewaar sy: elke groot pyn bring
die stilte, peilloos van versadiging…
Al het geen ander vrou hom ooit vervreem
word alle seuns uithuisig op die duur.
Sy makkers sal hom uit haar skoot kom neem,
soos vroeër ook, maar nou’s dit nog háár uur.
ONTMOETING
Uit die gedrang, amorf, op straat,
opeens die kenbare gelaat.
‘n Paar minute was ons saam,
beleef en sku, soos dit betaam,
toe, uit ons afskeidsblik, ontglip
‘n vonk van plotselinge begrip
soos uit ‘n vuurslag, onverwag
en tintelend. Die hele dag
het ek dit koesterend vasgehou
met my saamgedra – ek, vrou
van by die veertig, onvoldaan,
maar oud genoeg om te verstaan
hoe klaar en onkortstondig dít
bewaar bly wat mens nooit besit.
SLAAPWANDELENDE KIND
Sy was nooit hééltemal van ons
maar nooit só ver soos hierdie nag.
Nou neem die gees wat dag na dag
in die smal kluis van been en bloed
spook soos ‘n sperwel in ‘n wip
wraak teen die liggaam wat hom bind:
na dieptes ànderkant die slaap
soos deur ‘n breë, donker vloed
gespoel, gewentel, het die kind
uit haar klein warm bed geglip,
met slu-heid wat bo-sinnelik is
behendig en tog onbewus
die steil spiraaltrap afgedaal,
die sware voordeur oopgesluit
en in die herfsnag weggedwaal.
Gedwaal? Maar iemand wat orent
en ferm stap en nooit ‘n hand
bang-tastend hef wéét waar hy gaan:
onthou sy nog die wye land
waaruit die lewe haar moes haal
en soek sy iets verlore terug,
iets waarna óns nie meer verlang?
Sekuur, soos oor ‘n hoë brug,
seker en doelgerig haar gang
in wapperende yl nagjurk
met oop onsiende oë, langs
swart skadus wat teen struike hurk,
straat-af, teer voete op skerp gruis,
tot waar sy eindelik, ver van huis,
ontwaak tot koue, pyn en angs…
Hoe sal, deur ons klein labirint,
sy voortaan ooit haar weg weer vind?
RöNTGENFOTO
Bekyk haar goed – die strak gesig
wat stip sy blik na buite rig
stel mens gerus, want geen portret
vlei meer as dié van die skelet
wat alle weekheid laat verdwyn
en elke deug presies omlyn:
die oog is weifelloos, die mond
word nooit verleë of verwond;
die skouers flink, horisontaal
-jukstang van ‘n aptekerstaal-,
die hele blink struktuur van been
met weefsel skemerig daaromheen
is keurig inmekaar gepas,
en, deur die tyd onaangetas,
soos elke ware kunstenaarswerk
tot die essensie ingeperk.
Die res, wat blote bysaak is,
dryf omtrekloos deur ‘n dun mis:
die hart, met sy vertakkings, hang
dof after traliewerk gevang;
kanale –bloed en limf en klier
en ingewande – wieg soos wier
en diè wat drif en droombeeld huis
swem wasig bo die bekkensluis
wat onintiem sy naaktheid toon
en soetheid van geslag verloën…
Al die verdriet en vreugde en vrees
was dus ‘n hersenskim gewees?
UIT: VIER SONNETTE
I
Jy het gedink “Nou moet ek sterf van pyn”
maar jy’t bly leef, die pyn het doodgegaan,
die pyn het vaal geword en weggekwyn,
verrot, verword en eindelik vergaan.
Toe bly daar net ‘n skim, ‘n skadu oor
wat wissel van gedaante: soms ‘n hond
wat steeds mistroostig aandraf op jou spoor
en telkens snuif en vroetel aan ‘n wond,
dan weer ‘n roofvoël wat snags van sy tak
neerfladder op jou bors met bek wat stink
en kwyl, en oë tot ametis verstrak
-die onbeweeglike en misgebore
gesél van elke droom. En jy’t bly dink
en voel en leef, presies net soos tevore.
IV
As die geluk waarmee die lewe jou
per ongeluk bedeel het op ‘n dag
in duie stort, kan jy ‘n nuwe bou
wanneer jy klaar betreur het en betrag.
Die tweede een sal sober wees en strak
-geen strelende versinsels meer, geen waan-
met steen op steen versterk tot by die dak
om teen die rukwind van die tyd te staan.
Om bitterheid se sypeling te stuit
sal jy die fondamente diep moet lê,
die mure hoog om liefde in te sluit
en vir die vergesig jou vensters wyd.
Bo die beskeie ingang sal jy hê
as enkele sieraad: jammerhartigheid
UIT: TWEE PORTRETTE
I
Vroeër het sy ook onrus en verlange
se diep gety geken en ongeduld
om ankerloos gespoel te word deur drange
wat altyd duister bly en onvervuld.
Maar nou het sy geword ‘n stille hawe
ná vertes waarheen sy hom nie vergesel,
haar liefde en haar weerlose oorgawe
‘n tuiste waar hy telkens weer herstel
van die omswerwinge, van die gevare
die arbeid en die vreugdes waarin daar
geen ruimte afgesonder is vir haar.
Of sy nie soms terughunker na die jare
voor sy verstar het tot die taak van vrou?
-Ek weet nie eers of sy hul nog onthou.
SKEMERLIEDJIE
Dit is verby,
dit het gebeur,
dit maak nie bly,
dit maak nie seer,
dit is verby.
Nou weet jy weer
niks wat die hart
nog roer of raak
is reeds volmaak.
Van vreugde en smart
terdeë moeg
(dis reeds te laat,
dis nog te vroeg
om meer te weet
as dat die rus
die sin en slot
van alles is)
bevestig jy:
dit is verby,
dit maak nie seer,
dit maak nie bly,
en niks wat later
mag gebeur
sal ooit so skoon
wees of so teer.
PLANTTYD
Die dag was goed. My liggaam was gehurk,
my vingers het die warm grond deurtas,
my hande voel nog hol waar hark en vurk
se ronde hardheid in hul palms pas.
Ek glimlag dwaas: my dapper plantjies pronk
so strak soos bliksoldaatjies in ‘n kis,
my hoof is leeg en vaag en efens dronk
van die soet geur van donker leem en mis
wat in die koelte van die aand verskerp.
My oë styg traag bo die groen ontwerp:
die son staan op die rant soos ‘n rak,
‘n regop, yl-pors’lein, lemoenrooi bord,
geswolle van die skemerlig, en word
versier deur één skuins, blinkswart lukwarttak.
“AS IEMAND KLEIN IS…”
“As iemand klein is, is daar altyd Iets…”
Klein Albert staan wydsbeen voor my en praat:
sy donker oë is vir sy smal gelaat
driekeer te groot, sy hofie is te swaar
bokant die stingel van sy keel,
die las van te-moet-man-word is te veel
vir die verweer van drie-en-driekwart jaar,
sy stemmetjie is nog, vir die gewig
van sy verhaal, te sangerig en lig.
“As iemand klein is, is daar altyd Iets
wat hom wil gryp.. Wat lag jy, Mamma? –Ag,
as iemand iets vertel moet mens nie lag! –
Maar nou is ek verskriklik groot… Wat hou
jy my so vas? Ek sê mos nou vir jou
hoe groot is ek… O, Mamma, jou geisg
lyk baie snaaks! As jy jou oë knip
dan mors daar so ‘n groot traan op jou wang!
…As iemand klein is, is daar alteyd Iets…
Dit was altyd so half agter my rug,
mens kon dit nooit eers raakgooi met ‘n klip –
Maar as mens groot is, word mens nooit meer bang!”
SONNET
Voor ons mekaar leer ken, terwyl jy nog
drang van my liggaam is, droom van my gees,
moet ek die dinge sê wat later tog
‘n swye tussen jou en my sal wees:
As jy lank ná jou jeug ‘n jongeling bly
in drif en onbestendigheid vanweë
my erfenis aan jou, en dikwels ly
en argloos van jou self aan ander gee
in weerlose verrukking met die lewe
se bont gebeure sonder doel of sin,
en selfs die dinge wat jou kwes bemin,
sal jy eendag, as jy dié boodskap aan
‘n nog gestaltelose kind verstaan,
glimlag en talmend terugdink en vergewe.
WILGERBOME
Die einde van die dag het my gebring
na hierdie rookbloue uur waarin hul staan
wasig en tinger, met ‘n wasbleek maan
tussen hul ragwerk en die skemering.
Die lente het deur hul slankheid opgestoot
om in ‘n teergroen tinteling oor te stort,
maar in die droefheid van die skemer word
hul glansloos en gebonde aan die dood:
drie yl gedaantes aan die watersoom
in slingerende fraiings gedrapeer
en weerloos teen die spruitwal vasgekeer
soos geeste op die drumpel van ‘n droom,
wagtend om deur die donker uitgewis
en weereens in vergetelheid gevou
te word – Wie sal hul môre nog onthou
as alles swart-op-wit en helder is?
Uit: SONNETTE AAN F.
V.
So leer mens dan om langsaam te vergeet:
die pyn en die verbystering word ‘n trae,
amper bevredigende skemerleed,
‘n weemoed wat in onverwagte vlae
sag neerstryk en my hart in teerheid week,
en al die doenighede wat my dae
in soveel inhoudlose ure breek
word sinloos en gering, totdat die vae,
omsingelende digtheid van die dood
-aan al wat menslik is vreemd en verhewe-
‘n angs en weersin wek wat skielik weet:
ek moet jou uit jou laaste vesting stoot,
ek moet jou afskud, ek moet lewe, lewe,
tot hulle, God, my eendag ook vergeet.
MAARTMAAND IN JOHANNESBURG
Telkens wanneer die jaar se wenteling gaan
na die gety van stilte en heugenis
laat hierdie maand wat herfs nóg somer is
die dinge rustig en seisoenloos staan.
Die wye hemel bly ‘n klare vlam
van smetloosheid en sonneglans geweek,
die wilgerbome in die warm kweek
‘n groen misterie om die silwer dam.
Die tuine langs die straat lê elke dag
bedwelmend in blommegeur en voëlgesang
totdat die laaaste kopergloed gevang
word in ‘n gewelvenster en die nag
sy web van sterre wat hul sirkelgang
in Maart vertraag hoog bo die stad uithang.
VERWAGTING
Dit is die lange dae van geduld
waardeur sy soos in droomverdowing gaan,
want alles is nog teer en onvervuld
in hierdie vreemde, lydsame bestaan.
Haar hartklop wat met swaar en effe krag
die ure tot by die vervulling meet
verdubbel in die blinde fladderslag,
so gretig reeds en nog so ongereed.
Die dae is so ryk aan nuwe groei
en al die vroeëre so ver en vaag
dat haar gedagtes soms vermoeid en traag
terugdwaal na dinge uit die eerste tyd,
toe haar verborge lewe nog nie wyd
en stil geword het soos ‘n blom wat bloei.
DIE MOEDER
Die vreemde oorsprong van jou lewe het,
soos lig deur ‘n kristal, deur my gevloei
in al die maande toe ek één was met
die stil geheim van jou verborge groei.
En nou kan niks ons skei – want is jy nie
afhanklik en gebonde aan my bloed
wat met sy onbegryplike chemié
jou wonderlik gevorm het en voed?
En of diè uur ver en vergete word,
en of die jare tussen jou en my
hul seile span, die see sy golwe stort,
of selfs die Dood sy somber baken steek,
nogtans sal jy aan my gebonde bly
met die onsigb’re naelstring wat nie breek.
Blare per pos
Twee herfsblare – gewebde paar
aan één pols vas, doodsbleek deuraar
het vroeg hul tak tot siens gewenk,
die wind ontwyk met ‘n kort swenk,
die suiderkruis gekies tot skyf,
daglank, naglank ‘n boog beskryf.
Dor soos die blad waaraan hul kleef
reik hul te voorskyn uit die skreef.
Aan die motief wat ingegrif
bly – vae stempel op die skrif –
mag mens jou weer eens vergewis
van afstand, van verbintenis.
Brief in januarie
Weer swoeg ek teen die steil bult uit en staar
ligduiselig deur die wye leegte waar,
uit erts gepers, my minerale stad
regstandig uit die kim skiet, krat op krat:
reklamepanorama van karton
meedoënloos ontliggaam deur die son.
Die blaadjies wat ek fluisterend oopvou klem
my vingertoppe, die dun letters swem,
selfs die geringste woord wat emigreer
moet risiko en onbegrip trotseer.
Ek lees, sodra ek in ‘n koelte sit:
…en toe ek wakker word was alles wit …
Dan buitel uitgelate beelde snel
om ‘n kristalfyn sprokie voor te stel
sodat ek koud na asem snak en ril,
‘n kind voor ‘n blink kermiskraam verstil.
Teen wolkkrappers wat uit die veld opstaan
draai ek my rug om blindelings terug te gaan
terwyl my knikkende gewrigte weer
die troostelose klipperigheid noteer.
Taalles
Die eerste mededele wat mens leer
vóór drie jaar oud is lewenslank genoeg
om die akuutste nood te formuleer
soos: ek het honger … hou van jou … is moeg …
Plots uit die soet ontmoeting weggeruk
het hulle ‘n nuwe saamkomplek ontdek
om oor en oor, onnosel van geluk,
toereikend te verduidelik: jy en ek …
‘n Maand daarna – want tyd bring raad – hanteer
hul moeiteloos diggeweefde sin,
die voegwoorde van kunstige verweer
soos: daarenteen … ondanks … desnietemin …
Dagdroom
Ek het jou brief gelees terwyl ek eet,
die woordesoet het oor my tong gesprei.
Verby die aardse brood het ek gestaar
dwarsdeur die bome in die raam,
dwarsdeur die grys wolkeplafon
tot in die paradys waar alles lig en helder is.
En net soos in die Bybel was ons naak
en het ek, aangekla, gou hom die skuld gegee
wat skemerig sis. . . toe ek opeens gewaar
dat ek my halfgerookte sigaret
aftik in my twee-derde koppie tee.
Eerste liefde
Ons liefde het gesterf met die oggendstond,
En ons het haar begrawe, bleek en stom;
teer lentegras en geurige voorjaarsgrond
bedek haar, sonder smuk van krans of blom.
Onthou jy haar?… Sy was tingerig-fyn,
met vingers slank en lig, haar stem was sag,
en haar blou wonder-oë vreemd en rein.
Haar dood was vreedsaam, sonder rougeklag.
Ek mag nie om haar ween: haar stil vertrek
was beter as ‘n kwynende bestaan
– maar, ag, ek wonder of jy ooit, soos ek,
‘n oomblik by haar graf in mym’ring staan…
Herinnering
As kind het ‘k eens die maan se ronde skyf
langsaam sien uitswel bo die silwer vlei
om saggies soos ‘n seepbel weg te dryf
en tussen yl popliere in te gly.
Agter my in die donker was ‘n raam
vol lig en mensestemme en gelag
en ín my angs en weekheid sonder naam
terwyl ek op die maan se loskom wag.
Die res is alles duister en verward…
Van tak tot tak het hy gewieg… ek weet
nog net dat die gekneusde gras se geur
soos naeltjies was en dat ek skielik seer-
gekry het van die inkrimp van my hart
en met my pols die trane weggevee’t.
Akkoord
Jy, heelmaker, opspoorder van verband,
ontleder, agtervolger, agonis,
daag my tot tweespraak, kwalik aangeland
waar sinsbou, klemtoon, ritme anders is.
Ek, wankelaar, my ou houvas verloor,
smekend om redding en maar half bereid
tot nuwe onderhandeling, gee my oor
met klein kramptrekkings van terugwilligheid.
Hoe kan ek, wat voor elke windstoot swig,
jou digtheid balanseer, ‘n slypsteen wees,
spitskorrelige weerstand vir jou gees?
Tog: as die dors ons dryf om, end in sig,
toevlug te neem tot die begin, word woord
weer vlees, ontvonk uit friksie oerakkoord.
Ontheemde
Hier, in die vreemde, en sonder ‘n masker aan…
Die mense is hier nie minsamer as daar, gewis
nie toleranter. Wat of wie
hou jou hier vas? Dáár was die lewe beter
en niks belet jou om weer terug te gaan.
Jy antwoord selfbewus:
argwaan en haat is te verdra
tussen gelykgeregtigdes wat nie
verordenend mekaar verneder,
menswees met rubbertjap betwis.
Hoekom huiwer ek om te vra:
my broer, my natuurgenoot,
word ons kinders terreurloos groot ?
– En die onbetaalde gelag van die verlede ?
Jongseun
Why were we crucified into sex?
Why were we not left rounded off,
And finished in ourselves?
D.H. Lawrence
Die seun klim druipend uit die bad,
sy hele lyf is gaaf en glad
en heel tot in die holte van
sy nael waaroor ‘n seepbel span,
Strak ledemate, ribbekas
hoekig en hard soos ‘n kuras,
handdoek in hand staan hy bereid,
gerig en toegerus tot stryd.
Tog, onvolkome afgerond,
hoe sal die lewe hom nog wond:
in sy Achilleskern vind
hy geen beskutting – man of kind:
geheg aan die benedebuik
waar blink haarrankies reeds ontluik,
deuraar, teer soos ‘n ooglid, sag
soos murg, hang weerloos die geslag.
Die vrou
Somer en herfs en winter trek in wye
onafgebroke wisseling deur die land,
maar sy bly draer van die lente want
liefde het haar verhef bo die getye.
Haat en verwoesting plant hul lamfervlae
in honderd stede en oral sink die nag;
vir háár op wie ook bloed en worsteling wag
klink nog die lied van vrede en welbehae.
Die uitgeteerde ruiter neig sy sens
en aarselend voor die klaarheid van haar blik
erken selfs hy sy heerskappy se grens:
in haar wat die onsterflikheid bewaak
ontkiem die toekoms in die flou getik
van lewe wat voorwêreldlik ontwaak.
Uitsig op die kade
Nouliks vertolkbaar wat hulle my vertel,
spreeus, eksters, meeue, eende, kraaie, al
die ywerige dagloners van die wal,
die reier so afgetrokke opgestel.
Ek mis myself steeds minder. Ek bedoel:
as steeds meer buitedinge my gaan boei
dan sintels van inwendige gevoel
tintel dit of ek selfafstotend groei.
Vermindering neem waarneembaar toe. Ek hoop
om te voldoen aan omgekeerde bloei
en leeg genoeg te loop om vol te loop
met wat vanuit hierbuite binnevloei.
Ouer word
‘n Eindigheid sprei langsaam, ongevra,
‘n stipter onderskeiding word van krag.
Wat ek verloor het suig my terug in drome,
hul nagtelike helende verwarring;
wat oorbly dwing my voorwaarts, stoot of dra
my onversetliker van dag tot dag
met afgepaste tydverdryf en werk.
Ek hul my heelheidshalwe in ‘n huis
wat stuksgewyse toeslik tot ‘n kluis.
Iets wat ‘k onthou: eens was ek ‘n beminde
kind, tintelend van hiernamaalse onkunde,
deur louter eindeloosheid ingeperk.
Gaan jou gang
Winter, ek weet wat jy beoog
om die vog uit my liggaam te wring
wat in weerwil van al jou pogings
tot dusver die dans kon ontspring…
Gaan jou gang: hoe berooider die lewe
voor die onherroeplike rus
hoe gewigloser leer mens dan swewe,
van afstand meeslepend bewus.
Die verlede is al wat ek het
as leerboek vir die begrip
van dinge terloops opgelet
en des kades daarná aangestip.
Die einde verwek die begin,
allereerste bevindinge bly
– ongeag wat jy nog mag versin –
my tot op die laaste by.
Verhaal – Elisabeth Eybers
‘n Vrou het stil geword van baie wag:
die aarde het gegly deur die spiraal
van dag na nag, was beurtelings groen en vaal,
en sy het soms gehuil en soms gelag.
Ook was sy dikwels wakker in die nag,
maar sy het in haar wonings en op straat
gewoon gehandel en gewoon gepraat
en niemand het geweet hoedat sy wag.
Verlange word aanvaarding, langsaamaan,
want wag is beurtelings hoop en wanhoop, tot
die twee versmelt en stilte alleen bestaan.
En deur die jare het sy self die slot
van die verhaal geword: haar stilte en krag
was skoner as die ding waarop sy wag.
Wespark (Begraafplaas).
Geagte leser, dié geleentheid
Bied homself slegs eenkeer in ‘n leeftyd;
Geen waglys en geen woningnood
Al is die aanvraag nog so groot.
U van en volle doopnaam pryk
Op die versierde gewel – kyk,
Met spreuk en kompliment kompleet:
Die hele wêreld moet dit weet.
Hier is geen stoomfluit en geen haas;
Onder die koelteboom lê klaas
Soos waffers skofbaas uitgestrek;
Kan selfs die afslaer asem skep.
In hierdie buurt is elke vrou
Tevrede, elke man getrou,
Het elke kind sy eie sandhoop,
Vergeet die huwelikspaar van huurkoop.
Die staatsman liasseer sy sorge,
Die bleek hervormer se verborge
Wrok teen die mensdom is geberg,
Die dweepsieke word ongeërg.
Die vrou aan wie die jare knaag
Het haar weerkaatsing weggevaag,
Die skaars ontloke skoonheid het
Betyds ontglip uit tyd se net.
Die koopman, sat van raap en skraap,
Kan salig elke dag verslaap,
Die skraal student hoef nou nie meer
Sy jongste proef te formuleer.
As kliere opdroog, weefsel rek,
Die kroonslagare noustrop trek,
Kan u gerus oorweging skenk
Aan hierdie goedbedoelde wenk.
Die eensames voel nooit alleen
In die wit broederskap van been,
Hier kan die digter sonder skroom
Hom blywend toespin in sy droom.
Geen jaarlikse belastingheffing
Op hierdie langtermynbelegging;
Geagte leser, dié geleentheid
Bied hom slegs eenkeer in ‘n leeftyd.
Die Moeder
Die vreemde oorsprong van jou lewe het
Soos lig deur ‘n Kristal deur my gevloei
In al die maande toe ek één was met
Die stil geheim van jou verborge groei.
En nou kan niks ons skei-want is jy nie
Afhanklik en gebonde aan my bloed
Wat met sy onbegryplike chemie
Jou wonderlik gevorm het en voed?
En of dié uur ver en vergete word,
En of die jare tussen jou en my
Hul seile span, die see sy golwe stort,
Of selfs die Dood sy somber baken steek,
Nogtans sal jy aan my gebonde bly
Met die onsigb’re naelstring wat nie breek.
Jong seun
Die seun klim druipend uit die bad
Sy hele lyf is gaaf en glad
En heel tot in die holte van
Sy nael waaroor ‘n seepbel span.
Strak ledemate, ribbekas
Hoekig en hard soos ‘n kuras,
Handoek in die hand staan hy bereid
Gerig en toegerus tot stryd.
Tog, onvolkome afgerond,
Hoe sal die lewe hom nog wond?
In sy Achilleskern vind
Hy geen beskutting – man of kind.
Geheg aan die benedebuik,
Waar blink haarrankies reeds ontluik.,
Deuraar, teer soos ‘n ooglid, sag
Soos murg, hang weerloos die geslag.
Herinnering
As kind het ‘k eens die maan se ronde skyf
langsaam sien uitswel bo die silwer vlei
om saggies soos ‘n seepbel weg te dryf
en tussen yl populiere in te gly.
Agter my in die donker was ‘n raam
vol lig en mensestemme en gelag
en in my angs en weekheid sonder naam
terwyl ek op die maan se loskom wag.
Die res is alles duister en verward . . .
Van tak tot tak het hy gewieg . . . ek weet
nog net dat die gekneusde gras se geur
soos naeltjies was en dat ek skielik seer
gekry het van die inkrimp van my hart
en met my pols die trane weggevee ‘t.
Die eerste nag
Hoe veilig en stil is my kindjie se slaap,
die tastende handjies so vreedsaam gevou,
die soekende mondjie geslote en soet,
die ogies ’n skemering van blank en blou.
Wat sal haar moeder nou vir haar bid
waar sy slaap in haar wiegie, so warm en wit?
Watter geheim sal sy vra dat haar kind
in die skadu van latere nagte mag vind?
Wat, in die nag wat eensaam is?
– Dat skoonheid gebore word uit gemis.
Wat, in die nag van kwelling en pyn?
– Dat die môrester dan die suiwerste skyn,
Wat, in die nag van liefdeslus?
– Dat die teerheid sterker as hartstog is.
Wat, in die nag van barensnood?
– Dat die lewe magtiger is as die dood.
Wat, in die nag wat die laaste sal wees?
– dat wie die Lewe het niks hoef te vrees.
Want elkeen aan wie die nag dit verklaar
sal wysheid dieper as kennis bewaar.
Hoe veilig is nou nog my kindjie se slaap,
die tastende handjies so vreedsaam gevou,
die soekende mondjie geslote en soet,
die ogies ’n skemering van blank en blou …
O duistere Nag, wees goed vir my kind
later, wanneer jy haar wakker vind.
Heimwee
‘n Huis is iets wat teen ‘n helling staan
deur son gekonfronteer aan elke kant.
Maar let op: sê jy huis in hierdie land
dan dui jy drie beknelde kamers aan.
Hier is geen op- of afwaartsneiging, geen
geleidelike hemelvaart, geen lig
behalwe dié uit draad en glas verdig.
Die eendersheid is redelik en gemeen.
Agter ‘n grou en anonieme wal
hys die abrupte trap jou uit die straat
op na die sogenaamde huis, en laat
jou later stiptelik in die straat terugval.
Nooit wesenlik, alleen kineties, mag
jou hartritmiek, jou ribbebok wat hyg
die dodelike waterpas ontstyg
terwyl jy knutsel aan ‘n nuwe dag.
Busrit in die Aand
Elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.
Skaduwee-skimme gly verby…Dis laat,
en lang ligvaandels wapper oor die straat
soos oor ‘n dam die blinkpad na die maan.
Ons ploeg deur stormsee met ons kaperskuit:
die stuurman voor, die passasiers die buit
wat ons as slawe huis toe bring vanaand…
Die vaartuig waggel afdraand, om die draai
met skril gekners en skommelende swaai,
en hyg en skok en snork en swoeg opdraand,
terwyl ons, soos twee kinders opgetoë,
mekaar toelag met glinsterende oë…
Asof hul jammerlik hul lot kan raai,
sit hulle suf, met monde moeg gesluit,
elk langs sy yl weerkaatsing in die ruit,
die werkers van die stad wat huis toe gaan.
Ouer word
‘n Eindigheid sprei langsaam, ongevra,
‘n stipter onderskeiding word van krag.
Wat ek verloor het suig my terug in drome,
hul nagtelike helende verwarring;
wat oorbly dwing my voorwaarts, stoot of dra
my onversetliker van dag tot dag
met afgepaste tydverdryf en werk.
Ek hul my heelheidshalwe in ‘n huis
wat stuksgewyse toeslik tot ‘n kluis.
Iets wat ‘k onthou: eens was ek ‘n beminde
kind, tintelend van hiernamaalse onkunde,
deur louter eindeloosheid ingeperk.
Die vrou
Somer en herfs en winter trek in wye
onafgebroke wisseling deur die land,
maar sy bly draer van die lente want
liefde het haar verhef bo die getye.
Haat en verwoesting plant hul lamfervlae
in honderd stede en oral sink die nag;
vir háár op wie ook bloed en worsteling wag
klink nog die lied van vrede en welbehae.
Die uitgeteerde ruiter neig sy sens
en aarselend voor die klaarheid van haar blik
erken selfs hy sy heerskappy se grens:
in haar wat die onsterflikheid bewaak
ontkiem die toekoms in die flou getik
van lewe wat voorwêreldlik ontwaak.
WES-TRANSVAAL
‘n Skruwe huisie uit ysterklip gekerf;
‘n slap draadheining; op die stoep lê rond
‘n vark, vier hoenders en ‘n kafferhond;
‘n stowwerige kind kruip oor die werf.
Die baas leun lusteloos teen die skewe hek,
sy kin gestut op hande ru soos grond,
sy oë sag en glansloos, stroef sy mond.
Hy sug, om dan met dieper asemtrek
weer oor die naakte vlaktes heen te skou…
Hoe staar hy so geduldiglik? Hoe het
die hemel hier ‘n witter, wyer blou?
God het geen berge of bosse oorgehad
toe Hy dié land moes maak, en kon toe net
die vrede van voleindiging hier laat.
SONNET
Wespark
‘n Begrafnis is een van die talle grenssituaties wat Eybers op haar ironiese, soms selfs makabere wyse onder oe durf sien het. Een van haar beroemdste Suid-Afrikaanse gedigte heet “Wespark”. Die gedig begin so:
Geagte leser, die geleentheid
bied hom slegs een keer in ‘n leeftyd:
geen waglys en geen woningnood
al is die aanvraag nog so groot.
Vir Eybers het die geleentheid van ‘n leeftyd, haar eie begrafnis, op 6 Desember 2007 aangebreek. Hoe skerp en ironies het sy nie al vyftig jaar gelede in Johannesburg besef hoe onafwendbaar die dood is nie:
Hier voel die eensames nooit alleen
in die wit broederskap van been,
hier kan die digter sonder skroom
hom blywend toespin in sy droom.
In 1994 het sy, nadat sy toe al meer as dertig jaar lank in Amsterdam gewoon het en self byna tagtig jaar oud was, weer ‘n begrafnis-gedig geskryf.
Vreemd
Hoeveel kere het ek nie met jou,
mede-toeskouer, dit bygewoon:
die stoisynse vertoon
van georganiseerde rou.
En telkens het ek dan daarna
chauvinisties en plegtig verklaar:
wel, in my geboorteland doen
ons dit beter en onverbloem
dis daar nooit so ‘n stywe gedoe
en teen trane bestaan geen taboe.
Elisabeth Eybers was op 6 Desember nie meer ‘n mede-toeskouer van ‘n vertoon van rou nie, maar die sentrale figuur, die een gedagvaar om te verdwyn, terwyl ons ander voorlopig nog hier is. Troos bied was nooit een van haar sterk eienskappe nie, daarvoor soek sy te meedoenloos na die kern, hou sy geen illusie in stand nie en sien sy elke stekelrigheid en mankement skerp onder oe. Van die mees troostende reels in haar oeuvre is tog in die slot van “Vreemd” te vind:
op een of ander manier [sal]
wat ooit heel was nooit […] vergaan …
Laat ons loof wat ons nie kan verstaan.
Hoe ouer Elisabeth Eybers geword het en hoe moeiliker sy die porseleindun bord van die lewe vasgehou het, hoe onvermydeliker het die dag van haar eie onherroeplike rus geword, die dag waarop sy van verdere inspanning af mag sien, van houvas ontdaan is, tot ‘n akkoord met tekortkoming geraak.
“Donderdagochtend pakt waarschijnlijk even wat rustiger en vriendelijk uit, met een beetje zon. ‘s Middags volgen weer wind en regenbewolking. Opnieuw wordt het zacht, rond 11 graden.” Dit was die weervoorspelling in de Volkskrant van 4 Desember vir 6 Desember 2007, die dag waarop Elisabeth Eybers om 10 vm in Amsterdam begrawe sou word. ‘n Mens het gehoop dat die seremonie sou kon plaasvind sonder dat almal moes probeer skuilgaan onder omdoppende sambrele, soos wat tydens die voorafgaande week in Amsterdam die geval was.