Jongste aktiwiteit:

Jan F.E. Cilliers
vir

Jan F.E. Cilliers

Die Ossewa

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe —
hul dra dit getroos en tevree.

En stille, al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna —
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.

Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe —
en ver is die tog van die dag.

Dit kraak deur die brekende brokke:
die opdrans is ver en is swaar:
dit knars in die krakende knokke,
maar hul beur, en die vrag bring hul daar.

So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder ’n held van die daad…
Hul bene, na swoeë en swerwe,
lê ver oor die velde verlaat…

Eensaamheid

My vuurtjie en ek is op wag –
my vuurtjie en ek alleen;
die awendster
wink al van ver,
en die velde slap omheen.

En stadigies sterwe die dag,
soos een in sy armoed verlaat,
ongesien, ongeag,
sonder suggies, sonder lag,
waar niemand van weet of van praat.

Nou bly die lug alom
in stil aanbidding staan –
geen tampende bel
wat die ure tel:
net die sterre wat kom en gaan.

Die osse, met koppe gebuie,
herkoue nog stil in die nag,
tot èèn vir èèn buk
en gaan lê by sy juk,
met ‘n sug, nà die trek van die dag.

My vuurtjie is al wat nog leef
in die eindeloos ruim met my,
en sy stemmetjie dwaal
soos ‘n deuntjie wat draal
om dae lank verby,

Om jonksheid blye môre
en laggies lank verlewe.
Dan voel ek ‘n traan
in my oë staan
en ek fluister: “Heer, vergewe!”

Die slapende velde lê wyd,
en wyer die donker see,
wat my vuurtjie en my
vanawend skei
van die wêreld se vreug en wee;

Ek weet daar’s fees vanaand
in menig verligte saal,
maar geeneen wat my mis
by die dans en die dis –
‘n balling vergeet en verdwaal.

Maar al is ek, ver van die skaar,
in eensaamheids woning getrede,
ek voel soos een
met die Heer alleen –
‘n kind aan Sy boesem tevrede.

DIE VLAKTE.

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur
wat my swyend omsluit.

Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe ’t oor waat’re geswewe
die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
brag die aarde voort
Lewiátans-geslagte, geweldig van kragte —
storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in my gesteente berg ek hul gebeente —
die geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
na die ewig hernuwingsgebod,
die stof van d’ verlede in vorme van d’ hede,
in eindeloos kome en gaan;
wat die dood my vertrou ’t, ek bewaar dit as goud,
en geen grein sal ’k verlore laat gaan.

As die son oor my vloer in die môre kom loer
en die dou van my lippe kus,
dan kyk ek net stom met ’n glimlag om
en lê maar weer stil in my rus.
Hoog bowe die kim op sy troon geklim,
is hy heer van lewe en dood;
na wil en luim geef hy, skraal of ruim,
verderf of lewensbrood.
Uit gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer
tot my naaktheid kraak en skroei,
en my koorsige asem in béwende wasem
al hygend my bors ontvloei.
In sy skadetjie rond-om sy stam op die grond
staat ’n eensame doringboom,
soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,
wat roerloos die eeue verdroom.
Geen drop vir die dors aan my stofdroë bors:
my kinders[1] versmag en beswyk,
en die stowwe staan soos hul trek en gaan
om my skrale dis te ontwyk.

Soos ’n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom ’n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ’n stapelbou
van marmer wat krul en leef —
kolossaal monument op sy swart fondament,
waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly:
hul spring uit die stof orent,
en wals en draai in dwarrelswaai
oor my vloer, van end tot end;
die gras skud hul wakker om same te jakker
tot hy opspring uit sy kooi,
en soos mane en sterde van jaende perde
sy stengels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en buit
jaag ’n haelwolk langs verby,
soos ’n perde-kommande wat dreun oor die lande
vertrap en gésel hy —
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
in die awendson gesprei.

Stil in die duister lê ’k so en luister
hoe die spruite gesels en lag;
maar bowe die pak van my wolkedak
het die maan al lank gewag:
nou breek en skeur hy ’n baan daardeur
om te deel in my vreug benede;
hy sprei die waas van sy romig-blou gaas —
en ek lag so stil-tevrede.
Plek op plek, soos die wolke trek,
sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat’re verspreid
op die boesem van die grote see.
Met ’n afskeidskus gaat die maan ook ter rus
en ek wag op die daeraad —
so skoon en so mooi soos ’n fris jong nooi
wat lag in haar bruidsgewaad.

Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug
van brande wat ver-weg kwyn,
en doringbome fluister in die rooi skemerduister
van gevare wat kom of verdwyn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
styg ’n danklied op ten hemel;
en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor
weergalm uit die sterre-gewemel,
waar wêrelde gaan op hul stille baan
tot die ende van ruimte en tyd.
So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
wyd — in sy majesteit.

TROU

Ek hou van ’n man wat sy man kan staan;
ek hou van ’n arm wat ’n slag kan slaan,
’n oog wat nie wyk,
wat ’n bars kan kyk;
en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!

Vas soos ’n berg van grou graniet
op vaderlands-grond, sy hartsgebied,
aan haar getrou
soos aan kind en vrou,
en wat in haar ere ook syne siet.

Ek hou van ’n man wat sy moeder eer
in die taal uit haar vrome mond geleer,
en die bastergeslag
in sy siel verag
wat, haar verstotend, hulself kleineer.

Die oog wil ek sien wat ’n traan nog ween
vir ’n heldegeslag, in hul rus daarheen,
maar ’n blits van trou
in die traan van rou,
wat aan liefde weer gee, wat haar bron is ontleen.

Vir my d’ Afrikaner van durf en daad,
wat Mammon’s eer en loon versmaad,
sy hoof en sy hand
vir sy volk en sy land
en ’n trap van sy voet vir laag verraad!

O, ek hou van ’n man wat sy man kan staan;
ek hou van ’n daad wat soos donder slaan,
’n oog wat nie wyk
wat ’n bars kan kyk;
en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!

DIE LAASTE AAND.

Nog nie na bed!
Wat ’n pret, wat ’n pret,
met jurkies aan
en voetjies bloot
so met Pappie te rol
en stoei en stoot!

Ja, laat mag hul speel, het Mammie gesê,
voor Pa hul vanaand in hul bedjie sal lê.
Maar, verleë soek Breggie by Mammetjie skuil,
vra soetjies aan haar waarom Paatjie tog huil?
Nog nooit by hul speul’tjies het hy dit gedoen —
en so dikwels tot selfs die klein voetjies gesoen.

* * *

Wyd oor huis en velde
rus al lang die nag
as so by die bedjies
twee nog bid en wag,
wakend tot die môre —
wrede skeidings-dag.
“Vader in U hoede
lê ons hulle neer,
gee ons eendag, Vader,
aan mekander weer.
Wil, Vader, oor ons huisie waak,
dat leed nog honger dit genaak.”

Droom-verlore dotjies,
rustend naas mekaar,
hoor gebed nog klae,
weet van geen gevaar,
met één troos tevrede:
moeder is nog daar,
om die ogies moeg en vaak
met haar soentjies toe te maak.

En na ’n diepe suggie
gaan die borsies teer
so in stille sluimer
stadig op en neer;
handjies sag en roserooi
bo die hofies opgegooi —
reine handjies, sonde-leeg,
handjies waar geen las op weeg.

DIE BRAND.

Dit is die winterwind wat waai,
al wenend deur die lange nag,
al wenend om die verre dag;
die twye swenk, die takke swaai —
dit is die winterwind wat waai.

Hy sleep die sug van eeue mee
uit dieptes van die diepe see,
en waar vergane skepe rus
op menig maan-gebleekte kus;
hy sing van lang vergete wee, —
hy bring die sug van eeue mee.

Hy kom oor velde ver en wyd,
oor grafte in hul eensaamheid,
waar moeders van hul sorge rus,
waar kindersnikkies is gesus —
dit is die lied van d’eensaamheid,
hy kom oor velde ver en wyd.

* * *

“My ma, ek hoor van verre om
’n dreuning oor die velde kom!”
“Dit is die bome in die wind,
die wilgertakke kreun, my kind.”

“My ma, ek hoor my brakkie huil,
wat sou daar kruip, wat sou daar skuil?”
“My kind, die nag is koud en lang,
die diertjie is alleen en bang.”

“My ma, dit dreun al in die rond
soos perdehoewe op die grond;
my ma, wat lig daar soos ’n vuur
van buite op die kamer-muur?
My ma, daar brand die koring-miet!” —
“My kind, die Heer Se wil geskied!”

* * *

Is daar ’n beul so woes en wreed
wat manne-eer en plig vergeet,
met onskuld en met swakheid lag
en uitdryf in die winternag?

Is daar ’n hand wat nie ontsiet
die liefste wat Gods aarde bied,
die skoonste gawe uit Gods hand —
die vaderhuis in die vaderland?

Dis heilig grond, dis heilig grond,
die plekkie waar ’n wiegie stond
en waar ’n jonge moeder bly
haar kindjie se eerste skrede lei;

waar sy die lippies, jong en teer,
hul eerst’ gebedjie het geleer,
en waar sy lange nagte vaak
vol angs en kommer het gewaak.

’n Stille vrede dra die plek
waar, om die witte tafel-dek,
die etens-ure so om haar
die blonde koppies het vergaar.

En uit herinn’rings bly verlee,
vergange dae se soete wee,
berg elke hoekie so sy deel;
O wee, wie ’n hart die skat ontsteel!

* * *

Daar staat ’n moeder met haar kind
allenig in die winterwind —
en niemand wat haar trane siet,
en niemand wat haar trooste bied.

En wilde vlamme strooi dit wyd,
die vrug van lange lewensvlyt —
in vonke deur die lug gesaai,
in vonke wat die wind verwaai.

Haar kindjie aan haar bors gevou
beskut sy teen die winterkou —
die trane wat sy swyend ween,
so op haar wang tot ys versteen.

En winterwinde sing die lied
van eensaamheid en stil verdriet;
en sonder weerklank sterf die klag
op wye velde in die nag,
al sugtend deur die gras se saad —
en verre is die daeraad.

Die twyge swenk, die takke swaai,
dit is die winterwind wat waai . . . .

DIE KAMPSUSTER.

Suster Anna, ek voel dis die dood wat kom:
slaat ope die tentdoek, na buitekant om,
dat my oë vry oor die bulte gaan —
Suster Anna, ek hoor ’n kerkklok slaan.

Ek hoor hoe die kindertjies roep vir my;
van ons klompie moes ek nog die laaste bly.
Kom neem tog my hand, soos jy dikwels doet —
ag, altyd was Suster vir ons so goed.

My man, hy lê ver langs Toegela-stroom af,
en niemand weet waar of hy rus in sy graf;
ag Suster, en neem nou die Heer nog vir my,
dan is Pieter allenig nog owergebly.

Ek weet hy bly staan met sy roer in sy hand —
ja, trou tot die dood, vir sy volk en sy land;
en mog dit so wees dat die Heer hom behoed,
so bring hom tog, Suster, sy moeder haar groet.

En sê vir hom, selfs op die donkere rand
het jy vrese nog bewing gevoel aan haar hand;
en dit was haar troos, dat haar Pieter sal hou
aan sy God en sy land, aan sy ere en trou.

Die kindertjies, Breggie en Japie en Faan,
het Suster die een ná die ander sien gaan;
en jy sê daar ’s ’n plekkie vir my nog gebly,
waar moeder kan rus aan klein Fanie se sy.

Die ou huis se murasie staat swart en ontbloot,
waar almal so saam was om moeder haar skoot;
maar ver van die huis en verstrooi deur die land,
rus almal tog saam in die Here se hand.

Oor die velde kruip saggies die awend se grou;
maar Suster, ek sien nog die hemel se blou.
Daar rol ’n gedreun oor die bulte aan —
Suster Anna, — ek hoor ’n kerkklok slaan! . . .

DIS AL.

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en ’n voël draai bowe
in éensame vlug —
dis al.

Dis ’n balling, gekom
oor die oseaan,
dis ’n graf in die gras,
dis ’n vallende traan —
dis al.

AFRIKANER-TROOS.

(Histories.)

So eenkeer elke sestien jaar
kom daar ’n tyd—jul weet dit wel —
dat al die sterre, hot en haar,
soos vuurwerk deur die hemel snel.

So was ek eenkeer op die pad —
dis lange jare al verby;
ek kom die aand op Seekoegat —
daar gee hul toe ’n bed vir my.

En kyk, daar kom toe in die nag
so’n sterre-reën op ons neer;
geen mens had aan so wat gedag —
en dat dit erg was, kan ek sweer.

Die hele huis raak in rumoer,
die honde blaf, die hoenders kraai;
maar, moeg van heeldag ry en roer,
slaap ek so deur die heel lawaai.

Daar voel ek iemand stoot my aan.
Ek roep: “Wie’s daar?” en draai my kop,
Die goeie tante sien ek staan,
en saggies sê sy: “Neef, staat op,”

Ek sien sy lyk so bleek en naar;
dus vra ek gou: “Wat skort d’r aan?”
Sy sê: “Die laaste dag is daar,
en netnou sal die wêr’ld vergaan.

Kom sit by ons daar binne nou —
ag neef, hoe kan j’aan slaap nog dink?
Ons tyd is kort, kom laat ek jou
tog eers ’n koppie koffie skink!”

KLEIN ONDEUG.

Klein ondeug, moeders sorg en skat,
haar lus, haar las, haar vreug —
hy vroetel hier, hy snuffel daar,
hy pluk die hele huis deurmekaar —
keer voor daar! — liewe deug!

Te laat! Daar gaat die koppie al,
en stukkend op die vloer.
Knor jy hom, jy kry knor terug,
of nydig smyt hy ’m op sy rug
en trappel fluks tamboer.

Hy ’s kort-kort by die waterbak,
al jaag jy hom elke maal:
jou Sondagstewels kry hul bad;
dan is dit weer die arme kat
wat jy daar uit moet haal.

Al trippe-trap die mure langs
kan jy sy stappies hoor;
hy ’s weg en stil nou, soos ’n muis —
maar glo my nou’s dit glad nie pluis:
kom, hier is al sy spoor.

Daar het jy ’t al, die muurpapier
in repe afgetrek,
geskeur in stukkies, klein en kort,
die inkpot daarop uitgestort
en hy — één swarte vlek!

Daar val meteens die solderleer,
ja, soos ’n donderslag!
Ons loop te hulp met grootste haas —
daar sit die kleine vent daarnaas
en skater soos hy lag!

Dis brabbel-praat, dis woel en val,
van smôrens vroeg tot laat;
dis koppie stamp, en huil en lag
so twintig male elke dag,
tot basie kooi-toe gaat.

Die laaste soentjie is van haar
wat sorg nog las ooit heug.
Met mond en pootjies skoon gewas,
slaap nou klein ondeug — moeders las,
haar skat, haar sorg, haar vreug.

’N SNAAKSE VRYERY.

As tweetjies met mekaar wil vry,
is ’t beter om jou ver te hou —
nie waar, wat raak dit jou of my
as tweetjies met mekaar wil vry?
Net van één snaakse vryery
wil ek die storie jul ontvou.
As tweetjies met mekaar wil vry,
is ’t beter om jou ver te hou!

’n Flukse nooi was Hannie Waal,
en Japie Brink het daar gedraai —
die ogies blou, die lokkies vaal —
’a flukse nooi was Hannie Waal.
Maar of nou Japie dit sou haal —
dit was maar moeilik om te raai.
’n Flukse nooi was Hannie Waal,
en Japie Brink het daar gedraai.

Eén Sondag by die kerk se deur —
moe’ nou nie dink dit was ’n plan nie —
het so ’n kleine iets gebeur —
één Sondag by die kerk se deur.
Die kerk was vol, hul druk en beur,
en so kom ek net agter Hannie —
één Sondag by die kerk se deur —
moe’ nou nie dink dit was ’n plan nie!

Haar boek het uit haar hand gegly,
toe sy so uitstap op die treetjie;
ek moes dit optel, ’k was daarby —
haar boek het uit haar hand gegly.
“Baie dankie, neef,” sê sy vir my,
en ’k sien sy kleur so’n kleine beetjie.
Haar boek het uit haar hand gegly,
toe sy so uitstap op die treetjie.

En onder by die muur se draai —
dalk het ek my dit maar verbeel —
kyk sy nog om ’n slaggie, raai —
daar onder by die muur se draai.
Beskou jy dit as trou verraai?
Die kykie het ek tog nie gesteel!
Ja, onder by die muur se draai —
dalk het ek my dit maar verbeel!

Wel, ek het kennis toe gemaak —
die hoe of waar kom nie op aan nie;
toe loop ek daar vir Japie raak,
nadat ek kennis had gemaak.
Hul sit toe saam amandels kraak,
die eerste awend, hy en Hannie,
nadat ek kennis had gemaak —
die hoe of waar kom nie op aan nie.

Jaap kry ’n tweeling in die dop,
en één daarvan gee hy aan haar;
die ander eet hy selwe op —
Jaap kry ’n tweeling in die dop.
Was dit nou glips of wou sy fop?
Want uit haar handjie val dit daar.
Jaap kry ’n tweeling in die dop,
en één daarvan gee hy aan haar.

Sy ’s op haar knieë voor die stoel —
dat ek moes help, nie meer as plig nie!
Die amandelpitjie was ons doel —
sy ’s op haar knieë voor die stoel.
Dat ek haar handjies raak moes voel,
kan jul begryp: daar was geen lig nie!
Sy ’s op haar knieë voor die stoel —
dat ek moes help, nie meer as plig nie!

En Japie dink: “Wat sou gebeur het?”
nou sy die pitjie had gekry.
Ons merk dat sy so’n rooie kleur het,
en Japie dink: “Wat sou gebeur het?”
“Dis duis’ling wat ek altyddeur het
as ek gebuk het,” sê toe sy!
Ja, Japie dag: “Wat sou gebeur het?”
toe sy die pitjie had gekry.

Die helfte byt sy af vir haar,
en helfte lê sy op haar handjie:
“Dè, neef! Jy het help soek, nie waar?” —
Die helfte byt sy af vir haar,
en op my halfie sien ek daar
die kerfie van ’n witte tandjie!
Die helfte byt sy af vir haar,
en helfte lê sy op haar handjie.

Dat dit gesmaak het, moet ek sê,
al was my deeltjie maar ’n kwartjie:
’n kleine loon moes ek tog hê —
dat dit gesmaak het, moet ek sê,
al sien ek Jaap so stil oorlê:
“Daar gaan ’n stukkie van haar hartjie.”
Dit het gesmaak, ek moet dit sê,
al was my deeltjie maar ’n kwartjie.

Of dit by ’n kwartjie het gebly?
Dit raak jul niks nie, wel beskou,
of ander mens se vryery
nou by ’n kwartjie het gebly;
want as daar tweetjies is wat vry,
is ’t beter om jou ver te hou.
Of dit by ’n kwartjie het gebly?
Dit raak jul niks nie, wel beskou!

DIE MURASIE.

By staande waat’re klaag my siele wee —
By stille waat’re in die skemer-uur,
In drywend vuil gedam, en lang ontdaan
van sorgers hand, so treur die stille stroom;
en dampend skuif ’n walm soos lyke-kleed
die soppig-gryse vlak van die water langs.
In swart gegrif op wester-koperkwyne
staan blad en twyg in roerelose rou.
Geen lag of voetstap op die tuinpad meer,
waarbowe kruin teen kruin in droefheid leun,
deur vreemde hand beroof van somerweelde
en wenend droë blaartjies, één vir één.

En naby lê die ou murasie daar,
met dode-oë starend in die wes —
geen ruit wat blink in vriend’lik awendglore,
geen hand wat sawends daar die luike sluit,
geen warme gloed deur vensterspleet of deur:
die koue nagwind dwaal deur holle sale
en roer die flenters van die muurpapier.
En waar die tafel was met awendspyse
of rusbed, sag gesprei, aan kamerwand,
daar loer die maan die naakte mure ower,
daar lê die naakte balk ’n skaad’wee-band.
Geen fyne hand wat frisse teue skink
aan hange-slepend loof langs stoep en raam.
In stof van verre stede sien ek sleep
die blomme hier in vredehof geteel . . . .
Verby, vergaan! Of mag die hoop nog lewe,
of tref die laaste vonnis nou nog nie?

AARDGEESTE.

Daar kom hul aangetreed
tot slagting wreed,
bespied,
bekruip,
beloer,
besluip
mekaar, tot moord gereed.
Ei, daar blits
’n bliksemflits!
Nog een! Nog een!
Dit knal, dit bars,
dit knor, dit knars,
knett’rend kraak die kleingeweer!
Kranse herhaal
die woeste kabaal —
soos donderweer!
Koeëls, kartetse
fluit en gons,
beuk en bons,
morsel die rotse tot spattend gruis!
Dampe staan,
waar die bomme slaan,
vore ploeënd met hels gedruis!

* * *

Vaarlands grond drink die bloed
nog vol vryheid se gloed
lou uit die wonde.
Menig sterwende sug
dra ’n groet deur die lug
bo die wapengerug —
ver in die ronde.

O, die lippe wat bleek
om ’n waterdronk smeek —
wonde wat brande.
Ongehoord, ongeag
menig kermende klag,
waar die woelende slag
dreun oor die rande.

En in eensame nag
staan die sterre se wag —
stil en van verre,
oor die helde se skaar
tot hul ruste vergaar,
onbelas, onbeswaar—
veilig gebêre . . . .

DINGAANSDAG.

Ster-nag omsluit die laer —
onder die kleine skaar
by die lanternlig daar,
stilte en vrede . . . .
Sterk is die stem en skoon,
smekend om hulpbetoon,
wat tot die Vadertroon
klim in gebede.

Môre-lig,
roepings-plig
daag vir die helde,
Vader, die taak is swaar,
klein en verloor die laer
in die groot velde.

Woes-singend,
aanstuiwend,
dans-springend,
pluimwuiwend,
kom die barbare —
driemaal tien-duisendtal,
dond’rend hul voete-val,
storm hulle skare!

Afrika,
Afrika,
was ’t jou gegéwe,
vêr en vooruit te skou
wat in die stryd vir jou
hier was te breek of bou —
jy had gebéwe!

Kalm-in-daad,
wêreld-verlaat,
wêreld-vergete,
sterk in die Heer se krag
staan hul die storm te wag —
oormag-oormete.

Reguit en raak-sekuur
blits uit die tentwa-muur
driemaal die Boere-vuur,
kraak hulle roere,
maaiend die horde om —
drie-male, al wat kom —
kyk, tot die swarte drom
wyk vir die Boere!

Dingaan-slag,
wonder-dag,
jy het bevestig
al wat ’n nasie bou,
al wat ’n taal behou.
Ere die helde-skaar!
Klein was die klompie daar:
vier-honderd-sestig!

Afrika,
Afrika,
eer hul gedagtenis!
En as jou vryheids-dag
eens oor jou velde lag,
weet wie te danke is —
eer hul gedagtenis!

STILLE WERKERS.

Oubaas sit oordwars op ou Geduld.
Met nek omlaag, en oë op die grond,
so dra hy oubaas huistoe, stap vir stap.

Oubaas pof ’n rokie uit sy pyp,
so nou en dan, teen rooi van awendlug,
en praat ’n woordjie met sy goeie ou maat.
Daar ’s goudlig in sy baard; en d’aandson gee
d’ou perd ’n laaste rapsie oor sy kruis.

En stil is hul oor dagtaak afgedaan,
en stil sal hulle môre weer begin —
tot eendag ook oor hul die velde swyg.

WAG-HONDJIES.

Ek is hier, en ma is hier,
ons twee lê op baas se baadjie.
Wie is jy?
Kom, loop verby!
Anders word ons knor ’n daadjie —
kry jou bene dalk ’n hap,
kry jou broekspyp dalk ’n gaatjie!
Mooipraat? Nee, ons ken jou nie.
Weg jou hand, en raak ons nie!

“Oppas!” het die baas gesê,
“tot ek weer kom, hier bly lê!”
Op ons pootjies lê ons kop,
maar ons hou jou darem dop,
toe-oog slaap ons op die baadjie,
maar ons loer nog deur ’n gaatjie —
één oor plat, en één oor op,
pas-op!

PRESIDENT STEYN.[2]

(† 28 Nov. 1916).

Dis skoon vir ’n held om te val
aan die voete van wie hy gedien het,
skoon vir sy skeidende gees
dat moeders die laaste mog wees
wat sy sterwende oog gesien het.

Maak hom ’n graf op die grond
wat sy liefde gewy en geseen het:
dis skoon vir ’n held om te rus
aan die voete van wie hy beween het.

[2] Pres. STEYN is deur ’n beroerte getref, terwyl hy besig was om ’n kongres van die “Oranje-Vrouevereniging” op Bloemfontein toe te spreek. Hy is begrawe aan die voet van die Vrouemonument, wat deur hom tot stand gekom het.

KOMAAN!

Wees sterk!
Daar ’s ’n nasie te lei,
daar ’s ’n stryd te stry,
daar ’s werk!
Daar ’s nie na guns of eer te kyk,
daar ’s nie na links of regs te wyk,
daar ’s net te swyg en aan te stryk —
Komaan!

Wees trou!
Daar ’s ’n volk te leer
om homself te eer,
te bou;
om God, om God alleen te vrees,
aan aard en taal getrou te wees,
gesond en waar van hart en gees —
Komaan!

Wees fier
op ’n voorgeslag waard
in wil en daad
gespier!
Hul lewensweg het ons gewys
om trou te wees aan waarheids eis.
Wie laak mag laak, wie prys mag prys —
Komaan!

MA EN PIETJIE.

Dis moeder Makou en haar kleine Piet.
As jy nader kom, dat sy dit siet,
dan lig sy haar kop en kyk vir jou
asof sy vra: “Wat is dit nou?
Wil jy Pietjie hê, wil jy Pietjie steel —
my liewe klein bolletjie goud-ferweel?”

En sy sê met haar omdraai en skuddend haar stert:
“Nee, die hele wêreld is Pietjie nie werd!
Kom, ons loop.” En hy volg haar in trippeldraf klein
op sy sagte voetjies van geel satyn.

As sy waak, sit hy slaap, onbewus van haar angs,
of hy trippel rond op ’n goggatjies-vangs,
pik mis en te laat na ’n motjie wat vlug,
en struikel onhandig en val op sy rug.

Die wêreld daarbuite mag staan of mag val,
ons erf is, vir Pietjie en Ma, die heelal,
want Ma het vir Pietjie en Piet het vir Ma, —
daar ’s niks wat hul meer van hul daggie vra
dan, totdat hul daggie word opgesê,
net lief te hê, net lief te hê.




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed