Jongste aktiwiteit:

René Bohnen
vir

René Bohnen

Ontvlugting

Ingrid
ek was onbelese en nog kind
toe swig jy voor die donkerman
se troebel toemaar-wink.

Duikers ontdek jou romantiek
nou oor en oor in granaat, die maan,
kabouters en borste, die erotiek.
Jy blom fynbos in ʼn nuwe politiek.

Ek kan my dalk verbeel
ek hoor jou kloklag
in slierte wier by Gordonsbaai
waar waters my úítlok

En iets my altyd weer land toe draai.

(uit Spoorsny deur René Bohnen, 2000)

ligspirale

die voete van my voorouers
talm
in die koeltes van my tuin

hulle skedels hang halfmaan
in
die wind
fluister mantras
in my nek

luister

in skeure en grotte
lê ons
afdruk in vlermuismis
loop ons
spore oor strepe
dassiepis
terug
na die skulp
die dam en die donker

want alles was see
en alles was leeg
voor die sterre losgeskeur het
uit die niks-alom

in die begin
was die woord
ʼn naam wat uit sy nate bars

(uit in die niks al om deur René Bohnen, 2011)

Wierslaper

Rus in vrede, vreemde seun, onbekende
jongeling uitgehaal uit die hoogwaterstroom, uit
die grysgroen poel in die onderwaterval, gevis
uit die koel branders by Galjoenbaai, rus
onder die waters waar jy nog asemhaal
saam met die gewiglose jellies in hulle sluiers
sonder klank, die songeel kwalle wuiwende dansers
in Kaapse kelpwoude – rus nou, vreemde seun,
in klotsende algevelde, waar duikers met dun vingers
die seebed stiplees vir skulpe in ʼn worp
van verlange; laat jou oë pers seesterre wees
in ʼn fluoressente watervlam, rus
tussen die auroras van visskubbe en sonfakkels.
En oor ʼn jaar, miskien, sal ons jou naam vier in gleslose
weerkaatsings van die lugrivier wat jy algaande bewoon,
ons goue, wierligte strandfantoom.

(uit Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen, 2017)

Nieu-Bethesda 2020

Radioaktiewe kraaie sit in klosse op Shell se torings,
hulle gekrys verdring deur bore se ratatat-tat, deur
vierhonderd tenkwaens wat druis op die dubbellaanpad.
ʼn Meermin se uitgestrekte handjies verweer
in die suurreën, haar bierbottel-oë bars
rapat; rapat breek die watertafel. Sien is glo –
protesplakkate tolbos soos tuimelende orakels
oor fracking in die Oos-Karoo.

Moederaarde hoes ondergrondse gas, sy het gif in haar are.
Veelvermoedend blêr dragtige ooie sonder ophou in die gras.

Die vorige armes is nog armer, die lug is maalglas
bokant Helen se vaal jaart met krippe en kamele.
Deur die krake in Koos Malgas se gemesselde uile
glip ʼn gladde tweekopakkedis. Sien is glo –
protesplakkate verbleik langs magnate se beloftes
oor fracking in die Oos-Karoo.

In die broeines hoog teen Kompasberg lê ʼn witkruisarend
haar eerste eier – dit is grof, dit gloei in die donker.

(wenner van Plekgedigkompetisie, Versindaba. René Bohnen)

Bonteheuwel

Wat maak ek hier met my hart
in my hande en my rug
teen die muur

die tikpyp omgestuur,
gloeilamp, klein kalbas
tuisgeblaas uit afvalglas

‘n Halfmaan mans
dryf op wolke en ‘n vlam,
die rook bol wit
soos die seile van ‘n skip

onderweg na Waar de goede hoop

‘n Labirint van redding en verraad
middelherfs weer uitgespeel
in die sinkhok waar ons sit
by daggapitte en strooitjies

Ons gedeelde voorsate flikker
in die slawelosie van kristal

Vlugtelinge en bannelinge
verewig in sand om die voete
van ‘n kind in doeke,
offerlam van die Vlakte

(deur René Bohnen, uit Sol Plaatje European Union Anthology 2018)

PETER BLUM

aweregs duin jy al-links op
in my bewoessyn
tor-wyl my kar-oë deur die karoo
die winternagmag verdryf. afgedool

uit die dood en verdwyning,
kom jy aangeleuen oor knobbelbossies
met liefde en haat wat jubelwok
in die enklaves van jou lyf.

ʼn steenbokskaduwee op die teenpoolsee,
ʼn gestoldte in die skerf lig, só verskyn jy
vlug voor die lumier. teen die verbarring
van my sintuie tartel jou nuutskoppinge
gelukkig nog toornynig op die limen.

(Wenner van die Lykgedigkompetisie, Versindaba. René Bohnen)

sjamaangrot

brand die bondels soet mpepho
brand die bergwierook

met die koors in my
word ek
elandbul mpofu

word ek bruin
en motwit pigment
op kwarts of perkament

koggelmanders by die kambergkrans
die dassies in amfiteaters rots
groot lammergeier in sy oker vlug
mierleeutjies onder warm sand

hoe flikker hulle
in my hande as ek in sirkels
binne sirkels binne sirkels
die oerpad vat

ja my voete verf ʼn gedig
oor die gedugte gang
van tyd en lig

o die muse is ʼn maalklip
en alle bokke stof

(uit in die niks al om deur René Bohnen, 2011)

Stilbaai blou

Ook ʼn slak skryf met sy lyf:
stileer begrafnisbriewe in die sand
vir bloublasies wat laveer
tot op die strand

Deurskynkleur doebleer
vir oulaas
ʼn klam klein Vermeer

© René Bohnen / 2018

SOOGVISSE IN DIE OUTENIQUA

Jou sms blits deur die lug
soos ʼn groen gedig:
ʼn kalfie is gebore
in ons kobalt baai — kom
sit op die balkon by my
bokant die baardfyn
lugwortels van ʼn wildevy

Ja! teks ek terug, ja
dan drink ons malvatee en jasmyn
uit paisley porselein en vryf koel
los pêrels tussen wysvinger en duim,
praat oor ou vierpoot en voordiere
besin later oor glaukus uit die water

tik teen sonsak klik-klik
ryme vir die wilde grys dolfyne,
sonnette vir die suidkappers en ʼn diepsee
gedig vir die bultrug en bloue
wat roep
uit die matrys van ons bloedlyne

Ons skryf mekaar vas
aan die odes van die oseane
en ons gee die timpane, gee
aambeelde en die slakkehuisies van klank
aan die aandlug, aan die noem-noem
en die stil middernagwulke

want
ʼn waterboek is sy
mysteci, eubalaena;
ʼn biblioteek in die see,
sê die oues die fluisteraars en vertellers
wat geraamtes weer asem gee –
sy is ʼn drywende argief, sy is ons groepsgeheue

Laat my dan kuier in eden
wanneer die walvis lewe
sien in die waters van die lente
waar sy warmbloedig ʼn lyfballade is

Singend deur seisoene
roep sy
die ou herinneringe
roep sy
die skimme van ons beginne

Ons sing in soutwater agterna ; sy is ons ma

© René Bohnen Oktober 2013

Fraksioneel 9/11

kort voor lank is tien, elf
jaar
verby
na
[]
[]                       jy
[]               daar
[]                       so
[]
simmetries in beheer
oënskynlik
[]                     so
[]                 ge
[]             sus
[]                pen
[]                   d
[]                      eer
tom by die tandarts             jy
harry by die werk                  spring
ons voor die tv                 jy
die fliek                        vlieg
by die supermark             jy
sweef
[ deur sameswerings   ]           val
] bedrog                      [             jy
oorlog                                  jy
val
jy       jy
ons                             val
verbeel ons
die onverbeelbare
val
in al ons verse
en jou seuns
se woorde is gewere
jou dogters droom in breuke

(© René Bohnen)

Breyten Breytenbach

al die honde blaf geel
vandag-vandag
is breyten
taggentag

kom dans dan, dans
van sonkol tot sonkol
al kou die ure aan ons
blou hande, al klou
die winter aan die tuinklip
met sy logogramme

weet
ook vir ʼn landskap is ʼn mens
net een keer
ʼn maagd
ook vir papier
word
mettertyd ons rymelinge
mymeringe
in ʼn veld van suggestie en skaduwees

so minsaam so min saam
skyn
die kulprofeet ou sensmaan
en gevlekte uile met ingehoue vokale
uil die donker vol –
nagvlieërs op ʼn blinde reis
tot in der skewigheid

kyk kyk

Woordgogel
hurk daar op die dak
die ene vlerk en inasem(s)ing
breytenste buiteblaf
dankie jy

bring gloeipampoene vir ons ont-donkering

Gedig uit my bundel “Op die vingerpunte van die heelal”

skrille nag

ete is lemoeneend met donker
sjokoladesous, die wyn vonkel
in geslypte glas, vonkel bont
ligbruggies op die tafeldoek

ons saamtrekke is nou kleiner
en meer ingetoë; kuikenlose
broeipare verteer saam-saam
die teksture van verlies

ons grap flou woordspelings –
die rifrug op die persiese mat
lek sy pere –
en maak of ons lag want ons weet

ons weet die nagkakkerlak sit alreeds
op die trappe en wag vir die kleinste
krummels kaas hierdie derde kersfees
van plastiekbessies in die kunsblarekrans

hier is geen
sneeu nie, geen
vuur in klipkaggels nie
hier luister ons mos

vir skelm geluide teen vensterknippe,
vir die ligste roering van die jellie
in die trifle
ons hou wag by wit kerse

oor die stad en die veld en die doringbome
skeur die kiewiet se roep
lang repe uit die nag –
kiewietjie dunbeen dra ons
krismisse weg in rooi tone

ons hande kleef soos honger
seekatte aan selfone,
ons boodskappe hang
aan drade onder kristalkandelare
middernag stuur ons sms’e,
satelliete vol soene
aan ons kinders in kanada

http://versindaba.co.za/2019/09/16/breyten-breytenbach-16-sept-2019/

Skakels na Bio, CV ensomeer Daar is ook nog gedigte,

https://af.wikipedia.org/wiki/Rene_Bohnen

https://www.litnet.co.za/in-di-rymteskip-van-ren-so-baie-rsquon-resensie-van-emin-die-niks-al-omem-van-ren-bohnen/

https://www.litnet.co.za/n-lewe-lank-agter-een-gedig-aan-rene-bohnen-praat-oor-in-die-niks-al-om/

http://versindaba.co.za/2017/08/09/onderhoud-met-rene-bohnen-2/

http://versindaba.co.za/tag/rene-bohnen-gedigte/

http://versindaba.co.za/tag/in-die-niks-al-om-rene-bohnen/

https://www.litnet.co.za/op-die-vingerpunte-van-die-heelal-deur-rene-bohnen-n-resensie/

https://oulitnet.co.za/poesie/bohnen07.asp




Woorde is my asem en skryf my passie!!! Ek waardeer elke stukkie kritiek, verkieslik positief, maar kan die negatiewe ook hanteer. Dankie dat jy die tyd neem om na my werke te kyk en dit te beoordeel. Ek is n Boeremeisie in murg en been... mal oor die wye natuur van plaaslewe wat my omring Ek is getroud met die wonderlikste man (Willie). Ons is geseend met 3 pragtige dogters en 'n kleinseun en 3 kleindogters. My verhouding tot my Skepper loop baie diep en ek dank Hom elke dag vir al die voorregte en genade gawes wat ek so onverdiend ontvang... Loutering is deel van my lewe en ook daarvoor dank ek Hom daagliks want dit maak dat daar altyd groei in my lewe is...

Up
Top Ranked Users

[joinup_core_top_members columns=”1″ space=”no” max_members=”3″ behavior=”columns” columns_responsive=”predefined”]

Activity Feed