Marthe McCloud
Wisselbou-boer
Oupa se geliefde groentetuin
het op sy oudag na homself
toe uitgebrei:
Sy groen vingers
(deurtrek van die rumatiek)
het soos misvormde geelwortels
skeef begin gegroei.
Sy ore was vol aartappels
(gehoorstuk ten spyt)
en groot opgeswelde pampoene
het tot by sy knieë gerank.
Hy het dié nuwe groentetuin
gelate aanvaar en sy akker
sorgvuldig begin omdolf
gereed vir ‘n nuwe seisoen.
Weg van ons
Die laaste drie maande was hy
maer en deurskynend soos lig
‘n veertjie wat die wind wegwaai
al verder en verder van ons
die silwerkoord die enigste naelstring
nog aan ons geheg en alles raak
‘n warboel van laat hy gaan
laat hy tog bly.
Hy maak sy oë nog eenmaal oop
blinkblou, spablou, blou
soos die mure van my kamer
en hy swem met sy laaste krag
uit die aarde se baarmoeder
weg van ons.
Onderdrukking
Ouma was so wit soos ’n kussingsloop in Oupa
se skaduwee hy het die son oor haar kop geblok
en haar soos ’n drukspyker onder sy duim
gehou en haar presies geplaas waar hy haar wou hê:
’n vasgespelde mot teen ’n aansteekbord.
Nou staan hulle bal-en-klou-stoele in my huis
’n erfstuk van die twee en ek sien Oupa se
gebalde mond en Ouma se klou aan haar belofte.
Dus bal ek nou my vuiste en slaan my kloue soos
’n kat in ’n muis. In hierdie geslag is dié speletjie oor!
Dag in Zagreb
(Kroasië)
Skielik is sy kleurvol daar
met klingelende armbande
haar tjalie styf om haar getrek
en voor haar oop en uitgestrek
omring met vuil gevatte
handjies, kyk Jesus deur ’n goue kring
na die kinderlyfie
wat soos ’n ranker om die man vleg
sy hare vryf, sy waaksaamheid
na Madonna en die kind
verskuif –
ja, kleurryk is sy skielik weg
en as hy later langsaam
na sy beursie reik
sal dit onbetwisbaar blyk
nog ’n verdwaasde man gefnuik.
’n Tuiste
’n Man het ’n boom afgekap.
’n Deel raak brandhout
die res word na sý beeld gebeitel
die gelaatstrekke en nek sterk
met ’n brandpad oor die kop
karoobossies aan weerskante
bokant die oorlob.
Op sy lippe lê verdorde rivierlope
en skulp-ore soek na die see.
Buite Laingsburg verkoop hy homself aan my
verlaat sy kop sy hande
trek hy kus toe
raak my huis ook sý huis.
Maslow-piramide
Saterdae en Sondae is ons geitjies op die stoep
bak ons in die son van selfwees
knus in die driehoekspunt.
Maandae spring ons op met wekkerskok
hardloop ons soos eekhorings
op soek na neute rond.
Woensdae tot Vrydae sak ons terug in
middelmatigheid. ’n Reëlmatige
werkswyse is ons beleid.
Saterdae en Sondae is ons weer geitjies op die stoep
bak ons in die son van selfverwesenliking
knus in die driehoekspunt.
Smoke break
Naweke gaan lui verby
soos die langsame inaseming
van ‘n sigaret se rook
die inhou
en dan stadige
uitblaas
Sondagaand.
Slaap I
Snags slaap ek en my man
soos Racheltjie de Beer
en haar boetie
ek diep in ons miershoop
ingekruip en hy die deur
om al die onheil af te weer.
Slaap II
Snags slaap ek in die skaduwee van my man
die voue van sy lyf is klowe,
sy skouers knopperige pieke
sy sy is die kruin
snags slaap ek soos ’n kronkelende rivier
in die skadu van my man.
Slaap III
Daar is ’n kat in my man se keel
bedags lê hy opgekrul in sy bors
snags kruip hy uit en maak sagte miaaugeluide
daar is ’n langnaelkat in my man se keel.
Haar naam was Ester
Jy vra: “Wat was haar naam nou weer?
Die kind wat verongeluk het?”
Ek weet nie, maar ek onthou nog vir Ester,
die dowwe ster,
die een met die kroeserige kop, die klerebankkind
die een met die houtneus
(of so het almal gedink),
want ons was mos lanies,
dosente en ryk boere se kinders.
Daar is agter hande getju-tju
en gebaaawahaa – die merk bo
haar oog glo haar pa. ’n Mesgooier
soos in die sirkus! Daardie jare
die hoogtepunt op ons dorp.
Jy ken mos daardie toertjie?
16 Dae van Aktivisme
Ek hou nie van bamboes nie
die uitgespoelde Ingridlyke,
verworpe vroue van Hans-die-Skipper
party nog gladnat op die skuimsoom
en ander stinkverrot soos sonverbrande
bokkoms tussen die rotse in ‘n Auschwitzhoop.
Kyk hoe rondomtaliedraai die vlieë en muggies
om hulle, kompleet soos die bodemkringe
van ‘n tuinpot waaruit die dood lek.
Ek hoor hulle doodsnood in die bewing van my pen
en hoe hulle uitroepe om geregtigheid
wegsterf saam met my stem.
Outopsieverslag van ’n opstal
Tussen reuse-akkerbome
lê sy bleekwit uitgestrek
haar bene effens oopgerek,
haar grendeldeur massief.
Die geelhoutbekken kraak
as voete daaraan raak.
Die outopsie word digitaal
gedokumenteer:
Die dermkanaal is breed
en donker soos ‘n hortjieshuis
maar is. ‘n Waterkol
het teen die plafon gestol.
Die buik is opgeswel.
Aan die maagwand kleef
oorspronklike olieskilderye,
aktes, jonkmanskaste,
riempiestoele en breekware
uit die 17de eeu.
Die inhoud was nog onverteer
met die intree van rigor mortis.
Ontbytkiekie
By die ontbyttafel baai hulle
in die pienk lig van pomelo’s
die ou man rond en kleurvol
soos ‘n strandbal, sy wange
ryp pruime, sy ken
die rondings van lemoene.
Ek hou hom dop. Pomelo’s
is bitter, maar sy mond drup
waatlemoenwoorde, sy bene
sak weg in die mat, hy hop-hop
om haar rolstoel by die ontbyttafel
in die pienk lig van pomelo’s.
Identiteitskrisis
Hulle het genoeg gehad
soos ‘n vrou vir oggendnaarheid.
Die kind moes weg. Koshuis toe.
Dit het my goedkeuring weggedra.
Goddank “The final countdown”
het uiteindelik aangebreek.
Die gang was lank. Ons het met
sokkies daar afgeski en mekaar
met komberse getrek.
Saterdae het ons die gang
laat weergalm met
“Get down make love”
“We don’t need no education”.
Die ritme het soos ‘n skeermeslemmetjie
in my arms en bene gesny
en die pyn verplaas, oplaas
die adrenalien laat pomp.
In die nag was die gangdeure toe.
In skoolskoenswartdonkerte het
die kind voetjie-vir-voetjie voel-voel
na haar spelonk geskuifel.
Daar binne was God, die kind en ek:
die drie-eenheid verbrokkel.
Afspraak
Daardie oggend. Daardie Saterdagoggend het dit gereën.
My broer. My broer se fiets het gegly. Op die draai
het sy fiets gegly. Reg onder die bult. Ons bult.
Sy ken. Sy ken het oopgeflerts soos ’n wulpse rok.
’n Rooi rok. Soos Chris de Burgh se “Lady in red”.
Hy het sy fiets net daar in die pad gelos.
Die deurklokkie. Die deurklokkie het geskreeu.
Aan-en-aan-en-aanmekaar soos die brandsirene
by die skool. My ma het oopgemaak.
Sy het in dryfsand weggeraak.
My knieë. My knieë het voor my bed geswik.
Ek het gebid. Nie vir hom nie. Nie vir haar nie.
Ek het om verskoning gevra. Ek het
om verskoning gevra omdat ek gebid het.
Die oggend vroeg. Ek het gebid dat iets moet gebeur.
Dat iets asseblief-asseblief-asseblieftog moet gebeur
om ons van die afspraak later die dag te keer.
Vincent
“And the prospect grows darker, I see no happy future at all.”
– Vincent van Gogh
Die man met die strooihoed
se oë is vol Van Gogh-skilderye
sy horisonhare gooi geel skadu’s
oor koringlande, stillewes en sipresse
Die man met die strooihoed
skilder kolletjies, strepies, warrelinge
soos wat hy rondomtalie
in eb-en-vloei, eb-en-vloei
Die man met die strooihoed
is ’n bleek skadukol in die sterbesaaide nag
’n waarnemer van aartappeleters
’n eenspaaiersonneblom
Sy bloed hoor gejaagde stemme,
’n berekende skoot wat klap
en Dood se preweldialoog:
“Het verdriet zal eeuwig duren.”
Kudde
Ons veerboot oor die Straat van Gibraltar
van die suidkus van Spanje na Marokko
saam met hennabeskilderde vroue
na die medina en soek van Fez
Soos ’n ry skape volg ons ons herder
tussen ’n mensemassa deur
ons oë vasgenael op die wit vlaggie
die moederdoolhof vang verlore kinders
Ons raak nie, smaak nie, roer nie aan nie
rol ons oë verkleurmannetjierond
en vermy oogkontak, te bang ’n smous
volg ons tot by die hotel
Kaneel, kamfer en saffraan versag die reuk van donkiemis,
om ’n hoek talm die geur van lamtajine in die lug
ons beur terug verby verdiepinggelaaide donkies,
slangbesweerders, Berbermatte en musikante
Eenling duik ek deur die waterskaduwee
die reuk van doolhoofsweet nog vars in my geheue
Die groot muur van China
Die land is gevul met drake
wat aan berge vorm gee
en die lewensbloed
van uitgeputte bouers in die buik
van die luislang stoor,
beskermer van die massas,
teenvoeter vir die noorde
Kom, volg die uitgestrekte spore
van die draak, die padaanduier.
Hoor die geroep van die afgestorwenes!
Hulle doodsreuk van sweet en klei hang in die lug.
Kyk, pyle van krygers vlieg verby vlae
en uitkyktorings stuur kodeboodskappe
met rookpatrone uit
Nou groei toerisme uit dié bloed
en verwonder die wêreld hulle
aan legendes uit klei en steen geskep:
die trane van ‘n vrou kan ‘n muur laat tuimel
en die lag-sterwe van ‘n pa
en seun in herontmoeting
Ons is soos wagters op hierdie muur
versoeners wat met drake speel
Besoek aan Rennes-le-Château
Die duiwel het my skrikgemaak
in die Maria Magdalena Altaarkerk
’n toeristemerk in die Franse platteland,
heuweldorpie van Sauniére
waar ontwykende geheime
aan geërodeerde mure kleef
Ouma word begrawe
en haar liefling toer
in ’n sonbevlekte dorp
waar ruimte en tyd
skadu’s op die lewe gooi
en begraafplase vars blomme baar
Op die eeue oue klipmuur tuur ons
oor die vallei, my latere hipnose-wegkruipplek,
eet ons vrugte uit die voue van ’n linnedoek,
gaan soek ek die koelste, koudste kruikwater
soos Jesus by die put.
Sleutelkinders
Geduldig gedienstig gedwee
soos gevangenes op pad na The Killing Fields
slenter hulle smiddae na verlate huise
om aan blikkerige blêrmusiek te teug
vollyf in rekenaarspeletjies te klim
verveeld deur werksopdragte te blaai
Saans as ma of pa of albei
huis toe kom, is dit bloederige tonele
kop-teen-kop-botsings
Om los te wikkel uit dié wurggreep
is meer opwindend as al die
moerse boring middae saam
Dag in Kalkbaai
Kalkbaai sit vanoggend gewolmus
en geserp toegevou in oggendmis
met vergesigte van fletsblou lug –
vissersbootjies wat kleure praat
partytjieballon in die wind
langs die kuspad heup aan heup gestring
is winkeltjies omring met wierook en koffiegeure
wat neuse kielie agter lamppale wat bedags
soldaat staan en snags lig-en-skadu speel
as jy mooi luister sal jy seemeeue
hoor fluister van skatte en snuffelgeheime
versamel in die buik van die ou Trading Post
maar die beste van Kalkbaai is die China Shop
wat uit ’n wegsteekstegie wink
oorlopens toe getooi met troetelporselein –
Royal Albert, Noritake, Arzberg –
van plafon tot vloer gestrooi
die oggend sweef weg oor die vissersdorpie
die sonstrale eggo kalksteen
in die nugterheid van die middaguur,
verflou langsaam
en word weggesluit
in donker se gat
Markplein
Op koue klippe
net duskant
Brussel se plein
sit ’n groep junkies
vol daggadrome
’n Lea-oog-meisie
wieg kruisbeen
op maat van kitaar,
spuitnaald verstrengel
bottel bier in die hand –
’n swart hond lê
aan haar skadukant
sy pote gekruis
pers sonbril op snoet
ek glimlag met oë
wat ’n wit hond soek
Pittoresk
onthou jy nog Queens Crescent
ver bo ons vuurmaakplek?
die American Ashwortels wat
die stoep opgelig het
die hobbels wat ons ooleef het
die borde teen die muur?
of het jy vergeet van
gruisklippertjies wat onder voete knars
die saailingsirkel om die engelharp
die kruikfontein se gisters
die muskiet se byt?
ruik jy soms nog die soet jasmyn
wat deur my rank
die gekneusde mint?
of is dit net ek wat nog
die geklots-klots van die leivore hoor
op Stellenbosch?
12 Haikoes deur Marthé McLoud
Trein
die liggiesduisendpoot
met sy slapende passasiers
rammel rustig voort
die volmaan loer snags
lippe geseël na die nagsondes
van die mensdom
die orrelfontein
spuit glashelder klanke uit
reisigersrusplek
die boom trek haar bruin
bloes uit en dans bevrydend
nakend in die wind
die Viëtnamese
gebrabbel vul die lug met
Oosterse aroma
jou waatlemoenlag
en blink wawielogies drup
heuning op my siel
saans rus Tafelberg se
voet op die liggiestapyt
van Jan van Riebeeck
die roeibootjie beur
stadig sliep-slap sliep-slap-slop
in stilte voort
die ou wilgerboom
ruik na paddavissies en
kinderdrome
die gloeiende son
krimp gesnyde perskes tot
oumensgesigte
die blare steel die
gloeiende oranje van die
kwynende son
die haikoe hou van
wegkruipertjie speel en hard
blok myself te skreeu
Nostalgie
As ek saans knus in my hemelbed kruip
en die donskombers om my vou
hardloop my gedagtes in die
gang van onthou
van vervloë kuiers in my tantes se huis
die reuk van boerseep, motbolletjies en politoer
oumensgesigte wat uit rame loer
olielampe en langsteelkerse
fyngehekelde kniekomberse
blinkgevryfde houtvloere wat kraak
varkore in vase wat aanmekaar raak
die trein wat skril, skellend fluit
loodglasdeure wat laag onder sluit
hoenders wat op die werf rondskrop
die Royal Hotel oorkant waar die mense dop
dan verlang ek terug
na die ou hangbrug
waarop ek so baie geswaai het
As ek saans knus in my hemelbed kruip
en die donskombers om my vou
hardloop my gedagtes in die
gang van onthou
van vervloë kuiers in my tantes se huis
Haikoe 2
saans rus Tafelberg se
voet op die liggiestapyt
van Jan van Riebeeck
Haikoe: Vroeg winter
die boom trek haar bruin
bloes uit en dans bevrydend
nakend in die wind
Haikoe: Gedroogde perskes
die skroeiende son
krimp gesnyde perskes tot
oumensgesigte
Sandkorreltjies
op die pad tussen Gordonsbaai en Rooi Els
kort duskant Dappa se Gat
is daar ’n voetpaadjies wat afloop
tot waar die see die rokplooie
van die berg omsoom
’n fynbos-erewag
aan weerskante van die sementtrappies
lei jou na ‘n paadjie waar
ronde klippe heup aan heup geanker lê –
van klippaadjie, na grondpaadjie, na sandpaadjie
’n skare rotse verwelkom jou gul
op die sagte sand met:
Kom sit, die show gaan binnekort begin
’n binnehuisversierder het die verhoog
met skakerings van blou versier
potblou, asbesblou, poeierblou –
daar waar die see die horison kruis
die vertoning begin met ’n meisie
in ’n pienk eina-rokkie en heuningbene wat
byt-die-bamboes met haar honde speel
daarna kom ’n man in ’n All-Gold T-hemp
aan die beurt wat met sy jolige vlieër
vernuftige toertjies uitvoer
wind en vlieër foutloos by mekaar ingehak
die enkel banderplankryer pak vreesloos die water aan
ten spyte van die wapperende haaivlag en
laat die toeskouers na hulle asems snak
na ’n kort pouse begin die hoofshow
die branders spoel eers versigtig, voel-voel uit
glip glad, skuimend terug
begin dan al hoe waaghalsiger raak
totdat hulle in hul wit leotards
asemrowende akrobatiese agteroor bollemakiesies uitvoer –
al hoër en hoër in ’n poging om die vorige deelnemer te oortref
’n gesellige, koel misreëntjie sak uit
woordeloos verwonderd vryf hy met sy sandvoet oor hare
weet hy dan nie dat sandkorreltjies seer maak nie?
Kombuis inspirasie
Afrikaans my Darling
hoe le jy dan so ingekrimp, eensaam
gereduseer tot ses vierkante meter
tussen ‘n internasionale skare
wat opgestapel jou vanaf opslaantafels en
vensterbanke bekyk?
Tussen Ken jy jou Bank,
Finansiele IK en Hekelgoed vir Kleingoed
groet W.A de Klerk jou op die Markplein
vra Corlia Fourie R 5 vir haar Moeders en Dogters drama
spog PG du Plessis met die 1972 Hertzogprys op
die voorblad van: Die Nag van die Legio
die 1975 Groot Aanhalingsboek ding ywerig mee
met die Prosakroniek van Elize Botha
die eerste wil vermaak, deur openbare sprekers gebruik word
die grootgeeste se wysheid deel
die tweede wil die verloop van die geskiedenis van Afrikaans
tot 1987 vir die nageslag vertel
Afrikaans my Darling
op hierdie tafel in Gordonsbaai
lyk dit of jy op AVBOB se stoep speel
maar surprise!
soos die muskiet en die kakkerlak
het jy gekom om te bly
‘n boom swaar belaai met vrugte
jou wortel geanker in ‘n nuwe geslag digters en skrywers
NP van Wyk Louw sou jou vernuwing gelike het.
Eksperimenteel
Lê dit in die sirkelswaai van die heupe
of die wikkelstap van die skouers
die Spaans-militêre stamp van die voete
of die grasieuse rol van die hande
die vlinderklap van die vingers
of die uitdrukkinglose gesig?
of miskien, net miskien
lê dit in die dramatiese afsak –
die lamppaaldood
Vir pa
die posbus wat my snags teister
is weg saam met die langbeen spinnekoppe
vasgevang in vergete pos en
die grasperk waarop ons rugbyballe geskop het
en jy ons die drie tree oumensomrol geleer het
se kannas en krismisrose blom deesdae in ander se tuine
en nou, nou is jou terrassweet en
die voelhokke wat ma so verpes het gelyk gevee
die gras wyd uitgesprei waar saailinge eens was
en die soet reuk van frangipani voor my venster –
my verjaarsdag halssnoer –
is saam met slange en plataanbome
uitgespit, ontgif, ontwortel
of het die brande rondom Stellenbosch
dit tot as verpoeier?
grysvaal soos toe hulle jou kom haal het om te vries
toe jy winterkoud was met die wit kleed
van die berge oor jou getrek
die dun bokhaarkombersie van jou liefde
wat my tog warm gemaak het
hoor jy nog Coetzenburg se gejuig?
jou tydhouerstoel wat intussen gevul is
en die perde en die vliee
is hulle nog daar?
Terugkeer
Ouma is ‘n klein klein voëltjie.
Sy pik pik aan haar kos. Haar hande is
skeefgetrek deur rumatiek tot kloutjies.
Ouma is ‘n klein klein voëltjie.
Haar kop wip soos ‘n kwikstertjie.
Parkinson het daarin nes gemaak.
Ouma is ‘n klein klein voëltjie .
Haar bruin oë is twee eiers vol
fyn krakies. Binnekort gaan dit breek
en dan sal sy terugkeer
as kuiken warm uitgebroei
onder die Groot Arend se vlerk.
waar sy vir ewig sal vertoef:
veerkragtig en sterk.
Puinhoop
Buite die hek stop hy my
met uitgedopte litchie-oë.
Karoobossies beur deur ‘n geskroeide kop.
Uitgebrande as binne ‘n vleesdop.
Sy neus boei my:
‘n herkonstruksie van ‘n paraffien-nag,
die dun papierlagie styf gespan,
die brandpad loop duskant die wang.
Daardie somer (1976)
Daardie somervakansie by Kleinmond
was ons tussen rotse tuis.
Ons het huis-huis gespeel tot die see ons hoogtyd
uit ons skuiling gejaag het.
Die man het tussen ons twee op die krismisbed
kom lê. Hy het gesê ons is
sy meisies. My tong was swaar
soos ‘n skeepsanker.
Ons het om leë huise gespeel,
rondgesluip, deur vensters geloer
en aan deure gevoel. Ek het
die buitekamer se knop gedraai.
Hy het aan my verskyn
swewend in swart geklee
en uit die grotskeur van sy mond
het die eggo van my naam my wakker geruk.
Banneling
Hulle het genoeg gehad
soos ‘n vrou van oggendnaarheid.
Die onmoontlike kind
moes weg. Koshuis toe.
Saterdae het die koshuisgang
weergalm met
“Get down make love”
“We don’t need no education”.
Die ritme het soos ‘n skeermeslemmetjie
in haar arms en bene ingesny
en die pyn verplaas, oplaas
die adrenalien laat pomp
maar snags in die pikgitswartdonkerte
het sy voetjie-vir-voetjie gang-af
geskuifel soos ‘n oorversigtige wildsbokkie
om water te drink.
Binne in die badkamer, ‘n donker spelonk
het ‘n swart oneindigheid
soos haar eie eensaamheid
voor haar uitgestrek.
Die onthou jou gesig
en nou bly badolie, mirre en wierook
oor, maar die grootste hiervan
is die wierook wat wasemrig
soos wingerdlote in die lug rank:
gekneusde laventel, frangipani
en kaneel uit ’n ver land
die wilde-esels op die heuwels snuif
met gesperde neusvleuels in die wind
en uit die spieël bo die pootjiesbad
tuimel die onthou van jou gesig
in die flikker-flik van kerslig
en swem dan in die wierook weg
Malta
Valletta gloei in die kleur van sandsteen.
Net die toegeboude balkonne van die geboue
spat kleur op die eiland se paletbord.
Hier word seerowers, Romeinse goewerneurs,
ridders en selfs die uitgespoelde Paulus
se geskiedenis vir eeue reeds bewaar
en die Kruis van die Ridders van St Johannes
steek orals kop uit in uitgekerfde hout, klip,
skilderye, weef-en borduurwerk.
Ons ry lugverkoel in die sweterige handpalms
van die somer verby familiesaamtrekke
van honderde turksvyplante
die moeders se hande is vol
met hulle kleintjies –
verbeelde voodoo-poppies vol spelde.
In die St Johns katedraal is die marmervloer
se blokke Ridders se grafstene en Caravaggio
se onthoofde Johannes die Doper hang ook hier.
Deur my patryspoort met die wegvaar,
verrys Valletta vir oulaas in goue glorie
soos die Nuwe Jerusalem uit die see
voordat dit finaal uit sig wegsak.
*Bejaardes wat jy kan sien naby die dood is, maak my altyd hartseer, want jy weet hulle was eens jonk en sterk en baie bekwaam. Dalk ‘n professor of dokter of top ingenieur gewees. Die ouderdom takel die mens naby sy einde af. So die gedig het ek lank gelede geskryf toe ek weer eendag so in Exclusive Books sit en na die ou ooms kyk:
In Exclusive Books sien ek hulle.
Met koppe vol as skuifel hulle onvas
(gestut deur armkrukke en kieries)
na stoele en blaai deur boeke
met geknakte rietvingers
en ek weet binne die verimpelde vel
en die baadjie styf gevou
om ‘n laaste asem binne te hou
woon ‘n belese man.
Binnekort gaan sy longe
hulle greep op asemhaal verloor
en gaan hy binne-in die aarde klim
en sy jarelange kennis maaiers word.
Herbesoek aan Fort Beaufort
Veertig jaar later en die sypaadjieboom
voor my Ouma se huis staan nog steeds
kromgetrek soos ’n ouvrou vol rumatiek
met haar takarms dik geswel soos Ouma
se ingesuurde brood in die warm oond.
Dié boom was my droombestemming
my paspoort na die Royal Hotel oorkant
die pad, die blink motors en haai-polfaais.
My geronde tonnelhande is my verkyker.
Die portier stoot die hoop tasse op ’n waentjie
en ek maak my lyf klein soos ’n ping-pong balletjie.
Die son val blokkies op my deur die boom se blare.
Dit is my heel eerste reis na ’n ander wêreld.
Die Royal Hotel bestaan lankal nie meer nie,
maar my vingerafdrukke kleef nog oral
aan dié boom se bas. Daar is net ’n nuwe
blaaromhelsing in die takke waar ek eens was.
Sonkie (RIV 9/6/2004)
Ek het ’n sepia-foto van ’n seun
sy hare is rye swart olywe
sy bene riete
sy knieë geronde heuwels
Die plaaswerkers doop hom Isonka:
die kind met ’n brokstuk brood in die hand.
***
My pa se skelet is bedek
met ’n dun lagie mens
die kanker dryf soos fyngemaalde
broodkrummels op water deur sy lyf
stroomversnellings
stort dit orals in opgaardamme.
***
Op ’n grou wintersmiddag in Junie
is Pa teruggekrimp tot die grootte
van ’n kind sy hare en gelaat die kleur
van gryswater en in sy mond
die brood van ’n nuwe lewe.