Jongste aktiwiteit:

Olga Kirsch
vir

Olga Kirsch

Huwelik

‘n Jaar of wat van angs en fel verrassing,
van leer en afleer, lugtige geluk,
dan is daar kinders. Die pynlike aanpassing
wat diens en arbeid verg, die onderdruk
van self, lang dae en nagte sonder rus
maak dat hul al hoe meer mekaar beskou
as ouers, bondgenote in kommernis
en vreugde, maar bysaaklik man en vrou.

Skielik is dit ‘n afgemaakte taak.
In leë kamers sien hul mekaar weer raak –
vergete rykdom. Albei het diep gely,
veel prysgegee en baie bygekry.
In die stil huis ondek hul weer mekaar
soos, in ‘n veraf tuin, die eerste paar.

Illusie

Soms as ek in die silwer skemering stap
met oë half toe, want die ligte reën
prikkel my wange, dans en trippeltrap
verby my lippe en om my oë heen,
dan sak die stilte in ‘n klamme vlaag
oor alles, donkergroen en silwergrys
die denne, en ek slaan my jas se kraag
hoër om my nek. Daar’s iets wat eis
dat ek meteens met ligter tred moet gaan,
met tintelende ekstase in my bloed.
Dalk aan die einde van die lange laan
gaan ek jou, liefste, ylings tegemoet?

Die blokhuis

Die fondamente van die fort was vrees,
haat het die deure een vir een gesluit.
Nou loer die bouer deur ’n skietgat uit
en durf die muurskrif agter hom nie lees.

TWEE GEDIGTE AAN J

i
As jy my nou na jou toe roep
kom ek jou uit vertes tegemoet,
so diep het ek gewyk
in wêrelde van kinderherinnering
en van rou.
Geen wonder dan dat ek soms
die terugpad nie kan vind nie
en versuim om te kom.

ii
In ’n grou-vroeë oggend-uur
ontwaak ons onverhoeds
asof gewaarsku
in mekaar se arms.
Sonder woorde
onthou ons verganklikheid
en vergeet ons dit
in die kortstondige ewighede
van die liefde.

Wanneer jy weg is

Wanneer jy weg is, is ek soos ’n tuin
in die winter waarin al wat leef hom klein

vou om die sap se warmte te bewaar.
Jy is my donker wortels in die swaardeurdringbare
grond van ’n aangenome land.
Sonder jou is ek ’n uitheemse plant

wat nêrens meer kan aard nie.
Daarom rig ek teen die ysige dae tot jou terug-

koms – son deur ’n brandglas – gedagtes aan jou
hier waar boeke my stom geselskap hou

want jy is die enigste aan wie ek vertel
wat mens vertel. Jy’s minnaar, vriend, metgesel.

Psalm 8

Die eensaam hemele van my kindertyd,
God was aanwesig in hul dag en nag.
Hy’t in hul bloutes wolke wit soos kryt
gestapel, aambeeldtoppe; die hamerslag
van somer-donderweer teruggehou totdat
geen wese asem haal, geen voël durf roer.
Van ster tot sidderende ster het Hy
Sy magtige meetkunde uitgesprei
oor die swart vlak. Met sy smal weerlig-lat
het Hy in nagte van rukwind en rumoer
my oë geteister waar ek lê omring
van engele – o veilige omsingeling.
Bo in die stormwolk God die Almagtige.

Jerusalem

Op pad, Jerusalem, na jou
strek berge in die vertes, blou

en purper van onaardse kleur –
tóg alledaags; nee, altyd weer

onaards. Ploegland in ’n vallei
wat wag op saad, is hy slegs klei?

Olyf is maar ’n boom, wat meer
wil dié verwronge arms beweer?

o Land besete van die gees
van al wat was en nog moet wees!

Stede is yster, teer, beton,
stryd om te bestaan, en nietemin

Teen die blank voorhof van die pad
hoe helder, Here, straal U stad.

Mure van die hart

omdat ek my geskaam het vir jou spraak
wat in twee vreemde tale vreemd gebly het,
omdat ek my met alle mag wou maak
soos kinders van die plek, wat ek beny het,
aan wie die land en haar geskiedenis
behoort by wyse van geboortereg,
wat nie die kragte van die hart verkwis
met daagliks die geveg weer oor te veg.

omdat jy besig was, min by die huis
– met sonop uit, selde voor donker terug –
en afgemat en afgetrokke tuis
– aan tafel min gesprek en geen gerug –
omdat die stryd om brood jou oë streng
en ver gestel het, het ek jou skaars leer ken.

Droogte

Ek weet wat droogte is
ek ken die suidewind
wat waai uit die woestyn
en alle vog verslind,
die wind van honger en dors
van die leë koringaar
die grond ’n skurwe kors
die hart ’n droë blaar.

Ek weet wat droogte is
ek ken die leë put
waar die geworpe klip
vuil spinnerak versit
en die skubbige akkedis
en die adder wat sylings glip
waar nie water nie, maar stof
spring as hy skerp ontplof.

Maar ek onthou die reën
onthou die westewind
swaarweer wat nader dreun
bliksems wat wit verblind
die takke nat en swaar
die vlaktes plas aan plas
die hemel hoog en klaar
die blare blink gewas.

Swaar om te glo aan reën in ’n droë gety,
swaar om te glo dat die dorre stok blare sal kry.

Waai uit die weste, wind
en bring die reën
en vul die put en laat die wynstok rank:
kom westewind, bring rede om te seën
om te bedank.

Geil

Gedigte kan nie vergoed, is nie tot troos.
Hul geil gebied is klein,
die heinings broos.
Rondom hom knaag en knetter die woestyn.

nuwe dag, ou leed. Gister se gedig
het gister verkwik. Vandag is hy ’n tuin
gestroop van lower en omgeruk
deur die dor wind wat waai uit die woestyn.

My verse hoort aan jou, want hulle styg
uit skaduwees van ’n meer, ’n ruim vallei
tussen bergpieke waar blink waters gly
en duisend valle oor die kranse buig –
die bruising van ons dae en nagte saam.
Gebeure groot en nietig sonder tal
het wentelend deur die glaserigheid geval
om nuwe vorm te wen of te vergaan.

Geil en steeds geiler groei die donker bron
se bodem: minerale uit die rots
waarteen die waters in hul skuiming bots
en gisting-in-duisternis se voedingskrag
sterk steel en wortel tot daar, op ’n dag,
’n lelie helder oopkelk na die son.

Die erfenis van Israel

Ek sal aan jou, my ongeborekind,
die hunkerende melodieë leer
waarin ons volk van oudsher, traanverblind,
sy weedom uitgeween het tot die Heer.

Al die ou liedere se wrangverlange
van bannelinge om terug te keer
uit die diaspora met vreugdegesange
na die geile land van melk en heuning weer.

En al mag jy later, kwesbaar en beskroom,
heimlik in opstand kom teen hierdie bloed
waarin jou volk sy eeue-oue droom
in donker ongenaakbaarheid behoed,
sal jy, ontnugter deur hul norse hoon,
jou erfenis nooit volkome kan verloën.

Donkerbruin oë

Donkerbruin oë, vergewe my
as jul nie heel en helder is
maar innerlik gekwes
en selfbewus.

noudat jul insien en besef
bruin oë, wees my goedgesind –
ondanks my jare is ek soms
’n kind.

Die vrug wat ryp word aan die tak
met son en sap tot satheid toe
ontlaai sy soetheid in die monde
wat hom proe.

Maar die groen vrug breek skeurend los,
vul nie die holte van die hand,
trek bitter waters uit die tong
en skerp die tand.

Wanneer jul droef is of geraak
donkerbruin oë, vergewe my –
’n kind wat poog om kinders
groot te maak.

Geil gebied

ek wat nooit heel was en nooit heel sal word,
van kindsbeen af ’n wese sonder nerf,
het my fatale swakheid – oorgeërf
van ander of dalk geskep deur hul tekort
aan wysheid – op my beurt aan jou gegee.
en, swakkeling tussen die sterkeres, het jy
op jóú beurt bitter neerlae gely,
tuisteloos gedwaal langs verlate weë
my oorbekend. Totdat meteens in staat
tot eerlikheid, ons met mekaar kon praat
en jy, verbaas, jouself in my herken
en ek uiteindelik jou liefde en vriendskap wen.
nou is jy sterk: o breek die vloek se mag,
moenie hom oordra tot op die vierde geslag.

Joodse volk

Hoeveel geslagte het gebuk, gevlug
om die smal brug
die tenger brug van bloed en been en vlees
oor donker waters van die nie-meer-wees
vir haar te bou.
Hoeveel geslagte het my kind behou
met hulle vrees
sodat sy nou
mag gaan geklee in sekerheid van gees.

Die land is vol waarskuwing. Wat sal ons maak?
ons sal maar aanhou lewe, en mag God haar gun
dat sy in vrede gaan, in vrede kom
dat sy in vrede groei en bot en blom
sy en haar saad en hulle s’n en hulle s’n.

Die wandelende Jood

O Dogter van Babel, jy wat verwoes sal word, gelukkig
is hy wat jou sal vergeld wat jy ons aangedoen het.

God het sy veroordeel tot die vuur,
masjiengeweer, gaskamers en die graf.
Hy het hul saamgeskaar in kerk en skuur
en met die witkalk en die vlam bestraf.

En enkeles het uit die puin herrys,
krank en geknak, met oë wat die dood
se starre niksheid dra en weer gereis
deur vreemde lande na die moederskoot.

Die eeue-oue pelgrimstog hervat
met skuifelende voete en geboë
skouers. Maar aan die einde van die pad
het een hul weggewys met trae oë.

Sal God in toorn die poorte stukkendslaan
dat my moeë mense weer mag binnegaan?

Middernag

Gooi oop die voordeur, wag gespanne, want
nou sal die stille engel binnekom:
hy sal sy lippe natmaak aan die rand
van die wynkelk wat oormoedig wag op hom.

Voel jy die eeue wegvloei tot jy weer
temidde van die ongesuurde brood
en donkerfonkelende wyn kan keer
tot daardie eerste reeding uit die nood?

Soos kind verskuil lê in die moederskoot,
heimlik behoed en liefderyk omring,
rus ons in die onuitroeilikheid van God
waar alle poorte dig is teen die dood.

Dit is die boodskap wat die engel bring
met middernag . . . Stoot sag die deur op slot.

Gedagtewisseling

Klein donker meidjie, waarheen is die reis
deur kaalboom winterstrate? Huis, paleis . . .

Waar gaan jy in jou kortmou-flennierok
noudat dit skemer word? Pondok, varkhok . . .

Want ek gaan huis toe, buite is dit koud
maar binne vroetel vlamme aan die hout,

Staan gedekte tafel wit en net
en wag die sagte warmte van my bed.

Hoe sê jou donker oë dan? Jy wis
dat God die God van blanke kinders is . . . ?

Die afdraand van die dag is kil

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

(Olga Kirsch – uit Nou spreek ek weer bekendes aan, ‘n keur uit haar werk )

Vir my was jy die bron van alle krag
Een somerdag aan tafel skuif die mou
hoog oor jou sonbruin vel en ek aanskou
jou ronde boarm, bleek en bloot en sag
en ek begryp hoe listig is die dood
en trane het gemengel met my brood.

Die volgende paar gedigte is uit Geil Gebied – (Human en Rousseau 1976 – eerste uitgawe)

Nou spreek ek weer bekendes aan:

Sluit ek my oë, sien ek weer
die oë vriendelik-spottend, teer
wat my herken; my stem nie meer
geluid wat in my hoof vergaan,
uitroepe in ‘n klankdig sel
maar soos van een wat stil vertel:
jy was nie tuis toe ek jou bel.

My lewe sal gesplete bly:
Groen stamme, as die byl hul kap
kerndiep, sal nooit weer heelheid kry.
Maar aan die staallem klewe sap.

Die nag was droom op somber droom.
Vroeg-oggend staan ek, swaar en loom

van liggaam, op en klee my aan.
Ook die verdriet het opgestaan.

Saam is ons stad toe. Ongeêrg
geleun teen winkelvensters verg

hy streng verdubbeling van die leed
vir elke oomblik van vergeet.

Hy het die ete opgedis,
hy’t reels en bladsye uitgewis.

Dalk sal hy altyd by my wees –
‘n stram geraamte in die vlees.

‘n Trein se huilstem protesteer,
die nanag ruk spitshaar orent.
Waar swewe hy, gevreesde heer
van al wat leef, waar stryk hy neer,
wag hy in duister hinderlaag?
Die donker is ‘n hart wat jaag.
Die luik se ribbes steek geprent
skuins oor die bed se voetenent.

Eers was my liefde

Eers was my liefde soos ‘n woeste vaart,
oorweldigend; net soos die dwarrelwind
die najaarsblare woedend skep en woel –
die sterwende somer – het daar in my siel
gedagtes wild gewarrel, sonder toom.

Maar moeg baljaar die wind en trae blare
daal ter aarde; najaarskleure kwyn,
verbleek deur winterreën weemoedig sag.
Wanneer die wolke in die weste rus,
opeengehoop, en weerlig flikkerend speel,
weerkaats my siel die huiwering en die angs.

Maar daar het rus gekom: Soos water lê
in bodemlose kuile, waar die straal
van maanlig heimlik dring, lê nou in my
my liefde, die pen innig, sterk en stil.

Die Bloekomboom

Ek sien die bloekom in die oggend staan,
so stil en statig, en so onbewus
van al wat menseharte ondergaan
wat soek na sekerheid, na doel, na rus.

Ek sal my teen die blanke stamme druk,
die slankes, stygend fier tot lig daarbo,
tot ek weer deur my lyf voel pols en ruk
die lewensdoel, weer in myself kan glo.

Ontwaking

Die dagbreek het lispelend in my oor gefluister
en met haar dou-natte wange my geraak.
En in die misterie van die oggendduister, het ek
ontwaak.

Ek wonder, was die uur van eerste dagbreek ook so
stil,
en het die skewe bome teen mekaar geleun,
onseker, of hul soek en tas na steun?

En ‘wyl ek na die skemerbome staar,
met oë vol verwagting, sterk in jeug
en gretig om te drink van lewensvreug,
het ek meteens die stille uur hoor sug:
Jy is ‘n vlugge tikkie van die tyd.
En naak en vreesbevange staan ek voor verganklikheid

Daar is ‘n ster

Daar is ‘n ster wat aan die takke hang,
wat wieg en huiwer in die ligte wind
en bewe in die blare soos ‘n traan.

Nou heers die suiwer stilte van die nag –
maar in my siel ontwaak ‘n wilde vlam
van weemoed, klemmend om my keel geslaan

Is dit droom, verwronge, vreesvervul,
of is dit werklikheid – dalk die besef
dat liefde ook mag wankel en vergaan –
Net soos die ster wat aan die take hang,
wat wieg en huiwer in die ligte wind
en bewe in die blare soos ‘n traan?

Onrus

Die nagwind swere deur die dennenaalde,
al suisend in sy rustelose gang.
En vreesbevange stemme fluister, fluister
oneindig, en my hart klop swaar en bang.
Waar is die gulde oggendglans
van lig, die blom wat lugtig dans,
die wolkevlokkies, wit gewas
deur somerreën, bedoude gras . . .
En ag, waar is die strale van die son wat strelend rus
op wiegende dennetakke, wat hul rusteloosheid sus . . .
Waar is die dag?

O glorieryke somer

O glorieryke somer, tydperk van
volmaaktheid! Met jou wonderkrag het jy
die skugtere beloftes van die lente
tot rypheid omgeskep. Tevredenheid
heers nou in die natuur, en in die mens –
wanneer hy opkyk na die innige blou
van somerlug, en lank verlore raak –
‘n Ruime stilte, en die groot besef
dat hy deel van die volmaaktheid is,
wat onder dorre blare van die herfs
sal sluimer, in verborge, stille krag,
tot lente aanroer om herrysenis.
Die voetsoldaat

‘n Paar minute nog, en dan sal ek
alles verstaan wat dusver duister was.
Saam met die ander aandraf in die stpf
wat stikkend langs die sware wiele styg
van ystermonsters, skermend voor die dood.

Gewis weet ek dat dit nie die einde is –
Ek vra geen uitstel nie – dit is alleen
my bede, dat dit snel mag wees en vlug.

Sonlig en maanlig? God, dit is nie meer
vir my, want kyk, verbrysel is my gees,
en in die dood alleen sal heling wees.

Die najaar

Die najaar, ag, die najaar wek in my
‘n eindelose weemoed, met die blik
van vaal, verlate vlaktes. As die son,
onkeerbaar, in die westekimme sink,
en somber skadu’s oor die aarde skuif,
dan ween die hele skepping met die leed
van een verlate, dwalend en vergeet

Wye wolkswerke

Wye wolkswerke,
wit,
kalm en roerloos,
onaangetas
deur wind en wees,
middagstilte. Heer,
ek wou dat dit altyd
so stil mog wees
in my,
stil van groot liefde.

Maar ek weet
die wind sal kom,
skeur en wreed pluk,
ruk aan die wolke tot hul slap hang,
vuil lappe in die lug.

So ook my stilte.
Afskeid, afskeid bring
vaal vlae waar wit wolke was;
waar stilte was,
leemte

Galatea

Eers was sy maar ‘n marmerblok,
blank en koud,
met fyn, grys are.
Maar ek het my beitel opgetel
en háár geskape, skadu van ‘n droom.
En in my hande, juigend deur my bloed,
was daar ‘n vreug van skepping. In dié gloed
was ek nie meer ‘n mens – ek het gegroei
tot God.

Slank was haar ledemate, en haar lyf
was lenig; so het sy gegroei vanuit
my hande; sagte kurwes was haar bors.
Haar oë, ag, ag haar oë het my siel
gemartel en geskeur, want hul was diep
van skaduvlekke, soos die skemeraand.
Haar hande, ook, was lank en delikaat,
met vingers wat die snare van ‘n harp
sou streel, en brose note daarop wek.

Maar met my beitel kon ek haar, helaas,
nie lewe gee nie. In haar oë was
‘n stomme smeekstem – o, die bitter las –
Sy is tog koue marmer uit ‘n grot,
en ek is maar ‘n mens – geen god, geen god.

As die suiwer maanlig

As die suiwer maanlig op die strate rus
en die bome lang, swart skaduwees werp.
Voel ek die trilling van verborge snare,
ontwaak herinneringe van my kinderjare
in my.

Weer sluk ek diep, met heel my siel en wese,
die geur van nat, swartt turf na somerreën;
merk ek hoe plasse water strek, aaneen,
hoe kafferstemme luid skel deur die lug,
ruim na die reën.

En met die stil gewydheid van ‘n kind
druk ek my teen die sifdraad op die stoep,
staar na die kruis van die mistieke maan
wat rond lyk weer as ek na buite gaan.

Bewe van blinde blydskap en geluk
wanneer die son weer styg, en blomme buig
onder die las van dou; praat met ‘n blom,
liefkoos en kus dit; wonder, is dit dan stom?

Snags as die tuin in blank misterie slaap,
dan groei daar in my gees ‘n hunkering
wat vreemd-onstilbaar is; wil ek my wreek
omdat ek nie begryp, en snik ek of my hart wil breek.
– – –
As die suiwer maanlig op die strate rus
en die bome lang, swart skaduwees werp,
voel ek die trilling van verborge snare,
ontwaak die drome van my kinderjare
in my.

Al die onverstaanbare verlange

Al die onverstaanbare verlange,
al die verwagtinge, die vae drange
van ons jong liefde, ken ek in die skemeraand,
wanneer die miste langs die hellings swel
en val, stilswyend die bleek, vaak sterre,
uit hul voue skud, en wegwyk weer na verre.
Dan voel ek weer my siel verruim en vul
met daardie skoonheid wat ons liefde is –
soos eens, toe ons tesame was, omhul
deur awendmiste wat in wipse krul,
toe ons vervul was van ‘n stil genot
wat mens so menslik maak, so na aan god.

Pelgrimstog

Lank het ek daarna gesoek, gekniel
tussen die smekende skare in die skaduwee
van kerkpilare; maar dit was nie daar nie.
En ek het steeds gesoek: Die tere groen
wat aan die swart verwronge takke bewe,
nog voor die kreukelende winterblare
verwyder is, ken hulle die geheim
van dood en lewe, en die mens se strewe
na geluk; en ken hul God, die heimlike, eteriese?
Maar hul het net gesidder en geswyg.
Toe het ek my verlustig en verdiep
in al die klakerykheid va musiek;
dit het gebruis in my are, swaar geslaan
agter my slape: Weet, ek het geraak
aan die hoogste sterre van die firmament,
gestruikel in die ruigste struikgewas –
maar ek het steeds die duisternis betas.

En plotseling, toe ek in jou oë kyk,
en daar jou liefde sien, ‘n warm gloed,
moes ek my oë neerslaan en verhoed
dat daar nie trane val nie. Want ek het –
in wederliefde wat bo selfsug styg,
deur jou – gekry wat so lank wou vind;
die hoogste sterre het ons blik verblind!
En wilde blydskap het my hart omwelf;
Jy het my groter gemaak, groter as myself.

Gaza

Die wilde klingelklanke van die tamboeryn,
en die vol akkoorde van geplukte harpe;
die jubelende juiging van die Filistyn,
lywe wat wieg en buig, geurige wyn
en dawerende lofsang.

Maar Simson het geen enkele klank gehoor nie;
hy het sy slapelose hoof geleun
teen ‘n pilaar, en uit sy siel gekreun.
Want voor sy blinde oë was die verlokking
van haar beeld, en in die dieptes van sy siel
die marteling van haar aanwesigheid:
Ag, Delila, lenig, slanke, lifelike Delila,
met die swart glans van haar gladde hare,
en die onstuimige gloed van warm bloed
onder haar donker oë,
Ag, Delila, die verleidster, die verraaster, die
begeerlike.

En plots’ling, soos ‘n wrede steek van pyn
deurdring tot die bewussyn, het ‘n klank –
die luide hoonlag van die Filistyn –
sy trae bloed versnel en aangejaag.
“Here, Here, dink tog aan my en
versterk my tog net hierdie keer, o God,
dat ek oor een van my twee oë my
op vyande kan wereek,” het hy gekerm.

En waarlik, met ‘n trilling deur sy lyf
het hy die krag voel sty gen klop en bruis.
Dit het sy hele wese volgestroom,
sy siel gereinig van vernedering
en van die lokking van begeerlike
Delila. So het hy die dood ontbied,
bruisend en kragtig, onbevrees, gewreek.
En met die gespanne spiere, jubelend, het hy
die kettings van gevangenis verbreek.

Nag

O nag,
nag wat die strakke bome laat verslap
en teruglê in jou strelende omhelsing,
totdat hul langsaam wieg en asemhaal
soos slapendes – Neem my ook aan, o nag,
en skenk my stilte en verlorenheid
in droomlose slaap. Ek is so moeg,
moeg vir die woeding van Augustuswinde,
sat vir die warreling van asvaal stof
en vir die hol luidklinking van my eie
voete, op die eindlose pad
van eensaamheid. O nag, onmeetlike,
maak my deel van jou onmeetlikheid.

Wek my een stille oggend as die lug
swanger is van belofte, en die aarde,
swaar bedou, die seën van vrede ken.
In so ‘n oomblik as die toekoms lok
en alles moontlik skyn; as skoon en broos
die lewe, soos half-ontloke roos.

Daar is net pyn

Daar is net pyn in die ontwaking van
dié lente, pyn en dieper pyn.
Pyn in die ontvouing van die fyn,
groen blare,
en in die fel verassing van rooi bloeisels
teenaan die heuningkleur van baksteenmure.
Die warm geur van songestoofde grond
dra meer as die belofte van verpakte skure:
Herinnering aan vervloë lentevrug.

My liefste, is ons lewens so verknog
en teer ineengeweef? As dit so is,
dan sal my hart geen bly vernuwing ken,
geen lentelied, terwyl die tyd ons skei.
O draer van die lente, kom na my!

Purper irisse

Ek wens ek was soos die purper irisse
wat elke oggend diep drink van die suiwer dou,
wat, as hul kelke die verkwikking hou,
die lug bedwelm met ‘n soet swym,
totdat dit swaar hang, soos ‘n diep geheim.

En as die daglig kwyn en die groen bome
wegsterf met ‘n sug, wanneer die lug
leef van kleur, dan sink hul langsaam terug,
die irises, soos kinders slaapbevange, stom,
tevrede in die wete dat die dou sal kom.

Die gestorwene

Hoe onuitspreeklik stil was jou gelaat
na daardie laaste oomblik, toe die pyn
van vae verbyst’ring in jou oë skyn,
en jy terugval sonder om te praat.

En in die nanag toe daar kerse brand,
eensaam en suiwer, by jou kille lyk,
het al die strakheid om jou mond gewyk
soos sorge voor die streling van ‘n hand.

Maar joune was geen doodslaap nie, al het
die sagte toonval van jou stem geswyg
onder die dorre kluite van die grond.
Al wat jou onvergantlikheid kon dreig
was dat ons mag vergeet. O weet dan, met
die gang van jare groei ons stil verbond.

Twee populiere

Jou siel en myne
was in die bome,
wat teen mekaar geleun het,
mekaar gesteun het,
hul fluisterspraak
skoon van ons drome.

Jou stem en myne
was in de blare;
in hul ligte tinteltaal,
hul silwer glinsterstraal,
‘n liefdestem,
die diepe, die ware.

Jou siel en myne
sal bly in die bome;
die sap in hul are,
– krag van die grond –
die kus van hul blare,
– hoe teer was jou mond –
hul vlugge omhelsing
sal ons s’n wees,
tot werklikheid kom,
veel skoner as drome.

Aan ‘n ou vrou

Onthou jy nog die hartstogte van jou jeug,
die skok van lowergroen teen hemelblou?
Kan jy die pyn, die pyn van lentevreug
wat trane in jou oë bring, onthou?

Het jy vergeet dat liefde jou was,
groot en verblydend, dieper as die vlees?
Is dit ‘n droom dat die die skepper was
van kinderlewens, vormer van hule gees?

En weet jy nou allenig dat die son
welkome warmte bring, die lange nag
‘n marteling van pyn wat knaag en kou?
Wag jy nou stil, want voor jou lê die bron
van skoon verlorenhede, in die mag
van stilte, waar jy alles sal onthou?

Diep uit die donker aarde

Diep uit die donker aarde, swart van krag
oneindig, styg die wonder van ‘n boom,
en groei en strewe tot die sonlig lag
en flikker sy blare, en die loom,
lui middagwindjie in sy arms beswyk.
As die nag sy blye juiglied ruis,
dan sing hy van die lewe vol en ryk
wat kragtig in sy breë are bruis.

Dit is dieselfde krag, dieselfde lewe
wat in die bome skuil, wat soos ‘n skim
van lewe in wit vlindervlerke bewe,
en staar vanuit die diep, intense blou
van die fyngevormde delfinium,
die krag, my liefste, wat my bind aan jou.

Daar mag net een gebed

Daar mag net een gebed, één bede wees
vir on swat langs die duister weë gaan
van vaal verlatenheid, en in ons vrees
gryp na die blydskap van ‘n korte waan.

Vir ons wat daagliks in koerante tuur
en blindelings ons gedagtegang moet sluit,
omdat dit steier langs ‘n hoë muur
of terugdeins waar dit teen die toekoms stuit,

maar een gebed: Dat ons in onse tyd,
en ander van die komende geslagte,
die wonder mag herwin van groot geluk,
van liefde wat ontplooi in maanblou nagte;
van gulde sonlig wat die siel verruk,
sonder die kanker van onsekerheid.

O dat my siel kon styg

O dat my siel kon styg en styg tot God
op so ‘n klare dag, wanneer die reën
gelispel en gelawe het, en vlot geruis
het in die nanag alomheen.
Styg waar die jakarandakelke dryf
soos droomgedagtes in die stille lug;
die bleekblou lug waarteen die bome vryf
en skuur, en steun met hul geboë rug.

Want God het al die wondere gemaak
van lewe wat verskyn end an verlep
om weer vervang te word, en te verbly.
En van sy wonder het hy my laat smaak –
Ook ek het iets volmaak en skoon geskep,
iets onverganklik – ek het liefgekry!

Eens lank gelede

Eens lank gelede (want dit voel vir my
asof jy eeue weg is), het die nag
niks meer gedra as blydskap, as ‘n vrag
van sterre, die besef van jou en my.
Eens, lank gelede (ag, onwerklikheid,
hoe broos was dit,) toe daar in bleekblou lyne
die maanlig binnestroom langs die gordyne,
het ons gedroom van onverganklikheid.

Maar nou begryp ek: Daar’s ‘n ander nag,
(of is dit nog dieselfde), waar die lang
maer vingers van ‘n soeklig tas, en wag
op ‘n vliegtuig se egalige gesang;
waar siele, die ontlokenheid ontsê,
en skoon jong liggame, gebroke lê.

Iets het gesterf in my

Iets het gesterf in my met jou vertrek;
iets wat ekstaties was, en bly-spontaan,
onverantwoordelik soos ‘n lentewaan,
het drup-drup uit my wese weggelek.

Iets het gewyk . . . Og, dat ek kon ontwaak
uit hierdie sware trans, en weer geluk ervaar,
oorstelpend groot, of wurg en sluk
van smart! Maar ek bly koud, onaangeraak.

Dan sal ek maar berus, al is ek stomp –
gevoelloos van verlange. Want ek wag
dat alles wat my ontwyk het, en ontsag-
lik veel dat jy moet aanvul, soos ‘n blom
in my sal oopvou op die blye dag
as jy vanuit die vertes huis-toe kom.

Dagbreek

Vanoggend – in die bleek, onsekere lig
van dagbreek – het jou welbekende stem
diep ontroerend geklink? Het jou gesig
my hart meteens van hunkering omklem?

O sê my – want die lig was vaal, onseker,
en skaduwees het gehuiwer langs die wande.
Die oggendster het vaag geword en bleker –
was dit die vlugge teerheid van jou hande?

Ek weet nie, maar ‘n stilte het gebly
na al die nagte, slapeloos van vrees.
Die myle het gewyk wat jou van my
geskei het, en die tyd van samewees
kom seker. Liefde, o so breed, so groot,
sal seëvier oor die dreiging van die dood.

Die jonge moeder

Dit is asof die aarde deur jou spreek,
so kalm is die verwagting in jou oë.
Joune die waardigheid van stille, hoë
bome, in ‘n sonbeskene streek.

Dit is asof die aarde deur jou spreek,
want in jou wese bot ‘n vreemde blom
wat onvermydelik tot volmaaktheid kom,
soos branders eindelik op die seestrand breek.

Maar in die wrede uur van skeppingspyn
sal jy jou hande uitstrek tot jou God
in nederige erkentenis: Sy gebod
het lewe toegeken aan groot en klein.
En, na die wonder, as slaap jou sus,
sal op jou stil gelaat Sy glimlag rus.

Herfs

Reeds sterf die somer, so kortstondig was
die dae, ryk aan die sonskyn, bont van kleur.
Die rose, rooi en gloeiend, blank soos was,
is weg en oral sweef die ligte geur
van lewe wat verval. Die najaarskwas
het vlug in die verbygang geel en vaal
gevee oor blare, huiwerend en onvas.
Hoe droef hul dwarrelgang, en hoe finaal.

So was dit altyd: Toe ek in my hart
gejubel het, verblind van liefdesgloed,
het plotseling vae prikkelings van smart
soos skaduwees gekruip oor my gemoed.
En blye woorde het tot pyn verstom,
vanweë die herfstyd wat met skeiding kom . . .

Daar het ‘n bron van krag

Daar het ‘n bron van krag in my ontwaak,
so onuitputlik as die groot natuur.
So diep dat twyfel nie my hart sal raak,
nog huiwering, in die nagtelike uur.

Nou sing my siel met blye intensiteit
dat, seëvierend, ons geluk sal kom,
so seker as die rype somertyd
volmaaktheid bring aan al wat bot en blom.

So sal ek gaan in heimlike geluk,
en in my stilte sal ek put en bou
uit hierdie nuwe rykheid van my gees.
Die weekheid van my vrees moes ek verdruk
dat nuwe kragte in my kon ontvou,
dat ek jou liefde waardiger mog wees.

Hoe sal ek jou bedank

Hoe sal ek jou bedank vir al wat jy
aan my geskenk het met jou liefdeswoord:
Die duisternis het lig geword om my,
en in my wese strek ‘n vreemde oord
van bly gedagtes, waar ek wandel tot –
dat skadu’s lank rek in die skemeruur.
Onwetend het jy my gelei tot God, e
k het ‘n kind geword van die natuur,
‘n ingewyde in haar stille wet.
Hoe sal ek jou my dankbaarheid getuig?
O lief, dié lyding om ons liefde het
‘n ryper wysheid in my siel gesmee;
ek ken nie meer my kragte nie, ek juig
net: Liefste, ek het soveel om te gee!

 




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed
  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • MC Horak het ‘n nuwe publikasie gemaak

  • Lollie het ‘n nuwe publikasie gemaak