Richard van der Westhuizen
Tussen treine
Ek wonder wat van jou geword het
Jy wat nog so by my spook
Ek weet net ons het die vuur gemaak
Die wêreld aan die brand gestook
Nou is die nagte soveel stiller
Die dae eis hul eie tol
Maar ons twee was die wilde wind se blare
Ons kaartjies lê die hele wêreld vol
Tussen treine, tussen stasies
Lê daar basies net die leë spore
Tussen treine, tussen stasies
Lê die leë spasies van die onskuld nou verlore
Nou vra ek waar het alles begin
Die ding van los wees voor die wind
Onthou jy ook die rook, die yster
Die lig wat in die verte blink
Dan dink ek terug aan soveel dae
Soveel stawe op die spoor
Ja daar was voorheen ‘n tyd van treine
Waar en wanneer het ons dit verloor?
Tussen treine, tussen stasies
Lê daar basies net die leë spore
Tussen treine, tussen stasies
Lê die leë spasies van die onskuld nou verlore
Elke keer was dit ‘n afskeid
Elke keer weer ‘n begin
‘n Honderd haltes langs die spoor
Elke stasie het sy eie skim
Miskien het ek verleer om te kyk
Jy bepaal jou eie baan
Soms sien ek die skadu van jou spieëlbeeld
As spieëls verbrokkel voor die maan.
Ballade Vir ‘n Enkeling
Vreemde nag
Skarlaken nag
Koerantpapiere, baksteenmure, Neon nag
Sirenes onder ‘n donker maan
Nag na nag
Mens na mens
Donker nagte, onverwagte
Skadufigure
En elkeen is uiteindelik
Enkeling, vreemdeling, verstoteling rug gedraai op die ligtekring
Agterstevoor, onderstebo
Vreemdeling, enkeling alleen
Agterstevoor, onderstebo
Vreemdeling, enkeling alleen
Dag na dag
Straat na straat
Kaart na kaart
Mens na mens
Nag na nag
Dans na dans is elkeen
‘n Enkeling
Vreemde nag
Skarlaken nag
Koerantpapiere, baksteenmure, Neon nag
Sirenes onder ‘n donker maan
Engelliedjie
Soos wind, oor ‘n blaar, soos ‘n veertjie, sommer maar
As mense met jou mors, as jy vies is, of nors
Is ek daar
Soos die lente, elke jaar
Soos ‘n wit bloeiselblaar
As jy moeg is en verniel is, soos ‘n kaggel vir die siel is ek daar
Lewe jou lewe, my engeltjiekind
Altyd gerus, ek is daar in die wind
Jy kan my nie sien nie, maar ek dink tog jy ken my
Altyd gerus, in die weer en die wind
Lewe jou lewe
My engeltjiekind
As die stormwind waai, en die blitse begin laai
As die onweer jou tref, moet jy besef ek is net om die draai
Wie gaan jou bewaar as jy dink daar’s gevaar?
As jy koud kry of bang is, soos die asem teen jou wang is ek daar
Lewe jou lewe, my engeltjiekind
Altyd gerus, ek is daar in die wind
Jy kan my nie sien nie, maar ek dink tog jy ken my
Altyd gerus in die weer en die wind
Lewe jou lewe
My engeltjiekind
Is dit ‘n ou-ou goue blaar, waarna jy so sit en staar?
Dis net kinders wat luister, as blare begin fluister, vir mekaar
Lewe jou lewe, my engeltjiekind
Altyd gerus, ek is daar in die wind
Jy kan my nie sien nie, maar ek dink tog jy ken my
Altyd gerus in die weer en die wind
Lewe jou lewe
My engeltjiekind.]
Rivierklip
Telkemale soek jy na.
Iemand om jou pyn te dra.
Maar meermaal gryp jy na.
My leë palms ongevra.
In die nag van swart vergetelheid.
Sink ek, rivierklip van die tyd.
Daal en draai om weg te sink.
Na waar jou pyn my nooit kan vind.
Meer as dikwels is dit ek.
Wat weer jou hart se wond moet lek.
En telkens hou ek my rug weer breed.
Om berge van jou pyn te meet.
Maar in die dag se skerp herken.
Brand ek, verskroeid, verkoold, verseng.
Kruip ek weg, totaal verblind.
Ontbloot, en wondbaar soos ‘n kind.
Instrumenteel
Min of meer vra ek jou.
Wat dan van my klein berou.
Het ek al my kaarte oopgegooi.
Was ek nie nou jou hart se prooi.
Nou sak die skemer van magt’loosheid.
Dryf jy, verder weg, verlede tyd.
Het ingehaal, die nag is koud.
Ontbloot, tot eensaamheid.
Verhaal.
Onthou Jy Nog
Onthou jy nog?
Terwyl die wind, die bome buig en die blare van die takke skud het ons saam teen die reën geskuil
En jy’t nog so geskrik
Toe ek jou sê:
Dis als verby ons weë moet nou skei
My arme kind, dis hartseer maar dis beter dat ek gaan
Ek swyg, en jy huil
Onthou jy nog?
My hand wat joune, saggies vashou omdat jy spoedig sou sien dat jy regtig meer verdien,
terwyl jy deur jou trane lag en sê …
Miskien
Dis nou weer herfs
Dit reën
Maar alleen skuil ek onder die lower en dink aan jou
En ek ween
Bakens In Die Nag 1
Waarvoor is ek bang
waarvoor is ek bang
Dis ‘n fyn fyn draad
wat die liefde soms aan hang
weerlose woorde
gevlek tot op die been
nou word alles helder
meteens is ons alleen
Bakens in die nag
skepe sonder vlag
hoor jy my, hoor jy my
vaar ons by mekaar verby
nou het ek jou gekry
sal die liefde by ons bly?
bly by my
bly by my
stil die storm stil
soms as ek jou sien
probeer ek aan jou raak
maar my hart hang halfpad stil
as die woorde my verlaat
hoeveel keer probeer
hoeveel keer verloor
liefde in ‘n spieël
is liefde sonder spoor
Bakens in die nag 2
Teen die stroom met die wind van voor
agter ons lê ‘n lang-lang spoor
wie gee om vir die donderweer
ons kan enige storm trotseer
en ons bol ons seile stuur op ‘n ster
al is dit ook hoe ver
soos ‘n albatros wat ‘n legende bring
uit ‘n onbekende kring
so lank geswerf, so hoog gevlieg
vou jou vlerke toe my lief
vou jou toe in ‘n warm droom
in ‘n wêreld waar ons saam in woon
sonder rigting soveel jaar
maar voor jy weet is ons daar
waar die oggendster deur die donker uur
die helder lig van die liefde na ons stuur
Koor:
Ek sien jou weer, soos die eerste keer
‘n baken in die nag
die donker vlug voor ons helder lig
erens breek die nuwe dag
dink jy ons sal ooit verstaan
hoe die liefde kom en gaan
verstaan jy daar, dis alles waar
ek neem jou saam op ‘n koers na wie-weet waar
Altyd stroom-op teen die wind
niks of niemand kan ons bind
nou woon ons waar die weerlig slaan
en die wêreld is ver hiervandaan
uiteindelik is ons bymekaar
en voor ons weet is ons daar
waar die oggenster deur die donker uur
die helder lig van die liefde na ons stuur
Herhaal koor
Dorsland
Woorde: Richard van der Westhuizen
Musiek: André Swiegers
Ek het jou laas gesien in die skaduwee
Van ‘n petrolpomp by ‘n padkafee
Bondeltjie klere in ‘n sak op jou rug
Tien jaar terug, met jou duim in die lug
Toe’t jy gesê jy gaan ‘n tyd lank rus
Die duine vat langs die Skedelkus
Jou vuur laat brand in die droë land
Verdwaal aan die wêreld se verkeerde kant
En nou vra jy my, het ons ver gereis
Wat vra jy, ons het skaars begin
Dis ‘n lang, lang pad deur die droë land
Nou wil jy weet, het ons iets hier beet
Wat vra jy, ek het klaar vergeet
Maar ons draf min of meer voor die donderweer
In die suide van Afrika
Ek dink ek het die helfte van my hart verloor
Naby Bitterfontein, op die Dorslandspoor
Maar dis hoe dit werk, jy betaal uit die hand
Geraamtes bly agter in die stof en die sand
Hoor jy die eggo’s, dis die tyd van die dier
Hoor jy as die ysterklippe teen mekaar skuur
Ons bly nomades in ‘n niemandsland
verdwaal aan die wêreld se verkeerde kant
En nou vra jy my, het ons ver gereis
Wat vra jy, ons het skaars begin
Dis ‘n lang, lang pad deur die droë land
Nou wil jy weet, het ons iets hier beet
Wat vra jy, ek het klaar vergeet
Maar ons draf min of meer voor die donderweer
In die suide van Afrika
Nababeep Klip.
Sal ons
dan maar weer die berg gaan klim
tot bo daar by Nababeep Klip
‘n Pakkie koffie, watersak
‘n blik kondensmelk en ‘n ou jamblik
Hier bo sien jy die hele dorp
tot anderkant Nababeep Wes
die smelter skoorsteen, Glory Hole
die club, die swembad en die res
Sal ons
op die plat klip daar by Klipdam hurk
langs waterpoele op die klip
Die paddavissies swem mos daar
wat so maklik deur jou vingers glip
Sal ons
op ‘n klip daar by die Orbicules
‘n vuurtjie maak want dis mos koud
dan braai ons wors en ribbetjies
en soek nog stompies droë hout
die Bittergousblom staan weer hoog
die Piet Snot ook nog vol in blom
Ons loop daar deur die wye veld
sonder sorge, sonder vrees
vir wat moet kom, en wat sal kom.
Vir my suster Elbé Hofmeyr,
3 Augustus 1946 – 18 Junie 2026.