Ingrid Jonker
OP ALLE GESIGTE
Op alle gesigte van alle mense
altyd jou oë die twee broers
die gebeurtenis van jou en die onwerklikheid
van die wêreld
Alle geluide herhaal jou naam
alle geboue dink dit en die plakkate
die tikmasjiene raai dit en die sirenes eggo dit
elke geboortekreet bevestig dit en die verwerping
van die wêreld
My dae soek na die voertuig van jou liggaam
my dae soek na die gestalte van jou naam
altyd voor my in die pad van my oë
en my enigste vrees is besinning
wat jou bloed wil verander in water
wat jou naam wil verander in ‘n nommer
en jou oë ontsê soos ‘n herinnering
VERLORE STAD
In die reën wat verby is
ver dag en verlore stad
van akkers van duiwe vol dagbreek
was my hande die ene eekhorinkie
vinnig sku maar voorbereid
ver dag en verlore stad
deur al die mense het jy gekom
met ‘n eenvoudige glimlag
soos van ‘n lang reis
en die reën wat verby is
het hom verwarm aan my lyf
die reën van rook en oker
wat ruik na jou hande skoongewas
na warm duiwe en die oop
oranje papawer van die lug
MOENIE SLAAP NIE
Moenie slaap nie, kyk!
Agter die gordyne begin die dag dans
met ‘n pouveer in sy hoed
AS JY LAG
Jou lag is ‘n oopgebreekte granaat
lag weer
dat ek kan hoor hoe lag die granate
GISTRAAND
gistraand in jou arms
by die perdeskoen maan
pluk ons ‘n klawer
met vier blare aan
vandag bly ek staan
op die werf by die blik
my hart agterdogtig
soos ‘n hoender wat pik
aan een korrel ‘n klip
wat skeur deur die hange
die liefde’s niks anders
as die verlange
OP DIE VOETPAD
Op die voetpad o bokkie
Jou hand die myne
En ons huisie staan klaar
In my hart se lyne
Deur die dag van die by
tot dit rooikrans o bokkie
Vannag sluit hom toe
In ons pondokkie
Klimaat van jou lyf
o meidjie dousag
Maar jou oë vlieg wyd
oor die nimmermeerdag
En die aand skilfer reeds
sy bont kleure af
Waar die voetpad alleen
oor die blou bulte draf
BITTERBESSIE DAGBREEK
Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
‘n spieël het gebreek
tussen my en hom
Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af
Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed
papegaai-bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroë
weer die koggel kry
Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
DONKER STROOM
Groen stroom vol lewe
waarin die son kyk
met jou kan ek nie praat nie
jy het te veel geheime
Sal ek praat met die paddavissies?
Hulle is te skugter
Hul vertel hul gaan groot paddas word?
Dis te onseker.
Gaan huil omdat een sink
eer sy agterbene uit is?
Dis te onbelangrik.
Stroom waarin die donker
net die donker sien
met jou kan ek praat
ek ken jou beter.
ALLES WAT BREEK
Alles wat breek, val of eindig
-soos die uitstorting van die saad-
het geen ander betekenis
as die verraad.
Want alles gevorm, voltrek of begin
-soos die lewe verwek in die skoot-
het geen ander volbrenging
as in die dood.
PLANT VIR MY ‘N BOOM ANDRÉ
plant vir my ‘n akkerboom
sodat ek my gestalte kan herken
en dat die eekhorinkies hul akkers kom begrawe
gee vir my ‘n hond
met pote wat ek kan soen
snags as jy slaap toornig en goed
moenie dat hul my boom afkap nie
ontwortel verguis versplinter nie
gee hom ‘n hemel met blou akkers
maak vir my ‘n oop huis
sodat my vensters die dag mag ontdek
groen of goud of grys maar welgeskape
gee dat my hond my liefhê
laat ek hom te vrete kan gee
as jy slaap verby die sterre en spieëls
van my voorkop
MAMMA
mamma is nie meer ‘n mens nie
net ‘n ‘n
sy trek aan
sy gaan na die haarkapper
sy loop op die strate
haar voete haak vas
sy spreek die psigiater
nes ‘n gewone mens
en fluister woorde
mon cheri
dit het geen klank nie
dis die wit
gefluister van ‘n spook
dit het g’n kleur nie
en dit hardloop
dit giggel uit hysbakke
dit loer deur brilglase
dit wonder agterbaks
dit is ontwapen
dit is naak soos ‘n african
dit wil glo in die mens
wat nog te sê van ‘n god
WATERVAL VAN MOS EN SON
Vir André
Moswaterval
kantelson
ek
het
jou
lief
Moswaterval
kantelson
harte-
dief
dief
moswaterval
kantelson
Val
val
val
Vinnig
vinnig
vin
In die poeletjie
klippie
kringetjies
klaarte
Jý
my eie
gesig
LIED VAN DIE LAPPOP
Ek is die lappop wat nie praat
en maak net op jou liefde staat
Saans lê ek blind en stil en doof
en lig nie meer my semel-hoof
My hande roer nie en my lyf
word met jou weggaan koud en styf
Sonder jou hulp kan ek nie loop:
jy het my sommerso gekoop
en sal my nog een Guy Fawkes-nag
goedmoeds verbrand en daaroor lag.
Ek is die lappop sonder gees
My pyn jou luid gevierde fees.
EK HERHAAL JOU
Ek herhaal jou
sonder begin of einde
herhaal ek jou liggaam
Die dag het ‘n smal skadu
en nag geel kruise
die land sonder aansien
en die mense ‘n ry kerse
terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hande namaak
TOE MAAR DIE DONKER MAN
Op die groen voetpad
van die horison ver
om die aarde skat,
stap ‘n ou man wat
‘n oop maan dra in sy hare
Nagtegaal in sy hart
jasmyn gepluk vir sy oop knoopsgat
en ‘n rug gebuk aan sy jare.
Wat maak hy, mammie?
Hy roep die kriekies
Hy roep die swart
stilte wat sing
soos die biesies, my hart
en die sterre wat klop
tok-tok liefling,
soos die klein toktokkies
in hul fyn-ver kring.
Wat is sy naam, mammie?
Sy naam is Sjuut
Sy naam is Slaap
Meneer Vergeet
uit die land van Vaak
Sy naam is toe maar
hy heet, my lam
Toe maar, die donker man
MY POP VAL STUKKEND
Die skaduwee waarsku die straat
geslinger uit ‘n hoë balkon
deur die skaars jakarandas van die lug
die skaduwee waarsku die son
deur die lied van die penniefluitjies
geval op die dreunende staraat
my pop met ‘n naam soos ‘n liggaam
wat net soos ‘n mens kon praat
My pop soos ‘n mossie geskiet
korrel-kaal van die vensterbank
of was dit die wind uit die verte
of was dit my eie hand
My pop het geval toe die son
sy brons klok lui uit die lug
toe die wolke die mure wit kalk
val die skaduwee daarin terug
Die skaduwee waarsku die son
porselein met die ver lug bo –
as ek sou val uit ‘n hoë balkon
as ek sou breek lyk ek ook só
ONS
(vir andré)
só sal jy áfstérf van my
soos jou vergeefse saad
nakend soos water brandblink
soos laat
april
soos hande nakend
mooi soos sterflikheid
soos ‘n laaste woord
treurig soos bloed
geen kleine dood
môre brandblink ons onverwek-
te saad môre
breek die bloeisels
nuwe meisies soos maagde
môre
sterf ek en jy
Ontvlugting
Uit hierdie Valkenburg het ek ontvlug
en dink my nou in Gordonsbaai terug:
Ek speel met paddavisse in ’n stroom
en kerf swastikas in ’n rookransboom
Ek is die hond wat op die strande draf
en dom-allenig teen die aandwind blaf
Ek is die seevoël wat verhongerd dwaal
en dooie nagte opdig as ’n maal
Die god wat jou geskep het uit die wind
sodat my smart in jou volmaaktheid vind:
My lyk lê uitgespoel in wier en gras
op al die plekke waar ons eenmaal was.
L’Art poetique
Om myself weg te bêre soos ’n geheim
in ’n slaap van lammers en van steggies
Om myself te bêre
in die saluut van ’n groot skip
Weg te bêre
in die geweld van ’n eenvoudige herinnering
in jou verdrinkte hande
om myself weg te bêre in my woord
Die Kind is nie dood nie
Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
Die kind wat dood geskiet is deur soldate by Nyanga
Die kind is nie dood nie
die kind lig sy vuiste teen sy moeder
wat Afrika skreeu skreeu die geur van vryheid en heide
in die lokasies van die omsingelde hart
Die kind lig sy vuiste teen sy vader
in die optog van die generasies
wat Afrika skreeu skreeu die geur
van geregtigheid en bloed
in die strate van sy gewapende trots
Die kind is nie dood nie
nòg by Langa nòg by Nyanga
nòg by Orlando nòg by Sharpville
nòg by die polisiestasie in Philippi
waar hy lê met ‘n koeël deur sy kop
Die kind is die skaduwee van die soldate
op wag met gewere sarasene en knuppels
die kind is teenwoordig by alle vergaderings en wetgewings
die kind loer deur die vensters van huise en in die harte van moeders
die kind wat net wou speel in die son by Nyanga is orals
die kind wat ‘n man geword het trek deur die ganse Afrika
die kind wat ‘n reus geword het reis deur die hele wêreld
Sonder ‘n pas
Kabouterliefde
vir Simone
Die kabouter met die rooi-rooi pet
die kabouter met die geel hemp aan
het sy hart gisteraand vir my gegee
en sy hemp is vir die maan
Die hoepelronde blou-blou lug
het kadoemps op die grond geval
hy’t dit blink-blou in sy hand gerol
toe speel on daarmee bal
Die sterre met hul wit ligte
het geknipoog toe ons lag
hul’t rondom ons in ‘n kring getrek
soos ‘n laer in die nag
Die aandblom het sy trom-trompet
geblaas in die warrelwindkring
die kalkoentjies met hul rooi mondjies
het die sprinkaan-wals gesing
Die maan met sy geel lyfie
het gaan plat lê op sy rug
hy’t gaan slaap by die gousblomme
met sy boepens in die lug
Die kabouter met die rooi-rooi hart
het dit self vir my gesê
hy’t die aardbol oor sy kop gegooi
o dis hier waar die lê
As jy slaap
As jy slaap en die verdriete
en selfs ons bitter liefde agterlaat,
is jy maar weer ‘n argelose kind
met drome wind’rig oor jou mooi gelaat.
Ag, as die teer nag in jou arms le^,
en sterlig oor jou bors en hare skyn,
is jy maar weer ‘n seuntjie weggedwaal
van huis en ouers en hul soete samesyn.
Ag, in jou slaap wil ek jou neem
en aan my bors hou tot die more wyd
oor al die heuwels breek – wil ek jou neem
en terugbring van jou eensaamheid.
Verlore Stad
In die reën wat verby is
ver dag en verlore stad
van akkers van duiwe vol dagbreek
was my hande die ene eekhorinkie
vinnig sku maar voorbereid
ver dag en verlore stad
deur al die mense het jy gekom
met ‘n eenvoudige glimag
soos van ‘n lang reis
en die reën wat verby is
het hom verwarm aan my lyf
die reën van rook en oker
wat ruik na jou hande skoongewas
na warm duiwe en die oop
oranje papawer van die lug
Korreltjie sand
Korreltjie korreltjie sand
klippie gerol in my hand
klippie gesteek in my sak
word korreltjie klein en plat
Sonnetjie groot in die blou
ek maak net ‘n ogie van jou
blink in my korreltjie klippie
dit is genoeg vir die rukkie
Kindjie wat skreeu uit die skoot
niks in die wêreld is groot
stilletjies lag nou en praat
stilte in Doodloopstraat
Wêreldjie rond en aardblou
korreltjie maak ek van jou
huisie met deur en twee skrefies
tuintjie met blou madeliefies
Pyltjie geveer in verskiet
liefde verklein in die niet
Timmerman bou aan ‘n kis
Ek maak my gereed vir die Niks
Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood
PUBERTEIT.
Die kind in my het stil gesterf
Verwaarloos, blind en onbederf
In ‘klein spoel stadig weggesink
En iewers in die duisternis verdrink
Toe jy onwetend soos ‘n dier
Nog laggend jou fiesta vier
Jy het nie met die ru gebaar
Die dood voorspel of die gevaar
Maar in my slaap sien ek klein hande
En snags die wit vuur van jou tande
Wonder ek sidderend oor en oor
Het jy die kind in my vermoor.
OPSLAGBOOMPIE IN NIEMANDSLAND
Opslagboompie
Weggooikind
Wind strooi sand
In jou half-oop hand
Bedel nie meer nie
Om ‘n stuiwer nie.
Die wat het
Dien ‘n ander wet
Kringetjie wind
Kringetjie sand
Opslagboompie
In niemandsland
Aan die lewe behoort jy
En die lewe aan die dood
Van toeka af syne
Herwonne land
Ek het jou herwin van die see
en waar die stormwaters was
die aarde aan jou teruggegee
saad van my begeerte son van my woord
wat bome plant in jou vore
teen die kus van die dood
Ek het ʼn hemel bo jou gerond
fondamente laat sak en ʼn stad
laat bloei uit jou grond
Ek het jou teruggegee aan die lug
maar met die eerste sirenes
van jou weggevlug
KANTELSON (1966)
Vir Simone
HOND
Ek lê onder jou hand – ‘n brak
in die knorrende stilte
in die tjankende maan
getralie tussen die sterre, sy
in haar ontsettende
wit kom en gaan.
(Ek wou ook nog gaan hase jag
oor my eie karoo
oor my brandende vlakte
van oker tot oker, o
wit vlaktes van jou hande!)
Vanaand sal ek met my tande oop
ruk aan die sluwe ritme van die maan
luiter na my soetheid en verte
my langluidende blaf
uit my hok; wit maan, wit baas,
in die nag.
EK BETREUR JOU
Ek betreur jou wasige liggaam
blou soos jou oë wasig en wyd die see
My hand van stof
kan jou nie behoed nie
kan skaars die pad verander
waarop jou neerslagtige voetstappe
moet rus in wier
My hand van stof
kan die rotse nie trotseer nie
Maar die meeue kan
ALLES WAT BREEK
Alles wat breek, val of eindig
– soos die uitstorting van die saad –
het geen ander betekenis
as die verraad
Want alles gevorm, voltrek of begin
– soos die lewe verwek in die skoot –
het geen ander volbrenging
as in die dood
MY OMHELSING HET MY VERDUBBEL
My omhelsing het my verdubbel
my borste roep na mekaar
die twee kopspelende maats
en my hande omsluit my geheime
in ‘n kamer ver weg
agter die gestorte herfs
kyk jou oë verdwaas
na die spieël van jou lyf
Ek herhaal jou
Ek herhaal jou
sonder begin of einde
herhaal ek jou liggaam
Die dag het ’n smal skadu
en die nag geel kruise
die landskap is sonder aansien
en die mense ’n ry kerse
terwyl ek jou herhaal
met my borste
wat die holtes van jou hand namaak
Met hulle is ek
wat seks misbruik
omdat die individu nie tel nie
met hulle wat dronk word
teen die afgrond van die brein
teen die illusie dat die lewe
eenmaal goed of mooi of betekenisvol was
teen die tuinpartytjies van die valsheid
teen die stilte wat slaan teen die slape
met hulle wat oud en arm
meeding met die dood die atoombom van die dae
met hulle verdwaas in inrigtings
geskok met elektriese strome
deur die katarakte van die sintuie
met hulle van wie die hart ontneem is
soos die lig uit die robot van veiligheid
met hulle kleurling african ontroof
met hulle wat moor
omdat elke sterfte opnuut bevestig
die leuen van die lewe
en vergeet asseblief
van geregtigheid dit bestaan nie
van broederskap dis bedrog
van liefde dit het geen reg nie
Swanger Vrou
Ek lê onder die kors van die nag singend,
opgekrul in die riool, singend,
en my nageslag lê in die water.
Ek speel ek is kind:
appelliefies, appelliefies en heide,
koekmakrankas, anys,
en die paddavis gly
in die slym in die stroom,
in my liggaam
my skuimwit gestalte;
maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.
Nòg singend vliesrooi ons bloedlied,
ek en my gister,
my gister hang onder my hart,
my kalkoentjie, my wiegende wêreld,
en my hart wat sing soos ‘n besie,
my besie-hart sing soos ‘n besie;
maar riool o riool,
my nageslag lê in die water.
Ek speel ek is bly:
kyk wáár spat die vuurvlieg!
die maanskyf, ‘n nat snoet wat beef –
maar met die môre, die hinkende vroedvrou
koulik en grys op die skuiwende heuwels,
stoot ek jou uit deur die kors in die daglig,
o treurende uil, groot uil van die daglig,
los van my skoot maar besmeer
met my trane besmeer
en besmet met verdriet.
Riool o riool,
ek lê bewend singend,
hoe anders as bewend
met my nageslag onder jou water … ?
Op die Pad na die Dood
Op die pad na die dood loop jou naam, Christus.
Die hart van jou oë klop op die lippe van kinders.
Die gestalte van jou woord lê in die sugte van minnaars
tot in die laaste voue van die vreugde Amen.
Openbaring, betekenis, murg en gebeente, taal;
Segger van die droom, tolk van die Allerhoogste,
in jou oë het ek die ewigheid gesien sonder verte
het ek gedaal tot op die uiterste klankbodems van God.
Meester, by die voorhangsel van die daeraad
met my eie dood op my tong gee ek jou terug
aan die lewe, met my bebloede naam, bespot,
gekruisig, werkwoord van die liefde, Judas Iskariot.
Intieme Gesprek
Moenie slaap nie
Moenie slaap nie, kyk!
Agter die gordyne begin die dag dans
met ‘n pouveer in sy hoed
As jy na my roep
As jy na my roep uit jou keel
gaan daar ‘n vogtige voetpaadjie oop
in ‘n ruie bos
Ek weet
Ek weet tog
jou mond is ‘n nessie
vol voëltjies
As jy lag
Jou lag is ‘n oopgebreekte granaat
Lag weer
dat ek kan hoor hoe lag die granate
Toe jy ‘n baba was
Toe jy ‘n baba was
het jy sekerlik geruik
na ‘n bokrammetjie
en blomme
As jy slaap
As jy slaap
is jou voorkop ‘n berg
en jou slape
soos lammers teen die hange
Jou lyf
Jou lyf is
swaar van bloed
en jou rug
‘n singende kitaar
Elke man het ‘n kop
Elke man het ‘n kop
‘n lyf
en twee bene
hulle probeer jou namaak
By die Goodwood-Tentoonstelling
Hul het my uitgekies en ingetroon
tot hierdie tronk waarin ek woon
waarom hul daagliks, vry nog, gaan
en nie my stom kreet kan verstaan.
‘n Eerste Prys hang om my nek
maar saans verlang ek halfpad gek
terug na die kudde, weg van hul lof
na die Karoo-veld en die stof
waar ek nog trots teen die aandwind staan
een van die duisende sonder naam,
sonder die juk van die roem of die dors
en die Eerste Prys op my bors