JRL van Bruggen
Heimweë
My hart verlang na die stilte,
Van die wye wuiwend veld.
Vêr van die stadsgeluide,
En die klinkende klank van geld.
Ek is moeg vir die rustelose lewe,
Van mense wat kom en gaan,
‘k wil terug na die vrye ruimtes,
Waar ‘n siel in woon, wat verstaan.
O, ek sien weer die son op die velde,
en die ewige blou daarbo,
en my hart skiet vol van heimweë,
En my drome swem in my oë.
ek sien weer die ylbou berge,
Daar vêr oor die wester kim,
en wonder nie meer waarom weemoed,
So sag uit my liedere klim.
Klim na die grys lug bowe,
Waar die son in die miste kwyn.
Want, o, ek verlang na die velde,
Na die ewige sonneskyn.
Aan die graf van ‘n onbekende Boerseun in Vlaandere
Erens in Vlaanderland het jy die stof
van ou Europa met jou bloed verjong;
maar by jou wrede heengaan kon g’n tong
jou vroom toeprewel: “Stof is jy, tot stof. . .”
Met ragtime-deuntjies in jou kop het jy
uiteindelik jou Golgota gevind. –
0, opdraand was jou skofte, trekkerskind, –
jy kón nie in jou tuiste vatplek kry!
En êrens in ou VIaanderland staan daar
In eensame klein kruisie. – Seun van God!
Moet ons ou volkie aanhou offer tot
ons, soos U Kruis, oor heel die wêreld staar?
Stil, stil, my hart, al kan jy niks meer dra; –
in Vlaand’re rus ‘n seun van Afrika!
DIE BEELD VAN OOM PAUL
En droewig rys die gryse beeld as in
‘n Half-vergete droom weer by my op –
Daar lê ‘n waas van weemoed om die kop,
Want as ‘n vader het hy ons bemin.
Ver na die noorde staar sy trekkersblik,
Net of hy nou nog vryheidstemme hoor,
Net of sy oë deur donker skadu’s boor.
En tog berustend sê: “Laat God beskik!”
En lugtig dans die bome in die wind,
Waar ook sy grafsuil wit spook in die maan.
Hoe kan ek hierdie winde dan verstaan?
Hoe kan my siel daar nou toos in vind?
En’k kyk weer na Oom Paul – ‘n heerlik’ lig
Straal van die hemel oor sy grys gesig!
DIE KOKET.
Die reënt het my tuintjie skoon gewas,
En ’n windjie dwaal daarin;
Hy sleep sy soetste geure saam
Om ’n roseknop te win.
“Kom saam my liefie,” fluister hy;
“’k Gee alles wat ek het —
My vrye siel, die hemelblou,
Dit alles, alles skenk ek jou,
En ’k vra jou hartjie net!”
Om roserooie lippies plooi
’n Glimlaggie, o ai so mooi;
Sy skud haar koppie heen en weer,
“Kom môre weer, kom more weer!” —
Die rosie was koket!
’n Sonnestraaltjie het plesier
En lag die windjie uit.
Hy hang ’n pêrel om haar hals,
En soen die rose-lippies mals —
Die rosie word sy bruid!
LENTELIEDJIE.
’n Manestraaltjie het kom kuier,
Kuier vir plesier,
By die blanke hemel-bloesems,
in my tuintjie hier.
Heel die lente-awend luister
Hoe die bloesems saggies fluister:
“Vlei jou reinheid manestraaltjie
Aan my boesem hier.”
Toe het skalks die stoei-graag windjie,
Loerend om ’n kier,
Van die bloesem-wierook dronke,
Bruilof in my tuin gevier.
’N SIMPEL LIEDJIE.
Ek ken ’n melodietjie
Só menslik en só rein,
Dat heel my siele saamween,
Saam met die liedjie klein.
Die liedjie is so simpel
Dat elkeen dit verstaan:
’n Kindjie het vanawend
Sag na die Heer gegaan.
Ek ken ’n melodietjie
Van onse sterflikheid;
Maar o, die moederharte
Moet glo aan d’ ewigheid!
AAN GENERAAL DE LA REY.
Eerwaarde vryheidsheld, dit was God’s hand! —
Ons sal maar weer die lendene omgord,
En trane-balsem oor ons wonde stort,
Want swaarkry is die stempel van ons land.
Vry soos die winde was jou fiere gees,
En sober soos ons velde jou gemoed.
Seun van ons Vaderland in murg en bloed
jou vryheids-stem was nie verniet gewees!
Ons het geween gen’raal, ons het geween.
O, ’k sien weer voor my gees die dodewa;
Maar ’k weet dat in my siele was alleen
Die stralend’ pyn van Jong Suid-Afrika!
Daar was ’n stem van lewe in die dood.
My hart was somber — maar my hart was groot!
DIE DOOD VAN DIE OSSEWA.
’n Stem ruis deur die eeue, dof en vaag,
Wat droewig as ’n doodsklok donker klink —
Die oue word weer nuut! — So gallem dit
Die eeue deur — die oue word weer nuut!
My jeug is ook verby, hoe sterk ook nog
My krag. — Die doodsklok lui my uit, en ’k voel
’n Kille weemoed om my hart. —
En as in lome kreun my liggaam kraak
Die opdraans op, die afdraans af, dan snor
Daar knipoogsnel gevaartes my verby,
En in die tuite stof sien vaag my oog
’n Visioen van geeste, wat hels spot
Met my onmagtigheid. Dan luider klink
Die doodsklok droef — ek lui, ek lui jou uit!
Maar snags as winter-stilte het gedaal
En swak die kampvuur skitter, stergelyk,
Dan leef my oue liggaam weer, en sag
Al op die awendkoelte kom gesweef
Die trotse stemme van my jeug.
Ha! ek is weer op Quatlamba! —
Daar golf Natal, ’n panorama, wat
Wegdein in vroeë somerson tot blou.
Skreeu nou jul helse geeste van vernuf!
Ek lag my vryheids-lag! — Ek lei ’n volk
Die donker in! My wabak is hul wieg!
Dis net die trekker met sy Boek, sy wa,
Ons is alleen in die oneindigheid!
Spot maar in wirrel-glans verby en lag
Om my onmagtigheid. — Quatlarnba’s muur
Weerkaats jul spotlag duisendwerf terug!
Hier in die velde, ewe vry as is
Die vryheidsgees wat my besiel, voel ek
My tuis, en waar die winde stoei langs berge
Daar wortel my bestaan. Hier het die bloed
Van pioniers my watent rooi geverf,
In kleine nasies wrede wordingsuur! —
Dis net die trekker met sy Boek, sy wa,
Alléén is ons in die oneindigheid.
Die smeulvuur by my wiel word flou, en in
Die twyfelgloedjie staar my stille baas.
Sag gooi die amber-skynsel van die vlam
’n Droewe glimlag op sy trekkers-baard, —
En saam peins ons oor langverlore vryheid.
HEIMWEE.
My hart verlang na die stilte
Van die wye wuiwende veld,
Vér van die stadsgeluide
En die klinkende klank van geld.
Ek is moeg vir die ruslose lewe
Van mense wat kom en gaan,
’k Wil terug na die vrye ruimte
Waar ’n siel in woon — wat verstaan.
O, ek sien weer die son op die velde
En die ewige blou lug bo,
En my hart skiet vol van heimwee,
En my drome swem in my oë.
O, ek sien weer die ylbloue berge
Dáár vér aan die westerkim,
En ek wonder nie meer waarom weemoed
So sag uit my liedere klim;
Klim na die grys lug bowe,
Waar die son in die miste kwyn;
Want o, ek verlang na die velde,
Na die ewige sonneskyn.
Die lentereën – J.R.L. van Bruggen (1895 – 1948) –
Die reën, die reën is oweral,
sing so breed, so sag;
Die druppels huppel waar hul val
En o die wêreld lag!
En o die wêreld lag vandag,
Sag met die fluittoon saam,
soet die reënmelodie
Sleep deur my vensterraam.
O heerlik is die melodie
Van druppels, druppend sag!
Daar’s lewe in die lentegroen.
En iedere knoppie lag.
O iedere knoppie lag vandag,
En iedere boompie bot,–
En immer ruis die reën sag,
Die grote naam van God.
Hoe slepend is die melodie
Van reën ruisend vaag;
Hoe droomrig tap die druppeltjies,
My vensterraam vandag!-
’k sien weer die vale winterwei
as uit ’n droom,
As lentelug met towerstaf,
Die wêreld groen omsoom.
En ’k sien ’n land van groen en goud
’k Hoor nuwe liedjies sing,
Dis alles nuut, dis alles mooi
Wat lenteluggies bring!
O, was my siel ’n roseknop
’k Soul outer liefde geur,
En as die eerste reën my kus
Van lente-liefde kleur!–
Die reën, die reën val oweral,
Die wolke bly maar gee.
Daar’s roering in die lentegroen–
En in my siele vree.–
‘k Het vrede in my siel vandag
Die lente sing so sag.
Een wat alom en nêrens is
Spreek in die lente-mag!
UIT: Lente-stemme. Pretoria: J.L. van Schaik, 1919.