Marlene van Niekerk
nagpsalm
dis ’n ou klavier wat die nag verklaar
dis ’n klawerbord
by die voete van dinge
by die voete van lamppale
by die vrank voete van olyfbome
dis metronome
by die soeter voete van die suurlemoenboord
in die vlei se voet van water
onder om die riete
om die voete van die lelies
dis ’n ou klavier
miskien is dit ‘n weefstoel
dis die weefstoel se klikkende pedale
of smidsgetinkel
onder-in die molm van die nag
of ’n naaimasjien met ‘n klopvoet
wat zik-zik binne-in die kuil
dis skelm jazz op klepels
dis om die voet van elke halm
minus melodie
sonder kadans
dis ’n ou klavier
dis ’n ou klavier
dis ’n spikkeling onder die voetsool
dit galm
om die voet van die laventel
dis voetlepels
dis voetmusiek
van kikkers en van krieke
dis hulle wat so dingel en dienk
aanhoudend in die elm van die gras
hierby hum ek
hierby strum ek
hierby swingel ek
my nagpsalm.
Swart swyg die IJ waar ek buig
na onderbrugse skulpgeruis, ’n inkswart
komma in die konglomeraat van glas,
’n vabond ontgogeld, neigend na treine,
’n aankoms op verkawelde peronne,
die landingsbane van ’n ander kant.
Deur wie se asem word jy plots gegee,
’n skalmei in my oorskulp gedruk teen die kade,
die kiel van ’n krokus onder my neusbrug,
van iris tot iris ’n harp onder seil?
Ek sluit my lede sodat niemand jou sien, ’n lied
wat ek nie eet nie tussen my tande, ’n koevert
aangevat in ylingse hande, ’n servet
losgeskud in die skoot van soprane.
Ek skryf met my vinger op die raam bo die IJ:
tussen die gewels is myne die een in balts.
Uit die siklus “Armenia”, April 1931
Nee ek het nie krag om te koes vir die bloed van taxi’s
soos wat ek Kaapstad deesdae noem nie.
Ek is die laaitie in die middelste sitplek
in ’n era van grypsug en wraak. Wat maak ek hier nog lewendig?
Ons sal eers die blou taxi vat en dan die rooie,
jy en ek, en kyk wie is eerste in sy moer. Wat die Kaap betref,
een oomblik is sy ’n verskroeide meeu,
en die volgende opgepof soos fyngebak –
Waar kry sy die cheek om mens te dreig uit haar gate?
Jy maak soos jy lus het, ek vat nie kanse nie.
My onderbaadjie is nie koeëlvas genoeg vir ’n rit
rondom die skerpskutters op Tafelberg nie.
Uit die siklus “Armenia”, 1933
Mens lewe sonder grond onder jou voete
Jy fluister sodat niemand kan jou woorde op tien treë hoor nie
En waar daar ‘n halwe gesprek onstaan
Praat almal van die Velledanser in die Uniegeboue
Sy vlesige vingers is vet soos wurms
En sy woorde is hol soos gatponde
Sy kakkerlaklippe gryns
En sy skoenpunte blink
En rondom hom – ’n swerm van vetnekministers
Hy vermaak hom met die dienste van half-mense
Een gorrel, een miaauw, een kerm
Terwyl hy vinger in die lug skree vir sy masjiengeweer
Hy smee alliansies soos perdeskoene
En kap hulle vas, een in die kruis, een op die slaap, of voorkop, of oog
Vir hom is elke township-sterfte ’n paaseier
En hy speld steekpennings aan sy bors soos oorlogmedaljes
troetelwoorde vir ogilvie douglas
(‘n bosbouer van ‘n nedersetting by Grabouw het op ‘n reëndag met sy mongoolkind op sy skoot gesit)
kyk oggeliefie druppeldou
jakkals trou met wolf se vrou
ag die stomme wêreld wou
dat jy my kind sou wees
my kind hier in ons eie dorp
agter die bosrug van grabouw
my droomoogkind
met jou oophangmond
wat kwyl
soos heuningdruppelsdou
kyk daar’s druppels op jou mou
kyk daar’s druppels teen die ruit
o oggeliefie douglas
elke druppel is ‘n sonnetrou
dit rëen
jou pa kan nie vandag
sy boom gaan kap
o nooit volprese God
wat ook oor wurms
wag moet hou
seën die oggeliefiekind van my
en my sy pa
en daar sy maltrap ma
o oggeliefie druppeldou
o jakkals trou met wolf se vrou
~Marlene van Niekerk
Grimoire
hoe anders as jy ver weg slaap
kan ek jou naderraak
as met middernagsillabes
hoe anders as hul ligature
hermeties na jou oor te bind?
ek knip ’n kerkuil
uit jou laken
ent ’n tork
van krieke om jou hals
sout vinnig op jou stuitjie
my violiere ampersand
in die skoene langs jou bed
’n konsonant van heksedrek
sodat soggens in jou voete
alles brand wat ek na jou verhang
uit inkunabels van gemis
sose benreki
sose bluotreki
sose lidirenki
ben zi bena
bluot zi bluoda
lid zi geliden
sose gelimida sin
die hele kogelbergse fynbos
van katvoetjies tot sporrie dus
hoe anders as jy ver weg slaap
kan ek jou aanraak as met toorvokabels?
afwesigheid is beenkwetsuur
is bloedkwetsuur
na jou sal ek ’n weg vind of een maak
van karolingiese minuskels
joeliewoorde vir my pa
hoe onmoontlik die hoek van verplasing, pa;
tussen kwiek en grys, hoe koper die pendoelie
wat alles verpurper in een uitswaai
van die riem oor valsbaai en dit met die terugslag
weer omfloers in rokerige toelie, die skadu
op die skouer van bangbroek ’n magnoelie
van gedagtes waar ek fietsry bokant middelvlei,
hier wiek twee wildemakoue met wieltjies
in die strot, dis rudolf en rosalie op trou
na rooiels, sou jy toe ek klein was sê,
nou moet ek vokale vir jou uitspel en onthou.
My pa se hemel
My pa se hemel was ’n perskeboord
met ’n krulhals oor ’n watersloot
’n eendedam met wilg omtralie
’n lamp met elke hoekpaal silwer
waarin gespeende lammers loop.
Vir wortels rape en radys
’n vierkant bedding haaks omgrens
dit was sy meetkuns van die paradys
waarin hy kwesbaarhede veilig wens.
…
(toe hy al kinds verby was)
… met ’n vingerhoed vol muskadel
óp na die barre kop bo Kleinmond
áf na die kille see, ’n helder heildronk
ingestel dat niks behalwe ogiesdraad
hom straks in die hiernamaals skei
van een, sy werf en twee, sy weduwee.
Dit is ’n heining eindeloos
vol seshoekoë soos ’n heuningsel
waardeur ek hom nou elke dag
met gedeë voet- en vingersomme
die juwele van gods troon sien tel:
die wynrooi lelie van ’n haan se lel,
sy skimmelnek ’n reënboog kromme
in diepblou bloekomskaduwee.
Woordverklaring
Kaar. ‘n Mooi ou Dietse woord
vir iets waarin mense kan vergaar
heuning, vis, yswater; in ‘n skuit
‘n bak vir lewendige paling
of ‘n byekorf gevleg van spaanse riet,
stingels brem en langstrooirog;
‘n nis deur sneeu uit ‘n spits geslyt
aan die bopunt van ‘n gletsergeut
met onderaan ‘n keteldal
waar, op ‘n vloer van swerfsteen,
‘n dorp kan aanslib teen ‘n meer.
‘n Tregter sonder voet
waardeur die koring
op die meulsteen stroom;
ook die mond van Sint Ambrosius
as kind waar die bye in- en uitravot
soos stille aforismes –
de bono mortis, de fuga saeculi.
‘n Vers, dink ek, waarvan mens deur
die vlegwerk loer, deur deksel,
wolke, dooie neerslag –
om voor die wyn, die brood,
die droë vis, die kiem,
die gis, die suur te kry; die gevaar
van vinne, ander spore, vars verskrik
soos van Gervasius en Protasius
of van ‘n klank soos minne, orewoet,
doupunt en furore. In ‘n kaar
wil ek begrawe word,
geen vuur, geen kis.
deur Marlene van Niekerk uit Kaar
ek berei ’n slaai voor die oë van my vader
ek berei ’n slaai voor die oë van my vader watse blare
vra hy watse gras watse klein groen kiewiete
krakeel daar onder in die vlei van lig en van genade
hy blaai deur die jare ’n wit servet om sy nek en tree met adel kuite
deur die toppe van wildemosterd waarin die blou kieriekoppe
van tarentale roer en die someravond bruin op die stellasie sit
en die horlosiegrasse afdraai in die stof
in hierdie kuil van skadu sê my pa en hef die skaal op in sy hande
sit die klein goue blaarvouer in die krip van die palmiet
te pierewiet vou my ook so o heer in u alsontsiende kroes
maak my soet hoor my dank laat hierdie groen kos geseënd wees
aan ons gees my pa eet blare my pa eet gras en praat in tale
(Uit Kaar deur Marlene van Niekerk.)
Dubbelportret: mens/duif
Om so op riwwe van sink af te wiek uit die takke
van wilde-amandel, om kloek en versigtig,
soos betaamlik vir een met bloedweinig kans
in die groter verband, eers net te kýk wat aangaan,
lugtig na links en regs – want weerskant sit
nou eenmaal die oë – besorg hoofbrekens.
Want deursigtig geraam in ’n oorkantste nis blyk
’n ander opeens die blik te ontmoet. Eenmalig
in beider heugenis droog verjaging of skrik
die oognat nie uit nie. Pupille ondergaan momenteel
’n stil, gespieëlde gradasie van aftas, takseer
en herkenning, daarna, onverbloembaar
’n verwyding tot reslose adorasie. Veral betref
dit die swart, vorentoe lekkende traan, die git
op die nek – houtskool geduim op gebleikte
maroen – wat die voël vir sigself uit die kaatsing
verhaal. Knipvliese open en sluit simultaan
oor die rondings weerskant die vlak indentasie
in die front. Kontoer word dubbel bewonder,
lyn, dressuur, balans van stertpunt, pote.
Vliegwerk, russtand dring aan op begrip
deur ’n vogtige transsubstansie – één lyding,
één lyf, kwalik verskil hierdie mensdier
van duif. Skigtig volg dan ’n eerste notasie, ferm
geskrap, voorts ’n getortel wat die indamp
van lig op mat pluimasie uit die vingers wil speel,
en terselfdertyd bind. Maagkiesel, grit, slegs
’n vlugtige por vir die uitgee van kropmelk,
is dit nie die kuns van ’n skets nie? Bly sit lank genoeg,
word gevra, bly sit, want die kleur is onsegbaar,
die subtielste vilet van die skemer, rooidag
gegrys tot kripsis onder skaduweeblare.
En dan die verplompte knikkoppende tred,
uit onder takke van wilde-amandel,
reg in die val van die hoognoenson op die dak,
die trant van ontwapening, wedersyds,
en, voorlopig, die onderling uitgestelde afskeid.
(Gedig en foto: Marlene van Niekerk/LitNet Poolshoogte)
‘n Boodskap uit die dode van Peter Blum
deur Marlene van Niekerk
U vra na die taak van die digter
in tweeduisenddertien? Die wins
van wat hy doen? In Afrikaans?
Moet my wragtig nie tempteer nie.
Dis oorskulpe kerf oor orgideë
vir die adders van Eden, dis tonge inent
teen die swermery van Shofar,
dis ‘n pensklavier rig teen die kreasionis
in sy Kondratieffsiklus van stompsin
en narsisme, dis jil met jong stoppelholle
wat postkoloniale teorie en sulke vervelige
kak in gedigte druk soos aartappelskyfie-
masjiene en dink dis moeders oulik
wat anderkant uitkom, dis die koevoet
insteek onder die vyfluik verhale in die volksargief:
1. Die Lig van die Suide
2. Die trek na die Noorde
3. Rykdom deur Sanlam
4. Grens toe met Christus
5. Mandaryns op Stellenbosch
Dis boggom en voertsek op ‘n bekfluitjie blaas
as die kudde losfok, die boednate agter De la Rey aan,
die dweile agter Siener van Rensburg,
dis by dwaallig vis navermoedbaarhede
en met die bros pik van ‘n vuurhoutjie
afdaal in katakombes om die satyn
van Apollo te skeur, die museum
te poets, die akkerboulyste, die skrynwerkersboek,
die konkoksies te gedenk van die laaste magistrale bereider
Dis die vos opsaal om die saal te vertoon
in die komende Troje, dis onsin laat klink soos riksdaalders
in die drolvanger van die leksikograaf.
Een ding is duidelik, hy’s getroef julle poëet
as die lemma nagpouoog in die Pharos ontbreek,
kyk hoe hy om middernag die ontkende vlinder
hier naby in die poorte soek, ai die geween
die gekners die ontstuimige lantern,
die gatafvee met disselblomme, met die betrokke bladsy
uit die Dikke van Dale – dis dunner as Bybelpapier,
terwyl dié skepsel so inheems is soos mopaniewurms,
Gonimbrasia belina, ‘n spandrel vir chiffres.
God, ek is bly ek is weg van daardie dorp
van musiekdose, jocks, beraders en Shoprite
Die baas van Nasionale Weervoorspelling
is in elk geval ‘n boekminagtende barbaar
wat sy vingerpunte wegslyt op iPads uit Indië.
Oggend van ’n waterfiskaal
(Uit die Cederbergsuite)
Allagot! geglip uit die knukkels
van hierdie kant se koskans- en hansmaker
wip die waterfiskaal die oggendkier in,
kaneeeeeel van verbasing op sy bors,
onder sy kruidnagelkloutjies die rinkink-rulle
spiksplinterspuwende Dwarsriviersand,
tinktuuuuur van manelkwik geveer op sy flanke,
strak in die frak, die keil platgekam,
akkelief hy oor die akkers tot die waterkant, kyk! –
triljarrrrrrrrrrde klein en groot fiskale innie spiekspiegel,
hokaai kohorte kansvatters
wat hy konter met pronkstand akimbo,
knipstert na die kindlig in die oewerkrui,
en wegstaan, kyk so, eeeeene Ollewagen-onderbaadjie,
hy is die een en innigste godontglipper
hier in die prilwilde hoogmakerson,
!tewiek in sy keel sit sy roepnaam !tewiek
soos ’n klok in die bergkut, ketoooools
van die mondsagte more.
(c) Marlene van Niekerk (Uit: Kaar, 2013: Human & Rousseau)
Fantasie vir Fort Europa Junie 2015
Sluit jou oë en herroep in verlangsaamde pas
die immerdraaiende oorlogsmeul, dit is jou
welbekend, die vervloë ratgekras en onfeilbaar
rigtende ysterlope, die klippe opspattend
onder kruipende kettings. Sluit jou oë
voor die fonteingeguts van rook, stof, gas,
jy ken die voortdurende knalle, die dak
wat inval op die emalje bak, drie perskes
vir ‘n middagmaal, swart oorstuif van roet,
‘n voorsaat onder ‘n moerbeiboom
agter ‘n ster gekraakte glas. Aanskou die vlek
gestol op ‘n tydsaam bollende gaasgordyn, sluit
jou oë, jy is vertroud met hierdie gewonde
vrou wat na haar kinders skreeu, die man
met sy bondel matrasse. Sluit jou oë, gedenk
die vlug uit die verwoeste stad na woestyne
met dor ongaanlike einders. Wend af jou blik
oor flodders televisie-nuus, sterfte-statistieke,
die besware van fynbeskaafdes gesprinkel
oor die skerms, die verwyt van wel-deurvoedes
aan die tiranne wat moord gebaar in marmersale.
Niks sal jou verbaas in die gaan of kom
van vlugtelinge, hul tandvleis van ellende,
die sjaal waarvan hul daagliks langer punte
om hul skouers slaan. Selfs die drieluik
van Max Beckmann mag jou dalk te binne
skiet en bevestig wat jy dink: menslik,
alte menslik, die altyd mee-vlugtende
gemaskerde beul, die vergeefse vis
van vrede waarna die koning tydens elke
oortog weerloos oor die bakboord tas,
die aankoms met ‘n koorsige telg in ‘n volgende
bestek van foltering. Jy ken dit, verval
nie in herhaling van jou onmag. Slaan op
jou oë, kyk ‘n keer utopies, sein jou hoop
nie na Assad, of Al-Baghdadi maar na ons
wat op die steiers staan aan albei kante
van die oseaan. Verbeel jou, al is dit vir ‘n klein
gedig, kollaborasie as natuur, geen nydige
ontfutseling van fooie uit opgespaarde voue
of dwangarbeid op ‘n vreemde kus, maar iets
gans anders, ook anders as “genade”:
gewoon die wil van pioeniersgewasse
plus ‘n bodem van ontvanklikheid, kyk,
dit is trompette wat uit distelkoppe duisend sade
blaas met die élan van ‘n seisoensverskieting.
Sien vaarwelgewenste wesens, bevoorraad
met water, heuning en wit brood, bedien
van ekstra wieke, getuig die verswewing in reie
deurstraalde dons, vooruitligtend snags
oor die gewerskaf van ons voorbereidings
op ‘n verre kaai. Stel jou duisend voete
voor wat daal en trappel na die nuwe grond
en ‘n opvang vol uit die oksels teen ‘n borskas
van welwillendheid, merk in elke dorp
‘n strykorkes met gasvry dansers buitelend
in verwelkoming, herken die warm skuim
en afspons van gewrigte, die troostende
verbande om die knokke, borde warm
goulash in hutte met bont matte, uitsig
op ‘n wei, ‘n spinwiel, timmerkamer,
planke vir die maak van eerste eie stoele,
ses hoenders en ‘n bok, ‘n moestuin ryp
tamaties, klein skole in ‘n grag geplaas
om Brussel, aan elke voordeur ‘n neergelate
brug vir die osmose van sillabes, elke aand
‘n uur besoek van vreemdelinge, wedersyds,
uit ootmoed vir die lug wat alle wesens asem
en waarmee hul prille frases vir mekaar
vertaal: ek is gebore daar en daar, my moeder
had amandeloë, my vader was ‘n meulenaar.
By die otoloog
Hardhorendheid word oorgedra,
vertel die dokter my en kap
die toonvurk op sy knie
alvorens hy dit teen my voorkop druk,
en deur my vibrasies hoogte
kry van my tekort –
ek deur syne hoeveel vog
agter sy knieskyf klots.
Ek kyk die hidrofone dokter aan,
hoor u dit ook? vra ek,
die aandgesnater van die haelwit
swart omlynde ibisse
in die wilgers van Loch Lomond?
Hy lag, sy snawel kripties
bo sy bef, twee laaste plukkies dons
soos ekstra oortjies op sy vleisblink pan,
en vul my vorm met ‘n driehaak in:
sklerose van die middeloor
voorlopig konduktief,
maar tot die dood toe
nooit meer te verhelp
en snel degeneratief.
Geen plek op sy grafiek
om op te skryf wat my van geboorte af
in die oor se winding slib,
die engele, die rose my smeulend toegesing,
die indaling van melk, fluisterend, nadruklik
soos waterblomme in ‘n dam.
Want dis hoe dit begin, tinnitus,
akoestiese herinnering aan die musiek
van vroegste suisinge,
met, as kompensasie, voor jy volledig doof is,
die kuns om ekstra fyn te kýk,te mérk
hoe leedvermakerig bejaarde artse is,
hoe kráál hul oog, hoe strák die pupil,
hoe váág hulle tas na lig en spuit,
hoe dóf die wetenskap hul insig maak,
hoe uilágtig hul diagnostiek.
Hoekom moetie worldcup wê’k
Hoekom moetie worldcup wê’k?
Die government wê’k ‘an nie?
Hoekom moetie worldcup wê’k?
Die hospitale wê’k ‘ie?
Okkierie skole nie?
Nevermind ’ie courts ennie polieste
Hoekom moetie worldcup soe ‘n big deal wies
Assie entire country in sy glory is?
Check ‘ie honourable members like jive hulle
Met knopstêre innie paa’lement in
of hulle iets het om te celebrate
except ‘ie armsdeal watse dykbote daily innie
innie droogdok duck ennie fighterplanes
oppie grond staan sône’ pilots
vat djou vuzuvela bru en stiek hom someplace else!
Hoekom moettie worldcup wê’k
met al daai lights en fanfares
En ingevoerde fly by nights
As ekkie my poems, my rap, my chilliesamoesas
kan smous vorie hekke nie?
– nie eers ‘ie Son maggit
vi’ promotion’oppie billboards post ‘ie –
hoekom moetie worldcup wê’k
as ekkie my vetkoek, my songs, my T-shirts
met fok sokker kan ve’koep annie lanies
van anner lande níe?
Wê’k Eskom dan net virrie bieker
While ‘ie people sô’ne jobs
mettie kê’se oppie flatse sit?
En daais wat jobs het soes bêtterie chickens
Yt hulle oë sittekyk
fokwiet wat met ons gat hêppen hie
ons issie vôlgene braaipack vi’ Malema
Hoekom moetie worldcup wê’k?
Metrorail wê’k ‘an ‘ie?.
En Telkom wê’k soes kriefkak!
Not to mention ‘ie SABC
wattie public broadcaster
van soft serve is if you ask me
Orie services wattie deliver ‘ie
Hoekom moetie worldcup wê’k?
Why fo’gods sake moet hy wé’k
Offit hie’ a paradise is van bôlskop
Onnerie rainbow?
Is tyd lattie vinge’s ytie holle ytkom
Ek sê vi’djou
lattie public works annie wê’k kan kom in onse land
for example
die vinger vannie minister vannie national skills development
die vinger vannie minister van welfare
wattie sy budget kan spend ie
die vinger vannie minister van traffic cops
‘cause al wat wê’k oppie paaie issie
morgues vol lyke elke easter
even ‘ie blow jobs
vi’ drunken drivers wê’k ‘an g’n!
Die minister van women’s rights se vinge’ ôk:
yt ha’ hol yt merrit, die djirre hoo’vi’ my
soelat my sisters hulle chastity belts
teen ‘ie rapists kan opdispatch narie
scrapmetal yard, ek sê!
Hoekom moetie worldcup wê’k
As al daai ministersvinge’s op sabattical is
innie son wat yt hulle mighty gatte yt skyn?
Of scheme djy soes ek lat as daai vinge’s iendag ytkom
dit net sal wies om hulle innie till in te stiek
En vinge’ vi’ vinge’ soes dipstieks ytie treasury
appear dikgeplak van ô’se rande tax?
Hoekom moetie worldcup wê’k?
Vi ‘wat my bra?
Assie hele fokkieng works oppie Ricoffy is?
En Kiegat hiesa not even ‘n standing ticket kan afford ‘ie?.
Poets van ons vaderland unite
hierie, landgenote, isse klein scarlattigrappie vir princess benjamin
en sweetness pikini altwie offisiere in macassar se poeliesietasie.
kom sweetness pikini wattie inpas inne bikini soe ten o’clock
by princess benjamin wyl sy canderel roer in haar rooibos
dis nou agterie klagtetoonbank assie muise ophou piep
ennie walrus ingeslaap het
wattie grass ennie crystals ennie ecstacy
die coke ennie pitte ennie acid
die lollies ennie tubes ennie enema direct
moet guard wat afgevat is vannie witpype
ennie rook-ore ennie tikgatte ennie lanies
mettie raybans innie omtes
en soes hultwie ok maar peanuts merrit verdien
hierie isse klein scarlattiwietelattie virrie princess mettie stokkie
ennie swietiepaai twiere in bevel mettie hectic schemes: check haar,
uitie stasie se kantien uit kom sy swaaigat met haar koffie
tik pikini die roaring royalty op haar linker epaullettie mettie peitsie
left right left soes hulle tieliepels klieketietieng
innie macasserse terrible twieling koppies
ennie security mettie klokkie byrie ingang gan slaap het in sy hokkie
heita blue blood vannie station, wienk nikita pikitini
my coolste kortrokqueenie wattie baas is
ek wiet iets van hierie piepmuis macassarse poeliesiestasie
wat twie mighty meisies soes ons nie kan wiet
sonner ommie pieperellekoors te slaatie :
‘n hooimied dagga in goingsakke wat lê en kwagga
vir fokol in ons store room, wat sê jy kom ons varrit
hierie kamtige evidence van ‘n swart gat innie universe
ons is mossie magtagge ladies van hierie vloere
en fokkie wieke lank wag oppe kieriekopsalaris
ek wietie van jou nie kommissaris ma’ my tjieng is oppiedoppie
en ek soeke sony enne aaiPot enne perm
ek soeke lexus soesie ene van-aai merrim
van korrektiewe dienste wattie langer wou ry nie inne krokkie
en hierie tonne woollies quality dagga lê nagge
en dagge onner onse nieste vir miljoene
mettie hele township wattie sal droom om te splittie
as onsie bale wiet op hulle voorstoepe gan droppie
hierie isse klein scarlattijumpstart virrie poelieste
wattie wiet hoelat hul met hulle highnesses
en swishy swieties innie macassars in moet makie:
nou varrit van my, al wat mens kan maak isse musiekie
net ‘n biekie met domenico scarlatti wattie winkel uit my tong yt tickle
en my answitch soes dominoes op trickle
got, ennie princess issie starrag oppie uptake-ie en sy sê:
fok pikini nou maak jy my tieties tight en pieng
sit sy haar tieliepel innie piering en rukkie klokkie yt sy bracket
en twiekie walrus se slietelbossie
yt sy belt en da ‘ gat hulle soes thelma en louise
soes bonnie en clyde, ma met daai sjiek sashay
vannie swinging macassar chickies en hulle begin laai
daai dagga ytie evidence hold binne innie gat vannie meraai
hierie gattie vyf trips wiesie, more likely fortie, sê miss benjamin
virrie swiet poppie mettie brainwaves van macassar se poeliesiestasie,
ons korte fokken lorrie enne paar cool copse vannie flatse
vir operation transport
dissie klein scarlattikotiljonsie dié virrie inhouse scandal van macassar
ennie understandable motives vannie verdagtes,
want guilty kan hulle byna nie wiesie mettie example
vannie selebi’s ennie miesies van cwele wat mettie mules
smsies piep ennie hele effing country wat in sy moer in is nie
hierie isse klein scarlattisongkie bietjie sad ok hier om middernag
mettie screech owl wat skrou ennie ruik van brand uitie hiewels
dis tyd virre modulation innie minor key ma’ my ghrêmmer is exhausted
en pogorelich spelie bure wakker hoe lykit as ek jitsvinger invite
om hierie item te promote onnerie slogan:
poets van ons vaderland unite
en hourie nasie ytie crooked ways
vannie law enforcers yt
(Ps: En dan wil hulle nog ‘n threeday million dollar paartie gooi, so lank as warrit
gevat het vi’onse djirre djesus om te resurrect! Daais mos totally insane!
Maggie potholes om hulle insak innie godforsaken Bloemfontein!)
© Marlene van Niekerk. April 2010
Brief aan my vaderland
(Chiusdino, September 2006)
Suid-Afrika, luister mooi, ja, jy daar aan die onderpunt tussen twee seë,
skerpkant van die klipwerktuigkontinent,
godweethoe uit die oksel van die onderste Amerika geskouer:
langs my klapper ʼn hond sy ore in ʼn hok van sink in die son,
af en toe klink ʼn geweerskoot maar moenie
dat dit jou afsit nie,
want, Suid-Afrika, ek sit hier op ʼn veilige afstand
in ʼn land wat lyk soos die laars
Van Klein Duimpie, gekaart in die Middellandse See.
Ek skryf vir jou want ek weet nie hoe ek dit het nie.
Vandag staan ek byvoorbeeld nie en prewel met my nek opgekrink
na ʼn beskilderde plafon of die gesteierde flanke van ʼn katedraal
of ʼn preekstoel van gestreepte marmer nie, nee,
Suid-Afrika, ek sit hier op ʼn onbekende boer se grond
waar swart hane met rooi kamme pronk tussen sipresse –
nogal fascisties uit ʼn skilderlike oogpunt, nie dat dit jou sal skeel nie.
Hulle jag vlakvarke in die bosse hier,
en die padborde sê geen skietery skerp draaie voor,
so daar is niks ongereelds aan die hand nie.
Suid-Afrika, moenie anderpad kyk nie, ek praat met jou.
Voor my staan die roosmaryn oortrek van vertroude blou blommetjies plus
ongewoon geel en besige bye. Daarby – ek skryf maar alles vir jou op –
twaalfuur op die kop, die gebeier uit die kapel hierbo van Onse Liewe Vrou
van die Fontein van Enorme Genade in die heuweldorp Chiusdino
(Chiusi beteken verslote en ʼn dino is ʼn klein harde ding soos ʼn dop.)
Suid-Afrika, wat kan ek jou nog vertel van die omgewing:
daar bloei ʼn miniature bossiklaam, ʼn minuskule pers gevlekte vingerhoed,
ʼn piepklein op ʼn stingel gestolde vlindertjie in die skaam skaduwees van die quercus,
niks vergeleke by die gousblomprag wat jou tref in Augustus
aan die weskus nie, maar dis nie die punt nie.
Suid-Afrika, die ou mans hier se bene is bak van die aanhoudende varkvangery,
die vroumense mor besnor in die stegies van die oggend tot die aand.
Slegs een keer per week op die markdag sien jy die spulletjie lag
en die vrugteboer kom staan in ʼn rooi hemp voor mens met ʼn tros druiwe
soos met ʼn skild,
sy ander hand akimbo soos ʼn voorgenome akrobaat.
(Die korrels is goed maar ek verseker jou
dit kom nie naby jou onnoemlike hanepoot nie.)
Die pampoene skil moeilik in Toskane.
Suid-Afrika, my eintlike issue is, ek sit alleen hier met my hoed vol polkadots
tussen die olyfbome voor my lyntjiesbriefpapier –
EN EK IS NIE BANG NIE!!!
Suid-Afrika, ek ken myself nie as onbevreesde nie,
Ja, selfs nie by die soveelste ondersoeking nie,
ek glo in die integriteit van hierdie buitelandse bye hierso,
dis nie afgunstiges wat hierdie insekte by die korf bedien nie.
Nou goed – ek sal antwoord wat jy vra Suid-Afrika, maar
moenie sê ek het jou nie gewaarsku nie:
NEE HONDERDMAAL NEE!!!
ʼn Man
sal nie hier uit die bosse kom
en met ʼn mes
teen my keel
my klere
van my lyf skeur soos wat met een uit elke twee gebeur
in jou gefokte woonbuurte daar benede ryk sowel as arm nie.
Hier is niemand hier wat dink hy of sy behoort my hoed
of my hand,
my koets,
my kut,
of my ketel,
wat op my stoof staan te besit nie.
En dit laat my regtig ontuis voel, ʼn vreemdeling
in die poorte wat tevergeefs die skending verwag.
Waar was ek.
Swart onderbroeke hang omraam deur malvas
aan wasgoeddrade by die vensters uit.
Die carbinieri dra wit helms en skouertassies vol Panini.
Carbonara is spek prosciutto is ham en soos reeds vermeld is kalbasvrugte
hier hardgebak. Daar was skynbaar rooi angeliere op die wapen van Nero.
Marinetti was ʼn digter wat teen die eet van vermicelli was
omdat dit die soldate se pense te swaar sou maak voor die oorlog.
En Il Duce het hom met sy standpunt gelukgewens.
Amaretto is likeur, lambrusco het sprankel en amici andiamo alle giardino
Beteken: geselle myn kom ons wandel na die tuin.
Suid-Afrika, ek moet afsluit, hierdie brief word nou te lank.
Kyk, moenie my misverstaan nie, ek wil terugkom, anders as Burroughs wat in Egipte
gebly het toe hy die moer in was vir Amerika.
En, Suid-Afrika, wees verder bly ek is nie Allan Ginsberg
wat die lopende skandes van sy vaderland een vir een geïnventariseer het nie.
Gelukkig vir jou is ek nie vandag ʼn gerookte Jood nie.
En jou geskiedenis van onderdrukking, Suid-Afrika, verbied
in elk geval die verontwaardiging van die bevoorregtes
Ja, Suid-Afrika, ek lees jou gedagtes,
nie eers een en twintig duisend moordenaarsharte per jaar is genoeg vir ʼn diagnose
van landsgesondheid nie, want almal het stemreg.
Suid-Afrika, okay – ek sien jou punt: jy sê jy kan nie help nie
want jy’s ʼn oopgeskeurdepoesland,
vandat die uitskotkommandeur van Batavia die amandelheining
opgerig het en Houdt den Bul en Keert de Koe,
gierige buiteposte met skietgate aan die Kaap gebou het, en slawe
wat pampoene gesteel het op pale deur die hol vir die rawe
gelos het, en slavinne in die Poolse bok laat bind het totdat hulle oor hulle eie knieë
hulle arms gebreek het soos fynhout.
Suid-Afrika, nou word my paragrawe langer en minder vermaaklik.
Geen land wat op dié wyse sogenaamd beskaafd geraak het
deur gesante van God kan die genade verduur van ʼn progressiewe grondwet
wat drie eeue later die hemel met geopende deure aan almal beloof nie.
En Suid-Afrika, jy smaal tereg as die nuwe kommandant se voete gewas word
deur ʼn eks-minister wat hom met giftige onderbroeke
van kant probeer maak het pas twee dekades gelede.
Die liede het oorfoonbomme op varkkoppe uitgetoets, bid jou aan.
Suid-Afrika, ek weet so goed soos jy dat dit die uiteinde was
van die meesterplan van ʼn swartskoen Hollander
en sy spekkige opvolgers wat die land veertig jaar lank
hand aan hand met Anglo
wou uitsorteer soos ʼn sixties kombuis
en die enemmelbord en -beker van die meid apart
saam met die slypsteen en die vleisbyl onder die zink gebêre het.
Here, Suid-Afrika jy gaan nie regkom nie.
Geen digter kan uitdink wat alles met jou gebeur het nie.
As ek die statistieke moet opnoem wat ek in die koerante lees,
gaan dit die moontlik universele
waarde van hierdie brief
en sy nie onbeduidende verestetiserings plus
die fraai dubbelsinnigheid en patos van die inset
erg in die wiele ry.
Maar Suid-Afrika, bogger die digkuns, I’m on a roll hier tussen die los skote
en die funny bye en die katolieke klokke,
en daardie regstandige siklaampie is verniet besig
om hom in my te probeer inkarneer soos ‘n teer gekroonde voelorgaan.
Suid-Afrika, ek gaan nie nou begin huil nie.
My polities korrekte vriende
(ek het die Italiaanse pampoen gisteraand vir hulle verwerk in ʼn lasagne)
stel, met die eetgerei van vlekkelose staal stewig in die greep
dat wandade van mag, en wandade uit onmag, kontinente van mekaar verwyder is.
Suid-Afrika, hierdie vriende van my saai geloof hoop en liefde in my hart
soos dit goeie vriende betaam, maar ek redeneer so: die slawe
op pale is geen rede of verskoning vir ʼn kinderverkragting
deur ʼn minderbevoorregte agtergestelde nie.
SELFS AL PLAK HY
VERHONGERD ONDER SWART PLASTIEK
LANGS DIE AANLOOPBAAN VAN DIE S A L!!!
En nog minder is dit ʼn regverdiging vir die huidige ligting bloedstollend ostentate
vierwielaangedrewe vetnekpolitici met hulle aangetroude families
om die land gebruiklikerwyse in sy maai stuur
deur bedrog en onverskilligheid en die stemvolk met mooipraatjies gestaag deur die ore
te bly naai nie (ek sal nie nou name noem nie.)
Suid-Afrika, die punt is, jy freak my uit, ek het nie raad nie.
Quite frankly, ek voel fokol vir Italië.
Malvas in potte depress my.
Elke derde dorpenaar is op die rand van dwerg- of idiotedom
deur eeue se inteelt, geen spoor
van die enigmatiese Etruskiese glimlag meer hier nie.
Suid-Afrika, ek het nie ʼn ander lied nie,
dis oor jou wat ek wil sing, ek wil die clichés van jou kweeste,
jou stupid mites van renaissance-se en ontwakings
inruil vir ander albasters,
traanhelder ghoens
in jou hart se verwaarloosde skoolgrond:
weerloosheid, dankbaarheid, sorgsaamheid, vrede,
ʼn soewereiniteit gesetel in die vinding en maak van skone dinge, handige dinge.
Nie dat daartoe hierdie brief ʼn aanset is nie,
hierdie epistel is klipgruis in ʼn droë fontein.
(Ek het geweet daar gaan moeilikheid van kom,
om van misbruik van die poësie nie te praat nie,
ʼn ander land se veldblomme is genoeg om ʼn gevoelige vrou seriously op te fok.)
Suid-Afrika, skryf gerus terug. My voornaam is byvoorbeeld Joy en my van
Van Aarde soos daardie ou tante, ekskuus vir die wals,
wat met ʼn vleisbyl
doodgekap is in haar enorme kombuis in Gordonsbaai.
Let op die passief, Suid-Afrika, ek wil niemand verkeerdelik
verantwoordelik hou hier nie, it’s over to you,
kyk wat hou jy in jou hand.
Naskrif : Suid-Afrika, neem my nie kwalik, hoe ek ook my kop stamp
in hierdie klein Latynse land,
ek kan om die dood nie vir jou ʼn lekker brief skryf nie.
Môre sal ek weer probeer.
Gee my nog ʼn kans.
© Marlene van Niekerk. Julie 2009.
Nuwejaarsbrief aan die ringvinger van Nadine Gordimer
(Op 26 Oktober 2006 is Nadine Gordimer in haar huis in Johannesburg deur inbrekers oorval en in die kluis toegesluit saam met haar huishulp. Sy het kontant en juweliersware aan hulle oorhandig maar is lig beseer toe sy geweier het om haar trouring af te staan Sy was getroud met die kunshandelaar Reinhold Cassirer wat in 2001 oorlede is.)
Beste vinger, ek hoop die swelsel het gesak
ná die ruwe afruk van jou gelukbringer.
Seer geëerde vinger, laat ek weer begin, my vingers
voel aangetas hier op die toetse
as ek vir jou begin te skryf – soos die spreekwoord sê:
An injury to one is an injury to all.
Verskoon my as ek nie dadelik die gepaste woorde vind nie.
Liewe fielafooi,
(miskien help dit as ek jou intiem-spreekwoordelik adresseer):
Kyk, hierdie brief is soos dolosse gooi,
mens voel daar is dinge op die spel.
Wat ek my verbeel is dat jy te lig voel sonder sinker,
dat die hele balans van die linkerhand versteur is,
en dat jy telkens uit die band spring,
en gekalmeer moet word deur die regter.
(Die woorde “hand”, “vinger” “wring” en “ring”
verdien deur wat met jou gebeur het ʼn nuwe leksikon:
1. Die skrywer wring haar hande ten einde die belaglike refleks te maskeer van vinger wys
vir haar geweldenaars.
2. Histories geringdes mag in ons land geen handewringende onreg voel as hulle vingers
getrek word nie. Want wat is die verlies van ʼn klein private simbool teen die verlies
aan menswaardigheid van die gemiddelde dief?
3. Buite die lowerryke slaapstede van beringdes knars en piep dit in die stof van die gewring
van desperate hande – ons land sal eers bevry wees as almal ʼn goue ring dra.
Tot sover die nuwe Verklarende Woordeboek van Suid-Afrika.
(Ek is heeltemal bewus daarvan, geagte vinger, dat sulke sinisme
jou reëlreg teen die kneukels stryk,
vat dit maar van wie dit kom, hulle het my fiets afgevat in Julie, my afgestamp, in my neusgat
ʼn plastiekpistool, en my knie is nou… anyhow, laat ek nie hier begin kla nie,
hierdie brief die gaan oor jou.)
Kyk, laat ons nie doekies omdraai nie:
Jy is nou ʼn vinger met trauma.
Jy is nou ʼn vinger wat getroos moet word.
Jy is nou ʼn vinger wat soos die van ʼn kind van voor af geleer moet word
wat jou plek is, jou waarde in die bestand van ʼn hand.
Ek weet jy sal regkom, die bewerigheid is tydelik,
die onhandigheid wat jy veroorsaak in die dubbele greep.
Jy sal eersdaags weer jou plek kan volstaan by die handdruk,
by die vaarwelwuif, by die vasvat van die deksel,
by die streel van ʼn kat.
Jy sal veral mooi saamspeel tydens die wederkerende nagmerries
van vuismaak in verweer, by die oophand keer vir die hou,
by die beskerm van die kop.
In klein wraakdrome sal jy beklee wees met ʼn goue knuckle-duster.
Maar jy moet aanvaar dat nie alle dinge sal wees soos hulle was nie.
Die resonans van jou hand
sal gedemp wees sonder daardie duursame belofte
waarvan die maat ses voet onder die grond begrawe is,
(Ons bid daardie graf word nie geskend deur goudsoekers nie.)
Nou is jy voorlopig met jou land getroud deur ʼn skaduwee wit soos ringwurm.
Niks wat ʼn paar dae in die son,
of die natuurlike verweer van die boonste laag huid
weer kan regmaak nie.
Maar jy moet by alles wat jy help hanteer onthou,
jy is ʼn vinger wat nie meer straal van sy stand nie.
Jy moet dit eenvoudig aanvaar en leer saamleef daarmee.
Dis nou nie of jy ʼn hele vingerpunt of -lit kwyt is nie,
jy is bloot minus ʼn pand
wat nou waarskynlik (dit kon veel erger gewees het),
deur iemand as ʼn besondere trofee
tentoongestel word:
Kyk, my broers, dit het behoort aan
ʼn Nobelpryswenner!
Wie weet,
miskien sal dit deur magiese infusie
ʼn klein opflikkering van die poësie
in iemand se palm ontketen.
Daarvan gepraat:
Dalk moet ek hierdie simpel brief opskeur
en liewer ʼn sprokie vir jou skryf:
Eendag was daar ʼn vrou wat die ring van ʼn skrywer
kado gekry het van haar minnaar
wat dit in ʼn inbraak gesteel het.
Waar het jy dit gekry? het die vrou gevra,
en omdat hy haar wou beïndruk
het hy haar die waarheid vertel.
En sy was jaloers ontroer
en het haar minnaar beveel:
Gaan steel vir my daardie skrywer se boeke ook,
dat ek hulle kan lees. Die omblaai van haar bladsye
lyk my stukke beter as ʼn spieël
om my nuutgetooide vinger te bewonder.
Nou ja, beste vinger, ek hoop ek kon jou ʼn bietjie opcheer.
Onthou daar was deur die eeue vele soos jy.
Alle oorloë het so ver ek weet gewemel van die seer vingers.
In sommige gevalle is die eienaars in troppe vergas
en die ringe (soms nog vas aan die vingers) in hope bymekaar gemaak
vir die vaderlandse smelterye,
saam met, nota bene, die goudgestopte tande.
Sover is dit darem nog nie by ons nie.
Die agthonderd miljoen rand
wat sedert die jaar tweeduisend gesteel is
in gewapende oorvalle
kon sekerlik ʼn paar ringe koop.
Ek vertrou dat die mark binnekort versadig sal wees.
Sien joune as ʼn bydrae tot die oplossing van die probleem.
Tot slot:
Wees bly jy is nog steeds “terhande”.
En beste wense vir die Nuwejaar.
Ek hoop van harte
daar sal nie onnodig aandag
op jou gevestig word
deur ʼn blink vervanging nie.
Ontmoedig dit deur jou styf te hou soos ʼn laaistok
so lank as wat jy kan.
© Marlene van Niekerk. Julie 2009.
Seun wat visvang
Bruglangs oor die drif by Dwarsrivier,
die skaduwee loodreg op sy rug van die visstok op sy skouer,
stap ‘n vaalhaarseun met sy knapsak na die klipplaat
by die maalgat om te hengel.
Anderkant oor die sandbank, langhaal deur die biesies en die haasgras,
op regterhand die watergang, links die ribberige stapelkrans,
elmboë wyd vir ewewig, ‘n knipmes bloedrooi aan sy riemlus,
kniekoppe strak in sy kortbroek roer hy al af in die bergnaat,
eendvoet deur die modder, koponderstebo, mens moet dink dit is rietkwas
wat windvat, jy moet dinge stil hou vir die vis.
In die ruigte bo die klipplaat buk hy deur ‘n tonnel van twaalfuurlig en takkies,
daal hy af op pote van musjaatkat, so saggies dat die rivier dit in sy ruis
nie kan hoor nie, land aan in die oopte op die hoognoen, sy blaaie matwit
waarop niks kan weerkaats nie, in sy strot ongebreek ‘n kreet
van bestemming, want hier hou jy aanmelding binne, nie eers die sand
moet jou daarwees kan raai nie.
Sy gedagte vat koers maar hy hou hom kuis,
en graai met slim hande in sy sak na die blink katrol wat hy vasklik
aan die stok en dit ‘n paar draaie gee om die lyn deur die ogies
te ryg, die sinker in sy hande te weeg en te knoop, en die hoek
in te haak, en die wit brood te breek, dit stadig te kou,
soos sy pa die nagmaal, dat dit stram word soos deeg.
Dit alles verrig hy aangesig stroomop, teen sy kuite
‘n kilte wat uit die maalgat stuif,
maar hy kyk nie,
die oog mag hom nie sien nie,
uit die regmaak moet hy sweepslag omgedraai kom
om die bron te verras, sy borsplate wit bo die water soos ‘n arend.
Uit die swarthaak roep ‘n janfiskaal, en ‘n halfslag krink hy sy bolyf vir die ingooi,
sy kop skuins om te luister na die afloop
van die lyn, die plons die uitkring van rimpels tot aan die palmiet,
die hele gat in beroering, totdat alles weer stil word.
Hy maak sy oë toe, vinger op die bind, soos dié van ‘n verkeerde engel
op die snaar van ‘n harp, om te voel na ‘n pluk, hy brand
tussen klippe sonder skadu wat ringsom hurk, spoeg loop hom lou in die mond,
mensbleek staan hy agter sy bengel bo die brons domein van die dam.
Het hy nie tussen hulle ingespring van die rotslys af en met die opkom duisend vinne
langs sy ribbes voel stryk nie?
musiek van watervalle en skuim in sy keelgat en wilde wier om sy bene?
En kon hy nie met die deurbreek uitroep en plathand na die snuite slaan en uitvier
met lang hale, ‘n prosessie in sy sog van nuuskierige kieue,
‘n swier van soetwaterlywe agter hom aan nie?
Hierdie geelvis is syne en hulle weet dit.
Hoor hulle sy soet krakeel daar oor die rand?
“‘n Armband van skubbe wat fyntjies in mekaar kanteel
is in my regterpols gebrand, op my borsbeen sit ‘n goudbaars wit gebeitel
kyk, ek dra ‘n myter pasmaat om my slape
met die gaap geopen na die trans,
‘n hoed van glas waarin vir my ‘n oerou kurper reël vir reël
gedagtes uit die hemel steel.”
En dan ‘n byt, ‘n steiering, ‘n tong wat uit die mond geruk,
aangeswengel word, druipend na die kant, en gekatrol
‘n godgeskitter glibberig, ‘n kort geswabber
waarvan die weerklank soos die skeur van snees tussen die kranse klink,
‘n ondermaatse wat die hengelaar oophand om die kiewe
pak en langs die sper verby die geul inkyk
tot waar dit rooi om die weerhaak uit die kaakbeen wel.
Buit wat hy uit die tuig losbreek,
want koudbloediges voel nie pyn nie, volgens die wysheid van sy pa geërf,
soos kaffers wat nie harte het en ramona wie de hel
het jou vertel die jood se voël is sonder vel,
ons heil is bo verwagting reeds kant en klaar vir ons verwerf
en hierdie vis sy ma se poes hoort penskant teruggesmak
want vang is alles en besit en kort geniet, die res
is ons van harte deur die here kwytgeskeld.
En so vang die kind die middag lank vis op vis op vis
wat hy terugsmyt in die gat, die konings, die vasalle,
die knievallers, handlangers, rooivlerke, bloubekke en silwer karnalle.
Dronk van lus, moeg van heers, sat van geluk, die hengel onverskillig
langs die knapsak met verveelde brood,
beur hy ‘n klipkolom uit die klipplaat en bom dit in,
vee wat opskiet van sy bors af met ‘n vloek
onder hom die poel ‘n pupil vol verskrikking,
met gras wat soos wimpers aan die oewer toesak
vir ‘n nagwaak by verwondes.
Bruglangs oor die drif by Dwarsrivier, sy visstok swart oor sy skouer stap,
bietjie taai in die lies, die vaalhaarseuntjie met sy knapsak terug van die maalgat
na die kamp vol karavane en fietse
waar die biere oopgeknak word en die lamsnek langsaam wentel aan die spit.
Honger is hy nie, sy mond is dig, met sy tongpunt stryk hy triest
‘n rouplek in sy linkerkies, terwyl sy vader hande vat en hardop vir die braaivleis bid.
Uit: Die Sederbergsuite.© Marlene van Niekerk. Julie 2009
Oggend van ‘n waterfiskaal
Allagot! geglip uit die knukkels,
van hierdie kant se koskans- en hansmaker
wip die waterfiskaal die oggendkier in
kaneeeeeel van verbasing op sy bors,
onder sy kruidnagelkloutjies die rinkink-rulle
spiksplinterspuwende dwarsriviersand
tinktuuuuur van manelkwik geveer op sy flanke
strak in die frak die keil platgekam
akkelief hy oor die akkers tot die waterkant, kyk! –
triljarrrrrrrrrrde klein en groot fiskale innie spiekspiegel
hokaai kohorte kansvatters aankuiers
wat hy konter met pronkstand akimbo,
knipstert na die kindlig in die oewerkrui
en wegstaan, kykso, eeeeene ollewagen onderbaadjie
hy is die een en innigste godontglipper
hier in die prilwilde hoogmakerson
!tewiek in sy keel sit sy roepnaam !tewiek
soos ‘n klok in die bergkut ketoooools
van die mondsagte môre.
Uit: Die Sederbergsuite.© Marlene van Niekerk. Julie 2009
Die bondgenoot.
Klein klaproos opgeskote in my tuin onmoontlik vermiljoen
op ‘n harige stingel, enkelgekartel, filigryn bewimperde pikswart oog,
ek het jou gepluk om jou te bestudeer onder my lamplig aan my tafel,
jou lied, jou standpunt, jou verlange.
Waarom is jy my voorbeeldig? Hoe moet ek oor jou sing?
Wat ek kan sê is hoe jy nie is nie:
Nie plegstatig soos die roos nie, niks van aanstellerige strelitzia nie,
geen ranonkelopulensie, niks behalwe die oorgawe aan rooi nie, niks behalwe die hart
wat hom aan die wind vergooi nie, ‘n uur van glorie onder die lig wat jou bloei,
‘n briljante vassal van die vergetelheid, met verskole in jou kop
jou miljoene vermiljoene kinders ingedamp in fyn swart sand,
jou kroos wat sal verstrooi deur die gaatjies in jou kroon as jy dood is.
Sekerlik is jy die een waarvan Salomo praat as hy sê die mens is ‘n blom
wat verdor in die gras, geen ander troos as om daarby te meld
dat die woord van die heer tot in ewigheid klink soos fyn swart sand.
Jy kwyn soos ek hier skrywe, klein papawer, in die donker van my hand.
© Marlene van Niekerk. Mei 2009.
delicious monster
hy glinster uit die dieptes op,
hierdie briesende monster, op teen die stam van die ou sering,
die ganse somer beskut in haar skadu,
gestut op haar voet,
haar mik nou dooierus
vir sy onbetaamlike blare,
sy gistende broeiende blom.
vandag in die drywende reën
spalk sy ‘n sambreel oor vyf monsterknoppe,
skreefkant na die noorde van waar die hoë winde gier,
bleekgroen totems in hulself gekeer soos skulpture van hans arp.
voel sy dit aankom?
hoor sy die geluid?
sien sy waarvoor sy haar hier ingelaat het?
dié rinkelende fyngenerfde porseleinkas van die herfs?
weet sy van die stram leviatan worstelend in haar bors?
proe sy reeds op haar dwarrelende tonge
die oorstelpenis van die barbaarse vrug?
straks sal die knoppe ontwind,
wit konkawe ghongs onder die wit wintermaan,
met liggroen stampers wat hulle midde-in die hart slaan.
ek sal sing solank vir my sering, ‘n lied van die ander oewer
waarvan die soet bedwelming reeds om haar skorte hang
terwyl ek haar afgevalle trossies bymekaar hark
haar ou hout uitbreek waar ek kan.
Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008
Die bome
Die bome wil in blad uitskiet,
‘n Geheim nog net weerhou;
Die prille bot ontspan, ontvou,
Die groen daarvan ‘n soort verdriet.
Is dit dat ons een leeftyd dien
En hul herbore word? Hul moet ook sterf.
Hul voorjaarstruuk van nuut uitsien
Staan ringsom in die grein gekerf.
Tog, onbedaarlik bries en bruis
Die blaarkastele elke jaar.
Verby’s verby, wil hul verklaar,
Begin van voor, herrys, herrys.
© Vertaling van The Trees [Philip Larkin] deur M van Niekerk