NP van Wyk Louw
My venster is ’n blanke vlak
My venster is ’n blanke vlak
in skaduwee en skemering,
waar ek my nagte waak en wag
op magiese deursuiwering:
dat hierdie siel deursigtig word
in vreemde voorgevoelde lig,
tot kring bo kring opglans en straal
in eindelose vergesig;
dat wat ek nog verlore waan,
o my verlore dae in my,
in hierdie stille skemering
hul vorming en gestalte kry,
tot ek my eensaamheid besit,
volmaak, as kosbare gewin,
van duister wense en van smart
die uiterste deurstraalde sin.
VROEGHERFS
Die jaar word ryp in goue akker blare
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot self die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rook-vaal bos en laan
dat die takke van die lang popliere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
laat alles val wat pronk en sieraad was
Of enkel jeug en vér was van die pyn;
Laat ryp word Heer, laat U wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Nagreën
Die reën skuifel deur die straat,
verby my venster, mensverlaat …
Soos ’n trossie narsings wat verkwyn,
flikker die druppels teen my vensterruit
waar die geel straatlig daardeur skyn;
en voel die wind
met bleek vingers, soos ’n kind,
aan die swaar gordyn, wat plooi
in die lamplig, teer en droef papawerrooi.
Grense
My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
Voël
’n Voël vlieg voor my venster verby,
’n naalddun lyn wat daaroor gly
en die glas in twee vlakke sny;
die wêrelde val apart en bly
elk in sy enkelheid geskei –
ek hierbinne, en daarbuite hy.
Die liefde in my
Dis altyd jy, net altyd jy,
die een gedagte bly my by
soos skadu’s onder bome bly,
net altyd jy, net altyd jy.
Langs baie weë gaan my smart,
blind is my oë en verward,
is alle dinge in my hart.
Maar dit sal een en enkeld bly,
en aards en diep sy laafnis kry,
al staan dit winter, kaal in my,
die liefde in my, die liefde in my.
Nog eenmaal
Nog eenmaal wil ek in die skemeraand
weer op ons dorp en by ons dorpsdam staan,
weer met my rek op in die donker skiet,
en luister, en al word ek seer en dof,
hoe die klein klippie ver weg in die riet
uit donker in die donker water plof.
Uit Nuwe verse (1954)
Voorspel 1950
Miskien sal ek die wingerd prys
en nooit meer van hom drink
en net in ’n verbeelde glas
die koel gedagte skink:
dié wat in jare donkerte
sy wynsteen kon laat sak
en niks wat somers is meer het
nie pit nie dop of rank:
miskien nog van Gods weë weet:
– Sy paaie en Sy pyn:
maar ingewikkeld alles ken
en mens wil wees én rein.
Uit Tristia (1962)
Afskeid
Jy’t weggegaan en jy bewoon
‘n silwer herberg in die sneeu
jou venster kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein
die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind
DIE BEITELTJIE
Ek kry ‘n klein klein beiteltjie,
ek tik hom en hy klink;
toe slyp ek en ek slyp hom
totdat hy klink en blink.
Ek sit ‘n klippie op ‘n rots:
– mens moet jou vergewis:
‘n beitel moet kan klip breek
as hy ‘n beitel is –
ek slaat hom met my beiteltjie
en dié was sterk genoeg:
daar spring die klippie stukkend
en skoon soos langs ‘n voeg:
toe, onder my tien vingers bars
die grys rots middeldeur
en langs my voete voel ek
die sagte aarde skeur,
die donker naat loop deur my land
en kloof hom wortel toe –
só moet ‘n beitel slaan
wat beitel is, of hoe?
Dan, met twee goue afgronde
val die planeet aan twee
en oor die kranse, kokend,
verdwyn die vlak groen see
en op die dag sien ek die nag
daar anderkant gaan oop
met ‘n bars wat van my beitel af
dwarsdeur die sterre loop.
Die boodskap aan Maria
Sy ‘t deur die skaduwee gegaan
in die soet lentenag,
skraal-wit en skemerig en nog sku
van naamlose verwag;
soos ‘n groot nagblom oop
waaroor die motte bewend hang,
so was sy onder die sterre, in haar
onwetende verlang.
Maar toe Hy kom, het sy geweet.
Geen stem was daar,
net enkele sterre donkerder
en blydskap soos ‘n tent óm haar;
en alle verlange buitekant
het trug- en tuisgekeer
tot innigheid, en rus gekry
soos waters in ‘n donker meer,
en huiswaarts oor die paaie het sy
gepeins dat vreugde só kon wees:
vervuld en woordeloos, en stil
geglimlag oor haar verre vrees.
Dat alle liefde
Dat alle liefde moet verlore gaan
en wegwaai in die wye lug,
waar hierdie dooie ster sy norse vlug
neem deur die stiltes van sy baan –
dit is die vrees, dit is die eensaamheid
wat my, geboë, met die hande krom
rondom die kersie van ons liefde, stom
laat skuil in kleinlike verlatenheid.
Die liefde in my
Dis altyd jy, net altyd jy,
die een gedagte bly my by
soos skadu’s onder bome bly,
net altyd jy, net altyd jy.
Langs baie weë gaan my smart,
blind is my oë en verward,
is alle dinge in my hart.
Maar dit sal een en enkeld bly,
en aards en diep sy laafnis kry,
al staan dit winter, kaal in my,
die liefde in my, die liefde in my.
Grense
My naakte siel wil sonder skrome
in alle eenvoud tot jou gaan,
soos uit diepe slaap ons drome,
soos teen skemerlug die bome
opreik na die bloue maan;
gaan met al sy donker wense,
en die heilige, nooit-gehoorde
dinge sê, waarvoor die mense
huiwer, en wat om die grense
flikker van my duister woorde.
Nagreën
Die reën skuifel deur die straat,
verby my venster, mensverlaat …
Soos ’n trossie narsings wat verkwyn,
flikker die druppels teen my vensterruit
waar die geel straatlig daardeur skyn;
en voel die wind
met bleek vingers, soos ’n kind,
aan die swaar gordyn, wat plooi
in die lamplig, teer en droef papawerrooi.
Nog in my laaste woorde
Nog in my laaste woorde sal jy wees,
nog in die laaste skeemring van my dink
en weet, as ek alleen in die bitter vrees
van sterwe le, en al die mindre sink
in my deur vaal vergetelheid: veel haat,
veel liefde wat kon waag om min te vra,
ure wat rus geken’t, of blote daad,
en nie die teken van jou onrus dra,
o jy wat vlam was: skoon en sterk en blind
vir smart; wat alles tot jou beeltnis brand;
wat als kon eis en nooit volkome vind
versadiging! Dan weet ek het jou hand
my jeug se oopgelate kring voltooi:
mooi is die lewe en die dood is mooi.
Vroegherfs
Die jaar word ryp in goue akkerblare,
in wingerd wat verbruin, en witter lug
wat daglank van die nuwe wind en klare
son deurspoel word; elke blom word vrug,
tot selfs die traagstes; en die eerste blare val
so stilweg in die rookvaal bos en laan,
dat die takke van die lang populiere al
teen elke ligte môre witter staan.
O Heer, laat hierdie dae heilig word:
Laat alles val wat pronk en sieraad was
of enkel jeug, en ver was van die pyn;
laat ryp word, Heer, laat u wind waai, laat stort
my waan, tot al die hoogheid eindelik vas
en nakend uit my teerder jeug verskyn.
Winter
Nou lê die aarde nagtelang en week
in die donker stil genade van die reën,
en skemer huise en takke daeliks bleek
deur die wit mistigheid en suising heen.
Dis alles ryk en rustig van die swaar
geheime wasdom wat sy paaie vind
deur warm aarde na elke skeut en blaar,
en ver en naby alles duister bind
in vog en vrugbaarheid en groot verlange;
tot ons ’n helder middag skielik sien
die gras blink, en die jong graan teen die hange,
en weet dat alle rus die lewe dien:
hoe kon ek dink dat somer ryker is
as hierdie groei se stil geheimenis?
die swart klip waar jou vuur was
is byna dood gereën
hierdie grond was nie gekoop nie
sommer maar geleen
(Van Wyk Louw, uit “Klipwerk”, Nuwe verse 1954).
Die liefde le in my
Dis altyd jy, net altyd jy,
die een gedagte bly my by
soos skadu’s onder bome bly,
net altyd jy, net altyd jy.
Langs baie wee” gaan my smart,
blind is my oe” en verward,
is alle dinge in my hart.
Maar dit sal een en enkeld bly,
en aards en diep sy laafnis kry,
al staan dit winter, kaal in my,
die liefde in my, die liefde in my.
Suiwer Wiskunde
Die uurwerk kantel. En die ligbruin by
hang roerloos voor die blom wat nooit bevrug
word, nooit saad salskiet, en nooit verby
hierdie verstarde uur sal groei. Die lug
het stil soos ys gaan staan, so wit en blou.
Die brander wat wou oorbuig, val, en skuim,
bly in sy ligte sirkels vasgehou
en moet sy see ‘n ewigheid versuim.
DIE WIND IN DIE BAAI HET GAAN LÊ EN RONDOM
het dit oor Houtbaai, oor Kampsbaai
en by Seepunt wit koppe bly waai.
Maar, in die baai het die wind gaan lê:
alles wil toegesluit lyk – byna veilig -;
en ‘n seun het in ‘n blikskuitjie uit,
sakdoek vir seil
– sonder fletter -, plankies vir roeiers,
dit uit-gewaag
– want die wind oor die baai het gaan lê.
En ons bid na die berg, die wind, die planeet toe
om alles wat wind-berg-planeet se aard is
af te lê, en ‘n oomblik (‘n oomblik!)
net te broei, broei oor die vrees vir die vrees
en die ongewete roei van die seun
in hierdie kort stilte binne die baai.