Lina Spies
Anne Frank van Het Achterhuis
(Want in sy diepste grond is die jeug
eensamer as die ouderdom.)
“Die ergste skrik is oor.
Ek het nooit kon droom
dat ek so sterk is nie.
Ek het geword wat ek woú wees
hier in BergenBelsen
waar geen ander mense is nie.
Vir jare het ek gewonder:
Wie behalwe ekself sal my skrywes lees?
Wie anders as ekself sal my troos?
Ek het my eie ideale, idees en planne gehad,
probeer om myself opnuut elke dag te verbeter,
sodat ek nie sou beland in my eie Agterhuis.
Ek moes baie keer lag om staande te bly
net om weer verskrik op te hou
omdat vrolikheid ‘n skande was.
Ek het my buitekant sorgvuldig
met vernisse bestryk, niemand het kon raai
mý binnekant ‘n kruidjieroermynie.
In Auschwitz het al my somberheid
en angs oorgegaan, want ek kon myself toe troos:
Jood of nieJood, ons almal gaan tog eindelik dood.
Bevryding het uiteindelik gekom.
Ek is lankal nie meer afhanklik van stemminge nie.
My goeie helfte voer in my alleenwees die botoon.
Ek buig nie saam met my liggaaam onder die slae
wat elke mens moet verduur nie. Ek voel sterk
asof ek baie kan dra. So vry en so jonk!
Ek kruip na die venster, ontduister,
snuif vir oulaas deur die kier
‘n laaste bietjie vars lug…
In hierdie ongedateerde oomblik
word ek wat ek altyd wou wees:
Lewend in my dagboeke.”
Lied van die kinders
“Laat die kindertjies na My toe kom”
Die Joodse seuntjie
wat sy armpies in die lug steek
voor die SS,
sy oë wyd gerek,
op sy mou die groot, geel Dawidster.
“Laat die kindertjies na My toe kom”
Die Viëtnamese dogtertjie
oumens-krom aan haar stok geklem
op die slagveld heen en weer
terwyl oor haar bors
‘n kruisie hang.
“Laat die kindertjies na My toe kom”
Die klein vergete Ier
op ‘n sypaadjie in Belfast
tussen die bloed en bomme
wat opnuut sy land vrymaak.
Laat die kindertjies van Israel na My kom,
gevang in die kruisvuur by Ma’alot
bang hasies in ‘n bos wat brand.
Laat hulle kom, die gevreesde koningskinders van my volk
wat die Romeine doodgesteek het
toe in ‘n stal se stank van mis en bloed,
ek self die Kind van Bethlehem was.
Verhinder hulle nie
Herodes
dissipels
soldate
grootmense
Hulle hoort in my koninkryk:
hulle weet van wonde
sonder om te twyfel of the vra.
Laat hulle kom
kinders van Dachau
kinders van Korea
kinders van Saigon
Ek sal hul teen my vasdruk
en my hande op hulle lê.
Finis
Nou maak ek self nie meer so baie saak nie
want jy’t bobbejaan na my gestuur met ’n briefie in sy bek
dit was geskryf op varkensblaar
dit was ’n bietjie dof
dit was om my en jou te nooi
na die Apies se bruilof
Jy het al die liedjies van my kindertyd weer in my laat sing
en in my hart die Jakkalse elke dag laat trou
Maar wat sal jy van my kan saamneem?
Miskien wanneer die lewe met jou kotiljons
en lekker wals op die Apies se bruilof
sal jy onthou dat jy vir my Aprilmaand was
– die wolke altyd bietjie voor die son –
en ek ten spyte van die reën kon lag
En jy sal lag
Meermin
Ontydige loseerder, wat soek jy hier by my?
Weg, jy met jou strandhuisslordigheid!
Jy dra sand oor my drumpel in
en kyk vir my uit ’n gebarste spieël.
Jy wil my dwing om die liefde rond te dra
soos die onnosel meermin van Hans Andersen –
ewige pyn in haar mensebene
waar ’n visstert en reënboogvinne was.
Verspot dié parodie
soos die golwe se dreuning in ’n skulp.
Wat knars jy soos ’n meeu by my
om ’n verlore liefde?
Gaan eet vrot visse op die strand.
Kyk, ek gee jou vir die see present.
‘n Paternoster vir Suid-Afrika
Here, laat die name geheilig word
van al die kinders van die land –
van hulle
wat modderkoekies gebak het uit sy aarde,
dassies skrikgemaak het in sy klowe,
wol getrap het in sy krale.
Ek het asemloos toegekyk:
swart bolywe geboë oor magtelose diere
en skerp skêre wat my laat wag het,
bang vir die glip slag, die bloed, die pyn.
Maar die swart versigtige hande
het selde dieper as die wit geknip
en ek kon die lootjies uitdeel
want die arbeider was sy loon waardig
volgens die aantal wat hy vrygemaak het
om ligvoets teen die somerheuwels uit te wei.
Maar die bale is lankal toegewerk en weggestuur,
die wololie van my voete afgewas,
my bene nie meer lam getrap nie.
Vergewe ons, die vergeetagtiges, die uitgerustes,
soos ons hulle vergewe, die luidrugtiges
wat nooit binne die kraal was nie,
wat nooit rietperd gery
en kaalvoet geloop het nie,
en Here, sien ons hande aan:
Kyk, om my wit pols is armband van gras;
my donker speelmaat het dit kunstig gevleg
soos ek nooit kon nie …
Aan U behoort die land
en die son
en die skape van sy weiding
Gee ons liefdevolle hande, Heer,
en sny U self versigtig aan die belemmerende kleed
dat daar nie onnodig bloed verspil nie
en deel U self die lootjies uit
Op die dood van Riëtte
Die klein wit kaartjie in my hand
is swygsaam met jou silwer naam,
geen Bybelteks vir troos, geen in memoriam,
geen lanfer-strepie langs die kant.
So is dit reg: vir jou was donker net
die leeu wat swart en vriendelik saans
kom snuif het aan die agterdeur
terwyl die kinders van die buurt se oë rek.
Jy was hart-vol, sag en klipdas-warm,
maar weerloos teen die pad, die teer, die grond
dat tussen al die draad en harde staal
net jou handjies met gewone groefies oor kon bly.
Of was die dood genadiglik die skans
wat jou vroegtydig reeds moes veilig hou teen
elke voet wat na ‘n hond sou skop,
elke koeël deur die borsie van ‘n duif,
elke hand wat diertjies op sou stop
om in museums na mens te kyk
met koue oë agter koue glas –
Wat staar die silwer letters ook bedrog?
Jou kat skuur spin-spin teen my been
en helder in my sing ons liedjie weer:
Almal dra ‘n jas, ‘n jas wat netjies pas!
Ek lê my hand eerbiedig teen die warm vag:
Jou groot bruin oë knipoog om die hoek
en ek hoor jou saggies lag
Die klein wit kaartjie in my hand
is swygsaam met jou silwer naam,
geen Bybelteks vir troos, geen in memoriam,
geen lanfer-strepie langs die kant.
So is dit reg: vir jou was donker net
die leeu wat swart en vriendelik saans
kom snuif het aan die agterdeur
terwyl die kinders van die buurt se oë rek.
Jy was hart-vol, sag en klipdas-warm,
maar weerloos teen die pad, die teer, die grond
dat tussen al die draad en harde staal
net jou handjies met gewone groefies oor kon bly.
Of was die dood genadiglik die skans
wat jou vroegtydig reeds moes veilig hou teen
elke voet wat na ‘n hond sou skop,
elke koeël deur die borsie van ‘n duif,
Jong dogtertjie
Jy staan voor my net met jou heuninglyfie,
die see se soutsmaak teen jou gladde vel,
sy kleur voorlopig in jou oë bewaar,
die sonlig in jou haartjies vasgestrik.
Van die laaste klere-lastigheid
het jy sonder seremonie ontslae geraak
en skaamte-onbewus vertoon die vlesige klein skulp
met sy dubbelvou na binne tot die smal gleufie
wat voorlopig toegang ontsê,
nou nog haarloos en oesterpienk totdat op dertien jaar
die see sal grys word in jou helder oë.
Dan sal jy gretig en angsvallig
na die verbode pêrel soek
maar die see en naakte son
sal jy nooit weer volledig ken nie
voordat ‘n ander vlam jou tot die laaste
wit pit teen die blaker brand
Hooglied vir die Oorlewende
Hul het die blou parkiet laat swyg,
‘n grysdoek oor die kou gehang.
‘n Kelkiewyn is in Fiskaal se spens gebreek
En op ‘n vuurpyl voor die ruit
was Jangroentjiesy hele wysie kwyt.
In die neutetuin blom die granaat,
die suurlemoene in die groen word lig,
Dan skielik langs Kanariestraat
piet-tjou-tjou opnuut die pyn
Hooglied
Ek is ‘n afgesnyde koringland
met net ‘n paar gerwe langs die kant,
‘n geplukte wingerd met net ‘n paar trosse
vir die vreemdeling
die arm verbyganger
die nie-grondbesitter
Ek het my aan jou gegee
vir die trapvloer en die wynpers
en nou gee ek jou die brood terug
om daaraan te stik
en die volle beker wyn
dat dit mag smaak net soos asyn.
Ek is bruin soos Salomo se Sulamutiese
omdat ek woon in die tente van Kedar,
‘n Boedeïen
‘n woestyn-mens
‘n nie-gevestigde.
Net: jy is geen Salomo nie,
jy besit nòg die wysheid nòg die koningskap,
omdat jy my nie meer bring in die wynhuis nie.
Sou jy dit doen,
sal ek weer vol in die aar staan
en die plukkers versamel onder my donker, uiteswelde trosse
soos die jaloerse dogters van Jerusalem.
Vincent van Gogh
Jy het as ‘n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn
in agterbuurtes en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigde,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot ‘n vlam verwring.
(Heilige beeste, bl. 83)
Nagedagtenis aan my vader
Buite
waai ‘n vaal misreën, en teen die ruite
buig rooi huise en die silwereike skeef
in druppels wat vergly; spits blare bewe
aan geboë palmtakke soos ‘n stralekrans
om die gebroke beelde in die waterglans.
Ek weet die wêreld was ‘n oop kol lig om
my, waar geeste uit die donker streke kom
soos in ‘n akwarium se groot kring glas
en water, skuwe visse nader tas
tot teen die skelle lig, dan vlug van hier
na verre skemeringe groen koraal en wier.
So kon ek dink dat na die siekte
jy moeg van die liggaam, in die diepte
van die aarde eers ‘n rukkie rus; vermoed
toe ek die bonte kransie links neerlê, sy gloed
sal in jou bly; jou hart is ‘n palet
en jy sou verf wat jy verower het:
blou-brokkelrig uit donker krans en kolk,
die Drakensberge bo wit banke wolk;
so sou die stapelwerk van klippe, vasgebind
deur worteltoue, toegang tot die hemel vind.
Ek het verwag jy sou ook nie vergeet
van ons gesprekke, hoe ek graag wou weet
en jy deur nagte heen vir my kon lei
langs luiperd, leeu en wyfiewolf verby
deur bosse, af teen steiltes van die Skulp
– was dit my eie siel? – altyd my hulp
en gids; ek het van ver gesien toe eens
rysmiere uit ‘n donker gat vlieg na die reëns
met ligte vlerkgeritsel, hoe die engele
so lank gevange, opstyg na die hemele. . .
Nou wag ek deur herinneringe afgesonder,
op jou verskyning of ‘n kleine wonder;
maar alles bly nog soos dit was, strak
afgesluit deur hoek en lyn en vlak.
Ek weet nie waar jy is, of hoe verkeerd
ons menslike denke tas, ek weet
maar net die petrea se trossies blou
rank daagliks digter tussen my en jou.
(Heilige beeste, bls. 74-75)
Legende van die Drenkelinge
Het water rijst aan ‘t hart.
vondel (Noach)
Toe die eerste los bui oor die aarde val
het geeneen Hom herken – die kinders het mal
in die reën gespeel en diep in hul longe
die klam lug gesnuif of koel op hul tonge
die druppels laat breek; die oues teen bome
het stiller gekyk hoe dampe afstoom
van kors-droë klippe en talmend opstyg
langs die stamme, die blaarlose twyg:
die reën het gekom, die reën
ná die roep van korhaan en deur nagte aaneen
die paddas en kriekies.
Maar later toe die druppels deur
die rooi hibiskuskelke en piesangblare skeur,
en uit die watervlies rysmiere twee-twee tou
teen stele gras en aan die hoogste stengels klou,
toe sterk fonteine orals uit die splete borrel,
erdwurms slymrig boontoe kruip, die eerste korrels
hael die wildevy en -dadel saai, die vlerkie breek
sodat die bruinpatrys dit spring-spring langs hom sleep,
bosbokke na mekaar toe draf en bulk en stom
gaan staan in halwe kringe en met rûe krom
teen wind; die wolke krys en met geel kloue
bome uit die aarde ruk, was elke kind en vrou
en agter al die kalmte elke man bevrees
vir die ongekende toorn van die Watergees.
En een, ‘n reus uit die verdorwe ras
wat onverskrokke in sy sondes was,
het onrustig gedink: “Is dit ons te wagte
ná al die gevegte, besittings en nagte
van fees van vrou? Is dit ná die spot
tog die uitverkore groepie se God
wat in slypende wind en verblindende mis
ons begeertes met weerlig en hael uitwis
en die kruipende waters wat alles bedreig,
bó die mes se kerf teen die stam laat styg?
Is dit nou die wraak van die aardse dinge
wat ons jaag met ‘n haat na die hemeltinne?”
“Agter ons in takke van die bome vasgekeer
spring die wildekat en apies klaend heen en weer,
maar uit bosse voor die waters wat ons volg,
maanhaarleeu en kalf, duikerlam en wolf,
vinnig voor ‘n Herder, één kudde teen die bult,
draf ons langs mekaar, wedersyds geduld;
wedersyds geduld, leeu en lam, deur die nood één
draf ons oor die klippe, draf ons deur die reën,
draf ons langs mekaar, Sy kudde aangehits
met wit swepe na die hoogste spits.”
Maar dan groei die haat: wie die vinnigste
klim teen die rots kan miskien die enigste
wees wat dié nag in genade sal bly.
Toe gryp hy sy mes teen die steilte en sny
en steek sy pad langs die hygende flanke oop
dat hy vryer kan trek aan die wortels en loop
oor die lys na die rots; en sy kierie die klink
teen kneukels en koppe wat een vir een sink
terug deur die reën en rol en ingly
slap in die waters wat kwaaier uitsprei
waar die voëls moeg en honger in klompe
neerstort in die donker of tjulp op drywende stompe.
“U stroom groot en grys om die klip
en die wêreld bly enkel ‘n stip
in U roering en kolk.” Laat die nag het hy
sy hand oor die laaste kriekie gesprei –
en toe die more rooi oor die waters skyn
en ‘n walvis wat spuit soos ‘n kleinvis verdwyn,
klou hy vingers en naels aan die klip
wat skielik soos ‘n dier onder hom ruk.
“Al was ek op aarde U sterkste mens
tot die end. . .”
Maar die blink sens
van die golwe maai oor die rots.
“Ag, alles bly stroming en donker geklots
van diep branders . . . buite U Ark van Genade.
En wat is die mens, en wat is sy dade
sonder U? Ek spartel in seë, snik
in U branding, sink tot slik. . .”
Toe breek uit nastuiwende wolke hoog
en diep in die waters ‘n groot reënboog.
(Negester oor Ninevé, bls. 15-18)
Gedagtes by ‘n sarkofaag
Vandese week
is uit die vyfde eeu voor Christus
in die kerkhof van Athene
‘n sarkofaag
tusssen die stukkende grafstene
oopgegraaf;
en onder die klipdeksel
lê ‘n hopie skewe bene
van ‘n seun van twaalf.
Volgens die ontwerpe
en vier klein olieskrapers –
drie van brons
en een van yster –
weet ons
hy was atleet,
‘n spies- of diskuswerper.
Is hy deur god of mens vermink
of albei saam?
Was hy van geboorte so
of dra sy liggaam
die eerste wring van thalidomide
of polio?
Het hy vrywillig of onder dwang
hinke-pink
die spies ver in die grond laat sink?
Of is hy voorteken van die geweld
wat oor sy land sou kom
deur eie mense, Pers, Romein en Turk,
maar ook van die Avondlandelike drang
na die ewige atleet op ‘n ewige sportveld
en so na sy ondergang?
Tog, ek raak by die klein
Griekse geraamtetjie ontroer
en voel die gode maak
met dié opgrawing
deur dié klompie dolosse bekend:
Ná ‘n swangerskap van vyf-en-twintig eeue
kom jul beskawing
aan sy begin en end
uit die klipmoer
‘n kind geskend.
(Dolosse, bls. 7-8)