Rosa Keet
‘n private ding
vir Anne
en as ek dan nou mòèt doodgaan
begrawe my op ‘n sandduin
tussen bossies met n uitsig oor die see
‘n liter coke ‘n karton sigarette
en ‘n boek of twee
ek is nie baie windmakerig nie
maar ‘n donskombers en ‘n opblaasmatras
sal ook welkom wees
en anders in die massagrafte by ur of dachau
(waar hulle die plek volprop)
dink ek ‘n graf is ‘n private ding
en ek is boon-op te egosentries
vir grafskrif soos:
hier rus piet en jan en alleman en sy vrou en ensovoorts ensovoorts
buitendien kan ek, wanneer ek eensaam voel
altyd by iemand as gàs gaan spook
Jy los my alleen
jy los my alleen
in ’n huis vol geluide
en hoe minder ek probeer luister
hoe harder klink die klank
van ’n onbekende voetstap
op die donker trap
bang vaak verdwaal ek laat
in die gange op soek
na slaap
wat om elke naghoek verdwyn
ek skrik
vir die naaldekokerstraatlig
deur skaars bewegende blare
jou jas aan die kapstok
is ’n man sonder bene
ek is bang
vir die stofsuierslang
op die vloer van die spens
en tot jy terugkom
sleep ek my vlees
soos ’n kis agter my aan
Die twaalfde was ‘n ametis
‘n baba is gebore
in stille Senekal
moeg van bene brein en bloed
sluit ek hom stofdig
warmpies in die wieg
van my lessenaar toe
die gemeente het gekom om te bewonder
ongeskoei bring hul komberse
bring hulle kousies en kappies
bring hulle geskenke van bloedrooi aalwyne
drie tweegesig duimgooiers
het in betlehem gevra
hoe ver is dit nog na Senekal
en in watter rigting
volg die môrester menere
43 myl reg wes
hulle het neederig in my kamer kom kniel
agter die masker van wierook en mirre
kon drie blink skêre sien
hul riemtrek my suigeling aan
die naelband uit die laai
sny die sagte
stilgebore binnelewe uit
en los die stofomslag
ter nagedagtenis
vir my in senekal
Wat mis jy nie
ag lautrec wat mis jy nie
vandag in hillbrow nie
of glimlag jy soos ek
vir die dame
met dofpers hare
en verwagtende knieë
haar neus
is so skilderagtig krom
loer jy soos ek
na die man
met die glinsterpienk naels
en ronde boude
sy adamsappel
is so aanloklik groot
staar jy soos ek
na die mense
met nuuskierige nekke
wat om die rooiblom meisie
sonder vlerke
op die sypaadjie reg
onder highpoint drom