Hannes Visser
Woensdag 19 Julie
ons word wakker
ek en henry in die donker
van ma wat hardloop en
skree in die gang
in haar shorty pajamas
uit by die hek en
oor die straat
antie rosie en violet probeer om
pa te help, sy gesig is wit en
sy voete skop en iemand skree
waar’s die dokter het jy gebel
die ambulans maak rooi ligte in
die huis en rooi gesigte in die straat
en hulle stoot pa
op ‘n wit trollie uit
oom nel vat ma met sy kar maar
hulle kom terug en ma sê
pa is weg sonder koebaai
ek mis skool en andries sê
daar was ‘n puppet show
in die saal
Maandag 18 Desember
oom jeff met tattoos op sy arms
het krismispresente gebring
van durban af waar hy bly
sy vrou is lankal dood
en sy kinders is groot
hy het sy eie huis met
‘n goeie werk, sê ma
‘n welder soos pa
en hy sal goed sorg
ma kap ‘n bordjie in
op die pavement
voor die huis
for sale
Sondag 3 September
antie hester het ‘n broek en
‘n hemp en skoene gebring
van haar suster se kind wat
te klein is vir hom
sy en ma sê dis hoog tyd dat ek
sondagskool toe gaan
die hemp is wit en die broek is te kort
en die skoene maak my seer
ma gee my twintig sent en
‘n bybel met ‘n foto in van pa
sonder ‘n hemp met ‘n vet baber
in sy hande by hartebeespoortdam
voor die kerk staan die dominee
met die blink kop en sy
oë wat swart vir mense kyk
as hy hulle hande skud
in my sak is twee tiensente
dis ‘n coke en vyf toffies en twee
games pinball by costa se kafee
en ek draai om
Sondag 4 Junie
ek en ma en henry ry in
ma se blou mini en gaan
kuier weer vir pa in
die plek in johannesburg
hy moet ‘n maand daar bly
want die myn het hom gestuuur
en henry sê as pa weer soos
laas wegloop fire hulle hom
daar’s net mans, party sit op
stoele en praat en party loop
stil in die tuin in
wit pajamas met rooi strepe
pa het ‘n mandljie en ‘n
skinkbord uit rottang
met sy hande gemaak en hy
gee dit vir ma toe ons moet ry
ma sê pa is nou amper gesond
maar henry sê sy lieg, want oom
flip drink nog altyd en
hy was al drie keer daar
Woensdag 5 April
Willem sê ek moet kom kyk
op die koelieskool se veld
staan ‘n groot sirkustent met
leeus en olifante en ‘n
tiekieclown en as ons help
kan ons verniet gaan kyk
die tent is wit en rooi en geel
ons klim deur die draad en willem
praat met die man met die pens
en sê ons wil help en verniet kyk
maar hy jaag ons voetsek fokkof weg
ons hol verby ‘n caravan
met ‘n oop deur
willem stop en wys
ek sien rooi lippe en ronde tieties
groter as willem se sussie s’n
agter die garage
Op die vooraand van ‘n begrafnis
ek het vanoggend vir jóú ‘n boom geplant,
‘n granaat, wat bloedrooi sal bot en boepens sal vrug
om vir jou ‘n boom te plant neem tyd,
die grond word in handevol onthou uitgeskep
en elke woord van elke brief van jou word gelees
om dan in die grond, deel van jou boom te kan wees
sodat jou woorde eendag skarlakenmooi aan
die takke kan pronk en rooi vrugtepêrels kan dra
ek het vanoggend vir jou ‘n granaat geplant,
maar nie in ‘n wegsteekhoekie soos ons liefde nie
en, as almal wat jou openlik mag lief gehad het
môre totsiens om jou kring, sal ek jou ring,
wat ek nooit mag gedra het nie,
by jou woorde plant, en nie – nee nooit nie-
totsiens kan sê nie – soos wat ons nooit
vir enigiemand van óns kon gesê het nie
ek het vanoggend vir jou ons liefde geplant
in die middel van my tuin – waar almal jou kan sien
Diefstal is ‘n fyn kuns
dit het stadig en ongemerk, so byna terloops
eers was dit jou sleutels wat jy telkens iewers
en as ek jou gespot het, het jy net verleë met jou hande
totdat jy begin het om mense en plekke en liedjies se name
en tussendeur het die gapings tussen jou woorde al groter
en jy het al langer en langer na dieselfde bladsy in jou boek
ouderdom, het oudok gemeen en sy hande in die lug
maar, hy was verkeerd en jou gapings het steeds groter
tot die dag toe ons kleinkinders op die strand
en jy wys met die hand en jy vra; nou maar wie se
toe het ek geweet
ek onthou jou weggaandag asof dit gister
jy was in die sitkamer en ek het vir jou tee
toe vlieg jy uit die bank uit op, tot in die verste
en ek het jou gunsteling koppie op die vloer laat
want, ek het besef jy weet nie meer
ek mis jou so, en ek wens ek het betyds geweet
maar die siekte het soos ‘n dief in die
en jou woordjie vir woordjie by my
weggesteel
Klerekas
die jas heel links was ‘n pep-special in
uniondale op pad uilhuis toe daai winter
toe ek ons tas in die driveway vergeet het
saam met ons padkos en jou vanity case
(toe koop ons ‘n pie en chips in willowmore)
die leerbaadjie was halfprys by moodleys in langstraat
toe ek ‘n biker probeer wees het en die denim baadjie
met die badges het jy op jou ma se blou singer gemaak
(en toe ek my gat afval het jy nooit gesê “I told you so …”)
daar hang my lekkerdratrui wat jy al vier keer
laat wegraak het, en ek al vier keer gered het,
langs die blou fake armani-hemp van die happy
china store in parrow vir daai ete in blouberg
(waar jy vir my moes verduidelik wat’s crem-brulé)
‘n kas is vir klere het iemand op ‘n keer beweer,
maar hy was verkeerd, ‘n kas is vir rou-onthou
wat uittuimel en my oorrompel in ‘n kamer
waar jy jou aan alles van my vas kom klou
(en, agter in die boonste laai is jou boksie wat
ek steeds nêrens gestrooi kan kry nie…)
Seremonie (‘n Kaapse sonnet)
twaalf gesigte kring afwagtend om hom,
boeta sê om te survive innie kaap
moet jy connected wees en weet wat kom
anners vang hulle jou vas anie slaap
boeta het hom laat loop tot by die brug
om vanaand van hom ‘n man te kom maak,
terwyl die dag voor die donkerte vlug
sal hulle kyk of hy ‘n number kan raak
die donker beweeg en die kring maak plek
as boeta deurdruk en voor hom kom staan,
druk ‘n mes in sy hand “is jy net bek?”
die mes drup taai, sy hart stol van verstaan
hy laat val die ding, ploeg die donkernag in,
hoor boeta skree “ons sal jou kry, jou nai…”
Digitaal
ons monde praat
nie meer nie
ons praat met vlytige vingers
blitsig en knoppievernuftig
ons kies lag- en huilgesiggies
eerder as sinne met woorde
ons stuur soene en drukkies
met trippel x’e en dubbelhakies
ons meet gewildheid aan likes
en hou like-my-meer- kompetisies
ons speel digitalegod en bepaal
wie word vandag unfriend
en wie mag tot more bly
ons wêreld het skermklein geword
ons scroll deur liefde en hartseer
met gigaspoed en los ‘n like of twee
of dalk ‘n stukkie afkortkommentaar
maar
ons monde praat
nie meer nie…
Maandag
ons maandagoggend saam, het
soos gert vlok nel se sonneblom
onherroepelik tragies omgekom
en ons onverbiddelik
met hom saamgesleur
en my week was hulpeloos en hopeloos
en jy was soms woordloos online
maar mostly was jy offline en
nowhere to be found
en sonder omhaal wil ek net weet:
is jy okay en is dit wat liefde is;
hierdie seer?
Reën
Onthou jy die trippeldans van die druppels
op blinkblikdakke wat ons buite toe laat bondel,
hoe ons oopbek na bo met arms uitgestrek
windmeul en tiekiedraai in die straat?
Onthou jy ons bote van blare wat
in die stroom resiesjaag en ons
wat kaalpoot jil en plas agterna
tot die bote in die stormdrein verdwyn?
Onthou jy Ma se “vee julle voete af
en maak julle droog voor julle koue kry”
en hoe ons veilig op die stoep sit en kyk
hoe bliksems oor mynhope blits?
Wonder jy soms soos ek vanaand
as druppels dansloos op dakke val
hoe broers se kaalvoetpaaie soos blarebote
oor jare sommer net kan verdwyn?
Mis
die mis
meld mistroostig aan
soos mis
in misverstaan
soos mis
in mis jou vanaand
Asseblief nie
begrawe my eendag nie
In ‘n gat in die
grond of in ‘n muur nie
onder verbleikte
plastiek blomme nie
met tee en koffie
en tertjies daarna nie
nee asseblief
laat my op ‘n plek vry
waar ek op die wind kan ry
en nuwe wêrelde soek waarvan
niemand my nog ooit vertel het nie
Quo Vadis?
die woord was nie in die begin nie,
dit was ritmiese dreunsang om knetterbrandvure
dit was kinderlike rooi en oker spelonk-wandfigure
wat die beginverhale vertel het
die woord se beurt was eers heelwat later,
maar poëte het hom gekaap en in goue sonsondergange en
karmosyn bloeisels van byvoeglike eufemismes toegevou
in ‘n rymwêreld waar mense nie meer doodgaan of huil nie;
hulle raak hartroerend aan’t ween en gaan vreedsaam heen
toe kom die woordfokkers om die woord
uit sy snotsappige ellende te red en die
bloeisels skrik hulle rymdwingende moere weg
vir vleeslike verse wat weg- en op- en voortfok en
onverdoeseld intiem omgaan met dose en klitorisse om
hardkoppig en styfnekkig tot digterlike klimaks te kom
en nou, waar laat dit die woord nou?
op fyndraai, vir die digter om te bepaal
wat word oorbodig en wat is nodig
om die digterlike hoogtepunt te haal
(Nota bene – liewe digter, dig nie onverskillig nie,
want die verskil tussen digkuns en banale poësie
lê straks niks verder as slegs ‘n deelteken nie…)
Inventaris
Kamer: 33
Datum: 13 / 4 / 2018 (Vrydag)
een bed (enkel)
een bedmatras (enkel)
een kussing
een bedkassie met laai (leeg)
een brilhouer (leeg)
een drinkglas
een piering
een gideonsbybel
een bedmatjie (blou en wit)
een pantoffel (pienk)
een tafel (hout)
een stoel (hout)
een draagbare radio (sony)
drie tydskrifte
een boks snesies (wit)
een snippermandjie (blik)
een enkeldeur hangkas
vyf klerehangers
een rooi rolstoel (leeg)
(*Wen gedig vir BVN kompetisie 2018)