Jongste aktiwiteit:

Petra Műller
vir
0 views

Petra Műller

Uit: Die aandag van jou oë
Digbundel deur Petra Muller

Die aandag van jou oë

Ek kyk nooit na jou oë nie. Ek weet:
die aandag van jou oë, op ‘n ander horison gerig
het my vergeet.

Ek kyk nou na die grond. Kyk stip –
want ‘n bekendheid daag my
uit die naaste gras en klip.

Die aandag van jou oë, toe dit my verlaat,
het my die groen en bruin gevlekte skoonheid
van die aarde nagelaat.

moenie dink
moenie dink dat ek jou nog
sal liefhe nie
vergeet vergeet
ek hét dit in die taal
waarvan jy self gesê het:
witvergeet
die kruie – nee, die bossie:
‘n woord eenmaal gehoor
waarvan die onbeskrewenheid
jou destyds
kon bekoor;
die veld weet niks van vrees
nie: stilweg sluip ‘n klank weg
en sal weer bossie wees

Malaika

Vyf maal uit my lyf gesweer
en toe verkwansel aan die lug –
kom jy elkers soos die dief
na die boosheid terug.

Oopgebloei en sonder kwaad
in die noute van ‘n kloof –
waarvan het jy my
op hierdie plek beroof?

Vir jou was daar drie paaie
wat in die laagte knoop –
‘n enkelpad se maanhaarkam
is wat ek loop en loop,
en as ek laatnag op die kruis
my lyf vanselwe gooi
dan bloei jy uit my nawelstring
soos sondigheid so rooi.

Die doekom het my jou beloof
toe hy die wimpel stryk.
Nou wag ek dat die rooidag kom
en was my met die slik
en was my met geneesbossie
se sewedaagse blom
en luister hoe jou voete
oor die fyn stof na my kom –

Dat ek die sterpad weer kan kry
en op die kruising sing
en huil omdat die donkermaan
my by die noute bring.

kruis: kruispad

In die uitgrawing
By jou versukkelde liefde
het dit nou vir my laat geword
Daar is niks meer te laaf nie.
Niks roer.
Die vaal dag en die besies en die bedelaars is doof.
Verpluk in die kluite, stukkend, lê ons rykdomme.
Wat kir hier soos horlosies?
Hoor hoe stil het dit om ons geword.
Daar snufful niks meer nie.
Die rumoer is verby, die jammerende tewe,
die milisiehonde verby.
Moenie nou al,
moenie nou al gaan nie!
Kyk wat ek saamgebring het: murgbene, kurpers, goiing
dinge vir ons nes, bedels, bedels bedels!
Die reën het opgehou, die notisies is verskeur,
ons vingers in in suur gewas –
Jou purperhande beef, maak toe, maak toe, want dit
is die oomblik dat die lug regmaak vir ryp;
maak toe nou, ánder het die moord gepleeg
nie ons nie.
Môre is ‘n ander dag. Môre is dit wit soos gister;
kalk gee op, niks speur oor kalk, kalk gee oor
Hier snuf niks meer
Jy is siek en luister:
luister
luister –
uit die binnewerke van die malmusiekie kom ‘n lied

Om die gedagte van geel
en langs die pad
die wintersgras
‘n pels wat al hoe digter pas
o laat my nooit vergeet nie
– want ek sal eendag sterf –
hoe bewertjie
die gras vannag

deurskyn
in die keel van die gekko
klop deurskynend lewe; hy het nie so
geword nie, hy was nog altyd so
sy smagting is na die een
wit mot wat versot is
op wit lig
hierheen kom die gekko aand
ná deurskynende aand, met sy prehensiele handjies
teen die ruit geplak
sy kake geluidloos oop
o begeerte! – en onstuitbaar
waar dit wegval deur die sku gedig
Rivierboord (pa en ma, ter herinnering)
selfs ‘n gewone mens kan herinnering afskil:
die yslike nawellemoen
wat sy vorm ook
tot in sy afskil hou
en wat prut hier eenkant uit
soos ‘n naelstring nie behoorlik
afgebind nie –
nog ‘n nawel, nog son, ongedoop, ruig,
‘n geel-al waarvan ek die taai sop
tussen al agt vingermikke uitsuig
ek bly hier sonder taal staan; hier
kan hulle my kom haal

naweek op die dorp
liefhê is erger as kerkbasaar: jy kan jou lyf
maar skraal hou en agter stoele inskuif onder die gebed
om vir ta’ San Steyn, wat die voorste bakker
van ons omtes is, met die elmboog te beduie: jy wil
dié lemoenkoek met die oranje skilskaafsels
en die okkerneutklonte hê –
maar dit sal nie so gebeur nie, dis vir dominee
bedoel
en reg oorkant jou, kyk, staan hoeka ‘n seunsmens
met sy hande voor sy mik gevou
jóú oop-oog en beskou

Gety
Klaarte is nie hier nie: klarighede moontlik,
maar nie klaarte nie. Niks is klaar nie
tussen jou en my. Dis alles aan die word,
gedurigdeur. Die golf het aangery gekom
en oorgestort; dieselfde water bly. Dis ons
wat in die golf geskyn het toe ons nog
dolfyne was. Die golf het aangery
en oorgestort. Die water bly,
ons bly dolfyn

“Lumen”
illuminasie is nooit stil
lig kan nie tot rus kom nie
val sus
val so
bly hang in wimpers
en in reënboë, selfs ná
die wintersdag verstryk het
dit is vir my verskriklik:
hierdie inkyk in jou oë

Sheba, haar lied

Ek het jou van ver gewaar, my Broer.
Hoe mooi is jy nie!
Jy het vir my gevoel soos iets wat groen is,
koel om aan te raak, ‘n plant wat stroom in water.
Vanuit die dieptes van jou oë,
en die ingehoudenhede van ou ledemate
het ‘n stroom na my gevloei soos uit fonteine.
Jy het my jou woning gewys, en my aan my hand
in die tempel geneem
sonder om ‘n menswoord te sê.
Was ek nie toe ook reeds ommuur nie?
Daar waar ek was, het ek regop gestaan op aarde:
dit was ons twee saam wat so gestaan het.
Jou asem het verstrik gearaak met myne, soos die rankies
van die nuwe wingerd wat bly tas-tas na mekaar.
Ons het saam na die oneindigheid gesoek.
Ek het jou toe bemin voor ek dit ooit geweet het.
Nog altyd is dit so.
As ek my vensters oopmaak in die oggend
groet ek die rooidag in jou naam.
Daar is ‘n blomgeur in die rondte – die klein bleek
blomme van die druif het reeds ontvou
Nog voor die son my huis getref het.
As ek uitstap in die oggendlug proe ek die wyn
wat nog moet kom.
Ek hou my woord met wat nie goed gesê kan word nie.
Want die tong is ‘n deugniet en ‘n danser
en ook die wynpers van die soetigheid,
die tong waarmee ek hier jou skoonheid opnoem
en die donker fermentasie van jou bloed.
Jy is ver van my, maar ek is naby jou.
Ek het jou teruggeskink tot in my binneste;
dit is daar dat jy bly leef.
Ek voel jy loop in my gebeente af soos wyngees self.
Dit is ‘n wonderwerk wat my omgeef.

uit:”Die aandag van jou oë – gedigte vir die liefde” deur Petra Müller

vir eraine, wat sing terwyl sy skilder

noudat dit winter word, verdonker jou palet:
jou berg groei bonkig uit én swarter bron
en moet sy blou veeg van die bo-lug leen,
en die ploegland, purper soos én wond
waar storms dit getref het, kan skaars
die lading lig dra
van die junieson
jy beweer: die sonskyn van die somer kan nooit so
genadig wees soos wintersonskyn nie; verf set
nou so stadig, daar is altyd tyd genoeg
om én te diep bewoë skakering van donker nog
te bewerk vir die ervaring van die lig: geel
op dooigras van die werf,
selfs, waagsaam,
oor water
én flonker
maar dít wat jy eintlik wou skilder: die musiek
van die wilde onsigbare strome (suiwer mozart
in én yl seisoen) dit moet vermoed word,
dit laat jy aan die ryker toeval oor,
dit moet stroom van kwas tot kyker
soos die klanke van jou eie noemnaam, onverwagse
kleine dagmusiek, wat van een taal in die ander
moduleer van vrede tot by reën

Amsterdam
Petra Müller

Die grag is eindeloos omdat dit
wegval in ’n waterweg. Refleksies wel, en wieg.
Daar daag ’n vaalveld uitgestrek tot aan
’n horison, en bo die horison die geel son
van geregtigheid. Die vrou staan stil, sy trek
die tjalie digter om haar tenger lyf en keer
haar stadig na die graghuis om. Maar kyk nog
eenmaal terug: ek het dit reggekry om nie te lieg.

Voortvaar

elke dam het sy reier,
’n witte, so wit soos jou hemp
in die skemer – nee, nie so wit nie,
jou hemp was witter, hoewel dit nou nog nie skemer
is nie, soos dit destyds was
en nog steeds is jou hemp die witste
want dit sal weer skemer word

Vellum

Ek het leer indink in jou lyf
en perkament getref:
een onondekte vellumrol
langs een bekende dooie see
waarheen ‘n bokwagkind
oor nog ‘n eeu of twee op weg is
(bok wat koggel, vlug).
Langs hierdie dal wat dieper lê as aarde
en in sy bekken sout vergaar
is ook die grote langs die rante brak
en dooies sterf nie
maar bly hou,
of dryf
– die godgeslaandes wat dit hierheen maak
en in die helder lig
‘n bok sien koggel, vlug:
Kyk vorentoe,
kyk terug – die seun is vlug,
hy werp en tref, ‘n kleipot breek
en woorde stort die donker uit
‘n bondel wat soos liggaam lyk.

En wie daarna in grotte flenters delf
en wie in afgedigte sale enkel woorde werf
is, toevalskind, soos jy en ek,
die draers van ‘n testament
– ‘n bok wat koggel voor ons uit.

Die dal is wit
die bok is swart
en iewers
skuil die lam.

Bo-vertrek

ear blossom and cherry blossoms aim at me.
Their strength is crumbeling but they never miss.
Osip Mandelstam, Woronezj, 4 Mei 1937

Opsolder, by gewone diewe
met witbrood en vrugte,
by kerslig,
sit Mandelstam, die opsêer,
en sê.

Nou gaan hy waarlik heen:
die kers beroof hom van sy lig,
die brood beroof hom van sy kos,
die solder van sy tuiste in ‘n wye vaderland.

Ek beveel jul, diewe van die aarde:
roof uit die digter Mandelstam!
Gryp nou sy warm, bloederige woorde
prop dit in die diewesak
en wandel soos die duiwel
oor die dakke daarmee heen.

Want diewe het ‘n vrypas, hier.
Sing luid: die digter Mandelstam
het eindelik heengegaan!
Wan uit die woordemaker Mandelstam –
gooi my sy naam voordat dit uitbloei

sodat hier:
die man by die amandelboom
(inkennige amandelboom!)
sy blomme uit die stam kan haal
en bloei
en bloei sy spierwit landskap vol.

My plek se naam is Waterval

sy hang haar vlae wyd
oor rante oop … draal nog dae
sleep nog ver

o suster van die yl karos
ek roep u uit die vaalte los

met miere, haas en wildegans
begin ek stadig, hortend dans

’n kleinwild wat die tekens lees
om spoortjie van u spoor te wees.

Stadig sweef

As ek soms nog die paar pelikane oor die stad sien gly
dan voel dit my Verloorvlei is tog nog steeds aan Rondevlei verbind;
ok dieper in Afrika, Chobe byvoorbeeld, waar ek pelikane
soos trosse ou en jong rose langs die waters sien sit het

om dan met klepperende bekke in groepe die stroom in te sak
en onsigbare vis in te hok vir die vangs.
Ronding na ronding was dit.

Wat gebeur hier: visse wat silwer, voëls wat roos is
en kringslaan soos vlote van skepe?
Die toeval, geslepe soos altyd,
bring my ook hier in …

Pelikane moet aanhaal en swaar styg en hoog sweef.
Moet altyd afstand opweeg teen vlerkspan; moet elke aan-haal
opweeg teen die moontlik voortydse afdaal na onder,

al roep ek ook die lengte van ’n Groot Meer vir jul op
en ’n vlugtige skittering onsigbare vis.

Selfs ék het eenmaal in die nag in Vloorvlei se riet
tussen julle gestaan en gevoel hoe vis
verwilderd om my skiet. Die eenmaal was ook ek omkring
deur geweldig die vlerke wat my toe nog nie geskik bevind
het vir die gevleuelde werk.

Ons sal nog sien wat eendag gebeur
as ek my op my eie bevind
bo die eventuele oopte van die Meer.

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

Gedig vir die klein plasie

Jy is so anders as dit reën.

Jy is diep versadig, soos ‘n liggaam
ná liefde.
Jy skop gedagtes los uit hul lêplekke.
Die bome sê tik tik tik
en word dan stil
Dooie blare op die grond krul
na die lewe terug – is dit nie die grootste gebaar
van die liefde nie?
Mos maak oop, sommerso.
Sampioene groei.
Die dam, wat gister so behoeftig was –
in die diepte van die dam is ook die vrome visse
van hul dors verlos.
Uit die klein jort van die mense
styg daar nou ‘n rookpluim, van onder
belig deur onsigbare vuur.

Dit gaan ‘n groot nag word.

Om die gedagte van geel:

Niemand kan teen die nag in
praat nie,
al het jy dit hóé lief

lampe gaan lateraan dood, soos rose
– ek sien dit – as ek bewende lig in die nag maak
grrts-grrts met ‘n vuurhoutjie
wat nie wil vat nie
die nag is ‘n vrou soos ons
vroom van klank en betroubaar

sy sê vir my: wees nie bevrees nie
ek antwoord haar nie

ons verkies dit so,
ons twee

  • ***

Nou is die oomblik verby. Maar toe
was dit daar, en jy was daarby. Gewees –
ek kon jou voel. Jy was meer as tevore, jy het
teen jouself uit gebeur, na my toe.”
 
Laat lig
 
Ek vergun my die glas blonde witwyn
en ter jou herinnering.
My tong en my lippe herken dit: die smak
van eenmaal se aankoms op aarde – mededeelsame
moer van liggeel wyn.

En die druiwe hang soos tepels onder die blare
waar die laaste lig nog sloer.

Wié onthou die fynheid van die weggesteekte
druiweblom – ganse hange vol daarvan?
Wie kan waag om te vergeet?

So is die aand dan volgeskink
lank voor die nag sal kom.

Opsolder
 
Die ganse solder was appelgeurend – van die klein
verskompeldes,
met die taai skil – die rooies. En slope vol fisantvere.
(My pa was ‘n jagter, April was sy maand.) O,
daar was sloepe vol lewe, wat uit vleie
gedraf het, op oranje beentjies,
die appelboord in,
met kort vlugte óp.

Daar was geen verbod nie. Ons mog daar opklim
en die hele middag omdroom tussen appels en vere
en ander prik-prik-geure losgebak
deur son op warm sink.

Daar was soveel ingehoue glans daar, en stof,
en skrif-van-die-blink-middag buite, en nóg
stof. Want stof is onverganklik,

waar dit skuins hang in die ligstroom
uit die skroefgat in die dak.

Nog eens die verlore seun

Die pad verwag jou, en jou voete weet hoe dit ontvou.
Die platgevatte deurknop herken jou greep.
Die alzheimer-ma onthou nie meer heeltemal nie, en jy is bly
want hier sit die gepynigde pa. Hy onthou.

En daar buite staan die geduldige vet kalf
en vreet aan jou hele verlede
wat eintlik nog tussen die akkervarke luier, daar dóérr, waar jy was
en jy wens jy was nog by hulle.

Al wat jy hoef te doen, is om jou hand in die bekende
groet te lig. Te lag.

Dit verg meer moed as wat die oomblik van vervulling
kan verskaf. Waarvan ons praat. Boonop is dit tyd
dat ons die eenvoud van die onskuld moet verlaat.

voetpaadjie
 
… om nie te weet waar jy is nie, is heerlik:
Dit is wat die vaalte van die voetpad aan jou doen,

jy – verknog aan kinkels tussen bossies wat jou por en por
verby die dooie paddavisse in die droë sloot,
die vinkel skoongevreet deur somerwurms, die skerwe bottelglas,
die roesploeë, tot by onverwags die werfie waar ‘n bruin vrou

lakens op die bleik gooi en orent kom met haar hand
op haar kruis: “en jy dan,
is jy nie die sersant
se kind nie, wat maak jy hier?”

en skielik weer: die skemer kombuisie waar die kind sit
langs ‘n blougeverfde tafel, met nat suiker
op ‘n sny natbrood, terwyl ‘n ou vrou oor ‘n kierieknop

haar bekyk, en later uit haar borsbeen
voorbring ‘n fluistering:
“kinnie,
het jy lekker verdwaal?”
wintersnag I

vermindering sluit elke dag
’n kleiner sirkel om jou enkels en polse

nou kan ek die voorste van jou arm tussen twee
gekringde vingers vat: die onvoorspelbaar perfekte
sirkel waarna die oudste vervoering soek

so moeiteloos voltooi
in hierdie miniskule omhelsing

– en daar is oorgenoeg vel
om ons al twee te bedek teen kou

en weëmoed, en gras wat roer

(Uit: Die aandag van jou oë: gedigte vir die liefde, 2002




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed