Jongste aktiwiteit:

Johann Lodewyk Marais
vir

Johann Lodewyk Marais

ELSAMERE

Joy Adamson-huis
 
Die koorsbome om die Naivashameer
staan penregop en klad hulle koelte
oor die tuiste van haar wat vermoor is,
sy wat op die kikoejoe van die werf
met die vuur van leeus gespeel, stomp-ape
uit die rotskoppies na haar aangelok
en bosveldvisvangers bewonder het.
In die sitkamer, met ‘n uitsig oor die meer,
het sy skilderye van stamlede
soos trofeë gehang, ‘n sebravel
oor die klipvloer gegooi en met George,
William en Bill ‘n geding gevoer,
maar buite roer die skrif van die ruigte
nog al die tyd teen die buitemure.

© Johann Lodewyk Marais. Maart 2011

THE YELLOW KIOSK

‘n Vis swem verby in die bloedrooi aand
en gemsbokhorings verleen hulle steun.

‘n Hiëna staan gestol en snuif aas
onder die skrefie maan aan ‘n boomtak.

‘n Bokkop hang skeef teen die buitemuur
en droom die nag deur sy dowwe oë.

© Johann Lodewyk Marais. Jan. 2011

FORT JESUS, MOMBASA
1593-

Aan die voet van die verhewe bouwerk
van João Batista Cairato
is skeepskanonne kriskras neergesit
om ‘n ogie oor die hawe te hou.

Agter koraalmure bied barakke,
wagkamers en ‘n sisterne skuilplek
vir die dapper seuns van Portugal
wat vir koning João ‘n ryk moet stig.

Met ‘n uitsig vanaf die borswering
sien Pedro Leitao de Gamboa
ver weg Muhammad Yusif bin Hassan
met ‘n bende volgelinge aankom.

Maar Portugese bloed was maklik af;
die sultan word ultiem ‘n seerower
en die bolwerk verwissel om die beurt
van verowerde na veroweraar.

Graffiti van Portugees, Omaniet
en Swahili skilfer van die mure
by die bastions van St. Mathias,
Matheus, Alberto en Phelipe af.

Waar opeenvolgende vlae gehys
en algou met geweld afgestroop is,
dring die wortels van ‘n tamarinde
van later jare diep in die grond in.

Agter my hou die gids aan met vertel,
terwyl ek lank deur ‘n geskutpoort kyk
hoe begelei die Keniase kuswag
‘n slu seerowerskip die hawe in.

© Johann Lodewyk Marais. Des. 2010

SLUIPMOORD
Nairobi, 1969

Die man van Rusinga, Tom Mboya,
is soos ‘n hond in Goewermentsweg
platgeskiet toe hy uit die apteek kom
met Alpha-Kiri vir ‘n droë vel.

O, kyk na die blink seun van die Luo
wat by die ingang agteroor gestort
en rustig en gelate gelyk het
vir Mohamed Amin, die fotograaf.

Onder sy mangoboom in Gatundu
het Jomo Kenyatta die begrafnis
noukeurig beplan en met ‘n beesstert
die vlieë van hom af weggewaai.

Huil julle harte uit vir die jong man
wie se stamgenote saamgeloop het
agter die stoet aan op pad na die meer
van waar hy te vroeg na sy vaders gaan.

By die modderhutte van Rusinga,
die eiland van trane, is sy doodkis
laat sak onder die gedreun van tromme
en die gebulk van duisend beeshorings.

© Johann Lodewyk Marais. November 2010 

KONING LEOPOLD II

Die bloedjong hertog van Brabant
dra uniform en ‘n baard
om bejaarde senatore
te wen vir sy sake en aard.

Die ondernemende koning
regeer die Kongo met ‘n sweep
en behou vanuit België
sy onbarmhartige greep.

Toe hy in Brussel te perd ry
na verminkte hande se boog
stapel op Antwerpen se kaai
rubber en ivoor hemelhoog.

© Johann Lodewyk Marais. Okt. 2010

IBN BATTútA
1330
In ‘Aden seën hy die koopliede
uit Kinbáyat, Kawlam en Cálicút
en seil met ‘n jalba langs die kus af
via die stinkende Berberstad Zayla‘
waar kamele op straat geslag word
en verder suid tot by Moqdashaw.

In die hawe ontvang sumbuqe hom
en as gas van die qádi bring ‘n slaaf
skottels betelblare, pienangneute
en provisie uit die Shaykh se paleis.
Ná die jumaa stap hy onder sonkappe
met goue voëls versier na ‘n feesmaal.

Gelukkig is jy onder die stede,
Mombasá, want ook hier kom hy oornag
en van die ryke vis en piesangs eet.
Die vromes, eerlikes en opregtes
sien hy raak en bekyk die houtmoskees
voordat hy sy reis na Kulwá aanpak.

© Johann Lodewyk Marais. Sept. 2010
 

NELSON MANDELA

Jare lank al weier u om te swig
by Mvezo oorkant die Mbashe.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Hier het u voorvaders ‘n kraal gestig
en het u u heel eerste tree gegee.
Jare lank al weier u om te swig.

Bedags het u gedroom van stedelig
terwyl u drentel agter spikkelvee.
Ek was u voete in hierdie gedig.

Ver hiervandaan was iets duisters in sig
toe u leer van mense se bitter wee.
Jare lank al weier u om te swig.

Hulle – mý mense – het u selfs verplig
om na dié te luister wat op u skree.
Ek was u voete in hierdie gedig.
Toe u uit die donker kom na die lig
het u met ons nasie ‘n band gesmee.
Jare lank al weier u om te swig.
Ek was u voete in hierdie gedig.
 
© Johann Lodewyk Marais. Sept. 2010

REISIGERSBOOM
Ravenala madagascariensis

Met my aankoms by die hotel
word die geraamde skildery
van Marianne North by ontvangs
‘n teken dat ek weer tuis is.

Dié boom met blare uitgesprei
soos ‘n groot Chinese waaier
vang in sy oksels water op
waarmee hy reisigers verkwik.

Maar in my verbeelding reis ek
verder na ‘n warm eiland
waar ‘n lemur met sy spits bek
die waswit blomme binnedring.
 
© Johann Lodewyk Marais. Sept 2010

Heilige skrif
Mombasa

Die vrou wat onder die tamarinde
die Qur’ān sit en lees, keer my opsluit
wanneer ek buk en met my wysvinger
aan die mooi karakters voor haar wil raak.
Sy gru en hou haar hande beskermend
oor die letters wat vir haar heilig is.
“Elke ayat is wonders en tekens
en het net so uit die hemel gekom,”
sê sy en prewel Mohammed se gebod.
Ek verkyk my aan die boek en bemerk
die arabeskpatrone wat die son
deur die boomtakke en -blare teken.

© Johann Lodewyk Marais. Augustus 2010

DIE BREIN

Die grootte van die brein kan akkuraat
bepaal word deur droë kanariesaad
deur die tregter van die rugmurgkanaal
te laat invloei tot elke hoek en draai
volgeloop het en mens dit gaan afweeg
op ‘n haarfyn gekalibreerde skaal.
Só beskryf Phillip V. Tobias dit.
Maar wat vermag ek met die afmetings
van dié doodse skedelholte waar taal
wortelgeskiet het en ánder klanke
soos bewerkte klip deur ‘n spleet kan val?
Of is spraak ‘n anatomiese kwaal?

© Johann Lodewyk Marais. Feb. 2010

FOSSIELJAGTER

Gaan roep Kamoya Kimeu
in sy huis tussen die mielies
sodat hy die Turkanameer
se oewers deeglik kan bekyk

en op hierdie songebakte
gryslandskap die spore kan kry
van die eerste regop wese
wat ons aanmekaar wil las.

Kyk na Kamoya Kimeu
met sy oë stip op die grond
voor hom: hy soek ‘n beentjie hier,
‘n beentjie daar en, ja, siedaar!

Hier op die droë rivierwal
het ‘n soetdoringboom sowaar
gestam uit ‘n goed bewaarde,
klam Homo erectus-skedel.

Jy kan nou gerus huis toe gaan,
Kamoya Kimeu, dis laat
en ons gaan hierdie klong nog lank
van alle kante ondersoek.
 
© Johann Lodewyk Marais. Feb. 2010

OLIFANT
Loxodonta africana

“Kom ons laat die olifante met rus,”
stel sy voor ná die soveelste verwyt.
“Daaroor en oor die dood van Diana
het in gesprekke te veel bloed gevloei.
Ek het al gesien hoe olifante
bome en struike breek en hooghartig
oor die Wildtuin se paaie voortdrentel
sonder om ‘n enkele blaar te vreet.
Laat die jagters maar onder hulle maai!
Jammer om te sê,” gaffel sy na my,
“maar waarom moet húlle grootkop kry
en doen net wat hulle wil? Vergeet jy
al die mooi plante wat hulle verniel?
‘n Mansmens wat soos ‘n paparazzo
halflyf by sy venster uitgehang het
toe ek na die soveelste trop moes staar,
het byna in my motor vasgery.
Waarom olifante se lof trompet?”

© Johann Lodewyk Marais. November 2009

KOURIE
Cypraea mappa

‘n Digter het eens oor ‘n skulp geskryf,
selfs die binnekant in detail verbeeld
en voor die leser se oë laat leef.
Ek het met verwondering geluister.
Tuis het ek die skulp in my hand geneem,
hom om en om gedraai en goed bekyk.
Hoe moet ek te werk gaan as ook ek
dié sieraad uit die see nou wil vereer?
Moet ek eers weer op my boekrak gaan soek
om meer oor die oseane, vorm
en gedrag van dié boorling van Pemba
te lees voor ek ‘n woord op papier sit?
Moet ek hom desnoods alkant bestudeer,
in sy binneste inkyk, notas maak
en sy samestelling deeglik vasstel?
Moet ek die man in Maputo loop pols
by wie ek hom vir ‘n hand vol munte
van die hoop voor sy voete gekoop het?
Of moet ek hom liewer teen my oor druk
en luister of hy self iets te sê het?
Miskien sal ek maar ‘n digter moet vra.

 © Johann Lodewyk Marais.  Junie 2009

FRANSKRAAL

[V]er van elke Jan Rabie en sy maat.
D.J. OPPERMAN
Op die strand
raak ek verstrooi
oor ‘n stuk Japannese net
met ‘n grootmalmok
in die maas verstrik.

Met my knipmes
wil ek die heerser van die wind
lossny vir my versameling,
maar die reuk van die dood
dryf my terug.

Verder weg tel ek op:
‘n meermin-se-beursie,
‘n seekomkommer,
‘n  lampskulp
en ‘n stuk spons.

Op ‘n rots sien ek
‘n man met ‘n visstok
afgeëts teen die melkhout
en gaan nader om te groet:

“Dr. Opperman, veronderstel ek?”

© Johann Lodewyk Marais. Junie 2009

Reusestokinsek. Palopnus reyi

Heelnag lank beweeg sy van tak tot tak
en vreet bietjies-bietjies van die lower
voordat sy met dagbreek doodstil bly sit.
Wanneer sy opskrik, flits haar vlerke oop
en word ’n dubbele mopanieblaar.


MIERLEEU. Myrmeleotidae

Hy het die kameeldoringboom gekies:
hier in die droë, sanderige grond
in die rondte geloop, sand weggeskiet
en in die skuins wal naby die bodem
van die tregter op ’n insek gewag
om af te gly, en toe: die sandstorting!

 

MISKRUIER. Scarbaeus rubripennis

Die balroller-miskruier
vlieg tot by die olifantdrolle
tussen die mopaniebome.
Sy gekurfde, plat voorpote
maak fyn en klam mis bymekaar
en stoot dit onder sy buik deur
tot tussen die vier agterpote
waarmee hy ’n bol vorm.
Dan gryp hy die maaksel
en met sy agterlyf omhoog
en kop skuins na onder
rol hy dié spyse vir ’n etmaal
na ’n ondergrondse tonnel
in goeie, stinkende aarde.


Tambotiemot. Emporia melanobasis

Op die turf-en-sand-laagte
staan die tambotiebome
met hul swartblokkiestamme
en in die droë gras en blare
hoor ek die geritsel
van die springende sade.
Die een in my hand hou op,
maar dan kom die son deur
en skielik ruk en buig
in die vrughokkie
die wurm sy konsertina:
’n vastrap vir die geboorte
van ’n vuilwit tambotiemot.

 

Goudogie. Chrysopa vulgaris.

’n Pragtige, delikate insek
kom na die buitelig toe aangevlieg.
Kyk dié insektivoor se voelhorings,
sy gevoude, netagtige vlerke
en die oë wat goud en grimmig glans.

NAMIBIESE REIS

By die Karrasberge sien ek uit die trein
tussen kokerbome in die yl winterveld
die stofstreep van ’n man op ’n vosperd.
Hy het ’n wit hoed op en ’n doek
om die kop gedraai. Hendrik Witbooi.
Dit word laat en die son sak bloedrooi
oor die berg verder aan, anderkant die stasie.
Ligte weerkaats in die langwerpige spieël
teen die kompartement se deur.
Ek sit en kyk uit oor die donker vlakte
tot teen die rand van die sterrehemel.
Iemand fluit voor die stasiemeester
’n sinjaal trek en die trein wegdreun.
Voor my roer water in die wasbak
soos die laste op die spoor kom en gaan.
Net voor ek die venster toeskuif,
sien ek ’n UFO oor die vlakte skuiwer
en parabolies bo die horison straal.

PLATBERG SE WATER

Nog een maal wil ek in die laatmiddag
weer op die dorp kom as die mis opsteek,
weer met die grondpad teen die berg op stap
waar die oostewind deur die ouhout waai,
weer my glas uit die Gibsondam volmaak
en die soet water van die bergstroom drink.

Uit “Plaaslike kennis” (2004)

DIE BAL IN KARTOEM
Na W.S.

Vanaand neem ek jou na die glansbal
by die samevloeiing
van die Wit en die Blou Nyl –
Gaan sit by ’n tafel met blink
konsulêre silwer en glasware,
en ’n tafeldoek wit
soos ’n engel se vlerk,
bestel sop van knapsekêrels
en roosbottels
uit die ruïnes van die paleistuin,
patee van gekookte palmharte
en gemaalde dhurra
en, as hoofgereg,
pièce de résistane van pelikaan,
terwyl ons luister
na die roffel van die militêre orkes
en sien hoe vuurwerke
bo die rivier flikker.

Die stasiewa

Die stasiewa met ’n gesin van vier
vertrek van die see af binneland toe
met die bagasie vir ’n vakansie.

Dan reis hul voort deur suikerrietlande
waar die man ’n riet in litte breek, skil
en hulle die wit kousels agterlaat.

Hulle ry verder na die Drakensberge
waar wit wolke teen die middag vorm,
kom al nader aan die ruwe kranse.

In die klowe trek die varings hulle,
word hul gelok deur bolplante en salies
wat in die ryk grond weliger groei.

Wanneer hulle uitklim, sien ons piesangs;
uitgekrapte varings en plantbolle –
die bak van die blou Rambler volgepak.

’n Kind van vyf wil van alles vertel.
In haar koeldrankglas dans ’n skoenlapper
voor die vier stuks weer verder moet gaan.

© Johann Lodewyk Marais, 2020

VERKLARING

Jy sou nie hierdie druïde
vir ‘n digter kon aansien nie:
op soek na die ingewande
van diere, olie op water;

en met ‘n veldboek in die sak
op die spoor van onsigbares
in donker, wolkerige plekke
oorkant riviere van beelde.

In die oerbos van die name
van bome, blomme en plante
skep hy sy eie wensruimte
vir die hiernamaals van lewe.

Die hele tyd “soek” by “alles”
en toevallig, net toevallig,
ontkiem in die tussenruimte
‘n kremetartpit uit sy hand.

ELSA JOUBERT
(1922-2020)

Waar het alles begin? Vir my lank terug
tussen boeke in ‘n biblioteek
en toevallige titels, ry op ry.

Ek lees “Die staf van Monomotapa”
en hoor een nag hoe rebelle LM
bestorm en die radio stil word.

“Die nuwe Afrikaan” word ingehaal
deur gebeure in Angola, gelos
om op ‘n uitverkoping te beland.

“Bonga” neem my na die swoel Limpopo
en met “Water en woestyn” in Mombasa
op ‘n reis wat my met die Nyl af neem.

Saam met Klaas, ‘n boorling van my dorp,
het sy van Poppie se stories vertel;
bely hoe het Leipoldt haar hart gesteel.

In Berghof in die Kaap van Goeie Hoop
het die Staat haar ingeperk, afgesny
van kinders het ‘n virus ingesluip.

(Harrismith)

OUMA MARAIS

Die perskeboom aan die rand van die werf
oorwinter in jarige en dor tak,
wag tot na die windstorms van Augustus
– sy skryf: “As die wind waai is ik so bang” –
om mals oortrek soet in die blom te kom.
‘n Den lê op die blomkweperheining
tot rus geval sonder om vir die stoof
brandhout gekap te word, omdat Ouma
lank nie meer boord en tuin onder haar hand
hou nie. Die takke bot soos hulle wil,
bloei stoksielalleen in pienk verwagting
en dra vrugte swaar vir poeding en fles.
Swamme was aan en malle sproet gedy
om die boom te laat glo dis alles oor.
In die hande van die erfgename
raak die skilmes ‘n slytende bate,
minder as sandsuiker ouvrouvrugte,
verskaal en vergete, langsamerhand,
agtertoe geskuif soos voorgeslagte,
soos ‘n ouvrou op dit of dat gerig.
Maar steeds geurend groei hardnekkig rose
oor haar graf, en klouterend in bome,
oral op die werf, en deur my gedig.

REPRESENTASIE

My reisgenote wil met kameras
alles wat hulle sien en wat raar is
meer laat word as ‘n oomblik wat verskiet
en net in die herinnering naskyn.

Twee oë word een: ‘n oog om agter
in te skuiwe, om koel en berekend
‘n huis of ‘n strand of ‘n landskap
later teen wil en dank kenbaar te maak.

Soos die vrou se lens wat nader fokus
aan die groot Panorama van Mesdag
in ‘n voorportaal in Den Haag verklein
en vyf skote op ‘n ry flits-flits-flits.

“Obseen,” sê ek en jy antwoord: “O, nè?
Moet ek voortaan my kamera wegpak?”
Bo die trap sien ek ou Scheveningen
in kleur en bly jou ‘n antwoord skuldig.

MEV. J.H. MARAIS

Ek wil die nagelate dankies sê.
Met jou woorde het ek ‘n huis ontdek,
jou in die warm kombuis, op die stoep
en yl werf die dagtake sien volbring.
Jy het my vertel van swaarkrydae,
van dié wat naby die aarde lewe
en in handearbeid adel moes vind,
mense wat in hierdie land gelewe
en gesterwe het: vergete en niks.
Ná al die gesprekke en aan mekaar raak,
die oomblikke van uitkom by mekaar,
het jy rou geweet: “Ja, jy sal weer kom.”
Nou keer my gedagtes na Happy Land
waar jou hand vol stof in ‘n vlak graf rus
en die pienk rankrose na jou uitreik.

MOHAMED ABDULLAH HASSAN
1856–1920

Bo die inwoners in wit en swart buibuis
en gedreun van ou motors en taxi’s
pronk die ruiterbeeld van die Mad Mullah
op sy pedestal oor Mogadisjoe.
As stigter van die Derwisj en vegter
teen oprukkende Italiaanse,
Britse en Ethiopiese magte
het hy bevele soos sweepslae laat klap.
Agter dié magtige lê die volksmond
vol van die verhale en legendes
van een wat lang reise aangepak het:
Mombasa en Kartoem gesien
en in Mekka en Madinah kon kniel;
gedigte geskryf het oor sy vriende,
om oorwinning te vier, tot God te bid
en die vyand vir ewig te vervloek.
In die mense is beelde ingejaag
van heiligheid, oorwinning en lewe
wat in die are vloei van Siad Barre,
krygshere en die brandarmes
en verdof in die blik van die ruiter
op sy perd hoog bo Mogadisjoe;
en voorlopig sterf in die mond vol grond
van die eerste vegter van al-Shabaab
op die pad van die dor Somalië.

NAJAAR

Ek sien vir laas in
die deursigtige April
die dynserige asem
van die Maluti’s.

In die boloop skilfer
modder ‘n drakevel
en as die oog opdroog,
verdwyn die reier.

Ek sien die son
sak uit die laaste dag
van April. Die lug
word bleek en ysig.

DIE GROOT KLIPTAFEL

Ons daag by die groot kliptafel op,
die kinders van Cecilia, Venus,
Leliefontein en Sans Souci.
Van Greyling-, Pres Steyn-,
Bester-, Biddulph- en Kingstraat.

Ons sit by die tafel,
die koue tafel van die wêreld,
en niemand bring vir ons iets nie.
Alles is verorber,
hulle het alles opgeëet.

Net een bord bly oor, wagtend
op die yslike, klipharde tafel
van die wêreld en die niet.
Nog steeds wag ‘n kind
wat die waarheid van elke droom is,
wat die hoop van ons aarde is.

(Na Pablo Neruda)

HONDSDOLHEID

Rhabdoviridae lyssavirus
By die Institut Pasteur de Bangui
weet ek skielik nie her- of derwaarts nie
en met ‘n AK-47
op my gerig, die gegrom van die wag
en die tjank van honde in my ore
skrik ek my yskoud, word my keel droog
en sluip ek stert tussen die bene weg –
byna rasend in dié hondsdae.

EBOLA

Zaïre ebolavirus
In die tropiese reënwoud
vleg vrugtevlermuise vroegaand
om modder-en-grasdakhutte

en dié met spier-en-gewrigspyn
en koors ken hulle geluide:
die piep deur die breë blare;

en die sagte, pienk binnevleis
wanneer ‘n mes deur die borskas
flits en die binnegoed uitwerk.

Hulle ken ook die karkasse
wat aan stokke uitgespan is
en teen flikkerende vure skroei.

Maar in die nag se koorsdrome,
wanneer die bloedselle oopbreek,
sloom die Ebolarivier voort.

KUNSKLAS

Ek stam uit die berge en ‘n plaasskool
van sandsteen en met ‘n roesrooi sinkdak
waar ons die buitelyne van Meester
se wilgerbome, bloekoms en huisies
met vetkryt moes inkleur vir ‘n kopknik
voor ons weer die boeke moes toemaak,
maar in juffrou Spokie se klaskamer
in die Primêre Skool op Harrismith
staan verfkwaste penorent in houers,
wag bolle klei en hang tekeninge
oral teen die mure óm die vensters
waar die Oos-Vrystaatse lig sag inskyn.
Sy trek ‘n sirkel en ‘n lyn vryhand
en wys ons die grasie van flaminke
op ‘n skildery van Maggie Laubser.
Tuis week ek papier-mâché oornag
vir die beeld wat uit my vingers vorm,
teken ‘n selfportret van Rembrandt na
en skryf ‘n opstel oor ‘n kunstenaar
wat marlyne gesien en olifante
stylvol in die maanlig laat verskyn het.
Ek het haar op die lang stoepe sien stap
met die raarste juwele om haar nek
en rokkies wat die Broeders moes uitdaag,
maar nou, jare later, eer ek haar nog
vir haar vrye gees, entoesiasme
en dat sy dalk, dalk geweet het
hoe sy die houtvensters wyd oopgemaak
en my die reuk van pastel laat kén het.
Vandag wonder ek oor hierdie jong vrou
wat gekom en gegaan het, maar nog steeds
in ons herinneringe bly teken.

WANGARI MAATHAI
1940–2011

Met rok en bypassende bont
kopdoek, gestyf en regs geknoop,
keer sy weer terug na Nyeri
op die sentrale Hooglande.

“Sy plant ʼn boom in die wêreld
op haar knieë soos een wat bid.”

Met haar liggaam in ʼn mandjie
van hiasint en papirus
aan ʼn raam van bamboes gevleg,
reis sy van Uhuru Park af.

“O aarde, wees stil. Wees stil,
sodat my boom kan groei.”

STUDIE VIR ’N PORTRET VAN VAN GOGH
Na ’n tema van Francis Bacon

Hy het sy kamer gewapen verlaat
en stap nou met die esel op sy rug
in die laan agter sy skaduwee aan
om die verskroeide land met verf en kwas
vlammend op sy doek te laat uitsprei.

Maar die skilder is hier self onderwerp:
moet dus nie meer mooi woordjies verwag nie.
Man eggo ’n boomstam, sy hoed net strooi.
Man onontkombaar in ’n raam gevang.
Man is hier op die afdraande geplaas.

Trek ’n streep deur alle verwagtinge
vir die figuur op die pad na Tarascon
in die son wat die aarde rooi en geel
verkleur en rondom hom laat smelt en vloei.
Gebruik soos die digter baie swart.

MUSEUM

In ‘n verhewe staat kan die jongeling
sy arms vertroulik om die reuse
ranke nek van die iguanodon sit
en in sy ore wind en reën fluister.
Hy praat verleidelik oor varings,
moerasse, koue son, verdwene damp.
Die kind blaas die klein harsings helder,
die kind blaas eone in die dier.

(Uit: Geert van Istendael, “De iguanodons van Bernissart”, 1993. Vertaal deur Johann Lodewyk Marais.)

DIE KAMER

Na ‘n skildery van R.B. Kitaj
Vanaand is my kamer in Amsterdam
sentraal en aan die bopunt van ‘n trap
wat ek saam met Japannese uitklim,
en verder klim, tot by die laaste deur
waar die enkelbed in die deur se raam
onder die lamp reg langs die bedkassie
met deken helder rooi aan die lig kom
en my ‘n oomblik lank stampvol inwag.

SEEKOSBORD

“Skryf ‘n vers oor ons seekosbord,” sê sy
in ‘n stampvol restaurant in die stad
waar die verkeer deur die oop vensters dreun.
“Oor hierdie stokvis, calamari, krap,
tiergarnale en swartmossels?” vra ek.
Sy knik. Ek huiwer en wys met my pen
na die borrelende akwarium
waar ‘n kreef teen die glaswande krabbel.

PYLSTERTMOT
Agrius convolvulvi

Die jong vrou in shorts en met ‘n T-hemp
sit kruisbeen met haar een hand beskermend
oor ‘n glas wyn en in die skemering
hoor sy vrugtevlermuise se gepiep.
Dan hou sy weer uit die hoek van haar oog
die pylstertmot dop wat om haar bly draai
en met sy roltong deur haar vingers glip.

SOUTBOSSIE
Chenolea diffusa

Die laaggroeiende soutbossie
met sy rooi stam en uitlopers
staan silwergrys in die suidoos
en die klein, goudgeel blommetjies
deurgrond hierdie soutmoerasse.

MIERLEEU
Myrmeleotidae

Hy het die kameeldoringboom gekies:
hier in die droë, sanderige grond
in die rondte geloop, sand weggeskiet
en in die skuins wal naby die bodem
van die tregter op ‘n insek gewag
om af te gly, en toe: die sandstorting!

REUSESTOKINSEK
Palopnus reyi

Heelnag lank beweeg sy van tak tot tak
en vreet bietjies-bietjies van die lower
voordat sy met dagbreek doodstil bly sit.
Wanneer sy opskrik, flits haar vlerke oop
en word ‘n dubbele mopanieblaar.

GOUDOGIE
Pelopnus reyi

‘n Pragtige, delikate insek
kom na die buitelig toe aangevlieg.
Kyk dié insektivoor se voelhorings,
sy gevoude, netagtige vlerke
en die oë wat goud en grimmig glans.

F.W. DE KLERK
Oslo, 10 Desember 1993

U Majesteite, u Eksellensies,
Dames en Here …
… in die uur van luister
en verydeling noem ons
in die wye en droewe land
onder die groot suidersterre
die naam Van Wyk Louw.

‘ N JEUGVOLLE VLASH

In slyp ryp die stallion
weer vry gebreek en bloed getrap
te midde van die versigtig kring;
wild deur die kaal boord gehardloop –
en oor nuut gegrawe aarde
spore in die oggend – om te stoom
warily by die hoekpos.
Toe ons nader kom, is die lieflike
sorrel het begin en vlug geneem,
kraak, knie-diep, die dun ys
op die aarde dam, so gelyk,
en gekap, vinnig soos die wind,
in die bome in. Maar die halter
het sy nek gevang voordat hy gedraai het
en is afgebring, uitgeput,
vir die mesblade se finale sny.

Johann Lodewyk Marais
Tr by Charl JF Cilliers
(In Marlise Joubert (ed), ′′ in ‘ n brandende see: Hedendaagse Afrikaanse digkuns in vertaling “, 2014)

AHMED VAN MARSABIT
Nairobi National Museum

Voor sy skelet het ek te staan gekom,
bleek bene van die kop, die groot liggaam
wat Chris Hillman oor weke skoon moes kook.
Hy kom uit woudruigtes van Marsabit,
land van vulkane en kratermere
waar ivoordraers hulle eenkant hou.
Sy dae kon hy slyt met twee askari’s
en presidensiële beskerming.
Dood op sy sesde stel tande, kon hy
die koeël, steeds in sy regtertandwortel,
al kouend aan die ander kant verduur.

BIRD HALL
Nairobi National Museum

In die voёlsaal stap ek van kas na kas
en kyk na elke spesie uitgestal.

’n Kind langs my vra: “Will they fly again
if we just take away the glass in front?”

Ek stap verder aan, gaan staan op ’n trap;
onder my hak breek ’n stuk marmer los.

KLEIN BASILIEK
Nairobi

Uit die stadsgewoel
opeens die basiliek,
beton en glas
in ontsag gestol.

In die dromende
swoel stad stap ek
verby selonsroos en wildevy
na die ingang toe.

Binne bly eeue
oue geloof en gebed,
en dieselfde stilte eeue,
eeue lank.

*Na J. Slauerhoff

NATUURIDEOLOGIE
Vir Philip John

Die buffel ken geen metafisika
en die natuur geen ideologie,
sê ek by die kongres in die Boland.
Nee, sê die Transkeier, ek is ‘n keer
deur honde besteel en verlede week
het ‘n swartkraai my sinkers, babertang
en plastieksak met sardiens uitgepak,
homself gehelp en toe landin laat vat.

DIGTER

Aan die kus het ek gehurk
en ‘n bottel opgetel
met ‘n skippie daarin toegekurk,

van ‘n Ceylon of Robbeneiland
met breekwater aangespoel
tot teen die vasteland.

Dit wil ek uitstal op my rak
by portrette, skulpe, peule
een vir een daar uitgepak,

versamel oor die jare heen, voortgedryf
om die hart en elke uithoek
van my land te moet beskryf.

Toe glip die bottel uit my hand
aan skerwe teen ‘n rots, die skip
‘n hand vol houtjies op die sand.

KARTOEM
Na Henk Rall

Die lig van hierdie somernag
beweeg deur die oop vensterraam
en ek blaai weer na die een sin
waar die man stap langs die rivier:
“Voor die skielike donkerte
van die droë somermaande
en die eerste, blink woestynster,
vang die mangobome nog lig
en gloei die stadige vrugte
brons en rooi in die paleistuin.”

VISVALK
Pandion haliaetus

Die Skot met die ry polisiehelms
aan die kapstok en met taferele
van vosjagte teen die opstal se muur
maak die teleskoop op ‘n driepoot
naby die voordeur staan, fokus en tuur.

Beduie daar, oorkant, regs van die boom,
tot die nes dof en ver op die kragpaal
in die lig van die laatmiddag bewe
en ek die wyfie bo die kleintjies sien
flap, afvlieg en oor die bokwiet verdwyn.

My ver land is dié aand ‘n verwysing
uit die romans wat hy weer en weer lees,
‘n landskap wat uit ‘n sagteband groei.
Ons gesels oor die valk en klou tot laat
avontuurlik aan die naam Wilbur Smith.

SPIEËL

Sy sien hoe ek my dae slyt
in eenderse klere – swart broek,
’n veelkleurige hemp elke dag,
swart skoene – gebuig oor ’n boek.

Sy sit vandag in geel of pienk.
Sy sit in die kantoor oorkant.
Sy sit môre in vaal of grys.
Sy staar na haar kaal linkerhand.

“Ek wonder by my klerekas
wat mense van my dink,” sê sy.
Ons word in die oomblik gevang
en wonder net oor ek en my.

DIE GROOT KLIPTAFEL
Na Pablo Neruda

Ons daag by die groot kliptafel op:
die kinders van Cecilia, Venus,
Leliefontein en Sans Souci.
Van Greyling-, Pres. Steyn-,
Bester-, Biddulph- en Kingstraat.

Ons sit by die tafel,
die koue tafel van die wêreld,
en niemand bring vir ons iets nie.
Alles is verorber,
hulle het alles opgeëet.

Net een bord bly oor, wagtend
op die yslike, klipharde tafel
van die wêreld en die niet.
Nog steeds wag ’n kind
wat die waarheid van elke droom is,
wat die hoop van ons aarde is.

’N LIEDJIE OOR ’N KLEIN DOGTERTJIE
Zein El-Abedin Fouad Abd Elwabab

Basma kan nie lees nie
maar ek gaan ’n gedig skryf
oor ’n maan wat eers ’n boom was
en in ’n verre land geplant is

Basma ken net vir pappa
selfs sy naam ken sy nie
en die papier is vol geskryf
en die maan is ’n glimlag op sy portret

Basma ken net vir mamma
wanneer sy uitgaan en terugkom
en die maan was op ’n dag ’n duif
en nes Basma word hy groter

Basma kan net lag
die hele tronk word son
as haar vingers iets
gryp, begin dit lewe, voel.

Basma het vir my kom kuier
‘n betowerde, nuwe wêreld
die tronk van klip het getril,
o, van haar pasgebore lag

Basma kan nie lees nie
maar môre is Basma ’n geslag
’n geslag wat in Egipte ’n opstand sal plant
wat haar lang reis tot ’n einde bring.

Vertaal deur Johann Lodewyk Marais)

EID-AL-FITR
Lamu, Kenia

Die goue sekel teen die naghemel
lyk vanaand soos God se vingernael.
Die selonsroos in die binnehof roer,
hoër op pluk die wind aan die palm.
Onder die sterreboog raak dit skielik
stil, met net die een paartjie wat kaalvoet
deur die steeg aangestap kom en dié uur
se minaret in hul harte bewaar.

LAMU SE KATTE

Tydens koningin Hatsjepsoet
van Egipte se kort bewind
het skepe van die Rooi See af
tot by dié argipel gevaar.

Ewebeelde van Bastet: kompleet
met lang bene, spits gesigte,
slanke lywe, van stert tot snoet,
reis op die vroeë vaarte saam.

Die Profeet was lief vir hulle,
katte voor oop deure, in steë,
of die koelte van ‘n moskee,
die nakroos van die eerste kat.

Steenbok
Capra ibex

Die wind oor die berge gaan lê
en rondom oor Ribbokkop,
oor Hlomisa en by Skeurklip
lê die sneeu spierwit-verblindend
en ’n ooitjie kom uit die veld
deur alles wat oop en bloot strek
in die snerpende oostewind
tussen seder- en dennebome deur
na ’n agterdeur styf toegetrek
waar iets, iets van hitte dalk nog is
en bly deur die nag op die drumpel,
gaan daar dood. ’n Dun straal vog
laat ’n patroon uit haar neus loop.
(Langrietvlei, Harrismith)

© Johann Lodewyk Marais, 2022

 

BRON: https://versindaba.co.za/gedigte/johann-lodewyk-marais/

https://www.litnet.co.za/author/johann-lodewyk-marais/

https://web.facebook.com/johannlodewyk.marais 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed