PJ Philander
Sonsverduistering
Langsamerhand, geruisloos skuif die vlek
van skadu en verklein die sekelboog
van son tot dreigend swart kol daar hoog
‘n koue vreemde skemerte laat trek
wyd oor die vlakte waarvandaan, swygsaam,
‘n vaal streep donkies met die korste pad
oorhaastig stalwaarts swingel nog voordat
die skape blêr-blêr na die kraal toe gaan.
Oor gans die mensdom hang ‘n skaduwee
wat alle lig van God en Christus so
verduister dat Sy pad onsigbaar is.
En ons, aan hierdie duisternis gedwee,
het nie ‘n skaap se voorgevoel of glo
dat ons tydig Huiswaarts keer vir rus.
Lente
Blink so en doudruppel
waarom is die sprinkaan kruppel?
Skildvlerk a fen dybeen gebreek
en die agterlyf lam op die kweek.
Die eiers langs die lêboor uit, ‘n lewe te bêre onder die kluit
Hy loop gaasogig deur die gras
en beur agpotig met ‘n gekras.
Blink son en doudruppel,
mooi is die ondervlerk gestippel!
Jonas
Moeg van pik en hammer slaan
vir elke dag se skokiaan
lê hy saans alleen en dink
onder die swartgerookte sink
wat wydsbeen oor hom staan in dorp en stad, l
angs elke vaal verlate pad:
Die Grootbaas het aan hom gesê,
“Ek sal jou more lders dalk nodig hê.”
Winteraand
Vroeë aand . . . en my deurtjie reeds gesluit,
die kaggelvuurtjie knetter met ou droë hout
terwyl die onweer buite, swart en koud,
kapoksnippers waai teen die vensterruit.
En vereenselwig met die vuur, vir ure stil,
het ek die bloedrooi kole diep aanskou,
tot in die dik lag kapok teen die ruit opgebou,
die lewende vlamme tot ‘n flikkering verflou.
Is ek net deur broos glas
geskrei van die donker doodskoue . . . ?
Brand my vuurtjie reeds in sy rookwolk se voue
laer en dower tot houtskool en as?
Die kers se vet sien ek smelt en druip
tot ‘n klein sampioen op die blakerpyp,
en raafswart op die plakpapier
die skadu-mimiek van myself, die kers en die dooie vuur.
Maaltyd
Ou moeder met haar hoepelrokkie
en stywe kappie, staan hande gevou
in die vorm van ‘n kopeklokkie
vir smôrens, smiddags en vir nou.
Die blou bord en die skoon servet,
die helder bril, die Bybel oop,
en teen die hoë muur haar groot portret
hou my steeds aan haar vasgeknoop.
En op die gladde, blink buffet,
glimmend in die skerp lig van die lamp,
skyn sy nou in die seëngebed,
leef sy nou die wasige damp.
Sy was eers goud, heelwat later silwer,
nou’s sy koper waar sy staan,
maar met elke lui dan skilfer
af . . . die grasgroenspaan.
Vuurklip
Die klippe praat
Gaan tot die keper en skraap
die patina vir spore uit die Kaap
tot die waarheid duidelik bo
op die rotse is van die Eronogo.
Sedert die Rijger, Goede Hoop en Drommedaris
bewaar julle valse stukke by die argivaris.
In die wande ingraveer
is ons baasskap verewig teen wind en weer.
Die bruin, wit en swart figure
moes julle saamgestel het op die binnemure;
pas op vir die dag as ons hatig en sku
op julle kasteel en wonings nadertree.
Vir die baasjagter raak die spore
van die gekweste mos nooit verlore
en die ou fonteine nog gister brak
kan in swaar tye tog soet raak.
Net soos ons dier en plant
ken al die drinkplekke in die sand;
sal tot die einde met kou, tand
en bitter wortels bly in die land.
Intussen kook ons potte
gif vir die klomp veldrotte;
vervloek die wat ons stryd
om ‘n bestaan by die wortels byt.
en wag tot die grootwild op ‘n dag
die hoogtes mnoet verlaat en oornag
in die laagtes tussen dorings . . .
dan kry elke graf sy koedoehorings!
Aand op Genadendal
… Oumense kom van die nagwaak en praat
oor enkele lanterns hier en daar nog op straat,
wat swik met elke swaai in die stolpe …
Ja, klein is die liggies en onbeholpe.
Deur die donker Dal uit Baviaanskloof hier
vloei die stroom na die eeu-oue Sondereindrivier,
terwyl Wonderklippe teen die noordewind waak
en die vuurvliegies een-een uitgedoof raak.
Die bruin kokon
Agter stoot die see
met troffelveë
nader oor die strand
na ons huis se kant.
Die dreuning van die see
kom oor ons drumpel mee
tot in die kamer waar ons asiel
kry teen die storms as ons kniel.
Ver agter kom nog soveel aan
met dolpenne en roeispaan;
ons kinders gaan verlore
in ons eie spore.
Luistervink
Luister met jou stetoskoop
hoe oorspanne dit deur my are loop;
my hart in donker kamponge
klop om vars lug uit die longe.
En, as ek ‘n klop of twee
oorhaastig is, moet jy toegee:
Ek loop as beeswagter
meer as drie eeue agter.
Alice
Nou na jou dood
kan ek die simboliek
van die dotjie in jou naam,
‘n stippeltjie afsonderlik
in die ruim geprik,
‘n titseltjie beter verstaan.
Heimwee(1)
In ‘n stiller wyk van Las Vegas
sit ek stoksielalleen op my voorstoep,
luister ek, ja, luister ek tot ek my misgis,
ek hoor Alice van ver af na my roep.
Heimwee(2)
Die winde huil rondom my huis,
al wat vermis word is die Suiderkruis
bo Swartberg, Grootkop, Outenikwas
waar daar altyd brandhout vir my kaggel was.
Torteldigter
Oornag word my lied opgekrop
en deur te luister na die wind verfyn
tot dit diep binne-in my begin skryn
as houtkappers my teen dagbreek opklop
waar, sieligalleen op ‘n tak Totiaans,
ek uiting gee aan iets minder ondermaans.
Haar uitvaart
Al oor my dak het hul gemaal …
dié voëltjies het vir haar kom haal.
Half-toegevoue vuisies klein
het ylings na die doodsgordyn
gegryp en dan weer moeg verslap …
die sweet het langs haar slapies afgetap.
Haar ogies sien ek duidelik nog,
hul het vir my gesmeek om tog
te help … die pyn te stil,
maar ek was magteloos teen Sy wil,
en halfweg na die hospitaal
het, asemloos, die dood ons ingehaal.