Pieter Hugo
HONDE
Ons honde blaf opgewonde
by die voorhekkie toe ek van die werk af kom.
Op die tafel lê ‘n briefie.
Hulle smeek keffend vir ‘n stappie.
Ek steek jou briefie in my sak
en ons gaan uit.
Die honde blaf uitgelate
toe ek hulle in die park loslaat.
Hulle snuffel oral vir verlore skatte en
ek sit onder ‘n boom en lees jou briefie.
Later blaf hulle al om my bene vir aandag.
Ek sit met jou brief,
met die brief in my hande.
Die honde blaf heelpad huis toe,
sleep my saam van hek tot hek.
Ek smyt die stuk papier in die drom,
gee die honde kos,
staar na die TV,
klim by jou
reuk in die bed.
© Pieter Hugo (Uit: Nuwe Stemme 4, 2010: Tafelberg)
Die digter se kategismus
my enigste troos
in lewe en in sterwe
is dat my verse
vir ewig sal
voortleef
of totdat
geen tyding van my taal
bestaan
of totdat
alle papier
versuur
of totdat
alle atome
ontplof
***
ag hemel tog
daar is ook alewig ’n
totdat
Die koue front
Ons lê styf teen mekaar in die bed.
Twee moeë lywe se yl verweer
om ons van die koue front te red.
Die oeroue spel van die lyf het
ons lankal reeds uitgeredigeer.
Ons lê, styf, teen mekaar in die bed.
Met lang gesprekke slaag ons, net-net,
soms, om van die krake toe te smeer
om ons van die koue front te red.
Net die nostalgie bly oor, maar met
hopelose hoop bly ons probeer:
ons lê styf teen mekaar in die bed.
So verstar ons in ‘n kil verset
teen erkenning van ons binneseer
om ons van die koue front te red.
In ‘n skril, makabere ballet,
weerskante van die kloof vasgekeer,
lê ons styf teen mekaar in die bed
om ons van die koue front te red.
Die groot dag
miljoene jare gelede het lig vanaf ’n ster honderde male groter as
ons son
teen meer as ’n duisend miljoen kilometer per uur gereis om
ons planeetjie
aan die rand van die Melkweg op ’n maanlose nag in die
wye Groot Karoo
as ’n skaars sigbare ligstippeltjie te bereik en saam
met nog biljoene sterre
maar net help om die stikdonker nag te beaam
dit vat ’n Karooskaapboer wat
met sy vroegoggendkoffie vanaf
sy donker agterstoep die dag inkyk
se geoefende oog om die trop
slapende skape daar naby
onder die doringbome
in die dipkampie
te kan uitken
maar op
een
van die kleinerige maer hameltjies
naby die rand van die trop
natuurlik onsigbaar vir die boer
is daar twee vet bosluise
ernstig in gesprek
met watter bogpraatjies
loop jy te koop
dat daar bosluise op
ander skape ook kan wees?
jy weet net so goed soos
ons almal dat ons
die enigstes
die uitverkorenes
is en dat ons net op
hierdie een skaap leef
ek het maar net
gewonder
of dit nie
tog
moontlik is dat daar
dalk
ook bosluise op ander
skape is nie
want hulle lyk darem
eintlik baie soos ons skaap
nee!
dit is onmoontlik!
ons is lank gelede
met uitsonderlike sorg
deur die Groot Boer gemaak
nadat hy ons skaap perfek
vir ons behoeftes geskep het
het hy ons
een vir een
met Sy Heilige Hand
hier neergesit
sien jy dan nie elke dag
hoe hy die trop versorg
maar veral
hoe hy ons skaap nog
meer as
al die ander vertroetel nie?
ja maar
hoe weet ons
dis regtig soos dit gebeur het?
het ons nie dalk sommer net
in die stof uitgebroei
en heel toevallig
op hierdie skaap geklim toe hy
gaan lê het nie?
en
het jy al ooit daaraan gedink
dat die Groot Boer
dalk net
eerder die skape versorg
as wat hy vir ons omgee?
heiligskennis!
hoe durf jy sulke gedagtes kry!
en dit boonop nog hardop sê!
het jy dan nie al gesien
hoe Hy daardie bosluise
wat nie die nodige respek
en vrees
vir hom het nie
die wat sommer so
oop en bloot
in Sy teenwoordigheid verskyn
een vir een
met Sy Heilige Hand verwyder
sodat hulle nie verder
’n slegte invloed
op ons ander kan hê nie?
so sorg Hy
dat hier later net
waarlik eerbiedige
bosluise sal oorbly
luister na my!
vergeet liewer van die ander skape
hulle is net hier om ons skaap te
help soek
na die beste weiding
al wat jy hoef te doen is om
met groot dankbaarheid
die wonderlike Lewensbloed te suip
en uit liefdevolle eerbied vir
die Groot Boer weg te kruip
so was dit
solank ons kan onthou
en so sal dit vir ewig wees
tot Hy uiteindelik die Groot Dag laat aanbreek
die boer drink sy koffie uit en
met net die oggendster
nog sigbaar in die vroeë skemering
jaag hy die trop skape in die drukgangkampie
in die loop van die dag
deursoek en behandel hy die skape
een vir een
teen al wat ’n pes en siekte is
twaalfuur
met ons ou sonnetjie wat
genadeloos
reg van bo op die Karoo neerbrand
kom die kleinerige hameltjie
wat tog so geneig is tot bosluisbesmetting
ook
aan die beurt
* * *
Dit was bloot
‘n one night stand
met Neil wat spore maak
en gaan,
maar seer steeds bly
die letsels op die maan.
* * *
Pieter Hugo
My Beaufort-Wes
II Vir Gert
my Beaufort-Wes is net
‘n verstopping op die N1
dis nie i beautiful plek waar treine eensydig
verbyswiesj na i liedjie vir koos nie
nee nee nee nie dit nie glad nie dit nie gert
my Beaufort-Wes is ‘n on-onderbroke lorriestoet wat
stop en ry en draai en toet en
exhaust brake en tjips en
diesel en meisies koop en
nagdeur op en af grom sodat
ek nie eers meer so half
wakker half iewers innie nag
ou moeë windpompe
hoenders of donkies gots is
daar nog iets wat so uit
dieptes gans verlore klink nee nie meer kan hoor nie
nie eers meer i treinerige trein kan hoor nie gert
ons Beaufort-Wes is net
‘n verstopping op die N1
Op die stoep
Om langbeen op die stoep te sit
Om langbeen op die stoep te sit
en die veraf vragmotors,
die kiewiete en kinders
in die straat
te hoor skadus rek.
Om oom Karel woordeloos te kopknik,
wedersyds wetend
ons geniet die lekkertes van
laatmiddag hande in die sakke loop en
om langbeen op die stoep te sit.
Om my pyp rustig te sit en rook,
tot die skemer later
met nog net die veraf dreuning
amper donker stil wil word.
Om die asgat koue pyp
langs my in die donker neer te sit,
onhoorbaar te sug
en te hoop dat jy ook eendag
langbeen langs my
op die stoep sal sit.
Die Koue front
Die koue front
Ons lê styf teenmekaar in die bed,
twee moeë lywe se yl verweer
om ons van die koue front te red.
Die oeroue spel van die lyf het
ons lankal reeds uitgeredigeer.
Ons lê, styf, teen mekaar in die bed.
Met lang gesprekke slaag ons net-net
om soms van die krake toe te smeer
om ons van die koue front te red.
Net die nostalgie bly oor,
maar met
hopelose hoop bly ons probeer:
ons lê styf teen mekaar in die bed.
So verstar ons in ‘n kil verset
teen erkenning van ons binneseer
om ons van die koue front te red.
In ‘n skril, makabere ballet,
weerskante van die kloof vasgekeer,
lê ons, styf, téén mekaar in die bed
om ons van die koue front te red.