Marlise Joubert
brief
toe jy sterf
my soet, sagte ma
verinneweer en uitgeteer
jou kyk verseël om nooit
weer oopgemaak te word nie
toe het ek gedink: so is dit nou
hier eindig alles dan, die somtotaal
van my eie jarigheid, immer die verdwaalde
poeiermot wat in jou lampies lig
dikwels heling soek, selfs in die bietjies
hitte einde toe, my kop in jou nekholte
laat weeklaag met mompelinge toegerol in meel
hier eindig alles nou, en sal jou asse
ingeweef word met stof en watergrond
’n purper mat waarop ander onwetend
sal trap, aanloop na ’n eie verknotte
bestemming toe
hier eindig dit soos ligte-af
asof sterre doof, ink en taal ’n verlede word
alles toegeskemer in eklips
ek verys
opaliseer in my vel
ek verken my voetval saam met jou
fragmentaries, ons kuiers, die lang
gesprekke, die kort reise (daardie reis
per boot op engelse kanale veral!) die films
en boeke wat ons meegemaak het
kegelroomyse op ’n strand, tee en skons
en mettertyd smelt die afstand waarin
ek wou vlug, waai die weemoed
weg asof lint, word ek
ligter
ligwarm
oor hoe verstrooiend naby jy nog is
hoe binnenslyf jou stem kan troos
hoe ingedeeg iets van alles nog in my woon
.
(Uit: grondwater. Protea Boekhuis, 2019)
herfs
vandag staan die wolke skeef
druppende kerswas oor die land
ek wil dit nie verloor nie
in die tuin ’n geveg tussen vinke
verwers met kwaste en lere poleer
my mure met die kleur van sand
niks hiervan wil ek opgee nie
hoe laat is die groot verlaat
en sal jy later in jou eensaamheid
alle gedagtes oor ons liefde prysgee
vandag vlam bome herfs teen die berg
alle vensterrame staan oop in die lug
vir die vars vernis om droog te word
ek wil dit nie agterlaat nie
oudergewoonte
vanaand het ek lief omdat daar wyn is om te drink
vanaand kan ek liefhê omdat ons steeds alles
vir mekaar kan skink en langsaam wis hoeveel sagter
die reën en son in verouderde glase is
Eikendal-blues
i
die herfsoggend is opgevang
soos koel glas teen die wang
my beminde trek sy grys baadjie aan
my beminde bedek sy bors
met ‘n swart hemp
kristalblou is die lug die berge
roerlose versamelings van klip
en gister se fynbos vernis
ons koers na die wynplaas toe
om ‘n middagmaal te geniet
in die Bayede-restaurant –
Heil die Koning aan die rand
van ‘n neergevelde seisoen
ligte skadu’s beweeg deur die dal
en wingerde trek groen mantels
om die appelgeel skouers weg
op ‘n ander kontinent word die blare
deursigtig lemmetjiegroen
met weerlose naels krap hulle
teen die opmars van nog ‘n lente in
hier sit my lief en ek by ‘n wankeltafel aan
vlak by die gladde skild van ‘n dam
ons eet mossels en kabeljou
terwyl die grond iewers in die land
plek-plek versuip in bloed
Heil die Koning en die vyand
kankom ons wag hom in
ii
die dam maak plotseling ‘n oog
in die middel oop gestippel
met spierwit eende hulle vere
saamgebondelde kussinkies van vrede
op ‘n ander kontinent
word die eerste voëls nou wakker
ek kyk na die eende op die swart dam
ek probeer om wys te word –
hulle dink nie aan die dood
of die dag van môre nie
hulle dink gewoon aan niks
my lief en ek praat oor dominante kulture
en die swig voor die swaard
terwyl hy kyk na ‘n jong paar wat lag
na toeriste of kelners met borde
die spel van kinders onvermoeibaar
tussen knoetserige eike deur
iii
ek sou die gedagtes oor ons droewige
verganklikheid wil uitwis ek sou wil
wys word en vry soos die drywende
eende met asems wat sáámkanswem
oor die donker koue van water
hoe sag my beminde in sy vel
hoe beeldryk die lyn van sy nek
hoe innig en verleë die boog van sy lip
op ‘n ander reis begin die blare uitglip
terwyl die berge blou vaandels rangskik
vlak bokant die vergeelde wingerd en niks
niks treur ooglopend
op hierdie dag nie –
neste roer in die wind
die wit refleksies in die dam
sleur ongesiens onder
‘n wilgerboom in
my beminde het ‘n swart hemp aan
só moet ek dit onthou –
agter hom die bleek rug
van ‘n wynkelder en die kleur
van herfs wat sandsuiker
die ylerwordende hare deur
op ‘n ander kontinent verblind
die blare die horison
Heil die Koning
en die vyandkankom –
ons wag hom in
© Marlise Joubert. April 2011
(Uit: splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011).
blomtong
vir MM
agter die diep leunstoel
staan die irisse sowaar na vier
steriele dae steeds in blom.
agter die glaspot se riffelpatroon
hang afgeknipte slagare los in die water.
agter pers vlinders bloei die trauma
van ’n week, nee, twee of drie tevore
toe purpertange my rug vasgeknyp het –
die kraakbeen voos soos ’n neut laat bars,
weefsel soos saffraan kon kneus
en oranje meeldrade van ’n vlegsel
senuwees laat knak.
agter die stoel,
onverpoos en vurig,
blom die tonge van irisse
voor die eende wakker word
voor die son die maan se sekel
en sterrespansel in perfekte ewewig
ligament op ligament
verkwis.
© Marlise Joubert. April 2011
(Uit: splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011
as jy weer kom
as jy weer kom met jou denim
en Tigger-hempie aan moet jy weet
dat ek jou nie kan optel nie
nie kan ronddra nie
en om by te hou sal ek my spore korter maak
stoom afblaas sodat geen trok uit hierdie
trein los kan raak
kind ek wag al so lank die dae begin
verkleur en die sterre val soos wit uiltjies
op my dak en jou bed is opgemaak
met teddies en sagte lawwe honde
flapoorhase en een langstertpanter
maar al wat kom is jy
en ek wag en kook sop
druk aartappels fyn tussen die tande
en die sproei van soet lemoene
vlek my rooi kombuis se ruit
kyk, seuntjie, ek het vir jou klei gekoop
om kerke en kastele mee te bou
’n bloubaardemmer en ’n graaf
en daardie borrelblaasgoete waarvan jy hou
’n splinternuwe drinkbeker met ’n puntneustuit
die wolke steek op die berge sink
verslae weg onder pawiljoene van klip
maar my skelet het veel meer beentjies
as wat jy dink en elkeen rinkink
soos bye saam
tussen die bome is jou bonsende
maan vannag nie te bespeur nie
tussen die stiltes is ’n stem
in die donker laan wat nie
kan sing nie
slaap sag kind
slaap sag
onder jou pa se oë
terwyl ek wag
as jy weer kom
as jy weer kom
kom haal jy my pêrels
vir seuntjie se kroon
© Marlise Joubert. April 2011
(Uit: splintervlerk, Protea Boekhuis, 2011
Gedigte uit: passies en passasies
Eva
daar is die vrou –
ek sien haar stap
gruispad langs versigtig met haar tagtigste jaar
sy val en breek haar been
sit daagliks tussen hulle wat vergeet
hulle wat die siekeboeg verfraai met lappiesdraai
met herhalende prewelings
wat vergeefs tromslaan teen ’n gipsgeheue
sy lees haar biografieë
die een oor Picasso en Lawrence en Callas
sy wag geduldig op eenkant etes
welwillende hande wat haar saans
van bad na bed toe rol
daar is die vrou wat die pad byster raak
haar identiteit en haar beursie verloor
haar man in haar verbeelding ontman
daar is die vrou wat met dronkverdriet haar grense
verskuif haar man verkul ’n opmars deur wyn en seks begin
die vrou wat haar hand op die stoof verbrand
en die een wat haar vinger sny met ’n groentemes
die een wat boetes kry vir woedende spoed
die een wat tronksit oor diefstal
haar trouring in ’n brander verloor
haar kind in die maling van ’n somerstad
vir altyd verloor
daar is die vrou wie se vorige lover haar enigste kind vermoor
en sy drie jaar later met borste wat steeds drup
die kind desperaat terug na die lewe wil voed
hoeveel vroue is daar wat was en wag
en weer was en wag asof dit al is wat droogtes pas
of geweld kan nekomdraai
hoeveel vroue spoel uit
in lakens van vergetelheid sterf vermink
in stralende bloed sterf in goiings van verdowing
in ’n graf uiteindelik glasiggeel
in ’n uitgesuigde korf van beendere
hoeveel vroue sterf onder versmorende mantels van die nag
en hoeveel van hulle is ek en nie ek nie
hoeveel van hulle versamel onstigtelik
smekend of skreeuend buite my huis
my omsingelde huis
tussen skulpture van wankelende bome
tussen mure van glas –
my enigste verweer teen die al hoe
dunner hekke van die tyd
—————————————-
in memoriam: Lisbé
That’s when she stopped, she turned her face to the wind, shut her eyes –
– Jorie Graham, “Self-portrait as Apollo and Daphne”
dit was nie nodig dat staal haar skraal lyf moes verskeur
dit was nie nodig dat soveel geweld herhaaldelik
moes inhamer nie –
sy het reeds gegroet voordat sy die inferno van bloed betree
voordat die geskroefde hand van ’n indringer
haar in water gooi en vlug
sy het reeds afskeid geneem vóór die aankoms by haar huis
sy het reeds haar kinders voor skool gegroet
die kleur van die seun se hemp en die kleur
van sy wakende oog
reeds die skooljurk van haar dogter in dun
skouertjies teen verweer gestreel
reeds ’n tree agteruit in haarself beweeg
terug in die breekskelet van ’n droom
’n stem wat sou roep
duskant die aardse kleed van die oggendson
sy het reeds gesterf
toe sy haar man op ’n stasie groet
wat hom verder neem met niks behalwe
die gewig van herinneringaan hulle
en háár veral
die geluk so naaldpuntdun gebalanseer
op elke horison wat teen die treinvenster glim
die berg wat nader groter word en met haar hart
in sy geheue so onverklaarbaar lig
soos asem op die tong kom lê
reeds was die afskeid daar
toe sy omdraai en huiswaarts keer
verdonker in die laaste stilte van rus
wat sonder woorde sonder tyding sonder enige vermoede
vóórtydig
die klein avondmaal
van haar liggaam
skrikwekkend deurboor
————
as winter brand
by die dood van Frida Kahlo, na die liriek
“Burn it blue” van Julia Taymor
brand hierdie huis
brand dit blou
as die winter haar huis binneval
verdrink sy in die brandende stroom
word alles afgestroop
en die brandende bed sweef hoër
en sy is vry om te vlieg
kom herinnering
kom doringtakke en blare van palms
kom onthou wat nie wil onthou nie
vrou wat uitgebrand is
sprei jou ongebreekte vlerke
vlieg vry soos die singende swaels
as die winter haar bloed bekruip
skakel sy vergeefs die verwarmers aan
waterval word rivier en stroom
gebroke tussen aangelapte ledemate deur
brand hierdie nag
swart en blou
neem alles met hom saam
so koud in die môre
so koud sonder jou
spoel vertroude kamers uiteen
met moeite aanmekaar geheg
spoel skilderye en meubels weg
weet dat daar niks meer staan
waar al die mure was
vlieg vry saam met die swaels
vlieg ineens met die wind
lê sy met belemmerde uitsig
en kyk na geboorte en lewe en dood
en die naglug bloei met vuur
en die brandende bed sweef hoër
sy is vry om te vlieg
om hemel en hel gloeiend te verf
geboorte en lewe en dood
verstommend onklaar
in die klaarheid van haar lyf
brand hierdie huis
brand dit blou
—————————
in die slaap
is daar baie verhale.
nie een van hulle is waar nie.
in die slaap word alle
verhale soos waarheid.
in die slaap is alles
soms soos glas.
stukkies dowwe
porselein uit jare gelede
van koppies reeds gebreek.
in die slaap
word koppies heel.
drink ons maklik deur die krake.
drink ons jare
vooruit.
————————————–
ek het vergeet
ek het vergeet hoe dit was
jy wat romanties op ’n keer
die saad laat vat wat hom toekom
onbewus dat ek nege maande later
in jou arms sou lê op ’n jaar jou “Pa” sou noem
later jou huis verlaat en vervang met ander wat jy afkeur
tussen rooksirkels hel toe geblaas
of miskien sou goedkeur agter die roes
van ’n skemertjie konjak wat aan jou lippe lag
ek het vergeet om dinge te vra wat ek nie weetwat ek nie verstaan het nie –
waarom was jou hangkas altyd netjies –
waarom was daar soveel vuurhoutjiedose pennies
tiekies rekkies mansjetknope in die een laai opgehoop
en waarom het jy soms jou bril verleë afgehaal
die blos van stof met die skoonste sakdoek afgevee
ek ken jou nie al het ek eenkeer so gedink
want ek het vergeet om baie dinge te vra soos hoekom
het jy eendag ons tuinman bebloed geneuk
en later aan tafel daaroor gehuil
hoekom het jy my pak gegee toe ek iewers
langs die dorp se palmstraat laatnag huis en haard wou verlaat
hoekom wou jy altyd skaak met my speel
hoekom het jy gelag toe ek in digte mis by Blyderivier verdwaal
en hoekom het jy juis tóé die storie van die wilde tier vertel
wat meisies van twaalf op wil vreet
hoekom was jy kwaad toe ek weg wou gaan
koffers gepak my woordeboek en rubber boots vir reën
hoekom was jy strak toe jy my groet
en het jy juis gesterf sonder ’n woord sonder ’n brief
net toe ek op vreemde bodem arriveer
ek sou wou weet dat jy my liefgehad het
ek sou jou hand in my posbuskop wou voel skeur
met heimwee en repe rouklaag van ’n bloekomboom
waaraan die weerlig genadeloos en mestong lek
met vrede of verlange
of dan enige dêm oumansraad
ek sou jou laaste wens wou lees langs ’n grag
of tussen denne waar dit mistig van die herfs nog drup
ek sou wou verlang
ek sou tóé nog eenkeer
tussen die krulle van jou hartskrif
liefkind wou wees, Pa
————————————————
Ballade vir die minnaars
na ʼn voorbeeld van Yehuda Amichai
En ʼn man ontmoet ʼn vrou laat in sy lewe
Gehawend en dor soos die landerye
Weemoedig en wit soos die stiltes van siësta
En sy toon hom meteens haar honger mond
En sy toon hom meteens die skeure in haar hart
En sy gee hom al haar ure, verlate en verwond
En sy woon op die grond van haar skamel besittings
En die reën wat val begin daar in haar oë
En hy besluit om sag te wees
En sy ken die gesprek tussen tafeldoek en eetgerei
En die mes en die vurk van soveel jare
Maar langsaam neem hy die hef in die hand
En sy hare word lank soos verse, en sag, soos hare
En sy woorde ryg oor hare saam met stiltes en verlange
En vind gestalte in die uitroep van haar liggaam
En die vlamme van ʼn vuur flits oor hul gesigte
En hulle staan daar met hul rûe na die strak verlede
En hy besluit om sag te wees
En hulle stap die gloed van somers blindelings binne
En die woorde word meer soos ʼn vallei met vrugte
En die ongeduld van seisoene verander hulle in minnaars
En hy sal haar elke dag daarna by die tafel laat sit
En hy sal haar met nuwe disse en eetgerei verlei
En die ligte van kers met adagio’s en jazz vermeng
En hulle sal nog daar wees as die najaar verkrummel
En hulle sal daar wees as die tyd verlore raak
En hulle sal daar wees as linnedoek hulle skuifelend bedek
En sy sal die versugting van sy verse in die vlees toevou
En die mes en die vurk van jarelange saamwees
En hulle sal die woorde geniet wat brood geword het
Soos brood sal hulle mekaar bly eet en vermeerder
Want hy het besluit om sag te wees
————————————-
kliptaal
1
wat jy alles lees in rotsgravure
papier of klip stig vermeerdering
nie in jare nie, maar in gewig
nie die gewig van ’n liggaam nie
maar die gewig van geskiedenis
met volumes groei ek dieper in jou in
daarsonder kan ek nie asemhaal nie
2
in die slaap se kliptaal woon
ek in die aarde en bou ’n huis
met al die woorde wat jy lees
sny dan die aar van ’n rivier in twee
om te word soos ons is
om te word soos ons moet word
toe ek opstaan het ek onthou
dat woorde ook niks meer
kan onthou as net die woorde nie
maar jou praat wat klink na klip
wat rol en als wat lewe meesleep ook
is die wakker word van die erf
en jou stem asem soos iets
in die gewig van liefde of miskien
in die berg se vou
en altyd verknog aan blou
——————————————-
ons stroom
nou in ’n laer versnelling
alles skuur stadiger verby
jou bors is sagter in kontoer
die bekken voller arms wyer
teen al jou aflope
vlei ek aan
*
die ure word kleiner
lywe en passie ontheg
jy krimp weer weg
sluier van mis
kom waai oor die berg
*
hulle neem nou afskeid
al jou woorde wat vers
en ritme hou
hulle loop nou saggies
in sandale buitentoe
ek hoor die gruispad
skuifel in my oor
*
jy dis die Sondag vir ons op:
Di Stefano en pasta carbonara
’n vingertjie spek ’n neusie sampioen
en jou mond is gewyn vir
die onversadigde soen
——————————————
Hartenberg
mure kaats die kalkerige winterlig
tot by die digters om ’n kraffie wyn
Willem van T. en K. Michel kyk
verwonderd na die tuin
ontroer deur die één koraalboom
waaragter berge strofes wolk
deur die takke voer
die voëls raas opeens en K. Michel
klink daarop: “mischien ook een werkswinkel
voor vertalers?”
ons maal is opgekaas met kippesoep
patat en wortelmoes vetkoek en paté –
vergeet ook nie die heuningwit van wyn
alles afgerond met woorde los gevleg –
die stroop in koeksisters as nagereg
versny met filterkoffiegeur
later staan ons ingekelder bymekaar
die vate wyn boepens nes ons mage kloek
klamtes ruik na mos en vreemde taal
en soos die skilder in die wynkelder
sy brandglasprente waaksaam
in elke bottelkamer prosesseer
kan ook ons slegs terloopse samesyn
hier kaats na mekaar –
huiswaarts keer
en wonder of ons eendag weer
al kwetterend rooi korale
uit die winterlig van vervreemding
sal besweer
————————————-
huis 2
dit word aand
en aand word nag
met wit stampkoring
teen ’n swart ysterpothemel.
toe word dit aand
in Afrika. ook
teen die Baltiese See.
wat eet my kind?
nou?
met reise deur Frankfurt en Mosel
Keulen en Gersfeld
Freiburg en Baden-Baden?
daar word dit aand. soos hier.
ek smeek die melkweg se meel
om haar te voed.
ek gee alle geel uit die koring
van Afrika.
sy sal onthou. van Afrika.
en sy sal verlang
as die aand
nag.
—————————————-
argeoloog
jy loop teen osrooiskemer
met die wilde honde saam
jy slaap in jou tent langs seekoeie
wat nagteliks soetjies elke grassie kou
of miskien ’n poekoe wat roer
verby die biesies
waar gevaar mag skuil
jou reis is in die voetspoor van Zambië
uitgestoot langs die Luangwarivier
op die walle van ’n meer
in die stofpad van ’n reservaat
bedags speel jou vingers in die grond
vee met besempies die aarde weg
ontbloot binne bakens die krake van ’n tyd
toe klei nog stories was
en jy net skerwe kan ontrafel hier of later
vir ’n nageslag
vasgepen in skripsies en lokale van museums
kind, jy is ’n argelose argeoloog
lieflik lewend in safaripak
huiwerig met jou klein hande
in sagte suede geskoen
tot hier
waar al jou jare ingeborsel lê
tussen brokke
van herinnering onder die skedel
van my prehistoriese hart
—————————————
perde
perde is konings van heuwels
en hawer van duine en torings van vuur
perde is konings met mantels van blou
oker amandel skimmel soos grou
swarter as oonde witter as talk
maanhaar verstroom in vleie van wind
perde is konings met keile en hoewe
wat ratel oor berge riviere en rif
savannas en kranse en skeure met drif
o konings van klip met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet
robyn is die kykers van perde
robyn soos die sterre teen skemer
waar die stofwolk draai waar die sand
in kringe soos poeier verdwyn
bruin is die oë van perde
bruin soos die maas op modder
waar die son waterpansag
in die somer kom lê
perde is konings wat proes en galop
oor pleine en plato’s van mense
perde dra vragte van kinders en ridders
of oues van dae soos ’n hut op die rug
perde runnik alleen en verruk in ritmiese bome
perde is visse in waterwoestyne
swiepend van links en na regs
en terug in die lug asof gode
hul koppe in nette wil vang
met hoewe in vaandels
wat klop ametis ametis
hoewe in steensimbaal
dolomiet dolomiet
perde is prinse wat die melkweg kantel
die oggend se as die stadige pas
perde is prinse en draf aan die hand
met spelende spiere wat dans deur die land
en klop ametis ametis
perde is vroue wat geheime in paaie ontdek
vroue met flanke wat glim in die sweet van die dag
kampeer tussen mane en sneeu tussen wasem en gras
wat kom lê in ’n stal soos ’n ster in ons pas
perde is konings en prinse en visse en vroue
perde is meer as salpeter van asem
——————————————–
waarskuwings
ek moet jou waarsku teen die wind wat roer
die wind wat die hare van gordyne roer
ek moet jou waarsku teen die strooisel vere
wat die tarentale op ons werf kom los
ek moet jou waarsku teen die molle wat sappige wortels
kom vreet die molle wat nikssiende rondhoer
in die tonnels van ambrosia o ek moet jou waarsku
teen die skulpe van sterre wat in bome kom hang
want hulle blink verniet
ek moet jou waarsku
teen die maan se mistige oog
die son se roomwang teen jou gesig
ek moet jou waarsku teen die lam met sy rug na ons gekeer
met sy gebreekte poot en wolkop na die stoof gedraai
ek moet jou waarsku
teen die lam wat sy ore flap in die waaier van lug
teen die honde wat straataf draf sketterend jag na asblikkos
teen die swart lappe van voëls op die wasgoeddraad
ek moet jou waarsku
teen my kissie van roospapier
waarin al my juwele is die krabbers die hangers
en die ringe van topaas
ek moet jou waarsku dat alles niks beteken vir die liefde nie
minder as woorde minder as water minder as brood
want die liefde het net oë vir mekaar
liefde is sonder bril in mekaar
liefde is oë vasgewaai inmekaar
liefde is sonder alles omheen
liefde is ’n dennewoud
liefde is ’n beurende dennewoud
waar die boskapper
onverpoos kap
ek moet jou waarsku
—————————————–
nagvlugte
om nagvlugte te verf
na afloop van die liefde
moet die punt van die kwas sag wees
moet die punt van die kwas kan inbuig
en dans soos die weerlig hoog
in die bondeling van wolke
om nagvlugte te verf
moet die note kan sing
soos ʼn nokturne in jou hande
losgelaat in die stormwind
téén die verliese van die wêreld
téén die struike van ʼn donker
afgeskaalde tuin
om nagvlugte te verf
moet die kleur soet wees
soos rooi
ruimskoots geel
en middernagblou
meer syig as die reise van harte
om nagvlugte te verf
moet die punt van die kwas
sag wees vir mekaar
——————————————-
sleursang 4
’n pryslied vir die bruidegom
op die struktuur van “Die beskrywings van koning Lent”
deur Francois Rabelais
sy tone is die klawers van klavier
sy toonnaels knoffelhuisies
sy voete is tamboere
sy voetsole simbale
sy bene is lang snare
sy knieë is klaprose
sy dye jakkalsdou
sy heupe is soos gladde werpskywe
sy maag soos ’n pampoenkoekie
sy naeltjie is ’n druiwekorrel
sy geslag ’n dobbelsteen
sy testikels is konyne in ’n somerpaleis
sy boude ronde opslaantente
sy stuitjie is ’n karavaan
sy rug ’n dolfyn
sy werwels ’n trappehuis
sy ribbes is soos silwervissies
sy skouers is kamaste vol ysterklip
sy tepels twee klein slaapmussies
sy oksels ’n welige pietersieliebos
sy arms soos sekels
sy gewrigte is vuurhoutjievarings
sy elmboë klawerjas
sy hande goue harpe
sy nek ‘n viool
sy keel ’n fluit
sy adamsappel ’n tamboeryn
sy baard is kruienaeltjies
sy ken ’n lantern
sy ore is wintersokkies
sy neus ’n dubbelster
sy wenkbroue drywende valskerms
sy oë is skuite vol lig
sy voorkop ’n wapperende vlag
sy slape is soos maste van brokaat
sy wange bekers vrugtesap
sy kakebeen ’n seiljag
sy tande soos uitroeptekens in die sneeu
sy tong is ’n akkedis
sy mond ’n bloedlemoen
sy kop is ’n byekorf
sy vel is katoenfluweel
sy hare soos bokhaar
as hy lag was dit soos ’n klokkespel
as hy huil was dit voetpaadjies van reën teen die ruit
as hy bewe was dit blou blitse in die lug
as hy sweet was dit oesters op jou tong
as hy vloek was dit ’n handgranaat
as hy nies was dit ’n loskruitpatroon
as hy hoes was dit roffelvuur op die horison
as hy gaap was dit ’n sleutelgat in ’n jonkmanskas
as hy sug was dit die snaar van ’n tjello wat spring
as hy snork was dit koffiebone in ’n meul
as hy frons was dit kreukels in satyn
as hy praat was dit kapokblomme in die wind
as hy oogknip was dit ’n somerbesie
as hy mompel was dit dwarrels in sand
as hy loop was dit swaelstertmanelle oor die see
as hy sing was dit wafels met room
as hy rook was dit vuurvliegies in die donker
as hy skryf was dit wilde eende oor ‘n meandermeer
as hy droom was dit sterre in ’n ysterpot
as hy bemin word sy tong ’n lui akkedis
as hy bemin word sy skedel ’n vlam okkerneut
as hy bemin word sy hare bloeisels van bokhaar
word sy mond duisendmaal
’n bloedlemoen
as hy bemin
Foto van ma
sonder meer sonder meer staan sy daar
met min of meer die bossie blomme
helderpienk en geel geruiker
die vinger opnuut gering
sonder meer staan sy daar
julle ma
teen die muur van groenverspoelde verf
op die foto meer na turkoois ingevlam
en ja, sy lag
want sy weet niks maak meer saak
met min of meer in die middeljare nie
as die goue band sou kraak
sal die vinger immer die jare
se bladsye frommel vir verder lees
as sy wel haar kyk laastens verruil
vir die wintergrys van sterflikheid
dan is daar mos ‘n huis sonder meer
om in te bly met geen verband
‘n huis met botter
en brood in die blik
sonder meer staan sy daar
julle ma
gereed vir die laaste tog
op die vlerkvlug van ‘n nuwe minnaar
en as die reis alle blomme verloor
wat maak dit saak
want ma het immers vir julle ook
in hierdie haard
haar liefde in elke blik
nagelaat
kampusliefde
bliksemse Volvo-man met bliksemblou oë
wat my verweer knak oorrompelend
teen jou perfekte betoog vasgepen
strafreg as student toegepas
die maagdevlies as uitspraak in jou guns
‘n jaar van skel en bars en breek totdat
ons albei weet die lyf wil die kop nie pas nie
ons soek na deug as skoonheid vergaan
ons soek na vrede en vertroue wat duur
ons soek mekaar vergeefs op afdraairoetes –
op die hoofweg lê jou Volvo omgegooi
en daarmee saam alles uitgekantel
(afwesig dop ek die studiejaar)
vry en vrywees was jou wetboek met ontbyt
waarom wou jy my dan met boeie dreig
toe ek met dieselfde wet verder wou reis
waarom wou jy skielik selfmoord pleeg
toe ek jou met breekgoed een vir een
my ganse lyf my murg uitsmyt
wat bly vandag is dié onthou:
hoe ek roekeloos
jou Volvo al hoe witter oor die paaie spoed
hoe mooi van warm staal
hoe reddeloos jou roede was
Uit: Passies en passasies – Marlise Joubert
Marlise Joubert in memoriam: Strooi*
sonder die veld se geur van wit lelies in ’n vuis of die
trae note van gesang en gebed sonder ’n graf of ’n woord
van eerbetoon sterf hy op die vaal handdoek op
’n skoongeskropte tafel eerloos en ek onthou Lucebert:
alles van waarde is weerloos
sonder ’n sug en sonder protes sterf hy stil en
donker terwyl die bloed oor die lip bly stoot
terwyl die pyn die gapende wond verlaat en
elke pupil al groter rek om verlossing in te laat
terwyl my kind se hand die troetelkop bly
troos bly troos en ek onthou Lucebert:
alles van waarde is weerloos
sonder dat hy weet dat ons hom groet
word sy lyfie riemslap onder die naald
lê die swart pels in ’n boog gestol half verleë
die wit sokkies van sy pote oor mekaar gevou
die bors se wit ster gevlek en rou en
ek onthou van Lucebert so moes ek hom verlaat
sonder ’n lied of die veld se geur en
ek onthou terwyl ek huil teësinnig teen die misreën op die ruit
my vingers om die stuur geklem en koud
* Uit: Lyfsange wat deur Protea Boekhuis uitgegee word
dat ook hy, ja tog, soos ’n mens van waarde was ’n keelronde warmte kon gee met kromgeskuur teen jou kuit weerloos in sy dierlikheid en onvoorwaardelik elke dag veertien jaar lank getrou op ons tuiskoms kon wag
(18.5.98)
pa
hy was nie ’n man van staal nie
waar die reën se blink some alkant
oor die berge sleep hoor ek hom lag
hoor ek hom praat waar die knettervuur
van son die heuwels kaal skeer
hoor ek hom ween hoor ek hom roep
pa was nie ’n man van staal nie
pa was in murg en borsbeen
’n doodgewone man
ontslape vertoef hy soms in my drome dans rond
in stiltes van my boord versteur die
wilgertoiings ryg wingerdharte aanmekaar
en hang dit elke dag
voor my kamervenster oop
op die lessenaar drup sy inkpen leeg
glip die lig van ’n lamp oor die laaste brief:
ek was ’n doodgewone man
met borswonings van lag en van huil
murgsag en in die liefde geskaad
en my dood was soos dit ons aarde behaag
weerkaatsings
buite die windstil boom gewilger
in die arms van herfs en
binne met nege-uur se oggendvlekke
die sagte Sondagson teen die muur
buite mooiweer en matig met geen reën
maksimum temperatuur ses-en-twintig en
om agttien elf sal die dag in skadu’s ondergaan
binne die lentesonate van Beethoven
wat stukkies verlange oral smeer
soos eilande met tropiese blaar
oor die ligpienk muur
ek sit roerloos voor die skets
met die refleksie van diefwering en
ruite bo-oor elke eilandvlek
anderkant is slegs die grou
in baksteen en sement
buite die windstil boom
binne die sonate oor die lente en
op die bruin stoel in die hoek my dae
se skameldekking ’n serp ’n sweater ’n broek
en die los blaaie van die koerant
met buite mooi weer en matig wat ritselend
uit die herfs kruip en tot om agttien elf nie
sal troos soos ook nie die boeke die briewe
of Beethoven ook nie gister se koffiekroeg
die nuwe trui of die roos op die tafel
nou reeds na tien in die oggend
draai loomgebak sy rug op my
wis die vlekke uit en vou tydsaam
alle weerkaatsings eenkant toe
skielik is die muur ’n binnekamer
wat my tot om agttien elf
stuk-stuk sal beskut saam met
jou woorde op papier en
buite die windstil boom
’n troos terwyl jy elders heen gewilger is
inventaris van intieme verliese
in elke vertrek bly altyd iets van verlies agter
soos jy eenmaal in ’n troosvers vir my besin en
voorts dwaal ek gespits deur my huis
van kamer tot kamer op luister na vier seisoene
van gulsige versmulling aan die minne
hier is die badkamer ingesalf
met jarelange olies gegeur van lemoen tot amandel
hier is sepe met aromas van magnolia van roos tot soetsuurlemoen en
hier in die sproei van stortende valle
was jou lyf ’n ingeseepte dans teen die kruin van my buik
het ek ook tussen kers en wyn oor die bad se heup geklots
terwyl jy halfpad
onder water wou verdrink
loop ek luister-inventarisse deur die eetkamer:
natuurlik die eikehouttafel – onthou jy nog?
die sleurwals oor die mat die tango in die gleuwe
van ’n sofa die foxtrot oor ’n stoel
maar beter nog die sitkamer heuwellangs
teen die grootborskussing die loom passie
met net die stil blou lug van televisie
en ’n maan se geel wang deur die ruit
loop ek fluisterend terug na die vertrek
van slaap en hier is soveel van verlies
se asemkreun dat ek ongesiens die
maal van dekens dek die kussings
weer tot brode skud en dan myself laat neerlê
afwagtend op jou smulse mond
om onder sagte lamp ongenaakbaar
hierdie ligjaar af te rond
groei
sy staan met haar rug na die wind op ’n stoep in afrika
sy sien die wasige stadskom in die verte geruite skakerings
van bleekblou en grys tussenin die rompe groen van bome
pas het sy op die sonar gesien dat sy nie net
een is nie sy is meer as al die ander selwe
wat in haar woon
meer as die beentjies in haar skelet meer as geheue se
geskiedenis of enige ander verhaal wat insyfer teen
haar horison of selfs geneties geskryf staan in die
biografie van bloed
in haar groei ’n kleiner varing deursigtig in vrugwater
opgekrul daagliks verdubbel die selstruktuur teen ’n
onsigbare spoed en saam met haar voetstap skommel
die kokosneut geruisloos mee
sy weet nog nie die naam nie sy weet nie die geslag of die
kleur van die oë nie – alle roeringe is vliesig en sal daagliks
soos ’n trapsuutjies verkleur tussen die are van vreemde
struike
miskien is dit veersag soos die krop van ’n
naguiltjie
haar wange styg na karmosyn sy draai haar
kop na die wind op ’n stoep in afrika
elke oggend sal van nou af oop geheim en a
nders wees
– Marlise Joubert
Uit: “bladspieël”, 2015