Jaco Barnard-Naudé
die myner wat doodgeskiet is deur poliesmanne
na Ingrid Jonker
die myner is nie dood nie.
die myner lig sy kapmes teen die siek kaptein
wat kapitalisme skreeu skreeu die stank van gebrek
aan ‘n rand in die plakkerskamp afgesper van die heer se genade.
die myner lig sy knopkierie teen sy baas
in die opmars van die werkersklas
wat fokkol het om te verloor en daarom ongeregtigheid skreeu
skreeu die vrank reuk van vars bloed en stof
in die voetpaaie van ‘n finale vernedering.
die myner is nie dood nie
nóg by Lonmin nóg by Marikana
nóg by Impala nóg by Noordwes
nóg by die koppie langs die platinummyn
waar hy bewegingloos op die aarde lê met polieskoeëls deur sy brein,
die aarde wat hy nooit ooit weer vir ‘n Meester sal myn.
die myner is nie die skaduwee van polisiemanne
gewapen met traanrook en waterkanonne nie
die myner is die onbemande skag in die President se gehaaste retoriek
die myner beur deur die rotsboorgate in die harte van die nagelate
die myner wat net nou en dan wou leef in die Rustenburgse son is oral
die myner wat ‘n mens geword het staak moedswillig onwettig
die myner wat die land geword het storm deur die ganse Al
sonder verlof.
& Union
na ’n gedig van Ted Hughes
Ons bymekaarkoms was ’n verskoning
om bier te drink en vir my om te sien
of my voorgevoel van vroeër daardie oggend
in die kol was – my voorspooksel
dat ek jou daar sou raakloop
soos ’n ou vriend. Ek en Shaun het binne gesit,
ek met ’n Blonde, hy met ’n Weiss,
hy nog altyd die verstandigste een.
Ons het gepraat oor politiek en reg
en verkeerd – intieme afstand, sy gekose forte.
Dit was ’n Dinsdagmiddag voor Menseregtedag,
die Kaap was sonnig, warm, en Erfenisplein
omgeef met die reuk van passie en chaos.
Ted Hughes sou aanvoer dat dit in die sterre was
dat my Uranus en jou Venus daardie middag
in jukstaposisie was. Opperman en Louw
sou op Bittergenot se stoep sit en kla, kla, kla.
NP sou na die sterre wys en sê dat my Son
en jou strydlustige Mars saamgesweer het
om ons daardie middag by enerse koördinate
te verwyder of saam te snoer – op die ou einde
is dit dieselfde. Ons Opperman, dink ek, sou sug,
hy sou my vir my histerie betig en ’n grappie maak
oor die Weduwee Viljee; daardie dag verteenwoordig
die skeiding tussen alles en niks. Shaun het gepraat,
oor allerhande goed, maar toe jy en jou vrou
inloop, in die ry gaan staan vir drankies,
het ek my kop verloor (dit het morsig op die kroegtoonbank
gerol). Die musiek onthou ek nie, maar daar was luidsprekers
buite – iemand sou optree teen die agtergrond van son –
maar ek en Shaun het binne gesit, hy het die bier omgeruil
en toe, jy: bebaard, langer en groter as wat ek jou ooit verbeel
het en jou gesig ’n ongeskende beeld van onwrikbaarheid.
Jy het gegroet en blad geskud, jou greep het alles verraai –
dink jy steeds dat ek niks daarvan weet nie?
Ek sien jou daar, “duideliker as al die jare
in die skaduwee daarvan, asof ek jou eenmaal
gesien het en toe, nooit weer nie”. Die strikte kam
van jou hare, daardie dissipline van jou gesig, jou littekens.
En tog was daar op daardie oomblik ’n sweem van trane,
die trane die rol oor jou, bokkie. Maar ek en Sylvia Plath weet
dat die trane diamante is, dat óns jóú uitgeklop het met ons
lewenslustigheid. Ek onthou minder en minder van daardie
laatmiddag. Ek het weggeglip, my vriend in agterhoede,
my hand teen my slaap, asof ek jou kon verban.
Maar hoe kon ek? Jy het reeds onder my vel geswel
soos ’n wrede bytmerk
waarvan ek nie ontslae kan wees nie.
Dame Joan Sutherland (1926–2010)
As kind lê ek gereeld met oorfone
op die growwe sitkamermat. (Pa skree
alweer vir stomme Ma in die slaapkamer.)
U is Gilda, u sing vir Rigoletto, die hofnar,
u geliefde vader, van bitter liefdesverraad,
die edelman het u vir ’n ander skoonheid verlaat.
Die kwintet voor die vadermoord sluit
met u bel canto – die desperate noot
verklank my ganse kinderverlede.
Later ontdek ek u, La Stupenda,
die tabberd van Lucia di Lammermoor:
’n banale liefdestoneel uit my jeug
bevestig: waansin en bloed resoneer.
Vandag sak die laaste rooi verhooggordyn.
’n Stil applous, die liefdesverlate maagd verdwyn.
Pa het sý Gilda jare gelede gewelddadig verlaat
– die liefde, o, dis géén opera buffa nie.
Maar deur die ouditoriums – La Scala,
Covent Garden, die Metropolitan,
die Sydney Operaskulp verál – weergalm dit:
hierdie aarde, só donker ’n rusteken vannag.
Hannah Arendt, circa 1963
Nóg ’n sigaret smeul lui in ’n asbak
langs die Olivetti op die lessenaar
voor die venster: Manhattan geraam.
Die bebrilde denker neem dit, bring dit
by haar lippe, trek diep in; dit gloei,
’n rooi stadsliggie in die verte.
Ken in die hand sit sy, vrae omgeef haar,
drywend, grys soos sigaretrook in die halflig:
Hoe verklaar ’n mens die laaste oplossing?
Het jy, Jodin, werklik ’n Nazi liefgehad?
Sy begin ’n brief aan Jaspers, “liebe Karl”,
maar sy skryf een laaste maal vir Martin:
“Boosheid is banaal, vergelyk Adolf Eichmann.”
Die tikmasjien kletter tot diep in die nag,
Migael, doodsengel, in die deurkosyn op wag.